![]() |
Welcome to Loot.co.za!
Sign in / Register |Wishlists & Gift Vouchers |Help | Advanced search
|
Your cart is empty |
||
’n Verslag van Henry van Eeden se weeklange besoek aan die Silbersteins se groot landgoed om Salome, sy toekomstige bruid, te ontmoet. Elke dag lewer bisarre ervarings op en dit word vir Henry ’n inisiasieproses: hy moet sy onskuld verloor en kennismaak met die verweefdheid van die goeie en die bose.
Nooit het die pragtige Isabella ooit gedink haar lewe sal binne dae so drasties kan verander... Uit liefde vergesel sy haar geliefde broer na die diepte hart van Peru. Haar uiterlike verraai nie die diepe onsekerheid binne haar nie. Die smeulende Ricardo maak dinge vir haar glad nie makliker nie. Dan is daar die man wat die hele soekgeselskap financier. Luther McCallister het n reputasie as n man wat kry wat hy wil he, maak nie saak hoe nie. Een ding is verseker, vir geen oomblik sal sy toelaat dat sy as die hulpelose vroutjie gesien word nie! Isabella het egter nie besef hoeveel geheime Peru al die jare versteek het nie. Sal sy steeds haarself wees aan die einde van hierdie gekke soektog na n geheime stad van goud wat dalk nie eens bestaan het nie?
Is dit moontlik om geluk te vind in ’n huwelik wat twee stiefkinders insluit? Julia Meiring het haar ma verloor toe sy ses jaar oud was. Haar pa is dadelik weer getroud, en sy is deur 'n ongenaakbare stiefma grootgemaak wat byna die teenoorgestelde was van haar liefdevolle ma wat feitlik al haar aandag aan haar laatlammetjie gewy het. Julia vind die liefde van haar lewe in haar buurman, Wynand du Toit. Hy is 'n geskeide man, en die pa van twee kinders maar Julia laat haar deur die verhouding meesleur want Wynand se kinders woon in die Kaap by hul ma, en sy kan hulle heeltemal vermy. Omstandighede dwing Wynand se eks en haar gesin terug Gauteng toe, en Julia verbreek summier hulle verhouding. Sy sien nie kans om ʼn ma te wees nie, en nog minder ʼn stiefma. Haar drakoniese stiefma sterf, en Julia besef weer eens hoe min sy van haar eie ma weet. Sy probeer ʼn beeld van haar ma saamflans uit die herinneringe wat haar veel ouer sibbe half onwillig met haar deel. Stadig maar seker besef sy dat haar ma nie ʼn engel was nie, dat haar stiefma nie inherent boos was nie, en dat die liefde tussen haar en Wynand nie te ruste gelê kan word nie.
Lennet Loots is ’n alleenloper wat woon op ’n lappie grond in Baardskeerdersbos waar hy boer met groente en vrugte, en dagga. Jare gelede was hy ’n rekenmeester wat ’n voorstedelike bestaan gevoer het, maar iewers langs die pad het hy alles opgegee. ’n Ontroerende debuutroman – die relaas van ’n jong man wat verkies om eerder in ’n karavaan van hand tot mond te lewe as om die waarheid te konfronteer.
Berlyn, 1933. Hardebaard speurder Bernard – “Bernie” – Günther word deur ’n miljoenêr-sakeman ingeroep om die moord op sy dogter en skoonseun op te los en waardevolle juwele wat tydens die inbraak gesteel is, te vind. Gewoonlik is Günther op die spoor van vermiste persone, maar in dié onstuimige politieke klimaat betree hy ’n donker onderwêreld waar misdaad, korrupsie en onderhandelinge met Nazi-leiers aan die orde van die dag is. Sy soektog ontbloot ’n skandaal wat hoëkoppe soos Hermann Goering en Heinrich Himmler betrek ... Smerige nagklubs, smeulende filmsterre, oorvol lykshuise en onderonsies met die Gestapo lei uiteindelik tot ’n skokkende onthulling. Die roman speel af in Nazi-Duitsland – ’n milieu wat Kerr met vernuf skets. Dié Afrikaanse uitgawe van March Violets is die eerste boek in Kerr se Berlin Noir-reeks, sy eerste Bernie Günther- trilogie. Vertalings van die volgende twee romans in die reeks, The Pale Criminal en A German Requiem, verskyn in 2019.
In Troosbosbaai by haar Ouma Saar wil Pascale haar stukkende lewe regmaak, haar wonde lek terwyl sy deur haar egskeiding gaan. Juis daarom is dit so vreemd dat God hierdie tyd kies om die Ierse biker, Callum Moriarty, oor haar pad te stuur.
