![]() |
![]() |
Your cart is empty |
||
Books > Afrikaans > Taal en Letterkunde
Uittogboek – ’n bundel wat van fyn vakmanskap, tematiese en stilistiese verskeidenheid en intellektuele diepgang getuig – is ’n hoogtepunt in die digter Johan Myburg se oeuvre. Temas soos die doodsbesef, die mens se verganklikheid en die optekening van laaste dinge word op subtiele en sensitiewe wyse benader en met ironie en humor deurspek. Die samebindende gegewe van die bundel is die Romeinse keiser Hadrianus (76–138 n.C.), en die bundel open met sy bekende sterfgedig in Latyn en Myburg se trefsekere vertaling daarvan in Afrikaans. Myburg bewys homself met hierdie publikasie as ’n digter wat nie slegs formele verse nie, maar ook vrye verse en langer prosagedigte kan skryf wat die leser op verskeie vlakke uitdaag, gevange hou en betower.
Hierdie kosbare briefwisseling tussen N.P. van Wyk Louw en W.E.G. Louw is ’n belangrike bron vir navorsing na die geskiedenis van die Afrikaanse letterkunde en waardevolle dokumente vir ’n studie van die intellektuele geskiedenis van die Afrikaner. Die teks is voorsien van sowel verhelderende annotasies as ’n bondige, besonder knap en maklik leesbare inleiding. Dit is ’n vlees-en-bloed-weergawe van al die vertwyfeling, frustrasies en emosionele probleme wat N.P. van Wyk Louw die hoof moes bied terwyl hy aan sy belangrikste bydraes gewerk het. Sommige van sy mees oorspronklike standpunte oor die bestaanstryd van Afrikaners en Afrikaans kom hier die eerste keer voor.
Michel Houellebecq, wie se poesie as melankolies, pynlik selfbewus en bytend satiries teenoor die lewe en die verbruikersamelewing beskryf kan word, is al die “Baudelaire van die supermark”, of “Baudelaire gekruis met Philip Larkin” genoem. Benewens die liriese en melancholiese aard van sy werk, is talle van die sy gedigte ook uiters kompleks weens die diep en ryk filosofies-teologiese en kosmologiese idees wat dit onderle.
In hierdie stewige debuut, skryf Lucie Möller oor ’n wye verskeidenheid onderwerpe. Benewens verse oor vuur as suiwering en vernietiging, kuns, musiek en letterkunde, speel ’n groot aantal van die verse af teen die agtergrond van die herkenbare landskappe van Namibië, die Noord-Kaap en veral die bosveld van die Waterberge. Möller gee konkrete gestalte aan die natuurlike elemente van dié landskappe, die plante, diere en voëls, maar ook die berge en riviere.
Eybers se verse was jare laas in druk. Dié keuse, uitgesoek deur Ena Jansen, goeie vriendin van haar, wys op Eybers se veelsydigheid as digter. Die bloemlesing behels o.m. die bekende "Maria", "Busrit in die aand", verse oor haar kinders, die emigrasie na Nederland, tot haar latere, aangrypende gedigte oor ouer word. Goeie poësie is tydloos, en dit blyk duidelik met dié uitgawe van Eybers se bekendste werk.
'n Regter bring sy mooi, jong vrou saam na 'n jagplaas om sy laaste trofee te kom skiet. So word vyf mense saamgegooi vir 'n naweek. Jaloesie, konkelary, wedywering en twis oor grondbesit is aan die orde van die dag – en nog 'n verhouding wat nooit sy le kon kry nie. 'n Misterieuse bok maak sy verskyning. Meteens raak die verlede deel van die hede. Nie almal op die plaas weet van die vloek wat oor die grond hang nie. Die omgewing word 'n medespeler wat jare se intrige op die spits dryf.
Koningin Lear is ’n herverbeelding van William Shakespeare se King
Lear deur die gevierde Vlaamse skrywer Tom Lanoye. Elizabeth Lear
het met die verloop van tyd haar klein besigheid opgebou tot ’n
internasionale sakeryk. Elisabeth kondig aan dat die besigheid
tussen haar drie seuns verdeel sal word en sy eis dat haar seuns
onder eed hul liefde en trou aan haar verklaar.
