![]() |
![]() |
Your cart is empty |
||
Books > Afrikaans > Taal en Letterkunde
Die Roebaijat van Omar Khajjam is ’n groep Persiese kwatryne wat beroemd geword het toe ’n Engelse vertaling van Edward FitzGerald in 1859 gepubliseer is. Sedertdien het dit al meer as 650 verskillende uitgawes en ’n groot aantal herdrukke belewe. Meer as ’n honderd komponiste het sedertdien ook toonsettings van die kwatryne geskryf. Ook in Suid-Afrika het hierdie kwatryne (die woord roebai beteken kwatryn) bekend en gewild geword, onder andere deur die Afrikaanse vertalings van bekende digters soos C.Louis Leipoldt en C.J. Langenhoven. Khajjam se oorspronklike verse was nie gerangskik in enige bepaalde volgorde of tematiese samehang nie. FitzGerald het die kwatryne egter gerangskik en soms selfs herskryf om ’n poetiese eenheid daarvan te maak en om iets van Khajjam se hedonistiese lewensfilosofie weer te gee. Die bekende digter en vertaler Daniel Hugo het 50 van die kwatryne wat FitzGerald vertaal het, uitgesoek op grond van hulle vertaalbaarheid in Afrikaans en hulle trefkrag. Hierdie keuse wil steeds die wesenlike karakter van die kwatryne te behou. Hulle kan as eenheid of as selfstandige gedigte gelees word.
In sy honderdjarige bestaan – vanaf sy beskeie begin in 1908, met een professor, drie lektore en twee en dertig studente, tot die reuse instelling wat dit vandag is - het die Universiteit van Pretoria rigting en dimensie gegee aan talle mense se lewe. Amfiteater gee 'n blik op die talent van gevestigde en minder bekende skrywers wat eens UP se kampus bewandel het – en verenig so die stemme van oud-Tukkies uit verskeie lewensterreine. Die essays in Amfiteater sal nie net by Tuks-Alumni reg oor die ouderdom spektrum byval vind nie, maar ook by enige leser met waardering vir kort prosa. Die trant van die meerderheid essays is lig en vermaaklik en daarom nie op 'n suiwer akademiese gehoor afgestem nie. Bydraers is almal Tuks-alumni, en sluit bekendes in uit die wereld van skrywers, joernaliste politici, historici en verhoogkunstenaars: Marius Ackermann, Johan Bakkes, Chris Barnard, Louise Boshoff, Martjie Bosman, Paul Bosman, Pik Botha, Terence Carney, Louis Changuion, T.T. Cloete, Neil Cochrane, Johann de Jager, Engemi Ferreira, Jeanette Ferreira, Joan Hambidge, Karin Hougaard, Neels Jackson, Carie Maas, Annamarie Marais, Johann Lodewyk Marais, Lizz Meiring, Fransjohan Pretorius, Wessel Pretorius, Dalena van Jaarsveld, Dolf van Niekerk, Cas Vos, George Weideman.
Die digter, advokaat, joernalis, avonturier, dwelmverslaafde en natuurkenner Eugene Marais bly 'n boeiende figuur. Die groot verlange bied nie alleen 'n fassineerdende blik op een van die veelsydigste en merkwaardigeste Afrikaners wat ooit geleef het nie, maar gee terselfdertyd ’n panorama van ’n groot gedeelte van die geskiedenis. In hierdie uitgawe word die belangrikste omissie in die eerste drie uitgawes van die teks, naamlik Marais se rol in die ontdekking van die broodboom wat na hom genoem is, reggestel. Die teks bevat ook nuwe bevindinge uit bronne wat vroeer oor die hoof gesien is.
In Mei 2000 skryf die joernalis Chris Louw ’n ope brief aan Willem de Klerk waarin hy sy griewe lug teenoor die regering wat aan bewind was in die tyd van die Grensoorlog (ongeveer 1966–1989). Chris Louw, oftewel “Boetman”, is ontnugter deur die patriargale leiding van die Afrikanermans van daardie tyd. Pieter Fourie het Chris Louw se brief omskryf tot ’n drama waarin verskillende stemme en menings gehoor kan word, onder andere dié van ’n ma wat haar seun in die Grensoorlog verloor het, die joernalis Annesu de Vos wat met Chris Louw ’n debat op LitNet gevoer het en ’n swart aktivis.
