![]() |
Welcome to Loot.co.za!
Sign in / Register |Wishlists & Gift Vouchers |Help | Advanced search
|
Your cart is empty |
||
|
Books > Local Author Showcase > Afrikaans
Moet ek bly of emigreer? Is hier plek vir my in Suid-Afrika? Ons moet ons besluite as morele keuses benader. Ons het dan minder keuses om te maak omdat ons al daardie selfsugtige keuses van die tafel af vee. Morele keuses organiseer ons opsies beter in verskillende kompartemente vanaf eties tot oneties, en vanaf nuttig tot nutteloos. Ons wil hê ons lewens moet iewers tel, daarom maak ons gedurig goeie keuses. Ons maak morele keuses - ook wanneer ons reis-en-verblyf keuses maak.
Hulle lieg, bedrieg, gee voor. Hulle verdraai, verdoesel, verduister, verwoes. Geleidelik palm hulle jou vertroue in. Dan, eensklaps, is jy jou geld, status en reputasie kwyt. Só oortuigend doen hulle dit dat selfs die slimste, mees ingeligte mense ’n rat voor die oë gedraai word en eers besef wat hulle getref het nadat grootskaalse skade aangerig is en die gladdebek soos mis voor die son verdwyn het. Maar selfs swendelaars kom hulle moses teë... Boereverneukers vertel die stories van Afrikaanses wat van ons land se grootste skelmstreke gepleeg het. Van die karakters is minder bekend by die publiek, maar ander het byna mitiese status in die Afrikaanse psige verwerf, soos die kubuskoning Adriaan Nieuwoudt, die pynmasjienman Gervan Lubbe, die kamma-pediater André Esterhuizen, die Hertzogville-profeet David Francis en die Trustbank-rowers Derek Whitehead en Antonie van der Merwe. Dalk het jý ook deurgeloop, maar praat tot vandag toe nie graag daaroor nie.
Vir die vroue wat hy met sy rolprentsterglimlag betower het, was Chris Barnard ’n hartebreker. Vir sy pasiënte ’n harteheler. Dié nuwe biografie oor Suid-Afrika se beroemdste hartsjirurg vertel nie net van Barnard se kinderjare in Beaufort-Wes, sy prominente huwelike (en egskeidings) en flambojante lewe nie. James Styan ondersoek ook die impak van die historiese eerste hartoorplanting op Barnard se persoonlik lewe en op die Suid-Afrikaanse gemeenskap in die algemeen, waar apartheidswetgewing dikwels die probleme van geneeskunde nog ingewikkelder gemaak het. Die rol van swart mediese personeel soos Hamilton Naki word bespreek, sowel as die intense wedywering wat tussen ander beroemde hartsjirurge en Barnard ontstaan het. Hoe het Barnard dit reggekry om hulle almal in dié resies om lewe en dood te wen? Hoeveel het sy welbekende sjarme daarmee te doen gehad? En wat is Barnard se nalatenskap vandag, in die lig van sy latere suksesse en aansienlike mislukkings? Styan dek dit alles in dié fassinerende nuwe blik op Chris Barnard wat uitgegee is om saam te val met die 50ste herdenking van die eerste hartoorplanting.
