![]() |
Welcome to Loot.co.za!
Sign in / Register |Wishlists & Gift Vouchers |Help | Advanced search
|
Your cart is empty |
||
Die oorlog en Gordon Fraser veroorsaak ’n oënskynlik onoorbrugbare kloof tussen Catriona en Rudolf Dreyer. Waar daar kort gelede nog liefde was, lees Catriona haat, afkeer en veragting in sy oë. Hy glo sy was vir sy twee broers se teregstelling verantwoordelik en sy kan hom nie bereik om hom van die teendeel te oortuig nie. Hierdie is die tweede boek in ’n tweeluik na Onder 'n Sterrehemel.
Die jong koerantbaas op Phalaborwa, Adriaan Ferreira, het baie hooi op sy vurk. Hy het aanvanklik gedink sy koerant, Bosveld Nuus, gaan 'n rustige lewe tot gevolg he. Want hoe moeilik kan dit nou wees om oor sportbyeenkomste en troues te skryf? Maar die amateur joernalis sit die pot heeltemal mis. Eers word 'n swart meisie noodlottig in 'n tref-en-trap beseer en daarna volg 'n grusame moord. Twee uiteenlopende gebeure, wil dit voorkom, maar die gerugte op die dorp vertel 'n ander storie. En gemoedere loop hoog. Gooi by hierdie onstabiele situasie ekstreem konserwatief-christelike sienings, 'n Portugees wat met wapens smokkel, 'n verhouding met die verkeerde vrou en 'n vriend uit Adriaan se verlede wat ou spoke opjaag en jy het 'n kruitvat wat wag om te ontplof. Adriaan sit dalk op die grootste - maar ook die gevaarlikste storie van sy kort joernalistieke lewe. En hy is beslis nie toegerus vir die een nie. Wat jy sien, is nie altyd wat jy kry nie.
Dit lyk asof kaptein Kassie Kasselman met 'n reeksmoordenaar te kampe het toe Kaapstad se ses en vyftigjarige mans kopskote begin kry. Maar Kassie is nie oortuig die moorde dui nie op iets anders nie . . .
Die lyk van Ernst Richter spoel oop in die duine anderkant Parklands - dié Ernst Richter, baas van die omstrede Alibi.co.za, wat 'n maand gelede verdwyn het. Die saak sukkel; boonop het Griessel weer aan die suip gegaan en is Cupido verlief. Dan begin 'n jong wynboer bieg voor 'n advokaat in Kaapstad en keer die hele saak op sy kop . . .
Dis 1931. Maria is swanger en haar stiefpa sit haar op 'n boot om by haar tante in die Hollandse platteland te gaan bly om die baba te gaan he uit die oog van die dorp waar haar stiefpa predikant is. Haar tante aanvaar haar in liefde en vra nooit uit na die pa van die kind nie. Die dorpsgebied se predikant, Reijer begin ook by Maria kuier, ten spyte daarvan dat sy swanger is. Na die verloop van interessante dog hartseer gebeure, leer Maria uiteindelik om haar babadogter Mara lief te kry. Sy leer ook in die proses om vrede te maak met God as barmhartige en liefdevolle Vader en nie die soort pa wat sy ken nie. Dis 'n verhaal van lief en leed en hoe die liefde triomfeer.
Met Kamee maak Roela Hattingh haar debuut as kortverhaalskrywer. Die 24 verhale in hierdie bundel fokus op sentrale temas soos verlange, verlies, liefde en begeerte, wraak en menslike broosheid. Hattingh is veral geinteresseerd in aspekte uit die ervaringswereld van vroue, en daarom tref die leser dikwels vroue as sprekers en protagoniste aan. Nietemin vind Hattingh se belesenheid en navorsing neerslag in uiteenlopende situasies en vertellerstemme. Die titel (in Engels: “cameo”) simboliseer verlies, herinnering en verewiging. 'n Waardevolle toevoeging tot die Afrikaanse kortverhaaltradisie in die styl van Henriette Grove en Elise Muller.
