Welcome to Loot.co.za!
Sign in / Register |Wishlists & Gift Vouchers |Help | Advanced search
|
Your cart is empty |
|||
Books > Afrikaans > Taal en Letterkunde
In die verlede, was ek baie keer onseker oor myself, veral as ek in 'n moeilike situasie beland het of 'n krisis moes hanteer. Noudat ek vierkantig daarmee gekonfronteer word, is dit vir my lekker om te weet ek het nie moed opgegee nie. Mathys Roets het sy musiekloopbaan in 1989 begin toe hy met sy kitaar in die hand, in 'n winkelsentrum in Pretoria, vir fooitjies gesing het. In 1996 maak hy 'n belangrike deurbraak met sy debuutproduksie op die KKNK. In hierdie vertoning, Nokturne, sing hy die musiek van Koos du Plessis. Met sy donker fluweelstem het die musiek van Koos du Plessis, Mathys soos 'n handskoen gepas. Deur sy loopbaan het Mathys bekendheid verwerf vir sy sielvolle vertolkings van die wereld se mooiste ballades, veral die musiek van Leonard Cohen, Roger Whittaker en Neil Diamond. Die pad wat hy gestap het was nie maklik nie. Hy het harde bene gekou, self luidsprekers rondgedra en van restaurant na restaurant gegaan om daar te sing, maar toe hy uiteindelik raakgesien word, het dinge behoorlik vir hom vlam gevat. Op 6 April 2009, op pad na die KKNK in Oudtshoorn, ry Mathys met sy geel BMW motorfiets van die pad af. Vir dae lank hang sy lewe aan ? draadjie en uiteindelik reik die Rosepark Hospitaal ? verklaring uit: Mathys is verlam. Ten spyte van hierdie terugslag, besluit Mathys om vorentoe te kyk en steeds voluit te leef. Steeds Mathys is die inspirerende lewensverhaal van Mathys Roets, soos vertel aan Alita Vorster. Dis 'n verhaal wat lesers sal laat glimlag, maar ook aangryp en besiel. Na die lees van hierdie boek moet 'n mens wonder hoe jy enige uitdaging as te groot kan beskou!
Ben Viljoen (1868–1917) was ’n prominente jonger generaal in die
Anglo-Boereoorlog, maar ná die oorlog is hy nie opgeneem in die
nuwe politieke elite van die Afrikaners nie. Nadat hy die eed van
getrouheid op St. Helena onderteken het, het hy noot weer permanent
na Suid-Afrika teruggekeer nie.
Van al die gebeure in die Kaapkolonie gedurende die Tweede Vryheidsoorlog het die teregstelling van Hans Lötter, asook dié van kmdt. Gideon Scheepers, die meeste emosie onder Afrikaners ontketen. Lötter en sy mederebelle in die Kolonie het die verbeelding van die plaaslike bevolking aangegryp en die Britte maande lank hoofbrekens besorg. Sy gevangeneming, verhoor en teregstelling deur ’n Britse vuurpeloton op Middelburg, Kaap, het groot woede en verontwaardiging veroorsaak en hom verewig as Boeremartelaar in die Afrikaner-volksoorleweringe. Nou word sy boeiende verhaal vir die eerste keer volledig vertel.
Hierdie rubrieke is liries, evokatief, diep menslik, met humor en ʼn plattelandse ambience. Petro skryf sedert 2012 vir Die Burger rubrieke en was voltyds vir vier jaar lank die Dinsdag-rubriekskrywer vir Beeld. Verskeie van haar artikels is in Rapport Weekliks en Huisgenoot gepubliseer. Sy word in 2019 deur die Cordus-trust vereer met die Orde van die Beiteltjie van die Afrikaanse Woordkunsakademie vir “haar besondere bydrae tot Afrikaans met unieke onderwerpe waarmee sy die kuns vervolmaak het om sinvol te skryf oor die mens en alledaagse stories van die gewone lewe.”
