![]() |
Welcome to Loot.co.za!
Sign in / Register |Wishlists & Gift Vouchers |Help | Advanced search
|
Your cart is empty |
||
|
Books > Local Author Showcase > Afrikaans
In die 1980’s verower die sanger genaamd Ober die Afrikaanse musiektoneel. Jare later belig sy vriend en agent, Sybie de Waal, Ober se lewensloop in ’n plakboek van woorde – van hulle skooldae af, deur die jare toe Obermania die publiek beetgepak het, tot die terreurdaad toe alles tot ’n einde kom. Die onsigbare pou is ’n verhaal van ambisie en kreatiwiteit, roem en anonimiteit, vriendskap en verraad. In Zirk van den Berg se pittige, poëtiese vertelstyl.
Tian Killian se ouers is voor sy oë vermoor, die aand van die vuurwerke op Slootplaas. Nou reis hy, Amsterdam toe en na Kowloon, oral op die spoor van Charlie Oeng, oftewel Koekepan, oftewel Gelatenheid, oftewel Sjinees. Eens op ’n tyd ’n onbeduidende Hollywood-ekstra, maar ’n hoofrolspeler in Tian se wêreld. Hoe harder Tian probeer om die pyn wat hom sedert sy jeug vergesel, te verstaan, hoe tergender word die vraag: Waar eindig die Sjinees se skuld en waar begin sy éie aanspreeklikheid? ’n Ryke verskeidenheid karakters bevolk dié ambisieuse verhaal, van die Sjinese matriarg Ouma Voetjies in Amsterdam tot die blinde siener Ouma Ogies in die Oos-Kaap, van Cor van Gogh, hy met die kleinood in die koker, tot die enigmatiese, naamlose “Sy” . . . Die wêreld van Charlie Oeng staan in die tradisie van breedopgesette vertellings met veelvuldige verhaallyne en uitgebreide agtergrondbeskrywings. Feit en verdigsel is sjarmant verweef in hierdie verbluffende roman.
Die ontnugtering en nostalgie van die middeljare word hier in alle erns met humor en trefsekere taalgevoel verwoord. Ryk aan intertekstualiteit en slim woordspeling, is hierdie bundel vars en toeganklik vir alle oopkop lesers. Ou vrese word besweer en nuwes sinies en liries besing.
Die geliefde skrywer Dana Snyman deel sy waarnemings en belewenisse van die vreemdste tye wat ons nog beleef het: Die boek begin triomfantelik met die Springbokke wat die Rugbywêreldbeker wen, en toegejuig word tydens optogte deur die hoofstede van ons land. Maar baie vinnig verander alles. Die koronavirus slaan toe, en die hele wêreld word onderstebo gekeer. “Dinge is anders nou, meneer, in die tyd van die gif,” soos ’n ou oom by die plaaslike kafee vir Dana vertel. Dana beskryf die eerste veertig dae van die eerste inperking; dan ry hy trein om sy sterwende vriend in Gauteng te gaan groet. Hy skryf oor die treinrit, en ook oor die treine wat nie meer ry nie. Laastens praat hy met die mense wat die grootste gevaar loop ter wille van ander – die dokters en verpleegsters wat die siekes versorg. Dan kry hy self ook Covid19. Dana se kenmerkende fyn waarneming maak In Die Tyd Van Die Gif ’n leesmoet. Daar is pyn en verlies, maar ook geloof en hoop. Dit alles met ’n goeie skeut humor.
Kitaar my kruis is vir die eerste keer in 1962 deur H.A.U.M. gepubliseer, en die tweede uitgawe het sewe herdrukke beleef. Small se identifikasie met sy karakters vind neerslag in sy gebruik van Kaaps – volgens hom ’n volwaardige taal waarin mense hul eerste skreeu en hul laaste doodsroggel gee. Wat in heelparty gedigte opval, is die gebruik van refreine en herhaling, wat as ’t ware die gemeenskap se vrese waarskuwings en aanklagte van die tyd eggo (Van Wyk, 2006). Verder is daar ’n sterk Ou Testamentiese inslag, maar ook talle verwysings na die geboorte en wederkoms van Christus. Volgens Steward van Wyk word dié gegewe op die lotgevalle van onderdruktes van toepassing gemaak, oa die geskiedenis van Moses en die Israelitiese volk onder Egiptiese slawerny: Soos Moses met sy staf, moet die digter met sy kitaar sy mense lei, maar omdat die taak so moeilik is, word die kitaar ironies ook sy kruis.
"Stick with me, baby. Ek kan nie belowe dat ek jou famous sal maak nie. Maar jy sal fun he langs die pad. "Met die woorde lei die mooi, rebelse Dalena haar nuwe vriendin, Mart, 'n wereld in waaroor ordentlike tienermeisies net in die donker fluister. So begin 'n inisiasieproses wat met opwinding, maar ook met ontnugtering en pyn gepaard gaan. Die dinge van 'n kind is ’n onthutsende eerlike boek oor die begin van vrouwees, en die verlies van onskuld op seksuele, politieke en morele vlak.
