![]() |
Welcome to Loot.co.za!
Sign in / Register |Wishlists & Gift Vouchers |Help | Advanced search
|
Your cart is empty |
||
|
Books > Local Author Showcase > Afrikaans
Suid-Afrika se Mnr. Pinotage, Beyers Truter, se passie vir die lewe en wyn is oral bekend. In hierdie boek kyk hy terug op sy eerste treë as wynmaker van Kanonkop, asook die deftige funksie in Londen toe hy in 1991 as Wynmaker van die Wêreld aangewys is. Hy vertel ook van die vlammetjie wat altyd in hom gebrand het om op sy eie plaas wyn te maak en die groot oomblik van Beyerskloof se eerste oes. Sy lewensreis as eienaar en wynmaker van Beyerskloof is een van vriendskap, nederigheid en lojaliteit. Die bekende ou skrywer van cowboy-boeke Louis L'Amour se betekenis van traildust was nog altyd vir hom 'n rigsnoer in sy lewe as wynmaker, ouer en vriend. Beyers sien altyd die humor in situasies raak en dis een van die redes hoekom hy die wyntoere so baie geniet het saam met Jannie Engelbrecht, Jan-Boland Coetzee, Kevin Arnold en Johan Malan. Hy het ook 'n lang paadjie geloop met die bekende Etzebeth-rugbybroers, asook Koos Kombuis. Hy deel ook sy liefde vir sy honde, duik, seekos en Namibië.
Sammi is 13 en bly saam met haar tannie Valerie, 'n kunstenaar. Hulle gaan kuier vir die vakansie by Oumie en Dedda in die Noord-Kaap. Sammi gaan haar vriendinne April en Lerato mis, maar die klein dorpie gaan 'n goeie change of scene vir haar wees. Dit sal haar gedagtes afvat van Richfire Arts Academy, die kunsteskool waar sy so graag wil inkom. Maar die platteland is vol verrassings. En kansvatters. Sal sy vir Dedda en Oumie kan help as die slymerige George sy flikkers kom gooi?
Die Dreadnought is reg vir aksie, ouma Hester se harnaspakke is gelaai met plofbare verrassings en haar yskas kreun onder die smulgoed! Maar wat gaan sy in Kanada maak en nogals by PESBEHEER, PILLE & PREPARATE van alle plekke? Sal Mamma vir Tian en Lisa laat saamgaan? En wat vang die bose dokter Lewendkerwen alles in haar onderwaterse laboratorium aan? Gelukkig laat ouma Hester en Graatjie nie met hulle mors nie!
Dis al Maart. Mieke het nog nie met Fen gepraat vandat hy koshuis toe is nie. Hy bel nie, kom nie naweke huis toe nie. Op Mtwana hang daar 'n skadu van onsekerheid. Die Phiri-bende is oorkant die rivier aktief. Hulle teiken hoofsaaklik olifante. Mieke sit haar voet neer en bel vir Fen by die koshuis. 'n Boelie gryp sy foon en 'n bakleiery breek uit. In die gestoei breek Fen sy spanmaat, Jock, se neus. Fen én Jock word geskors. Hulle straf: twee weke se harde arbeid op Mtwana.
Die skrywer se doelstelling met hierdie publikasie is om die beginsels van sterrekunde toeganklik te maak vir almal, om ‘n teks daar te stel wat bruikbare toeligting vir die amateursterrekundige is en kan dien as voorbereiding vir verdere studie in die sterrekunde. Van Zyl se eenvoudige, onderhoudende skryfstyl dra verder by tot die boek se toeganklikheid vir sterrekundiges sowel as leke met ‘n besondere belangstelling in die heelal. Deurgaans word gepoog om te verduidelik hoe sterrekundiges te werk gaan. Om begrip te vergemaklik, verskyn ook 11 bladsye bylaes waarin die wiskunde wat gebruik word uit grondbeginsels herlei word. Dit bevat gedetailleerde beskrywings en verduidelikings van die heelal se geheime. Inligting oor nuwe ontdekkings en teoriee, kleurvolle diagramme en foto’s verhoog die waarde.
