![]() |
Welcome to Loot.co.za!
Sign in / Register |Wishlists & Gift Vouchers |Help | Advanced search
|
Your cart is empty |
||
In Laataandbiegstories en sulke dinge word die leser meegevoer deur onvergeetlike stories wat om die kampvuur lewe kry. Soms is dit humoristies, soms deernisvol, soms skerp ironies, maar altyd boeiend. Daar word vertel van die nag van die donkie, van Tante wat sag word, van Pollie van die populiere en van die intrinsieke waarde van Victor, die lelike skaaphondkruising. In Jan Nel se kortverhale herken die leser homself onomwonde; dis juis hoekom mens lag. Die mens, met al sy swakhede, bly tog maar mens, en om te lag is soveel makliker as om jouself te kasty.
Lemmer se Eerste Algemene Wet: Moenie betrokke raak nie. Hy pas dit veral toe in sy werk as vryskut-lyfwag by Body Armour, waar hy laag af is op die pryslys, want hy’s die een met die kriminele rekord, die gebrekkige sosiale vaardighede en die baie kort humeur. Wanneer die mooi, ryk Emma le Roux hom huur en begin vertel van onwaarskynlike bedreigings en ’n broer wat sy vas glo ná twintig jaar soos ’n Lasarus uit die dood uit opgestaan het, stof hy ook ’n ander ou Wet af: Moenie klein vroue vertrou nie. Maar wat, welvarende mense lieg en as dit ál gevaar is wat hy moet hanteer, dan vat hy die geld, baie dankie. Daarom vlieg hy op 26 Desember saam met haar Laeveld toe – en só begin ’n koorsagtige tog deur ’n wêreld van gierigheid en korrupsie, ekologiese stryde en sameswerings . . . en moord. In ’n lokval skiet hulle boonop vir Emma. Lemmer het nog nooit as ’n lyfwag gefaal nie, en om sy vyande te identifiseer gaan lewensgevaarlik wees, want hul ontmaskering gaan internasionale implikasies hê. Maar Lemmer is siek en sat daarvoor om onsigbaar te wees. Iemand moet betaal – en hy gaan nie rus voor dié rekening nie vereffen is nie.
Vir Stefan is die oorgang van seksuele dier tot voorbeeldige pa 'n naatlose een. Dis soos verskillende kamers in jou kop, se hy vir homself, wat niks met mekaar te doen het nie, waar jy kan ingaan en uitkom nes jy wil, die deure agter jou toemaak. Aan die manier van dink en handel is daar vir hom niks onsedelik of selfs ongemaklik nie; dit is hoe jy oorleef in 'n wereld wat byna om elke hoek teen homself draai. Trouens, hy is trots op sy vermoe om 'n verkleurmannetjie te wees. Nee, nie 'n verkleurmannetjie nie, eerder 'n man van vele fasette, a man for all seasons – dit verg immers 'n sekere intelligensie. Sonde van Lusinda is die verhaal van Stefan, 'n 43-jarige prokureur en eskeide pa van 'n tienerdogter, wat by 'n braai verlief raak op 'n 20-jarige model sonder matriek. "Age is just a number!" verseker sy hom. Sal hy die “blonde bom" kan weerstaan? Wat sou die impak van so 'n onmoontlike verhouding wees op sy familie, sy vriendekring en sy werk? Is dit hoe 'n midlife crisis lyk?
Gert Garries: ’n Baaisiekel-babelas word in 2002 by die KKNK opgevoer en gee vleis aan ’n karakter uit Etienne Leroux se roman Magersfontein, O Magersfontein! Die plaaswerker Gert Garries ry vir drie dae met die verbrande liggaam van sy kind op sy fiets rond. Hy wil ’n doodsertifikaat bekom, ’n voorvereiste voordat hy die kind kan begrawe. Weens sy velkleur word hy egter deur die burokrate van bakboord na stuurboord gestuur. Na sy ontmoeting met Le Grange, ’n empatiese verkeersbeampte, ontstaan ’n sonderlinge verhouding tussen hulle. Hierdie verhouding suggereer ’n beter toekoms en menslike identiteit vir Gert, terwyl die kind simbool word van ’n bitter en wrang verlede. Eindelik begrawe Gert sy kind saam met die room van die Engelse. Die gehoor volg Gert Garries op sy drie dae lange fietsrit en beleef saam met hom ’n prutpot van emosies. Die drama word gepubliseer in 2019 as Gert Garries: ‘n Baaisiekel-blues.
