![]() |
![]() |
Your cart is empty |
||
Books > Local Author Showcase > Afrikaans
In Boerekos met ’n twist gee Annelien ’n kwyllekker kinkel aan die eenvoudige, voedsame huiskos wat jou ma, ouma en oumagrootjie gemaak het. Dié 140 familieresepte vir soppe, souse, groente-, vleis- en nageregte én gebak en spenstreffers is getoets, bevat g’n vreemde bestanddele nie en sit die “resep-met-’n-les”-konsep voort wat haar gelyknamige blog en Facebookblad so 'n sosialemediasukses maak. Boerekos met 'n twist kan beskryf word as 'n kompakte 21ste-eeuse Kook en Geniet vir besige mense.
Hykie vertel in rou eerlikheid van sy stryd met ADHD. Van 'n weerlose seuntjie wat nie kon stilsit nie tot 'n jong man wat in Weskoppies opgeneem word en alles verloor. Hykie ondersoek die hele fenomeen van ADHD – hoeveel diagnoses daar gemaak word, hoe die medikasie ontstaan het, die samestelling en die newe-effekte daarvan. Hykie wys dat medikasie nie die enigste antwoord is nie. Hykie gee ook waardevolle raad aan Christene oor hoe om mense wat aan geestessiektes lei te ondersteun.
Hans van Kraaienburg, verlosser van die inwoners van Huis Madeliefie (2017 se Hans steek die Rubicon oor), is óp van al hul klagtes. Noudat hul drakoniese matrone iets van die verlede is, is daar steeds etlike klein probleempies wat Hans as beheerraadslid moet oplos – en dít met gans te min geld in die kietie. Wanneer sy vriend Vasie hom dus nooi vir ’n vakansietjie op Hermanus, as huisgaste van dié se neef Herklaas, is Hans maar te gretig om sy safaripakke te pak. Op Hermanus gekom, vind die twee dat Herklaas in die sop is: sy blyplek staan net mooi op die plek wat die Overstrand se rykste skobbejak, Grond Graaffwater, geoogmerk het vir sy enorme nuwe hotel – maar Herklaas wil nié verkoop nie. Wanneer Grond en sy kriminele handlangers hardhandig raak, tree Hans tot die stryd toe – Herklaas moet ’n stel horings kry, en vir Grond trompop loop! Hans steek die Rubicon oor was ’n topverkoper, veral na voorlesing op RSG. Hans se tweede avontuur gaan lesers net so laat kraai van die lag.
Moordenaars. Afpersers. Nazi’s in die Namib. En dis by verre nie die ergste waarmee die diamantsmokkelaar Barra Nel te kampe het nie. Nie as die Nazi-navorsers se eksperimente skeefloop en liederlike gedrogte in die woestyn ontketen nie. Dis gevaar net waar jy kyk. En hoe gaan hy vir Hedda red, die Duitse wetenskaplike wat smeulende gevoelens in hom ontlok? Geheim Van Die Gruwel Sand is ’n barre konkoksie van lekkerlees-genres: ’n skop-skiet-en-wonder-storie.
Kortverhale met liefde as tema: Die wonderbaarlike gewaarwording wat iewers tussen verstand, psige en liggaam vatplek kry en ’n menselewe rig. Soms trap dit met oshoewe deur die fynste ruimte. En maak wreedaardig seer. Sodat die slagoffer wil vergeld. Of dit liefde vir die omgewing, ’n voorwerp of tussen mense is, in elke teks loop die liefde ’n pad wat sy meelopers by ’n tuiste bring, soms met ’n traan, meesal met ’n lag, maar altyd met nuwe insig.
Wenner van die Hertzogprys vir Fiksie vanaf die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. Etienne is twee-en-twintig en studeer filmkuns in London nadat hy uit Suid- Afrika gevlug het om diensplig te vermy. Dit is 1986, die tyd van Thatcher, optogte teen apartheid, en Vigs, maar ook van eksperimentele kuns, postpunk en die Royal Vauxhall Tavern. Etienne raak verlief op ’n Duitse kunstenaar in hierdie skadustad waar mense in bouvallige kunstenaarskommunes woon. In Londen kom Etienne af op die eerste van drie filmspoele wat tydens die dertigerjare in Duitsland verfilm is. Etienne begin na die verlore spoele soek, ’n soektog wat ’n obsessie word wanneer sy geliefde vermis raak in Berlyn. Terwyl Etienne die gevaarlike ruimtes weerskante van die Muur navigeer, begin die verhaal van ’n groepie Joodse filmmakers in Nazi-Duitsland vorm aanneem. Etienne word egter teruggeruk na die hede en na Suid-Afrika, maar sy soektog na die vermiste film duur voort. Argitektuur, kinematografie, seks, musiek, siekte, verlies en liefde deurweek SJ Naudé se kosmopolitaanse en roerende Die Derde Spoel, waarmee hy nuwe grond vir die roman in Afrikaans breek.
