![]() |
![]() |
Your cart is empty |
||
Books > Local Author Showcase > Afrikaans
“Dis politici wat oorlog verklaar, nie ons nie. Ons het gedoen wat ons
geglo het ons moes doen en hulle [die vyand] ook . . .” – Marco
Caforio, ouddienspligtige
Toe sê sy, terwyl sy skuins afkyk na die mat, asof sy met haarself praat: “Vir te lank in my lewe het ek ongedefinieerd geleef. Ek weet nie wie ek is nie.” Iets of iemand moet die katalisator wees wat ’n mens aan die dink sit oor jouself. Die vrou van Waterkloof was dit vir my, die een wat my oor myself laat wonder en bewus gemaak het: hier binne is ’n mens. Die vraag laat vra het: Wie is ek? Oorkant jou is gevul met die stories van die uiteenlopende mense wat Juliana Coetzer se pad kruis as psigoterapeut. Deur hul verhale van swaarkry en herstel, neem Juliana die leser op ʼn reis wat eintlik ons almal sʼn is: Die pad van grootword en eienaarskap neem. Sy vertel hoe sommige kliënte haar inspireer en uitdaag om haar eie vrese te konfronteer, maar ook watter uitwerking dit op terapeute het om aan die wreedheid van die mensdom blootgestel te word. Daar is die families wat uitmekaar geskeur is as gevolg van seksuele misbruik, die man wat sukkel met sy selfbeeld weens afknouery en ook die prostituut Venicia wat ’n tragiese symbool van verwaarlosing word. Juliana se aardse humorsin maak dat sy egter ook die komiese oomblikke raaksien – totdat die volgende storie oor die menslike toestand jou wind uitslaan.
Stella Mertens, Mark Dejongh en Riaan Steytler probeer elkeen iets uit hul verlede wegsteek . . . maar elke geheim het ’n vervaldatum. Daar is net ’n sekere tydperk wat ’n sekere hoeveelheid mense ’n geheim kan hou. In Vuurvoël, Elmarie Viljoen-Massyn se debuutroman, word donker geheime ontrafel wanneer die oënskynlik uiteenlopende wêrelde van Big Pharma en ’n Serwiese dwelmkartel paaie kruis. ’n Hoogs leesbare roman wat getuig van puik navorsing.
In die jare 1891 tot 1893 het ongeveer 770 persone Transvaal verlaat en na Angola en Duits-Suidwes-Afrika getrek om hulle heil daar te soek. Dit staan bekend as die “sesde” Dorslandtrek. Sowat 45 De Jagers het in verskillende groepe aan hierdie epiese trek deelgeneem. Ná die sesde Dorslandtrek het hulle tussen Angola, Suidwes-Afrika, Suid-Afrika en selfs Kenia rondgeswerf en verdere avonture oor die hele Suider-Afrika beleef. Sommige De Jagers het in 1928 van Angola na Suidwes-Afrika getrek en hulle daar gevestig, terwyl ander eers in 1958 uit Angola gerepatrieer is. Uit die beperkte beskikbare bronne is die verskillende trekroetes van die sesde Dorslandtrek gerekonstrueer en vir die eerste keer word ’n kaart van die verskillende trekroetes gepubliseer. ’n Geslagregister van bykans 1800 afstammelinge en aangetroude familielede van die De Jagers van die sesde Dorslandtrek en byna 500 foto’s vorm ’n omvattende beeld van hierdie familiegeskiedenis.
Hierdie boek is ’n universele gids oor alles wat Jan Braai tans oor
braai weet. Dit is ’n viering van hierdie wonderlike Suid-Afrikaanse
tradisie waaraan 15–20 miljoen Suid-Afrikaners elke jaar op 24
September op Nasionale Braaidag deelneem. Om hierdie kulturele
gebeurtenis se 20ste herdenking te vier het Jan Braai meer as 200
resepte bymekaargesit wat oor ’n houtvuur gaargemaak en daar langsaan
geniet kan word.
