![]() |
Welcome to Loot.co.za!
Sign in / Register |Wishlists & Gift Vouchers |Help | Advanced search
|
Your cart is empty |
||
Die privaat ondersoeker Renata Malan worstel steeds met die feit dat haar oupa en pa moordenaars is. Te meer omdat haar stiefpa, ’n sielkundige, in sy ondersoek na hierdie geval byna bo twyfel bewys het kinders erf hulle voorgeslagte se bose gene. Renata bevind haar in ’n benouende posisie toe haar pa al hoe sterker verdink word van die reeksmoorde wat sy en haar kollega ondersoek. Hoewel die doodstraf destyds oor haar pa uitgespreek is, het hy op pad na sy teregstelling ontsnap en nou lyk dit of hy veel nader aan Renata woon en leef as wat sy gedink het. Eers wanneer hy agter tralies is, sal sy met haar lewe kan aangaan. Wel, in die sin dat sy dan sal kan bewys sy wil hom uit die samelewing verwyder. Maar is die reeksmoordenaar inderdaad haar pa? En as dit nie is nie, hoekom kry Renata telkens ’n boodskap daaroor en waarom word die slagoffers op sulke strategiese plekke gevind?
Kom ons breek die reëls van misdaadfiksie. Dis 1981 en die maand is Januarie. Wie is so duiwels om die Van Biljons so te teister? Dit is soos die plae van Egipte – maar het reeds met die eersgeborene se dood begín. Dis ’n hartseer saak. ’n Saak van gebed. En dit is ’n saak vir Ludo Labuschagne, die anti-held (hy is ook anti-werk en anti-verantwoordelikheid) wat uiteindelik sy doel in die lewe vind: om raaisels op te klaar. Weg met gewone polisieprosedures. Weg met forensiese toetse, selfone, die internet, CCTV-kameras, GPS en die ander dinge wat regte speurwerk vervang het. Weg met alles wat jy geleer het om te verwag ...
AFRIKAANS – ware lewensketse van gebeure met gewone mense wat noodgedwonge in die regswêreld van prokureurs en howe beland. Treffend vertel deur ‘n ervare en ingeligte prokureur. Dollars Eventualis is lekkerlees-stories vir mense van alle soorte, van 18-81 jaar:
Maryn (1933, Tamara se jongste dogter) is 'n oujongnooi en nie veel meer as 'n konfytkokertjie in die oë van die eienaar van die laventelplaas La Lavende nie. Maar sy moet help om Bergendal vir die Davels te red en uit die kloue te hou van die einste laventelman wat agter hulle lemoenboorde se bloeisels aan is - selfs al is hy die man wat haar wat haar bedwelm met sy kerslelie oë.
Hierdie vreesaanjaende bundel bevat grilverhale oor spoke, welgeeste, goelery, krapgeeste, dwaalgeeste, fortuinvertellers, stigmata, wonderwerke, sieners, seances, sangomas, tokkelosse, djins, spookligte en alles wat onverklaarbaar is. Laat gerekende spekskieters soos Kerneels Breytenbach, Henning Pieterse, Jaco Jacobs, Marion Holm en Marie Heese jou die Skrik op die Lyf jaag. Heelparty bonatuurlikwoordbegaafde bangmakers debuteer ook hier.
François Bloemhof is bekend daarvoor dat hy aanhangers van spanningsverhale telkens gee wat hulle soek – én wat hulle nie kon verwag nie. Met Die vierde stem is dit waarder as ooit. Die storie word vanuit meer as een perspektief vertel. Drie karakters – ’n kantoorwerker, ’n kopdokter en ’n skrywer – beïnvloed mekaar op maniere waarvan hulle onbewus is; die leser weet meer as hulle, hoewel nooit genoeg om te voorspel wat volgende kom nie ... Maar aan wie behoort die vierde stem? Waar kom sy vandaan? Watter rol speel sy in dié gebeurtenisryke intrige, en wat is haar vreeslike oplossing? Dis net ’n paar van die vrae, en die antwoorde is uitklophoue. Aangetrokkenheid en afhanklikheid. Konflik, magspeletjies en die ou-ou stryd tussen haat en liefde. Alles in een sielkundige riller saamgebind met ’n blik op menseverhoudinge wat lesers nie aldag beskore is nie.
