Welcome to Loot.co.za!
Sign in / Register |Wishlists & Gift Vouchers |Help | Advanced search
|
Your cart is empty |
|||
’n Blik op die binnekring van die Krugersdorp-kultus “Daar was bloedspatsels oor die koffietafel, die banke en die banke se kussings. Peter en Joan was oortrek van steekwonde in hul rûe, nekke en agterkoppe. Nicholas het sy pa en ma gesigte na onder in ’n bloedbad op die mat in die sitkamer gekry. Hulle het hul hek en huis vir hul moordenaars oopgemaak, want hulle het ’n afspraak met hulle gehad.” Elf wrede moorde oor ’n tydperk van vier jaar ruk die gemeenskap van Krugersdorp en haal landwyd nuusopskrifte. Eindelik word al hierdie moorde verbind met Cecilia Steyn en haar kultusgroep, Electus per Deus (uitverkies deur God). Lede van die groep aanbid die grond waarop Cecilia loop en sal selfs vir haar moord pleeg. Die moordenaars is slim, gewone mense – ’n onderwyseres, ’n finansiële makelaar, ’n kind wat tussen die moorde deur steeds ses onderskeidings in matriek behaal en boonop keuring kry om medies te gaan studeer. Hul slagoffers het bloot ’n sake- afspraak nagekom, min wetend dat dít ’n afspraak met die dood was. Wie is Cecilia Steyn? Hoe kan een mens vyf ander manipuleer om moord te pleeg en namens haar in die hof te lieg? Watter rol het Satanisme gespeel? Hoe ontduik onervare misdadigers die polisie vir so lank? Jana Marx beantwoord dié en ander vrae in ’n waremisdaad-verhaal wat gelei het tot een van die opspraakwekkendste moordsake in die land se geskiedenis. Met behulp van onderhoude uit diegene in die binnekring, hofgetuienis en polisiedossiere oor ’n tydperk van vier jaar poog Marx om die publiek se vrae te antwoord en ’n blik te gee op die binnewerkinge van só ’n kultus.
Sosiale vlinder en beïnvloeder, Demi-Leigh Henkel, is gewoond om aandag te trek. Toe ’n uiters aantreklike vreemdeling op ’n vlug nie eens in haar rigting kyk nie, vererg sy haar vir hom. Sy neem ’n selfie van haar en die slapende man en plaas dit op haar sosiale platform met ’n katterige aanmerking daarby. Dokter Paul Krynauw spoor haar op en noem haar ’n sosiale verpesting wat mense se lewens verwoes. Sy besluit om twee weke by sy kliniek deur te bring met die idee om nie net die befoeterde dokter se persoonlike lewe te verander nie, maar ook sy persoonlikheid. Min weet Demi-Leigh dat Paul haar lewe op sy kop gaan draai en haar hart in sy hande gaan hou.
Drie jaar ná die dood van een van Afrikaans se grootste skrywers kom ’n Nederlandse vrou Suid-Afrika toe om navorsing vir ’n biografie oor sy lewe te doen. Sy besoek die skrywer se voormalige vakleerling om meer oor die enigmatiese figuur vas te stel – bykans dertig jaar nadat die twee mans se weë pynlik geskei het. Onder die priemende blik van die biograaf lê die vakleerling, eens ’n aspirantskrywer en nou ’n Zen-monnik, sy lewe bloot in die bestek van een nag. Wie was die groot skrywer werklik? Waarom was die impak van sy kluisenaarsbestaan en sy werk op die jong man so enorm? Hoekom het die skrywer hom na sy eensame sterfbed laat kom? Wat is die ware rede agter die Nederlander se biografie? Sluitstuk is ’n elegiese roman oor verlange, verlies, wraak en versoening wat die roete na stilte en die skeppingsimpuls oopskryf.
