![]() |
![]() |
Your cart is empty |
||
Books > Afrikaans > Maatskaplike Wetenskappe
Die slawe aan die Kaap het as draers en skeppers van kultuur, ten spyte van onderdrukking, ’n groot invloed uitgeoefen op die ontwikkeling van die samelewing aan die suidpunt van Afrika en veral van ’n inheemse, kreoolse kultuur. In hierdie boek word die slawe se rol in die ontstaan van dié eiesoortige kultuur vir die eerste keer verken.
Herman Lategan word wyd gerespekteer as joernalis, en is beide berug én beroemd vir sy uitgesprokenheid en kwinkslae oor alles onder die son. In Hoerkind vertel hy sy lewensverhaal uit die hart uit, sonder doekies omdraai. Hy is een warm Februarienag in 1964 in ’n losieshuis in Kaapstad verwek – buite die eg. Van jongs af het hy soos ’n weggooimens gevoel, want hy is deur grootmense wat die lewe op onvaste voet betree het, van die een stel hande na die ander aangegee. Op 13 beland hy in die kloue van ’n geslepe pedofiel, ’n bekende Afrikaanse koerantman in daardie jare. Pas na sy 18de verjaarsdag, wanneer sy molesteerder met hom klaar is, word Herman sonder seremonie voor die deur van sy vervreemde alkoholis-pa afgelaai. In sy tienerjare bevriend hy Afrikaanse digters soos Sheila Cussons, Ina Rousseau, Barend J. Toerien en Casper Schmidt. Ná skool doen hy sy diensplig, maar word oneervol ontslaan en kom hy in New York aan, waar hy vir Andy Warhol op straat agtervolg en met ’n “smorgasbord van eendagsvlinders” kattemaai. Terug in Suid-Afrika maak Herman opgang as joernalis wat na die wydste hoeke van die wêreld reis. As volwassene voer hy ’n stryd met drank en dwelms en is ’n ruk lank haweloos. En vir menige werkgewer word hy die nagmerrie wat hulle die ergste vrees. Hoerkind is ’n aangrypende relaas oor verlies én oorwinning wat jou sal laat lag, en jou hart ’n paar keer breek. Jy sal jou kop skud oor die wreedheid van ’n wêreld waar mense aan mekaar uitgelewer is, maar jy sal verwonderd staan oor die omvang van goedheid, juis omdat mense op mekaar aangewese is.
Die arbeidswetgewing wat betrekking het op die onderwysomgewing is omvattend en dek ’n groot verskeidenheid aspekte waarmee almal binne hierdie omgewing op een of ander stadium te doen kry. Waar daar in die verlede moontlik ’n vae begrip van veral wette en regulasies ten opsigte van diensvoorwaardes by meeste werknemers in die onderwys teenwoordig was, is dit nou onontbeerlik om ’n basiese begrip van alle relevante wetgewing en regulasies wat van toepassing is, te hê. Veral onderwysers kan hulle in die spreekwoordelike mynveld bevind indien hulle nie seker maak dat hulle oor die basiese kennis van onderwysreg beskik nie. Dit word gestaaf deur die talle hofsake, dispute, mediasies, dissiplinêre verhore en die dikwels onaangename implikasies daarvan vir indiwidue (en hul gesinne) wat voortspruit uit aanklagte teen oortreders in alle sektore van die onderwys. Wetswysigings na aanleiding van veranderde omstandighede binne die onderwys, lei tot die behoefte om voortdurend op die hoogte van die implikasies en toepassing daarvan te wees. Hierdie dringende behoefte geld nie alleen vir skoolhoofde nie, maar vir elkeen betrokke by onderwys. Aan die een kant berus die korrekte toepassing en implementering by die beheerliggaam en die hoof van ’n inrigting, maar aan die ander kant raak dit die mense wat daar werksaam is. Die skrywers van hierdie boek het nie alleen ’n deeglike besef van hierdie noodsaaklike behoefte nie, hulle spreek dit ook baie effektief aan deur middel van hulle uiters waardevolle ervaring. Hierdie ervaring spruit voort uit praktiese betrokkenheid by die onderwys asook deeglike navorsing op die terrein van onderwysreg. Kennis van al die aspekte wat in hierdie boek aangespreek word, verbeter ongetwyfeld die kwaliteit van die onderrig– en leerproses in die klaskamer – ’n broodnodige doelwit om na te streef. Dit skep ook ’n veiliger omgewing waarbinne elkeen funksioneer. Persoonlik is ek baie dankbaar vir die bydrae wat deur middel van hierdie handige handleiding gemaak word tot die uiteindelike kwaliteit van onderwys in Suid Afrika.
