![]() |
Welcome to Loot.co.za!
Sign in / Register |Wishlists & Gift Vouchers |Help | Advanced search
|
Your cart is empty |
||
|
Books > Local Author Showcase > Afrikaans > Biography
Die Suid-Kaapse Agulhas-kus is ongetwyfeld besaai met stories en legendes oor die tientalle skeepsrampe wat hulle aan hierdie gevaarlikste deel van die ganse Suid-Afrikaanse kuslyn afgespeel het. Met hierdie besonderse boekstawing deur Jeanette Grobbelaar word hierdie boeiende verhale nie net byeengebring nie, maar word dit ook op só ‘n manier aangebied dat jy dié boek eenvoudig nie neer wíl sit nie.
Dit is my storie oor hoe God my gehelp het deur persoonlike pyn, swaarkry, woede, GBV, emosionele mishandeling en selfmoordgedagtes op 'n vroeë ouderdom van my lewe totdat ek 'n volwasse vrou geword het. In hierdie boek sal jy meer leer oor hoe ek myself moes optel toe ek af en uit was, daar was 'n paar tye van trane, woede, bitterheid en selfs gelag, dis waar God my gelei het oor hoe om beproewings en beproewings te oorwin. God het vir ons al die stukke gegee wat nodig is om uitsonderlike welstand en gesondheid te bereik, maar Hy het dit aan ons oorgelaat om hierdie stukke bymekaar te sit. Jy leer meer uit mislukking as uit sukses. Moenie dat dit jou keer nie. Mislukking bou karakter.
Vir 45 jaar het Freek Robinson die grootste nuusgebeure in die ou én nuwe Suid-Afrika eerstehands beleef. As TV-joernalis en nuusanker was hy ’n gereelde besoeker in miljoene Suid-Afrikaners se huise. In sy memoires deel Freek dit wat hy agter die skerms beleef het. Dié boek verweef die lewe en loopbaan van een van ons land se mees gerespekteerde en geliefde joernaliste en gee ’n besonderse blik op die ingrypende nuusomwentelinge in ons onlangse geskiedenis.
Andre P Brink En Die Spel Van Liefde is die heel eerste biografie van ’n Suid-Afrikaanse skrywer wat gedurende sy leeftyd in dieselfde asem as Gabriel García Márquez, Peter Carey en Aleksandr Soltzjenitsen genoem is, en wie se romans in meer as 30 tale vertaal is. In Leon de Kock se langverwagte biografie word Brink se persoonlike dagboeke en joernale as die belangrikste bronmateriaal hanteer. Brink het meer as 50 jaar lank sy ervarings en gedagtes pligsgetrou opgeteken: hierdie notaboeke, waartoe De Kock eksklusief toegang verkry het, word nou vir die eerste maal bekend gemaak. Die spel van liefde is ’n omvangryke biografie wat die leser ’n openhartige, onverbloemde blik gee op Brink se gedagtes en gevoelens – oor homself én ander. Brink beskryf die hoogte- en laagtepunte van sy vyf huwelike asook sy verskeie verhoudings met ’n groot aantal vroue – ’n onderwerp wat hy in sy memoir, ’n Vurk in die pad, maar slegs vlugtig bespreek. Gedurende sy leeftyd het Brink hom nie net teen die politieke bestel verset nie, maar veral ook teen tradisionele seksuele sedes. In hierdie biografie van ’n skrywer aan wie die Nobelprys vir letterkunde byna toegeken is, bekyk De Kock Brink se persoonlike, outobiografiese aantekeninge vanuit ’n kritiese, literêre oogpunt. Daarmee saam vergelyk hy die dagboeke met akademiese en ander, alledaagse bronne, waaronder getuienisse deur Brink se vriende, familie, eggenote en minnaresse. Die spel van liefde is ’n unieke, belangrike toevoeging tot die Suid-Afrikaanse lettere, maar veral ook tot navorsing oor Brink se lewe en skryfwerk.
