![]() |
Welcome to Loot.co.za!
Sign in / Register |Wishlists & Gift Vouchers |Help | Advanced search
|
Your cart is empty |
||
Sophia het weer een van die episodes gehad waar sy eenvoudig wegraak.
Asof sy in die put is waarin sy as kind met haar troetelkuiken,
Rebecca, geval het. Swart. Niks.
Kom ontmoet die mense van Volksvreemd, ’n gemeenskap in die Bruinstad van Suid-Afrika. Hulle is ’n hegte klomp, al kan hulle ook heerlik oor mekaar skinder. Die vurige en ondeunde Marie is ’n tipiese 12-jarige-effens aan die katterige kant, meestal selfbehep, dikwels in die moeilikheid. Sy maak haar streng Oupa Martinus en godvresende Ouma Hettie mal! Wanneer gaan sy leer dat die lewe nie net om haar draai nie, en dat ’n mens soms opofferinge moet maak om ander te help wat nie so bevoorreg is soos jy nie? Marie se neef, Leroy, is baie wyser as wat sy ouderdom verklap. Ou Wouks, die suinige buurman wat homself sien as ’n sjarmante heer, en Lêven, die dorpie se grapjas, sorg vir kleur in die alledaagse doen en late van Volksvreemd. Die kleine klitse is ’n verhaal van hoop – ’n vars, humoristiese storie oor wat dit werklik beteken om deel te wees van ’n gemeenskap.
'n Paar jaar gelede het 'n sending van die beroemde Willem skeefgeloop en het hy in Kaapstad by die DBV beland. Dis waar Adriaan en sy ouers die oulike swartenwit spanjoelhondjie raakgeloop het. En nou is Adriaan en Willem onafskeidbaar. Hierdie tweede omnibus bevat nog drie lekkerleesavonture: Hulle reis na die Internasionale Ruimtestasie (ja, honde in die ruimte is nie so ongewoon nie!), NewYork en Namibië, en oral wag daar speurwerk.
Speurder Ella Neser stel ondersoek in nadat vier voete in 'n
Checkers-sak in 'n openbare tuin gevind word. Lou Pepler,
eks-polisieman, nou sekuriteitskonsultant, glo dit hou verband met 'n
saak wat hy 20 jaar gelede ondersoek het - die verdwyning van Billy
Katz, rykmanseun en rokjagter. Ella se soektog lei na 'n
begrafnisonderneming in Turffontein en die Pottas-familie. Maar hoe hou
die voete verband met Billy Katz se verdwyning en die saak wat Lou sy
loopbaan en amper sy lewe gekos het?
Dis 1938 en Elisabet Uys se onrus oor haar voorgenome huwelik met Johannes Barnard groei saam met die gerugte dat daar dalk ’n tweede Groot Oorlog mag uitbreek. Gepantser met Ouma Liesbet se raad besluit sy kort voor haar troue om die verlowing te verbreek en vrou-alleen na Europa te reis. Sal Elisabet in die oorloggeteisterde London vryheid en onvoorwaardelike liefde vind? Helene de Kock op haar beste.
“As ’n boom in ’n bos val, en niemand is daar om dit te hoor nie, maak dit nog steeds ’n geluid?” lui die reeds geykte gesegde. As ek nie ’n naam het nie, bestaan ek dan werklik? Wie is ek sonder die mense wat my definieer? As ek anders optree as wat verwag word – is dit ek wat verkeerd is, of die verwagting? Dis van die vrae wat Ilse van Staden sonder pretensie en met fyn aanvoeling vir karakter in Tafel Vir Twee ondersoek. Kind of volwassene, oud of jonk, man of vrou – Ilse van Staden loop ’n geloofwaardige entjie in elk van haar karakters se skoene en leer ken langs die pad die broosheid van menswees, maar ook die mistieke verwondering wat in die alledaagse opgesluit lê.
Op 'n dag in die vroee sewentigs bemerk 'n afgelee Noord-Kaapse gemeenskap 'n gebou in hul midde waar voorheen net 'n stuk braakgrond was. Drie weke later verdwyn die gebou . . . Lees ook oor die vreemde werklikheid van mense wat meer as een maal lewe, oor die jong man wat so skaam is dat hy nie op foto's kan vertoon nie, en oor die intense liefdesverhouding van 'n paartjie wie se lewenspaaie net vir 'n paar sekondes gekruis het.
