![]() |
![]() |
Your cart is empty |
||
Books > Fiction > Local Fiction
Komies, hartroerend, meditatief, verruimend! Hierdie kick-ass roman bied ’n priemende blik op twee parallelle reise: ’n man en ’n vrou elk op soek na die oorsake van ’n broer en ’n suster se ondergang. Na ’n onthutsende oproep van ene Josias Brandt, vertrek Karl Hofmeyr teësinnig om sy broer, Iggy, wie se kop skynbaar uitgehaak het, te hulp te snel. Karl – heavy-metal-fan de luxe – se reis word vertraag deur sy obsessies wat hom in verskillende situasies lelik kniehalter. Maria Volschenk word op ’n dag oorval deur ’n groot leegte. Sy reis na die Wes-Kaap op ’n sending waarteen sy lankal opsien, in ’n poging om hierdie beleërende leegte af te weer. Die twee verhaallyne vloei saam op ’n onwaarskynlike stadsplaas iewers in Kaapstad, waar die broer, Ignatius Hofmeyr, in ’n bitter tweestryd met die onpeilbare Brandt-kêrel gewikkel is.
Katryn Jonis staan in die Kaapse Hooggeregshof tereg op aanklag van moord. Die oorledene is die seun van haar aartsvyand, Abraham Klink. Sonder advokaat of ooggetuies, met al die omstandigheidsgetuienis teen haar, moet Katryn voor die halsregter veg vir haar lewe. Sy het net één wapen tot haar beskikking: dat sy die waarheid praat, so heilig en so waar as wat net die waarheid kan wees.
Vertel vanuit die perspektief van drie opeenvolgende generasies vroue. Hulle lewe in spanning, tussen weggaan en moet bly, en tussen vergeet en móét onthou, omdat onthou die enigste skakel is wat hulle nog met die oerbron van hul bestaan verbind. Dié skakel in die verhaal word verskaf deur Colette Cronjé, die oudste van die vroue wat as 't ware na die oorsprong teruggedwing word wanneer sy uit die bloute van haar kleindogter, Tina, 'n brief ontvang. Deur dié onverwagse kontak begin Colette onthou, en sy begin vertel, want Tina is op die spoor van die familiegeskiedenis - en onderweg na Portugal, waar alles begin het. 'n Leeftyd lank het Colette dit reggekry om daardie vroeë episode te verdring. Nou word sy gedwing om dit wat sy destyds so jubelend in haar joernaal beskryf het, opnuut in herinnering te roep. Sy word weer gekonfronteer deur Tina se biologiese ma, haar dogter, se desperate verset teen haar herkoms, haar kultuur, die land se politieke bestel. En dit ruk haar terug na die omstandighede wat haar jare gelede alle kontak met haar kleinkind ontneem het. Wanneer haar ouers kort na mekaar sterf, spoor Tina haar bejaarde ouma op en laat haar vertel: Van Portugal. Van haar dogter, Nina, wie se verset so ver gestrek het dat sy haar kind laat aanneem het en alleen oorsee is om te sterf. En die verhaal wat sy hoor, laat Tina besluit om terug te loop op die spore . . . in die hoop om haar herkoms op sy felste te belig. Die blou van onthou is deels 'n Afrikanergeskiedenis, deels die geskiedenis van 'n bepaalde familie. Marita van der Vyver laat jou vir hierdie familie soveel omgee dat hulle geskiedenis ten slotte voel soos jou eie - deur nuwe oë gesien.
Philida is gebaseer op historiese werklikheid en sluit wat tema en tydperk betref aan by een van Brink se vroeër romans, Houd-den-bek. Philida was ’n slavin wat tussen 1820 en 1835 op die plaas Zandvliet in die Drakenstein-distrik gewoon het. (Die plaas wat vandag bekend is as Solms Delta). Sy het ’n paar kinders gehad by Frans, die seun van Cornelis Brink, die eienaar van die plaas. Maar toe besluit Cornelis dat Frans met die dogter van ’n ryk Kaapse familie moet trou en dat dit beter is om Philida en haar kinders te verkoop. Die roman begin waar Philida by die drostdy op Stellenbosch ’n klag teen haar baas gaan lê, ongehoorde optrede vir ’n slawevrou, optrede wat haar duur te staan kom: Philida en haar kinders word in 1833 deur Brink op ’n slaweveiling op Worcester verkoop. Die Britse regering stel kort daarna die slawe vry, maar Philida is vir vier jaar by haar nuwe eienaar, Meester de la Bat, ingeboek. Die swaarkry en vernedering van baie jare het Philida egter gebrei en op ’n dag eien sy vir haarself vryheid toe. Saam met die Moslem-slaaf, Labyn, trek sy deur die barre Karoo na die verre Gariep – “die grote Gariep: hy is die hele land en die hele wêreld …die rivier in onse binneste. My Gariep…” dink Philida. “Hier in sy nabyte is ons almal saam.” Philida is ’n versetsroman – maar dit is ook ’n bevrydingsroman. Dit demonstreer wat vryheid beteken, en óók wat aan die kern van baasskap lê. En alhoewel daar onthutsende tonele is, is daar ook oomblikke van teerheid en humor. En boweal, die stem van ’n meesterverteller. ’n Interessante aspek van die roman is dat Brink gebruik maak van geskiedkundige feite wat een van sy voorsate insluit.