Hanlie Retief se skerp, pittige en op-die-man-af-onderhoude in Rapport is iets waarna baie lesers elke Sondag uitsien en heel eerste lees. Waarom? Hanlie kies die interessantste mense om mee onderhoude te voer en vra die vrae wat almal wil vra. Ná 20 jaar van onderhoude voer is dit hoogtyd dat ’n keur van die beste onderhoude te boek gestel word. Hanlie gesels met bevat 50 van Hanlie se mees prikkelende onderhoude: dié waaroor mense lank gepraat het, dié wat mense kwaad gemaak het, laat lag het of ’n traan laat pik het. Dit is ook interessant om weer die stemme te hoor van mense wat ons ontval het, soos Chris Barnard en Marike de Klerk. Desmond Tutu, Steve Hofmeyr, dr. Piet Koornhof, Steve Booysen, Piet Byleveld, Anton Goosen, Pik Botha, Kurt Darren, Pierre Spies, Vernon Koekemoer en Julius Malema is van die mense wat opgeneem word in hierdie boek. Die leser van hierdie boek geniet ’n kleurvolle reis deur die gedagtes en dinge van Suid-Afrika se interessantste bekendes.
Wanneer die son verduister, staan mense stil om na te dink oor lig en donker. So word daar oor veel meer as hierdie natuurlike verskynsel besin. Sinisme en humor bly nie agterwee nie maar die groot gedagte skyn weemoed en verwondering te wees. In hierdie 94 gedigte praat bekende digters en debutante saam; prosaskrywers, joernaliste, musikante en ander openbare figure waag hulle hand aan die poesie. Die resultaat is ’n sonderlinge verkenning van die kreatiewe kragte wat vaardig raak wanneer die natuur sy heerskappy bevestig.
Die see is 'n liriese toneelstuk waarin aanvaarding, ontnugtering en hoop stem kry in drie slawevroue wat in die tyd van die VOC as courtisanes vir die bevelvoerder van Die Kasteel opgelei is. Terwyl die kanonvuur op die agtergrond 'n nuwe bestel aankondig, word die gehoor as't ware saam met die drie vroue in 'n kerker opgesluit. Die donker omstandighede van die hede word telkens gekontrasteer met die sonnige verlede. Met Die see het Reza de Wet haar kwarteeu in die Suid-Afrikaanse teaterwereld gevier.
In beeldryke verse word die "liefdesgeskiedenis" van die liriese subjek gekoppel aan San- en Khoi-mitologie. Die meeste verse in Grobler se bundel vorm tematies 'n geheel omdat dit die eie bodem en kultuur ontgin en aanspreek. Daar is twee afsonderlike afdelings – te wete Evasgesange waarin die Khoikhoi en die Xhosa hoofsaaklik in gedigte gestalte vind en Boekreis waarin die geskiedenis van Vasco da Gama, die strafekspedisie teen Kalikoet, Catharina de Ataide en kolonialisering 'verdig' word. Catharina was natuurlik die vrou "wat Vasco se swerflus later/ met sewe kinders laat bedaar/" het!
Die title behandel die onderrig van Afrikaans as huistaal in Graad 1, 2 en 3 soos beskryf in die Hersiene Nasionale Kurrikulumverklaring (HNKV) binne die raamwerk van uitkomsgerigte onderwys (UGO). Die title bevat ook inligting vir die onderrig van Graad R. Die onderrig van luister, praat, lees en kyk, skryf, dink en redeneer asook taalstruktuur en -gebruik word breedvoerig bespreek en praktiese idees word gegee.
Hierdie studie is die eerste van ’n reeds voltooide tweeluik in Afrikaans oor die 44 oud-Griekse dramas wat vir ons in geheel uit die verre Oudheid bewaar gebly het. In hierdie eerste boekdeel word die vroeë, klugtige ontstaan en daarna tegniese ontwikkeling van die oud-Griekse komedie bespreek. Daarna volg ’n indringende analise van elkeen van die skrywer Aristophanes (ongeveer 448-380 v.C.) se elf komedies. In Aristophanes se komedies vind ons ’n uiters lagwekkende ontmaskering van die menslike verwaandheid, kleinlikheid en dwaasheid wat die politieke leiers van Athene tydens die Peloponnesiese Oorlog gekenmerk het.
