![]() |
![]() |
Your cart is empty |
||
Books > Afrikaans > Biografieë Showing 1 - 25 of 240 matches in Biografieë
Die oorlewingstog van 'n dapper vrou. “ ʼn Kale vlakte waar my regterbors eens was. Ek maak my oë toe en laat my brein toe om te proe aan hierdie monumentale ding. Kanker schmanker, besluit ek. Ek is nog net soveel vrou soos voor die operasie. My vroulikheid het toe al die tyd nie in my bors gesit nie. Dit sit in my kop, in my hart, in daardie onmeetbare, onaantasbare iets wat die gees genoem word.” In hierdie aangrypende boek deel die bekende spanningsverhaalskrywer Madelein Rust die intiemste besonderhede van haar reis met borskanker. Dit is ʼn brutaal eerlike vertelling wat haar belewenis van die siekte met patos en humor uitbeeld. Lesers verkry ʼn eiesoortige blik op die fisieke ervarings van borskankerstryders sowel as die ewig veranderende binnewêreld van dié wat teen die siekte veg. Kanker schmanker! rus borskankerstryders toe met inligting wat nie altyd geredelik beskikbaar is nie en help hul geliefdes om die reis met kanker beter te verstaan. Dit is ʼn boek van hoop en triomf wat die leser hardop laat huil en laat lag. Dis 'n verhaal vir elkeen van ons wat ʼn stryd van enige aard stry.
Vir die vroue wat hy met sy rolprentsterglimlag betower het, was Chris Barnard ’n hartebreker. Vir sy pasiënte ’n harteheler. Dié nuwe biografie oor Suid-Afrika se beroemdste hartsjirurg vertel nie net van Barnard se kinderjare in Beaufort-Wes, sy prominente huwelike (en egskeidings) en flambojante lewe nie. James Styan ondersoek ook die impak van die historiese eerste hartoorplanting op Barnard se persoonlik lewe en op die Suid-Afrikaanse gemeenskap in die algemeen, waar apartheidswetgewing dikwels die probleme van geneeskunde nog ingewikkelder gemaak het. Die rol van swart mediese personeel soos Hamilton Naki word bespreek, sowel as die intense wedywering wat tussen ander beroemde hartsjirurge en Barnard ontstaan het. Hoe het Barnard dit reggekry om hulle almal in dié resies om lewe en dood te wen? Hoeveel het sy welbekende sjarme daarmee te doen gehad? En wat is Barnard se nalatenskap vandag, in die lig van sy latere suksesse en aansienlike mislukkings? Styan dek dit alles in dié fassinerende nuwe blik op Chris Barnard wat uitgegee is om saam te val met die 50ste herdenking van die eerste hartoorplanting.
Paul Kruger: Toesprake en korrespondensie van 1881–1900 probeer om die klem te plaas op minder bekende briefwisseling en optredes van Kruger om sodoende ’n verteenwoordigende beeld van staatspresident Kruger se werksaamhede en standpunte aan te bied. Die teks is deeglik toegelig met ophelderende voetnote. Verder is ’n algemene inleiding, agtergrondsinligting en -ontleding verskaf by elke toepaslike breër tydperk in Kruger se lewe tot 1900. Die beeld wat van Kruger na vore kom uit ’n deeglike ontleding van veral sy minder bekende korrespondensie en toesprake, verskil dikwels ingrypend van dit wat oor ’n lang tydperk in publikasies oor hom aangebied is. Hierdie publikasie vervul daarom ’n belangrike behoefte: Dit stel die leser in staat om regstreeks deur die lees en bestudering van Kruger se standpunte tot eie en nuwe gevolgtrekkings te kom.