Dis waar dit geëindig het, toe die trekker se wiel Klara se pa papgedruk het. Toe hulle ná haar pa se dood van Boplaas moes weg en in die wit lokasie gaan woon, toe was alles verby. En dit was nog lank voordat al agt die kinders gebore is wat die agt knope in Klara se naelstring voorspel het. Maar verby was die tyd dat Klara die dae onder die wilgerboom op die damwal langs die lusernland kon omdroom, of met rooi koeldrank en koekies voor die stoof kon sit en luister na Polla se stories oor waar die bul vir oom Slap Soois geskop het. Boplaas het hulle afgeskud. Of so het Klara gedink. Maar die waarheid is dat Boplaas nie klaar was met haar nie. Haar susters kon wegkom – Leen met haar oneerbiedigheid en Martie deur met ’n halwe Duitser te trou en landuit te vlug – maar nie sy nie. Iemand moes omsien na Ma wie se kop heeltemal uitgehaak het, en iemand moes help om Ma se fratskind, Henk, deur matriek te sien, en daarby moes Klara ook nog haar eie geleerdheid kry. Eers toe die ding met Dries, Boplaas se erfgenaam, op die rotse loop, was dit asof Klara haar kon losmaak van haar verlede. Maar dit is juis toe sy uiteindelik weggaan dat sy agterkom hoe onlosmaaklik sy verstrengel is met daardie plaas en sy mense. Klara is ’n verhaal met ’n onweerstaanbare aardsheid. Snaaks én hartverskeurend. Dis nie aldag dat ’n mens jou so kan verlustig in die vreemde draaie wat die lewe gooi nie.
Terwyl die 17-jarige Marta se pa in haar arms sterf, vra hy haar om na haar ma om te sien. Sy vertolk hierdie belofte letterlik en verlaat die skool. Marta verwerf 'n diploma in haarkappery en begin 'n haarsalon in haar tuisdorp, sodat sy haar ma kan versorg. Mettertyd kring haar dienslewering wyer uit: na die ouetehuis in Lambertsbaai en werk by die kerk. Sy en haar Ma het 'n roetine van Bybellees en bid in die aand, maar dis net nog 'n plig en hul gebede steek vas by afgerammelde rympies. Sy neem haar kort-kort voor om haar lewe beter in te rig, maar dit gebeur nie. Eendag word dit alles te veel vir haar - die dag toe haar blinde bewondering vir Deon Swanepoel haar in groot verleentheid bring. Dit is Marta se verhaal en hoe sy uit 'n web van pligpleging, onderdrukking, skewe waardes en onmoontlike drome bevry word. Hierdie treffende verhaal van onvervulde drome, leë werke en liefdelose pligplegings wat geen bevrediging bring nie, maar net hartseer en verwyte, wys dat alles omgedraai kan word wanneer mense tyd maak vir Jesus. Deur sy vergifnis en sy liefde te aanvaar, kan jy met dankbaarheid die toekoms tegemoet gaan.
’n Huisroof loop skeef in ’n miljoenêrsbuurt van Stellenbosch. Die slagoffer, ’n aantreklike rooikopvrou, se vernielde lyk word ná skool deur haar kinders ontdek. Kaptein Albertus Markus Beeslaar besoek dié pragtige Bolandse dorp van gewels, geld en wyn en word teen sy sin betrek by die moordondersoek. Saam met die formidabele luitenant Vuyukazi “Vuvu” Quebeca word elke kultuur- en geldklip in dié “fraai” dorp omgedop op soek na die moordenaar. Eenduisend-vyfhonderd kilometer noord van Beeslaar beland sersant Johannes Ghaap in Soweto – ’n lewensgevaarlike plek vir buitestanders . . . soos Ghaap. Maar daar’s nie tyd om behoorlik ingebreek te raak nie, want Ghaap moet gaan soek na ’n vrou en haar kind wat in ’n motorkaping ontvoer is en iewers in hierdie vreemde plek van miljoene sinkhuisies aangehou word. In die proses moet hy ’n bose sangoma genaamd The Father aandurf, ’n man met so ’n wrede reputasie dat die meeste mense glo hy is ’n blote versinsel . . .
Op 'n verlate grondpad in Limpopo druk hulle die reuse Smith & Wesson Model 500 teen Lemmer die lyfwag se kop en vra: 'Waar is dit?' Hy weet nie. Hulle belieg en bedrieg hom, steel sy Glock, die een met sy vingerafdrukke daarop. Hulle ken hom nie; hulle gaan betaal. Hulle gaan 'n spoor trap wat wyd sal loop: 'n Bloedspoor deur die eerste dossier van Mat Joubert, deesdae privaat ondersoeker, wat moet soek na Danie Flint, 'n 'goeie man' wat reg langs die Table View-polisiestasie verdwyn het. 'n Geweldspoor deur die bestaan van Milla Strachan, verloopte huisvrou, eers so salig onbewus van die newelwereld van georganiseerde misdaad en terrorisme om haar. 'n Doodspoor, van die Chizarira tot by die Kaapse Waterkant. En aan die einde daarvan sal niemand meer dieselfde wees nie. |
![]() ![]() You may like...
Library Services in the Knowledge Web
Mahapatra Veeranjaneyulu
Hardcover
R2,664
Discovery Miles 26 640
Practising Strategy - A Southern African…
Peet Venter, Tersia Botha
Paperback
![]() R755 Discovery Miles 7 550
|