In hierdie bloemlesing ontvou die wonderwereld van mites oor verskeie kulture en grense heen. In Die ding in die riete ontmoet ons opnuut die bose slang in die Skeppingsverhaal, maak ons kennis met die Khoisan se waterslang en al sy seksuele en lyflike konnotasies en leer ken ons die Chinese uitbeelding van Kwan-Yin, ‘n slang van wysheid. Om nie van die meerminne en ander wonderbaarlike wesens ‘n woord te rep nie. Antjie Krog se: “Ek het die stories absoluut boeiend gevind en agtergekom ek sit vasgenael terwyl ek elke een van hulle lees. Die een is werklik so goed soos die ander en ek dink dit is ‘n wonderlike skat wat hier bymekaargemaak is. Ongelooflik dat al die stories so goed is.”
"As ek terugkom sal ek weer voorbeeldige Lize wees. Almal se staatmaker. Ek glo dat U my die bietjie vryheid gun." Met hierdie gebed roep Lize Lategan haar goeie Christelike opvoeding vaarwel. Sy is op 'n vliegtuig onderweg na Engeland vir die werksgeleentheid van haar lewe. Skaars een uur in die vreemde raak sy, jonk en onervare, egter hals oor kop verlief op haar gasheer, die nimlike Conrad Buckle. Sy het geen weerstand teen sy aanraking nie. Lize kies 'n afdraaipad en swenk met elke nuwe ondeurdagte besluit verder en verder weg van God en van die Lize wat sy eenmaal was. In die euforiese maalkolk van begeerte sien sy nie die waarskuwingstekens raak nie: Conrad bestel haar kos, kies haar klere en neem beheer van elke aspek van haar lewe. Maar sy laat hom begaan. Sy het hom mos lief. Totdat Conrad een aand sy hand vir haar lig en Lize se lewe onherroepelik verander...Afdraaipad is Elaine Marais se derde roman. Dit volg op haar debuutroman, Liefde vir Lienke, en haar tweede roman, Koesterkind. Elaine Marais kan beskou word as Suid-Afrika se eie Francine Rivers. Haar boeke is gemik op vroue wat al die veersagte tinteling van die liefde ervaar het, maar ook die wanhoop ken van onbeantwoorde liefde.
Liefde vra soms van jou om onmoontlik dapper te wees. Teen haar beterwete nooi Mieke vir Boeta in haar huis en haar lewe. Sy het nie geweet van haar man se vorige verhouding of sy kind nie. Hoe kan sy Boeta kwalik neem vir sy pa se vergrype as jongman? Buitendien, Boeta hou almal se harte in die holte van sy hand. Mieke leer dat die mense wat jy liefhet soms van jou vra om onmoontlik dapper te wees. Dat seerkry en heelword verskillende kante van 'n munt is. En dat almal uiteindelik die koestering van huis en huismense nodig het.
Vir die gebruikers van die webwerf Fermata.com is selfmoordvideo’s iets om gedeel en gevier te word – die mees egte ervaring wat hulle kan beleef, en ook wat hulle kan skep. Daniel Roberts, eienaar en bestuurder van die besonder gewilde webwerf, verkoop dit ook so aan sy gebruikers, maar wanneer hy vir die eerste maal in die openbaar oor Fermata.com praat op ’n televisiekletsprogram, gee dit aanleiding tot ’n reeks verstommende gebeure wat nie net sy lewe nie maar ook die van Megan Oosthuyzen (belowende joernalis en jong ma), Chris Grobler (geskeide polisiebeampte wie se oorlede dogter ’n Fermata-bydraer was) en Simon Potgieter (student aan Oxford wat met ontgogeling op talle vlakke worstel) onherroeplik verander . . . en in minstens een geval beeindig. ’n Donker, meesleurende tragikomedie. Dit is Henry Jack Cloete – skrywer, joernalis en musikant – se eerste roman.
Inboekelinge. Die seun aan die tou sien ’n swart meisie vanuit ’n tuitkappie na hom staar. Eers later, toegesluit in ’n smidswinkel, sal hy agterkom wie en wat sy is. En as hy saamgeneem word op ’n ekspedisie om gesteelde vee terug te kry, sal hy te staan kom voor die godskreiende werklikheid van haar lewe: ’n kind wat tussen die lyke van haar ouers opgeraap en op die saal van ’n ruiter weggevoer is. En dit sal hierdie eenvoudige seun wees, wat aan ’n riem op daardie trekkerswerf aangesleep is, wat dit in die hinterland tuisbring dat daar geen durender band is, g’n tou so sterk nie, soos die verbintenisse wat die hart aangaan.