Op sy dag eienaar van ’n diamantmyn, ’n wynplaas én die duurste huis in Kaapstad. Voorsitter van Suid-Afrika se grootste kleinhandelaar. Direkteur van die Reserwebank, en die rykste man in die land. As jong man het Christo Wiese sy tande by Pep Stores geslyp. Mettertyd bou hy ’n magtige sakeryk op, wat Shoprite en ’n rits ander maatskappye insluit. Sy wenresep: ’n eindelose liefde vir transaksies, ’n vreeslose aptyt vir risiko en ’n oog vir ’n winskopie. Dié sjarmante sakeman was nog nooit bang om ’n kans te waag nie. Die berekende risiko’s wat hy oor 50 jaar neem, maak hom hoogs suksesvol. Tot hy die meubelgroep Steinhoff teëkom, en dinge lelik skeefloop. Sakejoernalis en skrywer TJ Strydom vertel die verhaal van een van Suid-Afrika se bekendste sakereuse op ’n vars, pakkende manier. “Boeiend. Beide sprokie én raadsaalriller.” – Waldimar Pelser “’n Treffende, insiggewende werklikheidstorie oor die mens Christo Wiese – van kleinbegin tot dealmaker en sakereus.” – Freek Robinson “’n Fabelagtige, meesleurende leeservaring . . . ” - Peter Bruce
Stellenbosch staan internasionaal bekend as 'n dorp van weelde en wyn, 'n plek van pragtige natuurskoon en mooi mense. Dit is die tuiste van Suid-Afrika se sake-adel, geleerde professore en studente bestem vir groot dinge. Maar die idilliese beeld wat in reisbrosjures en op sosiale media voorgehou word, versluier 'n skadukant. Tussen die ou eikebome, blou berge en geskiedkundige wynplase broei dieselfde boosheid wat Suid-Afrika een van die lande met die hoogste moordsyfer in die wêreld maak. Oor die afgelope twee dekades het verskeie opspraakwekkende moordsake in dié dorp koerantvoorblaaie gehaal. Inge Lotz, Hannah Cornelius, Susan Rohde, die Van Breda-gesin... Maar hierdie boek gaan ook oor Stellenbosch se minder bekende slagoffers soos dié van die plaaswerker Felicity Cilliers - 'n vrou van wie die wêreld vergeet het. 'n Uiteenlopende verskeidenheid slagoffers en moordenaars tree in die blaaie van dié boek na vore en wys dat nie eens Stellenbosch die oersondes kan vryspring nie.
Die kranige sportman Alwyn Uys word in die fleur van sy lewe verlam. Ten spyte van dié verlies en ander terugslae bly Alwyn se gees ontembaar. Hy besluit om sy lewe ten volle te leef: Hy word onder andere die eerste parapleeg ooit wat van Robbeneiland na Bloubergstrand swem. Ongeskonde is Alwyn se openhartige vertelling van sy worsteling en hoe hy met genade van Bo besluit het om uit te styg bo sy beperkinge. Sy eerlike verhaal sal jou inspireer om jou eie uitdagings aan te pak en te oorkom.
Met Low Carb is Lekker Drie sit Inè Reynierse die reis voort wat sy in 2015 begin het toe haar bekroonde kookboek, Low Carb is Lekker, die land stormenderhand verower het. Inè se resepte voorsien in die behoefte vir koolhidraatbewuste, suikervrye en graanvrye maaltye, maar plaas die klem op hoër voedingswaarde en gesonde eetgewoontes. Vir haar geregte het jy nie spesialiteitsbestanddele of duur kosplaasvervangers nodig nie. Omdat sy op ’n klein Bolandse dorp woon, het sy geleer om kreatief te wees met wat sy byderhand het: vleis en suiwel van goeie gehalte, en die varsste groente en kruie. Haar slaaisouse, doopsouse, souse en glutenvrye meelmengsels vorm die grondslag van ’n voortreike verskeidenheid resepte vir van ontbyt tot aandete en van weekdaggesinsmaaltye tot naweek-onthaalkos. Danksy haar fokus op die verbetering van algemene gesondheid en welstand is Inè se resepte ideaal vir enigeen wat elke dag van die week goeie kos op die tafel wil sit.
Die geskiedenis van die eerste 59 jaar van die SAUK se bestaan; vanaf 1936 tot 1995. Die vertel ook die ontstaan van openbare uitsaai, die missie en doelwitte daarvan en waarom dit hersien moet word. Die politieke element word bespreek: Watter soort stut was die SAUK vir apartheid? Watter rol het die SAUK gespeel as sleutelspeler in die transformasieproses? Daar word gekyk na politieke inmenging en aanstellings wat direk uit die Uitsaaiminister se staatsdepartement gemaak is. Ook ingespan is die SAUK se sleutelrol in geskiedkundige gebeure: Die vrylating van Nelson Mandela en die vryheidsverkiesing van 1994. Die boek behoort nie net die wye publiek nie, maar ook akademici, historici en politici te interesseer.