Die geskiedenis van die eerste 59 jaar van die SAUK se bestaan; vanaf 1936 tot 1995. Die vertel ook die ontstaan van openbare uitsaai, die missie en doelwitte daarvan en waarom dit hersien moet word. Die politieke element word bespreek: Watter soort stut was die SAUK vir apartheid? Watter rol het die SAUK gespeel as sleutelspeler in die transformasieproses? Daar word gekyk na politieke inmenging en aanstellings wat direk uit die Uitsaaiminister se staatsdepartement gemaak is. Ook ingespan is die SAUK se sleutelrol in geskiedkundige gebeure: Die vrylating van Nelson Mandela en die vryheidsverkiesing van 1994. Die boek behoort nie net die wye publiek nie, maar ook akademici, historici en politici te interesseer.
Die kranige sportman Alwyn Uys word in die fleur van sy lewe verlam. Ten spyte van dié verlies en ander terugslae bly Alwyn se gees ontembaar. Hy besluit om sy lewe ten volle te leef: Hy word onder andere die eerste parapleeg ooit wat van Robbeneiland na Bloubergstrand swem. Ongeskonde is Alwyn se openhartige vertelling van sy worsteling en hoe hy met genade van Bo besluit het om uit te styg bo sy beperkinge. Sy eerlike verhaal sal jou inspireer om jou eie uitdagings aan te pak en te oorkom.
Portchie is een van Suid-Afrika se suksesvolste kunstenaars, maar wie
is die man wat agter die skilderye skuil? Waar kom die naam Portchie
vandaan? En hoe en wanneer het Jan Hendrik Viljoen van die klein dorpie
Tweeling in die Vrystaat, aangemeld om die wêreldbekende kunstenaar
Portchie te word? Hierdie memoir kombineer Portchie se inspirerende
verhaal met foto’s, staaltjies en selfs resepte. Dit vertel die storie
agter die storie: onopgesmuk, sonder tierlantjies, maar met ’n tikkie
flair.
Rassie Erasmus is al geniaal genoem. Hy is al roekeloos genoem. Nog sy lewe lank het hy dinge anders gedoen. Nou sal Rassie op sy kenmerkende openhartige manier gesels oor sy lewe vol voorspoed en teëspoed, op en weg van die rugbyveld – as Springbokspeler, provinsiale afrigter, en as die hoofafrigter wat die nasionale span na die Rugbywêreldbeker-sege in 2019 en ook in die aanloop tot 2023 se Wêreldbeker gelei het. Hy sal terugkyk op sy loopbaan as speler en afrigter, iemand wie se ingebore rugby-instink, vermoë om ’n wedstryd anders te lees en aptyt vir harde werk hom nog altyd onderskei het, en gelei het tot omstredenheid en mislukking, maar ook dawerende sukses. Rassie werk saam met die bekende joernalis David O’Sullivan om sy lewensverhaal te vertel. David is ’n bekroonde skrywer en omroeper.
Francois van Coke span met die skryf van hierdie biografie saam met
Annie Klopper om in sy eie stem die gebeure te vertel wat hom as mens
en musikant gevorm het. Sy perspektief word gebied op als van
Fokofpolisiekar tot Van Coke Kartel, die sukses van “Toe vind ek jou”
en sy rol as afrigter op The Voice. Minder bekende en onbekende
verhale word ook vertel oor wilde partytjies, vuisgevegte, dwelms,
nagte in tronkselle, liefde, soberheid en pa-wees. Dít is sy stories,
hoe hý dit onthou.
In 1957 emigreer die negejarige Henk van Woerden vanaf Nederland met sy gesin na Kaapstad – leertas in die hand, mussie oor die ore, serp om die nek, glasoog in die oogkas. Eers veertig jaar later ontdek hy wat die rede was vir hierdie vertrek na Suid-Afrika: Sy pa was ’n kollaborateur in die Tweede Wêreldoorlog. Die emigrasie is die begin van ’n lewe as buitestaander en vorm later die goue draad in sy skilderye en literêre werk. Koning Eenoog is ’n boeiende biografie van die ewig soekende emigrant Henk van Woerden (1947–2005), ’n skrywer wat nie net ’n bekroonde oeuvre agtergelaat het nie (Een mond vol glas – Alan Paton Award en die Frans Kellendonk-prys, Ultramarijn – Gouden Uil en Inktaap) maar ook die Nederlandse literatuur oor Suid-Afrika verander het.
