![]() |
![]() |
Your cart is empty |
||
Books > Afrikaans > Maatskaplike Wetenskappe
Die Slag van Cuito Cuanavale is al dekades lank 'n bron van hewige konflik en emosie, maar tot nou toe was min bekend oor die Recces se teenwoordigheid en impak tydens dié omstrede gevegte. In hierdie laaste boek van die spanningsvolle trilogie oor 1 Recce onthul Alexander Strachan, bekroonde skrywer en self 'n oud-Recce, meer oor die Recces se betrokkenheid daar. Propvol spanning, adrenalien, hoogdrama en onvergeetlike vertellings deur oud-Recces wat dié ervarings eerstehands beleef het.
Moet ek bly of emigreer? Is hier plek vir my in Suid-Afrika? Ons moet ons besluite as morele keuses benader. Ons het dan minder keuses om te maak omdat ons al daardie selfsugtige keuses van die tafel af vee. Morele keuses organiseer ons opsies beter in verskillende kompartemente vanaf eties tot oneties, en vanaf nuttig tot nutteloos. Ons wil hê ons lewens moet iewers tel, daarom maak ons gedurig goeie keuses. Ons maak morele keuses - ook wanneer ons reis-en-verblyf keuses maak.
Paul Kruger: Toesprake en korrespondensie van 1881–1900 probeer om die klem te plaas op minder bekende briefwisseling en optredes van Kruger om sodoende ’n verteenwoordigende beeld van staatspresident Kruger se werksaamhede en standpunte aan te bied. Die teks is deeglik toegelig met ophelderende voetnote. Verder is ’n algemene inleiding, agtergrondsinligting en -ontleding verskaf by elke toepaslike breër tydperk in Kruger se lewe tot 1900. Die beeld wat van Kruger na vore kom uit ’n deeglike ontleding van veral sy minder bekende korrespondensie en toesprake, verskil dikwels ingrypend van dit wat oor ’n lang tydperk in publikasies oor hom aangebied is. Hierdie publikasie vervul daarom ’n belangrike behoefte: Dit stel die leser in staat om regstreeks deur die lees en bestudering van Kruger se standpunte tot eie en nuwe gevolgtrekkings te kom.
Op sy dag eienaar van ’n diamantmyn, ’n wynplaas én die duurste huis in Kaapstad. Voorsitter van Suid-Afrika se grootste kleinhandelaar. Direkteur van die Reserwebank, en die rykste man in die land. As jong man het Christo Wiese sy tande by Pep Stores geslyp. Mettertyd bou hy ’n magtige sakeryk op, wat Shoprite en ’n rits ander maatskappye insluit. Sy wenresep: ’n eindelose liefde vir transaksies, ’n vreeslose aptyt vir risiko en ’n oog vir ’n winskopie. Dié sjarmante sakeman was nog nooit bang om ’n kans te waag nie. Die berekende risiko’s wat hy oor 50 jaar neem, maak hom hoogs suksesvol. Tot hy die meubelgroep Steinhoff teëkom, en dinge lelik skeefloop. Sakejoernalis en skrywer TJ Strydom vertel die verhaal van een van Suid-Afrika se bekendste sakereuse op ’n vars, pakkende manier. “Boeiend. Beide sprokie én raadsaalriller.” – Waldimar Pelser “’n Treffende, insiggewende werklikheidstorie oor die mens Christo Wiese – van kleinbegin tot dealmaker en sakereus.” – Freek Robinson “’n Fabelagtige, meesleurende leeservaring . . . ” - Peter Bruce
Stellenbosch staan internasionaal bekend as 'n dorp van weelde en wyn, 'n plek van pragtige natuurskoon en mooi mense. Dit is die tuiste van Suid-Afrika se sake-adel, geleerde professore en studente bestem vir groot dinge. Maar die idilliese beeld wat in reisbrosjures en op sosiale media voorgehou word, versluier 'n skadukant. Tussen die ou eikebome, blou berge en geskiedkundige wynplase broei dieselfde boosheid wat Suid-Afrika een van die lande met die hoogste moordsyfer in die wêreld maak. Oor die afgelope twee dekades het verskeie opspraakwekkende moordsake in dié dorp koerantvoorblaaie gehaal. Inge Lotz, Hannah Cornelius, Susan Rohde, die Van Breda-gesin... Maar hierdie boek gaan ook oor Stellenbosch se minder bekende slagoffers soos dié van die plaaswerker Felicity Cilliers - 'n vrou van wie die wêreld vergeet het. 'n Uiteenlopende verskeidenheid slagoffers en moordenaars tree in die blaaie van dié boek na vore en wys dat nie eens Stellenbosch die oersondes kan vryspring nie.
