![]() |
Welcome to Loot.co.za!
Sign in / Register |Wishlists & Gift Vouchers |Help | Advanced search
|
Your cart is empty |
||
|
Books > Local Author Showcase > Afrikaans
Die aangenome visserseun Boela, raak verlief raak op Nonnie, die eienaar van die kantien se dogter. Hy moet slim planne maak om sy drie vriende, Vlooi, Patrys en Biesiepol, van Nonnie se werf af te hou. Dan is daar Oukoos, Boela se pleegvader. Nadat Oukoos se seun Janneman en sy vrou weggeloop het van Oestermond, het Oukoos vir Boela in sy huis ingeneem om hom te leer van die see en sodat iemand sy skuite kan erf. Maar op ’n dag sien iemand vir Janneman in die kantien drink. Boela wonder of Oukoos hom nog nodig het. En of hy opgewasse is om Nonnie teen Janneman te beskerm.
Magdaleen Verster probeer die stukke van haar lewe optel na die dood van haar tweelingsuster, Misha. Wanneer sy ’n onwaarskynlike vriendskap smee met haar eksentrieke buurman, die wetenskaplike Darius Achenbach, bevind sy haar in die opwindende maar omstrede wêreld van stamselnavorsing. Asof Misha haar aksies vanuit die dood rig, vind gematigde Magdaleen dat sy skielik bereid is om groot risiko’s te neem. Sy kan haar suster nie terugbring nie, tog kan sy moontlik ’n verskil aan ander se lewens maak. Wat begin as ’n onbaatsugtige projek, vang haar gou vas in geheime bedrywighede waarvan sy min verstaan. Wie is so angstig om Darius se navorsing te ontspoor? Of wil hulle dit dalk vir hulself toeëien? Alles kom teen ’n prys. En soms is die prys van een mens se lewe ’n ander mens se dood.
In 2018, kort op die hakke van sy topverkoper-memoires oor die Camino, Elders, en die kykNET-reeks Elders: Die Camino, reis Erns Grundling met ’n TV-span na Japan om ’n nuwe Elders-reeks te gaan verfilm oor die land waar die Rugbywêreldbeker 2019 sal plaasvind. Sushi en shosholoza is sy verslag van die reis. Kom stap weer saam met Erns, dié keer op die plek waar talle Suid-Afrikaners laat in 2019 die Bokke sal gaan ondersteun. Konnichiwa, Japan!
Sindikaat is ’n avontuurverhaal waarin drie vriende se lewens omvergegooi word wanneer die hoofkarakter, Paul, per ongeluk op onwettige smokkelgoed afkom. Hulle paaie kruis met die van die Chinese mafia. Die verhaal begin in Bloemfontein, waarvandaan Paul en sy vriende saam met sy lyfwag, Bossie, deur drie Afrikalande reis om van die moorddadige Chinese bende te vlug. Tydens hul reis deur Zimbabwe, Zambië en Namibië word hul lewe gereeld bedreig. Spannende aksietonele laat die adrenalien behoorlik pomp. Tussendeur al die aksie moet Paul, Karlien en Adriaan die uitdagings en probleme waarmee tieners daagliks worstel, oorkom. Seksualiteit, liefde, vriendskap en lojaliteit word op die manier by die aksie betrek in hierdie verhaal waarin die goeie die bose oorwin en geregtigheid seëvier.
