![]() |
Welcome to Loot.co.za!
Sign in / Register |Wishlists & Gift Vouchers |Help | Advanced search
|
Your cart is empty |
||
|
Books > Afrikaans > Taal en Letterkunde
Marlise Joubert se sewende digbundel handel oor siekte en herstel. In die eerste afdeling, "winterklou", word die beklemmende wereld van die intensiewe sorgeenheid en hospitaalbed uit die perspektief van die pasient beskou. Die hulpeloosheid en uitgelewerdheid van iemand wat 'n ernstige operasie moes ondergaan, neem op aangrypende wyse gestalte in die gedigte. Te midde van pyn bly sy bewus van skoonheid en die nabyheid van die geliefde. In die tweede afdeling, "rugkaatsing" word haar wereld weer groter soos wat sy herstel; bring sy reise, besoeke en gesprekke in herinnering en tree die verskrikking van siekte en dood verder weg. Die derde afdeling, "dryfgoed", is 'n viering van lewe en kunstenaarskap. Die herstelproses word 'n werklikheid soos wat sy weer begin skryf en skilder. Ander dinge, plekke en mense tree weer toe tot haar beleweniswereld. Alhoewel die spreker bewus bly van haar kwesbaarheid en die verbygaan van die tyd, bevestig gewone dinge soos kos, wyn en blomme die waarde van die lewe en die liefde.
Die digter M.M. Walters ontgin met hierdie bundel die sober eenvoud van die Japannese poesie. Hierdie gedigte verwoord die eeue oue letterkundige tradisie van hierdie beskawing. Die inleiding bied 'n oorsig tot die geskiedenis van die Japannese digkuns en verduidelik die verskillende tydperke waarin die digkuns opgedeel word. Die bloemlesing probeer gedigte uit die hele spektrum aanbied. Die brugtaal was deurgaans noodsaaklikerwys Engels. Vanwee die lang tydperk waarin Japan vir dele van die Weste geslote was, is vertalings in Germaanse tale minder bekend en bekombaar. Die versameling is ook noodwendig onvolledig vanwee die beperkte ruimte. Maar dit bied 'n fassinerende blik op 'n redelik onbekende sfeer van die wereldliteratuur.
Internasionaal-bekende historikus prof. Hermann Giliomee dek die geskiedenis van die Afrikaners in 'n hoogs leesbare narratief. Hy verken verskeie omstrede kwessies - die redes vir hul opgee van mag, pogings om saam met ander minderhede te veg vir die Grondwet, en hul soms stormagtige verhouding met die ANC en president Zuma.
Hierdie boek is die voltooiing van Elsa Joubert se outobiografiese drieluik wat ingelei is deur ’n Wonderlike geweld (2005) en Reisiger (2009). Dit fokus hoofsaaklik op die skrywer se latere jare, in die aftreeoord in Kaapstad waar sy nou al geruime tyd woon, maar haar belewenis van die hede en onlangse verlede word onlosmaaklik vervleg met herinneringe aan veel verder terug, alles geteken met die kenmerkende woordvaardigheid van een van Afrikaans se mees gevierde skrywers. Elsa Joubert - Biografiese inligting Elsabé (Elsa) Antoinette Murray Joubert is op 19 Oktober 1922 in die Paarl gebore. Sy matrikuleer in 1939 aan die Hoër Meisieskool La Rochelle in die Paarl. Sy behaal ’n BA-graad (1942) en ’n Sekondêre Onderwysdiploma (1943) aan die Universiteit van Stellenbosch. In 1945 verwerf sy ’n meestersgraad aan die Universiteit van Kaapstad. Daarna is sy die vroueredakteur van Die Huisgenoot van 1946 tot 1948. Hierna begin sy te reis en in 1957 verskyn haar eerste reisverhaal, Water en woestyn, wat handel oor haar ervarings in Egipte en Uganda. Elsa Joubert se reise deur Afrika, Suid-Amerika, Europa en die Verre-Ooste het op ’n besondere wyse in haar werk neerslag gevind. In 1963 verskyn haar eerste roman, Ons wag op die kaptein, wat onder meer die Eugène Marais-prys ontvang het. Sy is met die WA Hofmeyr-, CNA- en Louis Luyt-prys bekroon vir haar invloedryke roman Die swerfjare van Poppie Nongena (1978), wat in 2002 aangewys as een van die honderd beste boeke in Afrika. In 1981 ken die British Royal Society of Literature die Winifred Holtby-prys aan haar toe en word sy ’n Fellow van die Society. Haar magistrale roman Die reise van Isobelle (1995) is met die Hertzogprys bekroon. Haar lewenswerk word bekroon met eredoktorsgrade van die Universiteite van Stellenbosch (2001) en Pretoria (2007), en sy ontvang die Orde van Ikhamanga (2004). Skakel van Maandag, 18 Junie 2018 af in op RSG om te luister na Elsa Joubert se jongste roman, Spertyd (2017, Tafelberg) voorgelees deur Rika Sennett.
