![]() |
Welcome to Loot.co.za!
Sign in / Register |Wishlists & Gift Vouchers |Help | Advanced search
|
Your cart is empty |
||
Kan sy nog enige sin in die lewe vind as dit voel asof haar slagaar
deurgesny is?
Jy is te naby aan die water,” fluister Paul. “Babers slaap in die modder. Hulle sal wakker word as jy op hulle trap.” Paul en Dominique se sorgelose kinderdae op ’n Vrystaatse plaas is vir ewig verby wanneer hul ouers se linkse politiek die skoollewe op die dorp onmoontlik maak. Hulle word weggestuur na kosskole in Natal. Paul is ’n belowende jong digter, sy suster sy vertroueling. Maar Paul is vol woede en sy ontwaking word ’n afwaartse spiraal. Hulle vlieg London toe om die bedrukking van Suid Afrika te ontsnap, maar hy gaan ook sy dood tegemoet. Dominique Botha se roerende debuutroman is ’n elegie vir die lewe van haar kleintyd en haar verlore broer. Die boek is op ware gebeure gebaseer.
Veilige hawe is 'n heruitgawe van twee van haar romanses. In Vonkpos vir die hart probeer Liezl die muur om Pieter Naude afbreek. Na die moord op sy gesin is dit nie maklik nie. Sy verstaan egter - sy het self haar man verloor. Tog raak sy lief vir hom. Na wie luister sy - haar hart of haar verstand? ’n Beskermengel vir Marlene is die drie-en-twintigjarige weduwee, Marlene, se verhaal. Sy is bang en vertrou niemand nie - totdat Adolf opdaag. Haar bang word vertroue. Sy erken dat sy hom liefhet en hy baai haar in sy omgee en sorg … Tot die verlede hulle inhaal.
Die ware betekenis van la dolce vita ... In ’n skoendoos vol papiere wat Lizette de Klerk by haar bejaarde ma kry, ontdek sy ’n brief van haar oupa. Dié versoek dat ’n bedrag geld aan die Italiaanse De Lucas-gesin betaal word. Haar oupa het gedurende die Tweede Wêreldoorlog in Italië geveg en is daar gewond. Presies wat tussen haar oupa en die De Lucas-gesin gebeur het, is nie duidelik nie, maar dit stuur Lizette op ’n speurtog na Italië. Hier onthul die geskiedenis van oupa Isak se verbintenis met Isabella De Lucas sigself soos ’n skildery, laag-op-laag en ontroerend mooi. In Italië, aan huis van haar galante gasheer, die kunsprofessor en kunstenaar Alphonso Lombardi, leer Lizette die ware betekenis van la dolce vita ken.
Die oorspronklike Engelse roman - THE FAULT IN OUR STARS - is 'n internasionale blitsverkoper waarvan ook 'n baie suksesvolle rolprent gemaak is. Die bekende skrywer en kunstenaar, Tinus Horn, het die boek op 'n sensitiewe manier in Afrikaans vertaal as DIE FOUT BY ONS STERRE. Ondanks die mediese wonderwerk wat gewasse laat krimp en vir haar 'n paar jaar koop, stuur Hazel se lewensverhaal op die einde af; haar diagnose het die inhoud van die laaste hoofstuk bepaal. Maar wanneer 'n uiters aantreklike omwenteling met die naam Augustus Waters by die kankerondersteuningsgroep vir kinders instap, word Hazel se storie van voor tot agter herskryf. Rou, dapper, oneerbiedig en vol insig, DIE FOUT BY ONS STERRE is tot dusver die bekroonde skrywer John Green se mees ondernemende en hartroerende roman, waarin hy die lagwekkende, asembenewende en tragiese aard van die lewe en liefde skitterend verken.
Deborah (1923/1924, Tamara se middelste dogter) is 'n buitengewoon slim vrou met 'n passie vir argeologie. Hoe kry 'n vrou dit in daardie jare reg om op 'n argeologiese terrein aanvaar te word en wat gemaak as sy vermoed dat die man wat sy liefhet argeologiese skatte steel en verkwansel vir eie gewin?
