![]() |
![]() |
Your cart is empty |
||
Books > Local Author Showcase > Afrikaans > Lifestyle
Die skrywer se eerste boek, Vandag se sekretaresse (Human & Rousseau, 1988), was gebaseer op ontelbare kantore, kollegas en werkgewers waarmee sy tydens 'n elektroniese revolusie te doen gekry het. Daar was wêreldwye bekommernis oor of die sekretaresse met moderne kantoortoerusting vervang sou kon word. Nou is daar weer wêreldwye onsekerheid tydens 'n pandemie waar vetsug lewensgevaarlik is. My laaste dieet is die memoires van 'n smullende skaalslaaf. Ná 'n lewenslange stryd en ervaring van vraatsug, gepaard met kennis en ondervinding van 'n magdom diëte, beskou die skrywer haarself as die Koningin van Diëte.
Met haar nuutste bundel, Disteltyd, neem die digter Marlise Joubert bestek op haar lewe; die verouderingsproses met gepaardgaande fisieke aftakeling en verlies, maar ook besinning oor familie, eie kinderjare en die onlangse inperking, beurtkrag en geweld. Dit is gedigte met ’n sterk poëtiese en visuele inslag en word gekenmerk deur ’n introspektiewe, selfs nostalgiese, toonaard. Soos die distel as onkruid ’n saadpluim lewer wat lig, dartelend en lieflik is, is hierdie gedigte ook. Disteltyd is ’n bundel wat weens die geskakeerdheid daarvan ’n belangrike bydrae lewer tot die steeds groeiende korpus van laatwerke; gedigte wat meestal ontroer weens die menslikheid en humor daarin verwoord, maar terselfdertyd ook die leser konfronteer met die maatskaplike onregte kenmerkend van ons tyd.
Hierdie boek behandel vier hooftemas: Die toekoms van Afrikaners in `n uiters onseker land; Die aard van Afrikaans-wees en Afrikaner-wees - verlede, hede en toekoms; Sleutelvoorwaardes vir `n vooruitstrewende Suid-Afrika; Wat staan ons as Afrikaners te doen om `n goeie toekoms te help skep?
In Moerstaāl word oorsprong in oënskyn geneem: perspektiewe word gebied op geskiedenis en erfenis en hoe dit met taal saamhang. ’n Skryfwyse wat deur Khoekhoegowab geïnspireer is, veral wat die gebruik van die makron op klinkers betref, word ingespan tesame met Sols se kenmerkende Ghoema-Afrikaans. ’n Respek vir byna uitgestorwe kennis word oorgedra en in dié opsig is die gedigte ’n kreet van verlies en ’n bewuste poging tot ’n daad van bestendiging. Die lewe-gewende moederfiguur tree hier na vore – die vrou wat verguising en ontkenning moes deurleef en wie se bydrae en plek, soos ook dié van die taal, in en deur die bundel herstel, of ten minste openbaar gemaak, wil word. Die musikaliteit van Sōls se vorige twee bundels is weer hier teenwoordig. Só ook sy vlymskerp kommentaar en ironie, en sy digterlike gebruik van spreektaal. Sols se terugkeer na geskrewe poësie – die eerste bundel in sestien jaar – is beslis ’n groot aanwins vir die Afrikaanse letterkunde.
Alle Sondaars Welkom is ’n mengelmoes gedagtes oor God en sy mense wat oor die laaste paar jaar geskryf is. Jaco Strydom motiveer lesers om te leer by groot geeste in die verlede en die vreemde wesens wat ronddwaal in die hede; community met ander soekers te ontdek; in verwondering te staan voor die misterie en nuut te kyk na Jesus. Die boek sal jou uitdaag om saam te soek na die wilde waarheid, na geloof te midde van ongeloof, bygeloof, misterie en verwondering.
Hoe gaan jy aan as jy beroof is van die lewe wat vir jou kosbaar was? Die insig wat Johannes de Villiers verwerf het toe sy eie lewe uitmekaar geval het, is die inspirasie vir hierdie boek. Johannes gaan steek kers op by deskundiges en terapeute, maar ook veral by gewone mense wat deur die lewe platgevee is. Groei, vind hy, is nie om veerkragtig terug te bons na wie jy was voor dinge verkeerd geloop het nie. Maar jy kán dit oorleef - en selfs sterker wees.