Danie Botha versamel hier sy kortverhale, rubrieke, artikels en gedigte waarin hy dae in sy lewe so helder moontlik probeer oproep. Die helderheid ontstaan onder meer met die gebruik van erns, sensitiwiteit en humor. Hy illustreer hoe hy uit benoudheid na vreugde beweeg. Die drie afdelings (jeugjare; professionele lewe; godsdienstige rubrieke) vorm ’n outobiografie in die kleine van die man van die uitgewerswese, radio en teater.
Diepsee is ’n keur uit al die kortverhaalbundels van E. Kotze wat sedert 1982 verskyn het. Die uitsonderlike vertellings handel oor die harde lewe aan die dorre Weskus van Suid-Afrika, en soos die eerste bundel se flapteks dit gestel het: “Dit is tydlose verhale waarin die wesenlike aard van die mens met skerp insig en met deernis blootgele word.” Daar is verlate soutpanne waar mense na jare se saamwoon mekaar eindelik leer ken; wraaksugtige vuurgeeste wat besweer moet word en huwelikspaaie vol duwweltjies om te bewandel; ’n jong man wat vreemde draaie op land en see loop om die Nagmaalvieringe te kan bekostig. Die swaar lot van vroue en kinders in die onherbergsame wereld, in ’n tyd toe die beskawing nog ver kon voel, word subtiel en treffend geteken. So ook die swaarkry van ’n vissermanslewe, maar altyd met die oog ook op die mooie, die humoristiese. Die unieke landskap is aan die verteller en mensekenner so intiem bekend dat die leser moeiteloos saamreis daarheen.
Elkeen wat vra, ontvang, elkeen wat soek, vind, en vir elkeen wat klop
sal oopgemaak word.
There are rumours of two dogs and a jackal, terrible creatures, that feed on man and beast in the passes through the mountains of the Brandwaterkom. That is where the Free State forces surrendered meekly to the English. Where someone is ambushing the Tommy escorts in the passes and punishing them brutally – but the quitters too, even the pack animals. Three Boers are at the forefront of this secret Avenging Commando: the bestial harelip Niemann, the cunning Voss, and their imposing leader, Mannetjies Mentz. By their hand many burghers are freed to fight on. And in caves high in the mountain Boer women and children are surviving the Anglo-Boer War. Ma, the unwavering. Aunt Soph, the reckless. Ounooi with the big ears. And Aunt Anne, who is blossoming. They have burnt their farm to the ground themselves, and a mutual agreement allows them to live there with Jan Witsie and his half-Basotho, half-Griqua people. But it is the wrong time for Anne to be blossoming when Mentz and his burghers leave the captured young Tommy lieutenant there – in love as she is, and blind to the inevitable: that the burghers will return, and that they will want blood. And in this way another conflict is born, because Soph’s own brother, bright Frans Naude, is part of that Avenging Commando. Conflict and passion, disloyalty and intertwined fates between Boer and Brit, white and black, man and beast … The mixture is rich and powerful in this story that runs deep and far into Africa: to the foot of her most beautiful mountain, Kilimanjaro, and into the shade of the greatest war, in the middle of the previous century.
Gideon Lancaster, 'n Nieu-Seelander wat vir die Britte veg, infiltreer 'n Boerekommando. Hy word gou verstrengel in verwarrende lojaliteite wanneer hy die boeresoldate beter leer ken en boonop verlief raak op Esther Calitz, 'n eiesinnige Boeremeisie wat sy trou bo alle ander eis. Tussen Esther en kommandant Jacob Eksteen, sy swygsame mededinger in die liefde en 'n man met swart-en-wit beginsels, vind hy sy weg met groot moeite. Die teenstrydige eise van trou en liefde dryf hom tot onbesonnenheid. Hy gryp die kans op 'n groot waagstuk aan toe 'n Britse bataljon gemobiliseer word om die oorlog tot 'n klinkende einde te bring. Halfpad Een Ding is 'n meesleurende leeservaring, 'n liefdesverhaal en oorlogsavontuur neergepen deur 'n ervare, subtiele skrywershand.