Wat maak ʼn ma as haar sesjarige kind ontvoer word en 20 jaar later weer verskyn? Erin se dogter wat op ses verdwyn het, klop 20 jaar later aan haar deur. Maryna praat vlotter Chinees as Afrikaans, sy is grotesk, het ’n daggagewoonte, is stuurs en stil. Erin is nie ’n emosionele mens nie, haar greep op die werklikheid is glibberig en sy praat moeilik oor haar gevoelens. Sy is obsessief oor die man wat haar verlaat het en die jeugvriend wat steeds na haar hunker. Hoe gemaak met die kuiken wat onder haar vlerk uit gesteel is, wat deur vreemdelinge hanteer is sodat sy haar reuk nie meer eien nie, wat grootgeword en tuisgekom het om te broei? Wie lê op loer na haar kind? As jy van moord droom voel dit dikwels asof jy in ’n parallelle werklikheid inderdaad gemoor het; jy word met ’n knaende skuldgevoel wakker en wonder waartoe jy regtig in staat is. Erin het haarself beskou as iemand aan wie moederinstink ontbreek, maar toe haar kind verdwyn het, het haar lewe alle betekenis verloor. Nou is Maryna terug, maar hoe dring sy tot hierdie woedende vreemdeling deur? En wat sal sy doen om haar dié keer te beskerm? Hier is ’n karaktergedrewe blitsblaaier vol noir en stokou raaisels.
Grietjie se loutering is die aangrypende verhaal van ’n weduwee wat haar inkomste as tydelike huiswerker verdien in Grabouw. Sy sukkel om kop bo water te hou, maar haar geloof dra haar. Wanneer haar seun deur ’n provinsiale rugbyspan gewerf word, het die gesin hoop op ’n beter lewe. Grietjie se geloof word getoets wanneer ’n tragedie die gesin tref. “Ek weet wanneer ek eendag by die punt kom waar ek weer met die Here kan praat met vrymoedigheid, dan wag Hy vir my. En wanneer dit voel ek kan nie meer nie, dan dra Hy my. Maak nie saak wat ek verloor nie, ek het Hom altyd. Wat meer wil ek hê?”
Die driejarige seuntjie van Elias en Barta van Rooyen raak spoorloos weg in die Knysna-bos. In die Lange Kloof, anderkant die berg, ontferm Fiela Komoetie haar oor ’n weggooilam wat een nag voor haar deur kom huil. Die een kind is Lukas, die ander Benjamin. Is dit dieselfde kind? Dié raaisel word nege jaar later oopgekrap deur twee sensusmanne wat die wit kind met die blou oë by ’n bruin gesin in die Lange Kloof kry. Fiela se kind is ’n boek met ’n warm hartklop, dit is ’n boek oor moederliefde, oor liefde wat oor alle grense heen strek. “Hierdie roman bevestig op skitterende wyse dat min mense by Dalene Matthee kan kers vashou as dit by die vertelkuns op sy eerste en onderhoudendste kom.” - André P. Brink, Rapport
Bippie se pad word onderbreek met haar onbeplande swangerskap, dus moet sy nou ’n nuwe een soek. Sy maak 'n belofte teenoor die Here - sy sal nie weer ’n man in haar lewe toelaat as hy nie met haar wil trou nie. Maar die man wat skielik al onder haar voete is, Riekert Tredoux. Hy het lankal besluit hy wil nooit trou nie. Toe hy en sy broer klein seuntjies was het sy ma hulle net so gelos en by die voordeur uitgestap. So hy het allerhande issues. Sal Bippie haar belofte gestand kan doen en Riekert wel wil trou?
Die Davelvroue bestaan uit sewe boeke: Tamara, Willemien, Annabella, Deborah en Isabelle, Maryn en Fleur. Die reeks, wat in 2006 verskyn het, word nou heruitgegee op aandrag van lesers. Benewens die kwessie van vroue se bemagtiging, spreek Die Davelvroue ook eg Suid-Afrikaanse en spesifiek Afrikaanse geskiedkundige kwessies op subtiele wyse aan, alhoewel die genre steeds fokus op vroue se belewing van die liefde. Tamara (1899 – 1902) speel tydens die Anglo-Boereoorlog af en die romantiese vraag in dié boek is: Wat gebeur as twee mense grootgemaak is om te glo dat hulle broer en suster is, mekaar liefkry en teen die agtergrond van die chaos van oorlog moet probeer uitvind hoe sake inmekaar steek?
