![]() |
Welcome to Loot.co.za!
Sign in / Register |Wishlists & Gift Vouchers |Help | Advanced search
|
Your cart is empty |
||
|
Books > Local Author Showcase > Afrikaans
Die weeklikse rubriek in Rapport, “Hanlie Retief gesels met” , is iets waarna baie lesers elke Sondag uitsien en heel eerste lees. Aanhangers weet haar onderhoude is pittig, op die man af en baie vermaaklik. Hanlie Retief vra die vrae aan die nuusmakers wat almal brand om te vra. Sy is bekend daarvoor dat sy haar soos ’n verkleurmannetjie kan aanpas by die aard van die onderhoud. Met deernis skets sy misdaadslagoffers se stories en kuier ewe gemaklik saam met Karen Zoid. Hanlie Retief Gesels Met 2 bevat 50 van Hanlie se beste onderhoude wat sy tussen 2011 en 2018 gevoer het: dié waaroor mense lank gepraat het, dié wat mense kwaad gemaak het, laat lag of inspireer het. Steve Hofmeyr, Rolene Strauss, Tim Noakes, Piet Byleveld en Thuli Mandosela is van die onderhoude wat opgeneem is in hierdie boek.
Lien is die oudste kind in ’n disfunksionele huishouding, waar die status van die gesin van welgesteld tot armblankes verander het weens die misbruik van trustfondse deur haar prokureurspa, nou ’n gevangene, en haar ma weens haar onvermoë om die situasie te verwerk, ’n alkoholis word. Al wat oorbly van die glans van ’n vroeë lewe is ’n woordlose video met grepe uit gelukkige tye saam. Die besorgheid van ’n buurtannie help in die donkerste ure van die gesin, terwyl dit nodig word vir Lien om uit te spring om brood op die tafel te sit. Vir haar en haar jonger broer, Braam, oor wie sy besorg is, is daar aanpassingsprobleme by die nuwe skool, maar deur veral twee vriende, Wouter en Mimi, elk met hulle eie verwondheid, herwin Lien vir haar ’n eie plek. Sy doen naskool loswerkies vir ’n inkomste, veral om die aand kos op die tafel te kry en te spaar vir wanneer sy eendag oorsee kan gaan. Die behoeftes van die gesin kan egter nie alleen deur die wisselvallige inkomste aangespreek word nie. Terwyl haar ma se alkoholisme tot tragiese dieptes verval, begin sy in ’n vermomming op ’n straathoek bedel, waar sy randkarakters soos Roos en Tibbey leer ken en sy geleidelik hulle vertroue en vriendskap wen. Ondanks uitdagende omstandighede slaag sy daarin om ’n verantwoordelikheidsin te kweek wat hulle posisie as gesin ook geleidelik positief beinvloed. Die wyse waarop sy op haar gesins- en persoonlike uitdagings reageer, help haar om te groei, haar roeping te vind en vrede te maak met haar verlede. Vanaf die aangrypende openingstoneel word die aandag geboei met stilistiese vernuf, oortuigende karakterisering en geloofwaardige ruimte-beelding. Die skrywer het ’n oorspronklike aanslag wat gereflekteer word in die oorspronklike taalgebruik en skerp, vermaaklike dialoog. Respek vir die woord staan sentraal in hierdie manuskrip. Die gang van gebeure word so gestruktureer dat die leser meegevoer word en dit moeilik vind om die manuskrip neer te sit. Die narratief word effektief afgewissel met beskrywings van klanklose ou video-grepe. ’n Uitgebreide verwysingsraamwerk van musiek en ander motiewe word deurgaans gehandhaaf en uitgebou – so word die verhaal effektief gelaai met sekondêre betekenislae. Hierdie verhaal spreek ook van ’n maatskaplike gewete wat dit vierkantig plaas binne die konteks van ons sosio-politieke landskap. Dit is ’n verhaal wat die leser subtiel uitdaag om verantwoordelikheid te neem vir sy eie geluk en om die goeie in mense en situasies raak te sien, wat werklik ’n vars briesie is.
