![]() |
Welcome to Loot.co.za!
Sign in / Register |Wishlists & Gift Vouchers |Help | Advanced search
|
Your cart is empty |
||
|
Books > Promotion > Women's Month > Afrikaans
Met Low Carb is Lekker Drie sit Inè Reynierse die reis voort wat sy in 2015 begin het toe haar bekroonde kookboek, Low Carb is Lekker, die land stormenderhand verower het. Inè se resepte voorsien in die behoefte vir koolhidraatbewuste, suikervrye en graanvrye maaltye, maar plaas die klem op hoër voedingswaarde en gesonde eetgewoontes. Vir haar geregte het jy nie spesialiteitsbestanddele of duur kosplaasvervangers nodig nie. Omdat sy op ’n klein Bolandse dorp woon, het sy geleer om kreatief te wees met wat sy byderhand het: vleis en suiwel van goeie gehalte, en die varsste groente en kruie. Haar slaaisouse, doopsouse, souse en glutenvrye meelmengsels vorm die grondslag van ’n voortreike verskeidenheid resepte vir van ontbyt tot aandete en van weekdaggesinsmaaltye tot naweek-onthaalkos. Danksy haar fokus op die verbetering van algemene gesondheid en welstand is Inè se resepte ideaal vir enigeen wat elke dag van die week goeie kos op die tafel wil sit.
"Die resepte in hierdie boek het ek fyn uitgekies. Dit is kos wat ék sien as onthoukos." Marinda se koskas maak voorsiening vir ontbyt, sop en voorgeregte, brood en beskuit, slaai, seekos, vleis, groente, pasta en bygeregte, nageregte, terte, koeke en ander soetigheid. Lipleklekker kos wat jy in ’n japtrap kan berei sonder fieterjasies of vreemde bestanddele. Die resepte is in eenvoudige taal geskryf vir elke dag se gebruik, vir elke kosliefhebber. Nou kan jy die gewilde aanbieder van Marinda Kook op VIA, se eerste kookboek geniet.
Speurder-kaptein Alek Strauss van die FSO word saam met sy span uitgeroep na ’n raaiselagtige moordtoneel. Die liggaam van ’n vrou is in ’n afgeleë bouval in Pretoria-Oos gevind. Advokaat Lynn Rawlins is skynbaar verwurg. Teen die muur staan in bloed geskrywe: Sprich nichts Böses. Doktor Nadiya Patel, forensiese sielkundige, is vas oortuig die moordenaar se modus operandi is ’n waarskuwing dat nog lewens in gevaar is. ’n Meesleurende spanningsroman deur Marie Lotz, die skrywer van Roofdier.
Die lugbraaier is ’n veelsydige kombuistoestel wat toenemend gewild raak. Baie mense gebruik lugbraaiers net om voorafbereide kos soos krummellaaghoender of bevrore vis en aartappelskyfies gaar te maak, maar dit kan ook vir talle uithalergeregte, selfs gebak, ingespan word. Die boek fokus op ou bekende gunstelinge soos malvapoeding, bobotie, appelkoos-snoek met soetpatats, melktert en boerewors met chakalaka, om net ’n paar te noem. Alles word in die lugbraaier gaargemaak.
Topverkoperskrywer Louisa Holst weet wat die lugbraaiermark wil hê en het weer plaaslike geure na vore gebring! Resepte sluit in springbokkie-kaaskoek, brandewyn-en-coke-hoendervlerkies, snoek- en appelkoosfilo-samosas, en 'n visvinger-Gatsby vir die honger kinders wat hulle self kan opslaan. Peri-peri-hoenderpastei, gammon (ja – dit kan in die lugbraaier gedoen word), gebraaide lam, karringmelkbeskuit, pavlova en mini-vrugtekoeke is nog meer van die watertand geregte in die boek.
