Welcome to Loot.co.za!
Sign in / Register |Wishlists & Gift Vouchers |Help | Advanced search
|
Your cart is empty |
|||
Books > Local Author Showcase > Afrikaans > Biography
My reis, eers as pleegma en later as aanneemma, was nie een waarop iemand my kon voorberei nie. Rooiletterkind is my poging om hierdie reis so eerlik as moontlik te ondersoek, vanaf die vertrekpunt een oggend voor ’n kerkdiens tot by ’n handgemaakte Moedersdagkaartjie meer as vyf jaar later. Wat maak jy met ’n kind wat aanhou om teen jou liefde te baklei? Hoe help jy haar deur die slaggate van die lewe as jyself nooit daardeur is nie? Dit is maar net twee van die vele vrae wat ek myself onophoudelik moes vra terwyl ek verbete vasklou aan ’n rooiletterdatum, ’n halsstarrige kind en ’n hart wat gereeld uit my borskas geruk word. Saam met ons eie verhaal was daar egter ook ander stories wat vertel moes word — stories van ons kind se herkoms, van gebrokenheid en straatmense en kriminele en ’n drughuis sonder reëls of taboes.
“Dis politici wat oorlog verklaar, nie ons nie. Ons het gedoen wat ons
geglo het ons moes doen en hulle [die vyand] ook . . .” – Marco
Caforio, ouddienspligtige
In die jare 1891 tot 1893 het ongeveer 770 persone Transvaal verlaat en na Angola en Duits-Suidwes-Afrika getrek om hulle heil daar te soek. Dit staan bekend as die “sesde” Dorslandtrek. Sowat 45 De Jagers het in verskillende groepe aan hierdie epiese trek deelgeneem. Ná die sesde Dorslandtrek het hulle tussen Angola, Suidwes-Afrika, Suid-Afrika en selfs Kenia rondgeswerf en verdere avonture oor die hele Suider-Afrika beleef. Sommige De Jagers het in 1928 van Angola na Suidwes-Afrika getrek en hulle daar gevestig, terwyl ander eers in 1958 uit Angola gerepatrieer is. Uit die beperkte beskikbare bronne is die verskillende trekroetes van die sesde Dorslandtrek gerekonstrueer en vir die eerste keer word ’n kaart van die verskillende trekroetes gepubliseer. ’n Geslagregister van bykans 1800 afstammelinge en aangetroude familielede van die De Jagers van die sesde Dorslandtrek en byna 500 foto’s vorm ’n omvattende beeld van hierdie familiegeskiedenis.
Hykie vertel in rou eerlikheid van sy stryd met ADHD. Van 'n weerlose seuntjie wat nie kon stilsit nie tot 'n jong man wat in Weskoppies opgeneem word en alles verloor. Hykie ondersoek die hele fenomeen van ADHD – hoeveel diagnoses daar gemaak word, hoe die medikasie ontstaan het, die samestelling en die newe-effekte daarvan. Hykie wys dat medikasie nie die enigste antwoord is nie. Hykie gee ook waardevolle raad aan Christene oor hoe om mense wat aan geestessiektes lei te ondersteun.
Ingrid Jonker, begaafde jong digter, loop op 19 Julie 1965 die see in by Drieankerbaai en verdrink. Sy laat haar familie en vriende agter met meer vrae as antwoorde. Gedurende die afgelope 50 jaar het sy ’n ikoon van die Afrikaanse en Suid- Afrikaanse letterkunde geword. In so ’n mate, dat haar lewe en veral haar dood soms haar werk en die belangrike bydrae wat sy tot die literêre beweging van die Sestigers gemaak het, oorskadu. Haar politieke sieninge, soos uitgedruk in haar poësie en haar passie en die droefheid van haar onstuimige liefdesverhoudings met onder andere Jack Cope en André P. Brink het al tot baie besprekings gelei. Sy het weer onder die publieke oog gekom toe oudpresident Nelson Mandela in sy inhuldigingsrede in 1994 in die Parlement een van haar gedigte aangehaal het. Hy het haar gedig: “Die Kind” voorgelees en gesê: “Sy was beide ’n digter en ’n Suid-Afrikaner.” Sedert haar dood is daar vele bespiegelings oor haar lewe en tragiese einde. Van dié vrae word beantwoord in hierdie eerste omvattende biografie. Petrovna Metelerkamp doen al jare navorsing oor Jonker. Sy neem die leser saam deur Ingrid se grootwordjare, digterslewe, liefdesverhoudings en die laaste paar jaar van haar lewe. Metelerkamp bring nuwe inligting aan die lig wat sy neem uit onbekende nuwe briewe en dagboekinskrywings, o.m. uit die dagboeke van Jack Cope. Talle nuwe onderhoude met mense wat Jonker geken het, word in die biografie opgeneem. Sy weerlê ook die beeld van Jonker as ’n ongebalanseerde kunstenaar wat haar houvas op die werklikheid verloor het in hierdie toeganklike biografie oor een van Suid-Afrika se aangrypendste kunstenaars.
