![]() |
Welcome to Loot.co.za!
Sign in / Register |Wishlists & Gift Vouchers |Help | Advanced search
|
Your cart is empty |
||
|
Books > Afrikaans > Kinder en Tiener Fiksie
Wanneer Sakkibiaan, ’n seuntjie van Dorslandtrekkers, wegdwaal van sy familie terwyl hulle deur die Kalahari na Angola trek, maak groot hartseer gou plek vir groot avontuur. Sy pad kruis met dié van twee donker woestynmense en jagmaats: Doemdoempie en Gagaboemboem. Terwyl Doemdoempie met sy mooi hart graag sy nuwe wit broertjie wil help, wil Gagaboemboem met sy swart hart graag biltong van Sakkibiaan maak! Sakkibiaan moet vinnig die geheime taal van die woestyndiere en –insekte leer verstaan om met Doemdoempie kragte saam te span teen Gaggaboemboem en sy bende. ’n Wêreld vol geheimenisse ontvou namate Doemdoempie en Sakkibiaan met hul nuwe familie – waaronder die reuseboomsprinkaan Tjierlabaai, die rooioog-rivierwese Liewenatan en die mak silwerrugjakkals Peppitan – hul vyande moet trotseer en deur die Kalahari trek. Uiteindelik lei die reis Sakkibiaan op ’n toweragtige pelgrimstog wat bewys: “Vir hulle wat nog nie al die vrae van die lewe kan beantwoord nie, lê daar nog ’n lekker lang pad voor met baie spoortjies daarop.”
Niemand het nog ooit die Rooi prinses gesien nie, want sy het agter die mure van die Wit Toringpaleis grootgeword. Eers op haar twaalfde verjaardag kom sy uit om in 'n feestelike optog aan die volk bekendgestel te word. Dit is 'n lang stoet van rytuie vol waardige persone, met heel aan die einde die rooi koets waarin die prinses sit. Die volk rek hulle nekke om haar uiteindelik te sien, maar voor enigeen 'n glimp van haar kan kry, gebeur iets verskrikliks. Woeste rowers storm nader en ontvoer die prinses met koets en al in 'n wilde rit die stad uit en die wildernis in. “Hoe vreeslik!” dink almal. Maar dan begin sommige mense wonder of dit nie alles net toneelspel was nie. Bestaan die Rooi prinses regtig? Niemand het haar dan met 'n oog gesien nie. En daardie rooihaarmeisie wat in vuil klere stoksielalleen deur die wildernis dwaal, is dit 'n prinses? Elke meisie van twaalf met rooi hare kan mos nou se sy is die Rooi prinses. En dit gee iemand 'n blink idee...
Met hierdie verhaal fokus Dolf van Niekerk weer eens op “die buitestander/outcast”. Die buitestander se groot verlange is om nie 'n buitestander te wees nie, maar deur omstandighede is hy gewerp in 'n situasie van eensaamheid waaruit hy nie kan ontsnap nie. Die grootste behoefte van die buitestander/uithuisige figuur is om “tuis” te kom. Die jong rebel, Diederik Versveld, is 'n buitestander – alleenmens, enkeling, vreemdeling op aarde. Hy is opsoek na lig – hoop, uitkoms, rede. Na sy broer se wrede dood gedurende die 1914-rebellie, begin hy by die goudmyne werk waar hy onwillig betrek word by die mynstakings. Hy word willoos deur die onstuimigheid van sy tyd rondgeslinger, maar vir hom is daar niks wat 'n standpunt werd is nie – hy is niemand, niks, nerens.
