Welcome to Loot.co.za!
Sign in / Register |Wishlists & Gift Vouchers |Help | Advanced search
|
Your cart is empty |
|||
Op ’n stormagtige nag in ’n Engelse herehuis word ’n jong vrou grusaam vermoor. Sy vat ’n eienaardige geheim na haar graf toe en die moordenaar verdwyn soos ’n skim in die nag. Twintig jaar later by een van die wêreld se mees eksklusiewe perdewedrenne is dit die buiteperd wat onverwags die kroon wegdra. In een van die losies staan Henry Clarke stomgeslaan. Hy het sopas iets onmoontlik sien gebeur. Op ’n klein wildsplaas in die noorde probeer Jan Brand vir hom so tussen die stof en droogte ’n nuwe lewe staanmaak. Vir so ’n jong man het hy al baie geleef. Nes hy dink hy kan die stad agter los en in vrede begin boer, ontvang hy ’n uitnodiging van sy skatryk buurman, einste Henry Clarke. Dié wil Brand as privaatspeurder aanstel om ’n raaisel in die ruitersport op te los. Kort daarna verdaag Brand na Kaapstad, waar ’n geheim begrawe deur tyd, geld en mag vir hom wag, tesame met die mense wat bereid is om te moor om dit so te hou. Jan Brand mag dalk die stof van sy hande af gewas het, maar binnekort gaan hulle vol bloed wees.
Is dit 'n vergeldingsdrang wat iemand laat moor, of kan dit die psigologiese nagevolge van traumatiese kinderjare wees? Magdalena Bakkes moor vir die derde keer in haar lewe en kies om te vlug, gedring deur die moeras van molestering en geweld wat haar kinderjare gekenmerk het. Niemand behalwe die onbekende vrou wat haar help wegkom, weet van die verkragting nie. En niemand sal weet dat Magdalena haar aanvaller se lewe geneem het nie. Sy sal nooit weer in 'n sel sit nie, al kos dit wát. Sy veg om 'n fasade van normaliteit te behou, help haar beskadigde kliënte en bied vir 'n groep ewe beskadigde elfjarige weeskinders Sondagskoolklasse aan terwyl sy haar blinde ma ondersteun en poog om die psigologiese nagevolge van die verkragting en moord te verwerk. Is daar onheil by die kinderhuis? Hoe diep en wyd strek die boosheid? Is haar ma werklik in die greep van demensie, of is daar iets anders, iets erger aan die gang? Sal die groep vigilantes daarin slaag om haar moord toe te smeer, of sal die groot polisieman sy woord gestand doen en die moordenaar aankeer? Doodsengel is Rust se 6de boek met 'n splinternuwe hoofkarakter.
Waar die juffer toe gedissiplineer moet word
Daar is min mense wat ’n storie soos Jan Spies kan vertel. Die antie met die pienk rok en ander stories is ’n keur uit sy humoristiese vertellings in Pilatus tot molshoop, Poort deur die koue, Profeet met kondensmelk en Pille vir servette. En hierdie nuwe keur word van Woensdag 17 Junie 2020 op weeksoggende om 10:45 op RSG voorgelees. Die akteur-skrywer Lochner de Kock skuif agter die mikrofoon in om hierdie “Spieserye” nuwe lewe te gee. RSG se dramahoof, Kobus Burger, is die regisseur.
Kan sy nog enige sin in die lewe vind as dit voel asof haar slagaar
deurgesny is?
Toe Alan Sutherland en sy broers by haar blommewinkel inbars, vervies Corinne Hansen haar dadelik vir die Skot. Hy mag dalk dodelik aantreklik wees, maar hoe durf hy vir haar sê sy is nie sy tipe nie? Sy sal hom eenvoudig ’n les moet leer... As mede-eienaar van ’n groot maatskappy, is Alan nie net op soek na ’n trouvrou nie, maar ook ’n sakevennoot: Iemand wat stemmig is, gedienstig is, die pad vir hom gelyk kan maak. Met haar vreemde klere, ritse armbande en vurigheid is Corinne allesbehalwe stemmig. Sal Alan sy kop volg en aanhou soek na die vrou wat netjies by sy planne inpas of sal hy swig voor dít wat sy hart wil hê?
