![]() |
![]() |
Your cart is empty |
||
Books > Afrikaans > Taal en Letterkunde
Die Roebaijat van Omar Khajjam is ’n groep Persiese kwatryne wat beroemd geword het toe ’n Engelse vertaling van Edward FitzGerald in 1859 gepubliseer is. Sedertdien het dit al meer as 650 verskillende uitgawes en ’n groot aantal herdrukke belewe. Meer as ’n honderd komponiste het sedertdien ook toonsettings van die kwatryne geskryf. Ook in Suid-Afrika het hierdie kwatryne (die woord roebai beteken kwatryn) bekend en gewild geword, onder andere deur die Afrikaanse vertalings van bekende digters soos C.Louis Leipoldt en C.J. Langenhoven. Khajjam se oorspronklike verse was nie gerangskik in enige bepaalde volgorde of tematiese samehang nie. FitzGerald het die kwatryne egter gerangskik en soms selfs herskryf om ’n poetiese eenheid daarvan te maak en om iets van Khajjam se hedonistiese lewensfilosofie weer te gee. Die bekende digter en vertaler Daniel Hugo het 50 van die kwatryne wat FitzGerald vertaal het, uitgesoek op grond van hulle vertaalbaarheid in Afrikaans en hulle trefkrag. Hierdie keuse wil steeds die wesenlike karakter van die kwatryne te behou. Hulle kan as eenheid of as selfstandige gedigte gelees word.
Soos Hilda Smits se eerste, bekroonde bundel die bome reusagtig soos ons was betrek die verse in hierdie bundel die leser by die hoogs persoonlike en gee dit terserfdertyd betekenis aan die universele belewenis. Die verse is magies soos bewussynstroom, soos drome waar die kloutjie nie altyd by die oor uitkom nie, ʼn mens ervaar dit met jou onderbewuste, in jou maag. Dis dromerig soos meditasie, dis soos sit en staar na reën teen ʼn ruit. Sinne is onvoltooid, werkwoorde hang in die lug sonder naamwoorde, byvoeglike naamwoorde is bedrieglik eenvoudig; “gewone” woorde soos mooi, sterk, fyn, jonk – dis egter die onverwagse beelde wat verras, en woorde wat buite hul normale konteks ingespan word, wat jou uitknikker.
Toe die eerste bomme op Februarie 2022 Kijif aan flarde skiet, was Kobus Olivier gereed. Maar om te vlug was bloot nie ’n opsie nie – wat sou van sy vier geliefde honde word? In Met my honde word Kobus en sy vier brakke se verhaal vertel. Die angswekkende nagte terwyl bomme om hul neerreën, die verhaal van onvoorwaardelike liefde tussen mens en dier, en hoe jy selfs tydens ’n oorlog op die hulp van vreemdelinge kan staatmaak.
Dié jongste bundel verse deur Philip de Vos is vir jonk én oud, en getuig opnuut van sy vakmanskap as digter, sy slinkse, aweregse humor maar ook sy fyn waarnemingsvermoë. Ritme dien as ruggraat vir elke vers, met ’n goeie skeut tong-in-die-kies stuitigheid, maar soms ook met ’n melancholiese, elegiese ondertoon. Daar is verse oor die Skepping, oor Moses en oor Lot, verskeie oor nig Mara en Maraaia, en ter afsluiting meer as ’n handvol stoute kwatryne.
Wanneer ’n mens aan die ervarings van Boerevroue en -kinders tydens die Anglo-Boereoorlog dink, is die outomatiese konnotasie die van konsentrasiekamplyding. ’n Fassinerende en grotendeels onbekende buitebeentjie in hierdie genre is die dagboek van Anna Barry, waaruit ’n unieke en veelkantige beeld van die oorlog na vore kom. Aan die een kant van Anna se oorlogservaring staan haar broer Japie – ’n begeesterde jong soldaat wat uiteindelik as krygsgevangene op Ceylon sterf. Hierteenoor le haar geliefde pa Thomas (aanvanklik ’n gerespekteerde veldkornet) al in 1900 die eed van neutraliteit af, en wag hy die grootste gedeelte van die oorlog in die neutrale Basoetoland uit. Vir die tienderjarige Anna is die oorlog as gevolg hiervan ’n uiters verwarrende ervaring en haar dagboek bied ’n sonderlinge blik op die gefragmenteerdheid en buigbaarheid van konsepte soos “identiteit”, “nasie” en “volk”. Die feit dat die dagboek eers in 1960 vir die eerste keer gepubliseer is en daarna grotendeels in die vergetelheid verval het, is verder veelseggend in terme van hoe Anna self verwag het haar ervarings kort na die oorlog ontvang sou word – maar ook in terme van hoe blinde lojaliteit aan sekere groepe so dikwels in die geskiedenis van Suid-Afrikaners vereis is. Die dagboekteks, geboekstut deur Ena Jansen se insiggewende en verhelderende voor- en nawoord, bied nie slegs ’n sonderlinge blik op die Anglo-Boereoorlog nie, maar is verweef met kwessies van taal, politieke mag en sosiale status wat vandag nog net so relevant is soos toe die dagboek geskryf is.