Die Koors het byna almal gevat. Maar nie dertien jaar oue Nico Storm en sy pa, Willem, nie. Deur ’n Suid-Afrikaanse landskap feitlik sonder mense, met al hoe minder blikkieskos in die verlate winkels, Koeberg-bestraling in die Wes-Kaap en al hoe meer moorddadige hondebendes – én mensebendes – swerf Nico en sy pa, op soek na ’n plek om die samelewing weer te vestig. Wanneer hulle dit eindelik sover het by die ou Vanderkloof – nou Amanzi – met ’n groepie swerflinge wat saam van voor af wil begin, steek al die ou sondes van die mensdom kop uit. Gou is Amanzi op geloofs- en politieke lyne verdeel, en verdediging teen die swaar gewapende motorfietsbendes wat dwarsoor Suid-Afrika plunder en moor raak al hoe moeiliker. En wat van die geheimsinnige, yskoue Domingo, wat by Amanzi aangery kom op ’n motorfiets van sy eie en spoedig as paramilitêre leier ontpop – kan hý ooit vertrou word? Dis nie lank nie, of moord kom inderdaad ook na Amanzi … In Koors vertel die volwasse Nico Storm die verhaal van die moord op sy pa. Dit is ’n aksiebelaaide nuwe rigting vir Deon Meyer, met al die aspekte wat lesers van sy spanningsfiksie verwag en nog vele nuwe lekkertes daarby.
Wat is die geheime en strategieë van die uitgelese groep wat welvaart skep, hetsy as entrepreneurs, professioneles of salaristrekkers, én boonop daarin slaag om hul geld te laat groei, te geniet en oor te dra na komende generasies? In Word ryk, bly ryk help Geo en PJ Botha, onafhanklike finansiële adviseurs en medeaanbieders van kykNET se gewilde Welvaartskeppers, gewone Suid-Afrikaners om geld te maak in ’n uitdagende omgewing en dit te laat groei. Hulle begelei jou op jou reis na rykdom en die vrugte daarvan. Suksesstories van entrepreneurs soos Michael Jordaan, Albé Geldenhuys en Whitey Basson sal jou ’n kopskuif help maak om geleenthede raak te sien in moeilike ekonomiese omstandighede. Die skrywers se maklik verstaanbare finansiële ekspertadvies, gemik op die kweek van goeie gewoontes, rig jou fokus en ondersteun jou op jou welvaartreis.
Klippe, messe en pyle uit ’n kruisboog: Die vreemste – en wreedste –misdaadtoneel in Kaptein Nicci de Wee se loopbaan. Dan moet sy en haar nuwe taakspan boonop bontstaan om saam met die nimlike Blackie Swart ’n internasionale insident te voorkom. Ook op haar lessenaar: die dood van twee jong meisies. En die angswekkende vermoede dat al hierdie sake met mekaar verband hou. Met soveel kinkels in die kabel soos dooies in die staatslykhuis, moet Nicci-hulle alles tot hul beskikking inspan om ’n nuwe hel af te weer: van ’n rekenaarfundi, tot stiletto’s en selfs ’n paar petrolbomme. Gou kom Nicci agter die monsters wat haar lewe en dié van haar kollegas bedreig, is gevaarliker as Ramoth, vlymskerp polisiefotograaf Stella Jansen se mak Komododraak. In Jagter, haar derde Nicci de Wee-riller, draai Bettina Wyngaard al die krane oop.
Tex Texeira se wittebrood in die Caprivi word wreed onderbreek. ’n Agent van ’n geheime Mosambiekse ondersoekeenheid het die gevreesde Mecau-dwelmkartel geïnfiltreer en inligting ontdek wat só sensitief is dat hy niemand anders as Tex daarmee sal vertrou nie. Die rede: dit betrek ’n hooggeplaaste Suid-Afrikaner. Die agent moet dringend bereik word . . . solank Tex die aandag van Islamitiese ekstremiste kan vermy. En die kruishaar van ’n sluipskutter wat die Mecau-luitenante meedoënloos uitwis.
Mia Steyn is nog bloedjonk wanneer haar broer haar een laatmiddag by ’n losieshuis in Bloemfontein, aflaai. Dis toe sy ’n stowwerige boekwinkel instap dat Mia besef dis waar sy wil werk. Kort voor lank vind sy haar voete, én verloor sy haar hart. Die laaste kanariegeel notaboek is die jongste roman uit die pen van blitsverkoperskrywer Anchien Troskie. Niks is ooit soos dit lyk op die oppervlak nie, besef ’n mens weer met die lees van hierdie aangrypende storie binne 'n storie.
