![]() |
![]() |
Your cart is empty |
||
Die woordeboek se die erotiek gaan oor al die verskynsels en gevoelens van "sinlike" liefde, en oor die kuns "om lief te he". Die erotiek was nog altyd met ons en sal altyd met ons wees – nie net in die slaapkamer nie, maar ook in vele mooi dinge in die wereld om ons: 'n Rodin-beeldhouwerk, 'n Picasso-skildery, 'n Dvorak-simfonie, 'n Zeferelli-rolprent, 'n Ferrari-ontwerp of Alexander McQueen-tabberd. Maar erotiek het nie altyd met die liefde te make nie. Soms is dit sinloos, sedeloos, waansinnig en onsinnig ... Erotiek hoef nie noodwendig sag, pienk en romanties te wees nie. In Afrikaans het ons al bundels gehad wat die onderwerp ondersoek – dink maar aan Lyfspel/Body Play (1994), Rachelle Greeff se versameling erotiese verhale deur vroue; Johann de Lange en Antjie Krog se bundel Die dye trek die dye aan (1998), en meer onlangs was daar Maanvrug en Slavin deur Annelise. Tafelberg se erotiese bundel, Bloots, het op die rak verskyn net mooi toe Fifty Shades of Grey die wereld stormenderhand verower het. Perfekte tydsberekening, ne. Nou vra Tafelberg opnuut 'n magdom mense om hulle erotiese verhaal vir ons te vertel, want in Afrikaans het ons nog lank nie die erotiek uitgese nie: Daar's ou hande en nuwe stemme; digters, joernaliste, skrywers, sangers, sakemense, sosiale vlinders, sekskatjies, tuiniers, politici, komediante, kosmense, kerkmense, kunstenaars, kommentators, ekonome, en regisseurs. Daar’s ma’s en pa’s, oumas en oupas, weduwees en wewenaars, ougetroudes, geskeides, alleenlopers. Van hulle is bekend, ander minder bekend. Skarlakenkoors, die wildste en wydste versameling erotiese verhale in Afrikaans, sal beslis jou bloeddruk laat styg . . .
Daar's 'n moorddossier op inspekteur Kassie Kasselman se lessenaar . .
. Van Nigeriese rebellegroepe, dwelmsluikhandel uit Kaapstad wat raak
aan die Taliban, en polisiemolle met duister geskiedenisse moet Kassie
- posseël- en boeremusiekliefhebber, alleenloper-speurder met 'n
ernstige waarskuwing op sy diensrekord - sin maak. Iemand het sleg
geknoei, maar hoe hoog op strek die kwaad? Slagyster is 'n
debuut-spanningsverhaal deur 'n opwindende nuwe stem in die genre, en
vir inspekteur Kasselman sal ons vorentoe weer ontmoet.
Jessica se lewe is maar soos enige ander graadtien s’n: sy leer die liefde ken, gaan skool toe, sukkel met haar tweelingbroer en geniet die lewe voluit. Dan kom die aaklige skoolkonsert nader, en skielik moet die onmusikale Jessica aan ’n musiekitem deelneem. Vir Jessica daag hulp uit 'n onverwagse oord op ... want nie almal het oumas op motorfietse nie! Liefde is magic is gemik op tieners tussen elf en sestien. Soos in Rossouw se vorige jeugverhale word dit duidelik dat Rossouw ’n besonder goeie aanvoeling vir die psige van ’n tiener het.