’n Ongekende opkoms van Afrikaner-magnate het die Suid-Afrikaanse
ekonomie die afgelope drie dekades gekenmerk. Dit is veral merkwaardig
in die lig van die regering se omvattende program van swart ekonomiese
bemagtiging.
Suid-Afrika se skoonheid en koloniale geskiedenis het seker gemaak dat verskeie bloubloediges deur die eeue heen sterk bande met die land ontwikkel het. Só is daar byvoorbeeld die Nederlandse prinses Irene van Lippe-Biesterfeld, met haar groot liefde vir die Karoo, wat hard baklei het teen skaliegas-ontginning deur die Nederlandse petroleummaatskappy Shell. As godsdienstige of politieke leiers - dikwels van adellike afkoms - in die Oosterse kolonies té veel geluide begin maak het, is hulle na die Kaap verban, wat 'n deurslaggewende rol gespeel het in die land se slawegeskiedenis: Hiervan getuig die verhale van sjeg Joesoef en die radja van Tambora. Watter spoor het die Napoleons in Durban agtergelaat? En George Rex, stigter van Knysna, wat dan nou op 'n druppel water soos koning George III van Engeland gelyk het? Hoe het dit gekom dat prinses Anne van Brittanje se oorkrabbetjie dwarsdeur 'n volstruis se pens gegaan het? Konstantyn II, die laaste Griekse koning, prinses Charlotte van Liechtenstein en die Karadjordjević's van Serwië het hulle eie bande met Suid-Afrika - en die kroonprins van Albanië praat Afrikaans! Hoe het dit alles gebeur? En hoekom lui die naam lady Juana Smith 'n klokkie? Blou bloed: koninklike spore in Suid-Afrika gaan soek antwoorde op hierdie en nog baie ander vrae.
English A summary of the facts and important issues precedes each case excerpt. The excerpts are followed by a critical note evaluating and explaining the relevance and importance of the judgment. The method employed by the authors in their selection of cases reflects a principled approach to the subject. All introductory and explanatory notes are in English and Afrikaans, and Afrikaans judgments are followed by an English translation. This book will be of invaluable assistance in the study of the dynamic field of criminal procedure. It can be used as a companion to the Criminal Procedure Handbook twelfth ed by Joubert (editor) et al.
Afrikaans Elke uittreksel word voorafgegaan deur ‘n opsomming (in Engels en Afrikaans) van die feite en belangrike kwessies. Die uittreksels word gevolg deur ‘n kritiese aantekening (weereens in Engels en Afrikaans) waarin die belang van die uitspraak oorweeg en verduidelik word. Uitsprake in Afrikaans word gevolg deur ‘n Engelse vertaling. Die skrywers se keuse van uitsprake weerspieël ‘n beginselmatige benadering tot die onderwerp. Die boek sal nuttig wees by die bestudering van die dinamiese gebied van die strafprosesreg. Dit kan saam met die Strafprosesreghandboek twaalfde uitgawe deur Joubert (redakteur) et al gebruik word.
Die boek gee 'n voelvlugoorsig van die vier Suid-Afrikaanse kolonies gedurende die Eduardiaanse tydperk van 1902–1910. Die tydperk word deur Karel Schoeman beskou as die “hoogtepunt van die hele Imperiale gedagte” wat uiteindelik met die uitbreek van die Eerste Wereldoorlog sou eindig. Die klem val egter nie op die politieke besluite en ontwikkelinge nie, maar op die persoonlikhede van leiers- en ander figure, die omstandighede in die vier kolonies met hulle stede en dorpe, belangrike sosiale gebeurtenisse, die aanloop tot unifikasie in 1910 en die uitwerking van die belangrike naturelle grond-wet van 1913 op die lewenswyse van swart mense direk na Uniewording. Kort maar insiggewende tiperings word gegee van persoonlikhede so uiteenlopend soos oudpresident Steyn, Lord Milner, die dramaturg Stephen Black, die bendeleier Robert Foster, die avontuurlustige Mrs Edith Maturin en die deelsaaier Kas Maine. Ruim aanhalings uit verskillende bronne verlewendig die bespreking van alledaagse omstandighede op verskillende plekke in wat later die Unie van Suid-Afrika sou wees, soos die sketse van Jacob Lub oor die lewenswyse in Johannesburg, die setlaar Leonard Flemming se boeke oor sy eensame bestaan op 'n afgelee Vrystaatse plaas, en die talle verwysings na riksjas in die reisbeskrywings van besoekers aan Durban. Besonder boeiend is ook die hoofstukke oor die rol van Joodse smouse en handelaars in onder andere die volstruisveerbedryf en die toestande in die inrigting vir melaatses op Robbeneiland. Talle anekdotes en klein kameebeskrywings maak van Imperiale somer 'n besonder interessante leeservaring. Die boek word toegelig met ruim fotoseksies wat 'n visuele beeld van die era gee.