This collection consists of 29 stories – 5 in English, 24 in Afrikaans. Several of the stories have been adapted from stage productions over a period of three years: BUTTERFLY, LOVESICK TIM, MOSCOW, SIX IN A BOAT, DIE SMITSTRAAT SUITE, ROME ’62 and PASSI PASSIO. Hierdie jongste versameling van Nataniël bevat 29 stories – 5 in Engels, 24 in Afrikaans. Verskeie van die stukke is verwerk uit Nataniël-produksies oor ’n periode van drie jaar: BUTTERFLY, LOVESICK TIM, MOSCOW, SIX IN A BOAT, DIE SMITSTRAAT SUITE, ROME ’62 en PASSI PASSIO.
“ … Ons noem jou Mysti,†sê Ravka, “dit pas by jou ... dis misterieus en mooi.†Mysti word in die sneeu in Lapland wakker. Verkluim. Met geen idee wie sy is of waar presies sy is nie. Ravka ontferm hom oor haar. Hy en sy ma Tóva neem Mysti onder hulle vlerk terwyl sy haar geheue probeer herwin. Intussen help sy Ravka by die rendiersentrum in Menetetty om getraumatiseerde rendiere te versorg, en raak al liewer vir hom. Maar iets onverklaarbaar gebeur in die nag met haar. Haar lyf verander en vervorm. Sy verstaan nie wat met haar gebeur nie. Mysti besluit om die raad van ’n heks in die vervloekte Iselande woud te gaan opsoek – voor Ravka uitvind daar is iets fout met haar. Wanneer Mysti moet kies waar sy wil bly, daag Cosmo, iemand uit haar verlede, op. Hy het haar kom haal om terug te neem na die woud waar sy vandaan kom. Saam met hom onthou sy al meer wie sy is. Is Ravka regtig wie hy sê hy is? Wie is Ozymoz? En hoe pas die legende van Joulupukki by die raaisel in?
Hierdie elfde, omvattend herbewerkte uitgawe bied (naas bestaande hoofstukke oor wisselvorme, getalle ens.) twee nuwe hoofstukke wat onderskeidelik leestekens en trappe van vergelyking bereel. Bestaande reels is aangepas en word eenvoudiger verduidelik. Nuwe lyste bied duidelike leiding oor plekname in die Ooste, landname met hul geldeenhede en ISO-kodes, en elemente in die periodieke tabel. Skryfhulp oor transliterasie, Omgangsafrikaans en die SI-stelsel maak die uitgawe ’n volledige hulpbron.
“Comrade president, Stellenbosch is ’n groot probleem. Ons weet jy is
na aan Stellenbosch … ons het Stellenbosch nie tot die parlement
verkies nie. Ons het nie die Ruperts verkies nie.” – Die EFF-leier
Julius Malema aan President Cyril Ramaphosa
Kortverhale met liefde as tema: Die wonderbaarlike gewaarwording wat iewers tussen verstand, psige en liggaam vatplek kry en ’n menselewe rig. Soms trap dit met oshoewe deur die fynste ruimte. En maak wreedaardig seer. Sodat die slagoffer wil vergeld. Of dit liefde vir die omgewing, ’n voorwerp of tussen mense is, in elke teks loop die liefde ’n pad wat sy meelopers by ’n tuiste bring, soms met ’n traan, meesal met ’n lag, maar altyd met nuwe insig.
