![]() |
![]() |
Your cart is empty |
||
Books > Local Author Showcase > Afrikaans
Toemaar, jou dag sal kom . . . Dis die woorde wat Diana Botha, wynmaker van die spoglandgoed Soeterwijn, help om staande te bly en telkens weer die lewe met nuwe ywer aan te pak. As jong meisie erf sy die las vir ’n skande vir iets waaraan sy geen skuld het nie. Dit pla haar tot ’n studiebeurs haar help om haar passie vir wynmaak te laat ontluik. Maar in die Boland leer sy opnuut dat vooroordeel steeds stewig in die mensdom sit.
Heidri Mittendorf is 'n bekende en ervare blokkiesraaiselkenner en - opsteller. Die Bybel Blokraai bevat 70 blokraaie wat opgelos word met leidrade wat uit die Bybel nageslaan kan word asook 10 woordsoeke gebaseer op temas uit die Bybel. Al die antwoorde word ook verskaf. Dit sal ure se blokraaigenot verskaf aan blokraailiefhebbers.
Hanlie Retief se skerp, pittige en op-die-man-af-onderhoude in Rapport is iets waarna baie lesers elke Sondag uitsien en heel eerste lees. Waarom? Hanlie kies die interessantste mense om mee onderhoude te voer en vra die vrae wat almal wil vra. Ná 20 jaar van onderhoude voer is dit hoogtyd dat ’n keur van die beste onderhoude te boek gestel word. Hanlie gesels met bevat 50 van Hanlie se mees prikkelende onderhoude: dié waaroor mense lank gepraat het, dié wat mense kwaad gemaak het, laat lag het of ’n traan laat pik het. Dit is ook interessant om weer die stemme te hoor van mense wat ons ontval het, soos Chris Barnard en Marike de Klerk. Desmond Tutu, Steve Hofmeyr, dr. Piet Koornhof, Steve Booysen, Piet Byleveld, Anton Goosen, Pik Botha, Kurt Darren, Pierre Spies, Vernon Koekemoer en Julius Malema is van die mense wat opgeneem word in hierdie boek. Die leser van hierdie boek geniet ’n kleurvolle reis deur die gedagtes en dinge van Suid-Afrika se interessantste bekendes.
Konrad werk vir DMK, 'n Duitse vervaardigingsonderneming in Darmstadt. Hy ontvang opdrag om as deel van 'n vakansiereis in sy Heimat (tuisland), 'n voorlopige ondersoek na twee moontlike investeringsgeleenthede te doen. Hy en sy vier metgeselle beleef 'n nostalgie-belaaide reis deur Suid-Afrika. Hy ontmoet verteenwoordigers van die San en Khoen-Khoen gemeenskappe. Die besonderse natuurskoon en die interessante geskiedenis van sy geboorteland, beïndruk hom weereens. Sy belangstelling in gholf en stoomlokomotiewe dra by tot 'n genotvolle reis. Daarby is een van sy reisgenote 'n aantreklike mediese dokter en sy skep vir hom 'n liefdesdilemma, want tuis het hy reeds iemand. Die projek neem 'n onverwagse wending. By sy terugkeer in Darmstadt wag daar verrassings uit sy verlede. Hy moet 'n kopskuif asook moeilike besluite maak.
Facto luister wat die Flixies te sê het oor water en hy hoor dat dit 'n wonderstof is! Geen lewe soos ons dit ken is moontlik sonder water nie. Dit is 'n wonderlike oplosmiddel, wat beteken dat die plante en diere se kos eers daarin moet oplos voordat dit deel van die plant of dier se liggaam kan word. Dit is ook 'n was- en spoelmiddel en dit koel af. Ons voorraad vars water wat bruikbaar is, is baie beperk en die Flixies verduidelik hoekom.
