![]() |
Welcome to Loot.co.za!
Sign in / Register |Wishlists & Gift Vouchers |Help | Advanced search
|
Your cart is empty |
||
|
Books > Afrikaans > Geesteswetenskappe
Die klein dorpie Aus aan die rand van die Namib, die oudste woestyn in die wereld, het 'n besonder romantiese geskiedenis. Wanneer die 85-jarige Dora Bolz terugkyk, tref dit haar hoe ingrypend dinge op alle vlakke verander het. In Hard soos kameeldoringhout vertel sy van die opwindende dinge wat sy self beleef het en die vroee geskiedenis soos sy dit uit navorsing in argiewe gerekonstrueer het. Amptelik is Aus in 1906 gestig en het dus in 2006 'n honderd jaar oud geword. Maar selfs voor sy amptelike stigting het Aus roemryke tye beleef. Deur die jare het verskeie pioniers se paaie deur Aus geloop - die beroemde handelaar Adolf Luderitz uit Bremen, die sendelinge Heinrich Schmelen en Heinrich Kreft en die Schutztruppe Ernst Raabe, Adam Bolz en Franz Izko. Die skrywer vertel ook van die onkreukbare Georg Klinghardt en die ontdekking van fabelagtige diamantrykdomme in die Sperrgebiet, die vestiging van die trekboere, die vroee dae van transportry en botsings met Namas onder Dawid Christian en Hendrik Witbooi. Gedurende die Eerste Wereldoorlog beleef Aus selfs veldslae en lugaanvalle en 'n groot krygsgevangenekamp word hier aangele. Na die oorlog word Deutsch-Sudwestafrika omskep in die mandaatgebied Suidwes-Afrika. Tydens die Tweede Wereldoorlog word byna die hele manlike bevolking van Aus geinterneer en Dora Bolz eindig haar vertelling met die uitwerking wat die gebeure op die dorpie het.
Kolonie aan die Kaap is die derde van vyf boeke oor vroeë blanke vestiging aan die Kaap. In dié deel vestig Karel Schoeman die aandag op die eerste blanke intrekkers. Die VOC (Verenigde Oostindische Compagnie), het in 1651 besluit om in Tafelbaai ’n verversingspos te stig ten behoewe van die Kompanjie se skeepvaart tussen Nederland en die Ooste en dis met hierdie doel dat kommandeur Jan van Riebeeck in Desember van daardie jaar met sy vlootjie van vyf skepe na die Kaap uitgeseil het. Die eerste hoofstuk gee aandag aan Van Riebeeck se lewe en loopbaan tot en met hierdie datum en in die tweede hoofstuk word die werksaamhede rondom die vestiging van die verversingspos aan die hand van Van Riebeeck se dagboeke en briewe en die geskrifte van vroeë besoekers beskryf. Die omstandighede van die pioniersgroepie wat uitvoering aan Van Riebeeck se opdragte en ambisieuse planne moes gee, word in hoofstuk 3 bespreek. Aanvanklik moes alle lewensmiddele, gereedskap, saad, plantjies en selfs perde uit die Ooste ingevoer word. ’n Fort, wat skuiling en beskerming teen wilde diere en vyandige Khoi-stamme moes gee, is in 1666 voltooi. Hoe die verskillende sosiale groeperinge soos die hoë amptenare, die ambagsmanne, soldate en slawe in dié Fort gewerk, geleef en soms ook gesterf het, die onthale, kerk- en gebedsdienste en militêre parades kom in hoofstuk 4 aan die bod. ’n Klein klompie hoë Kompanjiesamptenare was deel van die Kaapse nedersetting, maar dit was hoofsaaklik uit die groter groep werksvolk, soldate en matrose dat die latere vryburgers afkomstig was. Die uiters moeilike omstandighede, teenslae en mislukkings van die aanvanklike groepie van nege, maar ook die enkele suksesverhale, word in hoofstuk 7 bespreek. Die boek sluit af met ’n oorsig oor Van Riebeeck se latere loopbaan in die Ooste en sy oorlye in 1677.