Gebasseer op ‘n ware verhaal van geloof en oorwinning. As 16-jarige vlug Engela na Bloemfontein, want die leier van die Sataniese Groep 13 wil haar doodmaak. Haar paaie kruis met dié van Pieter, ʼn vriend van haar broer, wat haar aan ʼn bordeel-eienaar uitlewer as betaling vir die geld wat hy hom skuld. Na ʼn haglike en armoedige kinderlewe raak Engela as rebelse tiener deurmekaar met Satanisme, drank en dwelms en word uiteindelik as seksslaaf aangehou. Haar enigste begeerte is om te ontsnap, maar hoe? Elke aand word die klub se deure dig gesluit. Haar laaste kans op vryheid is die jong student, Jacques, wat in die ontvangslokaal van die klub werk. Maar dan verdwyn hy ook uit die prentjie na ʼn raaiselagtige ongeluk in die Drakensberge. Van Skoolbank Tot Bordeelbed is ʼn spanningsroman deur Jaco Hough-Coetzee, gebaseer op die aangrypende lewensverhaal van Elanie Kruger. In die tweede gedeelte van die boek gesels Elanie self met die leser oor haar bittere ervarings. Sy vertel hoe sy haar gevoelens van verlorendheid, alleenheid, pyn en vernedering vanuit ʼn Christelike perspektief leer hanteer het. Sy reik uit na ander gewese seksslagoffers en moedig hulle aan om hul harte uit te stort om emosionele genesing mee te bring. Sy praat oor die krag van vergifnis en aanvaarding, en gee ook lewensbelangrike praktiese wenke aan ouers en kinders.
Het sy maar die geheim geken van die nag toe Rudolf Dreyer by haar in die grot gebly het. Hy sestien en sy net agt. Maar almal swyg daaroor. Haar pa stuur haar weg kosskool toe. En Rudolf vertrek Engeland toe. En nou, met ’n oorlog op hande, loop Catriona hom weer raak, steeds die man wat haar hart in sy hand hou. Maar hy vermy haar. Van liefde tussen hulle kan daar nie sprake wees nie, glo hy. Hoe kan dit? Hy betaal nou nog die prys vir jare gelede. En hoe kan sy weet wat sy daardie nag verkeerd gedoen het?
Vic was een van die gevreesde manne wat voor 1994 “ongewenstes” moes “uithaal”. Hierdie opdragmoorde haal hom nou in. En daar bo sit manne uit die ou en die nuwe era wat baie te verloor het.
Pedale van papier begin waar die ou getroue Trifiena vir Karien (haar werkgewer) help om 'n clavier na buite te trek-stoot. As die klavier buite is, begin Karien dit met mag en mening met 'n byl stukkend kap. Die splinters spat in alle rigtings soos wat sy die byl in die klavier inle. Terwyl sy haar klavier verwoes, dink sy terug aan haar kinderdae... Rhona Scheepers se roman Pedale van papier is gebaseer op 'n ware verhaal oor 'n dogter se aanneming en verwerping. Dit vertel onder andere ook van haar molestering deur 'n vertroude kerklike persoon. Sy het sedertdien op Robinson Regstreeks (KykNet) verskyn, en in gesprek met Freek Robinson verwys na die werklikheid van hierdie aandoenlike boek.
Gebaseer op die treffer TV-reeks. Jacques Rynhard, een van die land se
gewildste skrywers, verdwyn op die kruin van sy loopbaan. Joernalis
Carina Human moet uitvind waar hy is, maar meer belangrik, hoekom hy
verdwyn het. Sy krap 'n perdebynes oop van verraad, donker geheime,
moord en mislukte verhoudings.
Op 'n kontinent wat ongelooflike rykdom verberg, aanskou Sean Courtney en sy tweelingbroer, Garrick, die eerste lewenslig. Die sorgelose lewe op hul pa se plaas in Natal word egter wreed onderbreek wanneer geweld, begeerte en die noodlot Sean wegruk van alles wat bekend is. Op die Witwatersrand, waar goud pas ontdek is, moet Sean sy pad oopveg na sukses. In die tog om sy fortuin te maak, bou hy ook 'n lewenslange vriendskap, konfronteer sy duiwels en baan sy weg na 'n belowende toekoms. Dan ruk verraad die mat onder sy voete uit en als waaroor hy gewerk het, word skielik van hom af weggeneem. Maar wie nie waag nie, wen nie . . . In die wildernis wag 'n nuwe avontuur. Niks kry hom onder nie - nie 'n verwoede aanval deur 'n olifantbul of die grusame sterftes wat hy moet aanskou nie - en steeds bly Sean droom van 'n gesin en 'n plaas van sy eie. Die dapper jong man wat alles met bloedsweet oorwin, besef egter weldra dat die verlede hom steeds in sy kloue beet het . . . Witwatersrand is the Afrikaans translation of Wilbur's first book - When the Lion Feeds.