Vir die eerste keer ooit word al die dramas, hoorspele en die libretto van N.P. Van Wyk Louw in ’n versamelbundel uitgegee, met ’n voorwoord deur prof. Chris van der Merwe. Van der Merwe sê: “Met die herlees van die dramas, hoorspele, koorspel en libretto van N. P. van Wyk Louw het dit my opgeval hoe dikwels hulle ʼn gesprek met mekaar voer. Soortgelyke temas word herhaaldelik uitgebeeld; die tekste sluit by mekaar aan, komplementeer mekaar, spreek mekaar soms teen. Dikwels kom die temas wat Louw in sy essays bespreek het of in sy poësie tot uiting gebring het, ook in die karakterisering en die intriges van die dramas na vore. Dit is opmerklik dat die denke van Louw nooit stagneer nie; steeds is daar tekens van ʼn voortgaande worsteling en vernuwing. Die indiwiduele dramas, in die groter konteks van sy oeuvre gelees, laat ʼn fassinerende skrywerspersoonlikheid na vore kom."
Ons praat Afrikaans – diverse mense – een taal is meer as net nog ’n fotoboek: dit is die eindproduk van ’n projek wat sy ontstaan gevind het in een individu se liefde vir die Afrikaanse kultuur en taal, Douw Greeff. Die projek is geloods in 2016 toe fotograwe (amateur en ook professioneel) genader is om werke in te skryf wat hulle voel die Afrikaanse kultuur en taal raakvat. Verskeie inskrywings is ontvang en die top foto’s het deurgegaan na ’n beoordelings-rondte, waar ’n paneel die beste foto’s gekies het om in hierdie pragpublikasie te pronk.
13 Augustus 2017. Ansja vat haar twee dogtertjies kerk toe. Heeldag het sy ʼn naar gevoel op die krop van haar maag, asof iemand haar wind uitgeskop het. Sy hou by ʼn stopstraat naby hul huis stil en ʼn motor jaag van agter in hulle vas. Haar jongste dogtertjie, Larissa, se kop word met die impak vergruis soos ʼn waatlemoen. Met bomenslike krag sleep sy haar dogters uit die kar en sit hulle op die sypaadjie neer. Dan verloor sy haar bewussyn en sien haarself en haar kinders van bo. Alles word lig. Daar is lieflike musiek en reënboogkleure. Vrede en liefde heers en niks maak meer saak nie. Sy dryf weg. Maar dan hoor sy haar oudste dogtertjie na haar roep. En sy moet terug. Na die pyn van ʼn gebreekte lyf en gebroke hart. Hoe hervat sy haar lewe?
'n Postume versameling van werk uit die geliefde Namibiese jagter-skrywer se pen. Sy persoonlike geskiedenis en herinneringe vloei kleurryk deur sy byna tasbare vertellinge heen. Op kenmerkende Immelman-wyse word verklaar waarom kameelry geen grap is nie, wonder waarom sommiges ryk is of oud word, waarom mans en vroue verskil, terwyl sy histeriese blik op fotoverhale, handleidings en tikfoute die leser sal laat skater.
Tiertjie en Beertjie is beste vriende. Hulle beleef allerhande wonderlike avonture saam. En hulle is vir niks bang nie, want saam is hulle sterker as enigiets op aarde. “As mens ’n vriend het, hoef mens vir niks op aarde bang te wees nie!” Beer en Tier woon gelukkig en tevrede in ’n snoesige, klein huisie aan die rivier. Maar wanneer daar eendag ’n krat uit die rivier spoel, met Panama op geskryf, gaan die twee op reis na die land van hul drome. Saam pak hulle allerhande avonture aan: hulle gaan op ’n skattejag, vind die posdiens uit, hou groot partytjies en arme Tier beland selfs in die dierehospitaal. Hierdie bundel bevat ses van die welbekende Duitse skrywer se tydlose Ben en Tiertjie-stories.