Wanneer ’n mens aan die ervarings van Boerevroue en -kinders tydens die Anglo-Boereoorlog dink, is die outomatiese konnotasie die van konsentrasiekamplyding. ’n Fassinerende en grotendeels onbekende buitebeentjie in hierdie genre is die dagboek van Anna Barry, waaruit ’n unieke en veelkantige beeld van die oorlog na vore kom. Aan die een kant van Anna se oorlogservaring staan haar broer Japie – ’n begeesterde jong soldaat wat uiteindelik as krygsgevangene op Ceylon sterf. Hierteenoor le haar geliefde pa Thomas (aanvanklik ’n gerespekteerde veldkornet) al in 1900 die eed van neutraliteit af, en wag hy die grootste gedeelte van die oorlog in die neutrale Basoetoland uit. Vir die tienderjarige Anna is die oorlog as gevolg hiervan ’n uiters verwarrende ervaring en haar dagboek bied ’n sonderlinge blik op die gefragmenteerdheid en buigbaarheid van konsepte soos “identiteit”, “nasie” en “volk”. Die feit dat die dagboek eers in 1960 vir die eerste keer gepubliseer is en daarna grotendeels in die vergetelheid verval het, is verder veelseggend in terme van hoe Anna self verwag het haar ervarings kort na die oorlog ontvang sou word – maar ook in terme van hoe blinde lojaliteit aan sekere groepe so dikwels in die geskiedenis van Suid-Afrikaners vereis is. Die dagboekteks, geboekstut deur Ena Jansen se insiggewende en verhelderende voor- en nawoord, bied nie slegs ’n sonderlinge blik op die Anglo-Boereoorlog nie, maar is verweef met kwessies van taal, politieke mag en sosiale status wat vandag nog net so relevant is soos toe die dagboek geskryf is.
Benno Barnard is ‘n veelsydige Nederlandse skrywer wie se werk poësie, prosa, essays, toneeltekste en vertalings insluit. Binne en buite, verlede en hede, liefde en dood, die persoonlike en die openbare skep ’n tematiese rykdom en ’n boeiende estetiese spanning in sy werk. Die verse self vertoon ‘n vaste vorm wat weens die digter se tegniese vernuf klinkklaar soos water vloei. Benno Barnard se uitsonderlike stem is nou ook in Afrikaans hoorbaar danksy Daniel Hugo se teksgetroue maar soepel vertaling. In ’n nawoord plaas prof. Yves T’Sjoen hierdie gedigte in ‘n breër literêre en maatskaplike konteks.
Die woord “skryn” het verskillende betekenisse: 'n Skryn is 'n klein kissie of houer waarin kosbaarhede soos juwele bewaar word, en as werkwoord kan die woord dui op afskuur of -skaaf (soos wat 'n skrynwerker doen) of op 'n pynlike wrywingsproses (vandaar die beskrywing van 'n ervaring as “skrynend” of “skrynerig”). Alhoewel al hierdie betekenisse geaktiveer word in Emma Bekker se debuutdigbundel, sal die leser vergeefs soek na konvensionele “vroulike” skatte soos juwele, klere en meubels. Reeds in die tweede gedig is daar 'n aanduiding van wat in die res van die bundel te wagte gaan wees: In hierdie herinnering aan 'n ontwrigtende kinderervaring, word die dogtertjie se krytblikkie, versier met 'n afbeelding van die Taj Mahal, 'n soort skryn word waaraan sy kan vashou. Algaande ontvou die beweging tussen die skrynende en die kosbare wat as gedigte bewaar word en word die bundel self die skryn. 'n Tweede belangrike tema in die bundel is die verkenning van 'n enigsins ongewone, onkonvensionele vroulikheid. Al open die bundel met 'n kwatryn oor die gewone buurt met “'n drankwinkel, 'n pawn shop en die Spar” waar die digteres woon, word hierdie skynbaar gewone voorstedelike bestaan gou die vertrekpunt van waar verskillende enigsins alternatiewe en onkonvensionele vroulikhede ondersoek word. Sy maak die luike van die binnekamer oop en ervaar tuin, veld en stad; Sy herken die tierboskat in haar skootkat en in haarself; In die liefdespel wil sy niemand se baby wees nie; Sy waag dit om op 'n tweede wittebrood die jas van “onverpoosde verantwoordelikheid” uit te trek en in die kombuis gee sy haar oor aan die sinnelike vreugde – en soms selfs wrede – van kosmaak. Bewaring en blootstelling, kwesbaarheid en krag, sinnelikheid en spiritualiteit word in hierdie bundel verwoord deur 'n vaardige digteres wat sowel die tug van die kwatryn, die liriese van kabaretagtige verse as vryer, narratiewe verse beheers.