Portchie is een van Suid-Afrika se suksesvolste kunstenaars, maar wie
is die man wat agter die skilderye skuil? Waar kom die naam Portchie
vandaan? En hoe en wanneer het Jan Hendrik Viljoen van die klein dorpie
Tweeling in die Vrystaat, aangemeld om die wêreldbekende kunstenaar
Portchie te word? Hierdie memoir kombineer Portchie se inspirerende
verhaal met foto’s, staaltjies en selfs resepte. Dit vertel die storie
agter die storie: onopgesmuk, sonder tierlantjies, maar met ’n tikkie
flair.
Op 3 Oktober 1987 het Charlie-eskadron – die ystervuis van 61 Gemeganiseerde Bataljongroep – die kritieke geveg tussen die Suid-Afrikaanse Weermag en die Angolese magte op die Lombarivier in die suide van Angola gelei. Dié boek plaas die leser in die midde van die jong dienspligtiges wat na die Grensoorlog weggevoer is om hierdie geveg te gaan voer. Langs die Lomba het hulle te staan gekom teen ’n Angolese mag met ’n getalsoorwig en beter wapentuig. Boonop was die terrein so dig bebos dat hul sig en beweging aansienlik ingeperk is. Die SAW se taktiese doktrine het duidelik gestel dat tenks teen tenks aangewend moes word. Tog moes die dienspligtiges die Angolese tenks aanvat in pantservoertuie met minder kragtige kanonne en dun pantser wat nie veel meer as gewone geweervuur kon afweer nie. Steeds is 47 Brigade van die Angolese magte amper uitgewis tydens die geveg aan die Lomba. Scholtz se beskrywing van hierdie David-teen-Goliath-geveg neem die leser na die hart van die aksie. Danksy onderhoude met veterane en dagboekinskrywings dra hierdie eerlike, intense hervertelling die volle drama van die geveg oor. Dit is ook ’n diep menslike verhaal oor hoe individue reageer in die aangesig van die dood en hoe die oorlog hulle nooit uit sy kloue gelaat het nie, selfs nadat hulle teruggekeer het.
Nataniël vier 20 jaar as Kaalkop-rubriekskrywer met hierdie nuwe versameling van sy gewilde SARIE-rubrieke: 107 Kaalkoppe geskryf vanaf 2012 tot 2021. Eerlik, persoonlik, nugter, inspirerend, melankolies, hartseer, opgewonde, driftig, simpatiek, verbaas, dwars, reguit en vasbeslote mik hy na elke moontlike emosie. Met die wêreld op sy kop was daar nog nooit ’n beter tyd vir ’n boek soos dié nie.
Huiskos is Herman Lensing se sesde kookboek en volg op die uiters suksesvolle Dit Proe Soos Huis, wat in 2019 verskyn het en in 2020 benoem is deur die SA Boekpryse vir beste niefiksieboek. Huiskos vertel – in sy eie woorde – die storie van Herman se 34 jaar op hierdie aarde. Anders as in sy ander boeke deel hy hierdie keer ook resepte wat hy by sy vriende leer ken het en by mense op vele reise deur Suid-Afrika. Huiskos bevat meer as 80 resepte, van ontbyt tot hoofgeregte, van bykosse tot vleisgeregte, van koeke, koekies en beskuit tot nageregte (soos trifle, roomys en selfs basaarpoeding). Elke hoofstuk weerspieël Herman se liefde vir kos en vir mense, met staaltjies waarin jy jou kan verkneukel. Dis alles pretensielose resepte met bestanddele wat jy van Pretoria tot in Pofadder kan kry. Huiskos is nes jy Herman se kombuis ken: kos wat almal kan saamkook.
