![]() |
![]() |
Your cart is empty |
||
Hierdie versameling kortverhale bied 'n histeriese kykie op alledaagse situasies: 'n tango-les in die platteland; die tannie so "eenvoudig soos 'n ses-stuk legkaart"; 'n besoek aan 'n tandarts en sy assistent wat meer as net 'n spreekkamer deel. Lloyd Zandberg se debuut is 'n boek vol deernis en humor, met vriendelike gebruiksaanwysings vir mense wat nie so goed lees nie. Kyk een keer deur sy oe na die lewe, en niks sal ooit weer dieselfde wees nie.
Dit is die somer van 1973. Apartheid floreer, die Amerikaners begin noustrop trek teen die kommuniste in Vietnam, en in die Kaap is die elfjarige Marnus besig om te leer wat menswees en manwees beteken. Agter hom le die geskiedenis van sy familie in Tanganjika. Voor hom, ’n grensoorlog. Tussen geweld en geweld le daardie oomblik wanneer onskuld verlore raak. Voortaan sal die reuk van appels bly kleef aan alles wat Marnus aanraak.
Sedert Suid-Afrika se politieke omwentelinge vanaf 1989 word daar van Nasionale Intelligensie se vertroulike leers uit die vorige bedeling vernietig. Terselfdertyd kom ses Duitsers onder geheimsinnige omstandighede in Suid-Afrika aan. Natuurlik kry almal ’n nuwe identiteit, Afrikaanse name, ’n nuwe lewe. Nie almal wat met hierdie sake gemoeid was, het skoon rekords nie. ’n Man soos Vic Nel is byvoorbeeld tot veel meer in staat as wat dit lyk, noudat hy ’n hardeware-verkoopsman is wat laag le sover hy kan. Alles werk, tot ’n reeksmoordenaar vaardig raak en Vic se foto by die moordtoneel staangemaak word. Dit terwyl Vic nie ’n benul het hoe hy en die onbekende slagoffers se lewe vervleg kan wees nie. En as dit uit die verlede dateer, is dit ook so dat niemand sedert 1989 so jonk gebly het dat hulle nog geredelik herkenbaar sal wees nie. Na ’n besoek aan ’n befoeterde ou man in ’n aftreeoord tel hy wel ’n spoor op, maar hy word vriendelik vermaan om weg te stap, want die verlede is verby en niemand kan iets daaraan verander nie. Maar wegstap kom nie vir Vic maklik nie.
Hierdie is ’n omnibus bestaande uit drie van Marile Cloete se vorige Romanzas Man van min woorde, Man met ’n missie en Man van sy woord. Man van min woorde: Hy kan toor met honde en rekenaars, maar as dit by praat kom, verdamp Henri van der Merwe se woorde. Francesca is vasbeslote om deur die swygsaamheid te breek. Sy begeer een van die Duitse herdershonde wat hy teel, maar sy toets vir eienaarskap dop sy soos ’n klip. En haar selfbeeld is hoeka bitter broos na die Siebert-episode. Bowendien word haar frustrasie by die dag groter – as sy en haar galery-huis vol kunswerke nie goed genoeg is vir sy honde nie, sal sy in der ewigheid nie goed genoeg wees vir hul baas nie. Want helaas, sy begeer die swygsame Henri mettertyd baie, baie meer as sy lieflike honde. Man met ’n missie: Hy gaan haar nader trek, syne maak. Suutjies, sonder dat sy dit weet. Maar Lukas Bezuidenhout is ’n haastige man, geduld moet hy nog aanleer. Dis gewoonlik hy wat vir meisies weghol, maar die keer het hy sy moses teegekom. ’n Harder hardekwas as Mignon Grobbelaar kry jy nie. En tog, agter haar hardekwas-houding kruip ’n bang meisie weg, ’n kind-vrou met heeltemal te veel seer en bagasie. Daarom, weet Lukas, moet hy geduldig wees. Hy wil haar beskerm, laat veilig voel. Sy moet weet sy is as mens die moeite werd. En hy moet, nee, sal leer vasbyt; en hy wat lawwe Loekie Bezuidenhout is, kan leer om te wag. Man van sy woord: ’n Ouer en ryper Lourens – maar nog net so dodelik aantreklik soos lank gelede – is na twintig jaar onverwags terug en haar kind se gradeplegtigheid word vir Bianca ’n nagmerrie. Alles het mos verander en daar is nie meer vir hom ’n plek in haar lewe nie – of bluf sy haarself? Lourens is nie meer die impulsiewe jongman wat Bianca so hartstogtelik liefgekry het nie, en sy het ook met die jare ryper en meer volwasse geword. Dis net die onblusbare vonk tussen hulle en die honger na mekaar wat onveranderd gebly het ... Het daar te veel water in die see geloop of gaan hulle waag om hulle liefde weer ’n kans gee?