Wanneer ’n mens aan die ervarings van Boerevroue en -kinders tydens die Anglo-Boereoorlog dink, is die outomatiese konnotasie die van konsentrasiekamplyding. ’n Fassinerende en grotendeels onbekende buitebeentjie in hierdie genre is die dagboek van Anna Barry, waaruit ’n unieke en veelkantige beeld van die oorlog na vore kom. Aan die een kant van Anna se oorlogservaring staan haar broer Japie – ’n begeesterde jong soldaat wat uiteindelik as krygsgevangene op Ceylon sterf. Hierteenoor le haar geliefde pa Thomas (aanvanklik ’n gerespekteerde veldkornet) al in 1900 die eed van neutraliteit af, en wag hy die grootste gedeelte van die oorlog in die neutrale Basoetoland uit. Vir die tienderjarige Anna is die oorlog as gevolg hiervan ’n uiters verwarrende ervaring en haar dagboek bied ’n sonderlinge blik op die gefragmenteerdheid en buigbaarheid van konsepte soos “identiteit”, “nasie” en “volk”. Die feit dat die dagboek eers in 1960 vir die eerste keer gepubliseer is en daarna grotendeels in die vergetelheid verval het, is verder veelseggend in terme van hoe Anna self verwag het haar ervarings kort na die oorlog ontvang sou word – maar ook in terme van hoe blinde lojaliteit aan sekere groepe so dikwels in die geskiedenis van Suid-Afrikaners vereis is. Die dagboekteks, geboekstut deur Ena Jansen se insiggewende en verhelderende voor- en nawoord, bied nie slegs ’n sonderlinge blik op die Anglo-Boereoorlog nie, maar is verweef met kwessies van taal, politieke mag en sosiale status wat vandag nog net so relevant is soos toe die dagboek geskryf is.
Die geskiedenis rondom die Vrykorps en hul alliansie met die Duitse Koloniale Troepe in Duits-Suidwes-Afrika is om verskeie redes interessant – maar die belangrikste hiervan is waarskynlik die feit dat dit die eerste en enigste keer in die geskiedenis was dat Boere hul vaderland, Suid-Afrika, binnegeval het en Boer teen Boer geveg het. Hierdie boek vertel die Vrykorps se storie vanaf hul ontstaan tot hul ontbinding en word toegelig met ’n lys van al die Vrykorpslede, die wapens wat hulle gebruik het, hul range en gedetailleerde inligting oor hul aktiwiteite en die veldslae waaraan hulle deelgeneem het.
Sulamiet is ’n bundel oor medemenslikheid, liefde, die wisseling van seisoene, die skoonheid van die natuur en die kunste in ’n land en ’n wêreld van geweld. Die titel Sulamiet verwys na die vroulike spreker in die Bybelboek Hooglied waarin die verlore tuin van Eden ná die sondeval deur die liefde herskep word. Die verse in die bundel handel oor die liefde in vele vorme, die belewenis van die religieuse en die skoonheid van die natuur en die kunste waaraan altyd ’n tekort verbonde bly weens menslike ontoereikenheid. Binne die perspektief van die herwonne paradys staan Jesus nie sentraal as die Gekruisigde en die Wonderwerker nie, maar as die Joodse rabbi wat die koms van die Koninkryk reeds op aarde verkondig het. God is transendent: die hiëroglief, die ontwykende aan wie ons verbonde is in ons woordeloosheid en deur die musiek.
Teen die einde van die Anglo-Boereoorlog was terme soos "misdaad teen die mensdom", "oorlogsmisdadigers", volkemoord" en "etniese suiwering" begrippe wat nog ver in die geskiedenis le. Bykans 'n kwart van die konsentrasiekampbevolking het gedurende agt maande in 1901 daar omgekom. Aan die iende van die oorlog sou 29 000 afrikaners, waarvan 22 000 kinders, en moontlik soveel as 18 000 swart mense hulle einde in konsentrasiekapker-howe vind. Die sterftes in die kampe, hele dorpe wat verwoes is, die platteland wat grootskaals ontvolk is, en die vrees dat die "hele Afrikaanse volk kan uitsterf", sou uiteindelik tot die Vrede van Vereeniging lei. Die konsentrasiekampe het in die hart van die Afrikaner 'n vuur van verbittering aangesteek wat dalk nooit geblus sal word nie. As al die smart, smaad en verbittering wat die Afrikaner in sy ganse geskiedenis gely het, lankal vergete sal wees, sal daardie vuur nog vlam, want dit het " 'n merk vir die eeue gebrand op ons volk"(Leipoldt).