Romanse, maar vol millenniër-kinkels “Drawwers is die go-getters, eintlik dink ek net hulle hardloop weg van iets. Elke oggend staan hulle op en gaan draf op die donnerse selfde sypaadjie. Die dansers, soos jy, dans deur die lewe. Hulle is met min tevrede en dan dans hulle daaroor. Die drinkers sit agteroor en lag vir die drawwers en dansers.” “Met ander woorde sit die drinkers op die kantlyn?” “Nee die drinkers sit in die middel van die pad en wag vir die drawwers en dansers om te besef dat almal eendag doodgaan.” Leah het haar lus vir die lewe verloor. Sy is jonk, suksesvol en hardkoppig. Sy verlaat Johannesburg om een van haar besigheid se filiale in Kaapstad reg te ruk. Daar ontmoet sy, soos die noodlot dit wil hê, weer vir Hannah, wat 'n bietjie meer as net 'n vriendin was tydens haar universiteitsdae. Gaan sy, Hannah, 'n veilige sypaadjie wees, of 'n glibberige, maar opwindende afdraaipad? Sypaadjie is 'n romantiese drama met 'n interessante kinkel. Die storie word vertel uit 'n tipiese millenniër se oogpunt, daar is baie vrae oor die liefde, romanse en seksuele oriëntasie. Soms is die karakters effens konserwatief en naïef, maar nooit vervelig nie. Leah worstel met vrae wat baie jong meisies deesdae mee sukkel, veral Afrikaanssprekende Suid-Afrikaanse meisies. Hoe vind ek 'n balans tussen liefde en 'n loopbaan? Is dit nog die moeite werd om jou hart op die spel te plaas? Die storie herinner aan Annie on my mind deur Nancy Garden en South of Sunshine deur Dana Elmendorf.
Om 05:36 hardloop die vrou teen die hang van Leeukop. Sy is jonk, beeldskoon, Amerikaans – en beangs. Sy word soos 'n dier gejag deur mans wat net ure gelede haar beste vriendin se keel afgesny het. Om 05:43 bel hulle vir speurder-inspekteur Bennie Griessel wakker. Hy moet kom, 'n jong meisie se lyk le langs St. Martini, die Lutherse kerk bo in Langstraat. Die vorige aand nog het hy gedink dit gaan vir hom 'n spesiale dag wees: Die begin van 'n nuwe era in sy loopbaan, as mentor van 'n groep jong swart en bruin speurders. En hy verwag nuus oor sy bevordering. ‘Kaptein Bennie Griessel’. Dit klink vir hom reg. Behoort 'n redelik normale dag te wees. Tot sy jong span polisiemense begin stry, baklei, struikel. Met die kerkmoord. Met die middeljarige, alkoholis-vrou wat haar man, 'n groot gees in die Afrikaanse musiekbedryf, twee keer met sy eie pistool deur die hart geboor het. Met die soektog na die Amerikaanse toeris. Terwyl die diplomatieke telefoonlyne vuurwarm gebel word en selfs die Minister begin druk toepas, sodat die hele mentor-ding soos mis voor die son verdwyn en Griessel self moet inklim om die gemors te probeer red. Om nie eens te praat van sy persoonlike probleme nie. Sy bankrekening lyk sleg, hy stoei nog met die dranklus, sy vervreemde vrou Anna bel uit die bloute en se vanaand is die aand dat hulle oor die toekoms moet gesels. Weet sy van die 26-jarige rekenaartegnikus met die aansienlike borste wat hy gisteraand, in 'n oomblik van swakheid, op sy sitkamerbank beetgekry het? Boonop kondig sy vriend en kollega Mat Joubert aan dat hy die SAPS gaan verlaat, en dan bel sy seun Fritz met die nuus dat hy klaar is met skool, hy gaan kitaarspeler word in 'n rock-groep met die naam van ‘Wet & Orde’. En dan, net wanneer hy op die punt staan om die Amerikaanse meisie te red, skiet hulle vir Bennie Griessel. Reg in die hart. Redelik normale dag, jou tipiese dertien uur van Suid-Afrikaanse wetstoepassing.