Beroepsgerigtheid, kinderloosheid en 'n huwelik op die rand van egskeiding is nie die enigste beproewing op Jennifer se pad nie. ’n Donker geheim van bejaardemishandeling word oopgevlek toe Jennifer terugvlieg Suid-Afrika toe om onder andere ’n bietjie tyd saam met haar pa deur te bring. En dit aan die hand van iemand wat die naaste aan hom moet wees. Terwyl sy haar pa se geknakte lewe probeer herstel, besef sy ook hoe stukkend haar eie lewe is en dit vra moed en geloof om dit wat verlore gegaan het in haar lewe te probeer herwin. In hierdie proses leer sy wat dit beteken om deur water en vuur gelouter te word en hoe groot die genade is. Combrink se debuutroman loop nie net die pad van verlies en genesing nie, dit bevat ook ’n spannende avontuurverhaal en ’n liefdesverhaal – ’n sonderlinge kombinasie.
oe arriveer kort voor die draaipunt van die millennium in New York. Tot sy verbasing wag Nina hom by die backpackers in. Nina, wat nooit eintlik Joe se iets was nie. Nie rêrig nie. Hy ontmoet ook vir Michael, ’n verloopte Suid-Afrikaanse Jood met absurde drome vir homself en sy lendelam fiets. O, en dan is daar Elrike, wat Joe se gedagtes lees nog voordat hy hulle kan bedink. Dié drietal word die spil waarom alles draai in Wat het geword van Dinsdag?. Dis ’n roman wat verdigsel en waarheid vervleg, nes die kunswerke van twyfelagtige waarde wat Joe produseer. Enersyds is die roman ’n terugblik op drie onstuimige dekades in Johannesburg, en andersyds ’n verhaal van een man se leuens wat hom inhaal – oor sy kleintyd, oor drome van roem wat hy skaars kan onthou, maar bowenal oor Nina. ’n Fyn afgeronde, skerpsinnige roman oor selfontdekking, heimwee en verlies.
Bailey Kellerman verlaat Suid-Afrika finaal ná nog ’n liefdesteleurstelling deur haar eerste liefde, Adam. Hulle het ’n aan-en-af-verhouding sedert hulle jong dae, maar Adam verneuk haar gereeld en kom nie tot trou nie. In London trou sy met ’n Fransman, maar word ook deur hom in die steek gelaat. Terwyl sy oorsee is, word haar ouers wreed in hul huis in Johannesburg tydens ’n rooftog vermoor. Haar broer, Zak, daag woedend by haar huis op en dring daarop aan dat sy terugkom Suid-Afrika toe. Hy verwyt haar ook dat sy nie by die begrafnis was nie, min wetend wat haar omstandighede daardie tyd was. Sewe maande later is Bailey terug in Suid-Afrika, maar iewers is daar ’n slang in die gras. Hoekom het haar pa nie die kluis tydens die rooftog vir die rowers oopgemaak nie? Wat is in die toegesluite kluis? En gaan Adam weer amok in haar lewe kom maak?
Ontmoet van ons land se dapperste helde! Ontmoet ’n paar van die dapperste Suid-Afrikaanse helde! Ontdek hoe emeritus-aartsbiskop Desmond Tutu ons reënboognasie geïnspireer het, vind meer uit oor die dapper helde van die Laingsburg-vloed, maak kennis met Wollie, ’n klein brakkie met ’n groot hart, en lees die ongelooflike lewensverhaal van Enoch Sontonga, wie se hartslied vandag nog in ons land se volkslied voortleef. Hierdie boek bevat ses verstommende ware heldeverhale: 1. ’n Klein brakkie met ’n groot hart Wollie was ’n hawelose Maltese poedeltjie met ’n groot hart – en hy het dit reggekry om ’n man se lewe te red. 2. ’n Reënboog vir Laingsburg In 1981 het vreeslike vloedwaters Laingsburg getref, en die heldedade van daardie dag leef vandag nog voort. 3. Desmond Tutu Desmond Tutu was ’n arm klein seuntjie wat later een van die grootste leiers in ons land se geskiedenis geword het. 4. Kaalvoet deur ’n oorlog Ontmoet ’n dapper seuntjie wat al die pad van die Vrystaat na die Kaap gestap het om sy ouers tydens die Anglo-Boereoorlog op te spoor. 5. Enoch Sontonga, ’n man met ’n lied in sy hart Die inspirerende lewensverhaal van die man wat “Nkosi sikelel’ iAfrika” geskryf het. 6. Die lang pad van Emilie Lehn Ontdek die verstommende verhaal van Emilie Lehn, wat as ’n slavin in Kaapstad gebore is. Die stories word op ’n toeganklike manier met eenvoudige taalgebruik vertel sodat beginnerlesers dit maklik self kan baasraak!