Sy sal notas maak oor haar kinders, besluit 'n vrou voor haar jongste se geboorte. “Voor ek vergeet. Voor hulle groot is, weg, in 'n oogwink.” Sy lê oomblikke vas: die vrae sonder antwoorde, gebedjies, 'n eerste wisseltand, sywurms, huisvergaderings, die huiskat wat kleintjies kry en drome van eendag. Sing, Mamma, Sing is haar opgaaf van die frustrasie, weekheid, verwondering, trots en benoudheid wat elke ma ken. Dis haar kennismaking met ouers se grootste vrees en verlies wanneer die jongste op byna agt en dertig sterf. Die boek sluit aan by die genre van die moeder-memoir en die subgenre van verlies.
“Op die kombuisvloer sit-lê my man met sy rug na my toe. Sy ledemate
hang slap, soos ’n marionet wat pas sy toutjies verloor het. Op die
toonbank lê sy haelgeweer. Ek weet dadelik hy is dood.”
Springbokkaptein, predikant, filosoof, ambassadeur, kabinetsminister, wêreldreisiger, kunsliefhebber, gesinsman. Dit was en ís die wêreld van dr. Dawie de Villiers, een van Suid-Afrika se ikone wat sy land dekades lank op vele terreine met groot onderskeiding gedien het. Hierdie boeiende lewensverhaal neem lesers op ’n merkwaardige lewenspad deur Suid-Afrika se sport- en politieke geskiedenis. De Villiers se jeugjare in ’n polities georiënteerde gesin, sy vinnige opgang vanuit sy geliefde Stellenbosch Rugbyklub tot in die Springbokspan, sy moeilike pad met sportbeserings en die soet en suur van Springbok-wees is maar enkele aspekte van dié lekkerlees-ervaring. Hy vertel van sy betrokkenheid in die politiek as ’n ywerige waarnemer van onder andere die bekende filosoof, prof. Johan Degenaar; sy opwindende lewe as ambassadeur in Londen; as kabinetsminister onder P.W. Botha, F.W. de Klerk en Nelson Mandela; die Kodesa-onderhandelinge en die oorgang na demokrasie; en uiteindelik ’n reeks verrykende reise oor die wêreld as adjunk-sekretaris-generaal van die Verenigde Nasies se World Tourism Organization (UNWTO). My lewensreis is ’n belangrike bydrae om die rol te beskryf van Afrikanerleiers wat uit die rigiede denkskema van apartheid ontsnap het, wat vanweë morele oortuigings én hulle bevoegdhede ’n nuwe Suid-Afrika help skep het.
Ter viering van Dolf van Niekerk se negentigste verjaarsdag verskyn hier ’n versameling filosofiese, bepeinsende en besinnende essays uit die pen van een van Afrikaans se meesterskrywers. Vanaf sy vroegste gewaarwordinge tot sy kennismaking met groot filosowe soos Nietzsche, Kant en Hegel op universiteit en in sy daaglikse handel en wandel daarna: altyd maar bly die bewustheid van ’n onsigbare “iets” by hierdie aristokratiese gees – en ’n soeke na ’n beter verstaan van dít wat “die sterretyd en die menstyd aan mekaar verbind”. In 48 essays wat die biografiese tydperk tussen ongeveer sy vyfde en twintigste lewensjaar dek, skryf ’n deurleefde, wyse Van Niekerk oor sy vroegste herinnerings aan sy geboortedorp, sy gesin en sy helderste herinnerings aan die plekke en mense wat hom gevorm het tot die mens wat hy geword het. Want, soos wat hy in die verhaal “Die skinkbord” skryf: Jy kan net wees wie jy is, en jy is wat jy word.
Azille Coetzee gaan studeer in Nederland, kry ’n Nederlandse lover en besluit om in Europa aan te bly. Maar iets voel nie reg nie … Daar is tog altyd die vraag: Watter herkoms hou die styfste vas, Afrika of Europa? Dié is ’n uiters leesbare verhaal van identiteit, reis en liefde: intiem, eerlik en slim.