Sy liefde is soos die eerste lenteblom. Mia se gunstelingmens is haar ouma en haar gunstelingplek is haar ouma se blommewinkel, Die geel katstert. Daarom sal sy enigiets doen om te verhoed dat die nuwe indringer, sexy Emil Mühlbacher, die plek toemaak. Hy kan dreig, skreeu, vlei; niks gaan haar oortuig nie. Sy is bestand teen mans met geheime ná Jacques se verraad. Emil is wel nie 'n hartelose sakeman nie; hy het ʼn sagte kant maar ʼn troebel verlede. Hy het nie per toeval in dié pragtige dorpie kom bly nie. Mia moet ʼn plan maak om die winkel te red én sy moet haar hart beskerm. Hoe moeilik kan dit nou wees? Die verhaal handel oor hoe gemeenskappe in klein dorpies laer trek wanneer daar moeilikheid is. Die bykarakters is heerlik driedimensioneel, wat sorg vir ʼn genotvolle leeservaring.
Web van liefde is ñ samestelling van Rykie Roux se vorige Romanzas - Mariek en die magnaat; Satynprinses & Naweekbruid.
Die SARR Kliniek het vyf jaar gelede Marina se toevlug geword toe haar lewe in duie stort. Dan sien sy Christiaan van Breda se naam op ’n lêer. Dié nuwe pasiënt kan tog nie dieselfde man wees wat haar siel geknak het nie? Dieselfde man wat die oorsaak is dat sy tot vandag toe nog nie enige ander man behoorlik kon vertrou nie. Hoe gaan sy hom na al die jare weer in die oë kyk om sy fisioterapeut te wees? Dadelik klim die seer en vernedering wat sy só netjies vir die mense om haar – haar ouma, haar kollegas en haar seuntjie – kon wegsteek, terug in haar lewe. Nou voel sy selfs meer magteloos as daardie dag toe sy besluit het om haar rug op haar eksman en sy manewales te keer. Nie alles in die verlede is egter sleg en onaangenaam nie. Daar is juis soveel mooi dinge wat tussen hulle gebeur het, en Marina sukkel om die warboel emosies onder beheer te kry. Sal sy dit regkry om Christiaan te help? Hoe gaan sy die groot geheim onthul wat sy al die jare so sorgvuldig bewaar het?
Yvette, Paul, Mila, Emma, Adriaan, Liane, Max, Bobby, Ralph, Philip: Tien karakters wie se verhouding in Wegkomkans oor ’n tydperk van tien jaar eb en vloei soos die getye van die see wat telkens die agtergrond vir hulle “wegkomkanse” vorm. Vanaf die politieke noodtoestand in die jare tagtig tot die demokratiese bevryding in 1994: Dié vriendekring se samesyn bly die konstante in ’n andersins veranderende wêreld waarin die ontnugterings en teleurstellings van die werklikheid soms met niks anders as goeie kos, goeie wyn en ’n stewige skeut selfspot getemper kan word nie. Soos hulle jeugdrome vervorm en hulle naïewe optimisme oor die lewe verdof, groei en verander die vriendskap. Verhoudings kom en gaan, ouerskap word ’n al hoe prominenter onderwerp van bespreking, die jeugdige passie oor ’n “nuwe” Suid-Afrika word ’n neutraler, meer besadigde gelatenheid oor wat nié verander kan word nie. “Verlore liefde tussen twee mense,” verklaar een van die karakters, “kan so tragies wees soos verlore menseregte vir miljoene.” Uiteindelik is dit vriendskap wat die aanslag van tyd en trauma deurstaan; wat ’n skans teen verlies vorm. Die nuwe Slotwoord tot hierdie roman, skryf Marita van der Vyver: “Hierdie roman, so vertel hulle my, kan ’n nuwe geslag lesers help begryp hoe Afrikaanse stedelinge in die laat jare tagtig en vroeë jare negentig, tussen die laaste stuiptrekkings van die Ou Suid-Afrika en die skrikwekkende geboortepyne van die Nuwe Suid-Afrika, dit reggekry het om op die rand van ’n afgrond te bly dans.” Wegkomkans bied op hoogs vermaaklike dog erg simpatieke wyse insig in Suid-Afrikaners se versugtinge en ontnugterings – wat byna 20 jaar nadat die teks oorspronklik verskyn het nog net so relevant is soos destyds.