Die geskiedenis van die eerste 59 jaar van die SAUK se bestaan; vanaf 1936 tot 1995. Die vertel ook die ontstaan van openbare uitsaai, die missie en doelwitte daarvan en waarom dit hersien moet word. Die politieke element word bespreek: Watter soort stut was die SAUK vir apartheid? Watter rol het die SAUK gespeel as sleutelspeler in die transformasieproses? Daar word gekyk na politieke inmenging en aanstellings wat direk uit die Uitsaaiminister se staatsdepartement gemaak is. Ook ingespan is die SAUK se sleutelrol in geskiedkundige gebeure: Die vrylating van Nelson Mandela en die vryheidsverkiesing van 1994. Die boek behoort nie net die wye publiek nie, maar ook akademici, historici en politici te interesseer.
Op 3 Oktober 1987 het Charlie-eskadron – die ystervuis van 61 Gemeganiseerde Bataljongroep – die kritieke geveg tussen die Suid-Afrikaanse Weermag en die Angolese magte op die Lombarivier in die suide van Angola gelei. Dié boek plaas die leser in die midde van die jong dienspligtiges wat na die Grensoorlog weggevoer is om hierdie geveg te gaan voer. Langs die Lomba het hulle te staan gekom teen ’n Angolese mag met ’n getalsoorwig en beter wapentuig. Boonop was die terrein so dig bebos dat hul sig en beweging aansienlik ingeperk is. Die SAW se taktiese doktrine het duidelik gestel dat tenks teen tenks aangewend moes word. Tog moes die dienspligtiges die Angolese tenks aanvat in pantservoertuie met minder kragtige kanonne en dun pantser wat nie veel meer as gewone geweervuur kon afweer nie. Steeds is 47 Brigade van die Angolese magte amper uitgewis tydens die geveg aan die Lomba. Scholtz se beskrywing van hierdie David-teen-Goliath-geveg neem die leser na die hart van die aksie. Danksy onderhoude met veterane en dagboekinskrywings dra hierdie eerlike, intense hervertelling die volle drama van die geveg oor. Dit is ook ’n diep menslike verhaal oor hoe individue reageer in die aangesig van die dood en hoe die oorlog hulle nooit uit sy kloue gelaat het nie, selfs nadat hulle teruggekeer het.
In 1957 emigreer die negejarige Henk van Woerden vanaf Nederland met sy gesin na Kaapstad – leertas in die hand, mussie oor die ore, serp om die nek, glasoog in die oogkas. Eers veertig jaar later ontdek hy wat die rede was vir hierdie vertrek na Suid-Afrika: Sy pa was ’n kollaborateur in die Tweede Wêreldoorlog. Die emigrasie is die begin van ’n lewe as buitestaander en vorm later die goue draad in sy skilderye en literêre werk. Koning Eenoog is ’n boeiende biografie van die ewig soekende emigrant Henk van Woerden (1947–2005), ’n skrywer wat nie net ’n bekroonde oeuvre agtergelaat het nie (Een mond vol glas – Alan Paton Award en die Frans Kellendonk-prys, Ultramarijn – Gouden Uil en Inktaap) maar ook die Nederlandse literatuur oor Suid-Afrika verander het.