Ivor Swartz kom van die Gaatjie in Grabouw, 'n hooplose plek. Sy pa is vroeg dood en sy ma maak hom en sy sibbe alleen groot. Hulle oudste broer terroriseer die gesin en een aand skiet Ivor en sy vriend sy broer en hy sterf later in die hospitaal. Ivor gaan tronk toe en met sy uitkoms begin sy lewe van voor af. Vandag is hy 'n jeugpastoor met 'n passie vir Here wat sy storie gebruik om ander te inspireer. 'n Storie van die verlore seun wat huis toe kom.
Werk soos ’n miljardêr vertel die verhaal van Dan, ’n werknemer, wat bloot van salaristjek tot salaristjek leef. Hy streef daarna om sy eie besigheid te begin maar hy staar verskeie uitdagings in die gesig. Een van dié uitdagings is hoe om, sonder enige geld, ’n besigheid te begin. Maar alles verander op ’n dag toe hy voor ’n groot besluit te staan kom. Die boek is propvol waardevolle wenke oor hoe om rykdom te skep, jouself beter te leer ken en hoe om volhoubare besigheidsisteme te bou.
’n Blik op die binnekring van die Krugersdorp-kultus “Daar was bloedspatsels oor die koffietafel, die banke en die banke se kussings. Peter en Joan was oortrek van steekwonde in hul rûe, nekke en agterkoppe. Nicholas het sy pa en ma gesigte na onder in ’n bloedbad op die mat in die sitkamer gekry. Hulle het hul hek en huis vir hul moordenaars oopgemaak, want hulle het ’n afspraak met hulle gehad.” Elf wrede moorde oor ’n tydperk van vier jaar ruk die gemeenskap van Krugersdorp en haal landwyd nuusopskrifte. Eindelik word al hierdie moorde verbind met Cecilia Steyn en haar kultusgroep, Electus per Deus (uitverkies deur God). Lede van die groep aanbid die grond waarop Cecilia loop en sal selfs vir haar moord pleeg. Die moordenaars is slim, gewone mense – ’n onderwyseres, ’n finansiële makelaar, ’n kind wat tussen die moorde deur steeds ses onderskeidings in matriek behaal en boonop keuring kry om medies te gaan studeer. Hul slagoffers het bloot ’n sake- afspraak nagekom, min wetend dat dít ’n afspraak met die dood was. Wie is Cecilia Steyn? Hoe kan een mens vyf ander manipuleer om moord te pleeg en namens haar in die hof te lieg? Watter rol het Satanisme gespeel? Hoe ontduik onervare misdadigers die polisie vir so lank? Jana Marx beantwoord dié en ander vrae in ’n waremisdaad-verhaal wat gelei het tot een van die opspraakwekkendste moordsake in die land se geskiedenis. Met behulp van onderhoude uit diegene in die binnekring, hofgetuienis en polisiedossiere oor ’n tydperk van vier jaar poog Marx om die publiek se vrae te antwoord en ’n blik te gee op die binnewerkinge van só ’n kultus.
Dana Snyman deel in Seun die deel van sy storie waaroor hy nog nooit
gepraat het nie: sy ervaringe in die 1980’s. Dit is die tyd van PW
Botha se vinger, van die Voëlvry-toer, AWB-saamtrekke, onderhandelinge
en die laaste dae van diensplig. Dana word oneervol ontslaan uit die
weermag, maar eers maak hy ’n draai in Saal 24. Werkloos en
doelloos eindig hy in ’n gewese bediendekamer in Pretoria. Dié
rou, selfonthullende memoir vra: hoe word ’n seun ’n
man? Met Seun neem Dana lesers in sy vertroue.
Die daggaplant (Cannabis sativa) word al vir duisende jare gebruik. Dit is, inderdaad, ’n baie nuttige plant om materiaal en toue mee te vervaardig. Dit is egter die bekendste vir die psigotropiese effekte van dagga se aktiewe bestanddeel, tetrahidrokannabinol (THC). Die kwessie oor of dagga verslawend is, is nog nie heeltemal duidelik nie. Baie navorsing word gedoen om korrekte en interessante inligting vir gebruikers, hul naasbestaandes, handelaars en almal wat oor dagga wonder, beskikbaar te stel. Hierdie handleiding bring die leser op datum met alles wat ons weet aangaande dagga. Slegs wanneer al die feite op die tafel is, is dit sinvol om ’n opinie oor hierdie wonderlike plant te waag.