Jan Christiaan Smuts was ’n soldaat, staatsman, intellektueel en een van Suid-Afrika se grootste leiers. Tog word daar vandag min oor hom gepraat of geskryf, al beleef ons tans skynbaar ’n leierskapsvakuum. In Jan Smuts: Afrikaner Sonder Grense voer Richard Steyn aan dat ons hierdie indrukwekkende kryger-staatsman se lewe en denke moet herbesoek, omdat daar soveel te leer is uit sy merkwaardige prestasies. Die hoogs leesbare verslag ondersoek onder meer Smuts se rol as politieke leier, as adviseur van wêreldleiers, sy spirituele en intellektuele lewe en sy verhoudings met vroue. Sy unieke bydraes op ʼn verskeidenheid ander terreine, insluitend botanie, bewaring en filosofie, word ook bespreek. Jan Smuts: Afrikaner Sonder Grense skram egter nie weg van die paradoksale in Smuts nie. Hoewel hy een van die argitekte van die Verenigde Nasies en ʼn groot kampvegter vir menseregte was, kon hy nie so ver kom om die plaaslike swart meerderheid politieke regte te gun nie.
Wat is vir jou uniek en kosbaar aan Suid-Afrika? Wat laat jou verlang? Wat laat jou lag? Wat maak jou trots? Is dit ’n spesifieke landskap, landmerk, kos, dier, plant, liedjie of tradisie? Vir elkeen is dit iets anders. In hierdie bundel beskryf verskeie skrywers, kunstenaars en ander bekendes wat vir hulle besonders is aan Suid-Afrika. Die bundel bestaan uit kort sketse (1000 woorde of minder) en enkele gedigte. ’n Verskeidenheid van perspektiewe op wat belangrik en spesiaal aan Suid-Afrika is, word van mense van verskillende ouderdomme en agtergronde gegee. Dit sluit nostalgiese herinneringe uit die verlede, reisbeskrywings, ’n komiese bespreking van die ikoniese Suid-Afrikaanse melktert, ’n essay oor die merkwaardige fossielvondste van die land, en nog vele meer, in.
Min het Zirk van den Berg, toe hy in 1998 met sy gesin na Nieu-Seeland
verhuis, geweet wat dit sou verg vir ʼn huis vol Kapenaars om Kiwi’s te
word. Hy vind homself werkloos, in ʼn piepklein huisie van karton, in
die land van kettingsae en grassnyers. Die son skyn nooit en sy vrou
sniks sags in haar kussing. Tog slaag Zirk uiteindelik daarin om ʼn
betekenisvolle bestaan in Auckland vir hom en sy mense te bou.
Hykie Berg is ’n bekende film- en TV-akteur, geliefd en gewild reg oor Suid-Afrika. Hy is ook 'n verslaafde. Op die kruin van sy suksesloopbaan verloor Hykie alles en draai by die dood om. Hier vertel hy sy verhaal openhartig, van die dwelmhole van Hillbrow tot in 'n maksimum-sekuriteitsel in die Weskoppies-hospitaal, waar God hom van 'n gewisse dood red. Hykie nooi jou uit om te onthou dat God se liefde ook vir jou bedoel is, en dat, al doen ons wat, God ons nie laat gaan nie.