Iets heerliks gebeur. Dis asof ek nie meer Lanie-op-’n-fiets op ’n mission is nie, maar een word met die natuur om my; of ek nog van altyd af hier was, hier hoort. Asof die lewe nog altyd eenvoudig was. Ek klim af en gaan lê op my rug en kyk deur die herfsblare wat goud aan die bome hang tot by die ysblou lug ver bo. Ek wil iets gee, iets sê… Net mooi fine is die opvolg van Lanie van Reenen se suksesvolle boek C’est la Vie. Hierin beskryf sy wat gebeur het sedert haar hotelprojek in Frankryk gefaal het; hoe sy die nuwe realiteite van haar eie gestroopte lewe te bowe moet kom terwyl sy ook die verwerende château moet probeer red of verkoop. Op haar pad na heling onderneem Lanie vele avonture: soms alleen per fiets, soos wanneer sy die Camino Portuguese voltooi; maar ook te voet, soos die tog na die berg Everest se basiskamp wat sy ter wille van liefdadigheid onderneem. In hierdie ontroerende omstandighede ontstaan die vraag: Wat is die somtotaal van verlies? En hoe groot is die wins wat verlies tot gevolg kan hê as jy bewustelik daarmee omgaan, sodat ʼn mens ten slotte kan sê: “Eintlik is alles net mooi fine”?
Toe Vivian op 16-jarige ouderdom haar pa in die winkel se deur sien staan met sy hoed in sy hand het sy geweet haar lewe gaan onkeerbaar verander – haar pa het sy werk verloor. Hulle word uit hulle huis op Paternoster gesit. Vivian dink sy is gelukkig toe die veel ouer John by die werk in haar begin belangstel. Hy belowe om vir haar gesin ’n huis op Vredenburg te kry, maar min weet sy die huis het ’n prys. Vivian word vervreem van haar familie en verval in ’n spiraal van mishandeling. Sy laat haar egter nie onderkry nie, en besluit eendag dat sy genoeg gehad het. Sy begin haar lewe van voor af bou. Vivian het ’n kop vir besigheid, en ná verskeie poste besluit sy om haar eie wynbesigheid te begin. Nou, jare later, het sy haar eerste oes afgehaal en word die wyn na Wallmart uitgevoer. Vivian se verhaal is een van hoop, passie, deursettingsvermoë en die wete dat God daar is, al lyk die omstandighede hoe sleg.
Met meer as 7 000 verhoogoptredes op sy kapstok is Pieter-Dirk Uys volksbesit. In Weerklink van ’n wanklank, sy skreeusnaakse, roerende memoires, tree die mens agter die ikoon te voorskyn. Ons leer ken sy moeilike, musikaal-gedrewe pa, sy briljante, geheimsinnige ma, sy suster, die pianis-wonderkind, en Sannie Abader, “Pietertjie” se Kaapse Vlakte-ma. Dan is daar sy Paarlse ouma wat hom neem om by die Verwoerds te gaan kuier, sy ander Oma en haar onverbeterlike strudel, sy vriendskap met Sophia Loren, die geboorte van Evita Bezuidenhout, en die vreugdes en hartseer van ’n merkwaardige lewe.
Ton Vosloo is een van die mees gerekende koerant- en sakemanne in Suid-Afrika. Gedurende sy loopbaan van sowat sestig jaar het Suid-Afrika op politieke front ’n drastiese ommekeer ondergaan: die Nasionale Party het plek gemaak vir ’n ANC-regering, wat gelei het tot transformasie op sosiale, ekonomiese en sakefront. In 1983 is Vosloo as die besturende direkteur van Naspers aangestel en het hy hom dit ten doel gestel om dié groep – wat in 1913 as mondstuk van die Nasionale Party gestig is – te vernuwe. Vosloo het die maatskappy deur diep, onstuimige waters gestuur: op ideologiese vlak was dit ’n geveg tot die dood toe met die regse Perskor-groep om die steun van Afrikaners te wen. Naspers moes ook op kommersiële vlak moderniseer. Dit het uiteindelik gelei het tot die stigting van M-Net, Suid-Afrika se eerste betaaltelevisiekanaal. In 1992 is Vosloo as voorsitter van Naspers aangestel en het Koos Bekker die pos as besturende direkteur aanvaar. Onder Bekker se leiding het Naspers belê in die Chinese internetmaatskappy Tencent, en vinnig ontwikkel tot ’n groep wat vandag finansiële belange regoor die wêreld het. Dít sou nie moontlik gewees het sonder die fondasie wat Vosloo in die vroeë tagtigs vir sodanige vernuwing gelê het nie. Oor Grense is Ton Vosloo se memoir oor sy lewe in die koerantwêreld in ’n tyd toe Naspers nog baklei het om die posisie as markleier, ’n tyd toe die koerante binne sy stal baie na aan die politici van die dag gestaan het. Met sy eiesoortige humorsin en styl as gesoute joernalis vertel Ton Vosloo die storie van Naspers en van sy uiteenlopende ervarings as koerantman en sakeleier. Ook beskikbaar in Engels as Across Boundaries
Wat beteken dit as ’n jong Afrikanerman jou beskryf as “nogals orraait”? Hoe trek jy die gehoor se aandag as die basaarpoeding hulle gemesmeraais het? En waar in die wêreld is die berugte Pomona Spur? In dié piepie-jou-nat-van-die-lag memoire verklap Schalk – en sy soortvan-bestuurder, Erns Grundling – die bisarre en hartroerende dinge wat hy oorgekom het op sy reise regoor die land na oral waar ’n mikrofoon en ’n gehoor hom inwag.