Lija is ’n meisie van Joods-Romeinse afkoms en die aangenome dogter van
Pontius Pilatus. Sy bevind haar in ’n gereëlde verlowing met Silva, ’n
Romeinse tribuun. Eers dink sy hy is nes al die ander Romeinse mans,
harteloos en ongenaakbaar.
In haar grootwordjare in die laat tagtigs dra vroue skreeuhelder neonkleure, skouerkussings en groot hare. Maar nie háár aanneemma nie en ook nie Kaila sélf nie. Sy skáám haar! Haar ma is kerklik en koeklik en oorgewig en nie regtig lief vir haar nie. Kaila word bespot en leer verwerping ken op vele vlakke. Daar is ’n gevaarlike, verbode aantrekkingskrag tussen haar en haar Wiskunde-onderwyser. Sal hy die liefde van haar lewe wees? Ná ’n motorongeluk wat ernstige letsels laat, verdwyn Kaila se ma spoorloos. Die onsekerheid en verlange spook lank daarna nog by haar. As enkelouer stort sy jare later al haar liefde uit op haar seun, Sebastian. As hy tog net nie bevriend was met Bertina, die wildewragtige dogter van Max Viljoen, nie! Toe Bertina swanger raak, staan Kaila se seun se toekomsdrome gevaar om verpletter te word. Wat gemaak met die swangerskap wat soveel mense se lewe in skerwe laat spat? Max is vasbeslote dat sy dogter nie alleen met die baba in die arms gaan bly staan nie terwyl Kaila haar seun wil beskerm. Eintlik het Kaila en Max mekaar nodig, maar Kaila se hart breek wanneer sy die pyn in haar jong seun se oë sien. En Kaila weet, sy weet, ’n mens het meer nodig as ’n blom in jou hare om gelukkig te wees.
Wat het ’n geheime organisasie en ’n kultus met korrupsie in hoë plekke te doen? Vyf meisies is reeds gemartel en vermoor voordat Renata Malan en haar span deur die polisie gekontrakteer word om ’n nuwe geval te ondersoek. Elke geval is doelbewus geplant sodat dit ontdek móés word en die modus operandi laat geen twyfel dat dit ’n reeks is nie. Maar die spoor is koud. Identifikasie is onmoontlik vanweë hu gesigbeserings. Dit maak slagofferprofilering onmoontlik, want hoe vang mens ’n moordenaar as jy nie weet wie die slagoffers is of waar hulle vermoor is nie? Die enigste ander leidraad is ’n belofte van nog ’n moord oor drie en dertig dae. Toe die outistiese forensiese beeldhouer in hegtenis geneem word, gaan rooi ligte aan vir Renata, en sy en haar span delf dieper. Word iets toegesmeer? Speel die obskure Noagsgemeente dalk ’n rol? Tot watter mate sal die Vrymesselaars een van hulle lede beskerm? Wat weet Mistress Raven, die eienares van die kerker waarin sado-masochiste hul seksspeletjies beoefen? En wat sal die versteurde Chanté Naudé-Mulder nóg doen om Stefan deel van haar lewe te maak? Lam ter slagting vertel die verhaal van korrupsie, mensehandel, geldwassery, bissare seks en ’n buitensporige magsdrang teen die agtergrond van die donker bedrywighede van ’n kultus en die geheimhouding eie aan die hoogste graad van Vrymesselary.
Carl Lourens keer terug na Kaapstad se Noordelike Voorstede om sy jonger broer te red uit die kloue van Die Dieretuin: Maxie Tredoux, die vrou met die styfgetrekte gesig haar seun Leo met sy liefde vir geweld en haar dogter Mandie met die speelse, onrustige geaardheid. Niks gaan maklik en eenvoudig wees nie, besef Carl toe hy by die Tredoux se nuwe onheilighede ingeruk word. En dinge raak self snog erger toe die meisie op wie hy verlief is ook by die spel betrokke raak.