In haar 'transformasie-trilogie' bestaande uit Country of My Skull (1998), A Change of Tongue (2003) en Begging to be Black (2009) artikuleer Antjie Krog haar kritiek op en weerstand teen bepaalde opvattings van Westerse moderniteit. Die nagevolge van kolonialisme in Suid-Afrika in die vorm van apartheid, en die modernistiese skepping van 'ras' word as problematiese konsepte hanteer en Krog onderneem soektogte na 'n alternatiewe manier van wees in Suid-Afrika. Jacomien van Niekerk karteer in 'baie worde': Identiteit en transformasie by Antjie Krog die argumente wat in die loop van die trilogie opgebou word rondom die nou-vervlegte konsepte van kolonialisme/postkolonialisme, 'ras', identiteit, 'n Afrika-wereldbeeld' en die Suid-Afrikaanse nasie-en maak as sodanig 'n bydrae tot aktuele diskoerse. Lof vir 'baie worde': Identiteit en transformasie by Antjie Krog
Oor Gode En Afgode is ’n herdruk van ’n vyftal essays van die Suid-Afrikaanse filosoof Marthinus Versfeld. Die bundel het oorspronklik reeds in 1948 verskyn, maar die kwessies wat hierin bespreek word, is vandag steeds aktueel. Versfeld se groot bekommernis hier is dat die Westerse mens se opvatting van redelikheid en sy verhouding met die wêreld om ons, sedert die Verligting baie verskraal het. Met verwysings na die kerkvader Augustinus en groot Middeleeuse filosowe soos Thomas van Aquinas, toon Versfeld aan dat hierdie ouer denkers se sienings van die skepping en die Skepper tot ’n meer geïntegreerde beeld van die mens en sy plek in die werklikheid kan bydra, ’n siening wat ook in ons postmoderne era aanklank by denkende lesers behoort te vind. Die bundel bevat verder ’n kritiese bespreking van die Franse filosoof Jean-Jacques Rousseau en die oordrewe rol van die Staat in ons tyd (iets wat bekommerde Suid-Afrikaners met instemming kan lees), die verval in moraliteit en die oorheersing van die masjien in die lewe van die gewone mens. Dit is nie Versfeld se toeganklikste werk nie, maar die skrywer slaag steeds daarin om ingewikkelde filosofiese begrippe in eenvoudige taal oor te dra. Die bundel word ingelei deur prof. Ernst Wolff, ’n kenner van die werk van Versfeld.
Hoekom is ons ryker as ons voorsate? Wat het 'n Indonesiese vulkaan met die Groot Trek te doene? Hoe wen jy 'n Wêreldbeker? En wat het Karel die Grote gemeen met koning Zwelethini? Dit is maar enkele van die vrae wat die gewilde Rapportrubriekskrywer Johan Fourie onderhoudend verken in hierdie heerlik leesbare ekonomiese geskiedenis wat strek van die migrasie uit Afrika 100 000 jaar gelede tot vandag. Skatryk is 'n boeiende reis deur die geskiedenis wat ons wys hoe welvaart geskep en uitgebou word. Hoekom floreer een groep, maar 'n ander bly 'n sukkelbestaan voer? Fourie verduidelik in sy unieke, vermaaklike styl vol onverwagse feite waarom die bouers van 'n samelewing - eerder as dié wat afbreek - uiteindelik seëvier.
Ddie vierde van vyf boeke oor vroeë blanke vestiging aan die Kaap. Hier word die vestigingsjare van die Nederlandse kolonie aan die Kaap beskryf. Die kommandeurs wat op Jan van Riebeeck gevolg het, staan in sy skadu en kry gewoonlik nie baie aandag in die geskiedenisboeke nie. In die eerste hoofstukke van hierdie boek val die kollig egter op Zacharias Wagenaer, Cornelius van Quaelberg, Isband Goske en Joan Bax en hulle span VOC-amptenare. In die laaste deel van die boek kom die uitbreiding van die blanke nedersetting na die binneland en die totstandkoming van ’n klas gegoede en gevestigde vryburgers, onder die aandag. Die eerste vryburgers het mense ingesluit soos Steven Jansz Botma, W.C. Mostaert en die Duitser Jacob Cloete, wie se nasate vandag bekende Afrikaanse families vorm. Schoeman beskryf hoe hierdie vryburgers naas hulle boerderybedrywighede ook ander klein ondernemings begin het, soos taphuise, steenmakery en kleremakery. Aan die hand van boedelinventarisse word nagegaan hoe party van die eens arm vryburgers geleidelik meer grond, vee, implemente en meubels kon bekom, ’n aanduiding van die toenemende welvaart van wat sou uitgroei tot ’n Kaapse elite.