Tien jaar gelede is Liz Aucamp van haar geboortedorp weggejaag. Nou moet sy terug en haar verlede in die oe kyk. Die leuens is groter, die geheime donkerder. Durf sy meer as net haarself beskerm?
Twee slagoffers, twee moordenaars en kinders wat met reëlmaat verdwyn. Speur-adjudant Jaap (Boel) Helberg ondersoek die saak. Een slagoffer is ’n invloedryke sakeman se vrou. Hy is ’n man met ’n diaboliese stokperdjie: veghonde. Die ander moordenaar hou van raaiselspeletjies. Hy bel Helberg met die slagoffer se selfoon, vertel hom waar hy haar lyk kan kry en stuur vir hom ’n video van hoe sy vermoor word. Daar is ’n reël; net hy mag by die ondersoek betrokke wees, anders ... En sy is die derde slagoffer. Die ander twee is in ’n verlate, skemer plek, in donker water wat nooit son sien nie, by ’n groot swart kruis wat met son kom en gaan. Helberg is geskok toe hy uitvind wat die ryk sakeman se stokperdjie is en wie sy vrou vermoor het. In die makabere klimaks waarop dit uitloop skiet die moordenaar hom. Helberg herwin sy bewussyn in die hospitaal en hoor dat sy vrou vermis word. Toe hy genoegsaam herstel het, soek hy na sy vrou. Hy kry haar in die plek waar die lyke van die twee vroue in die donker waterkuil is. Sy leef nog. Haar ontvoerder is die moordenaar van drie vroue; iemand wat Helberg nooit sou verdink nie.
Maryn (1933, Tamara se jongste dogter) is 'n oujongnooi en nie veel meer as 'n konfytkokertjie in die oë van die eienaar van die laventelplaas La Lavende nie. Maar sy moet help om Bergendal vir die Davels te red en uit die kloue te hou van die einste laventelman wat agter hulle lemoenboorde se bloeisels aan is - selfs al is hy die man wat haar wat haar bedwelm met sy kerslelie oë.
Miena staan heeldag in die son en karre oppas. Haar Frikkie is ʼn goeie man en hy probeer geld inbring met sy karre se regmaak. Wanneer Rykie, hul dogter, in die kliniek beland en haar paaie met Anita kruis, is daar opregte omgee by Anita vir hierdie uitgeteerde kind. ‘n Hartroerende verhaal oor mense en die lewe. Hierdie roman spreek kwessies soos eetsteurnisse, sosiale stand en aanvaarding aan. Mense verskil, maar almal ervaar pyn. Slegs deur opregte deernis en empatie kan ons mekaar help.
Die Vroue Van Kosmoslaan vertel die stories van vyf uiteenlopende vroue. Ellie skryf kinderboeke en wens sy kan swanger raak en haar stories vir haar eie kind vertel. Ida Scholtz se man en seun is saam in ’n motorongeluk dood en nou bly Claire, haar skoondogter by haar. Marella is ’n prokureur en lewe streng volgens voorafuitgewerkte lysies. Julia en haar seun, Rudi, bly ook in die laan en Julia is bly dat sy destyds die huis in haar naam gesit het want haar man het saam met sy sekretaresse weggeloop en nou het sy en Rudi darem ’n dak oor hul koppe. Alma en Jurie bly langs Ellie en wanneer Alma se dogter verdwyn begin almal in die laan na haar soek. Die vroue deel hul pyn en vreugde met mekaar wanneer hulle eenkeer ’n maand bymekaar kom om te brei. Dit was Marella se idee om die groep te begin al was dit nie die intensie om so gereeld bymekaar te kom nie. Die breigroep word die vroue se toevlug en die kosmosblom word ’n teken van tweede kanse, hoop, drome en geluk. Die boeiende verhaal is elke vrou se verhaal. Die vroue van Kosmoslaan ervaar God se genade en sy belofte om te voorsien wanneer hulle dit die nodigste het.
