![]() |
Welcome to Loot.co.za!
Sign in / Register |Wishlists & Gift Vouchers |Help | Advanced search
|
Your cart is empty |
||
|
Books > Afrikaans > Biografieë
Op tagtig, verklaar Dot Serfontein, neem mens kennis van die ouderdom se bedryfsrisiko’s – en neem dan vir lief daarmee dat selfs die Bybel stilbly oor wat ná tagtig met mens gaan gebeur. Jy vertel van dinge waaroor jy vroeër geswyg het en jy swyg oor dinge waarvan jy vroeër vertel het want as jy dié mylpaal oorgesteek het, het jy die vrypas om te maak soos jy wil, sonder dat dit teen jou aangeteken staan. Teen die agtergrond van agt dekades se sosiale, politieke en ekonomiese gebeure (van die letsels van die Anglo-Boereoorlog, die 1914-Rebellie en die Groot Depressie, tot die verkiesing van 1948, die apartheidsidealisme en die “politieke kapitulasie” van die negentigerjare) projekteer Dot Serfontein hier die gesins - en familiebande wat haar lewe as Vrystaatse Afrikaner gevorm het. Die leser leer ken ’n individu wat elke lewensfase met geesdrif en vurigheid aanpak en nie terugdeins om die tradisie van tyd tot tyd met ’n bietjie waagmoed en ’n porsie oorgeërfde stroomopgeit uit te daag nie. Want al faal sy soms klaaglik om aan haar eie (en ander) se verwagtings te voldoen (vir haar een en twintigste verjaarsdag gee haar pa haar immers ’n Remington-tikmasjien present, “toe dit uiteindelik vir hom duidelik geword het dat ek dit nog ver sal bring”) ken sy haar sterkpunte en staan sy stewig geanker tussen dié wat soos sy glo: “As ons spense vol is van wat vir ons van waarde is, kan ons harte oor brakplekke spring; as ons niks anders kan doen nie, lag ons net saam.”
Twee vroue, een uit Nederland en die ander een uit die Vrystaatse Goudvelde, ontmoet mekaar in 'n hospitaalsaal in Bloemfontein. Vyftig jaar later vertel Hester die storie van hoe die lewe hulle gevorm het as verpleegsters, gemeenskapswerkers, bakkers en kunstenaars.In hierdie memorie vertel Hester van der Walt van die sleutel oomblikke in haar lewe wat haar daartoe gedryf het om kulturele en etniese grense oor te steek om sodoende uit te vind wie sy werklik is. Haar besluite neem haar vanaf die Vrystaat na Distrik Ses en Venda, na Nederland en die Verenigde Koninkryk, na Heideveld en Hanover Park en uiteindelik na McGregor. Haar nederige storie vertel van die geestelike isolasie van alle "vlugtelinge" wat die onversoenbare waardes van hulle "tuiste" (hetsy fisies of idologies) verlaat en nuwe maniere moet vind om 'n lewe te skep. Dit vertel ook van die wonder om 'n metgesel langs die pad te vind.
'n Versameling van gesprekke met vriende en kennisse van die digter Ingrid Jonker, met kommentaar deur 'n sielkundige. 'n Nuwe boek oor die immer gewilde Ingrid Jonker. Gesprekke oor Ingrid Jonker bevat persoonlike herinneringe van Ingrid se suster Anna, haar psigiater en vriende soos Jan Rabie en Marjorie Wallace, W.A. de Klerk, Berta Smit, Uys Krige en Andre P. Brink. Gesprekke wat dertig jaar gelede deur dr. L.M. van der Merwe, kliniese sielkundige, op band opgeneem is, is deur Petrovna Metelerkamp in boekvorm verwerk. Dit werp 'n nuwe lig op die lewe en tragiese sterwe van die jong Ingrid Jonker.
Op 13 Oktober 2021 is Suid-Afrika tot stilstand geruk deur die nuus oor
dominee Liezel de Jager, geliefde leraar van die NG Kerk Suidkus in
Amanzimtoti, KwaZulu-Natal, wat in die oprit van die pastorie vermoor
is toe sy terugkeer van haar daaglikse oggenddraf saam met vriende. Dit
was ondenkbaar dat ’n geestelike leier soos sy, wat ’n enorme impak op
haar gemeenskap gehad het, so wreed weggeruk kon word.