Jan Christiaan Smuts was ’n soldaat, staatsman, intellektueel en een van Suid-Afrika se grootste leiers. Tog word daar vandag min oor hom gepraat of geskryf, al beleef ons tans skynbaar ’n leierskapsvakuum. In Jan Smuts: Afrikaner Sonder Grense voer Richard Steyn aan dat ons hierdie indrukwekkende kryger-staatsman se lewe en denke moet herbesoek, omdat daar soveel te leer is uit sy merkwaardige prestasies. Die hoogs leesbare verslag ondersoek onder meer Smuts se rol as politieke leier, as adviseur van wêreldleiers, sy spirituele en intellektuele lewe en sy verhoudings met vroue. Sy unieke bydraes op ʼn verskeidenheid ander terreine, insluitend botanie, bewaring en filosofie, word ook bespreek. Jan Smuts: Afrikaner Sonder Grense skram egter nie weg van die paradoksale in Smuts nie. Hoewel hy een van die argitekte van die Verenigde Nasies en ʼn groot kampvegter vir menseregte was, kon hy nie so ver kom om die plaaslike swart meerderheid politieke regte te gun nie.
Jonathan Jansen is die voormalige Rektor van die Universiteit van die Vrystaat, met 'n formidabele reputasie vir transformasie en 'n diepgewortelde verbintenis tot versoening in gemeenskappe wat met die erfenis van apartheid saamleef. In hierdie boek, Jansen se persoonlikste en mees intieme boek tot op hede, daag Suid-Afrika se geliefde professor die stereotipes en stigma uit wat so maklik op Kaapse Vlakte-ma's van toepassing gemaak word as luidrugtig, wellustig en sonder tande – en bied hy dié deernisvolle verhaal aan as 'n lofsang vir ma's oral wat op moeilike plekke gesinne moet grootmaak en gemeenskappe moet bou. As jong man het Jansen gewonder hoe ma's dit regkry om kinders onder moeilike omstandighede groot te maak – en toe besef die antwoord is reg voor hom in die vorm van Sarah Jansen, sy eie ma. Deur haar vroeë lewe in Montagu en die gevolge van apartheid se gedwonge verskuiwings na te speur, werp Jansen lig op hoe sterk vroue nie slegs daarin geslaag het om gesinne bymekaar te hou nie, maar hulle kinders ook met integriteit groot te maak. Met sy kenmerkende fynsinnigheid, humor en eerlikheid, volg Jansen sy ma se lewensverhaal as 'n jong verpleegster en ma van vyf kinders, en wys hy hoe dié ma's hulle verlede verwerk het, hulle huise ingerig het, sin gemaak het van die politiek, die liefde bestuur en kernwaardes gekommunikeer het – hoe hulle hulle lewens gelei het. Om sy eie herinneringe te balanseer, het Jansen hom op sy suster, Naomi, beroep om haar eie insigte en herinneringe te deel, en daardeur spesiale waarde tot hierdie roerende memoir toe te voeg.
Bart, die aantreklikste ou in haar matriekklas, soen Esli uit haar vel. Vir meer as veertig jaar deel hulle hul lewens, maak saam kinders groot en sien om na vriende en familie. Jaarliks vier hulle Kersfees in Kleinmond met geskenke en trifle en stappies langs die see met hul worshond. Maar hoekom val Bart se broer uit ’n boom voor Esli se ouerhuis? En watter donker geheim is onderliggend aan Bart se ma se vreemde gedrag en onfatsoenlike grappe? Wat dink kollegas van Esli se haarstyleksperimente en panda-oë? Verdien sy om in die spaarkamer te skuil omdat sy, volgens Bart, aand na aand die kos brand en die hond se pote laat nat word as dit reën? In So Lyk ’n Vrou vertel Ilse Verster van Esli se heelwording en hoe sy, ná ’n leeftyd van mishandeling, in ’n rooi rok op die strand kon staan met een vuis in die lug en vry kon voel. Sy gee stem aan ’n stukkende vrou wat net wil hê die pyn moet stop. Sy deel wat dit verg om jou teen die muur op te trek, jou teen die samelewing te handhaaf en jouself te red.
Emma van der Walt is ’n pastor, ’n ma en eggenoot, en ’n vrou met ’n hart vir God. Sy is ook die vreeslose stigter van die niewinsgewende organisasie, Brave to love. Daagliks betree hulle die donker wêreld van die seksbedryf en mensehandel om jong vroue uit die kloue van euwel te red. Hierdie meisies word dan met liefde en leiding ’n nuwe begin gebied. Emma en haar span werk sy-aan-sy met plaaslike en internasionale wetgewende instansies. Saam beveg hulle mensehandel en slawerny en vlek die korrupsie en ontsaglike lyding wat agter toe deure plaasvind, oop. Hierdie is haar storie en die skokkende verhale van die gelukkiges wat gered kon word om die hel van mensehandel te oorleef.