Johanna van Cas Wepener is ’n roman oor die dood van ’n vrou, Johanna, en haar impak op die mense rondom haar se lewens. Johanna is lesbies in ’n tyd waar dit in die George waar sy grootword en meeste van haar lewe woon, nie sosiaal aanvaarbaar is nie. Die verhaal word geskryf vanuit verskillende perspektiewe: Vanuit haar geliefde Muriel se oogpunt, haar wyse bediende Nonna, haar suster, haar dominee en haar susterskind Willie. Hulle almal probeer haar dood verwerk en sin maak van sekere dramatiese gebeurtenisse in haar lewe as klein dogtertjie. Johanna is ’n aangrypende roman oor die impak van ’n lewe binne ’n sekere milieu en kultuur. Dit getuig van goeie vakmanskap en ’n fyn aanvoeling vir menseverhoudinge, omgewing en atmosfeer.
In Gelukkige slawe bevind twee Belgiese mans met presies dieselfde naam en van, Tony Hanssen, hulleself op 'n keerpunt. In Buenos Aires speel Tony Hanssen – eens 'n toerdirekteur op van die mees luuksueuse plesierbote ter wereld – 'n gevaarlike speletjie as toyboy van mevrou Bo Xiang, die bejaarde eggenote van 'n skatryk Chinese bouondernemer met legendariese genadeloosheid. In Suid-Afrika korrel 'n ander Tony Hanssen – die vlugtende rekenaarprogrammeerder van 'n bankrot bank – met 'n geweer na 'n renoster in die Krugerwildtuin. Die een Tony wil sy vryheid terughe, en die ander een sy gesin. Eers as hulle mekaar vir die eerste keer ontmoet, op 'n ander kontinent, blyk dit hoeveel hulle op mekaar aangewese is.
Skepelinge is ’n impressionistiese betragting van die vroeë koloniale tydperk in die Suid-Afrikaanse geskiedenis, gebaseer op Schoeman se kennis van die VOC- tyd en meer spesifiek die skeepvaart. Self het die skrywer dit beskryf as ’n ‘hibriede skepping . . . wat in laaste instansie beoordeel moet word as produk van die skeppende verbeelding eerder as van navorsing’. Tydens die boekstawing van die duisende skepelinge wat oor die eeue heen na die Kaap van Storms gereis en onderweg ook omgekom het, verweef Schoeman literêre stemme soos dié van Eliot, Auden, Eybers en Melville in Moby Dick met dokumente uit die oorspronklike dagboeke van die 1600’s en 1700’s, soos Van Riebeeck se Dagregister, Peter Kolb se noukeurige beskrywings van die Kaap en ander reisjoernale en geskiedkundige werke van die era. Dit is geskiedskrywing soos geen ander Suid-Afrikaanse skrywer dit nog kon vermag nie. Skepelinge is ’n unieke nalatenskap – veral waar ‘oorsprong’ nou meer as ooit vantevore ondersoek word.
Karl Kielblock het verskeie boeke geskryf, waaronder die Lafras Cuyper-reeks baie bekend is en wyd versamel word. Dit handel oor seeavonture in diens van twee oorlogvoerende moondhede vroeg in die 19de eeu. Hierdie is die derde boek in die reeks. Die boeke is propvol opwinding, spanning en avontuur! Tydens die Napoleontiese oorloe word Lafras gevra om 'n Franse gesant na Indie te neem aan boord sy korvet, Hirondelle. Die verhaal van Lafras Cuyper is op feite gebaseer.