In hierdie boek- wat in twee dele gepubliseer is en gedeeltelik gebaseer is op E.H. Raidt se Afrikaans en sy Europese verlede – word opnuut gekyk na Afrikaans se veelkantige herkoms: die Europese geskiedenis van Afrikaans (grondig vernuwe en beduidend aangevul) én veral Afrikaans se Afrikaherkoms – oor die opbouproses sedert die 17de eeu om Afrikaans in 1925 as amptelike taal erken te kry, Afrikaans se ontwikkeling as volwaardige standaardtaal in die 20ste eeu en veral die aanneem van die funksies wat hiermee gepaard gaan, Afrikaans se ongelukkige apartheidsverlede en die bevrydings- en versoeningsprosesse wat hierna nodig was. Die wit verlede van Afrikaans word aangevul met die bruin en swart verlede sodat ʼn gedeelde verlede van die sprekers van Afrikaans na vore kom. Die storie van Afrikaans is die biografie van Afrikaans soos dit op drie kontinente ontwikkel het: in Europa (waar die ontwikkeling van Nederlands as die basisvorm van Afrikaans gedokumenteer en uitgebeeld word), in Afrika (waar die 17de-eeuse Hollandse dialek met verloop van tyd onder eiesoortige omstandighede en onder invloed van verskeie faktore uiteindelik volwaardig Afrikaans geword het) en vanuit Asië (waar die impak van die taal van die slawe die wordende Afrikaans beïnvloed het tot die vorm wat dit wel geword het). Die outeurs gee aan die hand van talle illustrasies ’n nuwe, meer volledige en inklusiewe blik op Afrikaans se ingewikkelde verlede. In Deel 1 is die Europese verlede van Afrikaans weergegee. In Deel 2 kom die Afrikaverlede van Afrikaans aan bod. Die boek verken paaie wat nog nie voorheen ontgin is nie en dit sal ʼn besliste bydrae tot die debat oor Afrikaans se verlede wees.
Toe hy 21 jaar gelede vir die eerste keer in Parys aankom, sou die kunstenaar Louis Jansen van Vuuren hom nooit kon indink dat hy eendag ’n château in die Franse platteland sou besit nie. In Amper Frans vertel hy op skreesnaakse wyse hoe hy alles wat Frans is ontdek en beproef het – daar is neusoptrekkerige kelners, statige hertoginne, etlike botsings met die berugte Franse burokrasie en natuurlike talle faux pas in sy gebrekkige Frans. Om die vervalle château saam met sy lewensmaat, Hardy Olivier, in ’n boetiekhotel te omskep het groot geduld en uithouvermoë geverg. Talle lesse is op die harde manier geleer. Een daarvan is dat vier verwarmers geensins genoeg is om ’n hele château te verhit nie en dit sal jou dae lank sonder elektrisiteit laat. Louis vertel ook van kaskenades met hulle gaste en hul eie avonture soos hulle die land platry agter vlooimarkte en avontuur aan. Hy vermeng stories oor hul lewe in Frankryk met brokkies geskiedenis en fassinerende inligting oor eg Franse tradisies. Dit is ’n moet vir Frankofiele!
Die outobiografie dek die eerste 25 jaar van Joubert se lewe, haar grootwordjare in die Paarl, haar skooljare, studentejare aan die universiteite van Stellenbosch en Kaapstad, eerste onderwysposte en haar slyping in die joernalistiek. Dit is 'n outobiografie wat met verstommende detail 'n beeld bied van 'n bepaalde era in die land se geskiedenis, maar ook van die wording van 'n skrywer. Joubert deins nie terug van omstrede kwessies nie, en onder meer kom haar betrokkenheid by die Ossewabrandwag aan bod. Maar die vernaamste beeld is die van 'n skrywer wat as kind reeds die drang na woorde ervaar, wat in die onstuimige tyd na die Tweede Wereldoorlog te midde van klomp invloede haar onafhanklike stem as skrywer probeer vind.
