|
Books > Afrikaans > Geesteswetenskappe
Die end van die twintigste eeu het die einde gesien van wat
breedweg genoem word die apartheidsbestel. Vir die Afrikanervolk
was dit traumaties. Baie is landuit. Van die agtergeblewenes het
skepties-gelate die nuwe bestel aanvaar en gewerk aan 'n nuwe
verhouding met hul swart landgenote. Ander kon die verandering nie
hanteer nie en het verbitterd oor die gewaande volksverraad en die
nuwe onregte bly broei. Soos 'n sluimerende vulkaan. Die foutlyne
het families, vriende en rassegroepe onheelbaar verdeel. Die roman
KRONIEK VAN DONKERHOEK is die verhaal van die Vorsters en hul
erfplaas oor meer as twee dekades met die oorgang van apartheid na
demokrasie. Inherent goeie mense, wie se sienings en vooroordele
onvermydelik tot konflik en uiteindelike ondergang lei. Die
platorand van Mpumalanga met sy deinserige vergesigte, wuiwende
grashalms, suisende denne, bosbrande en veediefstal is die
agtergrond waarteen vals grondeise en 'n stryd om besitreg lei tot
rassetwis en moord. Die patriarg Jaap Vorster kan hom nie versoen
nie met die smaad die familie aangedoen deur sy seun Pieter, wat
trou met Johanna Dlamini, dogter van die voorman. Gelok deur 'n
bosbrand word Jaap vermoor deur die voorman se seun, 'n opgeleide
kader. Pieter neem die bosbouboerdery oor en word onregverdig
veroordeel vir die moord op sy vrou se ander broer. Voortvlugtig
vir die gereg probeer Pieter sy vrou oortuig van sy onskuld. Knaend
op die spoor bly inspekteur Khumalo wat die skandvlek van die
ontsnapping wil uitwis en eers in die Appelhof teenoor die
voortvlugtige te staan kom. Die sittings van die Rondgaande Hof te
Piet Retief en die Appelhof in Bloemfontein word met fyn insig
uitgebeeld en die strydende regslui met 'n tikkie humor geskets.
Die aksievolle spanningsroman het as somber agtergrondmusiek die
veelkantige onoplosbare grondkwessie.
Willie Esterhuyse vertel die volle verhaal van die agter-die-skerms
ontmoetinge tussen ANC-leiers en 'n paar uitgesoekte Afrikaners in
die onstuimige tagtigerjare. Die hoogs-vertroulike gesprekke in
Engeland was deurslaggewend vir die begin van onderhandelinge
tussen die destydse regering en die ANC – en die uiteindelike
oorgang in Suid-Afrika. Met fassinerende inligting oor onder meer
geheime tronkgesprekke met Nelson Mandela, wat in PW Botha se
situasiekamer aangegaan het, en hoe die Intelligensiediens die land
van grootskaalse geweld probeer "red" het deur in te gryp in die
skaakspel tussen die partye. Die boek met sy talle anekdotes en
persoonlike aanslag bied 'n vars, soms onthutsende blik op bekende
Suid-Afrikaanse leiersfigure. Die skrywer kyk ook na die redes vir
die geheimhouding en maak 'n sterk argument uit vir die soort
nie-amptelike byeenkomste waar leiers nie hul onverbiddelike
openbare standpunte hoef te handhaaf nie. Die boek sluit af met 'n
uitgesproke en soms skokkende analise van die stand van die
Suid-Afrikaanse staat vandag. Een van die boeke van die jaar vir
2012. Die verhaal is nog nooit so vertel nie. 'n Onthullende boek
van groot belang, en lekker om te lees.
Hierdie manuskrip was nie bedoel om gepubliseer te word nie. Dit was
aanvanklik ’n bestekopname van die skrywer se betrokkenheid by en blootstelling
aan die NG Kerk-familie waarin hy gebore is, grootgeword en uiteindelik as
predikant gedien het.
Ben du Toit se eerste boek, God? Geloof in ‘n postmoderne tyd, is in 2001 met die
gesogte Andrew Murray-prys vir Christelike publikasies bekroon. Dit het ’n
woordeskat gebied vir talle ander mense se reis. Amper twee dekades later neem
hy die vraag oor God en die relevansie van godsdiens en geloof verder.
Vir baie mense sal hierdie boek nie ’n gemaklike leeservaring wees nie. Daar sal
egter lesers wees wat ’n eie bevrydende ervaring in hul verhouding met die kerk,
geloof en met God sal beleef deur die boek te lees. En wat ’n woordeskat sal
vind.