"Dié seun is vir groot dinge bestem . . ." Só het sy afrigters by Boland Landbou sedert sy hoërskooldae geglo. Toe hy op die bloedjong ouderdom van 19 die Curriebeker vir die Blou Bulle verower én die skopkoning Naas Botha se eindstrydpunterekord verbeter, het dit gelyk of sy pad na roem en rykdom geplavei was. Maar toe begin die dobbelstene verkeerd val vir die liefling van Loftus. Harsingskudding, Kamp Staaldraad, beserings en toé ’n allesverterende pilverslawing het hom laat steier. Sy sprokies-huwelik is verwoes en sy beroepslewe en geldsake is in ’n warboel gelaat . . . Dié boek onthul staaltjies oor sy rugbydae maar ook vriende en vertrouelinge se vergeefse pogings om Derick uit die kloue van verslawing los te wikkel. Dit is ’n diep menslike verhaal wat wys hoe dun die lyn tussen sukses en mislukking is en hoe maklik selfs die grootste helde tot op hul knieë gedwing kan word.
Ek blaai vinnig deur hierdie bladsye. Ouma se politieke spore is besaai met duwweltjies. ’n Deel van my wil-wil die swart dagboek toemaak. ’n Ander deel skop vas: Hoe eerlik is jy in jou poging om oupa Hendrik te verstaan? Ná jare van versoeningswerk tussen eertydse vyande in Ierland keer Wilhelm Verwoerd terug na Suid-Afrika. Hy wil vrede maak met sy eie familie en sy geskiedenis. In die Verwoerd-strandhuis, Blaas ’n Bietjie, waar hy sit en skryf, hang ’n gesinsfoto waarop sy oupa, HF Verwoerd, hom as baba teer vashou. Hoe versoen hy dié menslike oupa met die gehate onderdrukker wat in die stories van sy swart bure en kennisse na vore kom, mense wat as kinders in die strate gedans het toe sy oupa vermoor is? In sy soektog na begrip kom Wilhelm op ouma Betsie Verwoerd se private dagboeke af en voer hy soms ongemaklike gesprekke met mense wat sy van as vloekwoord onthou. So ontvou ’n geskakeerde blik op wat dit beteken om vandag met integriteit in Suid-Afrika te leef. “Diepsinnig … Wilhelm Verwoerd ondersoek die veelkantigheid van verantwoording in families in hierdie belangrike en menslike memoir.” – Martie Retief Meiring
In 2012 verdwyn Binnelanders se geliefde Elise Kruger sonder waarskuwing van kykers se televisieskerms af. Lindie Stander, wat die rol van die vermaaklike Elise vertolk, was op die kruin van haar loopbaan toe sy in ’n bloedbevlekte bed in ’n staatshospitaal wakker word. Hier het sy besef dat sy haar rol en haar lewe soos sy dit ken, kwyt is. Lindie Stander: Agter my glimlag is die eerlike ervaring van dit wat kykers nie op skerm sien nie: die verpletterende verlies van haar pa, haar worsteling met dwelmmisbruik en rehabilitasie, ’n lewe met depressie en ’n gewonde vrou se genadelose soeke na ’n liefde wat kan heelmaak. In haar bekende, deernisvolle stem vertel Lindie haar hartverskeurende, maar hoopvolle verhaal soos net sy kan: sonder skroom en met ’n goeie skeut humor.
“Dis politici wat oorlog verklaar, nie ons nie. Ons het gedoen wat ons
geglo het ons moes doen en hulle [die vyand] ook . . .” – Marco
Caforio, ouddienspligtige
Toe sê sy, terwyl sy skuins afkyk na die mat, asof sy met haarself praat: “Vir te lank in my lewe het ek ongedefinieerd geleef. Ek weet nie wie ek is nie.” Iets of iemand moet die katalisator wees wat ’n mens aan die dink sit oor jouself. Die vrou van Waterkloof was dit vir my, die een wat my oor myself laat wonder en bewus gemaak het: hier binne is ’n mens. Die vraag laat vra het: Wie is ek? Oorkant jou is gevul met die stories van die uiteenlopende mense wat Juliana Coetzer se pad kruis as psigoterapeut. Deur hul verhale van swaarkry en herstel, neem Juliana die leser op ʼn reis wat eintlik ons almal sʼn is: Die pad van grootword en eienaarskap neem. Sy vertel hoe sommige kliënte haar inspireer en uitdaag om haar eie vrese te konfronteer, maar ook watter uitwerking dit op terapeute het om aan die wreedheid van die mensdom blootgestel te word. Daar is die families wat uitmekaar geskeur is as gevolg van seksuele misbruik, die man wat sukkel met sy selfbeeld weens afknouery en ook die prostituut Venicia wat ’n tragiese symbool van verwaarlosing word. Juliana se aardse humorsin maak dat sy egter ook die komiese oomblikke raaksien – totdat die volgende storie oor die menslike toestand jou wind uitslaan.