Wenner van die Hertzogprys vir Fiksie vanaf die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. Etienne is twee-en-twintig en studeer filmkuns in London nadat hy uit Suid- Afrika gevlug het om diensplig te vermy. Dit is 1986, die tyd van Thatcher, optogte teen apartheid, en Vigs, maar ook van eksperimentele kuns, postpunk en die Royal Vauxhall Tavern. Etienne raak verlief op ’n Duitse kunstenaar in hierdie skadustad waar mense in bouvallige kunstenaarskommunes woon. In Londen kom Etienne af op die eerste van drie filmspoele wat tydens die dertigerjare in Duitsland verfilm is. Etienne begin na die verlore spoele soek, ’n soektog wat ’n obsessie word wanneer sy geliefde vermis raak in Berlyn. Terwyl Etienne die gevaarlike ruimtes weerskante van die Muur navigeer, begin die verhaal van ’n groepie Joodse filmmakers in Nazi-Duitsland vorm aanneem. Etienne word egter teruggeruk na die hede en na Suid-Afrika, maar sy soektog na die vermiste film duur voort. Argitektuur, kinematografie, seks, musiek, siekte, verlies en liefde deurweek SJ Naudé se kosmopolitaanse en roerende Die Derde Spoel, waarmee hy nuwe grond vir die roman in Afrikaans breek.
Moordenaars. Afpersers. Nazi’s in die Namib. En dis by verre nie die ergste waarmee die diamantsmokkelaar Barra Nel te kampe het nie. Nie as die Nazi-navorsers se eksperimente skeefloop en liederlike gedrogte in die woestyn ontketen nie. Dis gevaar net waar jy kyk. En hoe gaan hy vir Hedda red, die Duitse wetenskaplike wat smeulende gevoelens in hom ontlok? Geheim Van Die Gruwel Sand is ’n barre konkoksie van lekkerlees-genres: ’n skop-skiet-en-wonder-storie.
Betereinder is ’n menslike gids oor hoe om te floreer in Suid-Afrika. Schalk W van Heerden verbreed lesers se verwysingsraamwerk in die hoop dat hulle 'n aktiewe rol in die land sal speel. Hy ondersoek huidige rassegesindhede en gee wenke oor hoe die wit middelklas beter met hul medemens kan omgaan. Hy wys hoe armoede bekamp kan word. Schalk beantwoord moeilike vrae en deel stories met humor en empatie wat die leser se hart sal aangryp en ook sal laat glo dat hulle 'n verskil kan maak.
Ingrid Jonker, begaafde jong digter, loop op 19 Julie 1965 die see in by Drieankerbaai en verdrink. Sy laat haar familie en vriende agter met meer vrae as antwoorde. Gedurende die afgelope 50 jaar het sy ’n ikoon van die Afrikaanse en Suid- Afrikaanse letterkunde geword. In so ’n mate, dat haar lewe en veral haar dood soms haar werk en die belangrike bydrae wat sy tot die literêre beweging van die Sestigers gemaak het, oorskadu. Haar politieke sieninge, soos uitgedruk in haar poësie en haar passie en die droefheid van haar onstuimige liefdesverhoudings met onder andere Jack Cope en André P. Brink het al tot baie besprekings gelei. Sy het weer onder die publieke oog gekom toe oudpresident Nelson Mandela in sy inhuldigingsrede in 1994 in die Parlement een van haar gedigte aangehaal het. Hy het haar gedig: “Die Kind” voorgelees en gesê: “Sy was beide ’n digter en ’n Suid-Afrikaner.” Sedert haar dood is daar vele bespiegelings oor haar lewe en tragiese einde. Van dié vrae word beantwoord in hierdie eerste omvattende biografie. Petrovna Metelerkamp doen al jare navorsing oor Jonker. Sy neem die leser saam deur Ingrid se grootwordjare, digterslewe, liefdesverhoudings en die laaste paar jaar van haar lewe. Metelerkamp bring nuwe inligting aan die lig wat sy neem uit onbekende nuwe briewe en dagboekinskrywings, o.m. uit die dagboeke van Jack Cope. Talle nuwe onderhoude met mense wat Jonker geken het, word in die biografie opgeneem. Sy weerlê ook die beeld van Jonker as ’n ongebalanseerde kunstenaar wat haar houvas op die werklikheid verloor het in hierdie toeganklike biografie oor een van Suid-Afrika se aangrypendste kunstenaars.