Die drama speel af in die Karoodorpie Willowmore. Die rol van die kerk, verkragting, verlies en familie is van die temas wat aangeraak word. Lekas kyk na 'n kind se weerloosheid en na die familie se verantwoordelikheid om na haar om te sien. Die watermeid (waternimf of meermin) is die mitiese figuur wat tot die dorpie se redding moet kom en drie kinders in die stuk hoop sy sal hulle kom red. Dit raak egter gekompliseerd wanneer die skuldige persoon 'n belangrike figuur in die gemeenskap is - die dominee.
Nog 'n lekkerlees liefdesverhaal van Dot Serfontein. Emma is baie ongelukkig getroud en kinderloos. Haar lewe neem egter onverwagte draaie wanneer 'n boer, Van Greunen, op hul plaas kom boor vir water. Sy staan voor 'n moeilike keuse: Moet sy getrou bly aan haar man en hul ongelukkige huwelik voortsit, of moet sy haar hart volg?
“Pappa, die sterre is dieselfde hier.” Milano Kaliempie is Mieta en Hennerik se enigste vlaktekuiken op die plaas Spookwerwe in die dorre Bo-Karoo. Hul buurman, Geelsuiker, leer Milano die geheime van die veld, ook jakkalsjag, en op die werf is dit Mieta wat soggens douvoordag brood inknie en die hartklop van hul bestaan is. Dis wanneer juffrou Meintjies die dag met haar wit karretjie by die huis aankom, dat die hol kol op Mieta se maag kom sit. Want Milano was dan net die een dag laat vir skool. Maar juffrou Meintjies het ander nuus. Dis Geelsuiker wat raad gee: “Jy moet nou gaan doen wat die regte ding is, Mieta. Daardie klong,” en hy wys na waar Milano die perd inspan, “vat nou die grootpad. Moenie hom in ’n klein kampie ingekeer hou nie.” Die kinders van Spookwerwe is ’n roman wat soos die vaal stof van die Bo-Karoo oral inkruipplek kry en diep in jou hart kom lê. Dis ’n roman oor ma-wees, oor grootword, en oor verliese. Maar ook van weer vol word.
Wanneer oom Fanie, ’n pa van nege lewenslustige seuns, se plaas te klein word, gee hy die opdrag: “Uitspring, kêrels!”. Vir die ouer broers wat moet “uitspring” en hul eie potjie moet gaan krap, is hierdie woorde die begin van ’n groot avontuur. Maar om uit te spring is nie vir sommerso nie. Waar gaan die seuns plase kry? Wat moet hulle op hulle waens laai? En sal hulle alles onthou wat oom Fanie hulle geleer het?
Wat Frederik de Jager se verhale uniek maak, is die feit dat dit om mense sentreer, dat dit fyngetekende portretstudies is. Of dit nou Jan Rabie, die enigste dogtertjie op ’n seunskoolbus, Mal Marina die klawerkoningin is of die seun op die speelgrond wat so stip kon kyk, of sy laerskoolvriend die aksieheld, dis karakters waarmee elke leser kan vereenselwig. Soms is die onderwerp die skrywer self, die skaam seun wat Sartre se selfbewustheid as bewustheid verstaan, die een wat weier om die klavierspelende sissie te wees. Die skryfwerk is dus tydloos en universeel. De Jager het ’n fyn oog en ’n slag met die woord. Soos Dana Snyman kan hy ’n emotiewe snaar raaktokkel en nostalgie opwek. De Jager is egter eerder prosaïs as volksverteller. Hierdie verhale is raak woordprente wat die uitsonderlikheid van gewone mense vasvang, met deernis, humor en ’n skeut hartseer - Op een na het al hierdie stukke verskyn in die tydskrif Vrouekeur van 2015 tot met die sluiting daarvan in 2020, as aflewerings in die rubriek “Mense onderweg”. Die laaste, langer stuk was ook in Vrouekeur, maar as alleenstaande artikel.