Amber is onseker van haar voorkoms. Is sy mooi? Sy maak 'n anonieme youtube-video waarin sy mense vra om haar voorkoms te beoordeel, maar dit beland per ongeluk op haar facebookblad. Tim is gewild, maar sy meisie het hom sopas afgesê vir een van die rugby-ouens. 'n Toevallige ontmoeting tussen Tim en Amber lei tot 'n ongewone vriendskap, maar sal Amber die moed hê om haar spoke te konfronteer? En sal Tim haar ware skoonheid raaksien?
Markus Gerlach en sy kameraad Domingos Magadzi vlug oor die grens van Suid-Afrika na die noorde van Mosambiek omdat hulle vrees dat hulle van die moord op drie mense aangekla sal word. Vir Phoebe Maritz, ’n kleindorpse joernalis, is dit ’n kans om eindelik ’n storie van internasionale belang na te jaag en sy sit die twee met die hulp van ’n veiligheidskontrakteur, Paul Fryer, agterna. Sy hoop om ’n eksklusiewe onderhoud met Markus los te slaan en die waarheid te ontbloot. Maar Cabo Delgado, waar Markus wegkruip, word deur verwoestende terreur geteister en niemand is daar veilig nie. Gou bevind Phoebe haar in die middel van ’n plofbare botsing tussen gevreesde insurgente, kastige filantrope, private militêre kontrakteurs, agente van internasionale olie-en-gasmaatskappye en – erger nog – ’n bloeddorstige reeksmoordenaar.
Malherbe Albertyn, oftewel Vuur, beplan om sy somer in Kransbos te spandeer om die magiese Ylwoud te vind. Desperaat op soek na die antwoorde, na iets buiten die Bloedskuld wat hy en sy bendebroers steeds in die arena betaal. Desperaatheid dryf ook vir Mieke om te waag om haar drome na te jaag. Kan sy ontsnap deur saam met Malherbe in 'n onvoorspelbare bos te gaan verdwaal? Is Ylwoud die antwoord op Malherbe se suster se verdwyning?
Ses jaar ná die verskyning van Bloedvreemd vertel Juliana Coetzer wat
hét geword van haar dogter, Anneke. In Bloedvreemd vertel die skrywer
hoe Anneke op sewejarige ouderdom ’n virus opgedoen wat haar brein
aangetas het, en geleidelik het sy verstandelik begin agteruitgaan. Die
werklikheid het egter nie stilgestaan nie. Ses jaar ná die boek vra
mense steeds – wat het geword van julle? Is Anneke oukei? Hoe maak ’n
mens met die voortdurende verlies, die agteruitgang?
In hierdie ambisieuse bundel word die leser op reis geneem. Na wêrelde van verstommende – dog onmiddellik herkenbare – tegnologiese vooruitgang. Waar bespiegeling en die magiese skouers skuur met die “alledaagse”. Waar waarheid en versinsel nie meer onderskeibaar is nie. Waar nuwe, onthutsende eksistensiële vrae opduik, en in gesprek tree met die oerbekende een: waar begin menswees, en waar eindig dit? Bot is ’n verrassende debuut wat ’n eiesoortige staanplek in die Afrikaanse verhalewêreld kry.
In Plek van die bittermaan besluit die beeldskone Tessa, ’n
ongetroude enkelma, om met haar seuntjie stad toe te vlug waar sy
“anoniem” sal kan wees. Maar dis nie nie so maklik nie en sy word
voor hartverskeurende keuses gestel.
Toe Pamina Vermaak by die werk uitfreak, sit sy skielik sonder inkomste. Boonop verloor sy haar kêrel, haar woonstel in Tamboerskloof, asook die laaste flenters toekomsideale wat sy naarstig aan ’t vasklou was – alles in een dag. Sy is gedwing om druipstert terug te keer na haar ouerhuis op die klein Weskusdorp Witwaterbaai. ’n Plek wat sy gesweer het haar nooit weer sal sien nie. Intussen basuin die voorblaaie van poniekoerante dit uit dat rockster Wolf de Jager se verlowing met aktrise Daniella du Toit verbreek is en krioel dit op sosiale media van steelfoto’s waar sy hom verneuk. Hy moet weg uit die Kaap en ’n lukrake seleksie op Google Maps bring hom tot op Witwaterbaai, waar sy swart leerbaadjie harder as sy Fender Stratocaster skreeu teen die gehekelde doilies in Ant Leentjie se gastehuis. Sal Pamina en Wolf op hierdie slakkepas-dorp van bokkoms droog en stoepsit hul probleme kan ontduik? Of lê daar net nog meer komplikasies voor?