Ingrid Jonker, begaafde jong digter, loop op 19 Julie 1965 die see in by Drieankerbaai en verdrink. Sy laat haar familie en vriende agter met meer vrae as antwoorde. Gedurende die afgelope 50 jaar het sy ’n ikoon van die Afrikaanse en Suid- Afrikaanse letterkunde geword. In so ’n mate, dat haar lewe en veral haar dood soms haar werk en die belangrike bydrae wat sy tot die literêre beweging van die Sestigers gemaak het, oorskadu. Haar politieke sieninge, soos uitgedruk in haar poësie en haar passie en die droefheid van haar onstuimige liefdesverhoudings met onder andere Jack Cope en André P. Brink het al tot baie besprekings gelei. Sy het weer onder die publieke oog gekom toe oudpresident Nelson Mandela in sy inhuldigingsrede in 1994 in die Parlement een van haar gedigte aangehaal het. Hy het haar gedig: “Die Kind” voorgelees en gesê: “Sy was beide ’n digter en ’n Suid-Afrikaner.” Sedert haar dood is daar vele bespiegelings oor haar lewe en tragiese einde. Van dié vrae word beantwoord in hierdie eerste omvattende biografie. Petrovna Metelerkamp doen al jare navorsing oor Jonker. Sy neem die leser saam deur Ingrid se grootwordjare, digterslewe, liefdesverhoudings en die laaste paar jaar van haar lewe. Metelerkamp bring nuwe inligting aan die lig wat sy neem uit onbekende nuwe briewe en dagboekinskrywings, o.m. uit die dagboeke van Jack Cope. Talle nuwe onderhoude met mense wat Jonker geken het, word in die biografie opgeneem. Sy weerlê ook die beeld van Jonker as ’n ongebalanseerde kunstenaar wat haar houvas op die werklikheid verloor het in hierdie toeganklike biografie oor een van Suid-Afrika se aangrypendste kunstenaars.
Ter viering van Dolf van Niekerk se negentigste verjaarsdag verskyn hier ’n versameling filosofiese, bepeinsende en besinnende essays uit die pen van een van Afrikaans se meesterskrywers. Vanaf sy vroegste gewaarwordinge tot sy kennismaking met groot filosowe soos Nietzsche, Kant en Hegel op universiteit en in sy daaglikse handel en wandel daarna: altyd maar bly die bewustheid van ’n onsigbare “iets” by hierdie aristokratiese gees – en ’n soeke na ’n beter verstaan van dít wat “die sterretyd en die menstyd aan mekaar verbind”. In 48 essays wat die biografiese tydperk tussen ongeveer sy vyfde en twintigste lewensjaar dek, skryf ’n deurleefde, wyse Van Niekerk oor sy vroegste herinnerings aan sy geboortedorp, sy gesin en sy helderste herinnerings aan die plekke en mense wat hom gevorm het tot die mens wat hy geword het. Want, soos wat hy in die verhaal “Die skinkbord” skryf: Jy kan net wees wie jy is, en jy is wat jy word.