Die verhaal van ’n Afrikaanse seun en ’n Boesmanseun in die 1930’s. Kryt is vir agt jaar alleenkind op hul plaas Halt in die Kalahari. Een koue wintersoggend verskyn die Boesmanseun en sy pa op Halt op soek na werk. Kryt sien dadelik die seun se fier en trotse houding, doop hom “Kordaat” en is bly dat hy uiteindelik ’n maat het. Kryt en Kordaat word egter meer as maats – as boesemvriende deurkruis hulle die uitgestrekte Kalahari op hul perde. Kryt leer Kordaat somme maak met tsammapitte. Kordaat leer Kryt die geheimenisse van die Kalahari en sy diere. Saam beleef hul vele – en soms lewensbedreigende – avonture. Die pyl in Slagtand Smit se binnebeen wat sy lang leiding en uiteindelike dood veroorsaak het, bly egter ’n skaduwee wat hul vir altyd sal volg.
'n Vuur brand in Kassie Kasselman se binneste. Reeds as
groentjiespeurder het hy geleer dat jy altyd afsydig moet staan van 'n
saak, anders maak jy oordeelsfoute. Maar hierdie saak krioel in sy
binneste soos 'n bondel giftige slange. Die gedagte aan die kinders,
aan wat hulle moet meemaak . . . En die slagoffers gil desperaat om
hulp. In Medusa boor Van Rensburg 'n nuwe, donkerder aar oop vir ons
geliefde speurder kaptein Kassie Kasselman.
Karl Kielblock het verskeie boeke geskryf, waaronder die Lafras Cuyper-reeks baie bekend is en wyd versamel word. Dit handel oor seeavonture in diens van twee oorlogvoerende moondhede vroeg in die 19de eeu. Hierdie is die vierde boek in die reeks. Die boeke is propvol opwinding, spanning en avontuur! Lafras Cuyper se boot is die Hirondelle - en die Hirondelle is die vinnigste korvet in die Indiese oseaan. Geen wonder dat die Engelse bevelvoerders in Indie die jong kaperkaptein vrees nie, want min van hulle het nog nie met sy buitengewone gesigsvermoe, wakker verstand, waaghalsigheid en dapperheid kennis gemaak nie. Toe die jong man hulle vir die soveelste keer vir die gek hou, besluit hulle dat daar so gou moontlik drasties teen hom opgetree moet word. Hulle stuur drie skepe om hom gevange te neem of, as dit nie anders kan nie, saam met sy boot na die dieptes te stuur. Hulle glo hulle plan is waterdig, maar hulle hou nie rekening met die feit dat 'n heldedaad Lafras twee waardevolle Engelse bewonderaars besorg het nie; dat hul eie spioen homself verraai het om die koekie groen lekkerruikseep...Die verhaal van Lafras Cuyper is op feite gebaseer.
Sakamatlakobata voel soos ’n bywoner op sy eie plaas. Hy wou tot elke prys op Bobbejaankrans kom woon en nou gebeur wat sy bure hom voorspel het. Sy franselemoene word geplunder, sy tentpenne uitgepluk en sy vrou se bakoond met ’n klip toegestop. Sakamatlakobata weet wie is hiervoor verantwoordelik. Dis die een wat spore op sy werf los: kaalvoetspore soos dié van ’n mens. Waterbobbejaan boer op hierdie plaas. Die boer is bekommerd. Is Waterbobbejaan ook die een wat sy hamels vang en daardie maanlignag agter sy en sy gesin se wa aangehardloop het?
Hoe kyk ’n mens terug na jou lewe en wens jy het ‘n ander vurk in die pad geneem? Wat sou gebeur het as? As? In dié diep ontroerende novelle toor die skrywer soos ’n alchemis van ouds met verdriet en spyt. Dit is ’n liefdesroman, ’n elegie aan die verlore liefde. Die verteller verlang terug na Anders, na Jena, na Duitsland. Maar die verlede spoel ’n mens rond soos die see. Nou is dit te laat. Vir altyd te laat.