Die groot anders-maak (1964) is die tweede deel van Jan Rabie se reeks prosawerke oor die vroee geskiedenis aan die suidpunt van Afrika, wat onder die algemene titel Bolandia verskyn het. Die eerste deel was Eiland voor Afrika (1964), die derde deel Waar jy sterwe (1966) en die vierde Ark (1977). Toe die eerste wit trekboere die berge tussen die Boland en die Karoo oorgesteek het op soek na nuwe weiding vir hul steeds aangroeiende veetroppe, was dit die begin van die einde vir die onafhanklike leefwyse van die Khoi-Khoi wat so lank die heersers oor die uitgestrekte vlaktes was. Aan die hand van die lotgevalle van die Hottentotvrou Keas, wat die witmense se lewenswyse leer ken en aanvaar het, maar dan probeer om na haar volk terug te gaan en ontdek dat hulle reeds tot ondergang gedoem is, teken Jan Rabie in Die groot anders-maak die sedelike en fisieke verval van 'n trotse ras en eiesoortige lewensvorm wat nie kon staande bly teen die invloede wat van die nuwe, Europese, intrekkers uitgegaan het nie. "Rabie se [Bolandia]-tetralogie [is] een van die deurtastendste verkennings van die Afrikaner se herkoms en identiteit en - veral wat Die groot anders-maak en Waar jy sterwe betref - 'n waardige bydrae tot die "roots"-verkenning in die hedendaagse literatuur"- JC Kannemeyer. "Die hele verwikkeldheid van ons vroee geskiedenis kristalliseer hier. …" - Anna van Zyl, Kriterium. This novel was published in 1964 as part of a series of novels depicting the early history of Southern Africa, and was regarded as Rabie's best novel. When the first white farmers crossed the mountains from the Boland into the Karoo it was the beginning of the end for the Khoikhoi people who had lived in these parts for so long. This is the poignant story of the decline of a once proud race.
Vuurklip is Marie Heese, skrywer van die bekende Die uurwerk kantel, se eerste Afrikaanse roman in 30 jaar. (Tyd van beslissing het in 1983 verskyn.) ’n Magiese roman oor die lotgevalle van die Land- en die Seestamme aan die suidkus van Afrika 100 000 jaar gelede. Dis Ama se storie, jongvrou wat wil Storievrou en Moetievrou word, soos die ouvrou Maouma. Maar eers moet sy vrou word – die bloedgebed en die Eerste Ingaan beleef. Wie gaan haar herdman wees? Waarheen verdwyn sy skielik? Dis ook die storie van ’n magstryd; wie gaan Hoofman-owerste van al die Seestamme word? En dis die storie van die mensheid se oorlewingstryd, want die omgewing kan nie meer almal voed nie. Kan hulle beter gereedskap maak? Durf hulle ’n groot taboe breek om te kan voortleef?
Eendag, weet Martlie, gaan sy 'n werk doen waarvan sy hou. In 'n mooi omgewing, waar sy heeldag mooi goed maak. Of doodgewone dinge mooi maak. Waar sy in volkleur kan leef. Maar tot daardie "eendag" aanbreek, werk Martlie by 'n maatskappy wat lelike grys betonpanele vervaardig. Sy werk met vervelige dokumente, tussen mense wat heeldag na rekenaarskerms staar. Sy verduur tannie Hitler se streng reels en vaal losieshuiskos. Sy aanvaar dat die Nivea-advertensieman, soos sy die knieknak-mooie Jaco in haar gedagtes noem, altyd net vir haar sal frons. Sy hou vasberade uit. Omdat sy moet. Want haar sussie is maar sewentien, en 'n graad elf-meisiekind het 'n magdom dinge nodig. Is daar nie 'n kortpad na “eendag” nie? Wonder Martlie, veral toe sy tydens 'n spanboukursus saam met Jaco en die katterige Lieschen in 'n span beland. Gaan haar geduld beloon word, of moet sy maar tevrede wees met 'n monochroom-lewe?
Jessica se lewe is maar soos enige ander graadtien s’n: sy leer die liefde ken, gaan skool toe, sukkel met haar tweelingbroer en geniet die lewe voluit. Dan kom die aaklige skoolkonsert nader, en skielik moet die onmusikale Jessica aan ’n musiekitem deelneem. Vir Jessica daag hulp uit 'n onverwagse oord op ... want nie almal het oumas op motorfietse nie! Liefde is magic is gemik op tieners tussen elf en sestien. Soos in Rossouw se vorige jeugverhale word dit duidelik dat Rossouw ’n besonder goeie aanvoeling vir die psige van ’n tiener het.