Die surfer-meisie Simone, die wulpse huisvrou Andrea en die gesofistikeerde weduwee Maggie is vreemdelinge vir mekaar. Maar op ’n dag wat die lewe hul al drie platgeslaan het, bring die noodlot hulle in ’n ou kombi byeen en so begin ’n onwaarskynlike maar besonderse vriendskap. Wie sou kon raai dat hul liefdes en verliese toe nie so verskillend is nie? Saam trotseer die drie vroue die hoogwater in hul lewe, hoe hakke en al.
Die forensiese wetenskap het in die afgelope dekades indrukwekkend ontwikkel. Ballistiek sluit in: die identifikasie van vuurwapens, bloedspatselpatrone en die aard van die wonde veroorsaak. Dikwels is die oplossings egter te laat. Die afsluiting wat dit bring vir die agtergeblewenes, te min.
Op Pelgrimshoop, 'n weggesteekte dorpie in die voue van die Laeveld, waar die vlaktes wemel van skaap, gras en die oudste klipformasies in Suid-Afrika, daar vind Hannah de Witt haar voete weer na 'n verbryselende verhouding wat sy agterlaat in Pretoria. Ongeag die feit dat haar student, Elias Bart, die knorrige boer van Bartelheim, die man wat 'die ding het met die perde', aanvanklik nie wil saamwerk met waarvoor hy haar laat kom het nie: Om hom verder te kom leer. Die legendariese fete tussen Vliet Vorster, sy 4-manbende, en Bart dreig boonop om in 'n volskaalse konflik te ontaard want Vorster haat die 'bontspul' op Bartelheim. Vliet Vorster, voorste boer en burgemeester, wat elke Saterdagaand Die Oog leegdrink en Sondag voor in die kerkgestoeltes sit. Ondanks die dorp se opstand oor Hannah en haar skrywerbroer Abram se teenwoordigheid in die omgewing, die atmosfeer op die plaas wat maar styf is en Hannah se onwillige student groei die waarheid, teerheid en nederigheid - en Hannah leer 'n ander Elias ken.
Die Vroue Van Kosmoslaan vertel die stories van vyf uiteenlopende vroue. Ellie skryf kinderboeke en wens sy kan swanger raak en haar stories vir haar eie kind vertel. Ida Scholtz se man en seun is saam in ’n motorongeluk dood en nou bly Claire, haar skoondogter by haar. Marella is ’n prokureur en lewe streng volgens voorafuitgewerkte lysies. Julia en haar seun, Rudi, bly ook in die laan en Julia is bly dat sy destyds die huis in haar naam gesit het want haar man het saam met sy sekretaresse weggeloop en nou het sy en Rudi darem ’n dak oor hul koppe. Alma en Jurie bly langs Ellie en wanneer Alma se dogter verdwyn begin almal in die laan na haar soek. Die vroue deel hul pyn en vreugde met mekaar wanneer hulle eenkeer ’n maand bymekaar kom om te brei. Dit was Marella se idee om die groep te begin al was dit nie die intensie om so gereeld bymekaar te kom nie. Die breigroep word die vroue se toevlug en die kosmosblom word ’n teken van tweede kanse, hoop, drome en geluk. Die boeiende verhaal is elke vrou se verhaal. Die vroue van Kosmoslaan ervaar God se genade en sy belofte om te voorsien wanneer hulle dit die nodigste het.
Die aand toe Alet op Karibib aankom, bereik haar lewe ‘n nuwe laagtepunt. Daar was ‘n paar. Haar pa se siekte, haar loopbaan wat agterweë gebly het, nog ‘n mislukte verhouding. Dis moord om weer haar pad te vind. Letterlik.
“Liefde, welke soort ookal, kom nooit alleen nie.” ’n Versamel erotiese verhale oor die liefde, wellus, genot, soete verleiding, passie, honger en vlamvat. Deur skrywers soos Maya Fowler, Joan Hambidge, Zirk van den Berg, Fanie Viljoen, Riana Scheepers, Jan Vermeulen, Irna van Zyl, Hans Pienaar, Marion Erskine, Leon van Nierop en Kerneels Breytenbach. |
You may like...
|