Sy’s ʼn boeremeisie, hy ʼn Jood. ʼn Boerejood, ja, maar nogtans ʼn Jood. Vir hulle liefde is daar geen toekoms as hulle dit nie self skep nie. Terwyl hulle jonk is, dink hulle nie aan die toekoms nie, leef hulle vir die nou, glo hulle die verskille kan oorkom word. En Izak Katz, weet Elizabeth, maak altyd ʼn plan. Altyd. Hy, met sy lag, sy terg, die sagtheid in sy oë. Die paadjie wat aan hulle toebedeel is, is ongelyk. Soos die middelmannetjie in die drif. Hulle weet van mekaar vermy, van voorgee sodat niemand iets vermoed nie. Van wag. En van liefhê … Totdat Elizabeth gedwing word om ʼn doodsbelofte te maak. En sy weet, sy wéét, hierdie keer is dit verby, nie eers Izak sal nou meer raad hê nie.
Die skrywer Erika Murray-Theron wou weet waar die vroue in haar familie vandaan kom. Wat kry ’n mens van wie? Waar kom alles wat jý is vandaan? Hoe is die vroue in haar familie se lewe geraak deur trauma en groot wêreldgebeurtenisse waaroor hulle geen beheer gehad het nie? Theron se ouma Issie is op 3 Mei 1885 gebore; 133 jaar gelede. In hierdie verhaalbiografie gaan soek Theron in ou kookboeke, aantekeninge, foto’s, herinneringe, albums, briewe en geslagsregisters na haar ouma Issie se storie. ’n Lewe ontvou wat geraak is deur die verlies van ouers, die Anglo-Boereoorlog, die Rebellie van 1914 en daarna die energie wat dit verg om ’n groot huisgesin te behartig. ’n Skerfie glas wys hoe die verlede, selfs die verre verlede, spore op latere geslagte laat.
Henning van Aswegen skryf volkstories en kinderverhale oor die Vrystaat
se hartlike mense en interessante diertjies wat hy tydens sy ongebonde
grootwordjare langs Virginia se magtige Sandrivier teëgekom het.
Ingonyama En Ander Maats Met Leeueharte is ’n bundel propvol tematiese nuwerwetse verhale vir graadvier- tot graadseskinders van Afrikaans as eerste addisionele taal. Dié bundel neem die riglyne van die KABV in ag en die Departement van Basiese Onderwys se strewe om laerskoolonderwys by die “Vierde Industriële Rewolusie” te betrek. Elke verhaal bied:
Carin Krahtz, Nelia Engelbrecht, Annelie Ferreira, Jaco Fouché, Troula Goosen, Henriëtte Linde-Loubser, Elrien Scheepers, Christina van Deventer, Annerle Barnard, De Wet Hugo, Carin Krahtz, Anzil Kulsen, Naomi Meyer, Christien Neser, Carina Stander, Marita van Aswegen, Elizbè Van der Colff, Derick van der Walt, Elizabeth Wasserman, Zelda Bezuidenhout, EKM Dido, Sidney Gilroy, Rouxnette Meiring, Chase Rhys, Cecilia Steyn, Fanie Viljoen, Sasha Richards
Minki en haar maats is opgewonde oor die skoolkonsert wat voorlê. Hulle klas gaan Aspoestertjie opvoer, en dit gaan fantasties wees! Minki en Natalie is seker Lara gaan die hoofrol kry. Sy kan baie goed dans, en boonop is Aspoestertjie haar gunstelingsprokiesprinses. Hulle kan nie wag om te sien hoe sy in haar droomrok lyk nie! Maar by die oudisie loop dinge onverwags skeef … Gaan Minki dit regkry om soos ’n regte Goeie Fee haar towerstaffie te swaai en die konsert te red?
Minki het twee beste maats - Natalie en Lara. Natalie is mal oor ponies en gaan aan ’n perdrykompetisie deelneem waar die ruiters en hul ponies soos sprokieskarakters moet aantrek. Lara neem danslesse en eendag as sy groot is, wil sy ’n ballerina of ’n hiphop-danser word. Wanneer sy hoor van ’n danskompetisie by die winkelsentrum, skryf sy dadelik in. Minki belowe albei haar maats dat sy hulle sal kom ondersteun, maar dis is net een probleem … die perdrykompetisie en die danskompetisie vind op presies dieselfde tyd plaas. Skielik voel Minki asof sy in die middel van ’n toutrekkompetisie tussen haar twee beste maats beland het. Hoe gaan sy ooit tussen Natalie en Lara kan kies?