Met Adam Small se oorlye op 25 Junie 2016 het daar ’n einde gekom aan die lewe van ’n unieke mens en ’n unieke oeuvre: ’n digter, dramaturg en denker met besonderse insig in die aktualiteite van sy tyd. Hoewel die toekenning van die Hertzogprys aan Small in 2012 en die gepaardgaande publisiteit daarrondom die idee vir ’n huldigingsbundel by die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns laat ontstaan het, was dit Small se dood wat die deurslag gegee het om die publikasie te verwesenlik: Wanneer ’n kunstenaar sterf en sy stem vir ewig verstom het, bied dit immers die geleentheid om oorkoepelend oor die geheel van sy kunstenaarskap te besin. Die bydraes in hierdie bundel dra die ondertoon van ’n afsluiting, ’n terugblik op die mens en kunstenaar Adam Small, met temas soos die toekoms van Afrikaans en die Afrikaanse letterkunde, die uitbreidende rol van Kaaps, en sosiale vraagstukke soos bendegeweld en armoede. Mense wat Small van naby geken het is hier aan die woord saam met literatore en kollegas uit die maatskaplikewerk-omgewing waarby Small lewenslank betrokke was. Adam Small: Denker, digter, dramaturg – ’n Huldiging hoef nie as afsluiting van die gesprek oor Small se lewe en werk beskou te word nie – inteendeel: Dit bied juis ook geleentheid om die oorkoepelende blik oor Small se kunstenaarskap as inleiding tot verdere ondersoek te benut.
In hierdie dapper en pragtige verhaal vertel Mejuffrou Suid-Afrika, Shudufhadzo Musida, die storie van waar sy vandaan kom; as ’n singende, dansende babbelkous in ’n klein dorpie met die naam Ha-Vhangani, omring met liefde, veral dié van haar ma en Gogo Gugu. Maar dinge loop skeef vir Shudu wanneer sy na ’n nuwe plek trek en deur haar klasmaats geboelie word. Lees hoe Shudu haar hartseer en uitdagings te bowe kom, en ’n jong meisie en volwassene word wat geleer het om haarself lief te hê!
Hierdie boek het ontstaan as 'n verhaal oor die lewe van 'n besonderse mens: David Samaai. Maar baie gou besef jy dat dit eintlik 'n boek oor 'n baie besonderse familie, die Samaai-familie woonagtig in Paarl, is. Davy Samaai was 'n legendariese tennisspeler, 'n begaafde musikant, 'n inspirerende skoolhoof of hardwerkende onderwyser. Hy het ook met sy voorbeeld gelei.
AB de Villiers is een van Suid-Afrika se grootste sporthelde. Hy is sedert 2011 kaptein van die Suid-Afrikaanse eendagspan asook ’n lid van die nasionale span sedert hy op 20 Desember 2004, op 20-jarige ouderdom, sy buiging vir die Proteas gemaak het. AB het reg deur sy lewe op die sportveld uitgeblink én word vandag as een van die beste kolwers ter wêreld, in alle aspekte van die spel beskou. AB: Die Outobiografie, sal insig bied oor die man agter die kolf en onder die kopskerm, asook oor deurslaggewende oomblikke tydens sy loopbaan en sy verhoudingsbande met verskillende mentors. Die leser sal teruggeneem word na die agterplaas van AB se ouerhuis waar hy as kind die eerste keer saam met sy broers leer krieket speel het, en sal voorgestel word aan al die kleurvolle karakters en sportlui wat paaie met AB gekruis het. AB se belangstelling in musiek en in die sakewêreld word ook onder die loep geneem asook hoe hy hierdie belangstellings van hom saam met sy internasionale krieketloopbaan uitleef.
'n Biografie van die bekroonde skrywer Jeanne Goosen, met foto's, briewe en bydraes van vriende wat vertel hoe hulle dié ikoniese figuur ken. Die skrywer, Petrovna Metelerkamp, is die 2019-wenner van die ATKV-Veertjie vir nie-fiksie vir Ingrid Jonker - 'n Biografie. Die boek bevat materiaal wat voorheen ontoeganklik was en beloof om ure se leesgenot te verskaf aan die duisende aanhangers van die digter-dramaturg en skrywer van Ons is nie almal so nie.
Dié boek is rock ’n roll in die binnewêreld van die legendariese liedjieboer, Anton Goosen. Hanlie Retief vertel Goosen se buitengewone lewensverhaal – van sy grootwordjare in die Vrystaat, die Musiek-en-Liriek-era, sensuur, hoogtepunte en teleurstellings . . . tot waar die vader van Afrikaanse Rock 'n terugblik gee op sy merkwaardige lewe.