Die geheim van ʼn goeie leuen is om altyd bietjie waarheid by te voeg ... Mila Berg is seker van een ding: Sy en Markus hoort saam. Vandat sy hom die eerste keer gesien het, was haar hart syne. Die feit dat hy ʼn vrou en kinders het maak geen verskil nie, want Mila het ʼn plan. Sodra sy haar regmatige plek in sy gesin inneem sal die verlede nie meer saak maak nie. Haar streng pa se frons sal nie meer rillings teen haar ruggraat afstuur nie. Haar ma sal haar weer in die oë kan kyk. Die liters bloed op die kombuisvloer sal skoongewas word. Hulle almal sal haar sien, raaksien vir meer as die goeie suster. Mila se werklike lewe is binne haar bereik. Al wat sy moet doen is kophou.
Jojo Richter van Siende blind, Raaiselspieël, Ewebeeld en Paaiboelie is terug. Sy bars van nuuskierigheid oor die groep vroue in die Akkedisberge wat wag vir ʼn moederskip van die Pleiade-sterrestelsel. Sy weier egter om weer saam met Irene en Valk te werk, tot ʼn boogskutter op rolskaatse ʼn bekende regter vermoor en die vermoede ontstaan dat dit moontlik verband kan hou met die UFO-groep. Toe sy weer sien, konkel sy saam met Irene agter Valk se rug om die raaisel te probeer oplos. Iets wat haar verhouding met Joachim tot die uiterste beproef. Vir Ayla is haar verlede ʼn verleentheid. Nes haar liggaamsbou. Maak nie saak wat sy doen nie, die stigma van haar ma se bewering dat sy ʼn vlieënde piering gesien het bly net so aan haar kleef soos die groot heupe wat sy by haar ouma oorgeërf het. Sy het egter haar lewe so ingerig dat sy uit die oog kan bly – totdat sy as grafoloog ʼn handskrif moet ontleed en besef haar suster verkeer in wesenlike gevaar. Jojo Richter sal haar kan help om Nimue op te spoor, maar Jojo werk reeds vir Irene en dis Irene se suster wat vir Nimue gevaar inhou. En Strach Serfontein met sy liederlike handskrif wat integriteit, maar ook misleiding verklap, is nou weer ʼn ander tameletjie.
Wanneer het lewe so goedkoop geword en genade so duur? Masjiengeweervuur skeur deur die stilte van die nag in die distrik van Opathe in die Natalse bosveld. Dit verander die lewe van een boeregesin vir altyd, want twee geslagte word in ’n oogwink koelbloedig op hulle plaas deur gesiglose aanvallers uitgewis. Aella O’Malley, die ondersoekbeampte, sukkel om sin te maak uit ’n reeks leidrade wat deur politiek, afguns, vrees, geloof en bygeloof tot ’n verwarrende mengelmoes van inligting deurmekaar geroer word. Om sake te kompliseer kry sy ’n boodskap: “Onthou die pad na Opathe,” wat in gewone omgangstaal ’n doodsdreigement is. Net daarna wórd sy inderdaad raakgeskiet. Wat is die motief? Is dit net nog ’n sinlose plaasmoord, waarom wil iemand Aella uit die weg ruim, en sit daar iets meer agter hierdie slagting? Haar eerste verdagte word wreed aangerand deur ’n gefrustreerde jong boer, en nou het die oorwerkte polisie hóm ook in hegtenis geneem. Die roman bied ’n sonderlinge blik op die polisie se werkwyse. Breytenbach werk daagliks in ons strafregstelsel en sy beskryf die polisieprosedures in detail, maar só dat die leser voel jy stap saam in die aanklagkantoor in. Die lykskouings, die vorms, die klagteboeke, alles word deel van die storie. Hier is ’n kenner se hand aan die werk. Wat meer is, die roman toon hoe sekere ondersoekbeamptes steeds probeer funksioneer in ’n disfunksionele stelsel en ondanks politieke inmenging in hulle werk. Moord, verraad en hoop: Watter een van hierdie drie sal uiteindelik oorwin? Eers teen die einde, wanneer Aella besef sy is bedrieg, verstaan sy dat die pad na Opathe ’n verraderlike pad is wat met groot omsigtigheid gestap moet word.