Om hierdie skryfsels te lees is soos die oomblik wanneer jy ’n 3D-bril opsit of ’n towersampioen eet: Alles lyk opeens anders, die wêreld is op sy kop gedraai, oral knetter moontlikhede. Dreyer het die vermoë om op hierdie manier te sien en om die leser só te laat sien. Dis ’n wonderbaarlike mengelmoes van alledaagse sowel as fantasmagoriese objekte soos ’n vingerhoed, ’n verdwaalde los skroefie, ’n geel badeendjie op die vloer van ’n afdelingwinkel, die bloop, Napoleon en sy jaggeselskap wat op die vlug slaan voor ’n spul mak hase, die klankeffekte in Star Wars, ’n intakte beesoog in die pad, meerminne, ’n mimeerkunstenaar, Noorderligte, monsters, vampiere, salmanders en ander. Die skrywer, wat ook digter is, mors nie met woorde nie en sy gedagtes is elegant.
Slot van die dag: Gedagtes is die skrywer se mymeringe oor ouderdom en die einde van die lewe, saam met verspreide herinnerings van ’n algemene aard, om ’n ryk geskakeerde beeld te verskaf van ’n skrywerslewe van byna tagtig jaar. Die reeks outobiografiese boeke wat met ’n Duitser aan die Kaap, Merksteen en Die laaste Afrikaanse boek begin het, word hiermee afgesluit. Dit is 'n baie persoonlike boek oor ouderdom, die skryfproses en selfbeskikking met kommentaar op oud word en wees, met inbegrip van praktiese wenke, en heelwat inligting oor die moontlike en waarskynlike einde van die lewe. Die element van afskeid en gelatenheid is deurlopend. Die ouderdom is teenswoordig die vernaamste onderwerp van sy oorpeinsing, en die vernaamste element in sy daagliks ervarings. Die verwysings en aanhalings is treffend en spreek van iemand wat sy leeswereld ook sy leefwereld maak. Ten slotte verduidelik die skrywer sy bevrydende besluit oor selfdood.
In 1982 aanvaar Nico Smith ’n beroep na die NG Kerk in Afrika se Mamelodi-gemeente. Hy en sy vrou laat hulle gemaklike lewe agter en gaan bly in Mamelodi. Hier leer Nico en Ellen rêrig die hart van Mamelodi se mense ken, en beleef swaarkry saam met hulle. Hulle leer wat dit beteken om swart te wees in Suid-Afrika onder apartheid. Hulle leer ’n ander God ken, nie die God van Nico se vaders nie, maar die God van die verworpenes en die verdruktes.
Blouwillestories is 'n keur uit Willem Theron se weeklikse rubrieke in Beeld, Die Burger en Volksblad die afgelope agt jaar en is geskryf in 'n humoristiese, tong-in-die-kies-trant. Dit handel hoofsaaklik oor die lewe in die Ou en Nuwe Suid-Afrika. Blouwillem vertel onder andere van sleepwabestuurstegnieke (of 'n tekort daaraan), snorkers in die Wildtuin, sonde met jou bure se honde en met jou honde se bure, bleskoppe en krullebolle, skooltake in die nuwe bedeling en treinry in die ou bedeling. Blouwillem se "skertse" sal geniet word deur mense van feitlik alle ouderdomme (die gesensorde verhale sal selfs die kinders vermaak) wat graag die humor in (soms ernstige) situasies raaksien en waardeer.
Henok kry ’n verrassing wanneer sy vrou in Israel kom kuier. Re’uven se pyn oor sy eersgeborene se dood lê nog vlak. Dit laat Marc wonder of hy Adonai nog sal kan liefhê as dit hom sou tref. Hy voel verskeur tussen sy gesin en sy ma met haar eie hartseer in Suid-Afrika. Tog vind hy troos in die wete dat Adonai se weë ver bo ons verstand verhewe is.