In 2008 is Suid-Afrika tot in sy fondamente geskud deur die omstrede Reitz-video-voorval aan die Universiteit van die Vrystaat. In dié video onderwerp vier wit mansstudente vyf swart werkers aan sogenaamde keuringstoetse vir koshuisplasing. Na videobeelde van hoe die werkers kos moes eet waarin daar klaarblyklik geürineer is, het rassespanning op die kampus opgevlam en stemme van protes wêreldwyd opgeklink. Om die situasie te help beredder, het die universiteit vir Rudi Buys as versoeningskonsultant gewerf, waarna hy as studentedekaan aangestel is. Buys se werk by die universiteit sou uiteindelik simbolies word van ’n feller konflik in Suid-Afrika – tussen versoening en ’n dreigende rassestryd, ou en nuwe denkwyses, hoop en wanhoop. Hierdie boek fokus op “tussenin-wees”. Die verhale van vier studenteleiers uit daardie onstuimige tydperk, asook die ingrypings wat onderneem is, word belig. Vir Buys was die proses by Kovsies ook ’n geleentheid om van sy eie Afrikaner-verlede sin te maak. Die gebeure by die universiteit illustreer dat Afrikaners, in hulle strewe om hul eie verlede met ’n toekoms in die land te versoen, oor die potensiaal beskik om ware brugbouers te wees en medeargitekte te word van ’n nierassige toekoms. Brugbouers bied waardevolle lesse vir elkeen wat ernstig is oor aktiewe burgerskap en sinvolle transformasie in Suid-Afrika.
‘Met die middagson kom die lugspieëlings wat aan die vallei sy naam gegee het: Deception Valley. Dan skuil alles wat asemhaal in die koelte van ’n matjarra, rug na die wind gedraai. In die lang geelwit gras lê die leeus uitgestrek en slaap. Net die vlakvarke draf stertorent nader vir ’n modderbad.’ Annelize Slabbert was ’n joernalis in Johannesburg en haar man, Gerard, ’n apteker. Stedelinge. Toe word hulle moeg vir die lewe in die stad, die spitsverkeer, die gebrek aan stilte en sterre. En hulle volg die krom wandelpad na Die Droom van ’n landelike idille met skape en groen gras. Tot, uiteindelik, in die son en sand van die Sentraal-Kalahari in Botswana waar hulle ’n vierster-lodge bestuur. Wat kan dan nou verkeerd loop? 'n Ware verhaal, uitstekend vertel, skreeusnaaks en aangrypend.
In haar bykans 35 jaar het Shéri Brynard merkwaardige mylpale bereik ten spyte van die feit dat sy as baba met Trisomie-21-Downsindroom gediagnoseer is. Sy vertel hoe die liefde en aanvaarding van diegene naaste aan haar, veral haar ma, Susette, haar gevorm het. Sy deel met die leser die opwindende avonture op haar pad, die seerkry, vrees, en verliese (die grootste hiervan die dood van haar pa, Jerry), asook die werklikhede waarmee sy as ’n volwassene met Downsindroom gekonfronteer word. Dan gesels haar ma oor ’n lewe in die skaduwee van ’n kind met Downsindroom. Sy deel openhartig haar geloofstryd toe sy gehoor het haar kind het Downsindroom en haar en haar dogter se reis die onbekende in. Shéri – Nes ek is is ’n boek wat grense verskuif, want soos Shéri tereg vra: “Wat is nou eintlik normaal?” Dié boek herinner die leser juis dat ons as kinders van God elkeen ons volle potensiaal kan bereik, ongeag die uitdagings waarvoor ons te staan kom.