In 1920 skilder Paul Klee die olieverf-skildery, Angelus Novus. In 1940 vertolk Walter Benjamin in sy geskrif, “Uber den Begriff der Geschichte”, dat dit is hoe die engel van die geskiedenis moet lyk: met oopgesperde vlerke, op die punt om weg te vlieg, kyk hy om. Hy sien ’n katastrofiese verlede, wil terug, die wrakstukke wat hy daar sien opruim, maar ’n storm uit die paradys het hom aan die vlerke beet, waai hom genadeloos die toekoms in. In die eerste gedeelte van Tweespoor word ’n spesifieke suider-afrikaanse verlede ontgin, en in die tweede ’n stormagtige eietydse werklikheid. Benewens die twee spore waarop die bundel kortprosa loop, veroorsaak die geskiedenis wat ingesement in die psiges van karakters le, en die opsies wat die hede bied, ’n turbulensie wat mense in twee rye spore laat loop.
Die drama speel af in die Karoodorpie Willowmore. Die rol van die kerk, verkragting, verlies en familie is van die temas wat aangeraak word. Lekas kyk na 'n kind se weerloosheid en na die familie se verantwoordelikheid om na haar om te sien. Die watermeid (waternimf of meermin) is die mitiese figuur wat tot die dorpie se redding moet kom en drie kinders in die stuk hoop sy sal hulle kom red. Dit raak egter gekompliseerd wanneer die skuldige persoon 'n belangrike figuur in die gemeenskap is - die dominee.
Slot van die dag: Gedagtes is die skrywer se mymeringe oor ouderdom en die einde van die lewe, saam met verspreide herinnerings van ’n algemene aard, om ’n ryk geskakeerde beeld te verskaf van ’n skrywerslewe van byna tagtig jaar. Die reeks outobiografiese boeke wat met ’n Duitser aan die Kaap, Merksteen en Die laaste Afrikaanse boek begin het, word hiermee afgesluit. Dit is 'n baie persoonlike boek oor ouderdom, die skryfproses en selfbeskikking met kommentaar op oud word en wees, met inbegrip van praktiese wenke, en heelwat inligting oor die moontlike en waarskynlike einde van die lewe. Die element van afskeid en gelatenheid is deurlopend. Die ouderdom is teenswoordig die vernaamste onderwerp van sy oorpeinsing, en die vernaamste element in sy daagliks ervarings. Die verwysings en aanhalings is treffend en spreek van iemand wat sy leeswereld ook sy leefwereld maak. Ten slotte verduidelik die skrywer sy bevrydende besluit oor selfdood.
Die weeklikse rubriek in Rapport, “Hanlie Retief gesels met” , is iets waarna baie lesers elke Sondag uitsien en heel eerste lees. Aanhangers weet haar onderhoude is pittig, op die man af en baie vermaaklik. Hanlie Retief vra die vrae aan die nuusmakers wat almal brand om te vra. Sy is bekend daarvoor dat sy haar soos ’n verkleurmannetjie kan aanpas by die aard van die onderhoud. Met deernis skets sy misdaadslagoffers se stories en kuier ewe gemaklik saam met Karen Zoid. Hanlie Retief Gesels Met 2 bevat 50 van Hanlie se beste onderhoude wat sy tussen 2011 en 2018 gevoer het: dié waaroor mense lank gepraat het, dié wat mense kwaad gemaak het, laat lag of inspireer het. Steve Hofmeyr, Rolene Strauss, Tim Noakes, Piet Byleveld en Thuli Mandosela is van die onderhoude wat opgeneem is in hierdie boek.
In hierdie versameling essays ondersoek meesterverteller Jan Nel die onvernietigbaarheid van die lewe: Immer is daar seisoene. Immer is daar ná die eb weer ’n gety; ná die winterdood weer lentelewe; ná die val weer opstaan; ná die leed weer vreugde. Dieselfde maand wat liggame opeis, stoot vars blomme uit die verwarmende grond. Uit die dooie takke van ’n boom, uit die dooie winter, kom nuwe lewe. Hoekom dan twyfel dat daar vir die mens insgelyks hoop kan wees? Op sy tipiese wyse en beeldende vertelstyl, deurweef met beide diepte en kwinkslae, ontbloot hy daardie tikkies van die ewigheid in elke liewe ding, van ’n melodie se soetheid tot goeters in ’n deurmekaar laai.
