![]() |
![]() |
Your cart is empty |
||
Books > Afrikaans > Kinder en Tiener Fiksie
Marius het 'n nare ouma - 'n klaerige ou ding wat hom nie wil uitlos nie. Sy is selfsugtig en lelik, sy haat kinders en soms maak sy hom so bang dat hy dink dat sy seker 'n heks moet wees. Marius moet altyd sy ouma se medisyne onthou. Maar hy het spesiale planne vir haar elfuur-dosis - die soort onheilige planne wat net in 'n Roald Dahl-storie kan uitbroei. Nuwe uitgawes herdenk Roald Dahl se 100ste verjaardag in 2016.
Charlie Bucket hoor dat die wonderlike sjokoladefabriek se misterieuse eienaar, Willie Wonka, ’n Goue Kaartjie gaan gee wat ’n paar gelukkiges deur die hekke van die fabriek gaan neem. Hy wens met sy hele hart dat hy ’n kaartjie sal wen – en dan gebeur dit! Dit blyk die fabriek is nie net ’n lekkergoed- en sjokoladehemel nie en Charlie word vasgevang in die soetste avontuur! Nuwe uitgawes van hierdie klassieke werke herdenk Roald Dahl se 100ste verjaardag in 2016.
Charlie en Mnr Willy Wonka van Charlie en die Sjokoladefabriek is terug in nog ’n opwindende avontuur. Laas was hulle in die Glashyser besig om deur die fabriek te sweef. In hierdie storie bevind Mnr Wonka, Charlie en die hele Bucket-gesin hulself in die buitenste ruim! Pragtige nuwe uitgawes van hierdie klassieke kinderboeke om Roald Dahl se 100ste verjaardag te herdenk.
Mnr. Vos steel kos by die gemene boere Ben, Bart en Boon – een vet, een kort, een net vel en been. Hierdie drie skurke maak ’n plan om mnr. Vos by sy huis uit te grawe, maar hulle besef nie hoe fantasties mnr. Vos is en wat hy alles sal doen om sy gesin te red nie . . . Hierdie klassieke verhaal is nou vir die eerste keer in Afrikaans beskikbaar, met briljante vertaling deur Kobus Geldenhuys.
Mnr. Twak is ’n stink en mislike man met stukkies graanvlokkies en sardientjies in sy baard. Mev. Twak is ’n aaklige ou heks met ’n glasoog. Hulle hou die apie Moggelwomp en sy gesin al gans te lank gevange in ’n hok in die tuin en nou wil die apies WRAAK neem . . . Hierdie klassieke verhaal is nou vir die eerste keer in Afrikaans beskikbaar, met briljante vertaling deur Kobus Geldenhuys.
Sophie word in die middel van die nag uit haar bed gegryp en weggedra deur ’n reus met tennisbaan-treë en enorme groot ore. Maar Sophie is gelukkig. Die GSR is baie sagmoediger as sy afgryslike bure, wat vir ’n tydverdryf elke nag slapsoetige kidderen opgopsel . . .
Ek en Azlynn kyk vir mekaar. Dis nou interessante nuus. Daar's 'n nuwe meisie in die buurt, sy's so oud soos ons en boonop gaan sy in ons skool wees. Ek kan sien hoe opgewonde dit vir Azlynn maak. Haar oë vonkel en sy glimlag breed. Maar ek is meer bang as opgewonde. Wat as dit 'n simpel meisie is? Of nog erger, wat as dit 'n wonderlike, superslim, vriendelike meisie is wat dadelik Azlynn se beste vriendin word? Wat as ek my graadsewejaar stoksielalleen moet deurgaan? My maag voel skielik hol...
In hierdie omnibus, wat nog drie boeke van die gewilde Saartjie-reeks bevat, gaan Saartjie en Galpil 'n weddenskap aan om te sien wie is bang vir spoke, Saartjie besluit dat die Drie Muskiete 'n kliek moet vorm, die groepie vriendinne reel 'n hipnose-konsert en Saartjie kry 'n kerel. Saartjie het ’n sjarme wat tot oud en jonk spreek en nuwe lesers sal dadelik deur Saartjie en die Drie Muskiete se avonture meegevoer word!
In hierdie omnibus, wat nog drie gewilde Trompie-stories bevat, word die sproetgesig Grootkaptein en die Boksombende se avonture voortgesit! Trompie samel geld in vir 'n bedleende seun, Trompie word verkies as junior leerderraadslid en die rugbyseisoen begin - wat beteken dat Trompie en sy maats se lewe net om een ding draai.