In die vierde deel van die reeks Imperiale somer word aan Marabastad, die separatistiese kerke, die opkoms van die Afrikaners in die naoorlogsjare, die emigrasie van blankes na Oos-Afrika ná die oorlog, en die veldtog ten behoewe van die Indiërbevolking onder leiding van Gandhi aandag gegee. Anekdotes en kameebeskrywings kleur die vertelling in. Dié deel lewer 'n belangrike bydrae tot 'n voorheen minder bekende tydperk in die Suid-Afrikaanse geskiedenis en sal 'n wye leespubliek en nie net vakkundiges nie boei.
Die geliefde skrywer Dana Snyman deel sy waarnemings en belewenisse van die vreemdste tye wat ons nog beleef het: Die boek begin triomfantelik met die Springbokke wat die Rugbywêreldbeker wen, en toegejuig word tydens optogte deur die hoofstede van ons land. Maar baie vinnig verander alles. Die koronavirus slaan toe, en die hele wêreld word onderstebo gekeer. “Dinge is anders nou, meneer, in die tyd van die gif,” soos ’n ou oom by die plaaslike kafee vir Dana vertel. Dana beskryf die eerste veertig dae van die eerste inperking; dan ry hy trein om sy sterwende vriend in Gauteng te gaan groet. Hy skryf oor die treinrit, en ook oor die treine wat nie meer ry nie. Laastens praat hy met die mense wat die grootste gevaar loop ter wille van ander – die dokters en verpleegsters wat die siekes versorg. Dan kry hy self ook Covid19. Dana se kenmerkende fyn waarneming maak In Die Tyd Van Die Gif ’n leesmoet. Daar is pyn en verlies, maar ook geloof en hoop. Dit alles met ’n goeie skeut humor.
A distinctive volume of poetry by a talented poet and highly acclaimed translator. Although the themes and ideas explored are mostly personal, De Kock's voice ensures a universal resonance in his poetry.
In 2001 verander Erika Murray-Theron se lewe onherroeplik toe haar man, Tom, met parkinsonsiekte gediagnoseer word. Erika begin haar vertelling eers in 2011, toe Tom in ’n meer gevorderde stadium van die siekte verkeer. Dit is die rou optekening van saamleef met ’n geliefde met parkinsons: die ervaring om die fisieke en intellektuele aftakeling van jou lewensmaat te aanskou, die fisieke eise wat met die versorging van so iemand gepaard gaan, en die emosionele inspanning wat dit kos om jouself te staal teen dramatiese en stadige verlies.
Dit is nie maklik om vandag ’n geestelike leier te wees nie. Roedolf Botha probeer die tye waarin ons leef navigeer aan die hand van die Markus-evangelie, met klem op die volgende kwessies: Hoe lei ons getrou aan die missie ons opgelê, wat is die ingesteldhede, aksies en toerusting wat ons nodig het en watter innerlike transformasie vra dit van ons? Hierdie toeganklike boek sal jou help om die duistere waters van ons deurmekaar tye die hoof te bied. “Roedolf Botha neem ons op ’n boeiende reis deur die Markusevangelie om die hartklop van egte leierskap ver en diep te ontgin” - Stephan Joubert
God se liefde verander alles. Sy groot liefde omvrou alle aspekte van ons lewe. Wanneer ons ons harte vir Hom oopmaak, word die donker in en rondom ons keer op keer deurspoel met lig, sy lig, en met die krag van sy liefde wat ons omring. Die liefde kom ook in vele gestaltes. Die pad van die liefde is nie altyd gelyk nie en dit kom nie vanselfsprekend nie... Met hierdie boek nooi die outeurs jou uit om die vele maniere waarop God sy liefde aan jou bewys opnuut te ontdek en weer jou eie te maak.
Charmé word met pre-eklampsia gediagnoseer toe sy 27 weke swanger is met Lisa. Klein Lisatjie word met ’n noodkeisersnee gebore en Charmé se lewe verander heeltemal. Lisa weeg 850 gram, en sy veg elke dag om haar lewe. Charmé se reis tot ma-word was nie maklik nie. Maar Charmé vertel haar storie met humor en deernis: ‘n universiële storie van oorlewing van elke modern ma. Charmé se storie help ons om te weet dat ons nie alleen is nie, die ma langs jou het dieselfde pyne, vreugde, angs en vrae.