Karl Kielblock het verskeie boeke geskryf, waaronder die Lafras Cuyper-reeks baie bekend is en wyd versamel word. Dit handel oor seeavonture in diens van twee oorlogvoerende moondhede vroeg in die 19de eeu. Hierdie is die sewende en laaste boek in die reeks, propvol opwinding, spanning en avontuur! Lafras begin al hoe meer hunker na standvastigheid: met ’n vrou en kinders in ’n huis van hul eie – sonder die gevare wat die lewe op see inhou. Gaan Lafras se seeavonture in hierdie laaste titel van die reeks tot ’n einde kom? En belangriker – sal hy uiteindelik die groot liefde vind waarna hy nog al die jare smag? Die verhaal van Lafras Cuyper is op feite gebaseer.
Die derde boek in die bekroonde Juffrou Goth-reeks. Die wêreld se beroemdste skrywers kom spog met hulle bedorwe brakke by die Grommengrys-herehuis se literêre hondeskou. Maar daar is allerhande vreemde dinge in en om die herehuis wat Ada pla – geheimsinnige dierespore, tjankgeluide snags en skoene waaraan gekou is. Kan sy uitvind wat aangaan voor dit weer volmaan is?
Bennie Boekwurm woon diep onder die grond daar in die Wielie Walie-parkie. In sy tonnelhuisie is daar rakke en rakke vol storieboeke. Sy naam is nie verniet Bennie Boekwurm nie. Bennie hou baie daarvan om stories vir kinders te lees. Hy wag nou juis vir hulle om hom te roep. Hy het klaar die boek uitgesoek . . . Die stories is gebaseer op die bekende TV-reeks op SABC in die 80er jare. Illustrasies is helder en kleurvol en sal kleintjies sowel as hulle ouers bekoor.
Josh is ingehuldig as die nuwe koning van Kalimbula. Hy sukkel sonder sy ma en met die idee van koning wees, maar met die ondersteuning van Njeri en Ngandu begin hy moed kry. Silvia, sy ma, is egter nie dood nie. Sy word deur haar eie suster op die plaas aangehou. Sy slaag daarin om te ontsnap en probeer Kalimbula bereik. Intussen maak 'n misterieuse kryger haar verskyning in Kalimbula. Sy dra 'n donker verlede met haar saam en saai verwoesting so ver soos sy gaan. Josh se koningskap word tot die uiterste beproef. Hy vra die hulp van die geheimsinnige sifashama met hul rooi mantels en diep stemme, maar nie een plan werk nie. Op Ngandu se aandrang, besluit Josh om sy aartsvyand – Masjeba, die bose heks – in die tronk te besoek. Masjeba gee hom antwoorde oor die kryger en hoe om haar te verslaan, maar teen 'n prys. Intussen versterk die professor sy magte. Maar waar in Silvia? Sal sy Kalimbula bereik voor dit te laat is en alles om Josh in duie stort?
Asterix by die Pikte is die 35ste boek in die gewilde Asterix-reeks. Hierdie boek het vir die eerste keer van die begin af ook in Afrikaans verskyn. Asterix en Obelix ontdek een bitter koue oggend 'n blok ys op die strand...met 'n bevrore Pikt binne-in. Kasterolix se doepa ruk hom weer reg en die twee vriende vergesel die Pikt, MacLawaai, terug Pikteland toe om hom met sy clan en sy verloofde te vereinig. Maar in Pikteland is alles ne plus nie. Die bose MacAber hou homself baas. Hy het 'n ooreenkoms gesluit met die Romeine, en doen alles in sy mag om as nuwe koning verkies te word. Maar ons vriende sal wel 'n stokkie (of 'n paal?) voor sy planne steek.
’Ie liewe is 'n dice game; ’ie dice rol soes hy rol en jy moet ’it ma’ vat, broe’. Jay en Alpha deel ’n wereld van armoede en bendes en het al twee sonder ’n pa grootgeword. Maar hulle paaie skei: Alpha bly die leier van die Lo$Boys, ’n klein bende in Manenberg, terwyl Jay ’n beurs kry om in Kaapstad te gaan studeer. Vir Jay is dit ’n nuwe begin, maar dan word dinge meteens kompleks wanneer sy pad met die van ’n weggooibaba kruis. Kort voor lank is die situasie nie slegs kompleks nie, maar ook gevaarlik. Waarheen gaan ’n student met ’n baba? Die welsyn en polisie vertrou hy nie, maar sy opsies is beperk. Sou hy dit in Manenberg kon waag? Terwyl ’n bendeoorlog dreig?
