![]() |
![]() |
Your cart is empty |
||
Books > Afrikaans > Taal en Letterkunde
Die laaste vier jaar van dr. H.F. Verwoerd se bewind is gekenmerk deur belangrike gebeurtenisse in suidelike Afrika, soos die toekenning van selfregering aan die Transkei, die verslag van die Odendaalkommissie oor S.W.A., die uitspraak in die Rivonia-saak, die aanvang van die Oranjerivierskema, die uitspraak van die Internasionale Geregshof in Den Haag oor die S.W.A.-mandaat, die eensydige onafhanklikheidsverklaring van Rhodese en die wapenverbod teen S.A. deur die V.N. Hierdie boek bevat ’n seleksie uit dr. Verwoerd se toesprake wat nie voorheen gepubliseer is nie.
Hierdie drama handel oor tien tieners in ’n bos by ’n oorlewingskamp waar spoke, hormone, groepsdruk en goggas die senuwees behoorlik laat knyp. KAMP KOERSHOU is nie vir sissies nie. Want grootword is nie “lekker” nie. Grootword is pyn. En “verwonding". Die tien jeugdiges vertrek op 'n oorlewingskamp, in 'n bos, onder toesig van 'n paramilitaire instrukteur. Dit is hulle rite of passage sodat hulle weerbaar ‒ paraat! ‒ die grens na volwassenheid kan oorsteek. Maar hoe hou jy koers as jy nie weet waarheen jy wil gaan nie? Die toneelstuk is in 2012 by die KKNK opgevoer met regie deur Marthinus Basson en Stian Bam in die hoofrol.
'n Treffende debuut waarin Roux die siklus van die lewe van jeugherinneringe tot die dood van geliefdes en die skepping van nuwe lewe verken. Die bundel bevat eietydse belewenisse en verwysings na die Covid-tyd waarmee baie lesers sal kan vereenselwig.
Gedigte met ongewone benaderings wat op mekaar inspeel. Insigte in ‘n wye reeks onderwerpe. Verskeie terreine vir die eerste keer in Afrikaans ontgin. Dit sal ‘n leser verryk en genot verskaf.
Etienne Leroux word steeds beskou as een van die grootste skrywers wat die Afrikaanse literatuur opgelewer het. J.C. Kannemeyer se biografie oor hierdie geheimsinnige en dikwels omstrede figuur behels meer as ’n magdom waardevolle inligting. Dit is ook 'n persoonlike beskouing van Leroux, die mens, sy politieke opvattings en sy siening van sensuur. 'n Fotoseksie waarin skaars foto's van Leroux, sy familie en medeskrywers opgeneem is, verryk die biografie en dra by tot 'n boeiende portret van ’n hoogs verwikkelde en enigmatiese man.
Twee dramas oor familie, verhoudings, vergifnis en herinneringe. Wat bybly, is dat mense maar net mense is. Dat versoening deel van menswees is. Dat stukkende mense mekaar kan help heel word en dat familie tog familie bly – ondanks omstandighede, persoonlike keuses en uitdagings. Sandton City grootdoop: ‘n Drama oor ’n ma en haar twee dogters wat vir die eerste keer in ’n lang tyd bymekaarkom om die oudste, Danel, se verjaardag in Sandton City te vier. In die proses begin die trio mekaar se verlede, gevoelens en emosies oopkrap met eerlike, en snaakse, oomblikke. Kara, die ma, is die aktrise wat haar man en kinders op ’n jong ouderdom verlaat het om haar groot droom om wereldberoemd te word, na te volg. Sy erken dat sy nie bevoeg of beskore was vir moederskap nie, maar probeer tog om tot hulle deur te dring en hulle vertroueling te wees. Haar oudste dogter, Danel, is bipoler en bly na ‘n onlangse selfmoordpoging weer by haar ma. Sy is naief en emosioneel en val maklik vir haar ma se manipulasie. Haar suster, Lisa, is gay en verwyt haar ma dat sy nog niks met haar lewe gedoen het nie. Sy is kwaad en kras en wil graag haar ma skok met haar uitlatings oor seks, maar ’n mens kom agter dat sy eintlik baie kwesbaar is. Die dag is bros: Dis laatmiddag. Elsa, voorheen ’n lektor in Afrikaanse letterkunde, berei ’n driegangmaaltyd voor vir Brian se verjaarsdag. Hy was ’n jeugmisdadiger wat ’n tweede kans gegun is onder Elsa se vlerk. Sy stel hom bloot aan Sheila Cussons en hy vul ’n leemte in haar lewe. Tussendeur word daar speletjies gespeel met Tertius – die vreemde kind wat kersiebloeisels aandra uit Japan. Voor die kos koud kan word sal die dag ’n ingrypende wending neem. Die Dag is Bros is benoem vir ’n Fiesta as beste nuutgeskepte Afrikaanse produksie.