‘Miskien issit omdat poverty my define en nie die racial politics vannie land ie.’ Wit issie ’n colour nie is ’n versameling verhale oor grootword en die lewe in die buitewyke van die Kaapse Vlakte. Dit dek identiteit, rassepolitiek, sosio- ekonomiese kwessies en bruin kultuur, en bevraagteken die Suid-Afrika waarin ons ons bevind. Dit is gevul met galgehumor, rou eerlikheid en hartverskeurende vertellings van pogings om die lewe op die Vlakte te navigeer. Hierdie versameling is diep persoonlik en ’n ontstellend waar weergawe van die lewe aan die ander kant van die spoor, geskryf in Kaapse Afrikaans.
Voorwoord deur die outeur en reeksmoordenaar-ondersoeker, Gerard Labuschagne. Die forensiese patoloog, Hestelle van Staden sien byna daagliks die skadukant van die mens. Sy het al meer as 7000 outopsies behartig waarvan die meerderheid mense aan onnatuurlike oorsake oorlede is. In hierdie boek werp sy lig op nege lykskouings. Daar is die tragiese storie van baba Letitia Meyer wie se ma volgehou het sy het bloot uit 'n stootwaentjie geval . . . die moord op die bekende musikant Lucky Dube en die outopsie van 'n jong swanger vrou wie se dood medici laat kopkrap het. Outopsie bied 'n blik op die lewe van 'n forensiese patoloog in SuidAfrika en die uitdagings wat daarmee gepaard gaan.
In ’n pragtige plattelandse dorpie ontvou ’n ondenkbare tragedie.
Deveney Nel, ’n talentvolle 16-jarige, se lewe eindig skielik, en die
gemeenskap, saam met die res van die land, is geruk. Julian
Jansen, skrywer van topverkoperboeke soos Moord op Stellenbosch,
het as misdaadverslaggewer vir Rapport van die begin af oor die saak
geskryf. Hy benut sy uitgebreide kontakte binne die polisie, sowel as
onderhoude met vriende en familie om die gebeure te rekonstrueer en om
Deveney Nel te eer.
So lyk ’n vrou, Ilse Verster se hartroerende verhaal oor Esli se lewe
van mishandeling deur ’n gewelddadige eggenoot, het lesers in 2022
geskok en aangegryp. ’n Vrou staan op is die vervolg op die
blitsverkoper en vertel van die nuwe hoofstuk in Esli se lewe.