Twaalf ongelooflike vroue wat ’n verskil maak tussen die bendes, die werkloosheid en die koeëls. Atlantis is steeds die verlore stad, maar hierdie twaalf vroue se verhale inspireer. Hulle het besluit om nie moed op te gee nie. Hulle stories is dié van moed, optimisme en inspirasie. Dit is ’n moetlees vir almal wat glo dat liefde en geloof ’n verskil kán maak. Atlantis aan die Weskus was die breinkind van ’n vorige regering se “desentralisasiebeleid” – maar is tans die toonvenster van ontheemding. Uit hierdie wanhoop, brand dié twaalf vroue se stories soos fakkelligte in ’n lang, donker nag. Hulle is: Francis Brown, Mary-Ann Cedras, Chrissie Cloete, Mandy Jonker, Christine Lewis, Sylvia Losper, Lenie Maya, Carol Muller, Sillene Oppel, Olivia Pharo, Mary Tenggren en Rachael Watson.
Piet Matipa is jonk, swart, gay en Afrikaans. Sy rubrieke in Beeld is baie gewild omdat dit aan ’n sonderlinge lewensuitkyk uitdrukking gee. Hy praat vanuit ’n perspektief wat jy nie sommer in Suid-Afrika kry nie. Sy siening van die wêreld is gevorm deur interessante bestemmings waar sy lewenspad aangedoen het. As skolier aan Hoërskool Waterkloof en student aan die Pukke het Piet uitgeblink. Sy skryftande is geslyp as joernalis in Beeld se misdaadkantoor en as sepieskrywer vir 7de Laan , waar hy steeds werksaam is. Nie sleg vir iemand wat in ’n kinderhuis grootgeword het nie! Afrikaans het sy lê op ’n unieke manier in Piet se mond gekry. En vir één ding deins hy nie terug nie: dit is om sy mond verby te praat. In Dwarsklap laat Piet hom uit oor aangeleenthede wat alle Suid-Afrikaners raak. Misdaad en taxi-bestuurders is groot klippe in die skoen. Wenke oor gewigsverlies word gegee, en ook hoe om ’n ontkleedanser by ’n henneparty te kry. En oor liefdesavonture kan jy vir Piet min vertel, veral wanneer sosiale media betrokke is. ’n Hoogs vermaaklike boek wat die donkerte van die lewe in ligte skakerings laat glim.
Jan Smuts, een van die bekendste Suid-Afrikaners van die twintigste eeu, bly 'n omstrede figuur. Was hy een van die uitstaande staatsmanne van sy tyd of dalk 'n verraaier van Afrikanerbelange en moontlik 'n rassis? In hierdie boek word generaal J.C. Smuts herwaardeer. Smuts se rol as intellektueel (onder meer vader van holisme), militere strateeg (hy het 'n leidende rol tydens drie oorloe gespeel), politikus (vir 'n halwe eeu in die "era van die generaals" was hy prominent) en staatsman (hy was 'n dryfkrag agter die vorming van die Unie van Suid-Afrika, die Britse Statebond, die Volkebond en die Verenigde Nasies) word beoordeel. Altesaam 20 outeurs het help skryf. Soos Paul Kruger aan die einde van die 19de eeu en Nelson Mandela aan die einde van die 20ste eeu, het Jan Smuts in die eerste helfte van die 20ste eeu bo sy tydgenote uitgetroon as 'n leier van buitengewone formaat. Sy staatsmanskap is internasionaal gehuldig. Tog het die NP- en ANC-regerings sy bydraes vir dekades lank onderspeel, omdat dit nie hul Afrikaner- en swart nasionalistiese weergawes van die Suid-Afrikaanse geskiedenis onderskraag het nie. Dit was hoofsaaklik Engelssprekende skrywers, Suid-Afrikaners en buitelanders, wat Smuts se gedagtenis in stand gehou het. 'n Herwaardering van Smuts vanuit 'n Afrikaanse gesigspunt sal dus 'n leemte in die literatuur oor die geskiedenis van Suid-Afrika in die eerste helfte van die 20ste eeu vul. Vandag het ons 'n beter perspektief op sy bydraes binne die historiese konteks van sy tyd. Nuwe getuienis wat voortdurend aan die lig kom, maak dit ook moontlik om 'n meer ingeligte opinie te formuleer oor vrae rondom Smuts.
