![]() |
![]() |
Your cart is empty |
||
Showing 1 - 4 of 4 matches in All Departments
Jansie Ziman weet daar het iets verskrikliks met sy vrou gebeur toe sy 'n kind was. Hy weet Kleintjie het 'n berader nodig, hy kan dit insien. En hy moet toegee, sedert sy hierdie Wanda-vroumens begin sien het, lyk dit asof daar iets van die vrag op haar skouers afgelig is. En dit sal seker help as Kleintjie, soos die sielkundige voorstel, haar verhaal begin neerskryf. Hy sal help lees, ja, hy weet mos wat om te verwag. Jansie Ziman het geweet, maar ook nie geweet nie. Weekliks kry hy ’n stapeltjie papier van sy vrou. Hy sukkel aanvanklik, maar leer later haar gedagtestroom verstaan. Dit is die weergawe van Kleintjie se gesprek met die sielkundige, kan hy sien, maar dit is 'n maalkolk van 'n gesprek, 'n byna desperate skermutseling wat om en om tol om ’n donker gat, en stelselmatig in daardie donker gat afgesleur word. En daardie donker gat het ’n naam. Sy naam is Pastoor. Pat Stamatelos vertel op ’n skreiend aangrypende wyse die ware verhaal van ’n vrou wat as ’n jong kind in die hande van ’n pedofiel beland het – in die hande van ’n kerkleier wat sy duiwelswerk onder die dekmantel van jeugberading verrig. Dit is die verhaal van ’n kind wat deur haar lewensomstandighede in hierdie leeukuil gewerp is, die verhaal van ’n vrou wat stadig doodbloei aan die wond wat daardie pastoor haar toegedien het, met die hulp van haar pleegouers se ellendige onkunde. 'n Mindere skrywer sou maklik hiervan iets sensasiewekkend kon maak, maar Pat Stamatelos se hantering daarvan is ’n noukeurige studie van ’n verwonde psige, en ’n onverskrokke oopvlekking van ’n kanker aan die hart van ons samelewing. Hartverskeurend en terselfdertyd absoluut aangrypend.
In hierdie opvolg op Vier begrafnisse en ’n troue kry ons te doen met die twee jonger Douglas-vroue: Lucy Jordan-Douglas, nou al sewe jaar gelukkig getroud, en Cheryl Douglas, suksesvolle grimeerkunstenaar en op pad bóóntoe op die loopbaanleer. Lucy en Ashwin is in die wolke oor haar swangerskap, maar ná twee miskrame moet sy sorg dat sy alle emosionele ontsteltenis vermy. Dis makliker gesê as gedaan. Haar verhouding met skoonma Dulcie is maar stram, en sy is bekommerd oor wat in Sheena, haar sestienjarige, se kop aangaan. En dan is daar die dood van Eddie Stamper – dief en skollie en ongelukkig haar swaer. Toe Lucy se broer onverwags opdaag by die staatslykhuis waar sy werk, wéét sy iets klop nie. Cheryl Douglas steur haar eenvoudig nie aan dié wat sê dat sy oppervlakkig en materialisties leef nie. Sure, sy is lief vir blieng en sy is op soek na ’n bietjie maklike romanse, maar sy verlang ook na iets meer . . . iets dieper. Die ding is net: moet sy nou regtig soveel paddas soen voor sy haar prins (óf prinses) ontmoet? ’n Plek-plek makabere en satiriese roman, maar steeds baie menslik en heerlik leesbaar. Deur die gewilde skrywer van Kroes en Die val van die dice.
Dulcie-Anne Douglas is 'n miljoener - op skrif. Twee jaar gelede is haar man oorlede in 'n treinongeluk, en toe die polis uitbetaal is, het sy in 'n japtrap vir haar en die kinders 'n smart huis in die woonbuurt van Roxy gekoop. Weg van Gumaville se arm bure en vuil brakke. Maar Gumaville se inwoners wil haar eenvoudig nie los nie. Veral nou na haar skoonsuster Hanna se begrafnis word haar drumpel skielik deurgetrap. As dit nie haar swaer Sparkie is nie, is dit haar seun Ashwin se onbeholpe gilfriend Lucretia, of die welaf eiendomsagent Rocky van der Merwe. Kan almal om haar haar nie 'n slag in rus en vrede laat nie? Wat moet die bure dink?
Toe Pattie Peters agt jaar oud is, sterf haar ma. En 'n paar dae later gee haar pa haar weg. Om by haar anties in die Strand te gaan bly. "Dis bieter so," hoor sy hom se. "'n Kind het 'n ma nodig en sy is nog klein. Kitty en Maggie sal sorre virrie kind, daaroor hoef ek my nie te worrie nie." So begin Pattie se afskeid aan haar pa, en aan die Kaap. Uiteindelik beland sy in die Goudstad - by haar sus Dorie in mevrou Soes se losieshuis. Maar dan ontmoet sy Laki Pappasani, 'n Griek van Sparta, ambagsman van beroep. Net jammer dis die sestigerjare, en sy, Pattie Peters, klerk van beroep, is 'n kleurlingmeisie van die Strand.
|
![]() ![]() You may like...
|