Elke droom begin met ’n dromer. Megan Werner, die stigter van die U Dream Global-inisiatief, het in 2018 besluit om saam met ‘n groep van 20 tieners vanuit verskillende agtergronde ’n vliegtuig te bou. In Junie 2019 was die vliegtuig uiteindelik gereed en kon die 17-jarige Megan saam met vyf ander tieners die vlug van Kaapstad na Kaïro aanpak. Hulle doel was om om kinders in ander Afrikalande te inspireer om hul drome na te jaag. Min het die ses tieners egter geweet dat dit uiteindelik HULLE sou wees wat deur die reis geïnspireer sou word. Verskeie avonture en naelbyt-oomblikke het gevolg voordat Megan-hulle uiteindelik op Kaïro-lughawe geland het. Hier het hulle grootste ondersteuner, Megan se pa, die tieners ingewag. “Ons het dit gemaak!” het hy gejuig en vir Megan ’n stywe druk gegee. ’n Paar dae later het ’n tevrede span die reis terug na SuidAfrika aangepak. Oudergewoonte het Megan se pa en sy medevlieënier in hul eie vliegtuig saamgereis om ondersteuning te bied. Maar bokant Tanzanië het die droom in tragedie geëindig … As jy droom is ’n storie van durf, deursettingsvermoë, hoop én hartseer. ‘n Avontuur met soveel adrenalien dat jy dit dalk vergesog sou noem – as dit nie die waarheid was nie …
'n Storie oor obsessies. Arian en Estie is in Graad 11 in dieselfde skool. Na hulle op sosiale media vriende word, begin Estie vir Arian stalk: Aanlyn, en later ook in die werklikheid. Eers is hy vir haar net nog 'n misterieuse vreemdeling, maar soos wat sy hom dophou openbaar hy, onwetend, sy diepste geheime aan haar. Maar Estie het geheime van haar eie, wat sy ten alle koste verberg, selfs toe sy en Arian later vriende word: Geheime wat haar haar enigste vriend kan kos.
Speurder Sollie Mtembu lê snags wakker oor of sy salaris ooit sy vrou se ambisies sal ewenaar. Maar in Oktober verdwyn 'n ou vriend van die polisiekommisaris en hy word opdrag gegee om dié “verdwyning” te ondersoek. Kort ná hy in Rhynveld arriveer verander die oënskynlike ontvoering in ’n moordsaak en Sollie moet sy vrese opsy skuif sodat sy speurvernuf kan seëvier.
Die tingerige Wian is baie opgewonde wanneer hy uiteindelik in pleegsorg geplaas word en van die weeshuis kan ontsnap. Net jammer dat die oorgewig boelie, Pierre, saam met hom by dieselfde gesin gaan woon. Maar Wian se nuwe ouers is glad nie gaaf en ordentlik soos hy hom voorgestel het nie. Inteendeel, hulle maak hom doodbenoud. Veral toe hulle hom voorstel aan sy nuwe "suster", Cornelia - 'n massiewe, mak krokodil wat in die agterplaas woon.
Sara Sloot-Smit woon in 'n luukse huis in 'n welvarende buurt, gaan na 'n spogskool en het ouers wat baie belangrike werk doen. Maar hulle het min tyd vir Sara. Toe hulle 'n maand lank oorsee gaan, moet Sara by haar drie tannies in die stad gaan bly. Haar pa dink sy susters ken nie hul plek nie. Suzie giggel graag en maak grappies. Silvie is konstant met 'n nuwe kêrel of twee, en Sofia is wel suksesvol, maar sy's kwaai en gemeen en veels te luidrugtig. Sal Sara ooit die vakansie oorleef?
Babette se pa gaan oorsee en sy moet by die vreemde tannie Theodora op Rustfontein gaan bly. Sy voel gou tuis, veral toe sy die aantreklike Tiaan en tannie Theodora se oulike hondjie ontmoet. Sy kan boonop haar sangtalent uitleef in die plaaslike teater se musiekproduksie. Maar alles is nie pluis in die dorp nie. Dit het iets te doen met die geskiedkundige begraafplaas op die bult en die legende van die meisie in die maanlig. Wie is die vrou in die swart lykswa wat Babette agtervolg? En waarom sien haar nuwe vriendin, Avani, ook die aaklige toneel wat een middag haar kamer afspeel? Babette moet veg vir haar lewe wanneer sy haar vasloop in 'n horde grillige zombies. Maar sal sy haar grootste vrese kan oorkom?