'n Nuwe en bygewerkte uitgawe van die publikasie wat in 1990 uitgegee is deur die Nasionale Parkeraad van Suid-Afrika (tans SANParke). Dit is die uitvoerige voorgeskiedenis en geskiedenis van die ou Transvaalse Laeveld en die gebeure wat gelei het tot die ontstaan van een van die eerste bewaringsgebiede in die ou Zuid-Afrikaansche Republiek toe die Sabie-reservaat in 1898 geproklameer is.
Die onweerstaanbare Audrey Blignault het destyds die wêreld van die Afrikaanse vrou óópgeskryf en was haar tyd vooruit. Dié unieke keur bring haar beste werk byeen, van kort sketse uit die vroeë bundels tot langer essays en verhale uit latere publikasies. Hierdie baldadige, skalkse, “onwennige ouma” skryf dalk oor vervloë dae, maar op so ’n unieke, toeganklike manier dat dit vir vandág se leser kraakvars is, en jou ten diepste raak. 'Met my rooi rok voor jou deur: ‘n Keur uit die werk van Audrey Blignault' sal voorgelees word op RSG vanaf einde Mei 2021! Die briljante Rika Sennett sal die voorleser wees.
Nadat Ella Neser as moordspeurder uit die polisie bedank het, het sy op plesierbote in die Karibiese See gaan werk. Toe kom die virus, en sy is verplig om na SuidAfrika te repatrieer. Nou sit sy sonder werk en sonder toekoms. Sy word gevra om 'n private ondersoek te loods op die dorpie Osspruit in Mpumalanga. Vier jong manne het oënskynlik besluit om voor en tydens die inperkingstyd weg te loop, maar meer sinistere gebeure word agter hulle verdwynings vermoed . . . Die aksie speel binne vier dae in Julie af, tydens die grendeltyd. Hoe dieper Ella begin krap, hoe meer besef sy daar is 'n gewetenlose brein wat agteraf konkel met die steenkoollorries na Eskom as rookskerm. Ella is genoodsaak om haar eie intuïsie te vertrou ten einde by die waarheid uit te kom – maar dit gebeur nie sonder verdere hikke en bloedlating nie. Man uit die dode verskyn as krimivervolgverhaal op Netwerk24 en daarna in boekvorm by H&R. Dit speel af net voor die aanvang van Die versoeking van Thomas Maas.
Willem is oor die wêreld heen beroemd as speurhond. Maar 'n paar jaar gelede het 'n sending skeefgeloop en het hy in Kaapstad by die DBV beland. Dis waar Adriaan en sy ouers die oulike swart-en-wit spanjoelhondjie raakgeloop het. En van daardie dag af is Adriaan en Willem onafskeidbaar. Hierdie omnibus bevat die eerste drie avonture: hulle reis na Istanbul, Parys en Londen, 'n seerower-avontuur op 'n passasierskip en die Bosveld-vakansie waarin hulle 'n bende renosterstropers vastrap.
Die Bitterbosbende besluit om in die skoolkoor te sing. Maar meneer Louw is nie die vriendelikste nie en boonop is daar nuwe koorlede wat Kurt nog nooit in die skool opgemerk het nie en wat blykbaar vir die res van die bende onsigbaar is. Dan ontdek Nieke 'n stuk papier met snaakse simbole, amper soos bladmusiek, in haar geskiedenisboek. Nieke en Kurt besef hulle droom albei oor onaardse aaklige musiek, en 'n koor van kinders geklee in swart, met aardige groot koppe . . .
’n Regstreekse, voor die hand liggende en effektiewe gids tot boom-identifikasie. Dié boek se titel sê dit alles! Hierdie bygewerkte tweede uitgawe verskaf ’n duidelike uiteensetting van hoe bome saamgestel is en waarna om op te let wanneer ’n boom geïdentifiseer word. Die boek bestaan uit twee dele: - Deel 1 beskryf en illustreer duidelik die verskillende dele van ’n boom en hul rol in boomidentifikasie. - Deel 2 bevat ’n sleutel tot 43 boomgroepe, gebaseer op maklik waarneembare stingel- en blaarkenmerke. Dit gee ’n duidelike oorsig van elke groep, sowel as die Suider-Afrikaanse boomfamilies wat in die onderskeie groepe verteenwoordig word. Talle kleurfoto’s en verduidelikende illustrasies ondersteun die teks wat dié handleiding toeganklik en gebruikersvriendelik maak. Identifiseer die Bome van Suider-Afrika sal lesers toerus met ’n goeie begrip van die bou van bome en waarna hulle moet oplet om dit korrek te kan identifiseer. Also available in English as How to Identify Trees in Southern Africa .