Saam met die sterwe van die ou Suid-Afrika het ook “Afrikaner Volkskapitalisme” gesneuwel, wat veral gekenmerk is deur die einde van die eens magtige Sanlam en sy eweknie in die Noorde, Volkskas, wat eers deel van Rembrandt en toe later deel van Barclays van Brittanje geword het. Hierdie twee organisasies het vir dekades die dinamo van Afrikaner-sake aan die gang gehou. Terwyl Afrikaner-kapitalisme oor die laaste dekade of wat byna krampagtig gesoek het na nuwe suurstof om te kan oorleef, is daar stil-stil ’n nuwe grondslag gelê vir ’n nuwe geslag Afrikaner-kapitaliste. Nuwe mijardêrs is orals geskep deur aandele-pryse wat ten hemele gejaag is en in die proses het dit in die jongste tyd begin lyk of van hierdie bate-spirale op baie dun ys gebou is en dalk ook groot sarsies bedrog. Hierdie boek bespreek die huidige ekonomiese klimaat op ‘n interessante en toeganklike manier.
In die jare 1891 tot 1893 het ongeveer 770 persone Transvaal verlaat en na Angola en Duits-Suidwes-Afrika getrek om hulle heil daar te soek. Dit staan bekend as die “sesde” Dorslandtrek. Sowat 45 De Jagers het in verskillende groepe aan hierdie epiese trek deelgeneem. Ná die sesde Dorslandtrek het hulle tussen Angola, Suidwes-Afrika, Suid-Afrika en selfs Kenia rondgeswerf en verdere avonture oor die hele Suider-Afrika beleef. Sommige De Jagers het in 1928 van Angola na Suidwes-Afrika getrek en hulle daar gevestig, terwyl ander eers in 1958 uit Angola gerepatrieer is. Uit die beperkte beskikbare bronne is die verskillende trekroetes van die sesde Dorslandtrek gerekonstrueer en vir die eerste keer word ’n kaart van die verskillende trekroetes gepubliseer. ’n Geslagregister van bykans 1800 afstammelinge en aangetroude familielede van die De Jagers van die sesde Dorslandtrek en byna 500 foto’s vorm ’n omvattende beeld van hierdie familiegeskiedenis.
Betereinder is ’n menslike gids oor hoe om te floreer in Suid-Afrika. Schalk W van Heerden verbreed lesers se verwysingsraamwerk in die hoop dat hulle 'n aktiewe rol in die land sal speel. Hy ondersoek huidige rassegesindhede en gee wenke oor hoe die wit middelklas beter met hul medemens kan omgaan. Hy wys hoe armoede bekamp kan word. Schalk beantwoord moeilike vrae en deel stories met humor en empatie wat die leser se hart sal aangryp en ook sal laat glo dat hulle 'n verskil kan maak.