Net soos Du Toit se eerste boek baie mense minder alleen met hulle teologiese
ongemak en kritiese vrae laat voel het, kan hierdie boek ’n wonderlike
verrassende volgende fase van hul lewens inlei, soos dit tans met die skrywer die
geval is.
Die afronding van die teks het plaasgevind aan die begin van die wêreldwye
Covid-19-pandemie. Hierdie boek toon hoe die vraag na die betrokkenheid van
God gevra word, net soos telkens in die verlede tydens ander krisisse.
Net soos wat die Covid-19-pandemie ’n nuwe era inlui, kan hierdie publikasie ’n
nuwe denkraamwerk ten opsigte van geloof inlui.
Hier word baie name genoem en na vele stemme geluister. Uiteindelik gaan dit
nie oor hulle as individue nie, maar wel, kollektief, oor Die Kerk – ’n bepaalde
verteenwoordiging van die verskynsel wat Godsdiens genoem word. Maar
inderwaarheid gaan dit nie eers oor hulle nie, maar oor God – terwyl die enigste
manier waarop ons iets van God kan weet, deur die woorde en lewens van
mense is.
Die versamelde resepte van Susara en Susanna Swanepoel. Die boek deel
ook familie- en ander foto's van die twee oumas en gee 'n kykie van
hulle leefwêreld. Ouma Sarie (Susara Jacomina Isubella Bothma gebore 31
Desember 1896 te Vlakkraal in die distrik Prins Albert) was getroud met
oupa Daan Swanepoel (Daniel Jan Hendrik gebore 3 Februarie 1898 te
Weltevrede in die distrik Prins Albert ) Hulle het op die plaas
Vredehof, ook in die distrik Prins Albert, ’n bestaansboerdery gehad.
Liggaam en siel is aanmekaar gehou met skape, vrugte en groente. Die
plaas het nooit elektrisiteit gehad in ouma Sarie leeftyd nie, die
swart houtstoof is daaglike gebruik. By uitsondering is daar van 'n
parafien stofie gebruik gemaak wat net 'n enkele brandkop het.
Ouma Sannie (Susanna Magdalena Barnard gebore 17 Julie 1928 te
Outeniqua in die distrik George) het getrou met ouma Sarie en oupa Daan
se jongste seun Fanie (Stephanus Jacobus Swanepoel gebore 21 Oktober
1929 te Weltevrede). Hulle het mekaar in George ontmoet waar hulle by
dieselfde losieshuis in Merrimanstraat loseer het. Oupa Fanie het
gewerk as ’n vakleerling om ’n motorwerktuigkundige te word. Ouma
Sannie het in ’n skoen fabriek gewerk.
Nie een van die twee oumas was eintlik bekend vir hulle kook- of bak
vernuf nie. Die resepte is meestal versamel as deel van hulle pogings
om ’n lekkerny en ’n bederfie te maak. Resepte is meesal vir koek,
kleinkoekies, tert en konfyt.
Met die uitbreek van die Tweede Anglo-Boereoorlog in 1899 het 'n
groot aantal Hollanders en Hollandse uitgewekenes by die Boere
aangesluit. Hul redes het gewissel van lojaliteit teenoor hul
gemeenskaplike afkoms tot sterk anti-Britse gevoelens en 'n soeke
na avontuur. Broers in die stryd vertel van hierdie vrywilligers se
beproewings – die meeste van hulle was ongewoond aan Suid-Afrika se
ruwe landskap en strawwe klimaat. Aanhalings en persoonlike
staaltjies uit hul dagboeke en memoires skilder 'n lewendige beeld
van hul ontberings op kommando, die gedonder en chaos op die
slagveld, en die trauma van kamerade wat rondom hulle sneuwel. Van
die bekende figure in die boek is Cornelius van Gogh, broer van die
skilder Vincent van Gogh; Frans Oerder, wat die Transvaal se eerste
amptelike oorlogskunstenaar geword het; Jochem van Bruggen, wat die
gesogte Hertzogprys vir Afrikaanse letterkunde vier keer gewen het;
en ds. Herman van Broekhuizen, wat in 1896 vir Suid-Afrika rugby
gespeel het en later as Suid-Afrikaanse ambassadeur in Den Haag
gedien het. Broers in die stryd dek die hele spektrum van die
Hollanders se rolle as soldate aan die verskillende gevegsfronte,
ambulanspersoneel en militêre attaches, en hul lewe in oorsese
krygsgevangenekampe.
|
|