Hierdie skrywer weet hoe om ʼn storie te vertel en hoe om die leser in te katrol. Haar kinderjare in Pretoria-Wes word lewendig en humoristies verhaal. Haar pa het lewenslank boekminderwaardig gevoel omdat hy nie kon gaan studeer nie. Sy pa het sy grond verloor en hy moes vroeg die skool verlaat om te gaan werk. Hy onderskei hom in die spoorweë, maar die drankduiwel ry hom (en die gesin). Geen kind van hom hoef te gaan leer nie, glo hy. Die verteller self spring duidelik en onweerstaanbaar uit die bladsy regop – iemand wat, in haar eie woorde al soos ʼn haas verskrik is deur haar pa maar wat haar eenvoudig nie laat onderkry nie. Sy sou gaan leer, buig of bars. En sy het nie opgehou voordat sy ʼn doktorsgraad verwerf het nie.
Vir 'n meedoenlose smokkelbende is die bome langs die Limpoporivier die ideale plek vir hul skelmstreke en hulle verwag nie dat vyf dapper seuns van Kranskopc en ’n man wat gebrei is deur die Kalahariwoestyn, met hulle paaie sal kruis nie. 'n Vakansie langs die Limpopo hou ongetwyfeld avonture vir die Uile-bende in – veral omdat hul goeie vriend Wadda, die woestynmens, saamgaan. Maar die afgelee boswereld is nie net vir die vriende aanloklik nie. Wanneer honger krokodille boonop tot die gevaar gevoeg word, moet Philip en sy vriende vinnig dink en optree.
Imbokodo: Women Who Shape Us is a groundbreaking series of books which introduces you to the powerful stories of South African women who have all made their mark and cleared a path for women and girls. These books recognise, acknowledge and honour our heroines and elders from the past and the present. South African women are silent no more on the roles that we have played in advancing our lives as artists, storytellers, writers, politicians and educationists. The title 'Imbokodo' was been chosen as it is a Zulu word that means "rock" and is often used in the saying 'Wathint' Abafazi, Wathint' Imbokodo!', which means "You Strike a Women, You Strike a Rock!" These books were made possible with the support of Biblionef and funding from the National Arts Council. In 10 Curious Inventors, Healers & Creators you will read about the women who shape our world through education, science and maths. You will read about women who became teachers, nurses, social workers, scientists and community workers, overcame obstacles and through their work fought for social change.
In Julie 1905 kry Siegfried Bock van die Kaiserliche Landespolizei te kampe met ’n plaaslike boer se grudood, spoke uit sy verlede en ’n Berlynse besoeker wat ’n dodelike wrok koester. Hy worstel met Duits-Suidwes-Afrika se onstuimige politiek en ongenaakbare natuur. As hy geregtigheid wil laat seëvier, moet hy dít, asook strominge in sy eie gemoed, te bowe kom. 'Tweegevreet bied, soos sy voorganger, Die vertes in, spanning én stof tot nadenke.
Watter soort mens was dr. H.F. Verwoerd, die sesde premier van die Unie van Suid-Afrika en grondlegger van die huidige Republiek? Die bydraers tot hierdie boek skryf op onderhoudende wyse oor hoe hulle hom onthou, wat hulle saam met hom beleef het en oor hulle opvatting van sy politieke oogmerke. Die persoonlike aard van die bydraes verleen ’n dimensie aan die boek wat in objektiewe geskiedskrywing ontbreek. Verwoerd tree te voorskyn as vriend, gesinsman, volksman, raadsman en leier. Hierdie bundel verskyn die eerste keer in 2001 by geleentheid van die 100ste herdenking van dr. Hendrik Frensch Verwoerd se geboortedag, 8 September 1901. Die bygewerkte weergawe in 2016 bevat nuwe bydraes deur onder andere Elise Verwoerd, Cas Bakkes en Albert Hertzog.
Eilande is nie net 'n titel nie – dis 'n gebeurtenis. In hierdie onstuitbare epos word die eerste jare van die Kaapse nedersetting herroep in sewe grootse taferele uit die lewe van ses historiese manfigure wie se lewens op byna onnaspeurbare maniere in mekaar vervloei. En om wie vloei hulle? Om die wese van 'n vrou, Pieternalla in wie se liggaam wit en bruin bloed saamgevloei het tot 'n noodlot. Hierdie sewe mans is almal deur haar aangeraak. Sy is die spilpunt van 'n genadelose geskiedenis van dood, liefde en oorlewing. Die verhaal strek ver en wyd: oor drie oseane, drie vastelande en 'n handvol eilande. Dit loop, soos 'n groot rivier, met geweldige versnellings wat die leser insluk en meevoer. Maar oraloor kom dit ook tot rus in die lewe van gewone mense. Dit beantwoord baie vrae. Hoe ervaar 'n honger inboorling die driemaster wat stadig op die rotse loop reg daar op die lykus waar hy woon? |
You may like...
Maklik met Marinda - Al my resepte wat…
Marinda Engelbrecht
Paperback
|