“Comrade president, Stellenbosch is ’n groot probleem. Ons weet jy is
na aan Stellenbosch … ons het Stellenbosch nie tot die parlement
verkies nie. Ons het nie die Ruperts verkies nie.” – Die EFF-leier
Julius Malema aan President Cyril Ramaphosa
’n Blik op die binnekring van die Krugersdorp-kultus “Daar was bloedspatsels oor die koffietafel, die banke en die banke se kussings. Peter en Joan was oortrek van steekwonde in hul rûe, nekke en agterkoppe. Nicholas het sy pa en ma gesigte na onder in ’n bloedbad op die mat in die sitkamer gekry. Hulle het hul hek en huis vir hul moordenaars oopgemaak, want hulle het ’n afspraak met hulle gehad.” Elf wrede moorde oor ’n tydperk van vier jaar ruk die gemeenskap van Krugersdorp en haal landwyd nuusopskrifte. Eindelik word al hierdie moorde verbind met Cecilia Steyn en haar kultusgroep, Electus per Deus (uitverkies deur God). Lede van die groep aanbid die grond waarop Cecilia loop en sal selfs vir haar moord pleeg. Die moordenaars is slim, gewone mense – ’n onderwyseres, ’n finansiële makelaar, ’n kind wat tussen die moorde deur steeds ses onderskeidings in matriek behaal en boonop keuring kry om medies te gaan studeer. Hul slagoffers het bloot ’n sake- afspraak nagekom, min wetend dat dít ’n afspraak met die dood was. Wie is Cecilia Steyn? Hoe kan een mens vyf ander manipuleer om moord te pleeg en namens haar in die hof te lieg? Watter rol het Satanisme gespeel? Hoe ontduik onervare misdadigers die polisie vir so lank? Jana Marx beantwoord dié en ander vrae in ’n waremisdaad-verhaal wat gelei het tot een van die opspraakwekkendste moordsake in die land se geskiedenis. Met behulp van onderhoude uit diegene in die binnekring, hofgetuienis en polisiedossiere oor ’n tydperk van vier jaar poog Marx om die publiek se vrae te antwoord en ’n blik te gee op die binnewerkinge van só ’n kultus.
“Aan die einde van 12 weke se basiese opleiding moes al hierdie mans weet hoe om te skiet en baie moes bereid wees om dood te skiet.” Anelia Heese hervertel die rou en soms skokkende stories van Suid-Afrikaanse mans wat in die 1970’s en 1980’s verplig is om weermagdiens te doen. In Diensplig praat van dié mans, baie van hulle vir die eerste keer, openhartig oor hul ervaringe. Sy gesels met die bekroonde joernalis Murray La Vita, die skrywer Deon Lamprecht, genl.maj. Roland de Vries en talle ander oor hulle ondervindings in die weermag. Die meeste dienspligtiges was eintlik maar nog seuns toe hulle gedwing is om aan te tree en hul hare onseremonieel afgeskeer is. Hulle praat hier eerlik oor onder meer die eerste kontak, die eerste keer toe iemand ’n makker verloor het, hoe sommige “terrie-ore” versamel het, oor patrollies in die townships, en die interne stryd wat dikwels agterna gevolg het. Anelia vra soms ongemaklike vrae om haarself en ander — veral jonger — Suid-Afrikaners te help sin maak van diensplig en die nadraai daarvan. Soos wie nou eintlik die vyand was, en wat dit beteken om jou land te dien . . .
Wat dryf ’n beeldskone jong ma van drie daartoe om haar man wreed te laat vermoor? Waarom wou Suretha Brits só graag van haar Leon ontslae raak? Danksy inligting uit die binnekring van vriende, familie en mense ná aan die polisie-ondersoek, sit die joernalis Charné Kemp die stukkies van die legkaart bymekaar en vertel die volle verhaal van die opspraakwekkende huurmoord op die geliefde Pofadder-hotelbaas. ’n Boeiende ware misdaadverhaal wat draai om geld, diamante, Krugerrande, seks en verraad.
As ’n eietydse mediese speurder het die forensiese patoloog Ryan Blumenthal al derduisende outopsies uitgevoer wat tot die arrestasie van ’n groot aantal misdadigers gelei het. Dit is sy groot doel en strewe om oortreders aan die pen te help ry. In Outopsietafel beskryf hy van die moeilike lesse wat hy as ’n jong patoloog moes leer en hy vertel van die ongewone en dikwels grusame sterfgevalle wat hy al teëgekom het. Hy het gedurende sy loopbaan byvoorbeeld al etlike hoëprofielsterftes hanteer, sterftes weens natuurrampe en ook mense wat deur weerlig of wilde diere gedood is. Blumenthal bied ’n fassinerende blik op alles wat agter die skerms gebeur by die lykshuis. Al kan die dooies nie praat nie, het hulle nogtans baie om te sê – en Blumenthal is daar om te luister.