Speurder-sersant Luna Joubert van die Stellenbosch polisiediens word gestuur om die eienaardige dubbele moord op die eienaar van ’n kwekery en sy vrou te ondersoek. Die De Winters is beide met ’n skerp voorwerp aangeval, maar daar was geen teken van ‘n struweling of enige getuies om sin te maak van die voorval nie. Terwyl Luna sukkel om ’n moord sonder verdagtes of leidrade op te los, maak Mike Grant weer sy onverwagte verskyning. Hierdie keer is hy op ’n geheime sending onder die geledere van ’n plaaslike dwelmsindikaat. Ten spyte van sy nuwe voorkoms vind Luna dit onmoontlik om nie die deur oop te maak wanneer hy klop nie. Soos Mike homself in die onderwêreld ingrawe, begin Luna op tone trap om haar eie raaisel op te los. Was die De Winters wie almal dink hulle was? Weet die kinders dalk meer as wat hulle voorgee? Wat gaan aan by die studentehuis oorkant die straat? En wie is die man in die sportmotor wat so op die buitewyke van haar ondersoek beweeg? Om antwoorde te kry sal Luna die donkerte en als wat daarin skuil moet trotseer. Bloedbande is die vierdie boek in Jeanette Stals se Luna Joubert-reeks.
Speuradjudant Storm van der Merwe is terug vir die grootste uitdaging van haar loopbaan. Al is sy steeds besig om haar pa se dood twee jaar tevore te verwerk. Intussen hou Hermanus ’n eerste skrywersfees. Deel van Storm se afgesaagde verpligtinge is om by die gemeenskapsaal kywie te hou voor die laaste Covid-regulasies uiteindelik opgehef word. Maar toe daag Isa du Bois, die sterskrywer van die dorp, nie op vir haar sessie nie. Haar liggaam word dieselfde oggend nog in Kwaaiwater se Mosselrivier gevind. Vier en twintig uur later kom ’n visterman af op nóg ’n lyk – weer ’n vrou, dié keer jonk en swart. En dan is daar ’n derde slagoffer, ’n belangrike kulturele rolspeler op die dorp. Drie dae, drie vroue. Hoekom drie, hoekom hierdie drie? Storm is so toegegooi onder werk, sy is skoon bly oor oudkollega Andreas Moerdyk se knaende aanbod om haar te help. En al sukkel sy om dit aan haarself te erken, is dit nogals lekker om ’n slag weer spanmaats te wees . . .
Jou diepste vrees is sy grootste begeerte... Geen lang naels nie. Geen skoenveters nie. Dit is maar enkele van die reëls in die Molenberg-Psigiatriese hospitaal. Selfmoord is ʼn inwoner hier, en die pasiënte word as psigopate bestempel. Dominique du Randt word in Molenberg opgeneem ná haar ma se wrede moord. Niemand glo dat sy nie verantwoordelik is vir haar ma se dood nie. Niemand glo dat sy deur ʼn man agtervolg is wat homself die Bewonderaar noem nie. Haar sielkundige, Martin, het wel sy bedenkinge. Daarom dat hy sy eie speurwerk doen. Wat Martin ontdek, is die Ophelia-klub. ’n Plek van grusame geheime, fantasieë en donker vergrype. Wanneer een van die vroulike pasiënte in Molenberg-Psigiatriese hospitaal verdwyn, is Dominique oortuig die Bewonderaar weet presies waar sy is. Hy is, soos voorheen, weer in beheer van dié skrikwekkende spel. Maar hoe beskerm jy jouself in ’n plek soos Molenberg? Hier waar niemand jou glo en jy geen vryheid of beheer het nie?
Liefdeskortverhale deur 27 bekende Afrikaanse skrywers om jou naweek op ’n romantiese noot mee te begin. Laat die week en sy gewoel agter met dié stories uit die pen van Juanita Aggenbach, Bernette Bergenthuin, Henk Breytenbach, Malene Breytenbach, Alma Carstens, Alta Cloete, Leona Conradie, Trisa Hugo, Madelie Human, Jaco Jacobs, Anzil Kulsen, Kristel Loots, Cliffordene Norton, Susan Olivier, Didi Potgieter, Gerrit Rautenbach, Felicia Snyman, Cecilia Steyn, Dibi Symington, Louise van der Merwer, Santie van der Merwe, Nanette van Rooyen, Frenette van Wyk, Antoinette Venter, Louise Viljoen, Magdaleen Walters en Elsa Winckler.