Hierdie drama handel oor tien tieners in ’n bos by ’n oorlewingskamp waar spoke, hormone, groepsdruk en goggas die senuwees behoorlik laat knyp. KAMP KOERSHOU is nie vir sissies nie. Want grootword is nie “lekker” nie. Grootword is pyn. En “verwonding". Die tien jeugdiges vertrek op 'n oorlewingskamp, in 'n bos, onder toesig van 'n paramilitaire instrukteur. Dit is hulle rite of passage sodat hulle weerbaar ‒ paraat! ‒ die grens na volwassenheid kan oorsteek. Maar hoe hou jy koers as jy nie weet waarheen jy wil gaan nie? Die toneelstuk is in 2012 by die KKNK opgevoer met regie deur Marthinus Basson en Stian Bam in die hoofrol.
Anderkant die Gariep, in die harde, wye wêreld van die Noord-Kaap, het sedert die vroeë 1900’s pioniersmense gewoon wat deur g’n stof of droogte, g’n lamsiekte of beespes ondergekry kon word nie. Dit was ’n tyd voor selfone en kitsoplossings, toe ’n man se woord nog sy woord was, en ’n afspraak ’n afspraak; ’n tyd toe jagtogte, Boeredanse en familietroues mense saamgesnoer het en swaarkry en verlies bloot ’n deel van die natuurwette was. In hierdie wêreld word drie geslagte Bredenkamps groot – en maak die leser kennis met mense wat in die wêreldgeskiedenis maar klein sandkorreltjies is, maar wie se vreugdes en plesier; sweet en trane die fondament gelê het vir ’n koersvaste, trotse nageslag.
Die laaste omnibus in hierdie reeks bevat nóg drie gewilde Trompie-stories. Die sproetgesig Grootkaptein en die Boksombende se avonture voortgesit en Trompie en sy maats besluit om in die kloof te gaan swem en dan teen die berg op te klim en die grotte daarbo te verken. Trompie ontmoet ook die mooiste meisie wat hy nog ooit gesien het en ding mee teen sterk kompetisie in die atletiekspan.
Skepelinge is ’n impressionistiese betragting van die vroeë koloniale tydperk in die Suid-Afrikaanse geskiedenis, gebaseer op Schoeman se kennis van die VOC- tyd en meer spesifiek die skeepvaart. Self het die skrywer dit beskryf as ’n ‘hibriede skepping . . . wat in laaste instansie beoordeel moet word as produk van die skeppende verbeelding eerder as van navorsing’. Tydens die boekstawing van die duisende skepelinge wat oor die eeue heen na die Kaap van Storms gereis en onderweg ook omgekom het, verweef Schoeman literêre stemme soos dié van Eliot, Auden, Eybers en Melville in Moby Dick met dokumente uit die oorspronklike dagboeke van die 1600’s en 1700’s, soos Van Riebeeck se Dagregister, Peter Kolb se noukeurige beskrywings van die Kaap en ander reisjoernale en geskiedkundige werke van die era. Dit is geskiedskrywing soos geen ander Suid-Afrikaanse skrywer dit nog kon vermag nie. Skepelinge is ’n unieke nalatenskap – veral waar ‘oorsprong’ nou meer as ooit vantevore ondersoek word.
Gert Garries: ’n Baaisiekel-babelas word in 2002 by die KKNK opgevoer en gee vleis aan ’n karakter uit Etienne Leroux se roman Magersfontein, O Magersfontein! Die plaaswerker Gert Garries ry vir drie dae met die verbrande liggaam van sy kind op sy fiets rond. Hy wil ’n doodsertifikaat bekom, ’n voorvereiste voordat hy die kind kan begrawe. Weens sy velkleur word hy egter deur die burokrate van bakboord na stuurboord gestuur. Na sy ontmoeting met Le Grange, ’n empatiese verkeersbeampte, ontstaan ’n sonderlinge verhouding tussen hulle. Hierdie verhouding suggereer ’n beter toekoms en menslike identiteit vir Gert, terwyl die kind simbool word van ’n bitter en wrang verlede. Eindelik begrawe Gert sy kind saam met die room van die Engelse. Die gehoor volg Gert Garries op sy drie dae lange fietsrit en beleef saam met hom ’n prutpot van emosies. Die drama word gepubliseer in 2019 as Gert Garries: ‘n Baaisiekel-blues.