Die onderwysersgids is saamgestel volgens die vereistes vir Huistaal. Dit ondersteun die onderwyser se taak deur: • ’n volledige antwoordsleutel vir elke module te voorsien, asook riglyne, wenke en prosedures • leeraktiwiteite in afdelings soos Pitkos en In ’n neutedop • wenke te gee vir doeltreffende luister, praat, lees, kyk, skryf en aanbied • gepaste inhoud en kontekste, en ’n wye verskeidenheid tekssoorte aan te bied volgens eietydse temas • onderrigplanne vir elke module, asook riglyne vir lesbeplanning • ’n formele assesseringsprogram vir graad 5, asook verskeie metodes en instrumente vir assessering • ’n CD waarop ’n volledige onderwyserslêer, beplanningsdokumente en addisionele werkkaarte verskyn
Studente sal hierdie boek van groot waarde vind by hulle studie van die Strafprosesreg. Dit maak lesers vertroud met die fundamentele beginsels en waardes onderliggend aan hierdie gebied van die reg en lei hulle stelselmatig deur die proses wat op strafsake van toepassing is. Professor J P Swanepoel (voormalige staatsadvokaat met beduidende praktiese ondervinding in die strafhowe) en Professor J J Joubert is beide afgetrede lede van die Departement Straf- en Prosesreg van die Universiteit van Suid-Afrika. Professor S S Terblanche (voorheen ’n landdros) is ’n lid van die Departement Straf- en Prosesreg van die Universiteit van Suid-Afrika en het al ruim bygedra tot die literatuur met betrekking tot vonnisoplegging. Professor S E van der Merwe was professor in Publiekreg aan die Universiteit Stellenbosch en is steeds ’n produktiewe skrywer oor hierdie vakgebied. Professor G P Kemp is ’n lid van die Departement Publiekreg van die Universiteit Stellenbosch en sy publikasies oor die strafregspleging verwys gereeld na sy spesialiseringsgebied, die internasionale strafreg. Professor D Ally is Hoof van die Departement Regte van die Tshwane University of Technology en het ’n aantal artikels geskryf met die strafproses as onderwerp, en met besondere verwysing na die impak van die Grondwet op die strafproses. Dr M T Mokoena is Hoof van die Departement Straf- en Prosesreg van die Universiteit van Suid-Afrika en lewer publikasies oor die strafprosesreg, insonderheid borgtog.
Die Herero-opstand 1904–1907 is ’n heruitgawe van ’n boek wat ses keer tussen 1976 en 1979 deur HAUM gepubliseer is. Die lotgevalle van die Hererovolk word in hierdie boek geskets, ’n stuk geskiedenis wat ’n sentrale plek in Namibie se kleurryke geskiedenis beklee. Die opstand van die Herero’s in 1904 teen Duitse koloniale gesag kan beskou word as die enkele gebeurtenis wat die gebied se volksverhoudinge die ingrypendste verander het. Die Herero-opstand 1904–1907 vertel van die geleidelike opbou na die konflik, die skielike uitbarsting van geweld en die tragiese afloop vir die Herero’s toe duisende verhonger het en hulle grond en politieke seggenskap verloor het.
Die agtste en laaste deel van die reeks Kolonie aan die Kaap beskryf die agteruitgang en verval van die VOC en die gevolge wat dit vir Kaap gehad het gedurende die laaste kwarteeu van die VOC-bewind. Swanesang dek die tydperk vanaf die dood van goewerneur Rijk Tulbagh tot en met die eerste Britse besetting van die Kaap in 1795. Sy opvolgers, J.A van Pletterberg, J.C. de Graaff, die waarnemende goewerneur Rhenius en die laaste goewerneur, J.A. Sluysken, en die onsekerheid wat die laaste deel van die VOC-tydperk gekenmerk het, word belig. Afgesien van die amptelike rolle wat verskeie VOC-amptenare gespeel het, word ook aandag aan hulle karaktereienskappe en persoonlike lewens gegee om sodoende lewe aan die geskiedkundige figure te gee. Schoeman slaag egter veral daarin om naas die amptenary ook ’n beeld te gee van die lewe van gewone mense in die breer Kaapse samelewing. Besonder boeiend is die bespreking van die reise van verskeie natuurkundiges, soos die Swede Thunberg en Sparrman, die Skotte Masson en Paterson, die Nederlander Robert Jacob Gordon en die Franse Sonnerat en Le Vaillant. Veral die flambojante Le Vaillant se boeke was baie populer en het bygedra om die Kaap en sy interessante fauna en flora wyd bekend te maak. In die laaste hoofstukke word aandag gegee aan die Franse Rewolusie en ander politieke veranderinge in Europa wat Nederland verswak en tot die Britse oorname van die Kaap gelei het.
Die eiesoortige vriendskap tussen Winston Churchill en Jan Smuts is ’n studie in kontraste. In hul jeug het hulle uiteenlopende wêrelde bewoon: Churchill was die weerbarstige en energieke jong aristokraat; Smuts die asketiese, filosofiese Kaapse plaasseun, wat later aan Cambridge sou gaan studeer. Daar sou hy die eerste student word wat albei dele van die finale regskursus in dieselfde jaar neem en al twee met onderskeiding slaag. Nadat hulle in die Anglo-Boereoorlog eers as vyande, en later in die Eerste Wêreldoorlog as bondgenote byeengebring is, het die mans ’n vriendskap gesmee wat oor die eerste helfte van die twintigste eeu gestrek het en tot Smuts se dood in 1950 voortgeduur het. Richard Steyn, die skrywer van Jan Smuts: Afrikaner sonder grense, bestudeer dié hegte vriendskap deur twee wêreldoorloë aan die hand van ’n magdom argiefstukke, briewe, telegramme en die omvangryke boeke wat oor albei mans geskryf is. Dit is ’n fassinerende verhaal oor twee besonderse individue in oorlog en vrede – die een die leier van ’n groot ryk, die ander die leier van ’n klein, weerspannige lid van daardie ryk.