Meer as ’n honderd jaar na die laaste skote in die Anglo-Boereoorlog geklap het, word genl. Christiaan de Wet steeds bewonder as onverbiddelike bittereinder, die held wat tot die einde toe volhard het. Sy jonger broer, Piet, word onthou as die joiner. In Broedertwis probeer Albert Blake verstaan waarom hulle lynreg in stryd met mekaar gekom het. Wie was reg? Christiaan, wat ten alle koste die vryheidstryd wou voer, of Piet, wat ’n einde aan die smart en lyding van die oorlog wou bring?
Regardt se lewe het glad nie naby God begin het nie, maar hy het beslis die pad na Hom gevind. Hy vertel van sy vroegste kinderjare in Bez Valley tot die punt waar sy lewe op die kruin van sy loopbaan, ná ’n onverskillige lewe met drank en ’n vergeefse soeke na ’n dieper sin, heeltemal uitmekaarval. Hy het sy gesin en huis verloor, maar een oggend met ’n babelaas en trane wat oor sy wange loop ’n onvergeetlike ontmoeting met God gehad wat sy hele lewe vir goed verander het. Regardt is die merkwaardige verhaal van ’n man wat nooit sy passie vir die lewe en vir rolprente verloor het nie, maar wat op ’n swaar manier moes leer dat toewyding en gehoorsaamheid aan God die vreugde en sin bring wat hom opgewonde maak oor sy lewe. Vandag is hy gelukkig getroud met Clara Joubert. Die lig van die silwerdoek skyn weer op hom en oor sy lewe sê hy met oortuiging: “Dis nie luck nie – net genade.”
In Die Ou Met Die Snor By Die Bar vertel die superster-rapper Jack Parow van sy lewe en al sy wilde, mal avonture. Die storie begin agter die Boereworsgordyn en maak draaie in plekke soos Onrusrivier, The Lollipop Lounge in Randburg, Mitchells Plain, België, Nederland, Londen, Los Angeles, Hollywood en Moskou. Daar is sappige staaltjies oor wilde partytjies, warm bokkies, dodgy plekke, trance-paarties en avonture in jacuzzi’s, en hy lig ook die sluier oor sy ervarings met onder andere rofstoeiers, skoonheidskoninginne, polisiemanne, hipsters in nagklubs, ’n sanger wat hom wou bliksem, ooms wat hom van verhoë gegooi wil hê en ’n stewige tannie wat met ’n krieketkolf op hom afstorm. Parow beantwoord ook taai vrae wat al deur mense aan hom gevra is, soos: Is dit waar wat hulle sê van ’n man met ’n lang pet? En: Hoe kry jy dit reg om jou snor so te hou dat girls dit onweerstaanbaar vind? Hy vertel die stories agter sy gewildste songs en draai nie doekies om oor wat hy van ’n klomp goed dink nie, soos die ‘ou’ Afrikaans en die ‘nuwe’ Afrikaans, die lewe in Suid-Afrika en wat dit regtig beteken om ’n rapper te wees. Die boek bevat ook die lirieke van baie van sy treffers en talle foto’s wat nog nooit voorheen gesien is nie.
Koos Kombuis se outobiografie het al meer as tien drukke beleef. Hierdie heruitgawe verskyn op openbare aandrang. Sy ganse lewensverhaal, Koos se manier om homself te versoen met sy verlede. Hy vertel van sy heel eerste openbare optrede (op die ouderdom van ongeveer vyf sekondes), van sy jeugjare as hedonis, van die paradokse & die pyn, van hoe lekker die lewe nou vir hom is, van die goue jare wat nog voorlê . . . O ja, natuurlik ook van die seks & drugs & boeremusiek wat al sy pad gekruis het.
Jaun Truter was 'n gangster in die ergste graad: Noem dit maar: Dwelms, aanranding, afpersing, en betrokkenheid by die Russiese mafia in Kaapstad. God gryp in op sy lewe op 'n baie tasbare en hoorbare manier en Jaun gaan tronk toe. Hier leer hy om van voor af te begin... Hierdie is 'n aangrypende verhaal van God se beskermende hand en hoe Hy nie sy kinders laat gaan nie.