Suid-Afrika is groot genoeg vir ’n leeftyd se reise. In Voetspore in Suid-Afrika 2 kry die Voetsporespan weer die geleentheid om ons land se natuurskoon en gasvryheid te beleef. Hulle drie maande lange reis begin in Pafuri, in die noordoostelike hoek van Suid-Afrika. Van daar af is dit verby Klaserie, Dullstroom, die Waterberge, die suid-Vrystaat, die Groot-Karoo, die Sederberge, die Weskus, oor die Hottentots-Hollandberge en tot aan die suidpunt van Suid-Afrika: Agulhas. Vrystaatse vlaktes, grootste Drakensberge, Bosveld, Kaapse strande – noem maar op – daar is ’n oorvloed om te geniet. Die langpad in Suid-Afrika roep … Benewens pragtige foto’s van die mooiste dele van ons land bevat hierdie reisgids ook:
Kapteine McKelly en Mhlanga ontmoet op die misdaadtoneel van ’n mislukte plaasaanval in Muldersdrift. Nog ’n lyk met ’n gapende linkeroogkas word gevind. Dit bring die getal slagoffers wat vanaf Februarie in die Gauteng-area met dieselfde modus operandi vermoor is op ses te staan. Die wet van Gauteng het ’n eg verweefde Suid-Afrikaanse intrige: politieke faksiegevegte, korrupsie en geldwassery. Hoogs leesbaar, aksiebelaaid en meesleurend.
Speurder-kaptein Alek Strauss van die FSO word saam met sy span uitgeroep na ’n raaiselagtige moordtoneel. Die liggaam van ’n vrou is in ’n afgeleë bouval in Pretoria-Oos gevind. Advokaat Lynn Rawlins is skynbaar verwurg. Teen die muur staan in bloed geskrywe: Sprich nichts Böses. Doktor Nadiya Patel, forensiese sielkundige, is vas oortuig die moordenaar se modus operandi is ’n waarskuwing dat nog lewens in gevaar is. ’n Meesleurende spanningsroman deur Marie Lotz, die skrywer van Roofdier.
Rassie Erasmus is al geniaal genoem. Hy is al roekeloos genoem. Nog sy lewe lank het hy dinge anders gedoen. Nou sal Rassie op sy kenmerkende openhartige manier gesels oor sy lewe vol voorspoed en teëspoed, op en weg van die rugbyveld – as Springbokspeler, provinsiale afrigter, en as die hoofafrigter wat die nasionale span na die Rugbywêreldbeker-sege in 2019 en ook in die aanloop tot 2023 se Wêreldbeker gelei het. Hy sal terugkyk op sy loopbaan as speler en afrigter, iemand wie se ingebore rugby-instink, vermoë om ’n wedstryd anders te lees en aptyt vir harde werk hom nog altyd onderskei het, en gelei het tot omstredenheid en mislukking, maar ook dawerende sukses. Rassie werk saam met die bekende joernalis David O’Sullivan om sy lewensverhaal te vertel. David is ’n bekroonde skrywer en omroeper.
In 1957 emigreer die negejarige Henk van Woerden vanaf Nederland met sy gesin na Kaapstad – leertas in die hand, mussie oor die ore, serp om die nek, glasoog in die oogkas. Eers veertig jaar later ontdek hy wat die rede was vir hierdie vertrek na Suid-Afrika: Sy pa was ’n kollaborateur in die Tweede Wêreldoorlog. Die emigrasie is die begin van ’n lewe as buitestaander en vorm later die goue draad in sy skilderye en literêre werk. Koning Eenoog is ’n boeiende biografie van die ewig soekende emigrant Henk van Woerden (1947–2005), ’n skrywer wat nie net ’n bekroonde oeuvre agtergelaat het nie (Een mond vol glas – Alan Paton Award en die Frans Kellendonk-prys, Ultramarijn – Gouden Uil en Inktaap) maar ook die Nederlandse literatuur oor Suid-Afrika verander het.