In vergeelde foto’s van drie dekades gelede staan oopgesigseuns vol bravade voor Ratel-gevegsvoertuie. Hierdie dienspligtiges van 61 Gemeganiseerde Bataljongroep staan aan die begin van hul reis diep in Angola in om vir volk en vaderland te gaan veg. In ’n bloedige geveg op Valentynsdag 1988 en in die doodsakker by Tumpo sou hul jeugdige onskuld egter sneuwel. In die hitte van die gevegte kom die besef: Nou gaan dit nie oor ideologie nie, maar om oorlewing. Ná die oorlog gaan die lewe voort, maar die vrae en geestelike letsels wyk nie. In 2018 keer ’n groep van dié ouddienspligtiges terug na Cuito Cuanavale op soek na afsluiting - en om die wrak te vind van die Ratel waarin ’n makker op die laaste dag van die oorlog gesterf het. Die Brug vertel van hul reis van jong man na veteraan en gee ook ’n stem aan die vroue in hul lewe. Dit is ’n verhaal van ontnugtering, maar ook van trotse kameraderie en genesing.
Jana Marx, bekende joernalis soos gesien in Devildorp bestudeer die fenomeen van kultusse. Sy beantwoord vrae soos:
Kultusse word in verskillende onderafdelings ingedeel: moord- en gedagtebeheerkultusse, korporatiewe kultusse, sekskultusse en politieke kultusse. Jana bekyk bekende plaaslike en internasionele kultusse binne elkeen van hierdie afdelings. Sy verwys ook na die BITE-model van Dr Steve Hassen sodat gewone mense kan uitwerk of geliefdes in 'n kultus vasgekeer is. Daar is 'n hoofstuk met riglyne oor wat om te doen as jou geliefde in 'n kultus is. Jy kan alles oor kultusse wat jy nog altyd wou geweet het in hierdie boek vind.
Nadat Ockert en Michele Potgieter getroud is, het hulle hul tasse gepak en vertrek Oekraïne toe, nie vir hulle wittebrood nie, maar om daar te werk onder die mense wat onlangs bevry is van agter die ystergordyn. Dit is egter ’n groot ontnugtering vir Michele in die begin – dit is yskoud in die winter en snikwarm in die somer. Die meeste huise het net buitetoilette en daar is min verskeidenheid in basiese kruideniersware. Die mense is baie vriendelik en hulle word meestal met oop arms verwelkom. Maar alles is nie altyd maklik nie, daar is ’n noue ontkoming met die mafia, agtervolging deur die KGB en verraad van binne die gemeente. Dan sterf Ockert tydens die Covid 19-pandemie tydens ’n besoek aan Suid-Afrika. Michele moet besluit of sy teruggaan Oekraïne toe, waar ’n oorlog dreig en of sy in Suid-Afrika by haar mense en haar kinders bly. Dit is ’n aangrypende verhaal oor liefde: liefde vir God, vir die mense van die Oekraïne, maar ook die liefde tussen Michele, Ockert en hul kinders.
Annamarie van Niekerk gaan brutaal eerlik om met vraagstukke waarmee ons daagliks worstel: plaasmoord, geweld teen vroue, skuld en onmag, aandadigheid en keuse. Sy woon in Den Haag, maar keer terug Suid-Afrika toe vir die begrafnis van haar liewe vriend, Ruben, wat saam met sy ma in ʼn wrede plaasmoord vermoor is. Dié reis lei terug na ander reise: Van haar kinderjare in PE in ʼn streng Nasionale huishouding met ʼn Broederbondpa. Na Umtata, waar sy gaan klasgee en verlief raak op ʼn swart kollega. Na Hillbrow, waar die twee van hulle onwettig saamwoon en aktief is in skrywersirkels met vriende soos Nadine Gordimer en Njabulo Ndebele. Tot geweld ook hul verhouding binnedring. Uiteindelik na die tronk, waar sy Ruben se moordenaars gaan soek in haar strewe na verstaan. Van Niekerk vervleg haar eie storie aangrypend met ’n verkenning van die groot kwessies in ons land. Onder ʼn bloedrooi hemel is ʼn diep ontroerende persoonlike reis, van geweld na genade, meesterlik vertel.