Wat dryf ’n beeldskone jong ma van drie daartoe om haar man wreed te laat vermoor? Waarom wou Suretha Brits só graag van haar Leon ontslae raak? Danksy inligting uit die binnekring van vriende, familie en mense ná aan die polisie-ondersoek, sit die joernalis Charné Kemp die stukkies van die legkaart bymekaar en vertel die volle verhaal van die opspraakwekkende huurmoord op die geliefde Pofadder-hotelbaas. ’n Boeiende ware misdaadverhaal wat draai om geld, diamante, Krugerrande, seks en verraad.
Daar is al soveel oor Jan Smuts geskryf. Smuts is in baie opsigte steeds ’n raaisel, veral wat sy komplekse persoonlikheid betref. Hierdie chronologiese rangskikking van foto’s uit sy lewe bied ‘n beeld van hom as mens, staatsman, bevelvoerder en politikus. Dis ’n visuele reis deur die lewe van een van ons grootste staatsmanne.
In Troep! vertel meer as ’n honderd oud-troepe wat hulle onthou van
diensplig: om op skool opgeroep te word, te gaan oorlog maak en twee
jaar later weer huis toe te kom. Tussenin lê stories van varkpanne,
tiekiebokse, twee-komma-viers, boeliebief, die DB, ryloop, pakkies,
bosbussies, naweekpas, ratpacks, stof, Buffels, landmyne en skrapnel –
en ook herinneringe van vriende, seuns en broers wat nie teruggekom het
nie.
Reynardt Hugo speel Dr Tertius Jonker in Binnelanders en was van 2011 tot 2019 lid van die Afrikaanse popgroep ADAM. Tog, agter al sy sukses, sangtoere, toekennings en die vele lofbetuigings is daar ’n diep gewonde en verlore siel. Nes duisende ander mans, het Reynardt jare lank gestoei om sy verwondheid met drank, dagga, vroue en pornografie te verdoesel. Sy oorlog was ’n soeke na betekenis en aanvaarding. Soldaat vertel van ’n klein seuntjie en die verwarrende wêreld waarin hy grootgeword het. Hy praat eerlik en opreg oor die impak wat sy ouers se egskeiding op hom gehad het, en die invloed van drankmisbruik in hulle huis, en hoe hy dit alles as jong seun ervaar het en daarvan moes sin maak. Hy praat openlik oor sy swakheid vir vroue en die gevolge van sy dade. Vandag is Reynardt Hugo ’n suksesvolle jong man wat ’n groot impak maak. Die pad was lank en rof en hy moes vele uitdagings oorkom, maar vandag is sy lewe ’n ware getuienis van wat God kan doen met iemand wat op moedverloor se vlakte sit, en hoe God ’n storie van verwoesting in ’n storie van hoop kan verander. Reynardt se verhaal is boeiend. Dit bevat al die elemente van tragedie, intrige, neerlaag en oorwinning, maar ook die heel belangrikste bestanddeel: die krag van die evangelie van Jesus Christus.
Volgens PG du Plessis het Pirow Bekker ʼn “benydenswaardig-heldere pen”. In hierdie, Bekker se 23ste publikasie sedert 1965, word die leser meegevoer deur sy herinneringsreise na plekke van herkoms en vroeëre verblyf, sowel as die verlede in sy eie gedagtes. Daar is juwele in hierdie teks. ’n Belangrike bydrae van die boek is die beligting van demensie en Alzheimer. Beurtelinge se stralende eerlikheid maak dit ʼn waardevolle werk.
Herman Lategan word wyd gerespekteer as joernalis, en is beide berug én beroemd vir sy uitgesprokenheid en kwinkslae oor alles onder die son. In Hoerkind vertel hy sy lewensverhaal uit die hart uit, sonder doekies omdraai. Hy is een warm Februarienag in 1964 in ’n losieshuis in Kaapstad verwek – buite die eg. Van jongs af het hy soos ’n weggooimens gevoel, want hy is deur grootmense wat die lewe op onvaste voet betree het, van die een stel hande na die ander aangegee. Op 13 beland hy in die kloue van ’n geslepe pedofiel, ’n bekende Afrikaanse koerantman in daardie jare. Pas na sy 18de verjaarsdag, wanneer sy molesteerder met hom klaar is, word Herman sonder seremonie voor die deur van sy vervreemde alkoholis-pa afgelaai. In sy tienerjare bevriend hy Afrikaanse digters soos Sheila Cussons, Ina Rousseau, Barend J. Toerien en Casper Schmidt. Ná skool doen hy sy diensplig, maar word oneervol ontslaan en kom hy in New York aan, waar hy vir Andy Warhol op straat agtervolg en met ’n “smorgasbord van eendagsvlinders” kattemaai. Terug in Suid-Afrika maak Herman opgang as joernalis wat na die wydste hoeke van die wêreld reis. As volwassene voer hy ’n stryd met drank en dwelms en is ’n ruk lank haweloos. En vir menige werkgewer word hy die nagmerrie wat hulle die ergste vrees. Hoerkind is ’n aangrypende relaas oor verlies én oorwinning wat jou sal laat lag, en jou hart ’n paar keer breek. Jy sal jou kop skud oor die wreedheid van ’n wêreld waar mense aan mekaar uitgelewer is, maar jy sal verwonderd staan oor die omvang van goedheid, juis omdat mense op mekaar aangewese is.