Op Dinsdag 5 Desember 2017 was die Steinhoff-groep nog R199 miljard werd. Vier en twintig uur later is meer as R160 miljard daarvan uitgewis. Die Steinhoff-sakeryk, wat oor 20 jaar tot ’n internasionale sakereus opgebou is, het oornag verkrummel. Markus Jooste, Steinhoff se flambojante grootbaas, het per SMS bedank en vlug sedertdien van die een na die ander geraamte wat uit sy kas val: tientalle spoghuise vir ’n blonde minnares, resiesperde, bewerings van bedrog en ’n blinkswart Jaguar vir ’n ou universiteitskoshuis. Wat presies het hier gebeur? Wie het wat geweet? Wat is Steinhoff, wie is Markus Jooste en wat het dit met die sogenaamde Stellenbosch-mafia te doen? Hoe pas Christo Wiese, Shoprite en Pepkor in en waarheen is die pensionarisse se geld? Die bekende sakeskrywer James-Brent Styan beantwoord dié en ander vrae in hierdie verstommende verhaal van die grootste finansiële ineenstoring in die geskiedenis van Suid-Afrika. Deur onderhoude met betroubare bronne, inligting uit vertroulike dokumente en in- dieptenavorsing oor Steinhoff se geskiedenis, onthul hy dít wat die groep oor jare probeer wegsteek het. Steinhoff en die Stellenbosse Boys is ’n boeiende sakeriller wat nog dekades lank in sowel raadsale as sitkamers oorvertel sal word.
Inspekteur Conrad Dorfling is terug! Isa Konrad laat die sonderlinge speurder van Karibib, Conrad Dorfling, weer krap waar daar ’n lyk is. Sommer gou-gou ontdek Dorfling twee goed, nee drie: - Die lyk is oud. Dit gaan moeite kos om uit te vind wat aangaan. - Alet Gouws is terug in Karibib. Hoekom weet hy nie, maar hy is nie seker dat dit goeie nuus is nie. - Die hele polisiestasie weet skynbaar van sy en Alet se afskeidsoen … Conrad weet nie wie se lyk dit is nie, maar hy is dankbaar dat dit ’n geraamte is, ’n doodloopsaak dus. Hy kan nie twee moorde in twee weke onder sy neus laat gebeur nie. En boonop krap Alet se teenwoordigheid hom om. Hy het regtig gedink daardie soen was vaarwel. Sy is ’n mooi vrou en Con se vorige huwelik het rampspoedige gevolge gehad ... Alet het per ongeluk ’n getuie in sy vorige moordsaak geword. Namibië is nie haar wêreld nie, haar lewe en haar man is in Kaapstad. Hoekom het sy skielik teruggekom Karibib toe? Alet het hom laat glo sy was op pad om van haar man te skei. Intussen warm sy doodloopsaak op. Binnekort is hulle op soek na ’n tweede lyk, en binne in sy eie lyf bewe die geraamtes in hulle kaste.
Keira en die mense van Walkers Village leer ons dat elke mens 'n kans het om oor te begin. Dat elke mens die reg het om oor te begin. Vir die inwoners van Walkers Village is Keira se manier van dinge doen aanvanklik baie vreemd en ongehoord. Maar Keira verstaan dat regte mense regte probleme het. En ook dat regte mense soms so 'n bietjie hulp nodig het om die regte probleme op te los. Al klink dit aanvanklik vreemd en ongehoord. Saam met Keira leer ons om te verstaan dat die lewe nie altyd regverdig is nie. Dat goeie mense se paaie soms met donker siele se paaie kruis. Dat ons nie altyd kan kies wie ons pad kruis nie, maar dat ons wel kan kies hoe ons daai pad van ons stap. Want hoe jy jou pad stap, is wat saak maak. Nie hoe jy jou storie vertel nie.
In die loop van 1876 kom verskeie groepe Transvalers by die samevloei van die Krokodil- en Maricoriviere aan met die idee om na Damaraland te trek. Om daar te kom, moet hulle ’n stuk waterlose Kalahari, bekend as die Dors, oorsteek. Maar die magstryd tussen die voormanne van elke groep om die hoofleier van die trek te wees laat die trek op 'n ramp afstuur, lank voor hulle die Dorsland binnegaan.
‘Met die middagson kom die lugspieëlings wat aan die vallei sy naam gegee het: Deception Valley. Dan skuil alles wat asemhaal in die koelte van ’n matjarra, rug na die wind gedraai. In die lang geelwit gras lê die leeus uitgestrek en slaap. Net die vlakvarke draf stertorent nader vir ’n modderbad.’ Annelize Slabbert was ’n joernalis in Johannesburg en haar man, Gerard, ’n apteker. Stedelinge. Toe word hulle moeg vir die lewe in die stad, die spitsverkeer, die gebrek aan stilte en sterre. En hulle volg die krom wandelpad na Die Droom van ’n landelike idille met skape en groen gras. Tot, uiteindelik, in die son en sand van die Sentraal-Kalahari in Botswana waar hulle ’n vierster-lodge bestuur. Wat kan dan nou verkeerd loop? 'n Ware verhaal, uitstekend vertel, skreeusnaaks en aangrypend.