Pragtige Nelia word deur sakeman Boris de Beuck verkrag. Maar skielik is daar sprake van 'n video wat glo bewys dat Nelia vrywillig betrokke was. Woedend besef sy dat magtige Magda, Boris se ma, agter die skerms konkel. Nelia neem reg in eie hande en as IT-spermuur spesialis, sit sy met 'n dodelike troefkaart. Ook kry sy hulp van vreemdeling Retief Boshoff wat vermoed dat haar saak verband hou met 'n voorval uit die tweede Vryheidsoorlog, 111 jaar gelede. Moeksie, Retief se grootouma, was toe ook 'n slagoffer van 'n verkragting. En die verdagte? Sep de Beuck, Boris se grootoupa. Om alles te kroon, was Sep 'n joiner wat openlik met Kakie geheul het. Maar daar's 'n kinkel. 'n Kakie-soldaat was daardie stormagtige nag ook op die plaas en Moeksie kon nie haar aanvaller eien nie. Al wat sy in die weerlig kon sien, was iets soos 'n geboortevlek op die man se maag. Op soek na die man met die vlek, delf Retief en Nelia diep in die twee families se voorgeskiedenis; vanaf die oorlog in 1902, via die gewapende stryd van Umkhonto We Sizwe in die 70's, tot en met die Kerkstraat-bomaanval in 1983. Retief skryf verbete aan sy familiegeskiedenis, onder andere oor die Boshoffs se eed om wraak op die De Beucks te neem. Nelia besef Retief sit in sy eie manuskrip vasgevang en vermoed dat dit die einste eed is wat hom so in die verlede hou. Daarenteen het Nelia, as weggooikind, geen idee wie haar voorsate is nie. Eers huiwer sy om saam met Retief te werk, maar besef dan dat haar herkoms met die van die Boshoffs verstrengel mag wees. In Retief se manuskrip, ontmoet Nelia vir Aletta, Retief se ander grootouma. Hierdie beeldskone Boervrou kon nooit die Boer se uiteindelike oorgawe aanvaar nie en trap gevolglik 'n bloedspoor deur die verhaal. Meegevoer, besluit Nelia dat 'n stryd soos Aletta s'n nooit verby kan wees nie. Sy sit dan die oorlog eienhandig voort en wel met virus-aanvalle via die internet. Haar wapen is haar eie vernuf asook eMajuba, 'n digitale oorlogmasjien wat sy tyd ver vooruit is. Onvermydelik loop dinge uit op 'n dodelike konfrontasie, maar ook volg 'n wrede ontnugtering as die draer van die vlek uiteindelik ontbloot word.
Katelknaap vir Carlien Weduwee Carlien Arendse het mans afgesweer. Vir die afgelope tien jaar is sy dolgelukkig om alleen te wees met haar werk as Streekhoflanddros om haar besig te hou. Totdat sy een oggend gaan draf en letterlik in 'n blonde adonis vashardloop wat haar lewe onherroeplik verander. Te midde van die skindertonge op die dorp, vind Carlien uit dat liefde hom nie deur die ouderdom laat voorskryf nie. Gogga op ’n Harley Superintendent Karen Visser moet ten spyte van die vooroordele teenoor haar voorkoms, diamantsmokkelaars vastrek in die Noord Kaap. Waarmee sy nie rekening gehou het nie, is die uitwerking wat die rooikop Dewald en sy dogtertjie Amalia op haar hart sou hê. Tussen haar eie leuens en bedrog vind Karen uit dat die hart hom nie so maklik om die bos laat lei nie.
Eendag, lank gelede toe klokbroeke soos kleefplastiek aan ordentlike jong mans se lywe geklou het en Abba Springbokradio aan die brand gesing het, het Boet Beauman die mooie Maria in Barcelona ontmoet. Nou, byna vyf en dertig jaar later, regeer Boet die Beauman sy vrou en die drie produkte van hul huwelik met ’n arm wat maklik draai vanuit sy Italiaanse teelmaatskappy se besturende direkteurstoel.
Vuurtoringwagter Hannes Harker word met sy vrou na ’n afgeleё eiland verplaas. Hy ontdek iets wat lank in die toring weggesteek was wat hom sy balans laat verloor, en hy val. In die hospitaal vertel hy met rukke en stote aan verpleegsuster Rika sy lewensverhaal – van sy ma se geheimsinnige dood, van sy onbeheerbare jong vrou, Aletta, en van die verlate eiland waar net die vuurtoringwagters en ghwanowerkers woon. Dié twee groepe leef saam maar tog ook streng apart op een van die onherbergsaamste plekke op aarde. Met die aankoms van ’n karakter uit Aletta se verlede kom haar eie geheime onvermydelik aan die lig, net soos die pruttende spanning en onregte wat die ghwanowerkers so lank verduur het tot uitbarsting kom in ’n enkele, skokkende gebeurtenis. Die Bewaker is die verhaal van twee geslagte vuurtoringwagters – mans verbete in hulle plig, en vroue wat saam met hulle in skrikwekkende afsondering leef. Dit is geskryf in die kenmerkende meevoerende styl waarvoor Marguerite Poland so bekend is, nou vir die eerste keer in Afrikaans. ’n Roman oor die krag van geheime, die krag van die liefde en die krag van stories.