Na ’n huwelik van twaalf jaar wat sy aan Gerhardus se magsbeheptheid en seksuele sadisme onderwerp was, het Maria genoeg gehad. Op 10 April 2022 verlaat sy die Baai met net haar handsak, ’n koff er en haar viool in die kar. Sy wil die deur fi naal toetrek op ’n lewe van aftakeling, perversie en die dreigemente waarmee Gerhardus haar sedert hul egskeiding aanhou teister. Nie eens haar ma, Selina, weet waarheen Maria op pad is om ’n nuwe begin te maak nie. Die enigste mens wat van haar planne bewus is, is Lukas Delport, eienaar van Matoli Meadow, ’n gastehuis op ’n plaas in die Maclear-distrik waar Maria haar voete as bestuurder gaan vind. Maar binne minute nadat sy op die plaas aankom, tref die godsverskrikkende wete haar dat al die jare saam met Gerhardus net ’n leerskool was om haar voor te berei op hierdie dag van ontgogeling. Hier, in ’n donker kelder, gekatvis deur ’n gewetenlose bedrieër, is elke oorlewingsminuut suiwer grasie.
Bart, die aantreklikste ou in haar matriekklas, soen Esli uit haar vel. Vir meer as veertig jaar deel hulle hul lewens, maak saam kinders groot en sien om na vriende en familie. Jaarliks vier hulle Kersfees in Kleinmond met geskenke en trifle en stappies langs die see met hul worshond. Maar hoekom val Bart se broer uit ’n boom voor Esli se ouerhuis? En watter donker geheim is onderliggend aan Bart se ma se vreemde gedrag en onfatsoenlike grappe? Wat dink kollegas van Esli se haarstyleksperimente en panda-oë? Verdien sy om in die spaarkamer te skuil omdat sy, volgens Bart, aand na aand die kos brand en die hond se pote laat nat word as dit reën? In So Lyk ’n Vrou vertel Ilse Verster van Esli se heelwording en hoe sy, ná ’n leeftyd van mishandeling, in ’n rooi rok op die strand kon staan met een vuis in die lug en vry kon voel. Sy gee stem aan ’n stukkende vrou wat net wil hê die pyn moet stop. Sy deel wat dit verg om jou teen die muur op te trek, jou teen die samelewing te handhaaf en jouself te red.
In Junie 2070 skenk die 27-jarige Jenesis Baron geboorte aan ’n tweeling in haar woonstel in Xin Xianggang, voorheen bekend as Bloemfontein. Maar swangerskap sonder ’n genetiese toestemmingspermit van die owerhede is taboe, en die pasgeborenes word deur generaal Ben Wagner uitgesnuffel en aan die MediBot oorhandig, ’n robot wat ontwerp is om ongewenste lewens te beëindig. Genadedood noem hulle dit. Want, sê die regering, daar is nie genoeg kos, water en blyplek vir almal nie. Jenesis is hartgebroke. Met haar hele hart smag sy daarna om vir Adam te vertel van die twee seuntjies wat nes hý lyk. Maar Adam is weg. Haar halsstarrige siening oor die huidige bewind en haar onvermoë om in te sien dat slegs die elite in die slimstede floreer, het hom verdryf. Vir haar bestaan gewone burgers nie, diegene wat na die buitewyke van die oorloggeteisterde ou stede uitgewerp word om van honger te sterf. Moederland bied ’n fassinerende blik op die toekoms. ’n Puik nagevorsde, aksiebelaaide riller.
Liela Oloffson se ouers is in ’n huisbrand oorlede toe sy tien jaar oud was, maar vandag het sy alles wat meeste mense begeer. Skoonheid, roem, en ’n blink loopbaan as aktrise. Maar dan verdwyn sy een Vrydagnag spoorloos en kaptein Kgomotso vra gesoute misdaadjoernalis Ami Prinsloo se hulp. Soos ’n bloedhond volg Ami Liela se spoor van waar sy laas by ’n Engen-garage in Johannesburg gesien is. Maar waarom lyk dit op die CCTV-kamera of Liela alleen van die garage wegry? Kruip Liela weg of is sy gekaap? Of dalk ontvoer? En waaroor het sy en haar verloofde so hewig baklei net voor sy verdwyn het? Die Verkeerde Vrou is die tweede boek in Irma Venter se nuwe reeks met misdaadjoernalis Ami Prinsloo as hoofkarakter. Die Verkeerde Vrou volg op Minder As Niks, maar kan ook alleen gelees word.