Betereinder is ’n menslike gids oor hoe om te floreer in Suid-Afrika. Schalk W van Heerden verbreed lesers se verwysingsraamwerk in die hoop dat hulle 'n aktiewe rol in die land sal speel. Hy ondersoek huidige rassegesindhede en gee wenke oor hoe die wit middelklas beter met hul medemens kan omgaan. Hy wys hoe armoede bekamp kan word. Schalk beantwoord moeilike vrae en deel stories met humor en empatie wat die leser se hart sal aangryp en ook sal laat glo dat hulle 'n verskil kan maak.
Ingrid Jonker, begaafde jong digter, loop op 19 Julie 1965 die see in by Drieankerbaai en verdrink. Sy laat haar familie en vriende agter met meer vrae as antwoorde. Gedurende die afgelope 50 jaar het sy ’n ikoon van die Afrikaanse en Suid- Afrikaanse letterkunde geword. In so ’n mate, dat haar lewe en veral haar dood soms haar werk en die belangrike bydrae wat sy tot die literêre beweging van die Sestigers gemaak het, oorskadu. Haar politieke sieninge, soos uitgedruk in haar poësie en haar passie en die droefheid van haar onstuimige liefdesverhoudings met onder andere Jack Cope en André P. Brink het al tot baie besprekings gelei. Sy het weer onder die publieke oog gekom toe oudpresident Nelson Mandela in sy inhuldigingsrede in 1994 in die Parlement een van haar gedigte aangehaal het. Hy het haar gedig: “Die Kind” voorgelees en gesê: “Sy was beide ’n digter en ’n Suid-Afrikaner.” Sedert haar dood is daar vele bespiegelings oor haar lewe en tragiese einde. Van dié vrae word beantwoord in hierdie eerste omvattende biografie. Petrovna Metelerkamp doen al jare navorsing oor Jonker. Sy neem die leser saam deur Ingrid se grootwordjare, digterslewe, liefdesverhoudings en die laaste paar jaar van haar lewe. Metelerkamp bring nuwe inligting aan die lig wat sy neem uit onbekende nuwe briewe en dagboekinskrywings, o.m. uit die dagboeke van Jack Cope. Talle nuwe onderhoude met mense wat Jonker geken het, word in die biografie opgeneem. Sy weerlê ook die beeld van Jonker as ’n ongebalanseerde kunstenaar wat haar houvas op die werklikheid verloor het in hierdie toeganklike biografie oor een van Suid-Afrika se aangrypendste kunstenaars.
Koeke en terte gee jou skreeusnaakse wenke oor die verskille tussen mans en vroue en verskillende tipe vroue. Dit is geskik vir almal wat ’n goeie humorsin het – en veral vir hulself kan lag. Susan takel ernstige onderwerpe soos dat jy as vrou is goed genoeg is, jy nie so hard op jouself moet wees nie en jy is genoeg vir God net soos jy is. Sy help jou om jouself te leer waardeer en jou eie gawes te ontwikkel en om by jouself en ander te leer.
Huis Madeliefie word deur die staat se vlak 5-inperking in die gesig gestaar. Hans besef teen dié virus groei geen kruid nie, maar die drakoniese reëls van die tehuis se interne bevelsraad kry nie vatplek by Hans en kie nie. Voorts is Hans oor die hoof gesien as leier van dié raad. Altoon Ahlers, befaamde akteur van weleer, neem die leisels. Hans se plan om die inwoners met die verbode vrug se sap aan sy kant te kry, boemerang sleg. Hy sal Ahlers op ’n ander manier moet onttroon . . .
In November 1905 beskryf ’n Windhoekse koerant Siegfried Bock as ’n nuwe soort held. Maar die moordenaar wat hy voor die hof gebring het se advokaat stel Siegfried in ’n heel ander lig. Boonop is oberleutnant Berghammer en die Namakryger Jager Orlam albei daarop uit om Siegfried te laat boet. En dan is daar die burokraat Stauffacher met sy ondraaglike planne. Siegfried sien nie uitkomkans nie. Maar daar móét een wees, veral noudat liefde vir hom wink . . .