Kruispad is die kern van Deon Opperman se groot TV-trilogie oor die Afrikaner se pad in Suid-Afrika. Dit beeld presies uit waar die groot verandering gekom en hoe die Afrikaner daarop gereageer het. Die roman wentel om Sophia en Mariana, die twee dogters van ’n welgestelde boer, Soois van Rooyen, en sy vrou, Mart. Sophia is met die skatryk FG van den Berg getroud en Mariana met die arm, bekrompe Andries Landman. Terwyl FG en Andries albei hul ekonomiese status ná die verkiesing van 27 April 1994 verloor, sit hul onderskeie seuns, Klein FG en Henk, met die nalatenskap van apartheid. Kruispad belig nie net die snykant van apartheid fel nie, maar boor ook diep in die problematiek waarmee die Afrikaner in die jare negentig moes worstel en toon hoeveel inbors en karakter dit verg om die juk van die verlede af te skud.
In 1998 arriveer ’n jong Suid-Afrikaner in Brooklyn, New York, waar hy oor ’n tydperk van ’n paar jaar as kroegman met ’n groep karakters by The Alibi kennis maak. The Alibi is ’n hool vol dwelmverkopers, musieklief hebbers, werkersklasmense en Guinness. Hier speel die klandisie pool en kyk Jeopardy!, terwyl ’n vlaag rykes uit Manhattan die ou woonbuurt se boomryke strate van alle kante af invaar om sy historiese brownstones op te raap. Vinnig verskyn sojamelk en organiese groente op die rakke van plaaslike winkels. Dit is ook hier vanwaar die leser die aanval op die World Trade Center in 2001 meemaak en sien hoe New York deurgaar word, met angs en suspisie wat ryp raak op die sypaadjies. Jaco van Schalkwyk se aangrypende debuutroman is ’n unieke dokument oor ’n tydperk in die lewe van ’n groep individue, ’n woonbuurt en ’n stad wat onherroeplik verander het.
Die briljante poligrafis Kalli Krynauw is deel van Special Intelligence Services se span. Hulle is op die spoor van ’n reeksmoordenaar wat tot die uiterste gaan om sy slagoffers te skend voor hy hulle om die lewe bring. Kalli het goeie rede om te vermoed die reeksmoordenaar is deel van SIS se ondersoekspan want hy stuur selfs e-posse om hulle in kennis te stel dat hy op die hoogte van elke beweging van SIS is. Maar wie in die span kan dit wees? Daar is ten minste drie moontlikhede. En, net so erg, die skisofreen wat ’n obsessie gehad het om Kalli dood te maak, bevind hom glad nie meer permanent in ’n Kaapse inrigting soos sy destyds ingelig is nie. Trouens, hy woon nou in ’n nabygeleë buurt. Intussen word dit tyd vir Kalli en haar Brink se troue wat nou al hoe lank uitgestel word. Op wat hulle troudag sou wees, het hulle egter allesbehalwe ’n huwelik om te vier ...
Wat doen ’n sepiester wanneer ’n onbesonne taxibestuurder haar motor tref en sy met ’n geskende gesig in die hospitaal wakker word? Die vrou in die spieël het haar vyand geword. Maar Thea was nog nooit ’n touopgooier nie. Sy gaan Mosambiek toe en wy haar aan mense wat onder die ellende van ’n verarmde land gebuk gaan. Dit is hier waar haar pad kruis met dokter Matt Barnard, van Portugees-Afrikaanse afkoms en ’n plastiese chirurg wat tydelik verligting bring in ’n hospitaal in Vilanculos, Mosambiek. In sy oë is daar nie afgryse wanneer hy na haar gesig kyk nie, net deernis. Maar hierdie man loop self met ’n sielestryd. Binnekort keer hy terug na die Santo Sebastiono-klooster waar hy die res van sy lewe as monnik sal slyt. Op hierdie kwesbare stadium in Thea en Matt se lewe, aan die romantiese ooskus van Afrika, vlam hulle liefde vir mekaar op. Maar dit is nie so maklik om om te draai op die pad wat hulle lewe reeds ingeslaan het nie. |
You may like...
|