Klein dorpies is elkeen uniek met sy eie karakter en dinge. Vanweë die klein gemeenskappe word mense in dieselfde smeltkroes gegooi; hetsy na gelang van kulturele afkoms of ras, verskillende godsdienste of oortuigings. Om te oorleef moes hulle die lewe se uitdagings so goed moontlik saam met mekaar aanpak, en so ontwikkel ’n algemene soort kultuur deur die jare heen; baie prakties, sonder onnodige nonsies en met baie humor. Plattelandsemense aarsel nie om dinge te sê soos dit is nie; dikwels in plat taalgebruik wat vir ander miskien stuitig mag wees of selfs aanstoot sal gee. Die skrywer is ’n gebore en getoë “boytjie” van die platteland wat nie kan verhelp om met sy tong in die kies te skryf en te skets nie. ʼn Groot knippie sout is gewis nodig. Lag of huil gerus lekker saam!
Tian Killian se ouers is voor sy oë vermoor, die aand van die vuurwerke op Slootplaas. Nou reis hy, Amsterdam toe en na Kowloon, oral op die spoor van Charlie Oeng, oftewel Koekepan, oftewel Gelatenheid, oftewel Sjinees. Eens op ’n tyd ’n onbeduidende Hollywood-ekstra, maar ’n hoofrolspeler in Tian se wêreld. Hoe harder Tian probeer om die pyn wat hom sedert sy jeug vergesel, te verstaan, hoe tergender word die vraag: Waar eindig die Sjinees se skuld en waar begin sy éie aanspreeklikheid? ’n Ryke verskeidenheid karakters bevolk dié ambisieuse verhaal, van die Sjinese matriarg Ouma Voetjies in Amsterdam tot die blinde siener Ouma Ogies in die Oos-Kaap, van Cor van Gogh, hy met die kleinood in die koker, tot die enigmatiese, naamlose “Sy” . . . Die wêreld van Charlie Oeng staan in die tradisie van breedopgesette vertellings met veelvuldige verhaallyne en uitgebreide agtergrondbeskrywings. Feit en verdigsel is sjarmant verweef in hierdie verbluffende roman.
Deidre Anker se lewe raak verstrengel met die van ’n bende van vyf seuns wat berug is vir die lewensgevaarlike en ekstreme stunts wat hulle uitvoer en video's daarvan op youtube post. Deur haar ontstuimige verhouding met Louw, begin sy die Branderjaers se geheime ontrafel - soos die feit dat hulle Bloedskuld moet betaal deur dit uit te baklei in die Kring se arena. Daar is ’n prys om te betaal as jy met ’n Branderjaer deurmekaar raak . . .
Neels Jackson, kerkjoernalis van byna 30 jaar, glo dat godsdiens grootliks gaan oor die nakoming van Jesus se oproep om Hom te volg. Vir hom het Jesus se liefde egter bepalende implikasies vir die gay debat. Sy empatie en liefde vir gay mense moet verstaan word in die lig van Jesus se onvoorwaardelike liefde vir die randfigure van sy tyd en hoe Hy teenoor die Fariseërs opgetree het. Die skrywer ontleed die sewe gaytekste in die Bybel binne die konteks waarin dit geskryf is en kom tot die slotsom dat dit niks met homoseksualiteit te doen het nie. Die skrywer vul sy argument aan met die behandeling van 'n aantal misverstande oor gaywees en gay mense, asook ander argumente wat gaywees as sonde veroordeel. Hy voer dan ook aan dat Jesus se verruiming van die wet, asook die verskerping van die wet, vir ons die riglyn moet wees.
Ná jare van ontbering vind Mina Afrika geluk in Whitewing Lodge, ’n gastehuis op die rotse naby Visbaai. In die moderne kombuis leef sy haar ten volle uit as sjef; sy raak al hoe meer betrokke by die interessantste mense. Dan verander 'n doodgewone aankondiging oor bykomende gaste vir middagete alles. Skielik word dit weer nag vir Mina. En vir die mense naaste aan haar.
Dwarstrekkers, nonkonformiste, buitestaanders, randeiers...Noem hulle wat jy wil, Suid Afrika het meer as sy deel eksentrieke karakters opgelewer wat mense van die vroegste tye af na hulle asem laat snak of verstom agter hulle hand laat fluister het. Hierdie rare mense het met die jare hul merk gemaak op vele terreine. Dis hulle wat Daniël Lotter aan 'n nuwe geslag lesers bekendstel.