Min weet die staatsamptenare Pixley en Joubert wat op hulle wag toe Minister hulle na ’n vergadering genaamd “Removal of Monuments” ontbied. Dié twee amptenare se agtergrond is so uiteenlopend soos kan kom: Pixley is afkomstig van die Zoeloe-adelstand, terwyl Joubert glo van sy betoorgrootmoeder se kant afstam van generaal Piet Joubert. Minister se opdrag: Al die apartheid- en koloniale standbeelde, simbole en monumente moet verskuif word. Pixley en Joubert moet deur die land reis en die ongewenste monumente besoek, die situasie evalueer, en dan met ’n plan vorendag kom oor hoe dit gedoen sal word. Die tydsberekening vir die toer is nie goed vir Joubert nie: Sy siek pa (Pompies, wat op sy dag ’n waterwyser was) trek by hom en sy vrou, Alet, in. Alet is ’n medium en nou met Pompies in die huis, maak Joubert se ma se gees ook haar verskyning. Ook vir Pixley is die tyd nie eintlik geleë nie: Hy is nie seker waar hy staan met sy droomvrou, Memory, nie. Die Rwandese kunstenaar uit Nederland wat hy, toe hy haar vir die eerste keer ’n snoekerstok sien vashou, geweet het kán naai. Soos wat Pixley en Joubert vorder met hulle toer op soek na ’n geskiedenis waarvan sommiges eerder wil vergeet, kom besoek hulle persoonlike geskiedenisse hulle ook. Geheime word onthul, maar nog meer vrae en raaisels ontstaan.
Dié boek kry dit reg om peripheral characters en vertellers oppie voorgrond te plaas. Die tailor-dokter met sy briefcase vol sample-lappe, maatband en pen. Die pyn vanne vrou wat haar pasgebore tweeling moet begrawe. Ennie stryd vannie pligsgetroue, prim en proper Mareldia. En dan is daar oek Ghoemeira wat tradisionele waardes mettie modern moet versoen. Hier hoor jy die klanke vannie gemeenskap, musky en soet soes ryke uit die Jannat.
'n Jong man op pad na 'n klooster in Frankryk word deur sy familie
aangeraai om eers 'n verlangse oom in Parys op te soek. Adelbert van
Breda was 'n senior priester in die Katolieke Kerk wat dekades gelede
Parys toe getrek en hom tot die Katolisisme bekeer het.
Toe Kristina een aand vermis raak nadat sy gaan draf het, bel haar
huismaats die polisie. Hulle kry haar in die vroeë oggendure teen die
berg. Sy kan nie onthou wat met haar gebeur het nie; daar is ook geen
verklaring vir die drastiese persoonlikheidsverandering wat sy
ondergaan het nie. Ten einde raad word die hulp van psigiater Ben Krige
ingeroep. By sy kliniek is Kristina vir hom soos ’n labirint–vreemd en
onbekend. Al wat hulle het, is woorde. Maar geleidelik breek woorde
alle grense af.
Milla Roux is ’n veearts wat werk by ’n rehabilitasiesentrum vir sjimpansees in die DRK. Spoedig begin die skermutselings tussen regeringstroepe en rebelle-organisasies van die hele Kongo ’n gevaargebied maak, en kort voor lank is ook die rehabilitasiesentrum in die kruisvuur vasgevang. Saam met drie klein sjimpansee-wesies slaan ’n gewonde Milla op die vlug, vergesel van die enigmatiese Graham Saunders van die organisasie Dokters sonder grense.
’n Reeks geheimsinnige oorsese betalings aan weeskinders van die Bosoorlog het die Inkomstediens diep bekommerd. Dit dra die vingermerke van die ou SAW se koverte intelligensiegroep, Delta 40. Tex se aandag is erg verdeel tussen dié saak en die selfdood van die Engelsman, ‘n oud-makker, wat uit gewetensbeswaardheid nooit aan ‘n vuurwapen gevat het nie. Met Carlos nou terug in Angola, probeer Tex die vreemde omstandighede van die Engelsman se dood opsy skuif en Helena met die naspoor van die geheimsinnige transaksies help. Maar hy en Carlos se bosoorlog-verlede – en die spoor van ‘n ivoor-smokkelnetwerk wat hulle saam met die Engelsman in Angola oopgekrap het – bly opdring tot Tex dit nie meer kan ignoreer nie.