Anders as in Cas Vos se vorige bundels poesie (Vuurtong, Gode van papier en Enkeldiep) verskyn die gode in Die afdruk van ons hande in vreemde gestaltes. Een van die stemme wat saampraat is die van stilte, 'n stem uit die niet wat terugkeer na die niet. Deur die verse loop 'n sterk sensualiteit en 'n boeiende aktualiteit, ook betreffende die Afrika-werklikheid. 'n Hoogtepunt in die bundel is die reeks "Uruk-fragmente", 'n digterlike herskepping van die klassieke Gilgamesj-epos, wat beskou word as een van die belangrikste oertekste in die wereldletterkunde. In Vos se omdigting daarvan word die liriese aspekte voortdurend deur die epiese gebalanseer. Vos se vars en verrassende beelding gaan gepaard met sensitiwiteit vir klank en sy liefdesverse is uitsonderlik.
Reisgenote bevat ʼn keur uit die kortverhaalbundel, Die reisgenoot, wat oorspronklik in 2013 ingedien is as kreatiewe komponent van ʼn meestersgraadstudie aan die Universiteit van die Vrystaat (onder leiding van prof HP van Coller). As simboliese “reisgenote” is enkele gedigte getoonset wat tematies aansluit by Joanita se eie verhale. Die “reisgenote” is tematies van aard, maar ook in die gesprek tussen tekste, musikale werke en die kunstenaars wat betrokke was by die projek.
Afrikaans is die grootste nie-rassige prestasie in ons Suiderland sover. Gesamentlik geskep deur mense van drie vastelande – Afrika, Asië en Europa. En daarom is dit nie die besit van eensydige politieke partye nie, maar behoort dit aan almal wat dit praat, skryf en liefhet. En daarom ook is my taal my beste wapen teen rassisme. (Jan Rabie, 1992) Hierdie uitspraak van die Afrikaanse skrywer Jan Rabie dien as die uitgangspunt van hierdie opwindende nuwe boek oor Afrikaans. Afrikaans is oor die afgelope drie eeue al baie dinge genoem: die jongste Germaanse taal én Afrikataal, kombuistaal én parlementstaal, witmanstaal én hotnotstaal, onderdrukkerstaal én bevrydingstaal, Christentaal én Moslemtaal, elitistiese taal én omgangstaal, plat taal én poëtiese taal. In hierdie “storie van Afrikaans” word ’n bondige oorsig gegee van waar Afrikaans vandaan kom, wie hom praat, skryf, gebruik en misbruik. In tye van voorspoed én van teenspoed het Afrikaans bewys dat hy ’n lewenskragtige, skeppende en bowenal nuttige taal is.
Selfs net 'n paar woorde aan 'n persoon in sy eie taal kan wondere verrig. Hierdie titel is bedoel om nuwe woorde aan te leer, woordeskat uit te brei en kommunikasievaardighede in Engels, Afrikaans, Xhosa of Zulu te verbeter. 'n Staatmakerhulpmiddel vir leerders, onderwysers en almal wat hul kennis van die tale wil verbeter.
In die bundel word verduidelik wat die hemelsbree verskil tussen 'n Oos- en 'n Wes-Vrystater is en word staaltjies wat afspeel rondom die Anglo-Boereoorlog, die Depressiejare en die 1914-Rebellie gedeel. Dot Serfontein se sonderlinge humorsin laat die Vrystaatse geskiedenis herleef op 'n manier wat die leser sal bybly. Karakters soos oom Joseph du Plessis, tant Martjie en Bart Krog – oftewel Baasbul van Afrika – word met humor en deernis beskryf, soos net Dot Serfontein dit kan doen. Hulle is immers amper haar mense.