Die derde boek in die Abel-rillertrilogie. Die polisie word ontbied na
'n hotelkamer in Johannesburg. Bloed en hare in die bad dui op 'n
slagting, maar daar is geen lyk nie. Wanneer 'n gelooide en onthaarde
vel gevind word, weet Ella Neser sy is weer op reeksmoordenaar Abel
Lotz se spoor. Abel bevind hom in Brugge, en kort voor lank soek hy
weer na velle met tatoes vir die omslae van die tien volumes van sy
Kosmiese Reise, hierdie keer met Ignaz Bouts se hulp.
Boek een van 'n trilogie.
Die ware verhaal van 'n ma se stryd om met onvoorwaardelike liefde te aanvaar dat haar kind gay is. Die skrywer se doel met hierdie boek is om ander gesinne in soortgelyke omstandighede hoop te gee. Sy vertel van die skok wat sy en haar man moes verwerk toe hulle lieflingdogter aankondig sy is verlief op 'n vrou. Lidia Theron beskryf die pad wat hulle moes loop om tot volle aanvaarding te kom.
Die kortverhale in Maansiek verken 'n wye register: die Rooms-Katolieke geloof, charismatiese aanbidding, Afrika-mistiek, erotiek en moederskap, konflik tussen ras en geslag en sosiale status, spanning tussen die hede en die historiese, die sienlike en die onsienlike. As basis vir sommige verhale dien 'n nugter koerantberig of tydskrifartikel uit vervloe dekades wat binne die verhaalkonteks tegelyk humoristies en ontstellend is. Ander is gegrond op minder bekende aspekte van bekende figure of vertellings van onbekende vroue met uiteenlopende agtergronde.
Buks, Kassie en Litte – oftewel die Otters – skryf briewe aan hul ouers sodat hulle fietse vir ʼn fietstoer kan bekom. Na heelwat beplanning, vertrek die seuns met ʼn gesonde voorraad blikkieskos en water in groot rugsakke na die Tuliblok langs die Limpoporivier. Wanneer hulle besef dat hulle oor die 400 km sal moet ry, kry hulle rygeleenthede saam met interessante trokdrywers ... Net ná Potgietersrus (deesdae bekend as Mokopane) haak hulle egter by een van die plase vas en word dit al gou duidelik dat hulle die Limpoporivier nie te siene sal kry nie ... Wanneer hulle agterkom dat die mense hier onwettig beeste oor die grens smokkel, maak hulle spore, maar kan hulle die bloeddorstige boer en sy spoorsnyer ontglip? En wat sal gebeur as hulle in ondergrondse tonnels vasgekeer word en wit geraamtes in die donker grotte ontdek?
Penvere is 'n versameling rubrieke deur die voelkenner Morne du Plessis wat enigeen - hetsy agtertuinduifbewonderaar of kranige ornitoloog - breed sal laat glimlag. In hierdie bundel word met 'n fyn oog en 'n skerp sin vir humor gekyk na die sonderlinge gedrag en gewoontes van verskeie Suid-Afrikaanse voelspesies, waarvan die meerderheid selfs aan die leek bekend behoort te wees. Van die hadida en die lemoenduif tot die mossie, koekoek en bosloerie - elke spesie bestaan in 'n unieke verhouding tot die natuur - en besit 'n magdom eiesoortighede wat soms nie veel van menslike gedrag verskil nie. Met sy pittige aanslag en skerp waarnemeingsvermoe, dwing die skrywer die leser om saam met hom verwonderd te raak oor die boeiende wereld van voels wat rondom hom bestaan, die natuur is te kosbaar en te breekbaar om dit huis toe te bring.
In die middel van die winter word Miem Fischer saam met haar enigste seun en ander familielede weggevoer van hulle plaas naby Ermelo: eers na die konsentrasiekamp by Standerton en daarna na die kamp by Merebank naby Durban. In haar dagboekinskrywings ontvou dag na dag die aangrypende verhaal van hoe sy die haglike realiteit van lewe in ’n konsentrasiekamp moet verduur. Tant Miem Fischer se kampdagboek is een van maar ’n handjievol dagboeke wat die lyding van Boerevroue en -kinders van dag tot dag weergee en wat na die oorlog behoue gebly het.