Jansie Ziman weet daar het iets verskrikliks met sy vrou gebeur toe sy 'n kind was. Hy weet Kleintjie het 'n berader nodig, hy kan dit insien. En hy moet toegee, sedert sy hierdie Wanda-vroumens begin sien het, lyk dit asof daar iets van die vrag op haar skouers afgelig is. En dit sal seker help as Kleintjie, soos die sielkundige voorstel, haar verhaal begin neerskryf. Hy sal help lees, ja, hy weet mos wat om te verwag. Jansie Ziman het geweet, maar ook nie geweet nie. Weekliks kry hy ’n stapeltjie papier van sy vrou. Hy sukkel aanvanklik, maar leer later haar gedagtestroom verstaan. Dit is die weergawe van Kleintjie se gesprek met die sielkundige, kan hy sien, maar dit is 'n maalkolk van 'n gesprek, 'n byna desperate skermutseling wat om en om tol om ’n donker gat, en stelselmatig in daardie donker gat afgesleur word. En daardie donker gat het ’n naam. Sy naam is Pastoor. Pat Stamatelos vertel op ’n skreiend aangrypende wyse die ware verhaal van ’n vrou wat as ’n jong kind in die hande van ’n pedofiel beland het – in die hande van ’n kerkleier wat sy duiwelswerk onder die dekmantel van jeugberading verrig. Dit is die verhaal van ’n kind wat deur haar lewensomstandighede in hierdie leeukuil gewerp is, die verhaal van ’n vrou wat stadig doodbloei aan die wond wat daardie pastoor haar toegedien het, met die hulp van haar pleegouers se ellendige onkunde. 'n Mindere skrywer sou maklik hiervan iets sensasiewekkend kon maak, maar Pat Stamatelos se hantering daarvan is ’n noukeurige studie van ’n verwonde psige, en ’n onverskrokke oopvlekking van ’n kanker aan die hart van ons samelewing. Hartverskeurend en terselfdertyd absoluut aangrypend.
In hierdie opvolg op Vier begrafnisse en ’n troue kry ons te doen met die twee jonger Douglas-vroue: Lucy Jordan-Douglas, nou al sewe jaar gelukkig getroud, en Cheryl Douglas, suksesvolle grimeerkunstenaar en op pad bóóntoe op die loopbaanleer. Lucy en Ashwin is in die wolke oor haar swangerskap, maar ná twee miskrame moet sy sorg dat sy alle emosionele ontsteltenis vermy. Dis makliker gesê as gedaan. Haar verhouding met skoonma Dulcie is maar stram, en sy is bekommerd oor wat in Sheena, haar sestienjarige, se kop aangaan. En dan is daar die dood van Eddie Stamper – dief en skollie en ongelukkig haar swaer. Toe Lucy se broer onverwags opdaag by die staatslykhuis waar sy werk, wéét sy iets klop nie. Cheryl Douglas steur haar eenvoudig nie aan dié wat sê dat sy oppervlakkig en materialisties leef nie. Sure, sy is lief vir blieng en sy is op soek na ’n bietjie maklike romanse, maar sy verlang ook na iets meer . . . iets dieper. Die ding is net: moet sy nou regtig soveel paddas soen voor sy haar prins (óf prinses) ontmoet? ’n Plek-plek makabere en satiriese roman, maar steeds baie menslik en heerlik leesbaar. Deur die gewilde skrywer van Kroes en Die val van die dice.
In Eensaam op Wegdraai besef die tweeling Bokkie en Tokkie hulle sal 'n blink plan moet smee as hulle nie juffrou Huizeman as hul nuwe ma wil hê nie. Die oplossing: hulle soek eerder sélf 'n moeder so na hul hart. En die aangewese plek is Soek en Vind, tydskrifhoekie vir eensames. In Verworpe silwer fuif Louis Mocke op sy eerste huweliksnag saam met sy vriende in die hotelkroeg. Was sy erfporsie tog die lokaas vir sy blitshuwelik met Santie Marais? En jaag sy broer, Darius, net spoke op wanneer hy haar waarsku om haar goed te vat en te loop? En in Wag-'n-bietjiebos van die liefde ondersoek die maatskaplike werker Lisbe Erwee 'n nuwe geval in Keerboomstraat en word onvermydelik in die wag-'n-bietjiebos van die lewe vasgevang.
"Kerneelsie droom groot" is die tweede titel in 'Oom Vossie Vertel ...' Kinderboekreeks.Kerneelsie droom van sy geboorte af oor tye lank gelede toe varke vry in lusernlande geleef het. Van die ingehokte varkielewe binne groot geboue hou hy net mooi niks nie Lees hoe Kerneelsie se droom bewaarheid word
Weduwee Carlien Arendse het mans afgesweer. Vir die afgelope tien jaar is sy dolgelukkig om alleen te wees met haar werk as Streekhoflanddros om haar besig te hou. Totdat sy een oggend gaan draf en letterlik in 'n blonde adonis vashardloop wat haar lewe onherroeplik verander. Te midde van die skindertonge op die dorp, vind Carlien uit dat liefde hom nie deur die ouderdom laat voorskryf nie.