Leer jy ook al lees? Daar is oral prentjies in plaas van woorde. Gebruik die regte plakker met die woordjies om oor die prentjies te plak. In elke boek kan jy 'n nuwe avontuur saam met Miesiemuis beleef.
Die lawwe ridder Don Quijote is besig om die stad op horings te neem, en dis alles Lillie se skuld! Die storieboekheld het met behulp van een van haar towerspreuke daar beland en nou saai hy oral verwoesting. Hy sien motors vir drake aan en storm met sy “strydros” ('n fiets wat hy roesinante noem) op hulle af. Advertensieborde val hy met sy lans aan. En by die kermis wil hy opsluit die mallemeuleperdjies bevry! En dis nog net die begin...Maar die soort petalje is mos Lillie se kos.
Vanessa se ouers was eens skatryk, maar wanneer haar pa alles verloor moet hulle trek na 'n piepklein huisie op 'n skrootwerf waar haar pa as bestuurder van 'n insleepwa gaan werk. Die motorongeluk waarin Vanessa betrokke was, spook steeds by haar. En al die gruwelike motorwrakke in die skrootwerf gee haar die horries. Wanneer sy die eienaardige Wayne ontmoet, vind sy boonop uit dat die skrootwerf meer as een spokerige geheim wegsteek . . .
'n Jong held. 'n Belangrike opdrag. 'n Ongelooflike avontuur. Tiuri verbreek die reëls wat bepaal dat hy met niemand mag praat die nag voor hy tot ’n ridder geslaan word nie. Hy maak die deur oop van die kapel waar hy oor sy toekoms moet nadink. Die versoek om hulp blyk ’n gevaarlike opdrag te wees. Tiuri word agtervolg deur boosaardige Rooi Ruiters wat hom wil doodmaak. Maar hy is vas van plan om die uiters belangrike brief by koning Unauwen af te lewer. Die Swart Ridder met die Wit Skild het nie verniet met sy lewe geboet nie … ’n Middeleeuse verhaal wat jou hart vinniger laat klop. ’n Boek vir jonk en oud.
Christien Neser neem die vyfjarige Micha uit Amper Einstein (Tafelberg, 2013) se storie op ’n verrassende wyse verder. In Absoluut Einstein is hy in graad 9, met MatriekIT onder die knie. Maar sy outisme het hom tot nou uit ’n “gewone” skool gehou. As hy egter aan ’n universiteit wil studeer, moet hy leer sosialiseer, en daarom begin Micha in graad 9 vir die eerste keer by Parkrand Hoërskool skoolgaan. Dylicia word gevra om ’n ogie oor Micha te hou. Sy’s die enigste meisie in die skool se Robotikagroep, wat vir die Grottobot Fest ’n robot bou en programmeer. Eers lyk dit asof die Vuilhonde en Micha koppe gaan stamp, maar Micha en Bees vorm ’n onwaarskynlike vriendskap, en gou lyk dit vir Dylicia asof die groep seuns, Micha inkluis, haar nie meer nodig het nie.