Hermans is aangewys as Nederland se grootste skrywer van die 20ste eeu. Nooit Meer Slaap Nie is een van sy beroemdste romans en steeds ‘n treffer. Dit gaan om ‘n student se spannende en selfs lewensgevaarlike navorsingstog in die nagenoeg onbewoonde Finnmark, die noordelikste gebied van Noorweë. Hy slaag mettertyd daarin om die vernaamste fisieke struikelblokke te oorwin, maar die noodlot en ironie bly op sy spoor. Die boek neem die leser na een van die onherbergsaamste gebiede op aarde asook na onverkende vlakke van die menslike gees waar vrae veel magtiger is as oplossings. Dit is ‘n toeganklike roman met diepte, vir die fynproewer.
Charles Oertel bevind hom in ’n netelige posisie. Hy is ’n skatryk Vrystaatse boer en het sentimente jeens beide magte wat tydens die Anglo-Boereoorlog slaags raak. Bothma se noukeurige navorsing oor hierdie invloedryke man en sy nasate se lotgevalle tydens en na die oorlog bevestig geboekstaafde kennis maar bied ook nuwe inligting. Daarbenewens is dit ’n boeiende menslike verhaal wat die leser tot nadenke stem. Sou dit anders verloop het as dit nie vir die oorlog was nie? Keer die mens nie die punt van die punt van die swaard self op sy hart nie? Punt van die swaard was in 2005 op die kortlys vir die Louis Hiemstra-prys vir niefiksie.
Op ’n verlate grondpad in Limpopo druk hulle twee kilogram se vlekvrye staal – die reuse Smith & Wesson Model 500 – teen Lemmer die lyfwag se kop en vra: “Waar is dit?” Hy weet nie. Hulle belieg en bedrieg hom, steel sy Glock, die een met sy vingerafdrukke daarop. Hulle ken hom nie; hulle gaan betaal. Hulle gaan ’n spoor trap wat wyd sal loop.
Johan Fourie skryf onderhoudend en met eerlikheid en passie oor die wereld van die stroper - mense wat gevorderde tegnologie, helikopters en groot geld inspan van hul duistere motiewe. Sy deeglike kennis van die veld, natuur en taktiek wat die stropers gebruik, dra daartoe by dat hy die leser 'n naelbytervaring gee oor 'n saak wat elke Suid-Afrikaner na aan die hart behoort te le. Die leser is telkens saam met die spesiale magte bly oor hul suksesse, maar is ook saam met hulle ontsteld wanneer hul nog 'n renoster verloor. Johan Fourie slaag daarin om die strategiee van die wildstropers, asook die pogings om hulle uit te oorle op 'n spannende wyse aan die leser voor te hou, sonder om hom te ontstel, maar terselfdertyd die leser skerp onder die indruk te bring tot watter uiterstes die stropers sal gaan.
Ella Neser is terug van haar Karibiese skeepsvaart, en soort van terug in Lou se arms. Haar nuwe opdrag, nou as private speurder, is 'n bisarre een. Donna Maas, huisvrou en eggenoot van die sielkundige Thomas Maas, is oortuig haar man het 'n skelmpie. En dit is Ella se taak om met die bewyse vorendag te kom. Die roman begin egter by die einde van die verhaal, waar Ella haar finale verslag optik. Daar is 'n moord gepleeg, maar ons weet nie wie die slagoffer is nie, en nog minder, wie die skurk. 'n Verskeidenheid karakters word betrek in Die versoeking van Thomas Maas, waaronder Thomas, sy vrou, hul tienertweeling, Maas se pa, wat aan dementia ly, en ook die hoof van 'n perdeskool, Amalia Rojas. 'n Verbysterende roman deur een van die mees ervare spanningsromanskrywers in Afrikaans. Karsten dop die genre se reëls op sy kop, en kom vorendag met 'n hoogtepunt nie net in sy eie oeuvre nie, maar in die Afrikaanse krimikorpus
Marc se ou kunsdosent Simon kom kuier en hulle wys die hele land vir hom. Ma se Mara en haar oppasser Anna kom kuier in Jerusalem en Mara begin al meer haar Joodse afkoms verwelkom. Dit is Yoshi se bar mitzvah? Die dae is vir die Kriges soms donker, maar soms ook wondermooi. Shir-HaShirim - 'n hooglied? Dikwels nie. Tog is daar altyd 'n lied om te sing. Die hooglied van Israel is die elfde boek in die reeks.