Wanneer die lewe jou omwentel is die wéét binne-in jou. Vir Mel is haar eie melkweg skitterend. Sy het wat sy wil hê, sy is wie sy wil wees. Sy maak die reëls en sy dra nie maskers nie, want sy is in beheer. Maar skielik maak ’n veel groter ster haar verskyning: Isabella, ʼn ongevraagde toevoeging tot die gesin. En boonop besef Mel dat haar beroepskeuse as mediese suster ʼn ode was aan haar oorlede ma. Susterwees was dalk haar ma se passie, maar is dit regtig hare? Mel maak gereed om uit haar einste, skitterende melkweg te verskiet. Dit is ʼn waagstuk, iets wat só nie haar ding is nie. Die ontdekkingsreis vat haar na ʼn wêreld wat sy nog altyd vermy het, tussen mense wat nie haar dam se ganse is nie. By die flats van Belhar kom sy tot die besef dat die dam dalk nie hare is nie, maar dat sy tog, teen haar verwagting, inpas by die ganse. Sy ontmoet ’n jeugwerker met tatoes en ʼn skaatsplank wat baanbrekerswerk onder die jeug doen. Sy leer Llewellyn, haar stiefsuster se grootste aanhanger, beter ken en wys hom sy is nie so upstairs soos hy gedink het nie. Mel ontdek haarself en ʼn wêreld buite haar eie reëls. Moet sy kies tussen wie sy was en wie sy kan wees? Of is daar plek vir Mel die skateboarder, die biker en die kelner in haar melkweg?
Dis donker. Dis koud. Jy’s alleen. En dis wanneer jy twyfel.
Sy sal notas maak oor haar kinders, besluit 'n vrou voor haar jongste se geboorte. “Voor ek vergeet. Voor hulle groot is, weg, in 'n oogwink.” Sy lê oomblikke vas: die vrae sonder antwoorde, gebedjies, 'n eerste wisseltand, sywurms, huisvergaderings, die huiskat wat kleintjies kry en drome van eendag. Sing, Mamma, Sing is haar opgaaf van die frustrasie, weekheid, verwondering, trots en benoudheid wat elke ma ken. Dis haar kennismaking met ouers se grootste vrees en verlies wanneer die jongste op byna agt en dertig sterf. Die boek sluit aan by die genre van die moeder-memoir en die subgenre van verlies.
Hans loop op 90 nié met ’n loopring nie. Sy orige kinders maneuvreer hom vanuit hul tuistes oorsee uit sy lekker ou huis en in Huis Madeliefie in, maar Hans skop nog kliphard, en gou lei hy ’n ouetehuisopstand teen die onhoudbaar drakoniese matrone. Dis daggakoekies, ontkleedansers en vet sports net waar jy kyk in hierdie hoogs komiese roman oor oudword op eie terme.
Die dood. Dis al waaraan Lumi kan dink en in ’n poging om seker te maak dat sy verder as haar sewentiende verjaarsdag leef, word sy deur haar peetouers in ’n kosskool vir tienerfae gesit. Hier vind sy haarself vasgevang in ’n web van onbeheerbare faemagte, nuwe vriende en ’n vyand wat net nie wil los nie. En dan is daar Colden Breakspear. Die ligtekop, blou-oog Kruisfae wat haar gedagtes gevangene hou, maar iets pla. Waarom is hy amper belangriker as wat sy is vir twee van die sterkste faemonarge in Tír na hÓige? En wat presies het hulle ouers met alles te doen?
Berdine se ma en ouma kom saam tot die gevolgtrekking dat hulle hul eie drome deur Berdine, hul dogter en kleindogter wou uitleef. Berdine word groot met die idee dat sy gebore is om ander tevrede te stel. Sy beland in ’n verhouding waar sy ten spyte van haar professionele rol as dokter tuis onderdanig moet wees en deur haar lewensmaat gemanipuleer word. Ná jare van sielkundige teistering begin sy besef dat dit nie die soort lewe is waaroor sy gedroom het nie. Haar ma en ouma Bertha sit koppe bymekaar om Berdine terug te lok na die goeie waardes waarmee hulle haar wou opvoed. Die geleentheid kom gouer as wat hulle beplan het. Daar wag nie net vreugdevolle weersiens nie, maar ook verrassings wat haar lewe drasties verander en haar voor moeilike keuses stel. Berdine is onseker, maar sy kry helderheid nadat haar ouma haar die waarheid oor haar grootouma en dié se niggie Emma vertel – en die eintlike lewe wat ouma Breggie haar gee.