Om te leer lees is een van die grootste avonture wat op enige kind wag - en Krok en Dil is die perfekte maats om die opwindende reis mee aan te pak! Die nuwe leesreeks uit die pen van Jaco Jacobs stel kinders deur middel van prettige stories aan verskillende klanke bekend. Die reeks het 'n sterk strokiesprent-aanslag, met volop spraakborrels en fantastiese volkleurillustrasies deur Nadia du Plessis, en die twee onwaarskynlike beste maats, 'n knorrige krokodil en 'n lewenslustige komkommertjie, sal dadelik in beginnerlesers se harte kruip. Jaco is self die pa van twee dogtertjies, Mia (9) en Emma (7), wat die afgelope paar jaar leer lees het, en hy se een van die grootste struikelblokke was om toeganklike beginnerleesboeke op te spoor. "My kinders het grootgeword met stories - van die heel lekkerste storieboeke in Afrikaans en Engels wat aan hulle voorgelees is. Dit was daarom vir hulle baie frustrerend as beginnerleesboeke net op die klanke fokus, sonder 'n sterk, vermaaklike storielyn. Dit is waarom ek die Krok en Dil-reeks begin skryf het - ek wou 'n leesreeks skryf wat vir lesers - en ouers! - 'n prettige storie in elke boek bied, met hope humor."
Muulke, Fing en Jes is glad nie lus om vir die hoeveelste keer te trek nie. Maar wanneer hulle eers die huis van Nege Oop Arms leer ken, wag daar verskeie ontdekkings en avonture op die Nederlandse sussies.
Vandat sy 'n geheime towerboek onder haar bed ontdek het, is niks vir Lillie lekkerder as om heksespronge na interessante plekke te doen nie. Maar soms word haar towery ’n bangmaakspulletjie – byvoorbeeld toe sy haar skielik in ’n Egiptiese farao se grafkelder bevind. Meteens is haar flits se batterye pap, en verloor sy boonop nog die muisteddie waarmee sy haar na die werklikheid moet terugtoor. Deksels! En het sy nie juis voetstappe agter haar gehoor nie?
Die vyfde in Willem D. Kotzé se gewilde T’sats-reeks. T’sats se seun Tkô!lie moet bewys dat hy ’n man is voordat hy die mooi Ta!mi as vrou kan vat. Hy moet manalleen ’n eland soek, hom met sy gifpyl skiet en agter hom aan hardloop, totdat die eland dood neerval. Dan eers kan Tkô!lie die eland vir Ta!mi wys en ’n kerf op sy boogstok kry as bewys dat hy ’n jong jagter is wat ’n vrou kan vat. Maar die Kalahari word geteister deur ’n ongekende droogte. Die elande trek weg na groener dele en Tkô!lie se groep moet uitmekaar gaan om te kan oorleef. Só word Tkô!lie en Ta!mi geskei. Hoe gaan Tkô!lie sy eland skiet en weer vir Ta!mi opspoor in die uitgestrekte Kalahari?
Daar’s groot opgewondenheid in Feetjiedal. Dis amper tyd vir die Hoogsomer-bal. Al die feeperdjies is gretig om uit te vind wie van hulle Feekoningin se goue koets gaan trek. Krulkop wil so graag gekies word, maar sy’s nie so sierlik en elegant soos die ander feeperde nie. Haar droom lyk buite bereik...
Karel Kameleon word saam met twaalf ander spioene opgeroep deur Groot Gekko Dikke Nekko. Die baasspioen en oprigter van die Geheime Diereverbond ontbied hulle na sy geheime tempel in die oerwoud. Die lys met al die name van die spioene van die Geheime Diereverbond is gesteel. Wie het die lys gesteel? En hoe het hy by die altaarkamer uitgekom?
Dit is die yskoue winter van 1944/1945. Die Tweede Wereldoorlog woed nog en Nederland ly onder die Duitse besetting. Die 15-jarige Michiel kan nie wag tot hy oud genoeg is om aan die ondergrondse versetsbeweging deel te neem nie. Wanneer Dirk, hulle bure se seun, hom vra om 'n brief af te lewer voel hy dat hy uiteindelik ernstig opgeneem word. Maar Dirk word gearresteer en die persoon aan wie hy die brief moet besorg, word deur die Duitsers doodgeskiet. Gaan Michiel die brief oopmaak en die verantwoordelikheid van die opdrag daarin aanvaar? |
You may like...
|