Welcome to Loot.co.za!
Sign in / Register |Wishlists & Gift Vouchers |Help | Advanced search
|
Your cart is empty |
|||
Showing 1 - 6 of 6 matches in All Departments
Hierdie bundel het ontstaan na aanleiding van ’n gesoute bibliotekaresse se vreugde oor kinders wat ’n ou hardebandbundel met Langenhoven se spookstories uit die volwasse afdeling smokkel om in die kinderafdeling voos te lees. Die spookverhale is versigtig uitgekies en hervertel deur Wendy Maartens om by die oorspronklike teks aan te sluit, en terselfdertyd ook tot die kind van vandag te spreek.
Sagmoedige Neelsie se lewe word weereens versuur – hierdie keer nie deur die bure nie, maar deur Vroutjie, wat nou maar net nie kan verstaan hoekom hy nie ’n vaste werkie wil kry nie. En so saam met Vroutjie se knaende klagtes kom daar nog slegte nuus: die Universiteit van Stellenbosch het besluit dat ’n man van Neelsie se geleerdheid sekerlik te vinde sou wees vir ’n reeks lesings oor onderwerpe wat begin by toe Adam nog ’n opgeskote jongeling was (Egiptelogie, Assiriologie, die Homeriese probleem) en aanloop tot by die verdere uithoeke van die wetenskap (Moderne Kosmogonie en so ietsie oor Einstein se teorie) ... Neelsie se enigste hoop is maar om êrens in afsondering te gaan studeer aan al die hogere dinge, met die gevolg dat Herrie weer voor die trem ingespan word en die hele familie weer afsit na Meiringskloof, met etlike bewonderaars in tou.
Kootjie Totjie is een van Langenhoven se gesogte kinderverhale en bekoor vandag nog kinders – en grootmense. Kootjie Totjie is ’n wit varkie wat heerlik op die plaas woon – totdat Gert Wolf die dag besluit dis vreeslik onregverdig dat net boere varkies vir die slag mag aanhou en hy Kootjie summier ontvoer. Die jonge Kootjie verlang vreeslik na sy ma daar in sy gevangenskap in die bos, maar ’n ma-duif ontferm haar oor die ou varkie en sy kom met ’n plan vorendag om Kootjie van die slagtersmes te red – en wat ’n meesterlike plan is dit nie! Die humor en lewendige beskrywings spreek van Langenhoven-stories se eiesoortige bekoring.
Sagmoedige Neelsie ly onder die bure – en Vroutjie se alewige behoefte om die bure uit te stof. Hierdie keer gaan dit om ’n vakansiehuis en ’n motorkar. Maar o, die onkoste ... Op die ingewing van die oomblik skaf hy ’n oudsirkusolifant aan – ook bekend as Herrie – en ’n trem wat al beter dae gesien het, en siedaar: ’n vakansiehuis op wiele! Met Vroulief en Engela en haar menigte koffers aan sy sy, neem Neelsie die geweste op horings. (So ’n trem kan nogal verwoesting saai as dit aan ’n eiesinnige olifant vasgeketting word ...) En so eindig die trek in Meiringspoort, waar vele ander avonture vir hulle wag, voor deputasies vanaf beide Oudtshoorn en Prins Albert Neelsie met vreemdsoortige eerbewyse om die hals val.
Stoffel Gieljam is ’n man met ’n grief, en sy grief is van so ’n aard dat hy hom nou maar tot die boekewêreld wend in ’n poging om sy saak te lug, met sy neef Neelsie wat omsien na dinge soos spelling en ander sulke modegoed. En Neelsie help nou maar want hy skuld sy oom ’n sommetjie geld. Stoffel het ’n appeltjie te skil met die dorpse mense – heidense Nattes deur die bank – wat hulself Engels hou en dan ’n man se lewe versuur met belaglikhede soos dokters wat jou net dood wil hê. Om nie eers te praat van buurmanne soos Makpaatrie en die voormalige Koos van der Byl (nou Jiems Wénderbaail) nie. Maar Stoffel is reg vir hulle – gee hom net ’n tafel, ’n gehoor en ’n dop, en hy sal hulle ’n ding of twee vertel ...
Loeloeraai, wat oorspronklik in 1923 uitgegee is, is heel moontlik die eerste Afrikaanse verhaal in die wetenskapsfiksie-genre. Die meeste van die kleurvolle karakters in die boek is ou bekendes uit Langenhoven se ander verhale, soos Kerneels, Vroutjie, hul dogter Engela, oom Stoffel, swaer Watwo, Herrie, Kerneels se mak olifant en Jakhals, Kerneels se hond. Die ander hoofkarakter is Loeloeraai, 'n onverwagse besoeker van Venus wat een aand met sy ruimtetuig op Kerneels se werf land. Eers is Kerneels-hulle baie agterdogtig oor die wyse vreemdeling vanuit die buitenste ruim, maar gaandeweg leer hulle dat hy in vrede gekom het. Maar ander mense leer gou-gou van Loeloeraai se bestaan en die gereg wil hom in die tronk stop omdat hy die land onwettig binnegekom het... Buiten Langenhoven se humor wat die verhaal kenmerk, kan ons sien watter kennis van die wetenskap en die buitenste ruim reeds in daardie tyd bestaan het en kan ons ook agterkom watter kennis tekortgeskiet het. Loeloeraai se besoek is om meer van die aarde te leer en ook leer hy die mensheid meer van homself en hoe kenmerke soos gierigheid, selfsug en wreedheid die mens se vooruitgang belemmer.
|
You may like...
|