Hoe weet ’n klein seuntjie van skaars drie jaar oud dat hy in die verkeerde liggaam gebore is? Wat ervaar daardie seuntjie in die eerste twee dekades van sy lewe dat hy so oortuig raak van wie en wat hy moet wees, dat hy die lang pad van geslagshertoewysing aanpak sodat hy sy droombestaan kan voer in die liggaam waarvoor hy gebore is? Min het Pierre van der Merwe daardie tyd geweet wat Elise van der Merwe alles in haar nuwe bestaan sal ontdek en ervaar. ’n Hartstogtelik eerlike en roerende verhaal wat ook baie sal beteken vir mense wat met hierdie dilemma gebore is.
Die kwatryn is ’n moeilike digvorm wat van die digter vereis om in enkele woorde en net vier reels ’n sinvolle eenheid in beeldende taal oor te dra. Die vorm pas Aucamp, ’n meester van die kortverhaal, soos ’n handskoen – en vir die leser wat bereid is om fyn te kyk en te lees, word die ongesiende en ongehoorde in Skulp onthul.
Springs, 1977. Robert en Jeanne Smit word wreed om die lewe gebring in wat die WVK later as 'n politiese gemotiveerde moord sou beskryf. Dekades daarna gons dit oor wie presies vir die grudaad verantwoordelik was. Daar is rookskerms en ontkenning, verduistering en misleidings, en bespiegelings en teorieë oor presies wie die aanvanklike opdrag gegee het. En iewers in die politieke kookpot prut stories van 'n dapper dertienjarige dogter Liza Smit. Nadat haar ouers uit haar lewe geruk is, sou niks ooit weer dieselfde wees nie. Toe sy hoor dat die WVK die saak wil ontrafel, begin sy en die ondersoekende joernalis Alet van Rensburg die saak navors. Saam-saam durf die twee, met enorme deursettingsvermoë, vasberadenheid en 'n porsie domastrantheid die taak aan : om die waarheid te ontbloot oor die dood van Liza se ouers. Liza se verhaal word afgewissel met uittreksels uit die oorspronklike veslag wat sy aan die ongure onderwêreld van die destydse Suid- Afrika vol korrupte politici, taakmagte en internasionale intriges. Dis ook die storie van 'n lewe wat afspeel teen hierdie agtergrond, en hoe een indrukwekkende vrou haarself uit haar persoonlike hel reg.
Met die bundel beeldgedigte stel Marlene van Niekerk op ’n oorspronklike en toeganklike manier die minder bekende Nederlandse skilder Jan Mankes (1889-1920) bekend. Sy lewer daarmee nogeens ’n bewys van die vernuwende aard van haar werk. Die bundel bevat ’n dosyn of wat skilderye, in kleur afgedruk, telkens vergesel van ’n beeldgedig in Afrikaans met die Nederlandse vertaling daarvan op die volgende bladsy. Beskryf as “’n poetiese kragtoer”.
n Versameling briewe van die broers W.E.G. en N.P. van Wyk Louw. Die briefwisseling tussen Van Wyk en W.E.G. Louw vanaf 1941 tot met Van Wyk Louw se dood in 1970 strek oor 'n periode van bykans dertig jaar. Die korrespondensie tussen die twee broers, waarby ook enkele briewe van Truida Louw aansluit, beslaan 'n totaal van 226 briewe, poskaarte en telegramme en foto's ingesluit.
In die oop ruimtes tussen sterre en swaartekrag sal jy Karlien vind
waar sy kaalvoet en sonder pretensie by die Here sit. Daar waar sy met
Hom kan gesels oor haar soeke en seer, want sy weet dat Hy gewillig en
met deernis luister.