Hans van Kraaienburg, verlosser van die inwoners van Huis Madeliefie (2017 se Hans steek die Rubicon oor), is óp van al hul klagtes. Noudat hul drakoniese matrone iets van die verlede is, is daar steeds etlike klein probleempies wat Hans as beheerraadslid moet oplos – en dít met gans te min geld in die kietie. Wanneer sy vriend Vasie hom dus nooi vir ’n vakansietjie op Hermanus, as huisgaste van dié se neef Herklaas, is Hans maar te gretig om sy safaripakke te pak. Op Hermanus gekom, vind die twee dat Herklaas in die sop is: sy blyplek staan net mooi op die plek wat die Overstrand se rykste skobbejak, Grond Graaffwater, geoogmerk het vir sy enorme nuwe hotel – maar Herklaas wil nié verkoop nie. Wanneer Grond en sy kriminele handlangers hardhandig raak, tree Hans tot die stryd toe – Herklaas moet ’n stel horings kry, en vir Grond trompop loop! Hans steek die Rubicon oor was ’n topverkoper, veral na voorlesing op RSG. Hans se tweede avontuur gaan lesers net so laat kraai van die lag.
Koeke en terte gee jou skreeusnaakse wenke oor die verskille tussen mans en vroue en verskillende tipe vroue. Dit is geskik vir almal wat ’n goeie humorsin het – en veral vir hulself kan lag. Susan takel ernstige onderwerpe soos dat jy as vrou is goed genoeg is, jy nie so hard op jouself moet wees nie en jy is genoeg vir God net soos jy is. Sy help jou om jouself te leer waardeer en jou eie gawes te ontwikkel en om by jouself en ander te leer.
Wanneer die lewe jou omwentel is die wéét binne-in jou. Vir Mel is haar eie melkweg skitterend. Sy het wat sy wil hê, sy is wie sy wil wees. Sy maak die reëls en sy dra nie maskers nie, want sy is in beheer. Maar skielik maak ’n veel groter ster haar verskyning: Isabella, ʼn ongevraagde toevoeging tot die gesin. En boonop besef Mel dat haar beroepskeuse as mediese suster ʼn ode was aan haar oorlede ma. Susterwees was dalk haar ma se passie, maar is dit regtig hare? Mel maak gereed om uit haar einste, skitterende melkweg te verskiet. Dit is ʼn waagstuk, iets wat só nie haar ding is nie. Die ontdekkingsreis vat haar na ʼn wêreld wat sy nog altyd vermy het, tussen mense wat nie haar dam se ganse is nie. By die flats van Belhar kom sy tot die besef dat die dam dalk nie hare is nie, maar dat sy tog, teen haar verwagting, inpas by die ganse. Sy ontmoet ’n jeugwerker met tatoes en ʼn skaatsplank wat baanbrekerswerk onder die jeug doen. Sy leer Llewellyn, haar stiefsuster se grootste aanhanger, beter ken en wys hom sy is nie so upstairs soos hy gedink het nie. Mel ontdek haarself en ʼn wêreld buite haar eie reëls. Moet sy kies tussen wie sy was en wie sy kan wees? Of is daar plek vir Mel die skateboarder, die biker en die kelner in haar melkweg?
Huis Madeliefie word deur die staat se vlak 5-inperking in die gesig gestaar. Hans besef teen dié virus groei geen kruid nie, maar die drakoniese reëls van die tehuis se interne bevelsraad kry nie vatplek by Hans en kie nie. Voorts is Hans oor die hoof gesien as leier van dié raad. Altoon Ahlers, befaamde akteur van weleer, neem die leisels. Hans se plan om die inwoners met die verbode vrug se sap aan sy kant te kry, boemerang sleg. Hy sal Ahlers op ’n ander manier moet onttroon . . .
In November 1905 beskryf ’n Windhoekse koerant Siegfried Bock as ’n nuwe soort held. Maar die moordenaar wat hy voor die hof gebring het se advokaat stel Siegfried in ’n heel ander lig. Boonop is oberleutnant Berghammer en die Namakryger Jager Orlam albei daarop uit om Siegfried te laat boet. En dan is daar die burokraat Stauffacher met sy ondraaglike planne. Siegfried sien nie uitkomkans nie. Maar daar móét een wees, veral noudat liefde vir hom wink . . .
Dis donker. Dis koud. Jy’s alleen. En dis wanneer jy twyfel. |
![]() ![]() You may like...
|