Die verhaal van Pieter van der Smit, sy vrou Martha en hulle kinders is nie bedoel om vinnig te lees en gou te vergeet nie. Dit is 'n verhaal van merkwaardige mense in moeilike omstandighede; 'n verhaal oor die voortdurende stryd om oorlewing. In 1898 verlaat die "Rouw Ollandertjie" Pieter van der Smit Nederland om vir Boerekinders in Transvaal te gaan skoolhou. Toe die Anglo-Boereoorlog 'n jaar later uitbreek, sluit hy by die Boeremagte aan. Nadat Pretoria deur die Engelse ingeneem is, word hy na Nederland gedeporteer. Maar Afrika trek hom onweerstaanbaar aan. In 1901 vertrek hy na die kolonie Boere wat hulle na afloop van die Dorslandtrekke by Humpata in die suide van Angola gevestig het. Hy trou met Martha Maria Prinsloo, die dogter van die Dorslandtrekker Willem Prinsloo, en hulle maak elf kinders groot. Hulle swerfpad loop deur Palanca, Que, Caconda, Sacangimba, Bihe, Luimbale en Mombolo. Hy is agtereenvolgens onderwyser, transportryer, boer, algemene handelaar, kaasmaker en fotograaf. In 1921 vind hy rus in 'n eensame graf onder 'n grysappelboom by Mombolo op die vrugbare hoogland van Angola. Sy weduwee en kinders se swerfpad loop verder deur Palanca, Chilenga, die Sandveld langs die Kunene, Swartbooisdrif en Kamanjab - van die suide van Angola na die noorde van Suidwes-Afrika. Eindelik vind hulle rus in Outjo, Suidwes-Afrika. Sy dagboeke, briewe en foto's is 'n unieke bronne van inligting oor die lewenswyse van die Boere in Angola en hulle moeilike jare onder 'n vreemde bewind, omring deur vyandige inboorlingstamme en die ongenaakbare natuur. Die baasverteller W.A. de Klerk het reeds in 'n Swerwer op die sonpad van die uitsonderlike lewe van Pieter van der Smit beskryf. Hierdie lewensverhaal verdien om aan 'n wyer gehoor bekendgestel te word.
In vergeelde foto’s van drie dekades gelede staan oopgesigseuns vol bravade voor Ratel-gevegsvoertuie. Hierdie dienspligtiges van 61 Gemeganiseerde Bataljongroep staan aan die begin van hul reis diep in Angola in om vir volk en vaderland te gaan veg. In ’n bloedige geveg op Valentynsdag 1988 en in die doodsakker by Tumpo sou hul jeugdige onskuld egter sneuwel. In die hitte van die gevegte kom die besef: Nou gaan dit nie oor ideologie nie, maar om oorlewing. Ná die oorlog gaan die lewe voort, maar die vrae en geestelike letsels wyk nie. In 2018 keer ’n groep van dié ouddienspligtiges terug na Cuito Cuanavale op soek na afsluiting - en om die wrak te vind van die Ratel waarin ’n makker op die laaste dag van die oorlog gesterf het. Die Brug vertel van hul reis van jong man na veteraan en gee ook ’n stem aan die vroue in hul lewe. Dit is ’n verhaal van ontnugtering, maar ook van trotse kameraderie en genesing.
In 1707 is die Nederlander Hermanus Bosman as sieketrooster van die gemeente Drakenstein aangestel. Hy is getroud met die dogter van 'n Franse Hugenoot, en oor die volgende honderd jaar het hy en sy afstammelinge prominente inwoners van die distrikte Paarl en Stellenbosch geword. Die Bosmans van Drakenstein bevat transkripsies van ongeveer 'n honderd briewe, ander persoonlike geskrifte, gedigte en dokumente uit die tydperk 1705–1842 wat met hierdie familie in verband staan, en toon veral hul belangstelling in godsdienstige en kerklike aangeleenthede en hul aktiewe betrokkenheid by die Theronsaak wat die gemeente Drakenstein jare lank verdeel het. Die transkripsies is geannoteer, en voorsien van uitvoerige inleidings waarin hulle in hul sosiale en historiese konteks geplaas en verdere inligting oor die familie gegee word.
