![]() |
Welcome to Loot.co.za!
Sign in / Register |Wishlists & Gift Vouchers |Help | Advanced search
|
Your cart is empty |
||
|
Books > Afrikaans > Biografieë
Springbokkaptein, predikant, filosoof, ambassadeur, kabinetsminister, wêreldreisiger, kunsliefhebber, gesinsman. Dit was en ís die wêreld van dr. Dawie de Villiers, een van Suid-Afrika se ikone wat sy land dekades lank op vele terreine met groot onderskeiding gedien het. Hierdie boeiende lewensverhaal neem lesers op ’n merkwaardige lewenspad deur Suid-Afrika se sport- en politieke geskiedenis. De Villiers se jeugjare in ’n polities georiënteerde gesin, sy vinnige opgang vanuit sy geliefde Stellenbosch Rugbyklub tot in die Springbokspan, sy moeilike pad met sportbeserings en die soet en suur van Springbok-wees is maar enkele aspekte van dié lekkerlees-ervaring. Hy vertel van sy betrokkenheid in die politiek as ’n ywerige waarnemer van onder andere die bekende filosoof, prof. Johan Degenaar; sy opwindende lewe as ambassadeur in Londen; as kabinetsminister onder P.W. Botha, F.W. de Klerk en Nelson Mandela; die Kodesa-onderhandelinge en die oorgang na demokrasie; en uiteindelik ’n reeks verrykende reise oor die wêreld as adjunk-sekretaris-generaal van die Verenigde Nasies se World Tourism Organization (UNWTO). My lewensreis is ’n belangrike bydrae om die rol te beskryf van Afrikanerleiers wat uit die rigiede denkskema van apartheid ontsnap het, wat vanweë morele oortuigings én hulle bevoegdhede ’n nuwe Suid-Afrika help skep het.
In Vers & Kapittel: Artikels, rubrieke en naskrifte oor die digkuns slaag die gerespekteerde skrywer en digter Daniel Hugo daarin om die internasionale wereld van digkuns vir die gewone leser nie net toeganklik nie, maar ook aangrypend te maak. In die nagenoeg 50 artikels ontdek die leser die wonders van die Afrikaanse en Nederlandse digkuns, terwyl Hugo se outobiografiese stukke ’n persoonlike blik werp op verskeie bekende skrywers en hul werk. In elkeen van die rubrieke, artikels en naskrifte in Vers & Kapittel doen Hugo dit wat hy by sy meesters (D.J. Opperman en Gerrit Komrij) geleer het: hy bied interessante en insiggewende ontledings van gedigte sonder oordadige literere teoriee. In die bundel bewys Hugo dat al wat noodsaaklik is in die ontsluiting van gedigte “is gesonde verstand, belesenheid en die vermoe om prikkelend en kernagtig te formuleer”. Vers & Kapittel bevat ontledings van enkele werke van prominente Afrikaanse digters soos N.P. van Wyk Louw, J.C. Steyn, Elisabeth Eybers, Hennie Aucamp en Lina Spies.
Ethienne reynecke se ongelooflike verhaal. In 2018 het die doodsengel drie keer aan die oudrugbyspeler Ethienne Reynecke se deur geklop. Hy het geweier om oop te maak – toe sy milt bars, toe hy ’n beroerte gehad het en toe hy in die agterkop geskiet is. Boonop, ná ’n egskeiding daardie jaar, het sy twee liefingdogters na ’n ander stad verhuis. Die noodlot het sy spraakvermoë gesteel en hom sy werk as kommentator by SuperSport gekos. Dit het hom, soos Reynecke dit stel, in ’n pampoen verander. Maar het hy geweier om bes te gee. Minder as twee jaar later, in Maart 2020, word Reynecke die Suid-Afrikaanse ligswaargewig-amateurkampioen in gemengde gevegskuns (MMA). Hierdie is die storie van hoe Ethienne Reynecke dit reggekry het om staande te bly en vas te klou aan hoop waar wanhoop ander sou meesleur.
Van sy eerste dag as nasionale dienspligtige was Francois Verster in die sop weens sy ingebore rebelsheid. Hy vertel op skreeusnaakse wyse van sy basiese opleiding en lewe as troeponderwyser op Omega. Hierdie geensins verromantiseerde storie bied ’n vars hoek op die Grensoorloggenre en ’n blik op hoe Afrikanermans die nuwe Suid-Afrika beleef.
Dis een verhaal, maar ook nie. Asof vanuit twee hoeke in dieselfde vertrek, vertel ma en dogter van hul worsteling nadat Henriëtte op 18 gediagnoseer is en Marga en haar man, Frans, die verdoemende woorde moes hoor: Jul kind is skisofrenies. Nou is dit 30 jaar later en Marga en Henriëtte het vrede gemaak. Met die siekte, maar ook met mekaar.