Sedert sy debuut in 1969 met die bundel Orpheushanden het Leonard Nolens hom gevestig as een van die beduidendste Vlaamse digters van ons tyd. Drie versamelbundels het reeds van sy omvangryke oeuvre verskyn en sy poesie het talle Vlaamse en Nederlandse pryse ontvang, onder meer die Jan Campert- en Constantijn Huygens-pryse, die VSB-prys en die Prijs der Nederlandse letteren. Vir hierdie versameling Afrikaanse vertalings het Daniel Hugo veral gekies uit gedigte oor Antwerpen, die stad waar Nolens woon en werk; die agtergrond van talle gedigte wat soms ook as stilswyende gespreksgenoot vir die digter optree. Die ander durende gespreksgenoot is sy geliefde. Leonard Nolens is 'n liefdesdigter sonder gelyke in die moderne Nederlandse letterkunde. Nolens skryf ook oor onderwerpe soos musiek, ander Europese lande en oor die mens se stryd om met homself tot 'n vergelyk te kom.
Die ware verhaal van 'n ma se stryd om met onvoorwaardelike liefde te aanvaar dat haar kind gay is. Die skrywer se doel met hierdie boek is om ander gesinne in soortgelyke omstandighede hoop te gee. Sy vertel van die skok wat sy en haar man moes verwerk toe hulle lieflingdogter aankondig sy is verlief op 'n vrou. Lidia Theron beskryf die pad wat hulle moes loop om tot volle aanvaarding te kom.
Die kortverhale in Maansiek verken 'n wye register: die Rooms-Katolieke geloof, charismatiese aanbidding, Afrika-mistiek, erotiek en moederskap, konflik tussen ras en geslag en sosiale status, spanning tussen die hede en die historiese, die sienlike en die onsienlike. As basis vir sommige verhale dien 'n nugter koerantberig of tydskrifartikel uit vervloe dekades wat binne die verhaalkonteks tegelyk humoristies en ontstellend is. Ander is gegrond op minder bekende aspekte van bekende figure of vertellings van onbekende vroue met uiteenlopende agtergronde.
Sedert die tweede druk van die tweede uitgawe in 1975 was Die siel van die mier egter slegs as ’n skaars tweedehandse eksemplaar beskikbaar. Hierdie uitgawe is verryk deur ’n inleidende besinning oor die vraag of Maeterlinck, die Belgiese Nobelpryswenner, Marais se teorie oor die termietnes as organiese eenheid oorgeneem het. Origens blyk dit uit die verskillende drukke en uitgawes hoe Afrikaans in die jare twintig van die twintigste eeu nog op weg was om ’n wetenskaplike woordeskat te vind en die addendum bevat artikels wat vandag slegs met moeite uit ou tydskrifte en koerante opgediep kan word.
Vers en vlam stel graad 10- Eerste Addisionele Taalleerders in staat om te beleef hoe Afrikaanse gedigte kreatief, intelligent en vindingryk met die taal omgaan. Die bundel is volgens die KABV se riglyne saamgestel. Die bundel se titel verwys na die Afrikaanse uitdrukking “iemand is vuur en vlam”, ’n uitdrukking wat daarop dui dat iemand baie opgewonde en entoesiasties is. In Vers en vlam is gedigte uit al die soorte Afrikaans opgeneem wat die belangrikste versvorme, literêre tydperke en temas in die Afrikaanse digkuns verteenwoordig. Só word daar ’n vlam aangesteek wat lig werp op die geskiedenis, op vandag se samelewing en verhoudings, asook op ontwikkeling en verstegnieke in die Afrikaanse poësie. Vers en vlam is vir die leerder en onderwyser ’n uiters bruikbare werkboek. Dit bevat: ’n inleiding tot die Afrikaanse poësie; biografiese inligting by elke gedig met ’n oorsig van die digter se lewe en werk; ’n kort inleiding oor die onderwerp waaroor die leerder bloot kan nadink of ’n gesprek kan voer of kan skryf; agtergrond oor elke gedig en ’n kort verduideliking waaroor dit gaan; woordverklarings van moeiliker woorde in Afrikaans en Engels; ’n afdeling “Pitkos” wat die leerder se aandag op sake vestig wat ’n sleutel is om die gedig beter te verstaan; ’n afdeling “Leerfokus” wat die poësietegniek wat in die gedig gebruik word, saamvat; kontekstuele vrae wat leerders help om soveel as moontlik van die gedig te verstaan, dit te interpreteer, en hul gevoel daaroor weer te gee; ’n afdeling “Vir jou joernaal en/of in die klas” wat leerders die geleentheid bied om skeppend op aspekte van die gedig te reageer; ’n glossarium wat literêre begrippe verduidelik. Ekstra hulpmateriaal kan gratis afgelaai word by www.nb.co.za