Nina Smit help elke vrou om opnuut te ontdek wie die God is wat ‘n verhouding met jou begeer, hoe kosbaar jy as vrou vir Hom is en wat jou roeping en identiteit in Hom moet wees. Sy help jou om woestyntye te oorleef en ons kry ‘n voorsmakie vir hoe sy dink die lewe na die dood gaan wees. Soos net Nina kan.
Hierdie bundel gedigte is gepubliseer by geleentheid van Barend Toerien se tagtigste verjaarsdag op 29 Maart 2001.
Die tweede, hersiene uitgawe van Genesing vir Trauma is ’n diepgaande, omvattende handleiding wat steun op dekade lange eerstehandse ervaring in berading. Die tweede uitgawe is nie net volledig opgedateer en bygewerk nie, maar bevat ook nuwe hoofstukke, soos die hoofstuk oor die impak van Covid-19. Beide beraders en slagoffers sal kan baat vind by die verstaanbare, relevante inhoud propvol algemene wysheid en geestelike begeleiding. Elke hoofstuk bevat waardevolle riglyne oor hoe om mense wat 'n spesifieke vorm van trauma beleef het by te staan, en wel binne die Suid-Afrikaanse konteks. Hierdie opgedateerde uitgawe spreek tot alle groepe binne die Suid-Afrikaanse samelewing. Hoewel die boek vanuit 'n Christelike perspektief geskryf is, is die beradingstegnieke wetenskaplik-gefundeerd en kan dit deur 'n wyer mark gebruik word. Individuele genesing het ’n genesende uitkringeffek op die gemeenskap wat vir almal van belang is. Yvonne Retief se sentrale boodskap is dat daar genesing en hoop vir slagoffers van trauma is.
Hoekom is ons ryker as ons voorsate? Wat het 'n Indonesiese vulkaan met die Groot Trek te doene? Hoe wen jy 'n Wêreldbeker? En wat het Karel die Grote gemeen met koning Zwelethini? Dit is maar enkele van die vrae wat die gewilde Rapportrubriekskrywer Johan Fourie onderhoudend verken in hierdie heerlik leesbare ekonomiese geskiedenis wat strek van die migrasie uit Afrika 100 000 jaar gelede tot vandag. Skatryk is 'n boeiende reis deur die geskiedenis wat ons wys hoe welvaart geskep en uitgebou word. Hoekom floreer een groep, maar 'n ander bly 'n sukkelbestaan voer? Fourie verduidelik in sy unieke, vermaaklike styl vol onverwagse feite waarom die bouers van 'n samelewing - eerder as dié wat afbreek - uiteindelik seëvier.
Bekende digter en resensent Louis Esterhuizen het die volgende oor hierdie versameling gedigte gesê: “Kenmerkend is die ironiese, selfs sardoniese, toon terwyl die stem se personasie in die gedigte dikwels skollieagtig is; iets wat direk verband hou met die titel se verwysing na parool: Iemand wat voorwaardelik vrygelaat is, dog streng by beheermaatreëls moet hou ten einde daardie gewaande vryheid te handhaaf en hernieude tronkstraf te voorkom. Die digter slaag om indrukwekkende wyse daarin om dié filosofiese beskouing van vryheid vs gebondenheid verteenwoordigend van die mens se algehele lewenslot te maak.”
’n Grieselrige reis na die plekke waar van Suid-Afrika se bekendste moorde gepleeg is asook ’n hele aantal minder bekendes. Maak kennis met die moordenaars en die doodgewone gemeenskappe waar slagoffers van die vroegste tye tot die onlangse verlede wreed aan hul einde gekom het.
Toeganklike, klankryke, geslepe, fyn afgeronde verse van ’n woordsmid wat slim speel met klank, taal, beelde en verwagtinge. Op toeganklike, klankryke wyse ontgin Daniel Hugo verskillende temas – verblyf in die Lae lande, liefdesverhoudings, die seisoene, die natuur, die dood, die skryfproses, die taal waarin hy skryf, die pandemie wat ons tans ervaar, die rol van die digter – op speelse wyse en sonder om te skroom om met homself die draak te steek. Met enkele verbluffende vertalings van klassieke gedigte.