In hierdie drama word die leser/gehoor gekonfronteer met die gevolge van keuses waarmee bykans alle Suid-Afrikaners kan identifiseer: kwessies soos emigrasie, die behoud van bande met die geboorteland, nagevolge van die Angolese bosoorlog, moorde op bejaardes en sosiale onsekerhede as gevolg van kriminele geweld. Hiermee gee Opperman dramaties gestalte aan die gedagte dat die persoonlike dikwels ’n politieke strekking het. Ook ander verwysingsraamwerke tree na vore, waaronder die invloed van die geskiedenis en die soeke na identiteit.
Die woord “skryn” het verskillende betekenisse: 'n Skryn is 'n klein kissie of houer waarin kosbaarhede soos juwele bewaar word, en as werkwoord kan die woord dui op afskuur of -skaaf (soos wat 'n skrynwerker doen) of op 'n pynlike wrywingsproses (vandaar die beskrywing van 'n ervaring as “skrynend” of “skrynerig”). Alhoewel al hierdie betekenisse geaktiveer word in Emma Bekker se debuutdigbundel, sal die leser vergeefs soek na konvensionele “vroulike” skatte soos juwele, klere en meubels. Reeds in die tweede gedig is daar 'n aanduiding van wat in die res van die bundel te wagte gaan wees: In hierdie herinnering aan 'n ontwrigtende kinderervaring, word die dogtertjie se krytblikkie, versier met 'n afbeelding van die Taj Mahal, 'n soort skryn word waaraan sy kan vashou. Algaande ontvou die beweging tussen die skrynende en die kosbare wat as gedigte bewaar word en word die bundel self die skryn. 'n Tweede belangrike tema in die bundel is die verkenning van 'n enigsins ongewone, onkonvensionele vroulikheid. Al open die bundel met 'n kwatryn oor die gewone buurt met “'n drankwinkel, 'n pawn shop en die Spar” waar die digteres woon, word hierdie skynbaar gewone voorstedelike bestaan gou die vertrekpunt van waar verskillende enigsins alternatiewe en onkonvensionele vroulikhede ondersoek word. Sy maak die luike van die binnekamer oop en ervaar tuin, veld en stad; Sy herken die tierboskat in haar skootkat en in haarself; In die liefdespel wil sy niemand se baby wees nie; Sy waag dit om op 'n tweede wittebrood die jas van “onverpoosde verantwoordelikheid” uit te trek en in die kombuis gee sy haar oor aan die sinnelike vreugde – en soms selfs wrede – van kosmaak. Bewaring en blootstelling, kwesbaarheid en krag, sinnelikheid en spiritualiteit word in hierdie bundel verwoord deur 'n vaardige digteres wat sowel die tug van die kwatryn, die liriese van kabaretagtige verse as vryer, narratiewe verse beheers.
Hierdie omvattend herbewerkte uitgawe van die Stylboek wat in 2006 gepubliseer is, is ’n ideale naslaanbron vir almal wat in Afrikaans skryf. Dit is gerig op studente, akademici, redakteurs, joernaliste, resensente, redigeerders, taalpraktisyns en opvoeders. Skryfbeginsels word in die teks op eenvoudige en verstaanbare wys verduidelik en met talle voorbeelde toegelig. In die afdelings oor styl word verduidelik op watter wyse ’n teks oortuigend en aantreklik, duidelik en bondig aangebied kan word sodat effektief gekommunikeer kan word. Die gepaste toon vir verskillende kontekste, wat van formeel na informeel kan wissel, word uiteengesit en in ’n aparte hoofstuk word toeligtend oor die styl van wetenskaplike tekste geskryf. Twee toevoegings by die oorspronklike boek is ’n afdeling oor die styl van literere analises en resensies en ’n hoofstuk gewy aan “regte” en “verkeerde” taalgebruik.