Toe die eerste bomme op Februarie 2022 Kijif aan flarde skiet, was Kobus Olivier gereed. Maar om te vlug was bloot nie ’n opsie nie – wat sou van sy vier geliefde honde word? In Met my honde word Kobus en sy vier brakke se verhaal vertel. Die angswekkende nagte terwyl bomme om hul neerreën, die verhaal van onvoorwaardelike liefde tussen mens en dier, en hoe jy selfs tydens ’n oorlog op die hulp van vreemdelinge kan staatmaak.
Jou kind se taalontwikkeling hang amper volkome van jou af. Al wat jy moet doen om dit te bevorder, is om van geboorte af by elke moontlike geleentheid met hom te praat. Kinders leer deur speel, en skoolgereedheid kan tuis bevorder word deur te sorg dat jou kleingoed genoeg speel, en reg speel. Hierdie titel lei jou om deur spel jou kind se taalvermoe en leervaardighede te ontwikkel, sy natuurlike nuuskierigheid, energie en entoesiasme te kanaliseer en vir hom geleenthede te skep vir die bevordering van selfvertroue, sosiale en emosionele groei, koordinasie en probleemoplossingsvaardighede.
Watter soort mens was dr. H.F. Verwoerd, die sesde premier van die Unie van Suid-Afrika en grondlegger van die huidige Republiek? Die bydraers tot hierdie boek skryf op onderhoudende wyse oor hoe hulle hom onthou, wat hulle saam met hom beleef het en oor hulle opvatting van sy politieke oogmerke. Die persoonlike aard van die bydraes verleen ’n dimensie aan die boek wat in objektiewe geskiedskrywing ontbreek. Verwoerd tree te voorskyn as vriend, gesinsman, volksman, raadsman en leier. Hierdie bundel verskyn die eerste keer in 2001 by geleentheid van die 100ste herdenking van dr. Hendrik Frensch Verwoerd se geboortedag, 8 September 1901. Die bygewerkte weergawe in 2016 bevat nuwe bydraes deur onder andere Elise Verwoerd, Cas Bakkes en Albert Hertzog.
Dit is 1713. VOC-admiraal Johannes van Steelant bring sy ryklik belaaide retoervloot via die Kaapse diensstasie terug na Nederland uit Batavia. Saam op die vlagskip, sy vyf jong kinders. Op die oop see raak hulle een-een siek. Hete koors, maagpyn, swere – die gevreesde pokke. Op 12 Februarie gaan die gesin, nou almal gesond, aan land in Tafelbaai. Hul skeepsklere word gewas in die VOC se slawelosie. Enkele maande later is byna die helfte van die Kaapse bevolking dood aan pokke. In Retoervloot bring VOC-kenner Dan Sleigh dié gegewe, en die verbysterende werkinge van die VOC-retoervlootstelsel, lewend voor die oog. Aan die hand van Van Steelant se nuut-ontdekte skeepsjoernaal, met die agtergrondinkleding wat ’n meesterlike geskiedkundige soos Sleigh kan bied, staan die leser op die dek van vlagskip Sandenburg – ’n magtige skip van ’n roemryke organisasie, dog uitgelewer aan die woedende oseaan. Verder is Retoervloot ’n gedenksteen vir Kaapstad se grootste ramp tot op hede
Terwyl die gronddebat woed, stel dié boek ons voor aan die landbouers wat die kos verbou waarvan Suid-Afrika leef. Ivor Price en Kobus Louwrens gee ons 'n intieme blik in die daaglikse plaaslewe en uiteenlopende boere se belewenisse en stories. Of dit nou reuse agribesighede is, of klein maar geliefde plasies wat met passie bewerk word, elke boerdery is uniek en elke boer het 'n storie. 'n Inspirerende ode aan ons landbouers. |
![]() ![]() You may like...
Press Photography Award 1942-1998 - From…
Heinz Dietrich Fischer, Erika J Fischer
Hardcover
R4,823
Discovery Miles 48 230
|