In 1991 rapporteer doktor Joseph Opperman aan staatspresident FW de
Klerk dat Suid-Afrika se kernarsenaal vernietig is. Vyf-en-twintig
jaar later word Opperman vermoor. Die gru-moord plaas die
ondersoekers op die spoor van die Pelindaba Protokol.
Leon van Nierop se blitsverkoper Plesierengel verskyn twintig jaar gelede en dit is in hierdie boek waar duisende lesers vir Tristan Hansen ontmoet, ’n engel van plesier, ’n manlike prostituut waarvoor Johannesburg se rykste vroue duisende rande betaal. Dit is egter nie die volle verhaal nie: hoe het die enigmatiese Tristan tot hier gekom? In Katelknaap kry die leser ’n blik op die vroue wat hom gevorm het en van genot geleer het. Veral saam met een vrou, ver weg in Positano, ’n dorpie in Italië, kon hy hom loswikkel van die beklemming van sy konserwatiewe ma wat hom ná sy pa se selfmoord alleen grootmaak. Maar dit was ook nie die laaste beklemming nie. Op die vooraand van Tristan se 27ste verjaardag vind ons hom in sy luukse dakwoonstel in Maboneng, onrustig ná ’n vreemde foonoproep vol dreigende stilte. Terwyl hy kan voel hoe hy deur ’n verkyker dopgehou word en dat die afloerder met iets anders as begeerte na hom kyk, reik sy herinneringe terug na gelukkiger dae in Positano, en na sy opleiding in die kuns van liefdemaak.
Hierdie omnibus is ’n samestelling van drie van Madelie Human se vorige Romanzas, Terug na jou, Kolwyntjie en Altyd die strooimeisie. Terug na jou: Jare gelede het Mercia haar liefde vrygelaat, soos mens ’n boemerang van jou af weggooi. Nes die boemerang het haar liefde nou na haar toe teruggekeer. Sal sy hierdie keer daarin slaag om dit vas te hou en vir altyd te koester? Kolwyntjie: Die tweelingdokters in die spreekkamers reg langs Melani se nuwe besigheid is albei ewe sjarmant. Dis egter Lourens wat haar hart verower, maar hy wil verder studeer en het nie tyd vir ’n verhouding nie ... Altyd die strooimeisie: Meyer Malan steel Zoë se hart met die eerste oogopslag, maar hoe kan sy hom liefhê as hy juis een van die bevoorregtes is wat op haar pa se erfplaas grootgeword het. Kan sy die familie vertel wie sy werklik is?
Hierdie is ’n mega-omnibus van Marijke Greeff se vorige Kaapse liefdesverhale bestaande uit Esmeralde, Seerower vir Shakira en Markies vir Melesinda. Esmeralde: By haar agtiende verjaarsdagbal ontmoet Esmeralde die baie aantreklike René Courtelle. Hulle is dadelik aangetrokke tot mekaar, maar René is ’n getroude man. Wat Esmeralde egter nie weet nie, is dat hy baie ongelukkig getroud is met ’n erg ontroue vrou wat met iemand konkel om al die Courtelle-skatte in die hande te kry. Seerower vir Shakira: In ’n dobbelspel word Shakira deur haar pa aan die gevreesde seerower Raoul Monserat verpand. Op sy skip word hulle in die eg verbind. Sy verafsku hom, maar een of ander tyd gaan hy sy huweliksregte opeis. Markies vir Melesinda: Dis die geheimsinnige Nagvalk wat Melesinda se gedagtes sedert haar aankoms in Frankryk vollê. Maar met die markies Beaumont du Brecy moet sy trou. Beau ontken die Nagvalk se bestaan, al red hy Melesinda keer op keer.
Twaalf ongelooflike vroue wat ’n verskil maak tussen die bendes, die werkloosheid en die koeëls. Atlantis is steeds die verlore stad, maar hierdie twaalf vroue se verhale inspireer. Hulle het besluit om nie moed op te gee nie. Hulle stories is dié van moed, optimisme en inspirasie. Dit is ’n moetlees vir almal wat glo dat liefde en geloof ’n verskil kán maak. Atlantis aan die Weskus was die breinkind van ’n vorige regering se “desentralisasiebeleid” – maar is tans die toonvenster van ontheemding. Uit hierdie wanhoop, brand dié twaalf vroue se stories soos fakkelligte in ’n lang, donker nag. Hulle is: Francis Brown, Mary-Ann Cedras, Chrissie Cloete, Mandy Jonker, Christine Lewis, Sylvia Losper, Lenie Maya, Carol Muller, Sillene Oppel, Olivia Pharo, Mary Tenggren en Rachael Watson. |
You may like...
|