This book of friends (liber amicorum) is a tribute to Professor JC Sonnekus by colleagues and friends from Europe and South Africa to celebrate his more than 40 years in the academy and his contribution to law and its development. Authors from Belgium, the Netherlands, Germany and South Africa make contributions on the multitude of subjects and areas of jurisdiction to which professor Sonnekus contributed over the years. Subjects that are discussed, are divided under a general heading, the recognition and enforcement of judgments, prescription, uncertainty regarding common law rules and how the courts sometimes act in a law-making capacity, conditional cession and `who has the King's voice' - looking back at the convictions of the people and the legal convictions in the nineteenth century and how it could still lead to new insights. The law of delict leads to contributions on accountability of children, the law concerning liability in general and liability for an omission. The law of succession contains contributions on wills and trustees; the section on estoppel and enrichment touches on aspects of estoppel and the Turquand rule, as well as Ponzi schemes and pyramid schemes. International developments are discussed in the section on the law of marriage and family law with contributions on marriage contracts and the consequences of divorce under German law, general matrimonial property law in Europe and the influence of the Belgian constitutional court on family law. Insolvency law includes business rescue and the actio Pauliana and the law of contract contains a potpourri of contributions on the interpretation of contracts, perpetual contracts, evictions and independent warranties. The law of things (property) section contains contributions on property law and habitatio, credit security law, fragmented property, syndicated loans, servitudes and digital assets. This collection of essays concludes with two contributions on insurance law relating to self-steering and distance-steered vehicles and the sources of insurance law.
Il Paradiso is die hoogtepunt van Dante Alighieri (1265-1321) se driedelige werk. Hy gebruik van die aangrypendste metafore en vergelykings om sy reis te beskryf. Hy is sonder twyfel een van die briljantste digters ooit. Cas Vos se vertaling is die eerste vertaling daarvan in digvorm in Afrikaans. Hy wend verrassende en sprankelende metafore en vergelykings in sy vertaling aan en hy vertaal al die Latynse himnes op ’n indrukwekkende wyse. Die leser word uitgenooi om die reis na die Paradiso onder die klank van sange en lieflike beelde te onderneem. ‘n Youtube-opname deur Hennie Maas van beeld en klank vergesel die bundel. Die uitmuntende akteur Dawid Minnaar lees dele uit die vertaling voor. Die opname laat die leser van Il Paradiso die tersines visueel en klankryk ervaar.
Met hierdie unieke boek vertel Nataniël die verhaal van ’n kindertyd in drie klein dorpies en een groot voorstad, ’n era waartydens reëls blindelings gevolg is en oor ’n jong seun met ’n oorweldigende vrees vir die gewone. Kyk na my is Nataniël se eerste volwaardige memoir.
Gedigte met ongewone benaderings wat op mekaar inspeel. Insigte in ‘n wye reeks onderwerpe. Verskeie terreine vir die eerste keer in Afrikaans ontgin. Dit sal ‘n leser verryk en genot verskaf.
Die ontnugtering en nostalgie van die middeljare word hier in alle erns met humor en trefsekere taalgevoel verwoord. Ryk aan intertekstualiteit en slim woordspeling, is hierdie bundel vars en toeganklik vir alle oopkop lesers. Ou vrese word besweer en nuwes sinies en liries besing.
Aan die hand van uitgebreide dokumentasie wat korrespondensie, e-posbriewe en koerantartikels insluit, teken die skrywer die verhaal van Afrikaans op Stellenbosch op en bespreek die taaldebat van verskillende kante en vra ook indringende vrae oor die manier waarop die taalkwessie in die toekoms hanteer behoort te word.
Naelstring belig die problematiek van transformasie in ’n nuwe Suid-Afrika en die soms fanatieke eise van swart bemagtiging. Die drama sentreer rondom ’n moeder wat weier om haar pasgebore baba se naelstring te knip. Die baba is egter nie bereid om die absurde situasie gelate te aanvaar nie en neem sy gehoor op ’n reis van swart komedie en deernisvolle maar pynlike interaksie. Pieter Fourie, dramaturg en dramaveteraan, is waarskynlik die enigste Suid-Afrikaanse kunstenaar wat diep spore as toneelspeler, regisseur, artistieke direkteur en skrywer getrap het. Met Naelstring deurbreek die bekroonde dramaturg Pieter Fourie opnuut die grense van sy oeuvre.
Farren Cloete is geroep vir ’n tyd soos hierdie, maar wys vir jou
op jou roeping ook: dit maak nie saak wat mense sê nie, as God jou
geroep het kan geen mens jou keer nie en jy hoef aan niemand rekenskap
te gee nie. Farren kom maak ons vry daarvan dat ons dink ons moet ander
gelukkig maak, en help ons om te fokus op wat God van ons wil hê. Dit
maak nie saak hoe moeilik ons roeping is nie, of ons opgewasse voel
daarvoor of nie, God is by ons en Hy roep ons vir ’n tyd soos hierdie.