Dit is byna vier dekades ná Toorberg. Met ’n onverwagte trein kom Magistraat Imker Goedeman (wat destyds as jong man die afarmmagistraat van Toorberg, Abraham van der Ligt, in die gange van Bellville se landdroshof raakgeloop het) aan op Gebeente, ’n klein dorpie op die Vergete Grootpad noord van Sutherland. Die omgewing is geruk deur ’n opspraakwekkende plaasmoord, maar ’n nog komplekser saak moet ondersoek word: die diefstal van die melkweg... Ons is hier in die buurt van onwaarskynlikhede en eindelik word die ganse regstelsel uitgedaag. Historie, mite en allegorie word sjarmant verweef in dié meeleurende, fassinerende roman, en eindelik voer Etienne van Heerden sy kenmerkende magiese realisme die verste in sy hele oeuvre.
In Mika-hulle se tuin is daar ’n boom. Dit het ’n dik stam vol knoetse en knoppe en dit is die perfekte boom vir boomklim. Maar dit is eintlik nie ’n doodgewone boom nie. Party dae word die boom ’n seerowerskip. Ander dae word dit ’n besige restaurant. Sommige dae dra die boom die vreemdste vrugte, soos verfkwaste, ou sokkies of stringe spaghetti. Die boom is Mika se beste maat, tot daar op ’n dag nuwe bure intrek... Hierdie is ’n verhaal vol verbeelding met klem op die waarde van vriendskap.
’n Nuwe lewe wag op hom In 1939 bars die oorlogbom in Europa. Drie miljoen kinders word uit London ontruim na veiliger gebiede. Een van hulle is die sesjarige Charles Smith, op pad na ’n onbekende tante van sy pa in ’n klein dorpie in Skotland. By aunty Grace wag ’n nuwe lewe op hom. Aan die anderkant van Europa ruk die Duitse Sesde Leër op teen Rusland. Tussen die manskappe is die vurige majoor Oswald von Stein, Hildegard se stiefseun. Voor hulle wag die Russiese winter, Stalingrad en die krygsgevangenekampe van Siberië. 90 000 word gevange geneem, net sesduisend oorleef. Charles en Oswald beleef teenoorgestelde kante van die oorlog. Beide bevind hulself egter op pad na ’n plaas in Afrika waar hul paaie sal kruis met dié van Seretse Khama en Mentje de Vries.
Sondag. Oukersaand. Ná ’n inbraak by die Stables Estate in Pretoria-Oos word sakeman Lafras van Zyl vir dood agtergelaat. Die res van die Van Zyl-gesin verdwyn spoorloos. Kaptein AJ Williams moet inspring om te help. Alex en Ranna is op die spoor van ’n meisie, wat in Johannesburg vermis geraak het. Twee misdade. Meer vrae as antwoorde.
Patriarg Tjaart van der Walt se verlede haal sy kleindogters in ná sy dood toe ’n gas onverwags by sy kleindogter, Lenore van der Walt, se bruilof opdaag. Die bewaringstatus van Bateleur Reservaat en Khulula Renosterskuiling word daardeur bedreig. Die gas wil met ’n mynbaas saamspan om ’n steenkoolmyn in die Laeveld te vestig. Sikloon Dineo tref die reservaat langs die Mosambiek-grens en derduisende klimaatvlugtelinge word blootgestel aan mensehandel en ontvoerings. Die toenemende stel van slagysters vir bosslaghuisvleis lei ook tot ernstige vergrype teen diere. Die drie Van der Walt-niggies – Lenore, Tarien en Bella – word meegesleur in die gety van ontheemding en dierevergrype. Ook op geestelike vlak is daar ’n vervreemding tussen die niggies en hul Skepper wanneer seer uit die verlede hul inhaal en hul binne-vrede moet vind om weer tuis by God te voel. Romanse en nuwe vriendskappe te midde van natuurrampe en aanvalle deur insypelaars word ’n toevlug toe ’n bonkige huursoldaat en die Olifantbekoorder van die Laeveld tot die niggies se lewens toetree.
Wanneer iemand jou kind steel, wat is jou breekpunt?
“Op die kombuisvloer sit-lê my man met sy rug na my toe. Sy ledemate
hang slap, soos ’n marionet wat pas sy toutjies verloor het. Op die
toonbank lê sy haelgeweer. Ek weet dadelik hy is dood.” |
![]() ![]() You may like...
Op Die Duiwel Se Spoor - Hoe Ek Die…
Ben "Bliksem" Booysen
Paperback
![]()
|