Leonie en Stefan is beste vriende. Hulle was lank terug kortstondig in ’n verhouding, maar dit het nie uitgewerk nie. Nou is hy verloof aan haar beste vriendin, Olga. Leonie wíl bly wees vir hulle en sy ís ... Of is sy besig om haarself te bluf?
Drie van Schalkie van Wyk se beste verhale: In Lokstem van die liefde besef Louise Barnard dat Eben Griesel nie met haar gaan trou nie. Sy gee pad na Rheedersdorp. Maar sy hou nie rekening met Lafras de la Rey nie. In Die liefde oorwin wil die student Ilse Brink met 'n ryk man trou om vir haar behoeftige ouers te kan sorg. Maar haar vriend, Henk Retief, hou Ilse ook dop. In Man van lig en skadu ontmoet Petri Aucamp vir Hougaard Reyneke by 'n partytjie. Is hy aan bedorwe Nicolette beloof?
Grietjie se loutering is die aangrypende verhaal van ’n weduwee wat haar inkomste as tydelike huiswerker verdien in Grabouw. Sy sukkel om kop bo water te hou, maar haar geloof dra haar. Wanneer haar seun deur ’n provinsiale rugbyspan gewerf word, het die gesin hoop op ’n beter lewe. Grietjie se geloof word getoets wanneer ’n tragedie die gesin tref. “Ek weet wanneer ek eendag by die punt kom waar ek weer met die Here kan praat met vrymoedigheid, dan wag Hy vir my. En wanneer dit voel ek kan nie meer nie, dan dra Hy my. Maak nie saak wat ek verloor nie, ek het Hom altyd. Wat meer wil ek hê?”
Pedale van papier begin waar die ou getroue Trifiena vir Karien (haar werkgewer) help om 'n clavier na buite te trek-stoot. As die klavier buite is, begin Karien dit met mag en mening met 'n byl stukkend kap. Die splinters spat in alle rigtings soos wat sy die byl in die klavier inle. Terwyl sy haar klavier verwoes, dink sy terug aan haar kinderdae... Rhona Scheepers se roman Pedale van papier is gebaseer op 'n ware verhaal oor 'n dogter se aanneming en verwerping. Dit vertel onder andere ook van haar molestering deur 'n vertroude kerklike persoon. Sy het sedertdien op Robinson Regstreeks (KykNet) verskyn, en in gesprek met Freek Robinson verwys na die werklikheid van hierdie aandoenlike boek.
Watter soort pad is ’n hartepad? Is dit bloot ’n pad van die hart? Of het dit iets met die ware hardepad te doen? Dis ’n mengsel van albei, want reis is blootstellend. Jy ervaar die ongerief (Paul Theroux het gese “travel is glamorous only in retrospect”), maar wanneer jy terugkom, onthou jy net die uniekheid, die mooi en betekenisvolheid van dit wat jy ervaar het. Elke verhaal in hierdie bundel is ’n reisstorie, maar vat jou nie net na mooi plekke toe nie – dit neem jou op ’n emosionele reis ook. ’n Tipe reis na binne. Daar’s baie onthou van kleintyd se dinge, maar daar is ook stories wat ’n lagreis word sonder om ’n grap te vertel. Dit gaan nie soseer oor die liefde nie, maar beslis oor die liefde vir reis. Vir ervaar en vir die raaksien van die dieper betekenis van reis. Van jouself blootstel aan die vreemde en altyd op die uitkyk wees vir ’n storie wat besig is om rondom jou af te speel. Want elke reis word ’n storie om oor te vertel. Van Hangklip se hotel regdeur Afrika tot in Mama se kombuis in Napels.
Karen werp haarself in ‘n binnenshuise ontwerp-wedstryd na die geboorte van haar baba, om van haar skuldgevoel oor die destydste dood van haar gestremde broer te vlug. Sy glo haar ouers neem haar steeds kwalik oor haar broer se dood en vertrou haar nie met haar eie kind nie. Sy reis met baba en al na Mali, waar sy hoop om die inspirasie vir haar wedstrydinskrywing te vind.