Nadat Moessorgski na ’n uitstalling van skilderye van sy gestorwe vriend Viktor Hartmann gegaan het, het hy in 1874 ’n klavierwerk geskryf wat in 1922 deur Ravel georkestreer is en as gevolg van die orkesweergawe beroemd geword het. Philip de Vos het met sy verse die werk gemoderniseer om dit meer toegangklik vir moderne lesers te maak, terwyl dit steeds die gevoel van hierdie klassieke meesterwerk behou. Die prettige en slim Prente by ’n uitstalling beeld die besoeker uit soos hy van die een skildery na die volgende beweeg.
Hierdie novelle sluit aan by twee vorige prosawerke van Dolf van Niekerk, naamlik die jeugverhaal Karel Kousop (1985) en Koms van die hyreen (1994). Kroniek van turf is gedeeltelik ’n prequel vir die vorige twee boeke. Dit vertel die geskiedenis van Gerrit, ’n werknemer van die VOC, wat in die 18de eeu begin boer op ’n leningsplaas in die Roggeland. Omstandighede dwing hom om na die distrik Swellendam te verskuif. Sy twee seuns, Johannes en Daniel, soek albei later ook na ’n veiliger blyplek, aanvanklik in die Kamdebo. Onrus op die Oosgrens laat hulle verder trek; Johannes na wat tans die Vrystaat is en Daniel saam met die Voortrekkers na Natal, waar hy en sy vrou slagoffers van die Bloukransmoorde word. Waar Johannes hom op ’n plaas tussen die Riet- en die Modderrivier vestig, maak hy weer kontak met die Kousop-Boesmans wat hy vroeer naby die Gariep ontmoet het. Tussen Johannes se nageslag en die Boesmans ontwikkel ’n vae, onsekere band wat oor meer as ’n eeu sou strek. Onverwags maak een van Johannes se nasate, Johan, tydens die Bosoorlog kennis met ’n Boesmanspoorsnyer wat ook ’n Kousop-nasaat blyk te wees en wat ’n bepalende rol in ’n grondeis op Johan se plaas tussen die twee riviere sou speel.
Hier is dit nou! Riaan klim uit die TV-kas! Sy langverwagte outobiografie met die ware Riaan gaan elke mens laat regop sit. Gou word die leser in hierdie kostelike, gemaklike en informatiewe biografie ingetrek, sodat jy later absoluut meegevoer word deur die welkome inligting. Dit voel eintlik asof jy vir ete by die Cruywagens genooi is en jy in 'n diep gemakstoel na daardie welluidende mooi stem sit en luister wat op 'n boertige en gesellige manier onthou. Hy bring al vir die afgelope 47 jaar vir ons die nuus in ons huis en lyk sowaar nog presies dieselfde. Vind uit hoekom hy die geloofwaardigste Suid-Afrikaner naas Nelson Mandela is. In hierdie boek wys ons jou wie Riaan werklik is. 'n Familieman wat ‘n passie het vir Afrikaans en wat mal is oor 'n goeie grap. Hierdie boek gaan jou laat skater van die lag en jou hart laat warm klop na jy dit gelees het.
Anderkant die Gariep, in die harde, wye wêreld van die Noord-Kaap, het sedert die vroeë 1900’s pioniersmense gewoon wat deur g’n stof of droogte, g’n lamsiekte of beespes ondergekry kon word nie. Dit was ’n tyd voor selfone en kitsoplossings, toe ’n man se woord nog sy woord was, en ’n afspraak ’n afspraak; ’n tyd toe jagtogte, Boeredanse en familietroues mense saamgesnoer het en swaarkry en verlies bloot ’n deel van die natuurwette was. In hierdie wêreld word drie geslagte Bredenkamps groot – en maak die leser kennis met mense wat in die wêreldgeskiedenis maar klein sandkorreltjies is, maar wie se vreugdes en plesier; sweet en trane die fondament gelê het vir ’n koersvaste, trotse nageslag.