In Tydelose Gety lewer Lina Spies verse wat spreek van ’n positiewe lewensuitkyk, wat wil uitstyg “bo alles wat vals is en stereotiep”. Selfs vir die sewentigjarige hou die lewe nog ’n volheid in en kan die vervulling van die liefde beleef word. Sy bring hulde aan groot figure soos Nelson Mandela, weer eens aan Anne Frank en aan ’n onbekende oorlewende van die holocaust wat met oop gordyne slaap om elke nuwe dag te verwelkom. Vir Spies is daar geen twyfel nie dat die Afrikaanssprekende nog ’n plek in Suid-Afrika het en hier sinvol en gelukkig kan lewe. Die beheerste lewensvreugde van die laaste verse spreek van ’n oorwoënheid en soberheid wat aan Elisabeth Eybers se laaste gedigte herinner. Vir die eerste keer neem Spies ook enkele vertaalde gedigte in ’n bundel op waardeur sy ’n bydrae lewer tot die bekendstelling van wêreldpoësie in Afrikaans.
Wierenga skryf met ’n drif en vernuftigheid en voer die swakhede soms tot komiese uiterstes, veral wanneer sy klaarspeel met die verraad en ydelheid van minnaars. Tog bly die oorheersende indruk die van ’n menslike kyk na ander mense. Wierenga steek egter nie in die persoonlike vas nie, maar takel op moedige wyse openbare kwessies. Wanneer sy dit het oor die onreg aan ander, die vernieling van die omgewing en die vernietiging van lewende wesens, skryf sy met ’n vreesloosheid en drif wat van hierdie bundel iets besonders maak.
Die digter M.M. Walters ontgin met hierdie bundel die sober eenvoud van die Japannese poesie. Hierdie gedigte verwoord die eeue oue letterkundige tradisie van hierdie beskawing. Die inleiding bied 'n oorsig tot die geskiedenis van die Japannese digkuns en verduidelik die verskillende tydperke waarin die digkuns opgedeel word. Die bloemlesing probeer gedigte uit die hele spektrum aanbied. Die brugtaal was deurgaans noodsaaklikerwys Engels. Vanwee die lang tydperk waarin Japan vir dele van die Weste geslote was, is vertalings in Germaanse tale minder bekend en bekombaar. Die versameling is ook noodwendig onvolledig vanwee die beperkte ruimte. Maar dit bied 'n fassinerende blik op 'n redelik onbekende sfeer van die wereldliteratuur.
Die bundel bevat ‘n vyftigtal sonnette wat uitsluitlik oor heiliges handel en in dié opsig aansluit by die digkuns van Sheila Cussons. Die verse is religieuse meditasies oor die lewe en werk van heiliges waarvan ‘n hele aantal ook bekend sal wees vir lesers met ‘n Protestantse agtergrond. Ander is egter weer onbekend vir die gemiddelde Afrikaanse leser, maar kort biografiese sketse word as toeligting verskaf. ‘n Aantal oorspronklike ikone van die heiliges word in die bundel opgeneem en help skep aan ‘n sfeer waarbinne die gedigte verstaan en ervaar moet word. Die streng sonnetvorm stel hoë eise aan die digter, en in hierdie debuutbundel toon Van der Riet dat hy oor die vakmanskap beskik om nie slegs binne die bestek van veertien reëls ‘n klein wêreld te herskep nie, maar ook om die leser te nooi om die afstand te oorbrug en te besin oor die raakpunte van die heiliges met sy of haar eie leefwêreld. |
![]() ![]() You may like...
Small-Signal Stability Analysis of Power…
Wenjuan Du, Haifeng Wang, …
Hardcover
R3,075
Discovery Miles 30 750
Innovative Research in Transportation…
Dipankar Deb, Valentina E. Balas, …
Hardcover
R3,020
Discovery Miles 30 200
Hybrid Power Cycle Arrangements for…
Anoop Kumar Shukla, Onkar Singh, …
Hardcover
R2,895
Discovery Miles 28 950
|