In ’n arm gemeenskap waar tik toenemend verwoesting en hartseer veroorsaak, vra drie ma’s al hoe meer wanhopig: wie is skuldig en wie staan dan vir geregtigheid? Maria verloor eers haar man en daarna haar seun. Ook haar suster, Stienie, en hul buurvrou Bettie moet magteloos toekyk hoe hierdie nuwe plaag hul lewens en huise indring, hulle vasketting aan hul uitsiglose omstandighede. Teenoor die sukkelende bestaan en swaarkry van dié drie gesinne word die luukse en gewetenlose bestaan gestel van die bendeleier Dolf Pistoors, die Groot Beer. Maar daar is wel een man wat hom beywer om die euwel te beveg en hom skaar aan die kant van die vroue, kaptein Wielieboy Mathabola. ’n Onthutsende roman oor die mens se uitgelewerdheid aan magte buite homself en sy stryd om geregtigheid. Wat in die media slegs koerantberigte is, kry onrusbarende gestalte in Phillips se outentieke uitbeelding.
Tristan Hansen is 'n man wat R15 000 per nag vra en die land se mees
invloedryke en wêreldwyse vroue soveel plesier gee dat hulle terugkom
vir meer. Maar wanneer een van sy kliënte haar eie lewe neem, verander
die plesierengel in 'n doodsengel, en bely sy kliënte die een na die
ander wat agter toe deure gebeur het. Maar waarom doen hy dit? Beslis
nie net vir die geld nie. 'n Sielkundige, Erika Hamilton, ontmoet hom
toevallig. Albei van hulle bied op beroepsvlak verligting van neurose,
onvervuldheid en frustrasie - die een op akademiese wyse, die ander met
lyflike plesier. Wat gebeur wanneer hulle ontmoet?
’n Spanningsvolle roman oor ’n man in wie ’n onbekende mag stadig die oorhand kry. Die verhaal wentel rondom Samuel wat as seun reeds kennis maak met die donker sy van die lewe. Sy inisiasies in die grootmenswêreld (liefde, seks, die “reëls” van die ou Suid-Afrika, joernalistiek), van die 1970’s tot die 1990’s, is vervleg met sy obsessie met die skêrmoordenares Marlene Lehnberg. ’n Boeiende, intrigerende roman – die skrywer kry dit goed reg om die tydsgees en die manier waarop onskuld geleidelik verdwyn oor te dra.
Ignatius Smit sterf by geboorte op Woensdag, 3 Maart 1982 op Katima Mulilo in Namibie se Kaprivistrook. Omdat Ignatius se ouers die sendingpaar is, word hy begrawe op 'n afgelee plek in 'n bos, naby die graf van magistraat Trollop wat aan koors in Barotsiland gesterf het. Sy ma sukkel om sy dood te verwerk, omdat sy as geestelike leier verantwoordelik voel vir die vertroosting van die dorpsmense, wat net so platgeslaan is deur sy onverwagte dood. Jare later haal sy onverwekte dood haar in. Hierdie is haar, Leonette, se verhaal. Dis 'n verhaal van verlies en die verwerking daarvan, wat grootliks afspeel binne die militêre milieu - waarvan grenslewe 'n groot komponent is. Baie jare later kry sy vertroosting deur berading en musiekterapie van 'n orrelsimfonie van Saint-Saens. Dit gee vir haar 'n visualisering van Ignatius se lewe na die dood. So kry sy volkome bevryding vir haar pynlike smart.
Vier jaar gelede het Kaptein Hugo Dreyer haar verdink dat sy 'n aandeel gehad het in die moord op haar pa. Nou glo hy dat sy betrokke is by die ontsnapping van haar eks uit die gevangenis. Wanneer hy ongenooid op Annelie Verwey se forelhengelplaas arriveer, dwing hy haar om haar eie waardesisteme te ontleed terwyl sy veg om die behoud van haar hart. Maar dinge is nooit eenvoudig nie en Annelie moet besluit of sy genoeg moed het om slegs die lyflike plesiere wat Hugo aanbied, te aanvaar. Kan sy die stoute skoene wat hy so eroties aanbied aantrek sonder om haar hart en siel in die proses te verloor?