In hierdie drama word die leser/gehoor gekonfronteer met die gevolge van keuses waarmee bykans alle Suid-Afrikaners kan identifiseer: kwessies soos emigrasie, die behoud van bande met die geboorteland, nagevolge van die Angolese bosoorlog, moorde op bejaardes en sosiale onsekerhede as gevolg van kriminele geweld. Hiermee gee Opperman dramaties gestalte aan die gedagte dat die persoonlike dikwels ’n politieke strekking het. Ook ander verwysingsraamwerke tree na vore, waaronder die invloed van die geskiedenis en die soeke na identiteit.
Met haar nuutste bundel, Disteltyd, neem die digter Marlise Joubert bestek op haar lewe; die verouderingsproses met gepaardgaande fisieke aftakeling en verlies, maar ook besinning oor familie, eie kinderjare en die onlangse inperking, beurtkrag en geweld. Dit is gedigte met ’n sterk poëtiese en visuele inslag en word gekenmerk deur ’n introspektiewe, selfs nostalgiese, toonaard. Soos die distel as onkruid ’n saadpluim lewer wat lig, dartelend en lieflik is, is hierdie gedigte ook. Disteltyd is ’n bundel wat weens die geskakeerdheid daarvan ’n belangrike bydrae lewer tot die steeds groeiende korpus van laatwerke; gedigte wat meestal ontroer weens die menslikheid en humor daarin verwoord, maar terselfdertyd ook die leser konfronteer met die maatskaplike onregte kenmerkend van ons tyd.
Willie van der Merwe se debuutbundel handel oor religieuse ontnugtering, geklee in vele vorme, en is ’n verkenning van die eksistensiele vakuum soos selde tevore in Afrikaans. Die titel sinspeel op die eenvoudige kwaliteite van die alledaagse mens aan die een kant, maar aan die ander kant op die fisiese en geestelike dood wat as goue draad deur die bundel loop. Die dualisme tussen skoonheid en weerloosheid word van meet af aan ondersoek en die gebroke werklikheid van die digter se ervaringswereld word treffend verbeeld. Dit is ’n donker bundel vol swart humor, wat die weersin van erotiek en oorlog op skrydende en dikwels ironiese wyse verwoord. Dit eindig egter met ’n evangeliese optimisme: met van die mooiste liefdesgedigte wat nog in Afrikaans verskyn het.
Het jy geweet dat as jy cappuccino drink, daar 'n aap in jou koffie is? Waarom staan 'n mens se strottehoof bekend as 'n adamsappel? Is die dahlia regtig na die Sweedse plantkundige Anders Dahl vernoem omdat die blomblare soos sy onversorgde baard en hare gelyk het? Dié vrae het almal met eponieme te make: woorde wat gevorm is op grond van mense of plekke se name. So is die dahlia, adamsappel en cappuccino eponieme. In Die Aap in jou koffie beantwoord die gewilde woordeboekmaker, Anton Prinsloo, ongeveer 2,000 van hierdie soort vrae. Die skrywer se besondere humorsin maak dit 'n andersoortige woordeboek – een wat 'n mens met 'n glimlag lees.