In die eerste opstel, “Oor huise”, beskryf hy hoe hy self 'n huis van klip in die Kouga gebou het. So 'n huis moet by die bewoners daarvan pas, beweer Versfeld, en dit hang af daarvan of jy met jouself tuis is. Hy skryf verder oor die vreugde van kook en goeie kos, oor die verwantskap tussen die skepping van poesie en die skepping van 'n eenvoudige meubelstuk, oor jag, visvang en ons belewing van die natuur. Die laaste opstel, “Oor patriotisme”, kry opnuut betekenis in 'n tyd waarin ons verhouding met ons geboorteland en ons medemens geproblematiseer word. Versfeld se styl is besonder toeganklik en die leser word dikwels verras deur 'n diepsinnige wending waardeur ons omgang met die alledaagse verryk word. So skryf hy byvoorbeeld oor klip: “Die engel uit die klip is die engel wat alreeds in die klip gesit het, en aan hom is die kliphouer onderdanig. Laat die engele dus jou huisie bou, maar hulle sal net met jou hande bou, en net met jou eie hande sal jy aan hulle raak.”
Anna de Jager het in KwaZulu Natal grootgeword. Dit was nog altyd vir haar ʼn passie en selfopgelegde uitdaging om oomblikke vas te vang deur te skryf en te skets. Sy is in 1990 met Gert de Jager getroud en woon in Centurion. Hulle het twee dogters, Anita en Gerda en ‘n skoonseun, Marco. Daar het al verskeie vakpublikasies uit haar pen verskyn, maar hierdie is haar eerste memoires. Kort nadat sy haar PhD voltooi het, is sy met borskanker gediagnoseer. Chemo, koekies en tee is ’n openhartige deel van ʼn eiesoortige perspektief, baie genade en dankbaarheid.
Wanneer gebed iets is wat jy elke dag moet doen, ’n gesprek met die plafon of die vervelige herhaling van dieselfde woorde het die wonder van gebed vir jou verlore geraak. In hierdie heruitgawe van Ferdinand Deist se klassieke topverkoper boek oor gebed gesels hy met mense wat wil bid, maar nie kán nie. Hierdie is geen kitskursus in die kuns van gebed nie, maar 'n toeganklike sagte begeleiding vir elkeen om die geheim van gebed terug te vind.
'n Suksesvolle lewe gaan gewoonlik oor dinge bymekaarmaak: groter rykdom, meer status. Maar volgens Jesus moet jy iets laat gaan as jy geestelik wil groei. Jy moet ligter reis, nie swaarder nie. Die dissipels moes hulle nette los, die ryk jongman sy rykdom. Tot die kerk het haar grootste impak in die geskiedenis gemaak toe sy die minste besit het. Die boek motiveer ons om af te pak en vyf ou gewoontes by die vroeë kerk aan te leer, gewoontes wat ons kan help om ligter te reis. Jaco Strydom is die leier van Echo Jeugontwikkeling en deeltyds gekoppel aan Villieria Gemeente. Sy skryfwerk verskyn die afgelope tien jaar in onder andere Beeld, Rapport, Finesse, Kerkbode, Maroela Media en Weg. Hy is ook 'n gereelde blogger. Hy woon tans in die Echo-gemeenskap in Villeria. Jaco het studeer by NWU en UP.
Hoe weet ’n klein seuntjie van skaars drie jaar oud dat hy in die verkeerde liggaam gebore is? Wat ervaar daardie seuntjie in die eerste twee dekades van sy lewe dat hy so oortuig raak van wie en wat hy moet wees, dat hy die lang pad van geslagshertoewysing aanpak sodat hy sy droombestaan kan voer in die liggaam waarvoor hy gebore is? Min het Pierre van der Merwe daardie tyd geweet wat Elise van der Merwe alles in haar nuwe bestaan sal ontdek en ervaar. ’n Hartstogtelik eerlike en roerende verhaal wat ook baie sal beteken vir mense wat met hierdie dilemma gebore is. |
![]() ![]() You may like...
A Practical Guide to Implementing…
Brandon K. Schultz, Steven W. Evans
Hardcover
Assessing Social Support and Stress in…
Amit Saha, Nitin Agarwal
Hardcover
R3,630
Discovery Miles 36 300
|