Fleur (1938), 'n Malherbe met suiwer Hugenotebloed in haar are, is die eienares van 'n verwaarloosde wynplaas en 'n groot hoop skuld, maar sy weet min van wynmaak en niks van wingerde nie. En dan kom Christiaan Davel aan in die vallei. Hy weet alles van wingerde en wyn af en laat haar hart skoon op galop gaan, maar hy is 'n Transvaler en boonop lief vir iemand anders.
Isabelle (1932, Willemien se dogter) is 'n opstêrs Ierse gravinnetjie met 'n passie vir skilder, maar sy voel die verantwoordelikheid van haar gravinskap swaar op haar rus, veral toe sy besef dat haar titel bepaal met wie sy mag trou. En des te meer toe sy op 'n bywoner wat klei uithaal op hul plaas in Suid-Afrika verlief raak.
Die vrou van die klippesee vertel hoe die lewe vir Hendrik tot nou toe gerol het soos ’n stormsee. Hy is ’n visserman van ’n klein dorpie aan die Weskus wat jou aan Paternoster laat dink en in sy lewe het hy reeds sy broer aan die dood afgestaan. Maar dit is die verdwyning van sy vrou wat hom bitter maak en na die papsak wyn laat reik. Só staan hy dronk en droewig in die koue see, reg om homself te verdrink terwyl sy hond op die strand vir hom wag wanneer die roman begin. Hendrik se lewe begin handomkeer verander wanneer hy ’n gewonde gedierte, miskien iets soos ’n meermin, huis toe bring. Die vrou van die klippesee wys hoe goed fiksie sosiale en politieke kwessies kan ondersoek wanneer die skrywer lig werp op die lewe van ’n karakter wat aanvanklik niksseggend en nietig blyk te wees.
Die Holy Hunchback Vampire Slayer glo hy is ’n heilige wat die stad se vampiere moet uitwis. Sy eerste slagoffer vermoor hy met ’n houtpen deur die hart. Dit gebeur op die verhoog tydens die opvoering van die riller-drama, Die Boggelrugvampierjagter. Doktor Olaf Demeyer en sy vriendin adjudant Beth Jordaan is ooggetuies saam met 104 toeskouers. Olaf se dogter Franci vertolk ’n rol in dié drama en is dus bitter ontsteld oor die gebeure. Beth stem in om die aanvanklike ondersoek te lei. Heel gou veroorsaak die besluit spanning tussen haar en Olaf, aangesien sy vir Franci as ’n medepligtige verdink. Olaf roep die hulp van ’n privaatondersoeker in en ontdek so dat Franci betrokke is by die Port Elizabeth Gothic Vampire Society, ’n groep jongmense wat hul vampierfantasieë uitleef. Dan is daar ook die ware vampiere – hulle drink mensbloed. Dit lyk vir Olaf of die boggelrug die meeste van sy slagoffers uit die twee groepe vampiere kies, maar wanneer hy die moordenaar se ware motief ontdek, besef hy honderde onskuldiges in die stad se lewe word bedreig. Nagjagter is nie bloot ’n vampierstorie nie, dit ondersoek eerder die psigologiese toestand genaamd Vampirisme en gewone mense se aangetrokkenheid tot die mites rondom vampiere. Die boek speel in op mense se vrese vir en aangetrokkenheid tot die donker onbekende, dit ondersoek die donker kant van ’n religieuse soeke en die uitspeel van fantasieë. Dit is ’n spannende roman wat fokus op die sielkundige en religieuse motiverings van die moordenaar, ’n moderne, eietydse vampierverhaal.