Solitaire, Woestynroos, Droomland en Wilde klawer is ’n vierluik oor vier vroue wat deelgeneem het aan ’n Boer soek ’n vrou-kompetisie en hulle wedervaringe daarna. Wilde klawer is die vierde boek in die reeks en gaan oor McKenna Wilde wat ’n spesiale gawe het om deur aanraking te “sien”. Vir hierdie ekstrovert wat verkies om eerder op die ligter sy van die lewe te fokus, is dit eerder ’n vloek as ’n seen. ’n Brief van ’n onbekende vrou lei haar terug na haar geboorteland, Noord-Ierland. Hier word sy gekonfronteer met haar ma se donker verlede en die Wildes se betrokkenheid by die IRL (Ierse Republikeinse Weermag) se bloedige stryd teen Britse oorheersing. Maar dit is ook ’n reis na selfontdekking. McKenna leer sy kan nie van haarself en haar herkoms vlug nie. In haar soeke na selfaanvaarding word dit vir haar duidelik ’n vrou moet eers ’n man met haar hart kan vertrou voor sy hom met haar lyf vertrou. McKenna wat nog altyd weggeskram het van blywende verhoudings sien oplaas in dat intimiteit sonder liefde bloot ’n gejaag na wind is. In Portballintrae, ’n klein hawedorpie aan die Ierse Noordkus kruis haar pad met verskeie mense s’n wat haar nie noodwendig almal goedgesind is nie. Die Donovan-broers wat ’n pub in Bushmills besit. Die Engelsman James Fellowes wat navorsing oor the Troubles doen en die Suid-Afrikaner Tim Els. Tim Els,’n tandarts wat vir twee jaar in Noord-Ierland werk, is vasgevang in sy eie ongelukkige verlede. McKenna besef sy kan haar gawe gebruik om hom te help. Maar dit is moeilik om teen ’n spook vir ’n man se hart te baklei. Boonop is dit vir McKenna ’n vreesaanjaende gedagte dat sy haar leefruimte permanent met ’n man moet deel.
Dis 'n donker Karoonag en 'n bebloede vrou hardloop grondpad langs. Iets grusaam het gebeur en Siena weet sy moet by Seekoegat Primere Skool uitkom, daar sal sy veilig wees. Dis baie ver, drie dae met 'n donkiekar en sy is te voet. Hierdie roman vertel die verhaal van Siena, Boetie en Kriekie, wie se lewens sedert kinderdae nou verweef is. Soos wat Siena hardloop ontmoet lesers die mense in haar lewe: Boetie is verwilderd en verwaarloos, altyd besig met kattekwaad. Sy vriendskap met Siena laat hom egter sy selfwaarde besef. Kriekie is 'n wrak. Sy ma is 'n prostituut wat by die stilhouplekke langs die n1 werk en hy het skaars 'n huis. Wanneer sy ma, Dolly, nie terugkom nie, beland hy deur een vrou se goedhartigheid ook by Seekoegat Primere Skool. Die Karooskilpad se simboliese spore kan deur die hele roman gesien word. Siena se pa, 'n karretjiemens, het altyd gese dat 'n skilpad die wysheid van die antieke landskap in hom dra. Daar word geglo dat 'n skilpad slegs een traan in sy leeftyd stort, die oomblik wanneer hy sterf. Die skilpad se laaste traan is bekroonde skrywer Carol Campbell se derde boek oor die Karoo. Soos haar vorige werk fokus sy sterk op sosiale realisme, maar vir die eerste keer is hier ook magiese realisme, so eie aan die mense oor wie sy skryf.
’n Land in wording, ’n oorlog wat dreig, ’n kruispad kans-ontmoeting
wat alles verander.
Wanneer ʼn man doodgeskiet word deur sy vrou in hul pragtige huis in die noordelike voorstede, besef die bure dat hulle dalk nie die oënskynlike gelukkige paartjie langsaan baie goed geken het nie. Stories oor MJ en Emilee loop skielik die buurt vol, stories wat net so uiteenlopend is soos Salemstraat se inwoners. Almal, van die oud weermagman Stefaans tot die mooie Russiese Natasja, onthul ’n nuwe blik op die paartjie. Dit val grootliks op die skouers van dr. Ann, afgetrede psigiater, en Liz, die jong prokureur met ’n voorliefde vir hoëprofiel-egskeidings, om uit te vind watter stories waarheid inhou en wat blote bog is. Maar hoe dieper hulle grawe, hoe meer geheime word verklap, en een ná die ander kom die middelklas geraamtes uit die instapkaste getuimel. Een ding is egter seker: Satan het nog altyd in die suburbs geskuil.