Emma van der Walt is ’n pastor, ’n ma en eggenoot, en ’n vrou met ’n hart vir God. Sy is ook die vreeslose stigter van die niewinsgewende organisasie, Brave to love. Daagliks betree hulle die donker wêreld van die seksbedryf en mensehandel om jong vroue uit die kloue van euwel te red. Hierdie meisies word dan met liefde en leiding ’n nuwe begin gebied. Emma en haar span werk sy-aan-sy met plaaslike en internasionale wetgewende instansies. Saam beveg hulle mensehandel en slawerny en vlek die korrupsie en ontsaglike lyding wat agter toe deure plaasvind, oop. Hierdie is haar storie en die skokkende verhale van die gelukkiges wat gered kon word om die hel van mensehandel te oorleef.
Die Kapenaars Hester Human en haar argitekman, André, het besluit om ’n verwaarloosde huis op ’n plattelandse dorp in Frankryk te koop en te restoureer as ’n vakansiehuis. ’n Jaar in Provence sal hulle en hul twee kinders, Manon en Emile, net goed doen. Maar net voordat hul jaar in Provence aanbreek, gebeur daar iets tragies wat die Humans se lewe vir altyd verander. Die huisrestourasie gaan voort, maar die gesin spartel om te verwerk wat gebeur het.
Daar is mense wie se lewens van die begin af anders verloop. Sulke mense se liefde lê nie op die gewone plekke en paaie nie, maar juis daar waar min ooit die moed sal hê om hul toekoms te gaan haal. Twalie is die enigste meisiekind onder die eksentrieke Albrechts wat in ’n dorre landskap om oorlewing veg. Hulle is ’n geharde, eenkant gesin vol geheime. Twalie se pa verwerp haar en haar ma maak haar gedurig stil. Dan red die Namavrou Letgoed haar uit ’n sandstorm en leer haar die geheime van Die Poort, wat tydens die heuningmaan ’n magiese plek word. Hier maak tyd soms ’n deur agtertoe oop … Twa die Tydloper is ’n aangrypende roman oor een mens se groei wat lesers sal meevoer en met nuwe oë na die wêreld om hulle sal laat kyk.
In 2012 verdwyn Binnelanders se geliefde Elise Kruger sonder waarskuwing van kykers se televisieskerms af. Lindie Stander, wat die rol van die vermaaklike Elise vertolk, was op die kruin van haar loopbaan toe sy in ’n bloedbevlekte bed in ’n staatshospitaal wakker word. Hier het sy besef dat sy haar rol en haar lewe soos sy dit ken, kwyt is. Lindie Stander: Agter my glimlag is die eerlike ervaring van dit wat kykers nie op skerm sien nie: die verpletterende verlies van haar pa, haar worsteling met dwelmmisbruik en rehabilitasie, ’n lewe met depressie en ’n gewonde vrou se genadelose soeke na ’n liefde wat kan heelmaak. In haar bekende, deernisvolle stem vertel Lindie haar hartverskeurende, maar hoopvolle verhaal soos net sy kan: sonder skroom en met ’n goeie skeut humor.
“Met hierdie boek wil ek almal aanmoedig om minder blinde mol en meer wyse uil te word.” Daar is ’n groot behoefte aan mense met integriteit – mense met die volledige stel goue eienskappe wat hulle veelsydige, standvastige en betroubare wyse uile maak. Mense op wie jy kan peil trek. Susan Coetzer, bekende skrywer en motiveringsspreker help jou op haar skreeusnaakse maar eerlike manier om jou eie lewe te ondersoek en seker te maak dat jy met integriteit leef.
