Welcome to Loot.co.za!
Sign in / Register |Wishlists & Gift Vouchers |Help | Advanced search
|
Your cart is empty |
|||
Showing 1 - 13 of 13 matches in All Departments
Dit is byna vier dekades ná Toorberg. Met ’n onverwagte trein kom Magistraat Imker Goedeman (wat destyds as jong man die afarmmagistraat van Toorberg, Abraham van der Ligt, in die gange van Bellville se landdroshof raakgeloop het) aan op Gebeente, ’n klein dorpie op die Vergete Grootpad noord van Sutherland. Die omgewing is geruk deur ’n opspraakwekkende plaasmoord, maar ’n nog komplekser saak moet ondersoek word: die diefstal van die melkweg... Ons is hier in die buurt van onwaarskynlikhede en eindelik word die ganse regstelsel uitgedaag. Historie, mite en allegorie word sjarmant verweef in dié meeleurende, fassinerende roman, en eindelik voer Etienne van Heerden sy kenmerkende magiese realisme die verste in sy hele oeuvre.
Prokureur Ian Brand stuur ’n ondeurdagte twiet die kuberruim in en sy lewe word oornag pure hel. Thuli Khumalo, studenteaktivis op 'n kampus wat stink na petrol en traangas, moet kies tussen vaderverraad of haar beginsels versaak. Snaar Windvogel, vroeër van Matjiesfontein, is nou in transisie onder die lem van ’n enigmatiese plastiese chirurg. En al hoe gereelder slaan ’n kruisboogmoordenaar in die Moederstad toe . . . Hierdie en vele ander fassinerende karakters bevolk ’n landskap waarin die enigste sekerheid ónsekerheid is. Want Etienne van Heerden se tergend aktuele nuwe roman sê veel oor die tyd waarin ons lewe, waar privaatheid en identiteit abstrakte begrippe geword het, fopnuus ononderskeibaar van die werklikheid, en “die waarheid” klaarblyklik ’n onhaalbare ideaal.
In a moment of weakness, lawyer Ian Brand sends out a tweet; it changes his life irrevocably. Thuli Khumalo, Fallist leader on a campus that stinks of petrol and teargas, must choose between betraying her father and forsaking her principles. Snaar Windvogel, once the little violin girl of Matjiesfontein, is now in transition under the knife of Piekenier Leqluerck, plastic surgeon and fossa impresario. These colourful characters populate a carnivalesque landscape where the only certainty is that the Mother City’s mysterious crossbow killer will strike again . . . while Twitter gangs spread suspicion, truck drivers are attacked on national roads, and Number One meets with gang leaders – all under the watchful eye of the Institute for Encouragement in a nameless city in China. An astonishing novel documenting the turbulent time in which we live, where issues such as privacy and identity, fake news and fact, and race and ethnicity inflame passions. Translated by Henrietta RoseInnes.
Tian Killian se ouers is voor sy oë vermoor, die aand van die vuurwerke op Slootplaas. Nou reis hy, Amsterdam toe en na Kowloon, oral op die spoor van Charlie Oeng, oftewel Koekepan, oftewel Gelatenheid, oftewel Sjinees. Eens op ’n tyd ’n onbeduidende Hollywood-ekstra, maar ’n hoofrolspeler in Tian se wêreld. Hoe harder Tian probeer om die pyn wat hom sedert sy jeug vergesel, te verstaan, hoe tergender word die vraag: Waar eindig die Sjinees se skuld en waar begin sy éie aanspreeklikheid? ’n Ryke verskeidenheid karakters bevolk dié ambisieuse verhaal, van die Sjinese matriarg Ouma Voetjies in Amsterdam tot die blinde siener Ouma Ogies in die Oos-Kaap, van Cor van Gogh, hy met die kleinood in die koker, tot die enigmatiese, naamlose “Sy” . . . Die wêreld van Charlie Oeng staan in die tradisie van breedopgesette vertellings met veelvuldige verhaallyne en uitgebreide agtergrondbeskrywings. Feit en verdigsel is sjarmant verweef in hierdie verbluffende roman.
Die verweefde verhale van Ludo Loeloeraai, die yo-yo-kampioen, Snaartjie Windvogel (die vioolspeler uit In stede van liefde, wat op Matjiesfontein grootword en as 'n sekswerker in die Kaap beland), Elsabe en Doris Steyn, en Eenslie Maree, die Adelbors, vorm die basis van hierdie langverwagte roman. Dis hulle almal se geskiedenis, maar veral die van Ludo, wat op Paternoster afgetree het, en mymer oor sy verlede as pelgrim-yo-yo-speler wat van dorp tot dorp gery en mense vermaak het in skoolsale en skure. Sy rustige lewe word omvergewerp wanneer sy verlede hom begin inhaal. En dan vind daar 'n opspraakwekkende moord plaas . . .