Die plaag is tegelykertyd reisverhaal, avontuurverhaal, speurverhaal, natuurkundige artikel, letterkundige studie en historiese ondersoek. Die skrywer – 'n Belgiese joernalis – reis na Suid-Afrika op soek na die "dowwe spoor" van Eugene Marais, en word uiteindelik met veel meer as dooie historiese gegewens beloon. Die Nederlandse uitgawe van Die Plaag het die Debuutprijs vir 2002 verower en was op die kortlys van die Gouden Uil-literatuurprys vir 2002. Die vertaling van Van Reybrouck se Nederlandse teks in Afrikaans deur die bekende digter en omroeper doktor Daniel Hugo is ’n onmisbare toevoeging tot Afrikaanse lesers se kennis van die merkwaardige Eugene Marais se lewe. Hiermee word kultuurgoedere wat deur ’n Vlaming nagespoor en opgeteken is as ’t ware huis toe gebring.
Lesers wat nie ’n annerlike kontrei se taal kan slat nie, hoef nie daaroor kop te vreet nie. Hierdie omvattende woordeboek plaas die gewoonlike Afrikaans uit die kontreie op skrif vir inkommers en vir ingesetenes wat wil klont oor kontreitaal. Die eienaardig mooie woordeboek ontgin annerlike Afrikaans op so ’n manier dat geen leser meer uitgesluit hoef te wees van diegene wat eenspaaierig handel nie want alles wat hierin opgeteken is, is koek van een deeg. Dit kouboe die taal vir oueres wat daarmee vertroud is en vir jongeres is dit brandhout om vir die oudag bymekaar te maak.
Reinaard die Vos breek weg van die tradisie van ou fabels of diereverhale. Die vosverhaal is ’n bytende satire op die destydse politieke, sosiale en godsdienstige (wan) toestande. Die dinge wat deur die skrywer aan die kaak gestel word, is vandag nog deel van ons samelewing. Henri van Daele het die oorspronklike Middelnederlandse rymende eposse naatloos aanmekaargelas en in soepel prosa herskryf. Daniel Hugo se Afrikaanse vertaling maak dit ook Suid-Afrikaanse volksbesit.
Ben is ’n Indiaan, skatsoeker en kaskarbestuurder. Ben is sommer enigiets wat hy wil wees. En sy troeteldierskilpad gaan oral saam. Of hulle nou as dapper Indiane (skelmpies) Ben se ouboet se boomhuis gaan verken, of in die spruitjie gaan toets of Meneer Skillie nie dalk vinniger in die water is as op land nie ... Enige uitstappie is pret, en ’n wereld van avonture wag op hulle. Die stories is vanuit die seuntjie se perspektief vertel en is hartlik en snaaks.
Met sy nostalgiese songs het die Nederlandse sanger Stef Bos Suid-Afrikaanse gehore stormenderhand verower. Gebroke sinne is 'n versameling songs wat Afrikaanse poesie geword het. Eenvoudige, egte woorde wat tot die hart spreek.
Soos sy eerste bundel, Gebroke sinne, is JA! 'n kombinasie van Bos se woorde (noem dit gedigte, mymerings of woordlandskappe) in Nederlands en Afrikaans – hier in duet met beelde deur Eric de Bruijn. Ja! is die tweede publikasie uit Stef Bos se pen en vertoon heelwat ooreenkomste met sy eerste geskrewe projek, Gebroke sinne (2004). Soos wat Gebroke sinne deur Marianna Booyens geillustreer is, is die kunstenaar Eric de Bruijn by Ja! betrek. Die uitleg is ook eenders aan die van Gebroke sinne. In teenstelling egter met die vroeere publikasie wat volledig uit Nederlands in Afrikaans vertaal is, is Ja! grotendeels in Nederlands geskryf met enkele Afrikaanse tekste. |
You may like...
Rassie - Stories Oor Rugby En Die Lewe
Rassie Erasmus, David O'Sullivan
Paperback
|