In Die Tonnel word die verlamde Ilse deur haar vader se testament verplig om langs vele kronkelpaaie te reis voor sy die eindpunt van die lang, duister tonnel kan bereik en haar droomster kan gryp. In Keerkring Van Die Hart het Kasper ’n vergeefse droom oor die hooghartige Liesel. Kan dié skugter man tot haar redding kom, al het sy met ’n swierbol getrou? En in En Die Klippe Sal Uitroep is Emile, kroonprins van modelplaas La Rhône, ’n gesogte vangs onder die skone geslag, maar by nuwe verpleegsuster Miempie, ’n kampvegter vir menseregte, loop hy sy rieme styf .
Polisievrou Erica van der Linde het die perfekte manier gevind om te verseker dat getuies onder haar bewaring in die getuiebeskermingsprogram in Kaapstad versteek bly. Sy vermoor hulle. En wanneer die voormalige kriminele oorgaan van ’n lewe van misdaad na diè van versteekte staatsgetuies, is daar niemand wie vir hulle soek nie. Maar sy’t nog nooit ’n getuie soos Daniel Enslin teëgekom nie.
Linda is die ander vrou, die oorwinnaar in die liefdesdriehoek. Maar die krake in haar huwelik wys reeds tydens die wittebrood. Dié roman vorm ’n tweeluik met Eendagmooi, waarin die versaakte vrou se verhaal vertel word.
"My planne is reeds agtermekaar. Ek gaan van Kingsberg 'n onvervreembare erfenis maak tot na die vierde geslag. So sal ek sorg dat niemand hier afbreek wat ek opgebou het nie. Niemand sal hier iets kan doen wat die volgende geslagte benadeel nie." Voordat John Adams hierdie uitspraak maak, is Suid-Afrika die droomland met onbeperkte geleenthede. Hy emigreer van Engeland hierheen, word 'n skatryk diamantmagnaat en grondbaron. Hy werk die toekoms haarfyn uit vir sy kinders en die nageslagte wat sou kom. Sy vrou, Sarah, waarsku: "Kinders het nie kontrakte met hul ouers wat maak dat hulle nie kan wegbreek nie." So word elke karakter in hierdie aangrypende verhaal inderdaad 'n persoon met eie drome, eie ideale. Onherstelbare konflik volg, verhoudinge verbrokkel en drome word verpletter. Die Adams-familie word byna tot mislukking gedoem weens John se obsessie met welvaart en die behoud van Kingsberg vir die geslagte. Die massiewe sandsteenkasteel met sy 32 vertrekke word net so 'n belangrike "karakter" in die verhaal as die familielede. Sandsteenkasteel is 'n aandoenlike maar ook kragtige verhaal. Dit is 'n kunstig gestruktureerde ontginning van die verlede: 'n boeiende stuk persoonlike sowel as streeksgeskiedenis wat in die Oos-Vrystaat afspeel.
'n Mens is die storie wat jy van jouself vertel. Liefde is 'n wegholvuur, en die wind is so wispelturig soos mense. As die wind kom draai is Hans du Plessis se jongste historiese roman. Kan Vryheid, afstammeling van 'n slaaf, vir mooi Magriet Skuilhoek toe bring as die bergland haar so beklem? Buitendien, se haar ma: Vryheid is nie een van ons nie, dis tog wat Artikel Ses van die Burgerraad se Drie en Dertig Artikels eintlik se. Hoe durf 'n basterkind soos Vryheid daarteen baklei, een wat nie eers weet wie sy pa was nie? En hoe le jy liefhe uit? ""Artikel Vier en dertig,"" skree Margriet oor die osse se koppe, sodat haar pa verskrik omkyk: ""Die wet van Mooidorp: jy mag nie liefhe nie!"""