Met haar innemende en boeiende vertelstyl teken Dot Serfontein in Systap onder die juk verhale oor die lewens van ’n versameling merkwaardige mense op. Die leser leer ken ’n groep Noord-Vrystaters wat aan dié wêreld sy sonderlinge geskiedenis en karakter verleen het. Dit is ’n distrik “lankal reeds bewoon deur verantwoordelike, stoere mense wat hulle deur niemand laat voorsê nie”, soos dit in die titelverhaal gestel word. Van hierdie stoere mense is byvoorbeeld die unieke tant Hannie Wolmarans. Die staaltjies oor haar het vir die skryfster as kind so onwaarskynlik geklink dat hulle in dieselfde klas as sprokies geval het. Daar is byvoorbeeld ook oom Lood, wat selfs in die eienaardige Serfontein-familie, hom kon onderskei as ’n eienaardige mens. Die luimige aard van die vertellings word ook in hierdie bundel deurweef met waardering en deernis, veral vir haar ma Boeta en pa Oupats.
Met kaarte en geografiese grense sal mens wel kan bepaal waar le die Tankwa-Karoo. maar vir Adriaan Oosthuizen kry jy die streek wanneer jy die langste grondpad tussen twee dorpe in Suid-Afrika aanpak: die pad tussen Ceres en Calvinia. Saam met Adriaan se foto’s vertel Leti Kleyn van haar besoek aan hierdie geliefde stuk land en dit word aangevul deur Dawid Slinger se vertellings en skrywes. ’n Fees vir die oog, lekkerleesboek en ’n inligtinggids ineen oor die geliefde streek wat die Tankwa-Karoo heet.
Soos Hilda Smits se eerste, bekroonde bundel die bome reusagtig soos ons was betrek die verse in hierdie bundel die leser by die hoogs persoonlike en gee dit terserfdertyd betekenis aan die universele belewenis. Die verse is magies soos bewussynstroom, soos drome waar die kloutjie nie altyd by die oor uitkom nie, ʼn mens ervaar dit met jou onderbewuste, in jou maag. Dis dromerig soos meditasie, dis soos sit en staar na reën teen ʼn ruit. Sinne is onvoltooid, werkwoorde hang in die lug sonder naamwoorde, byvoeglike naamwoorde is bedrieglik eenvoudig; “gewone” woorde soos mooi, sterk, fyn, jonk – dis egter die onverwagse beelde wat verras, en woorde wat buite hul normale konteks ingespan word, wat jou uitknikker.