Die drama speel af in die Karoodorpie Willowmore. Die rol van die kerk, verkragting, verlies en familie is van die temas wat aangeraak word. Lekas kyk na 'n kind se weerloosheid en na die familie se verantwoordelikheid om na haar om te sien. Die watermeid (waternimf of meermin) is die mitiese figuur wat tot die dorpie se redding moet kom en drie kinders in die stuk hoop sy sal hulle kom red. Dit raak egter gekompliseerd wanneer die skuldige persoon 'n belangrike figuur in die gemeenskap is - die dominee.
Dan Sleigh’s latest work is once more an historical novel. While Eilande was published in English set at the beginning of the Western presence in the Cape, Afstande is much closer to the foundations of Western civilisation itself. It is based on the Anabasis of the Greek soldier and writer Xenophon, in which he reported on what has been described as one of the great adventures in human history. This “adventure”, which began in 401 BC, was nothing less than one of the clearest examples of human hardship and endurance. The adventurers were an army of ten thousand Greek mercenaries who were hired by a Persian prince to overthrow his brother, the king of the mighty Persian Empire. He ingeniously introduced another main character besides Xenophon, namely the Jewish eunuch Nagri, who was hailed as a prophet in Babylon, where the Israelites were in exile at the time. In Sleigh’s version the prisoner, Nagri, is used by Xenophon to compile the Anabasis from his cryptic notes. Afstande is therefore an intertwinement of the stories of two writers, namely the soldier-writer and the writer-prophet. Apart from being a grueling, authentic portrayal of one of the most remarkable military adventures in history, Sleigh’s novel is a representation of man’s search for identity and stability in a fast-changing, turbulent and unforgiving time. He shows how religion and ideology paradoxically guide and complicate this search. Through his two writer characters, their alliance and the friction between them, he also investigates the passion, desires, conflicts, but above all the emotion that underlies being a writer. In this way Sleigh transforms antique material into something absolutely contemporary and he achieves what all great writers achieve, and that is to confirm the permanence of that which is universally human.
Wat sluip daar in die maanlig rond? Waldo en Connie bly in dieselfde woonstelblok – en hulle krap behoorlik kop. Oral in hulle buurt verskyn plakkate en pamflette oor vermiste troeteldiere. En boonop is daar iets vreemds met Waldo aan die gang … hy sien helder oordag dinge wat nie bestaan nie! ’n Nat, slymerige bol hare lei Waldo en Connie op die spoor van ’n onvergeetlike (en gevaarlike) avontuur – een wat jou sal laat tjank van lekkerkry!
Kolonie aan die Kaap is die derde van vyf boeke oor vroeë blanke vestiging aan die Kaap. In dié deel vestig Karel Schoeman die aandag op die eerste blanke intrekkers. Die VOC (Verenigde Oostindische Compagnie), het in 1651 besluit om in Tafelbaai ’n verversingspos te stig ten behoewe van die Kompanjie se skeepvaart tussen Nederland en die Ooste en dis met hierdie doel dat kommandeur Jan van Riebeeck in Desember van daardie jaar met sy vlootjie van vyf skepe na die Kaap uitgeseil het. Die eerste hoofstuk gee aandag aan Van Riebeeck se lewe en loopbaan tot en met hierdie datum en in die tweede hoofstuk word die werksaamhede rondom die vestiging van die verversingspos aan die hand van Van Riebeeck se dagboeke en briewe en die geskrifte van vroeë besoekers beskryf. Die omstandighede van die pioniersgroepie wat uitvoering aan Van Riebeeck se opdragte en ambisieuse planne moes gee, word in hoofstuk 3 bespreek. Aanvanklik moes alle lewensmiddele, gereedskap, saad, plantjies en selfs perde uit die Ooste ingevoer word. ’n Fort, wat skuiling en beskerming teen wilde diere en vyandige Khoi-stamme moes gee, is in 1666 voltooi. Hoe die verskillende sosiale groeperinge soos die hoë amptenare, die ambagsmanne, soldate en slawe in dié Fort gewerk, geleef en soms ook gesterf het, die onthale, kerk- en gebedsdienste en militêre parades kom in hoofstuk 4 aan die bod. ’n Klein klompie hoë Kompanjiesamptenare was deel van die Kaapse nedersetting, maar dit was hoofsaaklik uit die groter groep werksvolk, soldate en matrose dat die latere vryburgers afkomstig was. Die uiters moeilike omstandighede, teenslae en mislukkings van die aanvanklike groepie van nege, maar ook die enkele suksesverhale, word in hoofstuk 7 bespreek. Die boek sluit af met ’n oorsig oor Van Riebeeck se latere loopbaan in die Ooste en sy oorlye in 1677.