Hierdie versameling stories en besinnings uit die immergewilde skrywer se “Woorde wat wip”-rubriek wat tweeweekliks in Rapport verskyn, sal lesers met selfs die stroefste hallelujagesigte opkikker. In hierdie boek kry jy insae in hoe stories rondom woorde gevorm word. Herman kies telkens ’n woord en bou ’n storie om dit. Die inhoud val uiteen as ’n tipe abecedarium – speelse inskripsies volgens die letters van die alfabet, dikwels met woorde wat nie meer alledaags gebruik word nie of die gevaar loop om in onbruik te raak. Al gewonder wat ’n huilboerboom, meelwurms, kofia, ietsjoebeentjie, sandkombers of kamdebooharpuisbos is? In hierdie boek word dié woorde, en vele meer, geaktiveer as spilpunte waarom heerlike stories verweef is. Ideaal vir proe-proe lees op enige plek waar jy jou sit of lê die lekkerste kry.
Speurder-sersant Luna Joubert van die Stellenbosch polisiediens word gestuur om die eienaardige dubbele moord op die eienaar van ’n kwekery en sy vrou te ondersoek. Die De Winters is beide met ’n skerp voorwerp aangeval, maar daar was geen teken van ‘n struweling of enige getuies om sin te maak van die voorval nie. Terwyl Luna sukkel om ’n moord sonder verdagtes of leidrade op te los, maak Mike Grant weer sy onverwagte verskyning. Hierdie keer is hy op ’n geheime sending onder die geledere van ’n plaaslike dwelmsindikaat. Ten spyte van sy nuwe voorkoms vind Luna dit onmoontlik om nie die deur oop te maak wanneer hy klop nie. Soos Mike homself in die onderwêreld ingrawe, begin Luna op tone trap om haar eie raaisel op te los. Was die De Winters wie almal dink hulle was? Weet die kinders dalk meer as wat hulle voorgee? Wat gaan aan by die studentehuis oorkant die straat? En wie is die man in die sportmotor wat so op die buitewyke van haar ondersoek beweeg? Om antwoorde te kry sal Luna die donkerte en als wat daarin skuil moet trotseer. Bloedbande is die vierdie boek in Jeanette Stals se Luna Joubert-reeks.
Speuradjudant Storm van der Merwe is terug vir die grootste uitdaging van haar loopbaan. Al is sy steeds besig om haar pa se dood twee jaar tevore te verwerk. Intussen hou Hermanus ’n eerste skrywersfees. Deel van Storm se afgesaagde verpligtinge is om by die gemeenskapsaal kywie te hou voor die laaste Covid-regulasies uiteindelik opgehef word. Maar toe daag Isa du Bois, die sterskrywer van die dorp, nie op vir haar sessie nie. Haar liggaam word dieselfde oggend nog in Kwaaiwater se Mosselrivier gevind. Vier en twintig uur later kom ’n visterman af op nóg ’n lyk – weer ’n vrou, dié keer jonk en swart. En dan is daar ’n derde slagoffer, ’n belangrike kulturele rolspeler op die dorp. Drie dae, drie vroue. Hoekom drie, hoekom hierdie drie? Storm is so toegegooi onder werk, sy is skoon bly oor oudkollega Andreas Moerdyk se knaende aanbod om haar te help. En al sukkel sy om dit aan haarself te erken, is dit nogals lekker om ’n slag weer spanmaats te wees . . .
Die gedigte handel onder meer oor 'n byna uitgestorwe plattelandse lewe met tradisionele gebruike en ambagte. Tog word dit haarskerp en klokhelder verwoord sodat ook die moderne stadsmens aanklank daarby kan vind. Maar hy skryf ewe meevoerend oor die stad (Kaapstad). Daar is ook aktuele gedigte oor Suid-Afrikaanse toestande, tydlose verse oor die dood en prikkelende maar ook skreiende uitbeeldings van die liefde. Die verse het 'n eie, unieke klank en styl. Die minimalistiese woordgebruik is besonder suggestieryk en skep dikwels meerduidighede - betekeniseggo's wat naklinkend in die leser se kop bly draai. Die beelde en klanke klou inderdaad aan jou soos knapsekêrels.