Errol Tobias se verkiesing tot Springbok was onmiddelik omstrede. In 1980 word hy ons eerste swart Springbok rugbyspeler – te midde van internasionale sport-isolasie en groeiende protes weens die regeringsbeleid. In Errol Tobias: Suiwer Goud vertel hy openhartig van sy sportloopbaan: vanaf kindsbeen tot met die groot oomblikke in die groen-en-goud, die vreugdes, die verlies, en die omstredenheid. Die waarheid agter legendariese rugbywedstryde word onthul, soos die Suid-Amerikaanse toer waar Tobias ’n rekord gebreek het, en die rampspoedige Nieu-Seeland-toer waar protesaksie teen die Springbokspan oorweldigend geword het. Hy skryf oor sy hegte vriendskap met Springboklegende Rob Louw, en die onwrikbare ondersteuning van Danie ‘Dok’ Craven. Hier is ook Tobias se opinie oor vandag se kwotastelsels. Baie ander mense het al hul opinie oor Errol Tobias en sy rol in Suid-Afrikaanse rugby gelewer. Hier is sý kant van die saak.
Gebasseer op ‘n ware verhaal van geloof en oorwinning. As 16-jarige vlug Engela na Bloemfontein, want die leier van die Sataniese Groep 13 wil haar doodmaak. Haar paaie kruis met dié van Pieter, ʼn vriend van haar broer, wat haar aan ʼn bordeel-eienaar uitlewer as betaling vir die geld wat hy hom skuld. Na ʼn haglike en armoedige kinderlewe raak Engela as rebelse tiener deurmekaar met Satanisme, drank en dwelms en word uiteindelik as seksslaaf aangehou. Haar enigste begeerte is om te ontsnap, maar hoe? Elke aand word die klub se deure dig gesluit. Haar laaste kans op vryheid is die jong student, Jacques, wat in die ontvangslokaal van die klub werk. Maar dan verdwyn hy ook uit die prentjie na ʼn raaiselagtige ongeluk in die Drakensberge. Van Skoolbank Tot Bordeelbed is ʼn spanningsroman deur Jaco Hough-Coetzee, gebaseer op die aangrypende lewensverhaal van Elanie Kruger. In die tweede gedeelte van die boek gesels Elanie self met die leser oor haar bittere ervarings. Sy vertel hoe sy haar gevoelens van verlorendheid, alleenheid, pyn en vernedering vanuit ʼn Christelike perspektief leer hanteer het. Sy reik uit na ander gewese seksslagoffers en moedig hulle aan om hul harte uit te stort om emosionele genesing mee te bring. Sy praat oor die krag van vergifnis en aanvaarding, en gee ook lewensbelangrike praktiese wenke aan ouers en kinders.
Dit het die land geruk, die wêreld geboei en sal in die geskiedenis bekendstaan as die opspraakwekkendste hofsaak tot nog toe in Suid-Afrika. Oscar Pistorius se moordverhoor is die storie van die dekade. Dis ’n liefdesverhaal wat ’n misdaadriller geword het, ’n sprokie wat in bloed geëindig het. En dís hoe Marida Fitzpatrick die verhaal vertel. Sy weef die skrikwekkende gebeure van daardie noodlottige nag en die mees dramatiese hoofstukke van die verhoor op só ’n manier ineen dat dit soos ’n spanningsverhaal lees. Tussendeur dié boeiende vertelling is uittreksels uit onderhoude wat Fitzpatrick met van die betrokkenes se naastes gevoer het. Saam met al die menslike vertellings verskyn daar ook ’n interessante ontrafeling van die tegniese aspekte van die verhoor: Wat het die ballistiek, die getuienis oor die gille en Oscar se twee verwere uiteindelik vir hom beteken? Dit word alles geïllustreer met treffende foto’s wat op die toneel geneem is en grafiese voorstellings. Die Staat vs. Oscar is ’n fassinerende storie wat nie net al die legkaartstukke van die Oscar-raaisel in plek laat val nie, maar deurentyd aangryp en meesleur.