In Kinderlê kom verse oor die kwesbaarheid van kinders, swangerskapsverlies, genderkwessies, die liefde en erotiek, en geestesgesondheid aan die bod. Die titel is die naam van ’n monument by Steinkopf in die Noord-Kaap ter herinnering aan ’n kinderuitwissing wat daar plaasgevind het – ’n historiese gegewe wat nie wyd bekend is nie. ’n Afdeling in die bundel word aan verse gewy wat dié verhaal vertel. In ander afdelings word narratiewe verse gebruik om te vertel van die ontstellende belewenis van opname in ’n psigiatriese instelling, en van ’n miskraam. Laasgenoemde tema is nog weinig in Afrikaanse digkuns ondersoek. Voorts word erotiese ervarings treffend, evokatief en met ’n tikkie humor verwoord. Julius tree dikwels in gesprek met haar literêre voorgangers en betrek dan die huidige sosiopolitiek. Soos met Uit die kroes, haar bekroonde debuutbundel, verruim sy Afrikaans met die gebruik van Gariepafrikaans en Nama-woordeskat in haar jongste bundel.
André le Roux se tweede digbundel verskyn 47 jaar ná sy debuut,
Struisbaai-blues, wat kort ná publikasie in 1977 verbied is. Nou skryf
hy met selfs skerper eerlikheid oor die liefde, begeerte, verlange en
vreugde. Meer nog: oor die afslyt van die liggaam en die insig wat
leefervaring bring. Hy tree in gesprek met mededigters soos Krog,
Breytenbach, Bukowski, Van Wyk Louw, Cohen, cummings en Neruda, en
steek kers op by die Oosterse meesters.
Annamarie van Niekerk gaan brutaal eerlik om met vraagstukke waarmee ons daagliks worstel: plaasmoord, geweld teen vroue, skuld en onmag, aandadigheid en keuse. Sy woon in Den Haag, maar keer terug Suid-Afrika toe vir die begrafnis van haar liewe vriend, Ruben, wat saam met sy ma in ʼn wrede plaasmoord vermoor is. Dié reis lei terug na ander reise: Van haar kinderjare in PE in ʼn streng Nasionale huishouding met ʼn Broederbondpa. Na Umtata, waar sy gaan klasgee en verlief raak op ʼn swart kollega. Na Hillbrow, waar die twee van hulle onwettig saamwoon en aktief is in skrywersirkels met vriende soos Nadine Gordimer en Njabulo Ndebele. Tot geweld ook hul verhouding binnedring. Uiteindelik na die tronk, waar sy Ruben se moordenaars gaan soek in haar strewe na verstaan. Van Niekerk vervleg haar eie storie aangrypend met ’n verkenning van die groot kwessies in ons land. Onder ʼn bloedrooi hemel is ʼn diep ontroerende persoonlike reis, van geweld na genade, meesterlik vertel.
Jaco Barnard-Naudé se digdebuut betrek ’n wye verskeidenheid temas:
queer identiteit, die trauma van kinderjare, en die verhouding tussen
ouers en seun. Deurgaans vloei die digterlike geheue soos ’n leitmotiv
deur die verse. Die bundel getuig van ’n soepel en gespierde
taalaanvoeling, en tree dikwels in gesprek met ander digters, filosowe
en musici. ’n Diep-gelade emosionele bewussyn vibreer regdeur die
bundel – getuienis van ’n uitsonderlike nuwe digter-denker ter plaatse.
Nadat Ockert en Michele Potgieter getroud is, het hulle hul tasse gepak en vertrek Oekraïne toe, nie vir hulle wittebrood nie, maar om daar te werk onder die mense wat onlangs bevry is van agter die ystergordyn. Dit is egter ’n groot ontnugtering vir Michele in die begin – dit is yskoud in die winter en snikwarm in die somer. Die meeste huise het net buitetoilette en daar is min verskeidenheid in basiese kruideniersware. Die mense is baie vriendelik en hulle word meestal met oop arms verwelkom. Maar alles is nie altyd maklik nie, daar is ’n noue ontkoming met die mafia, agtervolging deur die KGB en verraad van binne die gemeente. Dan sterf Ockert tydens die Covid 19-pandemie tydens ’n besoek aan Suid-Afrika. Michele moet besluit of sy teruggaan Oekraïne toe, waar ’n oorlog dreig en of sy in Suid-Afrika by haar mense en haar kinders bly. Dit is ’n aangrypende verhaal oor liefde: liefde vir God, vir die mense van die Oekraïne, maar ook die liefde tussen Michele, Ockert en hul kinders. |
![]() ![]() You may like...
Die Maan Is Swart - Gedigte Van Adam…
Adam Small, Ronelda Kamfer
Paperback
![]()
|