Bloedbroers. 'n Vriendskap en totale vertroue gesmee in Angolese pseudooperasies. Carlos Veiyera, die veteraan met 'n duister, gewelddadige verlede. Tex Texeira, sy talentvolle protégé. En toe is die oorlog verby. Of is dit? Hoekom, na jare van donker geheime, het Carlos nou die grens oorgesteek as renosterstroper in Mosambiek? Die gevreesde, onaantasbare Kalingono, dood verklaar na ‘n duister operasie … nou moordend terug? Militêre Inligting soek antwoorde. En Tex Texeira is die enigste operateur wat dit naby hom kan waag. As hy die skietdood van sy eie vrou kan verwerk. En die gevoel van 'n lokval wat hy net nie kan afskud nie ...
Jare lank al is Lauretta Blom ’n gedienstige huisvrou in haar beige paleis, die eggenoot van Tobias Blom, ’n suksesvolle sakeman met belange in Johannesburg én die Kaap. Maar met hulle seunskinders wat nou groot en uit die huis uit is, begin die stilte en die pynlike netheid van Retta se praghuis in die Johannesburgse sekuriteitslandgoed haar vasdruk. En sy wonder oor al die dinge wat sy nié gedoen het nie en hoe dit haar lewe gevorm het. Wanneer sy boonop begin vermoed dat Tobie vir haar iets wegsteek, besluit sy dat dit tyd is om dié dinge te doen wat sy nooit tevore aangedurf het nie. Eerste op die lys is ’n road trip Kaap toe saam met haar hond, Charlie, en haar kunstenaarsvriendin, Leigh. Die reis lei na die ontwaking van ’n nuwe Retta op ’n kleinhoewe buite Bethulie, maar ook na onthullings in die Kaap wat haar hele lewe omverwerp.
Sasol Eerste Veldgids tot Slange & Ander Reptiele van Suider-Afrika bied aan die jong leser 'n fassinerende blik op die reptiele van die streek. Met behulp van volkleur fotoÆs en verspreidings kaarte, asook maklik leesbare teks, sal die jong volwassene en ontluikende natuur liefhebber die algemene reptielspesies in Suider-Afrika kan identifiseer.
Louis Botha was ’n briljante Boeregeneraal wie se taktiese vernuf en intuïtiewe aanslag vir etlike oorwinnings oor die Britse magte in die Anglo-Boereoorlog gesorg het. Maar dit was sy enigmatiese karakter en vaste oortuiging om te hou by wat hy geglo het reg was, wat hom as ’n leier van die Boerevolk bevestig het. Richard Steyn gee op meesterlike wyse insae in die lewe van hierdie grootse Suid-Afrikaanse krygsman en staatsman. Hy beskryf verhelderend hoe Botha saam met sy hegte vriend, Jan Smuts, die vier Suid-Afrikaanse kolonies na Uniewording in 1910 gelei het waarna Botha as die eerste eerste minister van die Unie aangewys is. Gedurende die Eerste Wêreldoorlog was Botha aan die voorpunt van die Suid-Afrikaanse magte se suksesvolle inval van Duits-Suidwes-Afrika. Tog is hy deur talle Afrikaners verkwalik vir sy steun aan Brittanje, en die Afrikaner-rebellie van 1914, waartydens hy teen voormalige makkers moes optree, het sy hart gebreek. Botha se groothartig en vrygewige omgang met mense – van Vereeniging tot Versailles – het hom bo sy tydgenote laat uitstaan.
‘n Seun word groot met ‘n swaard oor sy kop: Hy is geleidelik besig om blind te word. Hy is anders as sy maats en daar moet dikwels aanpassings en uitsonderings vir hom gemaak word. By die Skool vir Blindes, Worcester, is hy vir die eerste keer gelukkig tussen ander soos hy. Sy humorsin en lughartige lewensuitkyk laat hom sy aandag vestig op die dinge wat hy kan doen. Hy voltooi die Comrades-, New York City- en vele ander maratonne. Hy klim Kilimanjaro en stap tot by Mt Amadablam-basiskamp in die Himalajas. Sy vrou en twee kinders motiveer hom om ‘n “normale” en gelukkige lewe te lei. Hierdie stories is ‘n beligting van frustrasies, uitdagings en insidente wat hy as blinde ervaar. Dit gee vir die leser ‘n insig in die alledaagse konfrontasie en uitdagings, maar ook in die komiese en humoristiese aspekte van blindwees.