Lotta se klas het ’n kompetisie gewen! Hulle gaan prente van bedreigde diere op ’n heining verf. Lotta en Chantelle is mal oor diere, so hulle is vuur en vlam. Hulle wil mos nie he pandas en Tasmaniese duiwels en sulke skaars diere moet uitsterf nie . . . maar dinge werk ongelukkig nie uit soos hulle beplan nie. Veral nie met die neus-in-die-lug Berenice in die rondte nie. Dit is die een katastrofe na die ander in Lotta se lawwe lewe! Haar avonture is egter altyd pret!
Sanlambeginnersprys (1997) Scheepersprys vir jeuglektuur (1998) M.E.R.-prys (1998) ’n Aangrypende verhaal oor vriendskap, verlies en die demone wat tieners moet takel in die proses van grootword, geskryf in die taal van vandag se tiener. Die hoofkarakter is ’n 16-jarige seun wat versot is op branderplankry, ’n karakter met wie tieners, en veral seuns, maklik sal kan identifiseer. Nou ook 'n rolprent met Ballade vir 'n Enkeling se gewilde Edwin van der Walt in die leidende rol in die rolverdeling van jong akteurs.
In Liewe Heksie: Leesboek 4 vang Liewe Heksie 'n boef by Karel Kat se huis, kry sy haar eie koekoekhorlosie en reken sy met die Geelheks af by Koning Rosekrans se verjaardagpartytjie. Liewe Heksie se onskuld, humor en verbeelding is nog net so bekoorlik soos altyd!
Uiteindelik het Kwaaikofski sy eie rekenaar. Nou hoef hy nie meer sy speursake soos 'n speurder in die Middeleeue op te los nie! En dit is ook nie 'n minuut te laat nie, want Kwaaikofski se nuutste saak lei hom op 'n geheimsinnige dwaalspoor tot diep in die vreemde wereld van kuberkrakers. Hy moet 'n geheimsinnige rekenaarspeletjie genaamd Towertuin opspoor, voor dit dalk te laat is...
BRITTANJE. DIE TOEKOMS. DIE JAAR 2120. Londen lê in puin, die mense is honger en die hele koninkryk is in pikdonker gehul. Prins Albert, ’n tingerige boekwurm, het nog nooit die veiligheid van Buckingham-paleis verlaat nie. Maar nou gebeur daar vreemde dinge tussen die mure van die paleis – en Alfred se lewe gaan vir ewig verander. Snags dwaal daar iets gruweliks in die gange rond. Wanneer Alfred se geliefde ma, die koningin, na die Londense Tower weggesleep word, moet die seun al sy moed bymekaar skraap om op ’n epiese avontuur te gaan sodat hy haar – en die hele wêreld – kan red. Reis vooruit in tyd en geniet hierdie fantastiese avontuur – ’n stories vol mites en legendes wat jou tot reg aan die boeiende einde vasgenael sal hou.
Die mans in Rose se lewe het haar almal gedrop. Na haar boetie, Gerard, se dood het haar ouers ook van haar vergeet. Deesdae kyk haar ma hopeloos te diep in die bottel en dwaal haar pa se oog heeltemal te veel. Vir Rose is hulle net Blackie en Verona, die mense met wie sy 'n huis moet deel tot sy agtien is. Haar laaste hoop en anker was Rodriek, maar ook hy begin vreemd optree. Hoekom maak hy asof sy saam met hom iets spesiaals gedeel het? Het hy haar drankie gedokter om haar in die bed te kry? Hoekom kan sy niks van die aand onthou nie? Vir die eerste keer in haar lewe is Rose werklik alleen. Selfs haar boesemvriendinne mag nie die detail van die verskriklike aand weet nie. In 'n tyd waar niks sin maak nie, is Rose van een ding seker: sy moet Rodriek terugkry. As sy haar kaarte reg speel kan sy dalk haar ouers se aandag ook terugkry. Sorrie maak nie gesond nie is 'n verhaal oor oorsaak en gevolg, waarheid en leuens en wat dit beteken om verantwoordelikheid vir jou eie lewe te neem. Anzil Kulsen toor met woorde sodat jy wegraak in 'n onvoorspelbare verhaal van vriendskap, berou, liefde, drome en wraak. Met Anzil se sukses tot op hede, is dit geen verassing nie dat hierdie boek moeiteloos alle rasse en kulture insluit sonder om 'n wroeg-en-preek-boek te wees. 'n Sorrie maak nie gesond nie is landswyd in toonaangewende boekwinkels beskikbaar en ook as e-boek te koop.
Bennie Boekwurm woon diep onder die grond daar in die Wielie Walie-parkie. In sy tonnelhuisie is daar rakke en rakke vol storieboeke. Sy naam is nie verniet Bennie Boekwurm nie. Bennie hou baie daarvan om stories vir kinders te lees. Hy wag nou juis vir hulle om hom te roep. Hy het klaar die boek uitgesoek . . . Die stories is gebaseer op die bekende TV-reeks op SABC in die 80er jare. Illustrasies is helder en kleurvol en sal kleintjies sowel as hulle ouers bekoor.
