Kobus Lombard se vierde digbundel word gekenmerk deur ’n sterk
gevoel vir plek. Soos te verwagte is daar verwysings na bekende
plekke in Namibie, soos Gobabis, Rundu, Swakopmund, die stad
Windhoek, die Kavango- en Nossobrivier, die woestyn en die seekus
van die dood. Selfs in gedigte waar daar geen duidelike verwysings
na die Namibiese landskap is nie, bly die leser bewus van die wye
en dikwels ongenaakbare landskap wat die agtergrond vir die meeste
gedigte vorm, soos in “Ylblou berg”: “ … word hy bruin en ruig
begroei/met swart voels wat sirkel/teen die grynslag van sy
kranse”. Hierteenoor is daar in baie gedigte ook sprake van
kleiner, intiemer en mensliker ruimtes: ’n strandhuis, die
binneruimte van ’n kerk, museums, restaurante, selfs grafte en ’n
klerekas. Met sowel die groter as die intiemer ruimtes tree die
digter in gesprek. Dit is opmerklik hoe dikwels die aanspreek van
plekke, mense en dinge die inslag van die gedigte vorm, asof die
digter homself gedurig in verhouding met die ander stel en in die
gedig hierdie verhouding wil verken en peil. Verweef met die
menslike verhoudings is ook die verhouding met die verlede, met sy
eie kinderjare en ’n verbygegane plattelandse lewe, wat nooit
geromantiseer word nie, maar met ’n effens ironiese toon opgeroep
word, soos in die gedig “Gobabis”, waar die verval van die dorpie
so geteken word: “die stof hang ’n kring om die sweet van jou
tiervelhoed/die vensters van jou oe is gebreek/jou mure skilfer
soos oumensvel”. Die digter kyk ook ewe ironies na menslike gedrag
in verskillende kontekste: kerkgangers, besoekers aan restaurante,
die beheptheid met fiksheid, die verandering van straatname en
selfs sy eie skryfpogings. Oor al hierdie dinge en verskynsels val
die skaduwee van die sonwyser, en word die leser vroeg reeds bewus
van die verbygaan van tyd sodat sekere dinge onafgehandel moet bly
(“Ongevra”) en die onvermoe om te behou of te bestendig: “vergeefs
soek ons taal/wat ruik na vars hopies grond/om ons verliese te
begrawe”.
General
Is the information for this product incomplete, wrong or inappropriate?
Let us know about it.
Does this product have an incorrect or missing image?
Send us a new image.
Is this product missing categories?
Add more categories.
Review This Product
No reviews yet - be the first to create one!