Uit stof, ster, planete word daar poësie gemaak. Die digter verken die geskape Univers met fyn aanvoeling en vernuf. Hier is ’n poëtiese fisikus op sy allerbeste. Hennie Smith se aanleg vir wiskunde en wetenskap het hom tot ’n doktorsgraad in fisika geneem en ’n suksesvolle navorsingsloopbaan in Suid-Afrika en Frankryk. Sy aanvoeling vir poësie het hom egter deurgaans besiel en hy het telkens woorde gevind om emosiebelaaide insigte in verse neer te pen. Die fisika en kosmologie word vir hom ’n teleskoop om van die einders van die kosmos in te kyk op die binneruimte van menslike emosie. Hier is van die kragtigste gedigte in Afrikaans wat die leser as ’n gedagtegolf tref en met nuwe denke oor die poësie laat. Die intense gedigte oor die roering en spanning tussen die manlike en vroulike het ook ’n kosmiese inslag wanneer hy soos Goethe in sy Faust ervaar dat die ewig vroulike hom motiveer en die volheid van die syn laat beleef. ’n Aantal verse reik uit na die grense van religie en filosofie. Hier is ’n bundel wat die grense van dig-denke roer en verbreed.
Imbokodo: Women Who Shape Us is a groundbreaking series of books which introduces you to the powerful stories of South African women who have all made their mark and cleared a path for women and girls. These books recognise, acknowledge and honour our heroines and elders from the past and the present. South African women are silent no more on the roles that we have played in advancing our lives as artists, storytellers, writers, politicians and educationists. The title 'Imbokodo' was been chosen as it is a Zulu word that means "rock" and is often used in the saying 'Wathint' Abafazi, Wathint' Imbokodo!', which means "You Strike a Women, You Strike a Rock!" These books were made possible with the support of Biblionef and funding from the National Arts Council. In 10 Curious Inventors, Healers & Creators you will read about the women who shape our world through education, science and maths. You will read about women who became teachers, nurses, social workers, scientists and community workers, overcame obstacles and through their work fought for social change.
Il Paradiso is die hoogtepunt van Dante Alighieri (1265-1321) se driedelige werk. Hy gebruik van die aangrypendste metafore en vergelykings om sy reis te beskryf. Hy is sonder twyfel een van die briljantste digters ooit. Cas Vos se vertaling is die eerste vertaling daarvan in digvorm in Afrikaans. Hy wend verrassende en sprankelende metafore en vergelykings in sy vertaling aan en hy vertaal al die Latynse himnes op ’n indrukwekkende wyse. Die leser word uitgenooi om die reis na die Paradiso onder die klank van sange en lieflike beelde te onderneem. ‘n Youtube-opname deur Hennie Maas van beeld en klank vergesel die bundel. Die uitmuntende akteur Dawid Minnaar lees dele uit die vertaling voor. Die opname laat die leser van Il Paradiso die tersines visueel en klankryk ervaar.
Imbokodo: Women Who Shape Us is a groundbreaking series of books which introduces you to the powerful stories of South African women who have all made their mark and cleared a path for women and girls. These books recognise, acknowledge and honour our heroines and elders from the past and the present. South African women are silent no more on the roles that we have played in advancing our lives as artists, storytellers, writers, politicians and educationists. The title 'Imbokodo' was been chosen as it is a Zulu word that means "rock" and is often used in the saying 'Wathint' Abafazi, Wathint' Imbokodo!', which means "You Strike a Women, You Strike a Rock!" These books were made possible with the support of Biblionef and funding from the National Arts Council. In 10 Extraordinary Leaders, Activists & Protesters you will read about women who fought against colonialism and oppression. Here are the stories of women heroes through history, whose stories are connected because of a shared passion for equality and justice.
Hierdie uitstekende Afrikaanse vertaling van antieke gedigte hoef vir niemand Grieks te wees nie. Die skrywer gee duidelike toeligting oor die tyd en omstandighede waarin hierdie gedigte ontstaan en voorgedra is, sodat selfs diegene wat geen kennis van Grieks het nie, daardeur geboei word. Anders as wat die hedendaagse leser verwag, is die antieke elegiese poësie nie treurverse nie, maar kon oor enige denkbare onderwerp handel: politiek, sosiale probleme, die kortstondigheid van die lewe, patriotisme en liefde.