Al is die Nobelpryswenner J.M. Coetzee wereldwyd as romanskrywer en letterkundige bekend, was daar nog geen omvattende biografie oor hom nie. Vir J.M. Coetzee: 'n Geskryfde Lewe het J.C. Kannemeyer, wat veral vir sy Afrikaanse literatuurgeskiedenis in twee dele asook verskeie biografiee van Afrikaanse skrywers bekend is, die samewerking van Coetzee self gehad. Coetzee het onderhoude aan hom toegestaan, en Kannemeyer met familielede, vriende en kollegas in aanraking gebring. Coetzee het hom ook toegang tot 'n aansienlike aantal dokumente in sy private besit gegee. Voorts het Kannemeyer die geweldig omvattende literatuur oor Coetzee bestudeer en op inligting afgekom wat nie tevore ontgin is nie. Kannemeyer het hierdie biografie voor sy skielike heengaan op 25 Desember 2011 voltooi, en Michiel Heyns het dit uit Afrikaans in Engels vertaal. Die boek is 'n reis deur Coetzee se lewe, en begin met 'n ondersoek na sy geslagsregister. Daarna kom sy kinderjare in Kaapstad en Worcester onder die loep. Na 'n beskrywing van sy skooljare word sy loopbaan, van sy studentejare aan die Universiteit van Kaapstad en sy tyd as rekenaarprogrammeerder in Brittanje, uitgele. Hierna het hy sy doktorsgraad aan die Universiteit van Texas in Austin verwerf, en daarna was hy drie jaar lank 'n lektor aan die New Yorkse Staatsuniversiteit in Buffalo. Sy deelname aan vreedsame versetoptrede teen die teenwoordigheid van die polisie op die Buffalo-kampus het daarop uitgeloop dat sy aansoek om 'n visum vir verdere verblyf in daardie land geweier is, en hy moes na sy geboorteland terugkeer. Met sy terugkeer in 1971 is Coetzee as lektor in Engels aan die Universiteit van Kaapstad aangestel, en vir die volgende dertig jaar het hy 'n vermaarde akademiese loopbaan geniet. Onder meer was hy besoekende hoogleraar aan universiteite in die Verenigde State, en het hy ook talle lesings en voorlesings by 'n groot verskeidenheid konferensies en instellings gelewer. Sy eerste roman, Dusklands, het in 1974 verskyn, en is gevolg deur etlike romans wat hom as 'n vooraanstaande romanskrywer in Engels gevestig het. Vir die eerste keer openbaar hierdie biografie inligting oor 'n outeur wat nie net by uitsondering onderhoude aan joernaliste toestaan nie, maar ook baie swygsaam oor sy private lewe is. Die biograaf het 'n geleentheid gekry om talle wanopvattings wat steeds bestaan, reg te stel, en inligting te voorsien wat lig op die ontstaan en implikasies van die romans werp. Die biografie is in wese 'n onontbeerlike bron vir almal wat hulle met die werk van J.M. Coetzee bemoei.
Die gevierde Springbok-rugbyheld Joost van der Westhuizen en sy vrou, die sangeres Amor Vittone, was ’n glansryke paartjie wat die verbeelding van menige Suid-Afrikaner aangegryp het. Hulle het as hul land se eie “Posh en Becks” bekend gestaan en was geseënd met sukses, roem, ophemeling deur die publiek, en ’n oënskynlik gelukkige huwelik. Totdat ’n skokberig oor ’n seksvideo op die voorblad van ’n plaaslike Sondagkoerant verskyn het … In hierdie boek vertel Gavin Prins, die welbekende joernalis en ’n persoonlike vriend en vertroueling van die Van der Westhuizens, nou die storie agter die storie – die een wat nog nooit tevore gepubliseer is nie. Prins, wat die seksvideo-skandaal op die voorblad van Rapport bekend gemaak het, beskryf hoe ’n eenvoudige plaasseun wat ’n nasionale rugbyheld geword het, sy droomvrou ontmoet en met haar getrou het – en toe op die mees openbare en vernederende manier in ongenade geval het. Sy bekentenis het ’n sekere mate van bevryding meegebring – totdat ’n lewensgevaarlike siekte hom op sy knieë gedwing het … Hierdie kragtige vertelling, wat dikwels skokkend maar uiteindelik opheffend is, is die ware verhaal agter die opspraakwekkende opskrifte wat Suid-Afrika se bekendste paartjie geteister het. |
You may like...
Neuroscience and Law - Complicated…
Antonio D'Aloia, Maria Chiara Errigo
Hardcover
R5,961
Discovery Miles 59 610
The Crime of Aggression in International…
Sergey Sayapin
Hardcover
Legacies of the International Criminal…
Carsten Stahn, Carmel Agius, …
Hardcover
R3,626
Discovery Miles 36 260
Reclaiming Justice - The International…
Sanja Kutnjak Ivkovich, John Hagan
Hardcover
R3,272
Discovery Miles 32 720
Crafting Transnational Policing - Police…
Andrew Goldsmith, James Sheptycki
Hardcover
R3,364
Discovery Miles 33 640
Individual Criminal Responsibility for…
Laura Ausserladscheider Jonas
Hardcover
R3,670
Discovery Miles 36 700
|