Wat niemand ooit sou glo nie, het toe wel gebeur: 'n skeuring onder die Uile-geledere. Berrie is die een wat uit die hegte kringetjie wegbreek het. Met krieket kan hy en Philip nog saam speel sonder om werklik saam te werk. Maar toe breek die rugbyseisoen en daardie belangrike naelbyterwedstryd teen Excelsior aan.
Wanneer Kassie Kasselman die verdwyning van 'n ekskollega begin
ondersoek, is dit duidelik dat hier meer as net 'n dwelmverwante
verdwyning skuil. Hoe lyk dit dan of dit verband hou met die ontvoering
wat sy kollega Rooi Els se vrou se werkplek getref het?
Cas van Rensburg se oeuvre kom op ’n klimaks tot afsluiting met Mans en hulle wonde. As Jungiaan kyk hy vroeër na drome (Jou drome – die onbewuste het al die antwoorde) en na die vroulike psige (Die prinses in elke vrou). Hier kom hy as bejaarde tot ’n uiteindelike evaluering van sy eie groei tot manwees. Petrovna Metelerkamp het ’n besondere diens verrig deur hierdie finale werk van Cas toeganklik te verwerk en só mooi postuum uit te gee. (Daar’s ’n aangrypende en gepaste skildery deur Van Rensburg op die voorblad.) Die boek is beslis nie net vir bejaardes of vir mans bedoel nie, “maar ook vir vrouens wat hulle mans wil verstaan, vir ma’s en pa’s wat hulle seuns wil verstaan en vir jong mans wat probeer om hulself te verstaan” (agterplat). Die man is om verskillende redes in die 21ste eeu in die moeilikheid, of dit is as gevolg van “die opkoms van die feminisme en gays wat hulle regte opeis” of omdat “die Kerk sy houvas op die Westerse samelewing begin verloor (het) en daarmee saam die patriargale ingesteldheid wat so lank die botoon gevoer het”. Metelerkamp noem dat Van Rensburg navorsing vir sy boek begin doen het tydens die verhoor van Oscar Pistorius. Pistorius se verhaal van woede en geweld word ’n argetipiese Suid-Afrikaanse (Afrikaner-) storie wat deurlopend weerklank vind in die lig van ander stories, mites en sprokies. Bybelse gelykenisse en verhale en hulle karakters word ook vanuit die perspektief van die analitiese sielkunde gelees. Dit sorg vir verfrissende interpretasies waarin Van Rensburg byvoorbeeld deur die lens van pa-en-seun-verhoudings na Bybelverhale kyk. Dis opvallend hoe dikwels Bybelkarakters die teenhangers van ander vorm (Kain en Abel, Abraham en Lot, Moses en Aäron, Eli en Samuel, Dawid en Saul, Dawid en Jonathan, Jesus en Johannes, Jesus en Petrus, Paulus en Timoteus). Dit sluit aan by droomontleding wat die besef bring dat verskillende karakters in dieselfde droom verskillende aspekte van dieselfde persoonlikheid kan verteenwoordig. Só is dit ook met sprokies die geval. Vernaam in Van Rensburg se ontleding is dat die “moederkompleks” in die manwordproses aangespreek word sodat die “stryd met die moeder” op ’n manier besleg word. Wat my interesseer het, is dat die Kerk (generies gesien) dikwels as plaasvervanger vir die moeder dien. Seuns moet analoog aan sprokies op ’n “heldereis” gaan waarvoor hulle manlike mentors nodig het. Maar dan moet jy ook “begin by jou pa” en jou pa “agterlaat” deur hom te leer ken of verstaan. Woede, eensaamheid en pyn kom volgens Van Rensburg algemeen onder mans voor te midde van hulle hunkering na geborgenheid en sekuriteit. Dis dikwels vir hulle moeilik om los te breek uit die gevangenskap waarin patriargie en gemeenskapsverwagtings hulle dompel. Dis juis die onvermoë van mans om met hulle gevoelens in aanraking te kom en dit te verwoord wat deurbreek moet word. Sprokies leer ons dat die skadukante van die persoonlikheid integrasie nodig het en dat mans die vrou in hulleself moet ontdek en omhels. Van Rensburg sê dat Mans en hulle wonde nie ’n selfhelpboek met kitsresepte of -oplossings is nie. Hy is selfs nie baie krities oor Angus Buchan se Mighty Men-beweging nie en beskou dit as simptomaties van die krisis waarin mans verkeer en hulle behoefte aan geleenthede om uiting aan hulle emosies te gee. Hy vertrou dat dit wat in die boek ’n indruk maak, “in die onbewuste (sal) bly spook” met antwoorde wat mettertyd oprys.