Toe Lanie van Reenen haar hoogs suksesvolle gastehuis in Kaapstad verkoop en al haar energie in ‘n kasteel in Aubusson ingooi het ieder en elk met ‘n gesonde verstand haar daarteen gewaarsku. Maar Lanie was besiel. Sy en haar vennote het die Franse chateau liefderyk restoureer tot die beste boutiek hotel in die streek. Die opening van die hotel val egter saam met tragedie... Dis wanneer dit voel asof alles inmekaarval, dat sy gaan sit en haar storie begin neerskryf, ter heling en van die begin af : die eksistensiele krisis van haar jong volwasse jare, haar huwelik met Michael en die hartseer einde daarvan, haar proses van self-aktualisasering wat al hoe groter en meer ambisieuse projekte insluit. C’est la Vie is die inspirerende memoires van ‘n vrou wat ten spyte van terugslae haar eie pad met energie en passie baan. Deernisvol, by tye roerend en soms skreeusnaaks - altyd vol lewensvreugde. Hierdie bygewerkte heruitgawe van C'est la Vie val saam met die verskyning van Net Mooi Fine, Lanie van Reenen se nuwe boek waarin sy die storie van 'n vrou en haar chateau klaar vertel en haar lesers verder neem op haar alleen avontuur...
Ons almal se paaie lyk nie dieselfde nie. Net omdat jou pad anders is, beteken dit nie daar wag nie ’n gelukkige einde nie. Glansaktrise Nadia Beukes nooi jou saam op die paaie wat sy al geloop het: kronkelpaaie, bergpasse, en soms ook ompaaie. Só leer ken ons die ware Nadia weg van die kalklig. Sy deel haar verhaal van diepe hartseer, maar ook van uitbundige vreugde.
Luister na die braste, wat kruisbeen oppie trap sit. Behalwe entertainment, kry ’n taste wat Afrikaaps is! Aitsa, sy boots het stars .. Aitsa, hy’s soe die star ... Aitsa, gloe dis waar .. Hy’s John Wayne in Afrikaans! Sy kop in die wolke ... en sy voete stewig op die aarde. Dit is HemelBesem. In hierdie boek nooi die gewilde kletsrymer jou om saam te stap op sy lewenspad. Hy gesels reguit oor die dinge wat hom gevorm het, die sake wat hom na aan die hart le ... en hy doen dit in die taal van sy hart. Afrikaans. Oor sy Afrikaans se hy: “Afrikaans is ’n groot deel van wie ek is. Dis die taal waarin ek my in oomblikke van woede kras uitgedruk het. Dis die taal waarin ek goed gese het terwyl ek baklei het, waaroor ek agterna spyt was. Dis die taal waarin ek liefkosing uitgedruk en ontvang het ... As Ma geskel het, of jy bang was ... dis alles momente, en alle momente vorm my bestaan.” Daarom nooi hy met hierdie boek lesers om ’n ander Afrikaans te leer ken. Elke hoofstuk het Afrikaanse uitdrukkings uit sy grootword- en leefwereld as vertrekpunt, en dit is vervleg met sy bekende kletsrym-lirieke waarmee hy vlymskerp kommentaar lewer op maatskaplike kwessies en dinge wat hom na aan die hart le.
Goeiemôre, mnr Mandela vertel die uitsonderlike verhaal van hoe Zelda la Grange se lewe, oortuigings en vooroordele omvergewerp word deur die grootste staatsman van ons tyd. Dit volg die ongelooflike lewenspad van ’n verskrikte tikster in haar vroeë twintigs wat gekies word as Nelson Mandela se lojaalste steunpilaar en haar loopbaan daaraan wy om reisgenoot en versorger te word van die man wat sy ‘Khulu’ noem. Hierdie boek wentel om liefde en tweede kanse. Dit sal jou lewe raak en jou laat glo elkeen van ons, ongeag wie ons is en wat ons gedoen het, het die mag om te verander.
Die subtitel, Vertellings van 'n verloopte diplomaat, wek die verwagting dat daar iets met hierdie loopbaan verkeerd gaan loop . . . Juis hierin le 'n volgehoue spanningslyn. Die skrywer vertel eerlik en met humor van sy jare as junior diplomaat in Suid-Afrika Huis in Londen, in die tyd van die politieke woelinge van die onstuimige laat 50- en vroee 60tigerjare. Hy was o.m. privaat sekretaris vir die hoe kommissaris in Londen in die dae van Sharpeville en lid van eerste minister Verwoerd se afvaardiging toe Suid-Afrika weens apartheid aan die Statebond moes onttrek. Mens hoor van die blapse, die politieke binnegevegte, die gedragspatrone van bekende politieke personasies, paleisprotokol, die werk van geheime agente - dinge waaroor die man op straat net maar kan gis. Wat hierdie teks besonders maak, is die verteller se selfspot en ewewigtige terugblik op 'n veelbewoe tydvak. 'n Onderhoudende titel, lesenswaardig en insiggewend, met enkele blink komiese hoogtepunte.