Elke vrou vir haarself is 'n meesleurende familiesage oor die lief en leed van die drie Keet-susters. Die twee oudste susters, Nelia en Adri, werk by hul ma se ou vriendin Emmie by die Hotel Woltemade in Kaapstad. Kort hierna sterf hul ma en neem Emmie hul laatlamsussie, Carine, aan. Maar uiteindelik moet elkeen van hulle hul eie paadjie loop en talle terugslae oorkom op hul weg na vervulling in hul professionele en liefdeslewe. Daar is suksesse en teleurstellings, vreugde en hartseer. Dit sal jare wees voordat die donker geheim in die Keet-familie uitgerafel word. Sterk vroue, glorieryke liefde, ontrou, verraad, passie, wraak. Maar uiteindelik is dit tog die liefde wat seevier. Amber maan, oker son en ander verhale neem die leser na uiteenlopende plekke. Die titelverhaal speel af in die oorloggeteisterde Angola waar die joernalis Esperanza Santana en haar Franse eweknie, Gerard Jobert, by mekaar skuilplek soek. In elke verhaal speel identiteit ’n sleutelrol; die vinnige pas en warm tonele sal lesers meesleur.
Deborah Deysel is ’n suksesvolle operasangeres in Zurich – oorspronklik van Suid-Afrika – met geraamtes in haar kas. Luitenant Janek Baptiste lei ’n spesiale Moordeenheid in die Zurich Misdaadpolisie. ’n Bekende dirigent met wie Deborah ’n verhouding gehad het, word vermoor. Die moord, ’n geheime opname van ’n opera-aria en ’n skande bring Deborah en Janek se werelde in botsing met mekaar. Terwyl hulle die leidrade opvolg, besef nie een van hulle dat hulle op pad is om die ontdekking van 'n leeftyd te maak nie.
Die bruid van Blouberg: Die Branks van Blouberg laat nie met hulle speel nie, en Lecia Brank, mede-erfgenaam van die spogplaas Blouberg, is geen uitsondering nie. Maar vanuit sy graf trek oom Isak Brank nog vir oulaas 'n paar toutjies toe hy in sy testament bepaal dat Lecia sekere voorwaardes moet nakom, anders erf Wouter Fouche alles. Geen Brank kon nog ooit nee se vir 'n uitdaging nie, maar weet Lecia dat die voorwaardes behels dat Wouter 'n se het oor haar liefdeslewe en dat sy moet leer boer? 'n Lang, vreemde pad: Was dit nie vir die skoonheidskompetisie nie, sou Elise Eybers se pad seker nooit met die van markies Germano de Nobrega gekruis het nie. Hul liefde raak 'n verterende vlam . . . tot 'n jaagduiwel op 'n motorfiets haar geheue in inkswart duisternis dompel en hul liefde op 'n vreemde kronkelpad geplaas word. Blom van Venesie: Die beeldskone Terri Massyn is ewe tuis is in 'n aandrok as in haar ligblou oorpak op 'n trekker of 'n perd se rug. Toe sy haar by haar suster op die Italiaanse eiland Santa Teresa aansluit na haar swaer se dood, ontmoet sy die sjarmante maar dominerende graaf Marco de Castellano – wat glad nie genee is met sulke "onvroulike" gedrag van 'n dame nie. Wie gaan vir wie tem in die magstryd tussen die donker edelman met sy konvensionele idees en die tenger, blonde vuurvreter uit Suid-Afrika?
'Oom Vossie Vertel . . .' Kinderboekreeks Rooster verloor sy kraai 'n Aangrypende storie van getroue ou Rooster, spoghaan van Rusplaas, wat skielik nie meer kan kraai nie. Dit veroorsaak probleme vir al die plaasbewoners. Boer het geen ander keuse as om Rooster dorp toe te stuur na Tannie Anita toe nie. By Tant Lette van die buurplaas, koop hy vir Naas, die jong windbolhaan, wat Rooster se skoene moet volstaan op Rusplaas. 'n Taak waarin Saar, die hoofhen, Naas in moet skool. 'n Lekkerlees storie vir die jongspan, maar die ouergarde sal ook daarmee kan identifiseer.