As skrywers het hulle reeds naam gemaak; hulle het literere pryse gewen, die harte van lesers verower, diep spore getrap in die Afrikaanse kultuurwereld ... Ons ken hulle as openbare figure, as skeppers van verhale en romans en rubrieke, maar wat is die intiemste, mooiste en selfs pynlikste jeug herinneringe van ons bekendste Afrikaanse skrywers? Was hulle as kinders reeds sensitiewe waarnemers, kunstenaars in wording? Hoe het hulle hul jeug beleef? En hoe word hierdie jeug herinneringe verwerk in hul tekste as gesofistikeerde skrywers?
’n Dekade of wat gelede het Marita van der Vyver soos ’n wafferse prinses van ’n verre land deur Frankryk gereis en ’n vreeslik verleidelike padda leer ken. Omdat sy so graag in sprokies wil glo, het sy gehoop dat as sy hierdie slim padda soen, hy in ’n prins gaan verander. Dis mos hoe sprokies werk. En wat gebeur toe? Saam met haar prins sit sy huis op in ’n Franse dorpie. Hulle gaan woon in ’n ou kliphuis in Rue de l’église – Kerkstraat. Dáároor skryf sy in In die hart van ons huis. En wat gebeur nou? Hulle trek. En nie waarheen nie . . . Na ’n plek wat bekend staan as Plek van die Paddas. ’n Fontein Voor Ons Deur is ’n reeks stories oor ’n verhuising – ’n Franse verhuising! Maar dit is dan eintlik stories oor dit wat die hart vasmaak aan ’n huis en sy mense; ook dit waarvan jy jou moet losmaak as jy verhuis. En daardie dinge wat altyd met jou saamtrek. Een ding is seker: Of dit nou in Kerkstraat of Paddastraat is, soos Marita van der Vyver dit sien, bly die lewe ’n fontein bruisend met verrassings.
In Suid-Afrika se onstuimige tagtigs raak Katrien Neethling bewus van ’n ander wêreld wat nog altyd daar was maar wat sy nie geken het nie. Kan mens net ophou om ’n Afrikaner te wees? Helaas nie. Soos ’n tolbos in die wind bly sy dwarrel tussen politieke woelinge en haar geliefdes wat behoudende boeremense is. Dit is ook die jare waarin die Voëlvry-toer konserwatiewe Suid-Afrikaners en hulle kinders tref met die gevleuelde woorde: “Ons is die mense teen wie julle ouers julle gewaarsku het.” Kort tevore het Wladek Kowalski die politieke woelinge in Pole beleef. Hy met sy digte bos hare en sy eie hartseer verhaal uit die ysige noorde. Ook hy betaal die prys van mense wat anders begin dink. En al is die verlange na sy geboorteland onhoudbaar by tye, kry hierdie hardekwas Afrikaanse meisie dit reg om hom teen sy sin te fassineer. En Katrien leer by Wladek wat die mooi Poolse woorde “moje kochanie” beteken.
Geboei aan die verlede ... Christoff de Lange is ’n lid van die polisie se taakmageenheid. Hy word valslik van dwelmhandel aangekla en kry drie jaar tronkstraf. Hy spandeer elke sent wat hy het op regshulp om sy onskuld te probeer bewys, maar as hy uiteindelik ’n kwytskelding kry, is hy steeds nie nader aan die waarheid as die dag waarop hy gearresteer is nie. Hy is sinies, bitter en werkloos. Met die hulp van oom Bertie, ’n afgetrede sersant en sy vriend, vind hy ’n werk en ’n plek om te woon in Stoffel Myburgh se houtwerkfabriek op ’n kleinhoewe buite Johannesburg. Juanita, Stoffel se dogter wat ook daar werk, is minder entoesiasties oor haar pa se besluit. Daar is absoluut geen plek in haar lewe vir gevangenes of Lotharios nie. Buitendien dra sy swaar aan haar eie bagasie. Totdat sy die verlede kan vergeet en skielik nie ’n toekoms sonder hom kan voorstel nie ...
Deborah Deysel is ’n suksesvolle operasangeres in Zurich – oorspronklik van Suid-Afrika – met geraamtes in haar kas. Luitenant Janek Baptiste lei ’n spesiale Moordeenheid in die Zurich Misdaadpolisie. ’n Bekende dirigent met wie Deborah ’n verhouding gehad het, word vermoor. Die moord, ’n geheime opname van ’n opera-aria en ’n skande bring Deborah en Janek se werelde in botsing met mekaar. Terwyl hulle die leidrade opvolg, besef nie een van hulle dat hulle op pad is om die ontdekking van 'n leeftyd te maak nie. |
You may like...
1 Recce: Volume 3 - Onsigbaarheid Is Ons…
Alexander Strachan
Paperback
|