Charmé word met pre-eklampsia gediagnoseer toe sy 27 weke swanger is met Lisa. Klein Lisatjie word met ’n noodkeisersnee gebore en Charmé se lewe verander heeltemal. Lisa weeg 850 gram, en sy veg elke dag om haar lewe. Charmé se reis tot ma-word was nie maklik nie. Maar Charmé vertel haar storie met humor en deernis: ‘n universiële storie van oorlewing van elke modern ma. Charmé se storie help ons om te weet dat ons nie alleen is nie, die ma langs jou het dieselfde pyne, vreugde, angs en vrae.
'n Storie oor obsessies. Arian en Estie is in Graad 11 in dieselfde skool. Na hulle op sosiale media vriende word, begin Estie vir Arian stalk: Aanlyn, en later ook in die werklikheid. Eers is hy vir haar net nog 'n misterieuse vreemdeling, maar soos wat sy hom dophou openbaar hy, onwetend, sy diepste geheime aan haar. Maar Estie het geheime van haar eie, wat sy ten alle koste verberg, selfs toe sy en Arian later vriende word: Geheime wat haar haar enigste vriend kan kos.
“Pappa, die sterre is dieselfde hier.” Milano Kaliempie is Mieta en Hennerik se enigste vlaktekuiken op die plaas Spookwerwe in die dorre Bo-Karoo. Hul buurman, Geelsuiker, leer Milano die geheime van die veld, ook jakkalsjag, en op die werf is dit Mieta wat soggens douvoordag brood inknie en die hartklop van hul bestaan is. Dis wanneer juffrou Meintjies die dag met haar wit karretjie by die huis aankom, dat die hol kol op Mieta se maag kom sit. Want Milano was dan net die een dag laat vir skool. Maar juffrou Meintjies het ander nuus. Dis Geelsuiker wat raad gee: “Jy moet nou gaan doen wat die regte ding is, Mieta. Daardie klong,” en hy wys na waar Milano die perd inspan, “vat nou die grootpad. Moenie hom in ’n klein kampie ingekeer hou nie.” Die kinders van Spookwerwe is ’n roman wat soos die vaal stof van die Bo-Karoo oral inkruipplek kry en diep in jou hart kom lê. Dis ’n roman oor ma-wees, oor grootword, en oor verliese. Maar ook van weer vol word.
“Vang jy hom onbehoeds van voor, dan lyk hy soos ‘n man wat nou net met ’n stok geslaan is. Maar hou hom dop uit die hoek van jou oog, dan bespeur jy die glorie van ’n slim man. ’n Mooi man.” George is gebore toe Jan Smuts dood is, word op ’n plaas in die Noord-Kaap groot, dien as aaspeloton in Angola, raak deurmekaar met die Baader-Meinhofbende in Duitsland, werk as joernalis tydens die noodtoestande in Kaapstad, maar op die ou end word hy ’n saboteur, ’n skaapsmokkelaar, ’n mal man, ’n boemelaar. Tussendeur kul en koggel George prokureurs, kopdokters, en vroue. Gedeeltelik bewolk is ’n pittige, aweregse debuutroman wat jou soos ’n vuishou in die maag slaan. |
![]() ![]() You may like...
Infanticide and Abortion in Early Modern…
Margaret Brannan Lewis
Hardcover
R5,048
Discovery Miles 50 480
|