In Koemelaat vertel Milan Murray, bekende aktrise van onder meer Binnelanders, Isidingo, Transito, en huidige anker-aanbieder van Ontbytsake, haar 'ontnugtering' van ma-word en wedervaringe met ouerskap oor die algemeen. Dit is 'n titel wat pittig geskryf is en waarmee enige vrou en moeder sal kan identifiseer. Sy skryf sommer elke ma se verhaal – met 'n lag en 'n traan. Dit vertel ook van verhoudings, vriendskappe en ook oor die lewenspad van die skrywer, wat 'n welbekend figuur is.
Die daggaplant (Cannabis sativa) word al vir duisende jare gebruik. Dit is, inderdaad, ’n baie nuttige plant om materiaal en toue mee te vervaardig. Dit is egter die bekendste vir die psigotropiese effekte van dagga se aktiewe bestanddeel, tetrahidrokannabinol (THC). Die kwessie oor of dagga verslawend is, is nog nie heeltemal duidelik nie. Baie navorsing word gedoen om korrekte en interessante inligting vir gebruikers, hul naasbestaandes, handelaars en almal wat oor dagga wonder, beskikbaar te stel. Hierdie handleiding bring die leser op datum met alles wat ons weet aangaande dagga. Slegs wanneer al die feite op die tafel is, is dit sinvol om ’n opinie oor hierdie wonderlike plant te waag.
Die agterhuis, oftewel die dagboek van Anne Frank, is een van die mees gelese boeke in die wêreld. Hierin vertel die tienderjarige Anne die aangrypende verhaal van die Joodse gesin Frank se lotgevalle toe hulle tydens die Tweede Wêreldoorlog in Amsterdam vir die Duitse besetters moes wegkruip. Anne het die dagboek op 12 Junie 1942, haar dertiende verjaardag, present gekry. In die volgende maand, toe die vervolging van Jode ook in Nederland te erg raak, soek die Frank-gesin saam met ander ’n Joodse gesin skuiling in kamers agter die kantore van die onderneming waar Otto Frank gewerk het. In haar dagboek skryf Anne neer wat die gesin ervaar, sy lewer kommentaar op die dikwels gespanne verhoudings tussen die lede van die twee gesinne in die beknopte omstandighede en sy doen ook verslag oor die gewaarwordinge en gevoelens van ’n jong meisie in uiters moeilike omstandighede. Die dagboekinskrywings word in Augustus 1944 gestaak toe die “skuilgangers” aan die Nazi’s verraai is en almal na Duitse konsentrasiekampe gestuur is. Otto Frank het die konsentrasiekamp oorleef, Anne se dagboek weer opgespoor en dit laat publiseer. Sedertdien is dit uit Nederlands in vele tale vertaal en is nou ook in Afrikaans beskikbaar.
Hierdie verhalende nie-fiktiewe werk vertel die storie van Beryl Botman wat aan Russel Botman onthul hoe sy sy skielike afsterwe ervaar en hanteer. “Hoe moet sy leer leef en hul liefde vir mekaar herken in hierdie nuwe dimensies van bestaan?” is die sentrale vraagstuk van die eenrigtinggesprek. Die gebeure speel af vanaf die oomblikke voordat sy besef dat Russel gesterf het tot die op die dag van die eerste herdenking van sy afsterwe – die verloop van een jaar. Dis vir haar die jaar waarin sy haar op haar diepste sterkpunte beroep; haar troebelste swakhede in die gesig staar en op haar hele wording staatmaak om selfs een tree te gee. Die vertelling vind in drie dele plaas en begin met ‘n dag-vir-dag weergawe van die eerste twee weke van ervaringe en gewaarwordinge. Die daaropvolgende twee dele is weeklikse en daarna maandlikse onthullings. Haar spirituele en reële blootlegging volg ‘n reis vanaf Stellenbosch tot Wynberg en sommige ander plekke in die wêreld. Beryl hanteer lewensveranderende besluite en optredes in haar wêreld met die gemak en liefdevolle ondersteuning van familie en vriende, en terselfdertyd die vyandigheid van ander familie en die afsydigheid en verwerping van vriende en kennisse.
Seks, leuens en die internet is ’n rou, eerlike vertelling deur ’n vrou wie se hart gebreek is, maar weier om moed op te gee. Op 50 lyk al die prinse en perde bra gehawend, maar vasbeslote durf sy die wilde wêreld van aanlyn afsprake aan, moedig op soek na haar sielsgenoot. Hierdie boek is deel van die immergewilde selfhelp-genre en kombineer die onderwerpe van verhoudings; seks en selfondersoek. Dis ’n eerlike en soms skreeusnaakse memoir - maar ook ’n nuttige gids oor die wêreld van aanlyn afsprake.