Jan Christiaan Smuts was ’n soldaat, staatsman, intellektueel en een van Suid-Afrika se grootste leiers. Tog word daar vandag min oor hom gepraat of geskryf, al beleef ons tans skynbaar ’n leierskapsvakuum. In Jan Smuts: Afrikaner Sonder Grense voer Richard Steyn aan dat ons hierdie indrukwekkende kryger-staatsman se lewe en denke moet herbesoek, omdat daar soveel te leer is uit sy merkwaardige prestasies. Die hoogs leesbare verslag ondersoek onder meer Smuts se rol as politieke leier, as adviseur van wêreldleiers, sy spirituele en intellektuele lewe en sy verhoudings met vroue. Sy unieke bydraes op ʼn verskeidenheid ander terreine, insluitend botanie, bewaring en filosofie, word ook bespreek. Jan Smuts: Afrikaner Sonder Grense skram egter nie weg van die paradoksale in Smuts nie. Hoewel hy een van die argitekte van die Verenigde Nasies en ʼn groot kampvegter vir menseregte was, kon hy nie so ver kom om die plaaslike swart meerderheid politieke regte te gun nie.
Jou diepste vrees is sy grootste begeerte... Geen lang naels nie. Geen skoenveters nie. Dit is maar enkele van die reëls in die Molenberg-Psigiatriese hospitaal. Selfmoord is ʼn inwoner hier, en die pasiënte word as psigopate bestempel. Dominique du Randt word in Molenberg opgeneem ná haar ma se wrede moord. Niemand glo dat sy nie verantwoordelik is vir haar ma se dood nie. Niemand glo dat sy deur ʼn man agtervolg is wat homself die Bewonderaar noem nie. Haar sielkundige, Martin, het wel sy bedenkinge. Daarom dat hy sy eie speurwerk doen. Wat Martin ontdek, is die Ophelia-klub. ’n Plek van grusame geheime, fantasieë en donker vergrype. Wanneer een van die vroulike pasiënte in Molenberg-Psigiatriese hospitaal verdwyn, is Dominique oortuig die Bewonderaar weet presies waar sy is. Hy is, soos voorheen, weer in beheer van dié skrikwekkende spel. Maar hoe beskerm jy jouself in ’n plek soos Molenberg? Hier waar niemand jou glo en jy geen vryheid of beheer het nie?
Na ’n huwelik van twaalf jaar wat sy aan Gerhardus se magsbeheptheid en seksuele sadisme onderwerp was, het Maria genoeg gehad. Op 10 April 2022 verlaat sy die Baai met net haar handsak, ’n koff er en haar viool in die kar. Sy wil die deur fi naal toetrek op ’n lewe van aftakeling, perversie en die dreigemente waarmee Gerhardus haar sedert hul egskeiding aanhou teister. Nie eens haar ma, Selina, weet waarheen Maria op pad is om ’n nuwe begin te maak nie. Die enigste mens wat van haar planne bewus is, is Lukas Delport, eienaar van Matoli Meadow, ’n gastehuis op ’n plaas in die Maclear-distrik waar Maria haar voete as bestuurder gaan vind. Maar binne minute nadat sy op die plaas aankom, tref die godsverskrikkende wete haar dat al die jare saam met Gerhardus net ’n leerskool was om haar voor te berei op hierdie dag van ontgogeling. Hier, in ’n donker kelder, gekatvis deur ’n gewetenlose bedrieër, is elke oorlewingsminuut suiwer grasie.
Op ’n winterdag in 1945 ontferm ’n kinderlose wit egpaar, Sara en Erik de Graaff, hulle oor ’n driejarige halwe weeskind – Mina Afrika. Hulle wil haar graag ’n kans in die lewe gee. Terwyl Mina nog vol ambisie haar toekoms beplan dryf die verraderlike daad van ’n ryk jong wit man haar weg uit die Vallei, laat haar beland in ’n eindelose spiraal van bedrog. ’n Lewe van vernedering in Groenpunt en tussen die bendes van Distrik Ses. |
You may like...
Biomedical Electron Microscopy…
Arvid B. Maunsbach, Bjoern A. Afzelius
Hardcover
R2,751
Discovery Miles 27 510
One Life - Short Stories
Joanne Hichens, Karina M. Szczurek
Paperback
|