Waarom glo mense dat die sterre en planete se posisies jou toekoms kan bepaal, of dat gesprekke met dooies moontlik is? Dis die soort vrae wat George Claassen in hierdie boek stel. George Claassen is dosent in wetenskapjoernalistiek aan die Universiteit Stellenbosch en die skrywer van die By-rubriek "Kwakoskoop" waarin hy vreesloos alle vorme van kwaksalwery onder die soeklig plaas. Hierdie teks bestaan uit vyftig hoofstukke waarin ’n verskeidenheid onderwerpe aangeroer word, van evolusie en die kartering van die menslike genoom tot supersnaarteorie en sieninge oor die ontstaan van die heelal.
Die Angola-Boere was afstammelinge van die Dorslandtrekkers wat vir sewe jaar deur woeste en onbekende lande moes swerf voordat hulle die “beloofde land” bereik het. Hier vertel die ou Boerepioniers op hulle eie, ongekunstelde manier van hulle jagvernuf en krygsvernuf – en hoe hulle in Angola geleef en die land help tem het. Willie Meester (Opperman) vertel van die kaalvoetjagter Larssen (“die knapste olifantjagter wat seker ooit geleef het”), die jagkonings van die Shimborro, die kwaai olifant van Catengue, petaljes met seekoeie, leeujag en slawerny in Angola. Oom Willem Grobler (’n Voortrekker-afstammeling) vertel van oom Paul Venter en sy viool en die veldtogte teen Maranga, Ndoendoema en Huambo. Oom Peet van der Merwe (skrywer van Ons halfeeu in Angola) vertel van die Vlugekspedisie (1906) en die Wenekspedisie (1907).
Skepelinge is ’n impressionistiese betragting van die vroeë koloniale tydperk in die Suid-Afrikaanse geskiedenis, gebaseer op Schoeman se kennis van die VOC- tyd en meer spesifiek die skeepvaart. Self het die skrywer dit beskryf as ’n ‘hibriede skepping . . . wat in laaste instansie beoordeel moet word as produk van die skeppende verbeelding eerder as van navorsing’. Tydens die boekstawing van die duisende skepelinge wat oor die eeue heen na die Kaap van Storms gereis en onderweg ook omgekom het, verweef Schoeman literêre stemme soos dié van Eliot, Auden, Eybers en Melville in Moby Dick met dokumente uit die oorspronklike dagboeke van die 1600’s en 1700’s, soos Van Riebeeck se Dagregister, Peter Kolb se noukeurige beskrywings van die Kaap en ander reisjoernale en geskiedkundige werke van die era. Dit is geskiedskrywing soos geen ander Suid-Afrikaanse skrywer dit nog kon vermag nie. Skepelinge is ’n unieke nalatenskap – veral waar ‘oorsprong’ nou meer as ooit vantevore ondersoek word.
Die kernboodskap is dat alle mense kinders van God is. Die hele titel draai om die begrip van liefde en die toepassing daarvan in ons lewe. Elke hoofstuk bevat 'n kort meditasie-oefening om Christene in te lei in hierdie persoonlike geesteservaring.
Die bundel bevat artikels oor geloof en kerk in veranderende kontekste. Bydraes is deur teoloë van die Universiteit van Suid-Afrika en die Protestantse Teologiese Universiteit in Nederland gelewer en is die resultaat van samewerking tussen die twee universiteite op die gebied van praktiese en sistematiese teologie. Die fokus is op die verantwoordelikheid van die kerk teenoor armes, die aard en wese van die kerk, die Christelik Godsbegrip en die wyse waarop oor God in die prediking gedink en gepraat word. Van die boeiende bydraes is ’n vergelyking tussen armoede in Suid-Afrika en Nederland, verhale oor die wyse waarop regstellende aksie en werkloosheid Suid-Afrikaners se geloofsbelewenis raak en besinning oor die proses van kerkvereniging in die NG Kerk-familie. Daar is ook hoofstukke oor prediking en liturgie as uitdrukking van nadenke oor God en maniere waarop tot God gepraat word. Die wye verskeidenheid invalshoeke en onderwerpe maak van hierdie boek ’n interessante leeservaring vir sowel gewone lidmate as predikante en akademici.