Dit is die verhaal van ’n vrou wat haar familie in ’n terreuraanval verloor. Dit vertel van ’n gelowige wat in gehoorsaamheid leef, net sodat die mat onder haar uitgeruk kan word. Die boek sal die leser aanmoedig om die werklike koste van ons geloof te bereken, na te dink oor die karakter van God en ons identiteit as Sy kinders. Hannelie se verhaal is ’n merkwaardige getuienis van ’n lewe in geloof en die krag van vergifnis.
Stella Mertens, Mark Dejongh en Riaan Steytler probeer elkeen iets uit hul verlede wegsteek . . . maar elke geheim het ’n vervaldatum. Daar is net ’n sekere tydperk wat ’n sekere hoeveelheid mense ’n geheim kan hou. In Vuurvoël, Elmarie Viljoen-Massyn se debuutroman, word donker geheime ontrafel wanneer die oënskynlik uiteenlopende wêrelde van Big Pharma en ’n Serwiese dwelmkartel paaie kruis. ’n Hoogs leesbare roman wat getuig van puik navorsing.
Lienke en Dezi beleef die vakansie van hulle lewe in Kalkbaai. By die hotel ontmoet hulle Danroy, 'n kelner wat vakansiewerk doen, wat hulle na al die mooiste plekke in die baai vat. Hulle leer ken Danroy se "skwad" en sy geliefde Uncle Kaz. Dan is daar 'n tragedie op see wat Danroy en sy ma se lewe omkeer. Soos Uncle Kaz altyd sê: "Mens het net drie goete nodig om gelukkig te wees: iemand om lief te hê, iets om jou hande mee besig te hou, en iets om na uit te sien."
Mia Steyn is nog bloedjonk wanneer haar broer haar een laatmiddag by ’n losieshuis in Bloemfontein, aflaai. Dis toe sy ’n stowwerige boekwinkel instap dat Mia besef dis waar sy wil werk. Kort voor lank vind sy haar voete, én verloor sy haar hart. Die laaste kanariegeel notaboek is die jongste roman uit die pen van blitsverkoperskrywer Anchien Troskie. Niks is ooit soos dit lyk op die oppervlak nie, besef ’n mens weer met die lees van hierdie aangrypende storie binne 'n storie.
In Boerekos met ’n twist gee Annelien ’n kwyllekker kinkel aan die eenvoudige, voedsame huiskos wat jou ma, ouma en oumagrootjie gemaak het. Dié 140 familieresepte vir soppe, souse, groente-, vleis- en nageregte én gebak en spenstreffers is getoets, bevat g’n vreemde bestanddele nie en sit die “resep-met-’n-les”-konsep voort wat haar gelyknamige blog en Facebookblad so 'n sosialemediasukses maak. Boerekos met 'n twist kan beskryf word as 'n kompakte 21ste-eeuse Kook en Geniet vir besige mense.
Koeke en terte gee jou skreeusnaakse wenke oor die verskille tussen mans en vroue en verskillende tipe vroue. Dit is geskik vir almal wat ’n goeie humorsin het – en veral vir hulself kan lag. Susan takel ernstige onderwerpe soos dat jy as vrou is goed genoeg is, jy nie so hard op jouself moet wees nie en jy is genoeg vir God net soos jy is. Sy help jou om jouself te leer waardeer en jou eie gawes te ontwikkel en om by jouself en ander te leer.
Sy sal notas maak oor haar kinders, besluit 'n vrou voor haar jongste se geboorte. “Voor ek vergeet. Voor hulle groot is, weg, in 'n oogwink.” Sy lê oomblikke vas: die vrae sonder antwoorde, gebedjies, 'n eerste wisseltand, sywurms, huisvergaderings, die huiskat wat kleintjies kry en drome van eendag. Sing, Mamma, Sing is haar opgaaf van die frustrasie, weekheid, verwondering, trots en benoudheid wat elke ma ken. Dis haar kennismaking met ouers se grootste vrees en verlies wanneer die jongste op byna agt en dertig sterf. Die boek sluit aan by die genre van die moeder-memoir en die subgenre van verlies. |
You may like...
Pharos Afrikaanse Woordelys & Spelreëls
SA Akademie vir Wetenskap en Kuns
Paperback
(1)
|