As medeskrywer van Nelson Mandela se biografie het joernalis Richard Stengel ure in Madiba se geselskap deurgebring. Drie jaar lank het hy hom bykans oral heen vergesel - selfs onder die mees senutergende omstandighede. Op pad met Mandela: vyftien lewenslesse is sy manier om hierdie ervaring met ander te deel. Die Afrikaanse uitgawe van Mandela's Way bied ook aan Afrikaanse lesers 'n nadere blik op die merkwaardige man, wat deur mense wereldwyd as 'n lewende legende beskou word. Die lewenswysheid wat Madiba uit sy grootste uitdagings geput het, word hier in vyftien lesse oor die liefde, die lewe en leierskap vervat: waarom dit belangrik is om jou teenstanders fyn dop te hou, waarom waagmoed nie noodwendig 'n gebrek aan vrees beteken nie, en hoekom dit belangrik is om dinge in die lewe te vind waaruit jy plesier en vervulling kan put.
Die legendariese Wit Boesman, Peter Stark, skryf onderhoudend oor sy belewenisse in die destydse Duits-Suidwes-Afrika. Eers as plaasbestuurder en leeuvanger van formaat (wat Natuurbewaring by Etosha grys hare gegee het) en later self as natuurbewaarder, het hy ’n formidabele kennis van die veld, die San, die wild en die mense opgedoen. Hierdie kennis spreek mee in die staaltjies en verhale oor sy ervarings, opgeskryf in die gesellige trant eie aan Namibie. Peter Stark is in Duits-Suidwes-Afrika (vandag Namibie) gebore en was vir baie jare natuurbewaarder in die Okaukuejo-omgewing. As ware seun van die veld het Peter hom onderskei as onverskrokke grootwildjagter, uitnemende ruiter en spoorsnyer van formaat. Hy het in 1974 by die destydse Suid-Afrikaanse Weermag aangesluit as kommandant in die rykunsvleuel, waar hy 'n enorme bydrae gelewer het tot die opleiding van ruiters. Vandag woon op die plaas Vogelsang naby Ventersdorp.
Catherine Willemse se diepe verlange was om vir die wat na haar kom 'n geskiedenis na te laat. Sy is gebore uit die derde geslag vrygemaakte slawe. Sou vrygemaakte slawe dit kon bekostig om na hulle land van herkoms terug te keer, sou hulle nie weet na wie en waarheen nie, want slawe is nie net van hulle vryheid ontneem nie maar ook van hulle geskiedenis. "Ek het in die verlede dikwels gewonder - waar kom ons dan vandaan? Is ons van ver? Waar pas ons in? ek sou so graag net wou weet wie my voorgeslag is. Sy is op 1 Oktober 1926 op die sendingdorpie Raithby gebore, waaroor sy vir een van haar lesers geskryf het: "Dit was 'n eenvoudige dorpie." Dit was. So eenvoudig soos haar lewensverhaal. Daarom is dit so diep verwikkel en aangrypend. Willemse is op 13 Augustus 2005 oorlede en haar stoflike oorskot rus in Worcester. Haar seun, professor Hein Willemse, hoof van die Departement Afrikaans, Universiteit van Pretoria, het 'n nawoord by haar lewensverhaal gevoeg. Die verhaal is verryk met 34 foto's.
In 21 "stories en memories" neem Bakkes bestek op van 'n lewe se wonde wat genees het. Soos feite en fiksie op mekaar inspeel, word dit die "outobiografie" van 'n kreatiewe gees, 'n vrou, 'n Suid-Afrikaner. 'n Enigste dogter verlaat met man en kinders die Nuwe Suid-Afrika. 'n Slepende siekte eis sy tol. 'n Sagte man neem wraak. Geboortegrond word afgele. Oorlewering uit die tyd van die Anglo-Boereoorlog dra 'n eeu later steeds 'n lewensles oor. Dit is 'n bundel waarvan elke deel saam met die geheel gelees wil word want elke verhaal vind weerklank in 'n ander verhaal en belig so 'n ander faset daarvan. Wat wraak nie kon genees nie, genees weerwraak elders. Een vrou verloor haar kind, 'n ander vind 'n verlore dogter terug. Op die drumpel van die dood word liefdesdrif hernieu. 'n Afgetakelde huisie word gerestoureer, soos 'n lewe.
|
You may like...
Alfred's Basic Piano Course - Lesson…
Willard A Palmer, Morton Manus, …
Paperback
R240
Discovery Miles 2 400
|