Die plaag is tegelykertyd reisverhaal, avontuurverhaal, speurverhaal, natuurkundige artikel, letterkundige studie en historiese ondersoek. Die skrywer – 'n Belgiese joernalis – reis na Suid-Afrika op soek na die "dowwe spoor" van Eugene Marais, en word uiteindelik met veel meer as dooie historiese gegewens beloon. Die Nederlandse uitgawe van Die Plaag het die Debuutprijs vir 2002 verower en was op die kortlys van die Gouden Uil-literatuurprys vir 2002. Die vertaling van Van Reybrouck se Nederlandse teks in Afrikaans deur die bekende digter en omroeper doktor Daniel Hugo is ’n onmisbare toevoeging tot Afrikaanse lesers se kennis van die merkwaardige Eugene Marais se lewe. Hiermee word kultuurgoedere wat deur ’n Vlaming nagespoor en opgeteken is as ’t ware huis toe gebring.
Die geliefde en gevierde kortverhaalskrywer Hennie Aucamp is op 21 Maart 2014, slegs twee maande na sy 80ste verjaardag oorlede. In hierdie herinneringsboek word verskillende fasette van sy lewe deur familie, vriende en medeskrywers belig. Onder die familielede wat bydraes tot die boek gelewer het, is sy suster Rina wat herinneringe aan hulle kinderjare op die familieplaas Rus-mijn-ziel opdiep en sy neef Inus Aucamp wat meer vertel van die vestiging van die Aucamp-familie in die Stormberge. Die skryfster Margaret Bakkes, wat ook sy kleinniggie is en op 'n buurplaas grootgeword het, vertel hoe sy en Hennie reeds as kinders teenoor mekaar bely het dat hulle wil skryf. Daar is ook bydraes deur Marius en Christiaan Bakkes, wat oor Hennie se belangstelling in die natuur. Daar is besondere opstelle deur medeskrywers Lina Spies, Aletta Lubbe (gebore Aucamp), Danie Botha en Abraham de Vries, terwyl Daniel Hugo en Joan Hambidge gedigte opgedra aan Hennie gelewer het. Die radiopersoonlikhede Monica Breed en Margot Luyt skryf oor Hennie se ruimhartigheid en sy vriend Nico Loubser oor Hennie se laaste dae. Foto’s van Philip de Vos en Marius Bakkes skep 'n visuele beeld van die woordman Aucamp.
Die liefde, natuur en digterskap is die oorwegende temas van die bundel en elk word vanuit ’n wye spektrum perspektiewe bekyk. Herman de Coninck se werk spreek van innoverende beeldspraak, totaal gestroop van pretensie – en Daniel Hugo slaag daarin om in sy vertalings die unieke karakter van De Coninck se werk te behou. Herman de Coninck het die Afrikaanse en Suid-Afrikaanse leser se verbeelding aangegryp met Liefde, Miskien (vertaal deur Daniel Hugo) in 1998. Die lenige liefde, ’n bloemlesing uit al De Coninck se werke, sal weereens die leser betower. Meer toeganklike poesie kom ’n mens nie aldag tee nie. De Coninck se werk spreek van innoverende beeldspraak waarvan die gebrek aan pretensie die leser maak lees, luister en onthou.
Die ontnugtering en nostalgie van die middeljare word hier in alle erns met humor en trefsekere taalgevoel verwoord. Ryk aan intertekstualiteit en slim woordspeling, is hierdie bundel vars en toeganklik vir alle oopkop lesers. Ou vrese word besweer en nuwes sinies en liries besing.
Die Roebaijat van Omar Khajjam is ’n groep Persiese kwatryne wat beroemd geword het toe ’n Engelse vertaling van Edward FitzGerald in 1859 gepubliseer is. Sedertdien het dit al meer as 650 verskillende uitgawes en ’n groot aantal herdrukke belewe. Meer as ’n honderd komponiste het sedertdien ook toonsettings van die kwatryne geskryf. Ook in Suid-Afrika het hierdie kwatryne (die woord roebai beteken kwatryn) bekend en gewild geword, onder andere deur die Afrikaanse vertalings van bekende digters soos C.Louis Leipoldt en C.J. Langenhoven. Khajjam se oorspronklike verse was nie gerangskik in enige bepaalde volgorde of tematiese samehang nie. FitzGerald het die kwatryne egter gerangskik en soms selfs herskryf om ’n poetiese eenheid daarvan te maak en om iets van Khajjam se hedonistiese lewensfilosofie weer te gee. Die bekende digter en vertaler Daniel Hugo het 50 van die kwatryne wat FitzGerald vertaal het, uitgesoek op grond van hulle vertaalbaarheid in Afrikaans en hulle trefkrag. Hierdie keuse wil steeds die wesenlike karakter van die kwatryne te behou. Hulle kan as eenheid of as selfstandige gedigte gelees word.