Hoe gaan jy aan as jy beroof is van die lewe wat vir jou kosbaar was? Die insig wat Johannes de Villiers verwerf het toe sy eie lewe uitmekaar geval het, is die inspirasie vir hierdie boek. Johannes gaan steek kers op by deskundiges en terapeute, maar ook veral by gewone mense wat deur die lewe platgevee is. Groei, vind hy, is nie om veerkragtig terug te bons na wie jy was voor dinge verkeerd geloop het nie. Maar jy kán dit oorleef - en selfs sterker wees.
In 1977, terwyl Henna en haar man Stone juis op soek is na ’n stukkie grond waar hulle saam kan ontspan, weg van die stadsgeraas en mensegedrang, sterf Henna se ma en word ’n familieplaas onverwags en onbepland haar erfdeel. In pleks van die plaasidille wat Stone voorgehou het, word Henna nou gekonfronteer met die harde werklikheid van volskaalse boerdery en alles wat daarmee gepaard gaan: droogte, peste, plae, veesiektes, vrektes en vrees. Stone se pligte as “befaamde ginekoloog” hou hom immers besig in die stad – en dis Henna wat vrou-alleen stoetvee koop, hanslammers grootmaak, met plaasarbeiders onderhandel en ’n tuiste probeer skep uit ’n vervalle murasie. Uit briewe aan haar jarelange vriendin Ida leer ken die leser ’n belese en berese “ek” wat skielik ’n totale ommeswaai in haar netjiese bestaan beleef. Só word die teks ook ’n boeiende karakterstudie oor ’n ouerwordende vrou wat stoei met haar komplekse familiegeskiedenis (haar ma was eksentriek en afwesig, haar pa het met sy kop in boeke geleef) en die onopgeloste geheime wat ná haar ma se dood op die lappe kom. Die Henna wat enersyds kan brande blus, kalwe versorg en vendusies bywoon openbaar haarself al skrywende as fyngevoelige, intellektuele en filosofiese “ek” wat vlymskerp kan spot met haar eie swakhede, maar ook pynlik akkurate waarnemings maak oor die wêreld waarin sy leef. Benewens interessante wetenswaardighede oor boerdery wat na vore kom, is dit ook ’n veelseggende teks wat betref rasverhoudings op plase, die rol en posisie van vroue in die gemeenskap, die ewige waarhede in die letterkunde en die mens se afhanklikheid van die natuur.
In Pieter Odendaal se langverwagte tweede bundel skryf hy oor aktuele temas soos queer-identiteitspolitiek, geboortegrond, die klimaatskrisis, verlies en vervreemding. Dit is ’n selfbewuste maar ook selfversekerde digterstem wat aan die woord is. Die digter skroom nie om binnetoe te kyk en ongemaklike vrae te vra oor herkoms, tuiswees en heengaan nie: Waar kom ons vandaan? Waar behoort ons? En waar gaan ons heen as ons van die aarde ontwortel word?
Toemaar, jou dag sal kom . . . Dis die woorde wat Diana Botha, wynmaker van die spoglandgoed Soeterwijn, help om staande te bly en telkens weer die lewe met nuwe ywer aan te pak. As jong meisie erf sy die las vir ’n skande vir iets waaraan sy geen skuld het nie. Dit pla haar tot ’n studiebeurs haar help om haar passie vir wynmaak te laat ontluik. Maar in die Boland leer sy opnuut dat vooroordeel steeds stewig in die mensdom sit.