My hartjie, my liefie: Toe Alet Fourie by Walvisbaai se treinstasie afklim, kan sy haar teleurstelling skaars verberg. Wat het haar besiel om ‘n onderwyserspos op so 'n afgelee dorpie te aanvaar? As dit nie vir die dierbare leerlinge was nie, het sy haar goedjies in 'n japtrap gepak en teruggekeer huis toe ... na Pieter toe. Die voorskootbataljon: Karlien Joubert se jare lange droom om te boer, spat aan skerwe toe die prokureur haar oupa se testament aan haar verduidelik. Wie is die vreemdeling wat die grootste gedeelte van haar oupa se plaas besit? En waarvan, dink die wildvreemde man, moet sy, haar vier susters, en haar ma en tante dan oorleef as hulle nie in die ou plaasopstal welkom is nie? Fort van die kappiedraers: Skaars 'n week gelede het Stieneke Kitshoff nog geglo Teuns het haar lief ... dat hy sy buurman Piet Coetzee doelbewus oorreed het om haar as goewernante vir sy vier spruite aan te stel, daar op hul verafgelee plaas in Suidwes. En nou, sewe dae later, is sy saam met die Coetzees op vlug . . . op pad na ‘n beskutte fort op Ovikokorero, met Teuns nerens in sig nie. En die enigste man wat bereid is om haar teen die gewapende vyand te beskerm, is die arrogante Jaap Venter!
Die boek bied ligte lees vermaak in Afrikaans, veral aan diegene wat wonder oor die lewe op 'n plaas. Plaasjapies aan die anderkant mag dalk terug gevoer word na hulle eie dae op die plaas en met verlange terugdink aan hulle ervarings en sorgelose tye in die platteland. Die boek is geskoei op 'n meer eenvoudige lewe rondom 'n klein plattelandse dorpie in die Riemland. Wat vroeer bietjie van 'n spotnaam was (amper soos takhaar) is deur baie boere aangeneem as hulle omgewings naam. Is die Riemland in die Oos-Vrystaat dan nie een van die mooiste dele van ons land nie? Die denkbeeldige gemeenskap van Rietfontein, iewers tussen Bethlehem en Frankfort, is 'n plattelandse dorpie waar die storie afspeel. Leer ken 'n klompie boeremense, kyk wat hulle aanvang en proe saam met hulle aan die tradisionele kos en lekkernye wat hulle geniet. Ervaar die die plaaslewe soos net Makkie dit kan vertel. Ons eerste ervaring saam met die "Riemlanders" begin duisende kilometers verder Noord in die Sahara woestyn Wes van Kairo. Twee beroemde aanvoerders het kragte gemeet naby El Alamein. Die bloed van duisende manskappe het diep in die dorre sand van Egipte ingetrek terwyl Montgomery stadig die oorhand begin kry het oor die geslepe Rommel. Die slag was van deurslaggewende belang en het gelei tot die ontrekking van die Duitsers uit Afrika. 'n Strategiese oorwinning, wat ongelukkig diep sielkundige wonde op die oorlewendes nagelaat het. Gedurende die "hel" in die woestyn, was die Riemlanders daar - dag en nag soos die kanonne en bomme wat nooit opgehou het nie. Makkie neem ons tussen hulle tente, deur die loopgrawe en tot by die veld hospitaal van die Rooi Kruis. Die lewens van talle jong mans het in daardie paar dae vir ewig verander. Makkie de Beer skryf uit haar hart uit en het 'n wye ervaring van die lewe en 'n uiteenlopende vriendekring. Haar karakters voel later soos familielede en vriende wat jy bladsy vir bladsy beter leer ken en liefkry. Hulle is nie sonder foute nie en net soos ons gewone mense, probeer hulle om 'n lewe te maak vir hulleself en hulle geliefdes. Ervaar die hartklop van 'n plaas en voel saam met hulle, in hulle menslike pogings om geluk en liefde te vind. Nader aan die grond en midde in die natuur wissel die emosies soos die seisoene - van warm luilekker somersdae tot bittere koue en 'n stryd om oorlewing vir mens en dier. |
![]() ![]() You may like...
A Manual of Marks on Pottery and…
William Harcourt 1834-1912 Hooper, William Charles Phillips
Hardcover
R928
Discovery Miles 9 280
Byzantium in the Eleventh Century…
Marc D. Lauxtermann, Mark Whittow
Hardcover
R5,076
Discovery Miles 50 760
|