In sy honderdjarige bestaan – vanaf sy beskeie begin in 1908, met een professor, drie lektore en twee en dertig studente, tot die reuse instelling wat dit vandag is - het die Universiteit van Pretoria rigting en dimensie gegee aan talle mense se lewe. Amfiteater gee 'n blik op die talent van gevestigde en minder bekende skrywers wat eens UP se kampus bewandel het – en verenig so die stemme van oud-Tukkies uit verskeie lewensterreine. Die essays in Amfiteater sal nie net by Tuks-Alumni reg oor die ouderdom spektrum byval vind nie, maar ook by enige leser met waardering vir kort prosa. Die trant van die meerderheid essays is lig en vermaaklik en daarom nie op 'n suiwer akademiese gehoor afgestem nie. Bydraers is almal Tuks-alumni, en sluit bekendes in uit die wereld van skrywers, joernaliste politici, historici en verhoogkunstenaars: Marius Ackermann, Johan Bakkes, Chris Barnard, Louise Boshoff, Martjie Bosman, Paul Bosman, Pik Botha, Terence Carney, Louis Changuion, T.T. Cloete, Neil Cochrane, Johann de Jager, Engemi Ferreira, Jeanette Ferreira, Joan Hambidge, Karin Hougaard, Neels Jackson, Carie Maas, Annamarie Marais, Johann Lodewyk Marais, Lizz Meiring, Fransjohan Pretorius, Wessel Pretorius, Dalena van Jaarsveld, Dolf van Niekerk, Cas Vos, George Weideman.
Die digter, advokaat, joernalis, avonturier, dwelmverslaafde en natuurkenner Eugene Marais bly 'n boeiende figuur. Die groot verlange bied nie alleen 'n fassineerdende blik op een van die veelsydigste en merkwaardigeste Afrikaners wat ooit geleef het nie, maar gee terselfdertyd ’n panorama van ’n groot gedeelte van die geskiedenis. In hierdie uitgawe word die belangrikste omissie in die eerste drie uitgawes van die teks, naamlik Marais se rol in die ontdekking van die broodboom wat na hom genoem is, reggestel. Die teks bevat ook nuwe bevindinge uit bronne wat vroeer oor die hoof gesien is.
In Mei 2000 skryf die joernalis Chris Louw ’n ope brief aan Willem de Klerk waarin hy sy griewe lug teenoor die regering wat aan bewind was in die tyd van die Grensoorlog (ongeveer 1966–1989). Chris Louw, oftewel “Boetman”, is ontnugter deur die patriargale leiding van die Afrikanermans van daardie tyd. Pieter Fourie het Chris Louw se brief omskryf tot ’n drama waarin verskillende stemme en menings gehoor kan word, onder andere dié van ’n ma wat haar seun in die Grensoorlog verloor het, die joernalis Annesu de Vos wat met Chris Louw ’n debat op LitNet gevoer het en ’n swart aktivis.