Wie is die beste Springbok van die moderne era? Hoe kies jy tussen Bakkies Botha en Eben Etzebeth? Was Jaque Fourie of Lukhanyo Am die beste buitesenter? Moet Os du Randt of Beast Mtawarira jou skrum anker? Sou Juan Smith vir Pieter-Steph du Toit disnis duik? Soek jy Joost van der Westhuizen se skeppende spel, of Fourie du Preez se berekende skopvoet? Hierdie vrae, en soveel meer word deur ’n gesaghebbende paneel van voormalige Bok-afrigters soos Carel du Plessis, Nick Mallett, Jake White en Peter de Villiers, asook van die land se top rugbyskrywers, in die Rapport 30 beste Bokke beantwoord. Die tydperk het ingesluit drie Wêreldbekers en Drienasies-titels, een Rugbykampioenskap-titel, ’n destydse wêreldrekord van 17 agtereenvolgende wedstryde sonder ’n nederlaag, en twee reeksseges oor die Britse en Ierse Leeus. Dié boek stel ons voor aan die 30 beste Bokke. Dit bevat ook onderhoude, statistiek, foto’s en staaltjies uit die kleedkamer. Onmisbaar vir elke rugby-liefhebber.
Abby, Jasper en Henri het net mooi niks in gemeen nie. Maar wanneer hulle moet saamwerk aan ’n groeptaak en dan die ooggetuies is van ’n moord, word hulle saamgegooi op ’n wilde tuimeltreinrit. Sonder selfone en met niemand wat in hulle onskuld glo nie, moet hulle op mekaar staatmaak om te oorleef. Die vraag is net: Gaan die polisie of die eintlike moordenaar hulle eerste opspoor?
Dirk Ligter is na bewering in 1860 op ’n plaas in die Tankwa-Karoo gebore. Hy het die naam “die Robin Hood van die Tankwa” gekry omdat hy dikwels by boere wat glo nie hulle werkers goed behandel het nie, skaap gesteel en geslag het om vir die betrokke boer se werkers te gee en vir homself ook ’n gedeelte te hou. Sy vuurtjie het gereeld hoog in ’n berghang gebrand, waar hy vleis gaargemaak en oornag het, maar hy is nooit deur die polisie daar vasgetrek nie. Die verhale oor hierdie legendariese skaapslagter met sy blikkitaar het danksy Boerneef en die toegewyde navorsing van Joe Dauth bewaar gebly.
Eendag was daar ’n meisie wat vreeslik graag vrae gevra het. “Waarom?”
“Waar?” “Wanneer?” “Hoe?” “Wat?” “Wie?”
As slaap en alleen piepie vir die voëls is, jy weke laas beenhare kon skeer, jy sukkel om in jou broeke te pas en push-up bra’s moet dra – o ja, en jy gewoond is aan koue koffie – dan is hierdie rubriekbundel vir jou! ’n Humoristiese blik op die vreugdes en uitdagings van moederskap en vrouwees. Carla Lang se blog, #kouekoffie, het reeds oor die 15 000 aanhangers (followers). Van die rubrieke het oorspronklik op Netwerk24 verskyn.
Om te leer lees is een van die grootste avonture wat op enige kind wag - en Krok en Dil is die perfekte maats om die opwindende reis mee aan te pak! Die nuwe leesreeks uit die pen van Jaco Jacobs stel kinders deur middel van prettige stories aan verskillende klanke bekend. Die reeks het 'n sterk strokiesprent-aanslag, met volop spraakborrels en fantastiese volkleurillustrasies deur Nadia du Plessis, en die twee onwaarskynlike beste maats, 'n knorrige krokodil en 'n lewenslustige komkommertjie, sal dadelik in beginnerlesers se harte kruip. Jaco is self die pa van twee dogtertjies, Mia (9) en Emma (7), wat die afgelope paar jaar leer lees het, en hy se een van die grootste struikelblokke was om toeganklike beginnerleesboeke op te spoor. "My kinders het grootgeword met stories - van die heel lekkerste storieboeke in Afrikaans en Engels wat aan hulle voorgelees is. Dit was daarom vir hulle baie frustrerend as beginnerleesboeke net op die klanke fokus, sonder 'n sterk, vermaaklike storielyn. Dit is waarom ek die Krok en Dil-reeks begin skryf het - ek wou 'n leesreeks skryf wat vir lesers - en ouers! - 'n prettige storie in elke boek bied, met hope humor."
|
You may like...
The Situation Room - The Inside Story Of…
George Stephanopoulos, Lisa Dickey
Hardcover
|