Met kaarte en geografiese grense sal mens wel kan bepaal waar le die Tankwa-Karoo. maar vir Adriaan Oosthuizen kry jy die streek wanneer jy die langste grondpad tussen twee dorpe in Suid-Afrika aanpak: die pad tussen Ceres en Calvinia. Saam met Adriaan se foto’s vertel Leti Kleyn van haar besoek aan hierdie geliefde stuk land en dit word aangevul deur Dawid Slinger se vertellings en skrywes. ’n Fees vir die oog, lekkerleesboek en ’n inligtinggids ineen oor die geliefde streek wat die Tankwa-Karoo heet.
Die koeël is deur die kerk. Die huweliksbootjie het gesink. Hy kry die bed en sy die tafel. Hoekom skei hulle en hoekom skei hulle nóú dat jy ’n volwasse kind is? Jou ouers is besig om te skei of hulle is klaar geskei. Almal fokus op hulle, maar jy suffer ook. Volwasse kinders kry swáár wanneer hulle ouers skei. Net so swaar, indien nie swaarder as jong kinders nie. ’n Eerste in Afrikaans — ’n handleiding vol raad oor hoe om die sleg en gesukkel van ’n egskeiding te hanteer waar volwasse kinders van egskeiding (18 jaar en ouer) hulle eerstehandse ervaring, verwarring, onsekerheid, woede en hartseer deel wat begin die oomblik as Ma en Pa sê: dis verby. Die slegte nuus? Die egskeiding sal altyd ’n wond wees. Die goeie nuus? Jy kan leer hoe om dit beter te hanteer en met tyd kan dit net ’n letsel word. Soos Gretha (26) sê: “Time makes all wounds bearable.”
“Pappa, die sterre is dieselfde hier.” Milano Kaliempie is Mieta en Hennerik se enigste vlaktekuiken op die plaas Spookwerwe in die dorre Bo-Karoo. Hul buurman, Geelsuiker, leer Milano die geheime van die veld, ook jakkalsjag, en op die werf is dit Mieta wat soggens douvoordag brood inknie en die hartklop van hul bestaan is. Dis wanneer juffrou Meintjies die dag met haar wit karretjie by die huis aankom, dat die hol kol op Mieta se maag kom sit. Want Milano was dan net die een dag laat vir skool. Maar juffrou Meintjies het ander nuus. Dis Geelsuiker wat raad gee: “Jy moet nou gaan doen wat die regte ding is, Mieta. Daardie klong,” en hy wys na waar Milano die perd inspan, “vat nou die grootpad. Moenie hom in ’n klein kampie ingekeer hou nie.” Die kinders van Spookwerwe is ’n roman wat soos die vaal stof van die Bo-Karoo oral inkruipplek kry en diep in jou hart kom lê. Dis ’n roman oor ma-wees, oor grootword, en oor verliese. Maar ook van weer vol word.
Wat Frederik de Jager se verhale uniek maak, is die feit dat dit om mense sentreer, dat dit fyngetekende portretstudies is. Of dit nou Jan Rabie, die enigste dogtertjie op ’n seunskoolbus, Mal Marina die klawerkoningin is of die seun op die speelgrond wat so stip kon kyk, of sy laerskoolvriend die aksieheld, dis karakters waarmee elke leser kan vereenselwig. Soms is die onderwerp die skrywer self, die skaam seun wat Sartre se selfbewustheid as bewustheid verstaan, die een wat weier om die klavierspelende sissie te wees. Die skryfwerk is dus tydloos en universeel. De Jager het ’n fyn oog en ’n slag met die woord. Soos Dana Snyman kan hy ’n emotiewe snaar raaktokkel en nostalgie opwek. De Jager is egter eerder prosaïs as volksverteller. Hierdie verhale is raak woordprente wat die uitsonderlikheid van gewone mense vasvang, met deernis, humor en ’n skeut hartseer - Op een na het al hierdie stukke verskyn in die tydskrif Vrouekeur van 2015 tot met die sluiting daarvan in 2020, as aflewerings in die rubriek “Mense onderweg”. Die laaste, langer stuk was ook in Vrouekeur, maar as alleenstaande artikel.