Alhoewel hierdie twee persone betreklik onbelangrik was in die geskiedenis van die vroee Kaap, is hulle lewens goed gedokumenteer en slaag Karel Schoeman daarin om 'n verbasend omvattende en interessante beeld te herskep van die lewe onder die hoer Kaapse amptenary in die vroee agttiende eeu.
Die bewindsoorname van 'n oorwegend swart regerende party in 1994 het 'n nuwe beleid ten opsigte van grondbesit in Suid-Afrika ingelui. Hierdie beleid is daarop ingestel om die wanbalans wat grondbesit betref reg te stel, dus om van die blanke grondeienaars, wat by verre die grootste deel van die landbougrond besit, grond weg te neem en dit aan die swart bevolkingsgroep, wat tussen 75% en 80% van die totale landsbevolking uitmaak, beskikbaar te stel. Die veronderstelling is dat die meeste blanke grondeienaars (of hulle voorsate) die grond wat hulle besit wederregtelik bekom het en dit daarom nou aan die 'regmatige' eienaars moet teruggee. Daar bestaan ook 'n persepsie dat alle grond aan swart mense oorgedra moet word – dat die klok teruggedraai moet word na die tyd toe Afrika swart was en wit mense slegs in Europa eiendom besit het. Die skrywers vra die vraag of grondhervorming in Suid-Afrika wel enigsins haalbaar of nodig is? Kan die ander bevolkingsgroepe van die land, die wittes en gekleurdes, daarop aanspraak maak dat die land ook aan hulle behoort. Kan hulle dus se: 'Dit is ons land ook'?
Hoewel Drienie Joubert geen bang haar op haar kop gehad het nie en met haar selfstandige optrede en gedetermineerde houding gewis haar tyd vooruit was, was sy allermins die kil amasone wat party bronne in die geskiedenis van haar maak. Agter die strak foto’s skuil ’n liefdevolle eggenoot, toegewyde ma, empatieke versorger en vriendin van vele, wat met reg ’n ereplek in die Suid-Afrikaanse geskiedenis verdien. Vir die kultuurhistorikus dr. Celestine Pretorius is die daaglikse lief en leed van mense in vergange tye ’n fassinerende studiegebied. Sy is ’n bekende naam in kultuurhistoriese kringe en ’n gerekende skrywer van navorsingsartikels, onder meer in Tydskrif vir Kultuurgeskiedenis. Die lewensverhaal Drienie Joubert (1830–1916) is nie net 'n boeiende stuk geskiedenis nie, maar ook 'n interessante blik op 'n figuur wat waarskynlik as een van die eerste Boere-feministe beskou kan word.
In Dwarstrekkers, dwepers en dokters vertel Kay de Villiers van 'n hele aantal mense wat die verskrikkings en vermaaklikhede van die Boere-oorlog aan eie lyf ervaar het. So is daar die romantiese Russiese dokter wat eers met haar eggenoot rusie maak en dan vermom as man haar lewe waag om hom op die slagvelde van Suid-Afrika te gaan soek. Daar is die onstuitbare mediese student Tewie Wessels wat hom as 'n Engelse adellike voordoen om uit Engeland, waar hy medies studeer, na Suid-Afrika te kom. Daar is die dapper tienermeisie Susie Blignaut wat deur dinamietslagdoppies vermink word. Daar is die Franse kolonel en die flambojante graaf Sternberg, daar is die onkeerbare Mary Kingsley, daar is Robert Montague Poore die soldaat sesse slaan, en soveel ander. Prof. De Villiers slaag uitstekend daarin om die lewens van merkwaardige, minder bekende enkelinge binne die groter geskiedenis van die Anglo-Boereoorlog te plaas. |
You may like...
Geographic Information - Organization…
Wade Bishop, Tony H. Grubesic
Hardcover
R4,619
Discovery Miles 46 190
The Uncomfortable Truth About South…
Wandile Sihlobo, Johann Kirsten
Paperback
Land Reclamation and Restoration…
Gouri Sankar Bhunia, Uday Chatterjee, …
Paperback
R3,021
Discovery Miles 30 210
The Unresolved National Question - Left…
Edward Webster, Karin Pampallis
Paperback
(2)
|