|
Showing 1 - 16 of
16 matches in All Departments
Kan wat vandag deurgaan as "kabaret" die toets met die verlede
deurstaan? In Koffer in Berlyn ontleed Aucamp die talle fasette van
kabaret: die integrasie tussen beeld, musiek en woord – met 'n tema
en struktuur waarin ironie sentraal staan. Lesings, resensies,
koerant- en tydskrifartikels ander letterkundige bydraes, sowel as
uittreksels van sommige van Aucamp se kabarette word hier
meesterlik byeengebring.
Liefde is die sentrale tema in die verhale in Die huis van die digter.
Liefde in Aucamp se werk vertoon ’n wye omvang en baie stemminge. Party verhale is snaaks, ander ontroerend, nog ander vreemd en geheimsinnig. ’n Waardevolle toevoeging tot Die huis van die digter is Aucamp se vertaling van “The Return from the Kloof” deur Joey Muller, ’n vergete meesterstuk, met ’n hantering van die bonatuurlike wat gelykstaan aan dié van Edgar Allan Poe.
In die elegiese sluitstuk “Waar die wolke middag maak” neem Aucamp finaal afskeid van die Stormberge van sy jeug, en word sy kontrei inderdaad “’n aandgesang”.
In Lendetaal gee Hennie Aucamp sy perspektief op vrae rondom
kwessies oor homoerotiek in die kunste en in die letterkunde. Onder
die afdeling "Kuns" word daar gekyk na die manlike naakt in
fotografie, die voorstelling van die jong seun in die kunste en hoe
gay kunstenaars die lyntekening in die verkenning van erotiese
sones ontgin. Die afdeling "Skrywers en individuele werke" is 'n
kort historiese oorsig van die hantering van homoseksualiteit in
literatuur. Skrywers soos Stephen Spender, C. Louis Leipoldt,
Christopher Isherwood en Edmund White word belig en daar word
aandag gegee aan gay stereotipes soos die cowboy in die kortverhaal
"Brokeback Mountain". In "Bloemlesings" gee Aucamp onder andere 'n
hipotetiese keur van gay verhale. Die laaste afdeling,
"Egodokumente", bespreek beroemde mense se dagboeke en daar word
afskeid geneem van Lucas Malan.
Hennie Aucamp bewys met hierdie bundel dat hy 'n ewe vernuftige
skrywer van kinderverse as van kabarettekste en gedigte is. Baie
van die versies verwys na eietydse dinge soos sms'e, pizzas en
Croc-skoene wat vir vandag se kinders aantreklik sal wees. Die
meeste van die versies handel egter oor die gewone dinge van die
kinderwereld: oumas en oupas, mammas en pappas, troeteldiere,
speelgoed, badtyd, voeltjies, goggas en paddas. Aucamp skram egter
nie daarvan weg om effens meer gesofistikeerde verwysings byna
ongesiens in die verse in te glip nie, soos in die onsinversie oor
oom Nathan die Ou Wyse en die verhaal van "Oorlede Dina Sourus",
wat die verse ook vir die voorlesers genotvol sal maak. Slim
woordspel, vindingryke ryme en Aucamp se trefsekere gevoel vir
ritme maak dat hierdie versies gou onder die klassieke kinderverse
in Afrikaans gaan tel.
In Oor En Weer gee Hennie Aucamp 16 onderhoude weer wat tussen 1972 en 2008 met hom gevoer is.
Die verskillende onderhoudvoerders tree met Aucamp in gesprek oor sy skrywerskap, sy literêre beskouings, sy siening van die stand van Afrikaans en die resensiebedryf.
Die onderhoude bied ’n boeiende oorsig van hoe Aucamp in die loop van 36 jaar oor sy skrywerskap gedink het. Daar word veral gepraat oor die genres waarin hy sy merk gemaak het: die kortverhaal, dagboekskrywing, memorie en kabaret.
Die vernuftige wyse waarop Aucamp hierdie verhaaltjies in digvorm
weergee, sal deur kinders en grootmense geniet word. Half vergete
verhale word op hierdie wyse ook weer vir Afrikaanse lesers in
herinnering geroep. Hennie Aucamp se belangstelling in en kennis
van die verhaalkuns van die inheemse volke van Suid-Afrika word in
hierdie versameling omdigtings met die subtitel Afrika-verse vir
kinders weerspieel. Die bundel is in vyf afdelings verdeel en bevat
vernuftige oorvertellings-op-rym van bekende en minder bekende
verhale van die San, die Khoi en die swart volke. Daar is verse oor
die ontstaan van die son, die maan en die sterre, verhale oor diere
soos die skilpad-towenaar en die eerste eland en volstruis, 'n mite
oor waar die eerste mens vandaan kom, die sprokie van die
waterslang, en 'n aantal "hoe" - en "hoekom"-stories: Hoe Tarentaal
sy spikkels gekry het, hoe Hasie sy haaslip gekry het en hoekom
Reier se nek so skeef is.
Die kwatryn is ’n moeilike digvorm wat van die digter vereis om in
enkele woorde en net vier reels ’n sinvolle eenheid in beeldende
taal oor te dra. Die vorm pas Aucamp, ’n meester van die
kortverhaal, soos ’n handskoen – en vir die leser wat bereid is om
fyn te kyk en te lees, word die ongesiende en ongehoorde in Skulp
onthul.
|
|