Tonele en rolspelers uit die Anglo-Boereoorlog kry nuwe lewe in hierdie unieke versameling foto’s wat lewensgetrou ingekleur is. Dit bring vars perspektief op een van die belangrikste historiese gebeurtenisse in die Suid-Afrikaanse geskiedenis. In die Anglo-Boereoorlog of Suid-Afrikaanse Oorlog het die twee Boererepublieke van Transvaal en die Oranje-Vrystaat teen die Britse Ryk te staan gekom. Hierdie verwoestende oorlog sou vir dekades lank nog ’n uitwerking hê op die Suid-Afrikaanse politieke, ekonomiese en sosiale landskap. Lesers sal talle ikoniese foto’s in Die AngloBoereoorlog in kleur raaksien, maar ook verskeie wat nog nooit tevore gepubliseer is nie. Honderde boeke het die afgelope 120 jaar oor die oorlog verskyn, maar dit is die eerste een in volkleur.
’n Ongekende opkoms van Afrikaner-magnate het die Suid-Afrikaanse
ekonomie die afgelope drie dekades gekenmerk. Dit is veral merkwaardig
in die lig van die regering se omvattende program van swart ekonomiese
bemagtiging.
Die slawe aan die Kaap het as draers en skeppers van kultuur, ten spyte van onderdrukking, ’n groot invloed uitgeoefen op die ontwikkeling van die samelewing aan die suidpunt van Afrika en veral van ’n inheemse, kreoolse kultuur. In hierdie boek word die slawe se rol in die ontstaan van dié eiesoortige kultuur vir die eerste keer verken.
Die arbeidswetgewing wat betrekking het op die onderwysomgewing is omvattend en dek ’n groot verskeidenheid aspekte waarmee almal binne hierdie omgewing op een of ander stadium te doen kry. Waar daar in die verlede moontlik ’n vae begrip van veral wette en regulasies ten opsigte van diensvoorwaardes by meeste werknemers in die onderwys teenwoordig was, is dit nou onontbeerlik om ’n basiese begrip van alle relevante wetgewing en regulasies wat van toepassing is, te hê. Veral onderwysers kan hulle in die spreekwoordelike mynveld bevind indien hulle nie seker maak dat hulle oor die basiese kennis van onderwysreg beskik nie. Dit word gestaaf deur die talle hofsake, dispute, mediasies, dissiplinêre verhore en die dikwels onaangename implikasies daarvan vir indiwidue (en hul gesinne) wat voortspruit uit aanklagte teen oortreders in alle sektore van die onderwys. Wetswysigings na aanleiding van veranderde omstandighede binne die onderwys, lei tot die behoefte om voortdurend op die hoogte van die implikasies en toepassing daarvan te wees. Hierdie dringende behoefte geld nie alleen vir skoolhoofde nie, maar vir elkeen betrokke by onderwys. Aan die een kant berus die korrekte toepassing en implementering by die beheerliggaam en die hoof van ’n inrigting, maar aan die ander kant raak dit die mense wat daar werksaam is. Die skrywers van hierdie boek het nie alleen ’n deeglike besef van hierdie noodsaaklike behoefte nie, hulle spreek dit ook baie effektief aan deur middel van hulle uiters waardevolle ervaring. Hierdie ervaring spruit voort uit praktiese betrokkenheid by die onderwys asook deeglike navorsing op die terrein van onderwysreg. Kennis van al die aspekte wat in hierdie boek aangespreek word, verbeter ongetwyfeld die kwaliteit van die onderrig– en leerproses in die klaskamer – ’n broodnodige doelwit om na te streef. Dit skep ook ’n veiliger omgewing waarbinne elkeen funksioneer. Persoonlik is ek baie dankbaar vir die bydrae wat deur middel van hierdie handige handleiding gemaak word tot die uiteindelike kwaliteit van onderwys in Suid Afrika. |
![]() ![]() You may like...
Conscience and Conviction - The Case for…
Kimberley Brownlee
Hardcover
R2,917
Discovery Miles 29 170
Fresh Water in International Law
Laurence Boisson De Chazournes
Hardcover
R3,934
Discovery Miles 39 340
Statistics for Applied Behavior Analysis…
David J. Cox, Jason C. Vladescu
Paperback
R1,635
Discovery Miles 16 350
Executive Functions in Children's…
Maureen J. Hoskyn, Grace Iarocci, …
Hardcover
R1,852
Discovery Miles 18 520
|