Dis die biografie wat nie 'n biografie is nie. Daar is geen geraamtes uit kaste of skandes oor seks, dwelms en/of ruk-en-rol nie; geen verhoudingsintriges nie; vergeet ook van enige sensasionele openbarings. Niks waarin Kwêla of Pasella sou belangstel nie. Skinderstories was daar volop, en skinderbekke het altyd baie te sê gehad oor Franz Marx. Sê Franz self: “Daar was soveel stories oor my, maar oor wie is daar nie? As dit ʼn gay ou is, het ek stories daaroor gehoor. As dit vrouens is, het ek gehoor ek het hulle bygekom in my kantoor. Dit het my nooit gepla nie, as jy jouself vir ʼn toffie uitgee, gaan die mense aan jou suig. Dít het ek altyd geweet, maar hulle het nooit die waarheid geweet nie. Hulle het nooit geweet ek het twee kinders grootgemaak nie, nooit geweet ek was getroud nie; nie geweet wie is my vriende nie, nie geweet met wie ek sosialiseer nie. Hulle het nooit geweet van my private lewe nie.” Hierdie “biografie” - uit die perspektief van ʼn onwaarskynlike vertroueling - is ʼn verwerking van gesprekke met Franz (persoonlik en professioneel) deur die bekroonde akteur, skrywer en regisseur Chris Vorster. Dis ʼn vermaaklike ontdekkingsreis met ʼn leeftyd se wyshede en “leuens”.
Naspers is een van 'n handjievol maatskappye uit Afrika wat binne een eeu gegroei het tot 'n globale mededinger met rekordaandelepryse - en dit boonop op die gebied van tegnologie. Die versameling essays, geskryf deur groot geeste in die Suid-Afrikaanse mediawereld, gaan oor die boustene van die grootste mediamaatskappy op die kontinent. Dit is 'n onderneming wat tendense vroeg identifiseer, dit aanpas vir die markte waarin hy bedrywig is en dit benut tot groot voordeel van die maatskappy, sy aandeelhouers en sy werknemers.
Suid-Afrika se skoonheid en koloniale geskiedenis het seker gemaak dat verskeie bloubloediges deur die eeue heen sterk bande met die land ontwikkel het. Só is daar byvoorbeeld die Nederlandse prinses Irene van Lippe-Biesterfeld, met haar groot liefde vir die Karoo, wat hard baklei het teen skaliegas-ontginning deur die Nederlandse petroleummaatskappy Shell. As godsdienstige of politieke leiers - dikwels van adellike afkoms - in die Oosterse kolonies té veel geluide begin maak het, is hulle na die Kaap verban, wat 'n deurslaggewende rol gespeel het in die land se slawegeskiedenis: Hiervan getuig die verhale van sjeg Joesoef en die radja van Tambora. Watter spoor het die Napoleons in Durban agtergelaat? En George Rex, stigter van Knysna, wat dan nou op 'n druppel water soos koning George III van Engeland gelyk het? Hoe het dit gekom dat prinses Anne van Brittanje se oorkrabbetjie dwarsdeur 'n volstruis se pens gegaan het? Konstantyn II, die laaste Griekse koning, prinses Charlotte van Liechtenstein en die Karadjordjević's van Serwië het hulle eie bande met Suid-Afrika - en die kroonprins van Albanië praat Afrikaans! Hoe het dit alles gebeur? En hoekom lui die naam lady Juana Smith 'n klokkie? Blou bloed: koninklike spore in Suid-Afrika gaan soek antwoorde op hierdie en nog baie ander vrae. |
You may like...
So Lyk 'n Vrou - My 40 Jaar Van Hel Saam…
Ilse Verster
Paperback
(1)
Sy Is Veilig - 'n Onthulling Van Die…
Emma van der Walt
Paperback
(1)
|