1987. Die opdrag aan Spesmagte se sersant Jos Fourie is eenvoudig: pas 'n vrag missiele op wat stil-stil uit Oos-Duitsland verskeep moet word. Maar iets vrot. Eers die onverklaarbare teenwoordigheid van 'n groep US Navy Seals wat hom in Duitsland dophou, daarna die skokontdekking van wapengehalte uraan-235 wat versteek is in sy vrag. Jos het elke greintjie vernuf waaroor hy beskik nodig om aan die lewe te bly onder die aanslag van Nigeriese seerowers, die agtervolgende Angolese vloot en sy ontluikende gevoelens vir die mooi ingenieurstudent Ashley Ramirez. Dit word 'n nagmerrie-tog van die Noordsee tot by 'n geheimsinnige Weermag-skag in die Kalahari se duine, 'n aksiebelaaide wedren teen tyd om 'n katastrofiese kerntoets te stop voor dit 'n internasionale insident veroorsaak en sodoende die brose onderhandelingsproses na Suid-Afrika se ontluikende demokrasie kelder.
Die derde boek in die Abel-rillertrilogie. Die polisie word ontbied na
'n hotelkamer in Johannesburg. Bloed en hare in die bad dui op 'n
slagting, maar daar is geen lyk nie. Wanneer 'n gelooide en onthaarde
vel gevind word, weet Ella Neser sy is weer op reeksmoordenaar Abel
Lotz se spoor. Abel bevind hom in Brugge, en kort voor lank soek hy
weer na velle met tatoes vir die omslae van die tien volumes van sy
Kosmiese Reise, hierdie keer met Ignaz Bouts se hulp.
Boek een van 'n trilogie.
Prokureur Ian Brand stuur ’n ondeurdagte twiet die kuberruim in en sy lewe word oornag pure hel. Thuli Khumalo, studenteaktivis op 'n kampus wat stink na petrol en traangas, moet kies tussen vaderverraad of haar beginsels versaak. Snaar Windvogel, vroeër van Matjiesfontein, is nou in transisie onder die lem van ’n enigmatiese plastiese chirurg. En al hoe gereelder slaan ’n kruisboogmoordenaar in die Moederstad toe . . . Hierdie en vele ander fassinerende karakters bevolk ’n landskap waarin die enigste sekerheid ónsekerheid is. Want Etienne van Heerden se tergend aktuele nuwe roman sê veel oor die tyd waarin ons lewe, waar privaatheid en identiteit abstrakte begrippe geword het, fopnuus ononderskeibaar van die werklikheid, en “die waarheid” klaarblyklik ’n onhaalbare ideaal.
In die Oos-Kaapse veld maak ’n skrywer haar in sy verbeelding staan: Vir Decima – ’n formidabele swartrenosterkoei. Haar dogter, Tandeka, is dragtig, en die handvol renosters sien uit na die kalf se koms in die lente. Maar vir Decima is daar vrees wat met elke volmaan in haar opwel. Sy kan steeds die gebeure onthou wat haar baie seisoene vantevore wees gelaat het. Al werkend aan Decima se verhaal, is Eben. Hy vra: Hoe skryf mens oor hierdie dier as gevoelvolle wese? Deel van die storie is die verskillende karakters wat ’n impak op die lot van die renosters het: stropers, hul kliënte, beoefenaars van tradisionele medisyne, ook die bewaarders. En tussendeur is daar Eben se brose ma wat in die land agtergebly het. Soos hy sy weg vind deur die bladsye van sy manuskrip, is dit die stem van Decima wat die suiwerste in sy gedagtes klink. Eben Venter se boek kombineer outofiksie, fabel, ’n speurverhaal en die wetenskap, en is ’n dringende pleidooi vir die bewaring van een van die wêreld se megaherbivore. Decima is ’n elegiese werk vir baie stemme waarin die skrywer die aard van verlies in sy vele gestaltes besing en besweer. |
You may like...
The Sounds of Spectators at Football
Nicolai Jorgensgaard Graakjaer
Hardcover
R2,682
Discovery Miles 26 820
|