Ed is al bykans twintig jaar lank 'n maatskappyman. Sy vrou het hom gelos en hy is moeg vir sy werk, vir sy gefrustreerde ambisie as skrywer, en veral vir die gevoel dat absoluut niks is soos dit moet wees nie. Dit lyk vir hom meer en meer asof hy nie anders sal kan as om drastiese stappe te doen nie ... Hierdie roman gaan alkoholiste na die AA laat stroom; kantoorwerkers daardie gastehuis in Waterval-Boven waaroor hulle droom, laat oopmaak; dit sal verslind word soos ’n honger mens ’n bord Spur-chips met ’n lekker sousie daaroor geniet. Veral vir bewonderaars van werkersklasromans soos Somer II en Bright Lights, Big City, en kenners van oopplankantore.
Die klein Bram Fischer word gebore uit drome en beelde, met die geloei van Bloemfonteinse osse in die agtergrond. Hy sien die spoke van Paul Kruger en Jopie Fourie, asook die van Hendrik Biebouw, die eerste Afrikaner. In hierdie roman skryf Francois Loots 'n kreatiewe, fiktiewe weergawe van Afrikaner-kommunis en struggle-held Bram Fischer se lewe. Die leser word gedompel in Fischer se leef- en gedagtewereld, in die spanninge en avonture van die jong radikaal. Saam met Fischer, gaan ’n mens ondergronds. Wat is ’n mens se diepste gedagtes wanneer jy jou vermom? Wanneer jy soos 'n verkleurmannetjie in nuwe identiteite moet inglip? Of wanneer jy tronk toe gaan? Na die strome drome, word Fischer geteister deur die demone van absolute eensaamheid. Maar wat deur alles bly staan, is sy onwrikbare liefde teenoor sy beminde Molly, wat hom kom verlos uit sy laaste droom. Soms is dit slegs deur die lens van fiksie wat mens iets van die ware geskiedenis kan agterhaal.
Alles by haar nuwe skool is vir Zita vreemd. Die kinders, die kos die sport, selfs die skoolwerk. Sy verlang terug na Kieriekroek waar sy grootgeword het - 'n plek wat net soveel kleurvolle karakters het as wat hy swaarkry het. Dis net die gedagte aan Waldo by die nuwe skool wat Zita elke keer dromerig laat glimlag. Maar daar is 'n ding wat tussen haar en Waldo staan. Dieselfde ding wat tussen haar en haar ma en tussen haar en die nuwe skool staan. Dis die ding met haar pa.
Koos Sas, Khoi plaaswerker op Touwsrivier smag na die vryheid wat sy voorouers gehad het. Terwyl hy dros van sy werk op die plaas, kom hy tot die besef dat Suiderlike Afrika nou opgedeel is in plase wat aan individuele eienaars behoort. Britse imperialisme en die mag van die gereg bring hom in botsing met die samelewing. Kort voor lank word hy berug in die kolonie. Sy situasie word oornag gekompliseer met die ontmoeting van ‘n Khoi meisie wat self opsoek is na vryheid. Die soeke na vryheid word vererger deur Koos se miskenning van die mitologie van die Khoi, wat hom op ‘n dwaalspoor plaas.
1989. In Johannesburg blaker 'n growwe en rowwe klein koerantjie, Vryheid op Vrydag, week na week op sy voorblad die verhaal uit van die bloedige einde van apartheid. Stories wat die regering van FW de Klerk tot elke prys stil wil hou. En die manne van Sektor C, 'n geheime polisietaakmag, is op hulle spoor. Die redakteur wag in spanning op die groot storie - die Groot Storie - wat die regering tot 'n val gaan bring. Maar oorvloedige seks en geweld kom alewig in die pad, soos hulle gewoonte mos is. Bomskok is 'n tragiese rillerkomedie, 'n moordstorie en 'n kroegstorie. En alles behalwe 'n ware storie.
|
![]() ![]() You may like...
UC/OS-III - The Real-Time Kernel and the…
Jean J. Labrosse, Freddy Torres
Hardcover
R1,906
Discovery Miles 19 060
Essays and Poems - and `Simplicity', a…
Mary Wortley Montagu
Hardcover
R2,451
Discovery Miles 24 510
|