Two very different nocturnal creatures learn the give and take of
friendship on the African savannah, when they decide to open a hotel.
In Moerstaāl word oorsprong in oënskyn geneem: perspektiewe word gebied op geskiedenis en erfenis en hoe dit met taal saamhang. ’n Skryfwyse wat deur Khoekhoegowab geïnspireer is, veral wat die gebruik van die makron op klinkers betref, word ingespan tesame met Sols se kenmerkende Ghoema-Afrikaans. ’n Respek vir byna uitgestorwe kennis word oorgedra en in dié opsig is die gedigte ’n kreet van verlies en ’n bewuste poging tot ’n daad van bestendiging. Die lewe-gewende moederfiguur tree hier na vore – die vrou wat verguising en ontkenning moes deurleef en wie se bydrae en plek, soos ook dié van die taal, in en deur die bundel herstel, of ten minste openbaar gemaak, wil word. Die musikaliteit van Sōls se vorige twee bundels is weer hier teenwoordig. Só ook sy vlymskerp kommentaar en ironie, en sy digterlike gebruik van spreektaal. Sols se terugkeer na geskrewe poësie – die eerste bundel in sestien jaar – is beslis ’n groot aanwins vir die Afrikaanse letterkunde.
Nina en Jessie woon die Eksotiese Eksperimente Ekspo by. Dit is die beste ooit! Hulle verkyk hulle aan al die slim uitvindings. Die pet het ook saamgekom, want Nina wil die briljante professor Crower vra om dit te ondersoek. Daar is dalk 'n wetenskaplike verklaring vir die pet se kragte. Maar dan raak die pet weg . . .
Vir die vyf dapper vriende wat hulleself die Uile noem, is dit opwindend om na die skatte van 'n geheimsinnige, verlore stad in die Kalahari te gaan soek. Opwindend, ja, maar ook lewensgevaarlik. Want in die Kalahariwoestyn is die enigste bedreigings nie net die roofdiere en sandstorms nie, maar ook vyande wat self 'n oog op die buit het. Sal die Uile hierdie gevaarlike manne kan uitoorlê? En is daar werklik 'n verlore stad en skatte diep in die woestyn?
'n Verversingstasie is in 1652 in Tafelbaai aangele om skepe te bedien op die roete tussen Europa en Oos-Indie. Die diens is deur 'n netwerk van bemande buiteposte aan die Kaapse kus en op die nabygelee eilande moontlik gemaak. Die Buiteposte is die resultaat van 30 jaar van navorsing in Suid-Afrika en in Europa, waar die VOC sy ontstaan gehad het. Dr. Sleigh is een van slegs 'n klein aantal geskiedkundiges wat die sewentiende-eeuse skrif van die VOC-dokumente met gemak lees. Hy is lid van verskeie plaaslike en internasionale geskiedenisverenigings en bewaringsorganisasies en word landswyd erken as adviseur rakende sake wat op die VOC betrekking het.
Penvere is 'n versameling rubrieke deur die voelkenner Morne du Plessis wat enigeen - hetsy agtertuinduifbewonderaar of kranige ornitoloog - breed sal laat glimlag. In hierdie bundel word met 'n fyn oog en 'n skerp sin vir humor gekyk na die sonderlinge gedrag en gewoontes van verskeie Suid-Afrikaanse voelspesies, waarvan die meerderheid selfs aan die leek bekend behoort te wees. Van die hadida en die lemoenduif tot die mossie, koekoek en bosloerie - elke spesie bestaan in 'n unieke verhouding tot die natuur - en besit 'n magdom eiesoortighede wat soms nie veel van menslike gedrag verskil nie. Met sy pittige aanslag en skerp waarnemeingsvermoe, dwing die skrywer die leser om saam met hom verwonderd te raak oor die boeiende wereld van voels wat rondom hom bestaan, die natuur is te kosbaar en te breekbaar om dit huis toe te bring.
Sanlam Prize for Youth Literature: silver (1990) |
You may like...
|