Wanneer ’n mens aan die ervarings van Boerevroue en -kinders tydens die Anglo-Boereoorlog dink, is die outomatiese konnotasie die van konsentrasiekamplyding. ’n Fassinerende en grotendeels onbekende buitebeentjie in hierdie genre is die dagboek van Anna Barry, waaruit ’n unieke en veelkantige beeld van die oorlog na vore kom. Aan die een kant van Anna se oorlogservaring staan haar broer Japie – ’n begeesterde jong soldaat wat uiteindelik as krygsgevangene op Ceylon sterf. Hierteenoor le haar geliefde pa Thomas (aanvanklik ’n gerespekteerde veldkornet) al in 1900 die eed van neutraliteit af, en wag hy die grootste gedeelte van die oorlog in die neutrale Basoetoland uit. Vir die tienderjarige Anna is die oorlog as gevolg hiervan ’n uiters verwarrende ervaring en haar dagboek bied ’n sonderlinge blik op die gefragmenteerdheid en buigbaarheid van konsepte soos “identiteit”, “nasie” en “volk”. Die feit dat die dagboek eers in 1960 vir die eerste keer gepubliseer is en daarna grotendeels in die vergetelheid verval het, is verder veelseggend in terme van hoe Anna self verwag het haar ervarings kort na die oorlog ontvang sou word – maar ook in terme van hoe blinde lojaliteit aan sekere groepe so dikwels in die geskiedenis van Suid-Afrikaners vereis is. Die dagboekteks, geboekstut deur Ena Jansen se insiggewende en verhelderende voor- en nawoord, bied nie slegs ’n sonderlinge blik op die Anglo-Boereoorlog nie, maar is verweef met kwessies van taal, politieke mag en sosiale status wat vandag nog net so relevant is soos toe die dagboek geskryf is.
Die woord “skryn” het verskillende betekenisse: 'n Skryn is 'n klein kissie of houer waarin kosbaarhede soos juwele bewaar word, en as werkwoord kan die woord dui op afskuur of -skaaf (soos wat 'n skrynwerker doen) of op 'n pynlike wrywingsproses (vandaar die beskrywing van 'n ervaring as “skrynend” of “skrynerig”). Alhoewel al hierdie betekenisse geaktiveer word in Emma Bekker se debuutdigbundel, sal die leser vergeefs soek na konvensionele “vroulike” skatte soos juwele, klere en meubels. Reeds in die tweede gedig is daar 'n aanduiding van wat in die res van die bundel te wagte gaan wees: In hierdie herinnering aan 'n ontwrigtende kinderervaring, word die dogtertjie se krytblikkie, versier met 'n afbeelding van die Taj Mahal, 'n soort skryn word waaraan sy kan vashou. Algaande ontvou die beweging tussen die skrynende en die kosbare wat as gedigte bewaar word en word die bundel self die skryn. 'n Tweede belangrike tema in die bundel is die verkenning van 'n enigsins ongewone, onkonvensionele vroulikheid. Al open die bundel met 'n kwatryn oor die gewone buurt met “'n drankwinkel, 'n pawn shop en die Spar” waar die digteres woon, word hierdie skynbaar gewone voorstedelike bestaan gou die vertrekpunt van waar verskillende enigsins alternatiewe en onkonvensionele vroulikhede ondersoek word. Sy maak die luike van die binnekamer oop en ervaar tuin, veld en stad; Sy herken die tierboskat in haar skootkat en in haarself; In die liefdespel wil sy niemand se baby wees nie; Sy waag dit om op 'n tweede wittebrood die jas van “onverpoosde verantwoordelikheid” uit te trek en in die kombuis gee sy haar oor aan die sinnelike vreugde – en soms selfs wrede – van kosmaak. Bewaring en blootstelling, kwesbaarheid en krag, sinnelikheid en spiritualiteit word in hierdie bundel verwoord deur 'n vaardige digteres wat sowel die tug van die kwatryn, die liriese van kabaretagtige verse as vryer, narratiewe verse beheers. |
![]() ![]() You may like...
Skryf Afrikaans Van A Tot Z - Die…
Sebastian Pistor, Dalene Muller
Paperback
Die Singende Hand - Versamelde Gedigte…
Breyten Breytenbach
Paperback
Die Maan Is Swart - Gedigte Van Adam…
Adam Small, Ronelda Kamfer
Paperback
![]()
|