Verhale uit die hartland. Al die Karoostories wat Etienne van Heerden tot op hede geskryf het, word vir die eerste keer in een bundel versamel. Dit sluit onder andere in “Die gas in Rondawel Wilhelmina”, een van sy heel sterkste tekste. Heerlike verhale wat Van Heerden se suiwer aanvoeling vir die woord en sy vermoë tot knap karakterisering en situasietekening demonstreer, almal geplaas binne ’n landskap wat hom besonder na aan die hart lê.
Henk Andreas de Melker, eerste museumassistent in 'n klein dorpie in die Oos-Kaap, kry onverwags 'n brief van 'n juris in Nederland. Die brief lig Henk in dat hy sy lankverdwene Tante Zan se huis in Amsterdam geerf het. Tante Zan met die geheime lewe, waarvan Henk in Amsterdam gaan uitvind. Ook Tante Zan, die aktrise met die onverwoesbare erotiese drif en die politieke aktivis met die voorliefde vir vreemde vriende, soos die rolprentmaker Cecil Dimaggio en die Luandese straatmusikant van die Leidse plein. Ten slotte moet Henk kies of hy in Amsterdam gaan woon, en of hy na Suid-Afrika gaan terugkeer. Maar eers moet hy alles oopvlek wat van hom weggesteek is, en sy eie lewe opnuut leer ken. Sy dertig nagte in Amsterdam verander die besadigde Henk de Melker se lewe vir altyd.
Dit was nog nie behoorlik dag nie toe Kaatjie Danster, haastig op pad Halte toe, die kind van die weemoed in die voetpaadjie voor haar gewaar. Tjoepstil het hy gestaan en luister na die wind. Sy het dadelik geweet: Druppeltjie du Pisanie, kind van Waterwyser du Pisanie en KensTillie Moolman, het die lewe vir die dood verruil. Maar hoe Druppeltjie onder in die boorgat beland het, dit weet niemand nie. En die af-arm magistraat wat nou, veertien maande later, kom ondersoek instel na die oorsaak van sy dood, torring verniet aan dinge wat verby is. Want Toorberg se mense – die lewendes en die dooies – ken van geheime wegbere. Net oor een ding het magistraat van der Ligt dit reg: hoe meer getuies daar is, hoe verder wyk die waarheid.
God sou nooit so 'n spesie bedink nie," se Seamus Butler van sy kantelbokke, die genetiese frats wat sy vader toevallig geteel het op die Setlaar-familieplaas. Die bokke het 'n aangebore defek wat goud werd is: hulle slaan flou neer as hulle skrik. 'n Enkele kantelbok wei saam met 'n trop kleinvee en as 'n ongedierte toeslaan, word die bok prooi en die kudde ontkom. Hulle, die weemoedige bokke met die spottende geel oe, gee die Butlers rykdom en invloed in die Oos-Kaap – en dis belangrik in die tyd van die groot politieke ommekeer. Want die oopbars van 'n oliebron reg in die middel van die hawestad Port Cecil dryf die swart civic-organisasie se aandrang op 'n verenigde stadsraad op die spits. Aan die voorpunt van die swart aspirasies staan MaNdlovu Thandani, onvernietigbaar en groter as lewensgroot. Teenoor haar: Seamus Butler met sy donker; depressiewe buie wat in hom sleur soos die rivier wat in sewe deltabene deur die stad in die see uitmond. En rondom hulle, in twee werelde wat deur die geskiedenis op mekaar afgestuur word, is elkeen se familiekring wat dreig om mee te gee onder die druk van die tyd. Dis hier waar die verhaal van Die stoetmeester meesleurend deurloop, deur die lewens van mense, elkeen betrokke by, elkeen uitgelewer aan die boeiende oerwereld van die Oos-Kaap in 'n tyd waarin skoonheid en wreedheid, gewelddadigheid en hoop verstrengel raak. Die stoetmeester is, na die satiriese roman Casspirs en Campari's, veel meer verwant aan die sfeer van Toorberg, Etienne van Heerden se hoogs suksesvolle tweede roman. 'n Storie soos min, wat opstaan uit die weeige maar grootse landskap van die Kei.
|
You may like...
|