Op tagtig, verklaar Dot Serfontein, neem mens kennis van die ouderdom se bedryfsrisiko’s – en neem dan vir lief daarmee dat selfs die Bybel stilbly oor wat ná tagtig met mens gaan gebeur. Jy vertel van dinge waaroor jy vroeër geswyg het en jy swyg oor dinge waarvan jy vroeër vertel het want as jy dié mylpaal oorgesteek het, het jy die vrypas om te maak soos jy wil, sonder dat dit teen jou aangeteken staan. Teen die agtergrond van agt dekades se sosiale, politieke en ekonomiese gebeure (van die letsels van die Anglo-Boereoorlog, die 1914-Rebellie en die Groot Depressie, tot die verkiesing van 1948, die apartheidsidealisme en die “politieke kapitulasie” van die negentigerjare) projekteer Dot Serfontein hier die gesins - en familiebande wat haar lewe as Vrystaatse Afrikaner gevorm het. Die leser leer ken ’n individu wat elke lewensfase met geesdrif en vurigheid aanpak en nie terugdeins om die tradisie van tyd tot tyd met ’n bietjie waagmoed en ’n porsie oorgeërfde stroomopgeit uit te daag nie. Want al faal sy soms klaaglik om aan haar eie (en ander) se verwagtings te voldoen (vir haar een en twintigste verjaarsdag gee haar pa haar immers ’n Remington-tikmasjien present, “toe dit uiteindelik vir hom duidelik geword het dat ek dit nog ver sal bring”) ken sy haar sterkpunte en staan sy stewig geanker tussen dié wat soos sy glo: “As ons spense vol is van wat vir ons van waarde is, kan ons harte oor brakplekke spring; as ons niks anders kan doen nie, lag ons net saam.”
Twee vroue, een uit Nederland en die ander een uit die Vrystaatse Goudvelde, ontmoet mekaar in 'n hospitaalsaal in Bloemfontein. Vyftig jaar later vertel Hester die storie van hoe die lewe hulle gevorm het as verpleegsters, gemeenskapswerkers, bakkers en kunstenaars.In hierdie memorie vertel Hester van der Walt van die sleutel oomblikke in haar lewe wat haar daartoe gedryf het om kulturele en etniese grense oor te steek om sodoende uit te vind wie sy werklik is. Haar besluite neem haar vanaf die Vrystaat na Distrik Ses en Venda, na Nederland en die Verenigde Koninkryk, na Heideveld en Hanover Park en uiteindelik na McGregor. Haar nederige storie vertel van die geestelike isolasie van alle "vlugtelinge" wat die onversoenbare waardes van hulle "tuiste" (hetsy fisies of idologies) verlaat en nuwe maniere moet vind om 'n lewe te skep. Dit vertel ook van die wonder om 'n metgesel langs die pad te vind.
'n Versameling van gesprekke met vriende en kennisse van die digter Ingrid Jonker, met kommentaar deur 'n sielkundige. 'n Nuwe boek oor die immer gewilde Ingrid Jonker. Gesprekke oor Ingrid Jonker bevat persoonlike herinneringe van Ingrid se suster Anna, haar psigiater en vriende soos Jan Rabie en Marjorie Wallace, W.A. de Klerk, Berta Smit, Uys Krige en Andre P. Brink. Gesprekke wat dertig jaar gelede deur dr. L.M. van der Merwe, kliniese sielkundige, op band opgeneem is, is deur Petrovna Metelerkamp in boekvorm verwerk. Dit werp 'n nuwe lig op die lewe en tragiese sterwe van die jong Ingrid Jonker.
Op 13 Oktober 2021 is Suid-Afrika tot stilstand geruk deur die nuus oor
dominee Liezel de Jager, geliefde leraar van die NG Kerk Suidkus in
Amanzimtoti, KwaZulu-Natal, wat in die oprit van die pastorie vermoor
is toe sy terugkeer van haar daaglikse oggenddraf saam met vriende. Dit
was ondenkbaar dat ’n geestelike leier soos sy, wat ’n enorme impak op
haar gemeenskap gehad het, so wreed weggeruk kon word.