Kom ontmoet die mense van Volksvreemd, ’n gemeenskap in die Bruinstad van Suid-Afrika. Hulle is ’n hegte klomp, al kan hulle ook heerlik oor mekaar skinder. Die vurige en ondeunde Marie is ’n tipiese 12-jarige-effens aan die katterige kant, meestal selfbehep, dikwels in die moeilikheid. Sy maak haar streng Oupa Martinus en godvresende Ouma Hettie mal! Wanneer gaan sy leer dat die lewe nie net om haar draai nie, en dat ’n mens soms opofferinge moet maak om ander te help wat nie so bevoorreg is soos jy nie? Marie se neef, Leroy, is baie wyser as wat sy ouderdom verklap. Ou Wouks, die suinige buurman wat homself sien as ’n sjarmante heer, en Lêven, die dorpie se grapjas, sorg vir kleur in die alledaagse doen en late van Volksvreemd. Die kleine klitse is ’n verhaal van hoop – ’n vars, humoristiese storie oor wat dit werklik beteken om deel te wees van ’n gemeenskap.
Huilboek is Hattingh se eerste boek in negentien jaar. Dit is ’n verweefde teks wat afspeel tussen die hier van Nieu-Seeland en die verlede van Ryk se kinderjare in die 1960’s aan die Oosrand. Wie wás die kind op die stoep saam met sy ma en pa en ouma en boeties en Outa Toon? En wie was Outa Toon, van wie ons slegs die skouer en rug sien op ’n foto met pa en seuns? Die man wat vir Ryk gesê het, “Jy is mos die een met die hart.”? Huilboek is ’n kragtoer.
In 2020, tien jaar nadat Sabine uit die Laeveld weggesteier het, keer sy terug om nog net een maal weer hulle familieplaas Donkerhoek te sien en ’n neersitplek te soek vir die bondel wat sy al so lank saamdra. Sy het egter nie ’n telefoonnommer vir die nuwe eienaar nie en Google Maps weet nie van so ’n plek nie. In tien jaar het die aarde hierlangs geswig voor grondeise en armoede en die media berig van ’n onbekende virus wat reeds dood op die planeet begin saai het.
Ná sy pa se dood ervaar Gilbert du Toit eienaardige visioene: kontoerlyne van lig en vlietende skole visse. Hierdie gestaltes is boodskappers, meen hy, en besluit om die blinklywe te volg, oor die wye Karoovlaktes, Kaap toe. Gilbert se pad kruis met dié van die Howlers, ’n trio voormalige tronkvoëls wat met trompet, viool en kitaar deur die platteland toer. Hy kom kleindorpse kroeë teë, en dinosourusparke, en vergesigte wat hy hom tot nou toe skaars kon verbeel. Maar al reis hy hoe ver, die storms van sy verlede woed voort. Kuilsrivier bied ’n tydelike hawe, selfs liefde, maar vir Gilbert is hier geen ontvlugting van ’n dringende en dreigende vraag nie: Is die visse wat hom aandryf deel van groter magte wat sy lot bepaal, of skort daar iets met sy kop? Tom Dreyer se Dorado is ’n magiese roman, so tergend en onpeilbaar soos die sterrehemel van die Karoo.
Dertig jaar gelede is Johan Botha lewenslank tronk toe gestuur vir die moord op drie tienermeisies. Terminaal siek en pas vrygelaat, vra hy misdaadjoernalis Ami Prinsloo om hom te help om sy onskuld te bewys. Hoe kan sy nee sê? Dis ’n uitstekende storie. En as ’n voormalige swemkampioen met geraamtes in haar eie kas, weet sy hoe dit voel om als te verloor. Om te sukkel om mense in die oë te kyk. Hoe dit voel as iemand na aan jou vermoor word en te weet dat die skuldige nog op vrye voet is . . .
Ná haar liefdesteleurstelling was Rozette nie van plan om gou weer verlief te raak nie, maar toe ontmoet sy vir Durandt, ’n geskeide man wat reeds ’n meisie het. Durandt is nog nie reg vir ‘n verhouding met Rozette nie. Sal sy haar reistasse finaal by hóm uitpak?