Universiteit van Johannesburg-debuutprys (2008) Jan Rabie Rapport-prys vir innoverende letterkunde (2008) Siegfried Landman is iets in die dertig. Sy lewe lank het hy saam met sy pa op ’n afgeleë plaas iewers in die Karoo gewoon. Maar dan, op ’n dag, sterf sy pa, en moet Siegfried maak soos sy pa hom al die jare laat oefen het: gaan haal Wilhelm Smit (jare lank al ’n bywoner op hulle plaas) en gaan Kaap toe, na oom Bert Fischer, sy enigste oorlewende familielid naas sy ma, wat ’n meermin in die see is. Dit word ’n magiese reis, wat begin met ’n besoek aan ’n boeregesin op nog ’n afgeleë plaas in die Karoo en amper eindig by Georg Fafnir, sirkusbaas met ’n voorliefde vir die teatrale. ’n Verstommende, meesleurende roman – ’n verhaal wat voortsnel tot ’n onafwendbare einde. ’n Kosbare toevoeging tot die Afrikaanse letterkunde.
Konstant Wasserman se pad loop dood. Sy mense met hul verstarde lewens en hul aansprake dryf hom tot raserny, dryf hom die land uit: Australië toe. In Sydney leer hy kook in 'n restaurant en vind hy vrye geeste wat hom verstaan. Die liefde, in 'n smeulende gedaante, terg sy sinne. Hy is vry. Tot die vreemde blou merke op sy bene begin uitslaan en hy begin siek word.
Dis 1899 en die begin van die Anglo-Boereoorlog. Vir Frank Ingram, sy beste vriend Michal Ras en die se verloofde Kath Rouwenhorst begin dit in Oktober tydens 'n swierige verjaardagparty in die Boland. Vir Frank, 'n student in die teologie wat sy studies staak om te gaan veg, is dit ook die begin van 'n innerlike stryd wat hom afspeel rondom die absurditeite en ontnugtering van die oorlog. Later sal Frank homself afvra of die geweld van oorlog 'n sluimerende behoefte aan wreedheid in hom bevredig. En uiteindelik kom die vraag: Wat was die werklike uitwerking van die oorlog? Die titel van hierdie ontroerende roman kom uit die ou Vrystaatse volkslied waarvan die eerste strofe lui: Heft Burgers ’t lied der vrijheid aan / En zingt ons eigen volksbestaan! / Van vreemde banden vrij, / Bekleedt ons klein gemenebest, // Op orde, wet en recht gevest, / Rang in der staten rij.
Duits Suidwes-Afrika, 1905. ‘n Tyd van oorlog en beroering. Die tengerige Siegfried Bock kom as soldaat na die protektoraat om sy staal te wys. Maar hy word gou ontnugter toe hy vergrype aanskou wat hy nie kan vergeet nie. Lisbeth Löwenstein is hier om met ’n man te trou wat sy skaars onthou, ’n setlaar wat vir haar armlastige ouers geld gestuur het om haar tot vrou te neem. Mordegai Guruseb ontsnap uit ’n konsentrasiekamp waar gevangenes van ontbering omkom. Maar kort voor lank word sy vryheid weer bedreig. En dan is daar die mislukte dokter Albert Pitzer wat homself ’n wetenskaplike ag en hoop om data te versamel wat sy teorieë staaf. Alvaus Luipert, ’n plaaslike skoolmeester, duld egter nie sy arrogante aannames en vernederende metodes nie. In die uitgestrekte, majestueuse landskap van Duits Suidwes-Afrika word dié vyf mense se lot vervleg en elkeen se menslikheid word tot die uiterste beproef.
Anderkant omdraai is 'n versameling van Jan van Tonder se rubrieke wat in Rapport Tydskrif verskyn het. Kort-kortverhale, essays, sketse en anekdotes wissel mekaar af en bied 'n vermaaklike leeservaring. Die leser van die rubrieke kan verwag om te lag en om geroer te word. Van Tonder skryf oortuigend oor die nostalgie van vroeer, en jukstaponeer dit met aktuele sake van vandag. Van Tonder slaag weereens daarin om lewenswaarhede op 'n ongeforseerde en verrassende vars manier oor te dra.
|
You may like...
|