Wat maak ʼn ma as haar sesjarige kind ontvoer word en 20 jaar later weer verskyn? Erin se dogter wat op ses verdwyn het, klop 20 jaar later aan haar deur. Maryna praat vlotter Chinees as Afrikaans, sy is grotesk, het ’n daggagewoonte, is stuurs en stil. Erin is nie ’n emosionele mens nie, haar greep op die werklikheid is glibberig en sy praat moeilik oor haar gevoelens. Sy is obsessief oor die man wat haar verlaat het en die jeugvriend wat steeds na haar hunker. Hoe gemaak met die kuiken wat onder haar vlerk uit gesteel is, wat deur vreemdelinge hanteer is sodat sy haar reuk nie meer eien nie, wat grootgeword en tuisgekom het om te broei? Wie lê op loer na haar kind? As jy van moord droom voel dit dikwels asof jy in ’n parallelle werklikheid inderdaad gemoor het; jy word met ’n knaende skuldgevoel wakker en wonder waartoe jy regtig in staat is. Erin het haarself beskou as iemand aan wie moederinstink ontbreek, maar toe haar kind verdwyn het, het haar lewe alle betekenis verloor. Nou is Maryna terug, maar hoe dring sy tot hierdie woedende vreemdeling deur? En wat sal sy doen om haar dié keer te beskerm? Hier is ’n karaktergedrewe blitsblaaier vol noir en stokou raaisels.
In Willemien (1909, Tamara se broerskind) speel die taalstryd 'n rol. En die romantiese vraag hier is: Wat gebeur as 'n vrou, wat 'n konsentrasiekampkind was en wie se hele familie feitlik uitgewis is deur die Engelse, verlief raak op 'n Ier? En as sy boonop 'n stryder vir die taal is en haar liefde vir die man verg dat sy Ierland toe moet trek?
Jou buurman dink hy besit die polisie ... Petra Smit erf onverwags haar oupa se ou werkswinkel in ʼn klein Vrystaatse dorpie. Daar is gelukkig kopers wat tou staan vir die gebou, maar Petra gaan, heel nuuskierig, kyk na hierdie eiendom waarvan sy nie glad nie geweet het nie. Daar aangekom, ontdek sy die erf vol motorwrakke wat aan die plaaslike slagter behoort. Dié einste slagter is ook die buurman, hy is 'n vroueslaner en hy skeep sy seun, Monty, af, maar hy het kontant en staan gereed om Smit Motors te koop. Petra, wat baie lief was vir haar oupa, wil nie die erflating aan so 'n persoon verkoop nie en 'n mini-oorlog breek uit. Dinge word nog moeiliker toe Arno, 'n reus van 'n man met die psige van 'n kind, aan haar deur kom klop. Hy wil help. Die reus maak homself tuis en word vriende met die slagter se seun, Monty. Petra hoort nie in hierdie dorp nie. Sy mis haar mooi meisie en die roman wat sy wil skryf, bly tweede kom in die oorlog met die slagter. Die slagter hoort wel op die dorp. Hy ken die polisie en intimideer almal. Sal die vreemde Petra en haar twee nuwe maats, Arno en Monty, die oorlog kan wen? Die boek word uit verskeie perspektiewe vertel. Petra is een perspektiefkarakter, so ook is die Johanna, Monty se oppasser. Aan die ander kant van die wêreld bly Susan, ʼn kunstenaar, vasgevang in ʼn luukse Sweedse kunstepark, nog 'n perspektiefkarakter. Wat het hierdie vroue met mekaar in gemeen? Hoe bind Smit Motors hulle almal? Smit Motors is toeganklike literêre fiksie. Réney Warrington slaag daarin om die spanning snaarstyf te hou, terwyl die leser die speurwerk moet doen, wetende dat iemand se bloed sal moet vloei. Die vraag is: Wie s'n?
Lisa vlug van haar gewelddadige, dwelmverslaafde kerel en begin 'n nuwe semester by die Elizabeth Galloway skool vir modeontwerp in Stellenbosch. Daar ontmoet sy weer vir Estian, met sy onweerstaanbare blou oe. Maar Lisa kan net nie nou by iemand betrokke raak nie, want al waaraan sy kan dink is die geheim wat sy wegsteek . . .Hierdie romantiese reeks met heelwat avontuur, aksie en hartstog sal lesers vasgevang hou tot die laaste bladsy! |
You may like...
|