Antjie Krog is ’n (ook internasionaal) bekroonde digter, joernalis, vertaler en akademikus. Sy debuteer op die jong ouderdom van 18 met die bundel Dogter van Jefta (1970) waarna talle bekroonde digbundels en publikasies volg. As joernalis by Die Suid-Afrikaan lewer sy in die 1990’s verslag oor die Waarheids-en-versoeningskommissie en verwoord haar ervarings oor dié proses in Country of my skull, wat in 1998 gepubliseer is en onder meer die Alan Paton-toekenning vir niefiksie en die Olive Schreiner-prys ontvang. Sy vertaal ook Nelson Mandela se biografie, Long walk to freedom, in Afrikaans as Lang pad na vryheid. Sy wen drie keer die gesogte Hertzogprys – vir Lady Anne (1990), Mede-wete (2017), asook vir haar jongste poësiebundel, Plunder, in 2023. Mees onlangs het sy die Tienie Holloway-medalje van die SA Akademie ontvang vir Vetplantfeetjies, saam met medewerkers Fiona Moodey en Ingrid de Kock, vir haar kinderdigbundel oor die natuur en inheemse plantegroei. Hierdie huldigingsbundel is die 16de in die reeks van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns wat literêre kunstenaars huldig wat met die Hertzogprys bekroon is, en wat die Afrikaanse letterkunde oor dekades heen verryk het.
Azille Coetzee gaan studeer in Nederland, kry ’n Nederlandse lover en besluit om in Europa aan te bly. Maar iets voel nie reg nie … Daar is tog altyd die vraag: Watter herkoms hou die styfste vas, Afrika of Europa? Dié is ’n uiters leesbare verhaal van identiteit, reis en liefde: intiem, eerlik en slim.
Werk soos ’n miljardêr vertel die verhaal van Dan, ’n werknemer, wat bloot van salaristjek tot salaristjek leef. Hy streef daarna om sy eie besigheid te begin maar hy staar verskeie uitdagings in die gesig. Een van dié uitdagings is hoe om, sonder enige geld, ’n besigheid te begin. Maar alles verander op ’n dag toe hy voor ’n groot besluit te staan kom. Die boek is propvol waardevolle wenke oor hoe om rykdom te skep, jouself beter te leer ken en hoe om volhoubare besigheidsisteme te bou.
’n Blik op die binnekring van die Krugersdorp-kultus “Daar was bloedspatsels oor die koffietafel, die banke en die banke se kussings. Peter en Joan was oortrek van steekwonde in hul rûe, nekke en agterkoppe. Nicholas het sy pa en ma gesigte na onder in ’n bloedbad op die mat in die sitkamer gekry. Hulle het hul hek en huis vir hul moordenaars oopgemaak, want hulle het ’n afspraak met hulle gehad.” Elf wrede moorde oor ’n tydperk van vier jaar ruk die gemeenskap van Krugersdorp en haal landwyd nuusopskrifte. Eindelik word al hierdie moorde verbind met Cecilia Steyn en haar kultusgroep, Electus per Deus (uitverkies deur God). Lede van die groep aanbid die grond waarop Cecilia loop en sal selfs vir haar moord pleeg. Die moordenaars is slim, gewone mense – ’n onderwyseres, ’n finansiële makelaar, ’n kind wat tussen die moorde deur steeds ses onderskeidings in matriek behaal en boonop keuring kry om medies te gaan studeer. Hul slagoffers het bloot ’n sake- afspraak nagekom, min wetend dat dít ’n afspraak met die dood was. Wie is Cecilia Steyn? Hoe kan een mens vyf ander manipuleer om moord te pleeg en namens haar in die hof te lieg? Watter rol het Satanisme gespeel? Hoe ontduik onervare misdadigers die polisie vir so lank? Jana Marx beantwoord dié en ander vrae in ’n waremisdaad-verhaal wat gelei het tot een van die opspraakwekkendste moordsake in die land se geskiedenis. Met behulp van onderhoude uit diegene in die binnekring, hofgetuienis en polisiedossiere oor ’n tydperk van vier jaar poog Marx om die publiek se vrae te antwoord en ’n blik te gee op die binnewerkinge van só ’n kultus. |
![]() ![]() You may like...
|