Dit is Simone se annus horribilis. Op vier en veertig stap sy vir die tweede keer uit n huwelik, bankrot, werkloos, moedeloos, verbrysel. Al wat sy het om van vier en veertig jaar te wys, is n bedenklike verlede, n tienerseun wat skaars met haar praat, en die besef van mislukking en ontoereikendheid wat soos n meulsteen om haar nek hang. Al waarheen sy het om te gaan, is die kleinburgerlike dorp op die Oos-Vrystaatse platteland waar sy grootgeword het, waar haar konserwatiewe ma en konvensionele suster haar gedurig aan haar tekortkominge kan herinner. Rock bottom, dis waar sy is. Maar omdat dit al is wat daar is om te doen, begin sy herbou; aan n loopbaan, n vriendekring, haar verhouding met haar kind, haar verhouding met haar ma. Aan haar vertroue in haarself. Stelselmatig kom daar lig, en sin, en rigting, selfs vir haar. Al waarvoor sy glad nie reg is nie, is Barnard Richter, wat van haar verwag om ten spyte van alles wat sy nie kon vermag nie en alles wat sy nooit sal kan wees nie, weer in die liefde te glo.
Leandi Steyn keer terug na die Kaap om seker te maak dat haar broerskind, Madelein, versorg is. Vanuit die staanspoor bots sy met Madelein se voog, dokter Leon Hattingh. Volgens haar is hy ‘n gevoellose wetenskaplike met ‘n rekenaar in plaas van ‘n hart in sy borskas. Wanneer Leandi per ongeluk in Leon se arms beland, vind sy uit dat die koue wetenskaplike haar lyf aan die brand steek met sy mond en hande. Sy stem in om met hom te trou, slegs ter wille van Madelein, maar is vasbeslote om nie haar nuwe man se bed te deel nie. Maar dis nie so maklik om Leon se wetenskaplike benadering, én sy sjarme, te weerstaan nie ...
Vele kêrels het al by Annie probeer vlerksleep, maar vir haar sal daar altyd net een man wees: Sybrand van Dyk, haar ousus Andrea se man. Sy weet sy moet met dié sondige begeerte klaarspeel, maar sy het van kindsbeen af ‘n heldeverering vir hom en glo steeds sy gaan eendag met hom trou. Toe die sesde grensoorlog op die oosgrens uitbreek, kom Michael Ford, ‘n verhewe maar romantiese luitenant, oor haar pad wat geen geheim maak van sy geneentheid vir haar nie. Hy kommandeer haar geliefde perd op vir die oorlog, maar word kort daarna gewond waarna sy hom moet verpleeg.Sy vertellinge van die Kaap maak haar kop deurmekaarder as al die stories wat Andrea kleintyd vir haar vertel het. Dit laat haar dagdroom oor pieknieks, musieklesse en ‘n bal in die kasteel – tot omstandighede haar onverwags in ‘n ander rigting dwing. Sal sy haar hart goed genoeg ken om dit te volg of eerder die pad van plig kies wanneer sy voor die grootste besluit van haar lewe te staan kom?
Bea Botes het pas klaar gestudeer en begin ’n boek-en-koffiewinkel terwyl sy werk soek. Romantiese verhoudings is nie bo-aan haar lys nie, en sy glo buitendien liefde bestaan net in feëverhale.
Dit is die winter van 1795. Die Kaap is nog Hollands, maar nie meer vir lank nie. Kommissaris Sluysken, die VOC se hoofamptenaar aan die Kaap, het sy Politieke Raad vir 'n vergadering in die Kasteel byeengebring. Hier sit kolonel Robert Gordon, bevelvoerder van die garnisoen, avonturier en Oranje-man. Ook majoor William van Reede van Oudshoorn, lord Hunsdon, vir wie die land en die dorp sy lewe is; verloor hy dit, word hy niks. Hy is bevelvoerder van 'n korps klerke wat vir hierdie krisis hul penne vir gewere moet inruil. Sluysken lees 'n brief voor van die bevelvoerder van die Engelse vloot by Simonstad wat dreig om sy matrose op die land los te laat. William kyk strak voor hom uit. Hy en kameraad Louis Thibault het reeds 'n krygplan ter tafel gele. Sy hoop is op die binnelanders, eerder as op Gordon se garnisoen – die boere, wat so hard soos hierdie kontinent se klippe is. Tussen Gordon en Van Oudshoorn sal die stryd om die siel van hierdie droewe land besleg word. Of vir ewig bly voortwoed. Dan Sleigh se loopbaan as romansier het in Eilande met die pionierstyd aan die Kaap begin, en in 1795 word 'n sirkelgang van die geskiedenis voltrek, met die laaste Kaapse maande onder die Kompanjiesvlag. Sleigh skryf met 'n onfeilbare aanvoeling vir die konflikte en hartstogte wat die totstandkoming en verval van gemeenskappe onderle, en met 'n verstommende oog vir detail.