Elsabe Steenberg was die suster van André P. Brink en self ‘n gewilde en bekroonde Afrikaanse skryfster, veral bekend vir haar kinder- en jeugliteratuur. Sy het egter ook, onder andere, kortverhale en dramas geskryf. Sy is met veelvuldige sklerose gediagnoseer, maar het ten spyte daarvan aangehou skryf. Sy sou hierdie jaar haar 80ste verjaarsdag gevier het. Hierdie is ‘n versameling briewe wat Elsabe geskryf het aan Elizabeth Venter, die samesteller se vrou. Dit vertel die verhaal van die Steenberg-gesin oor meer as 30 jaar, Elsabe se skryfwerk, haar werk as dosent in Potchefstroom- en haar uitmergelende siekte. Die gevierde en bekroonde skryfster is in 1996 aan veelvuldige sklerose oorlede. Haar laaste brief aan Elizabeth is ‘n maand vroeër geskryf.
Stiltes en stemme is ’n huldigingsboek vir een van die belangrikste
Afrikaanse skrywers, Karel Schoeman. Karel Schoeman se oeuvre verdien
‘n huldiging, selfs as mens slegs na die omvang van sy lewenswerk kyk:
Schoeman se werk is al dikwels vergelyk met die werk van Marcel Proust maar die verband tussen hulle werk is nog nie tevore ondersoek nie. Willie Burger wys op merkwaardige ooreenkomste tussen Proust se literatuurbeskouing en Schoeman se roman. Die boek word afgesluit met ‘n omvattende bibliografie van Schoeman se werk en al die resensies, besprekings, artikels, proefskrifte en verhandelings daaroor. Dit is ‘n onontbeerlike hulpbron vir enige verdere navorsing oor Schoeman.
Dit is my storie oor hoe God my gehelp het deur persoonlike pyn, swaarkry, woede, GBV, emosionele mishandeling en selfmoordgedagtes op 'n vroeë ouderdom van my lewe totdat ek 'n volwasse vrou geword het. In hierdie boek sal jy meer leer oor hoe ek myself moes optel toe ek af en uit was, daar was 'n paar tye van trane, woede, bitterheid en selfs gelag, dis waar God my gelei het oor hoe om beproewings en beproewings te oorwin. God het vir ons al die stukke gegee wat nodig is om uitsonderlike welstand en gesondheid te bereik, maar Hy het dit aan ons oorgelaat om hierdie stukke bymekaar te sit. Jy leer meer uit mislukking as uit sukses. Moenie dat dit jou keer nie. Mislukking bou karakter.
Vir 45 jaar het Freek Robinson die grootste nuusgebeure in die ou én nuwe Suid-Afrika eerstehands beleef. As TV-joernalis en nuusanker was hy ’n gereelde besoeker in miljoene Suid-Afrikaners se huise. In sy memoires deel Freek dit wat hy agter die skerms beleef het. Dié boek verweef die lewe en loopbaan van een van ons land se mees gerespekteerde en geliefde joernaliste en gee ’n besonderse blik op die ingrypende nuusomwentelinge in ons onlangse geskiedenis.
In Skeef deel mediapersoonlikheid Renaldo Schwarp op sy kenmerkend spitvondige manier praktiese advies en verhale oor alle aspekte van gay-wees. Uitkom, boelies, liefdesverhoudings, skooldae, universiteitsjare, ouers, verteenwoordiging, seksualiteit, geloof - geen onderwerp is taboe nie. Schwarp fokus op die leefwêreld van LGBTIQ+-Suid-Afrikaners, plaas dit in internasionale en historiese kontekste en bied 'n woordeskat. Schwarp vertel sy eie storie. Hy klop ook aan by bekendes soos Rian van Heerden, Marc Lottering, Charl-Johan Lingenfelder, Boer Damian en Joe Foster om 'n genuanseerde beeld van eietydse gay-wees te skets. In 'n onthutsend eerlike hoofstuk vertel sy ma, Verenia, van die uitdagings van gaykindgrootmaak. Die raakvatters agter die gewilde Mannetjiesvrou-podsending verwelkom jou ook in die voorkamer van die lesbiër. Selfs al is dinge soms moeiliker vir LGBTIQ-mense, dra Skeef 'n boodskap van hoop oor vir gay mense, hul ouers en bondgenote. Selfaanvaarding, outentisiteit, gesonde verhoudings en geluk is gays beskore - hierdie boek vertel hoe.
|
You may like...
|