Andre Philippus Brink (1935-) is one of South Africa s most distinguished, prolific and internationally best recognized writers. In South Africa, Brink rose to prominence as one of the Sestigers (Writers of the Sixties), a group of Afrikaans writers who challenged their literary establishment in the 1960s under the influence of European schools of thought and literary trends of the time, especially French existentialism.In his writing, Andre Brink interrogates power, violence, and inequality by probing silences: those of the past and those which threaten the new, democratic dispensation in South Africa. At the heart of his oeuvre lies the human condition as he turns to love, myth and history for inspiration. Published since the late 1980s, the criticism collected in this volume strives to be representative of the kind of research undertaken on Brink s work and give insight into a variety of its aspects, focusing primarily on its most significant part, the novels and their reception. The essays look at Brink s approach to the genre and its narrative techniques. They also contextualize Brink s writing in relation to existentialism, (post)colonialism, myth-making, magic realism, representations of gender and sexuality, the dialectic of history and fiction, the picaresque tradition, and the tensions between memory, narration and identity.The collection includes one of the best profiles on the life and work of Andre Brink, written by Nicholas Wroe of the Guardian, as well as an overview essay by Godfrey Meintjes which was originally published as three separate pieces. The combined text of the latter, like no other, introduces all of the important phases and influences of Brink s prose writing.The contributors are: A.J. Hassall, Neil Cochrane, Heilna du Plooy, Peter Horn, Richard Peck, Christell Stander, Nicholas Wroe, Isidore Diala, Marita Wenzel, Johan Anker, Lianne Barnard, Godfrey Meintjes, Monica Bungaro, Jochen Petzold, Ampie Coetzee, H.P. van Coller, Henriette Roos, Mathilda Bothma, Ute Kauer, Louise Viljoen, and Willie Burger."
Op 29 April 1963 stuur die 29-jarige digter Ingrid Jonker ’n telegram aan André P. Brink. Sy bedank die 27-jarige skrywer vir blomme en ’n brief wat hy aan haar besorg het. In die meer as tweehonderd skrywes wat hierna tussen die twee volg, ontvou sekerlik die bekendste liefdesverhouding in die Afrikaanse literêre geskiedenis. Jonker se finale brief aan Brink is gedateer 18 April 1965 – drie maande voordat sy die see in loop by Drieankerbaai. ’n Halfeeu later word lesers se verbeelding steeds aangegryp deur die hartstog van dié teer, dikwels stormagtige verhouding. In Desember 2014, drie maande voor sy dood, het André P. Brink die liefdesbriewe tussen hom en Ingrid Jonker vir publikasie aangebied. Die briewe is nog nooit voorheen gepubliseer nie en sluit onbekende persoonlike foto’s in.
In hierdie boek- wat in twee dele gepubliseer is en gedeeltelik gebaseer is op E.H. Raidt se Afrikaans en sy Europese verlede – word opnuut gekyk na Afrikaans se veelkantige herkoms: die Europese geskiedenis van Afrikaans (grondig vernuwe en beduidend aangevul) én veral Afrikaans se Afrikaherkoms – oor die opbouproses sedert die 17de eeu om Afrikaans in 1925 as amptelike taal erken te kry, Afrikaans se ontwikkeling as volwaardige standaardtaal in die 20ste eeu en veral die aanneem van die funksies wat hiermee gepaard gaan, Afrikaans se ongelukkige apartheidsverlede en die bevrydings- en versoeningsprosesse wat hierna nodig was. Die wit verlede van Afrikaans word aangevul met die bruin en swart verlede sodat ʼn gedeelde verlede van die sprekers van Afrikaans na vore kom. Die storie van Afrikaans is die biografie van Afrikaans soos dit op drie kontinente ontwikkel het: in Europa (waar die ontwikkeling van Nederlands as die basisvorm van Afrikaans gedokumenteer en uitgebeeld word), in Afrika (waar die 17de-eeuse Hollandse dialek met verloop van tyd onder eiesoortige omstandighede en onder invloed van verskeie faktore uiteindelik volwaardig Afrikaans geword het) en vanuit Asië (waar die impak van die taal van die slawe die wordende Afrikaans beïnvloed het tot die vorm wat dit wel geword het). Die outeurs gee aan die hand van talle illustrasies ’n nuwe, meer volledige en inklusiewe blik op Afrikaans se ingewikkelde verlede. In Deel 1 is die Europese verlede van Afrikaans weergegee. In Deel 2 kom die Afrikaverlede van Afrikaans aan bod. Die boek verken paaie wat nog nie voorheen ontgin is nie en dit sal ʼn besliste bydrae tot die debat oor Afrikaans se verlede wees. |
You may like...
Pharos Afrikaanse Woordelys & Spelreëls
SA Akademie vir Wetenskap en Kuns
Paperback
(1)
Hykie Berg: My Storie van Hoop
Hykie Berg, Marissa Coetzee
Paperback
|