Akademiese geletterdheid is noodsaaklik vir akademiese prestasie. Daar word van studente verwag om ’n verskeidenheid akademiese tekste met begrip te lees. Studente moet ook hulle eie argumente kan konstrueer en hulle kritiese denkvermoë in die vorm van ’n akademiese teks aan ’n leser illustreer. Akademiese geletterdheid beteken dat studente as onafhanklike akademiese skrywers kan funksioneer wat navorsing op ’n gestruktureerde, goed geformuleerde en logiese wyse kan weergee. In hierdie handboek word studente nie net toegerus met kennis en vaardighede om die genre van akademiese skryfwerk te begryp nie; die samestelling van die boek kan ook meehelp dat studente onafhanklike beoefenaars van hierdie genre word. Studente word begelei om:
Die skrywers vertrou dat studente en dosente hierdie handboek as ’n nuttige hulpbron sal gebruik om akademiese geletterdheid te bevorder.
'n Pragboek oor die skrywer se lewe as beeldende kunstenaar en vrou van die akteur Marius Weyers - is 'n ryklik geillustreerde rondleiding in die werkswinkel van 'n beeldhouer en liefhebber van woorde.
In 'n oomblik toon die hand van 'n ervare digter wie se poetika reeds gevestig is in terme van temas en tegnieke. Die digbundel verteenwoordig 'n voortsetting van die aspekte van Vos se digkuns waarvoor hy reeds lof verdien het. Op tegniese vlak is daar veral sy baie effektiewe gebruik van 'n onpretensieuse toon wat dikwels sonderlinge poetiese vondste oplewer. 'n Voorbeeld hiervan is die nuutskepping (die slinkshandige). Tegniese vernuwing vind ook plaas deur die aanwending van die epiese gedig en die tersine. Die intertekstuele gesprek met Homeros en Dante as reismotief om 'n langdurige ongeluk en operasie poeties te verwoord, is nuut in die Afrikaanse digkuns. Tydens die reis kom daar fel en verskillende emosies en ervaringe na vore. Dit word alles met die leser gedeel. Die tematiese nuutheid en aktualiteit van die bundel blyk uit die digterlike uitbeelding van die menseslagting op 13 November 2015 in Parys en vlugtelinge uit Sirie se bootreise na 'n heenkome. In die bundel kom daar diep emosies na die oppervlakte. Alles gebeur in 'n oomblik. Op die lewensreis word verskillende emosies ervaar: lig en donker, liefde en ongeluk, geboorte en die na-lewe. Die tema van verganklikheid en ouer-word is sentraal in die bundel. Die lewensreis is ook 'n taalreis. Daarom word die taalgesprek, in 'n boeiende saampraat met Konstantinos Kavafis, poeties uitgedruk. Op die leefreis is daar ook verlies. Hier kom Cas Vos se vertalings van Konstantinos Kavafis en Georgos Seferis se Griekse gedigte aan die bod. Die reis eindig egter nie in wanhoop nie, maar met uit-sig.
In vergeelde foto’s van drie dekades gelede staan oopgesigseuns vol bravade voor Ratel-gevegsvoertuie. Hierdie dienspligtiges van 61 Gemeganiseerde Bataljongroep staan aan die begin van hul reis diep in Angola in om vir volk en vaderland te gaan veg. In ’n bloedige geveg op Valentynsdag 1988 en in die doodsakker by Tumpo sou hul jeugdige onskuld egter sneuwel. In die hitte van die gevegte kom die besef: Nou gaan dit nie oor ideologie nie, maar om oorlewing. Ná die oorlog gaan die lewe voort, maar die vrae en geestelike letsels wyk nie. In 2018 keer ’n groep van dié ouddienspligtiges terug na Cuito Cuanavale op soek na afsluiting - en om die wrak te vind van die Ratel waarin ’n makker op die laaste dag van die oorlog gesterf het. Die Brug vertel van hul reis van jong man na veteraan en gee ook ’n stem aan die vroue in hul lewe. Dit is ’n verhaal van ontnugtering, maar ook van trotse kameraderie en genesing. |
![]() ![]() You may like...
Alfred'S Premier Piano Course Lesson 4
Dennis Alexander, Gayle Kowalchyk, …
Staple bound
Alfred's Basic Piano Library Lesson 2-3…
Willard A Palmer, Morton Manus, …
Sheet music
The Legend Of Zola Mahobe - And The…
Don Lepati, Nikolaos Kirkinis
Paperback
![]()
|