In hierdie omnibus, wat nog drie gewilde Trompie-stories bevat, word die sproetgesig Grootkaptein en die Boksombende se avonture voortgesit! Titels in hierdie omnibus: Trompie die kragman, Trompie die hartedief en Trompie die held. Die ondeunde Trompie het ’n sjarme wat tot oud en jonk spreek en nuwe lesers sal dadelik deur Trompie en die Boksombende se avonture meegevoer word!
In hierdie omnibus, wat drie boeke van die gewilde Saartjie-reeks bevat, ontmoet ons vir Saartjie Baumann, die langbeenmeisie met die wipneus, kuiltjies in die wange en duisende duiweltjies in haar oe. Titels in hierdie omnibus: Saartjie se papegaai, Saartjie se held en Saartjie se geveg. Saartjie het ’n sjarme wat tot oud en jonk spreek en nuwe lesers sal dadelik deur Saartjie en die Drie Muskiete se avonture meegevoer word!
6-10 jaar/years. Kinders is mal oor Speurder Kwaaikofski! Uiteindelik kan hulle nóg ’n heerlike speuravontuur geniet. Kwaaikofski het kompetisie: ’n ander speurder krap in sy slaai! Hierdie ou noem homself ’Koning’ en is heeltemal te groot vir sy skoene. Kwaaikofski kan dit beslis nie daar los nie – hierdie dorp is te klein vir albei van hulle. ’n Speurkompetisie sal bewys wie nou eintlik die speurkoning is!
Alfie het op veertien nie net koning geword nie, maar ook die Redder van die Ryk. Ná die groot geveg tydens sy kroningsplegtigheid, dink Brittanje dit was die laaste sien van die Swart Draak, en Alfie skuif sy redderpak opsy en gee aandag aan sy koninklike pligte. Hy moet leer om sy pa se skoene vol te staan. Maar wanneer ’n bende Wikings uit die dood opgewek word, moet Alfie, Hayley en die hellebaardiers regmaak vir ’n epiese stryd wat die koninkryk in ’n nuwe donker eeu kan dompel. Hulle is egter nie alleen nie – ’n paar onverwagse persone staan hulle by.
In hierdie omnibus, wat nog drie gewilde Trompie-stories bevat, word die sproetgesig Grootkaptein en die Boksombende se avonture voortgesit! In Trompie die hoerskoolseun maak die Boksombende ’n plan om geld in te samel om vir Rooie ’n fiets te koop. In Trompie die dromer word die bende bedreig – deur ’n meisiekind! Trompie, die Grootkaptein en meesterlike planmaker, is smoorverlief en sit heeldag net en droom. In Trompie die speurder kom Trompie en Rooie op skelms af wat fietse steel. Trompie agtervolg die diewe en beland in ’n groot penarie. Sal Trompie hierdie gevaarlike avontuur oorleef sodat hy weer saam met sy manskappe onder die blou hemel kan vergader? Die ondeunde Trompie het ’n sjarme wat tot oud en jonk spreek en nuwe lesers sal dadelik deur Trompie en die Boksombende se avonture meegevoer word!
Hierdie omnibus-uitgawe is ’n versameling van die gewildste verhale uit die bekende Storieman-reeks. Dit sluit die oorspronklike voorlesings op twee oudio-CD’s in, sodat almal heerlik saam kan lees en luister! By die huis, of in die motor ... Storieman is daar! In hierdie uitgawe verskyn gunstelinge soos “Wikus te Goede”, “Die astrante snyertjie”, “Die standvastige bliksoldaatjie” en “Die keiser se nuwe klere.” Kom lag lekker saam met stories soos “Liewe Heksie en die Koekoekie” en “Spokie van Boosgelegen” en word betower deur sprokies soos “Elf wilde swane”, “Die tonteldoos” en “Die Groen Jonkvrou van die meer”.
Gewoonlik ondersoek Kwaaikofski nie sake wat iets met honde te doen het nie – dit is vir beginners. As die stad se ander speurders moet uitvind hy loop agter ’n vermiste hond aan, skaam hy hom morsdood! Maar hierdie keer is dit ’n uitsondering – Masker Mike se reusehond, Wotan, is net so geheimsinnig en buitengewoon soos sy eienaar. Maar wie beskuldig vir Wotan van allerlei wandade? Is dit net ’n manier om van hom ontslae te raak, of probeer iemand vir Masker Mike bykom? Speurder Kwaaikofski stel ondersoek in. Die intriges van die stories in hierdie reeks is eenvoudig, maar uiters vermaaklik en die humoristiese illustrasies sal sorg dat kinders dol sal wees oor hierdie koddige, maar brawe klein speurder se avonture!
|
![]() ![]() You may like...
Hyperfocus - How To Work Less To Achieve…
Chris Bailey
Paperback
![]()
|