Om terug te dink aan sy lewe is soos om ’n boek te lees waarvan daar bladsye uitgeskeur is. Hy onthou party hoofstukke so helder soos vandag, ander so vaag soos drome. Stories oor sy kleintyd, dié kom van oral af – van sy ma en pa, Safira, ander grootmense en sy boetie, Stephan. Hierdie stories neem hy met ’n knippie sout, glo hy ter wille van die vertellers. Hy is oor die algemeen inskiklik van geaardheid, iemand wat sy kleinkinders ’n people pleaser sou noem. Wat van Afrikaans gaan word, weet hy nie. Hy en Stephan, het in ’n pastorie grootgeword. Dis ook waar Andreas veronderstel was om die eerste lewenslig te aanskou, op die dubbelbed in die hoofslaapkamer waar hy, soos hy dit later uitgewerk het, waarskynlik ook verwek is. Suster Lenie Joubert, die gemeente se vroedvrou en hul huisdokter, dokter Morrie Jacobs, sou Louisa kom bystaan. Dit sou ’n tuisgeboorte wees, ’n private aangeleentheid in die veiligheid van haar eie huis. Van kleintyd af word Andreas nie net geestelik getoets nie, maar ook fisiek. Sy eie behoeftes en begeertes kry soms die oorhand. Byna te laat besef hy dat hy op ander dinge as geloof gereken het. Eers dan leer hy om hom geheel en al te onderwerp aan die wil van die Here. Geloof soos ’n mosterdsaadjie, sê Jesus, is al wat jy nodig het.
Geliefde inwoner van ʼn kusdorpie sterf in verdagte omstandighede. Haar vriendin Daleen soek na antwoorde maar ontdek net meer raaisels. Kriptiese waarskuwings en haar dogter se verdwyning suggereer ’n verband tussen die moord en vroeëre tienerverdwynings.
Heimwee is die storie van Mart-Mari wat moet terugkeer na die familieplaas sodat sy haar ma kan begrawe en finaal kan afskeid neem van die familie by wie sy nooit tuis gevoel het nie. Maar in ʼn ondeurdagte oomblik betaal sy die knutselaar-nutsman-van-langsaan, Anton Nieuwoudt, om saam te gaan omdat sy vir haar susters gelieg het oor ʼn man in haar lewe.
Die nuutste roman van topverkoperskrywer Helena Hugo. Caroline is maar dertig jaar oud toe sy haar agtste kind in die wereld bring. Al waarop sy gehoop het was om te sterf. Die kloof tussen haar en Willem is so wyd dit lyk asof hulle mekaar nooit weer sal vind nie. Intussen dan pak die onweerwolke van oorlog op die horison saam. Maar die hoop beskaam nie: Genesing begin by ’n weggooikind en ’n gekneusde veldblom.
Speurder Ella Neser stel ondersoek in nadat vier gemummifiseerde linkervoete in ’n Checkers-sak in ’n openbare tuin gevind word. Waar is die liggame waaraan die voete behoort? Lou Pepler, eks-polisieman, nou sekuriteitskonsultant, glo dit hou verband met ’n saak wat hy twintig jaar gelede ondersoek het – die verdwyning van Billy Katz, rykmanseun en rokjagter. Ella se soektog lei na ’n begrafnisonderneming in Turffontein en die Pottas-familie, met hul stom aanneemseun, Rakker. Maar hoe hou die voete verband met Billy Katz se verdwyning en die saak wat Lou sy loopbaan en amper sy lewe gekos het?