'n Vuur brand in Kassie Kasselman se binneste. Reeds as
groentjiespeurder het hy geleer dat jy altyd afsydig moet staan van 'n
saak, anders maak jy oordeelsfoute. Maar hierdie saak krioel in sy
binneste soos 'n bondel giftige slange. Die gedagte aan die kinders,
aan wat hulle moet meemaak . . . En die slagoffers gil desperaat om
hulp. In Medusa boor Van Rensburg 'n nuwe, donkerder aar oop vir ons
geliefde speurder kaptein Kassie Kasselman.
Wanneer Kassie Kasselman die verdwyning van 'n ekskollega begin
ondersoek, is dit duidelik dat hier meer as net 'n dwelmverwante
verdwyning skuil. Hoe lyk dit dan of dit verband hou met die ontvoering
wat sy kollega Rooi Els se vrou se werkplek getref het?
James Scott is 'n kliniese sielkundige: Hy sien mense en word deur hulle gesien. Die woorde “Dan sien ons mekaar” is die eerste keer geuiter deur die spesialis wat sy kornea-oorplantings behartig het. Dan sien ons mekaar is 'n versameling eg menslike stories oor die lief en leed op James se persoonlike lewensreis; en dié van sy kliënte van die afgelope dertig jaar. Dit is 'n eerlike blik op hoe terapeut en kliënt mekaar se lewens raak.
Hoe kyk ’n mens terug na jou lewe en wens jy het ‘n ander vurk in die pad geneem? Wat sou gebeur het as? As? In dié diep ontroerende novelle toor die skrywer soos ’n alchemis van ouds met verdriet en spyt. Dit is ’n liefdesroman, ’n elegie aan die verlore liefde. Die verteller verlang terug na Anders, na Jena, na Duitsland. Maar die verlede spoel ’n mens rond soos die see. Nou is dit te laat. Vir altyd te laat.
In Moerstaāl word oorsprong in oënskyn geneem: perspektiewe word gebied op geskiedenis en erfenis en hoe dit met taal saamhang. ’n Skryfwyse wat deur Khoekhoegowab geïnspireer is, veral wat die gebruik van die makron op klinkers betref, word ingespan tesame met Sols se kenmerkende Ghoema-Afrikaans. ’n Respek vir byna uitgestorwe kennis word oorgedra en in dié opsig is die gedigte ’n kreet van verlies en ’n bewuste poging tot ’n daad van bestendiging. Die lewe-gewende moederfiguur tree hier na vore – die vrou wat verguising en ontkenning moes deurleef en wie se bydrae en plek, soos ook dié van die taal, in en deur die bundel herstel, of ten minste openbaar gemaak, wil word. Die musikaliteit van Sōls se vorige twee bundels is weer hier teenwoordig. Só ook sy vlymskerp kommentaar en ironie, en sy digterlike gebruik van spreektaal. Sols se terugkeer na geskrewe poësie – die eerste bundel in sestien jaar – is beslis ’n groot aanwins vir die Afrikaanse letterkunde. |
You may like...
Geological Resources of Tierra del Fuego
Rogelio Daniel Acevedo
Hardcover
R3,839
Discovery Miles 38 390
Watching Jazz - Encounters with Jazz…
Bjoern Heile, Peter Elsdon, …
Hardcover
R3,571
Discovery Miles 35 710
Artificial Intelligence Applications in…
Pantea Keikhosrokiani, Moussa Pourya Asl
Hardcover
R7,997
Discovery Miles 79 970
|