Misfit bevat verwerkte rubrieke en kortverhale wat oorspronklik in Rapport gepubliseer is. Hierdie stories onnesoek issues van identiteit, seksualitieit, gesinsdinamika ennie daaglikse lewe van mense aan die rand vannie samelewing – die misfists. Ons leer ken vir Nana, ’n onverwagse geestelike gids (dink Boeddha met geperoxide hare in ’n updo) wat van drag races hou. Daar’s oek stories oor die lockdown-familiebraai oor Zoom, hoe seksualiteit innie bruin gemeenskap navigeer word en hul oupa se twie unsuspecting girlfriends wat by sy begrafnis ankom. En verhale oor die ervaring van gemarginaliseerde mense van Ocean View en binne die groter samelewing. In hierdie bundel, geskryf in Kaaps, weerklink die outentisiteit en humor waarvoor Chase Rhys bekend is.
Die verteller en haar man, Liefie, besluit om digby aftrede hulle lewe in die stad agter te laat en ’n plaas naby Greyton te koop. Hulle word verlei deur die blou berge en plattelandse idille. Wanneer hulle eers daar woon, word hulle egter ontnugter deur die werklikheid van die plaaslewe. Daar is ’n prys te betaal vir die mooi prentjies waarna gehunker word. Gif wat blom, plant, vrug en dier perfek vir die mark laat gedy sodat die landskap sag op die oog val, terwyl die versweë giwwe in die samelewing ook uitgespit word. Die alewige wind en vragmotors wat stof na die huis toe laat waai, teister hulle en stof word amper ’n soort hoofkarakter in die verhaal. Liefie sukkel om die boerdery winsgewend te maak, terwyl die verteller tevergeefs met die bouers stoei om die plaashuis in haar droomhuis te omskep (en tevergeefs skoonmaak aan die stof!). Die skrywer het ’n uitstekende waarnemingsvermoë en die beskrywing van die swaarkry en gesukkel op die plaas word verweef met ’n fyn sin vir humor. Die leser word ingetrek in die wêreld van die verteller, Liefie en hulle hond, Saar – asook hulle bure en die plaaswerkers.
n Televisieprogram oor die rekonstruksie van skedels dwing Carolien se gedagtes terug na ontstellende gebeure vyftien jaar tevore. En na die vreemdeling wat sy toe geteken het. Die taal van been is 'n roman oor gewone mense se strewe en verlies en die onthutsende werklikheid wat onder die oppervlak skuil. Dis tegelyk 'n speurverhaal met 'n politieke ondertoon, die storie van 'n kunsdosent wat haar werk deur regstellende aksie verloor en 'n eiesoortige liefdesverhaal. Uiteindelik gaan dit egter om veel meer. Hierdie roman bly subtiel spook omdat dit dinge se wat die teks verswyg.
’n Omnibus met Dis ek, Anna en Die staat teen Anna Bruwer in om met die film gebaseer op die boeke saam te val. Die omnibus bevat albei boeke. Sy het haarself Stom Anna genoem. Omdat sy aan niemand kon vertel van dit wat tussen haar en haar stiefpa plaasgevind het nie. Hierdie is die verhaal oor hoe sy uiteindelik die stilte verbreek het en haar verhaal aan die wêreld en ook in die hof gaan vertel het. Dis ek, Anna is gebaseer op ’n ware verhaal.
Eric-Emmanuel Schmitt is die geliefde skrywer van Oskar en die Pienk Tannie en Monsieur Ibrahim en die Blomme van die Koran. In Madame Pylinska en die Geheim van Chopin vertel Schmitt die vermaaklike en dikwels roerende verhaal van sy lesse by ‘n Poolse klavieronderwyseres, Madame Pylinska. Sy ‘Saterdae saam met Madame Pylinska’ sluit ook lesse in oor die geskiedenis van Pole en komponiste wat vir die klavier geskryf het, veral Chopin en Liszt. Ander onvergeetlike karakters in die verhaal is Schmitt se Tante Aimée, aan wie hy sy liefde vir die klavier en veral Chopin te danke het, en Madame Pylinska se katte, vernoem na (of geïnkarneer deur?) beroemde Chopinpianiste soos Alfred Cortot, Arthur Rubinstein en Vladimir Horowitz. Dit is ook die verhaal van Schmitt se ontdekking van waar sy eintlike talent lê: nie by die uitvoering van Chopin nie, maar by die skryf van kortverhale, romans en dramas. |
You may like...
|