![]() |
Welcome to Loot.co.za!
Sign in / Register |Wishlists & Gift Vouchers |Help | Advanced search
|
Your cart is empty |
||
In Laataandbiegstories en sulke dinge word die leser meegevoer deur onvergeetlike stories wat om die kampvuur lewe kry. Soms is dit humoristies, soms deernisvol, soms skerp ironies, maar altyd boeiend. Daar word vertel van die nag van die donkie, van Tante wat sag word, van Pollie van die populiere en van die intrinsieke waarde van Victor, die lelike skaaphondkruising. In Jan Nel se kortverhale herken die leser homself onomwonde; dis juis hoekom mens lag. Die mens, met al sy swakhede, bly tog maar mens, en om te lag is soveel makliker as om jouself te kasty.
Karl Kielblock het verskeie boeke geskryf, waaronder die Lafras Cuyper-reeks baie bekend is en wyd versamel word. Dit handel oor seeavonture in diens van twee oorlogvoerende moondhede vroeg in die 19de eeu. Hierdie is die derde boek in die reeks. Die boeke is propvol opwinding, spanning en avontuur! Tydens die Napoleontiese oorloe word Lafras gevra om 'n Franse gesant na Indie te neem aan boord sy korvet, Hirondelle. Die verhaal van Lafras Cuyper is op feite gebaseer.
Vyf vooraanstaande sakemanne van Pretoria word koelbloedig met hul eie
jagwapens vermoor.
Weer neurie die kind lispelend en vervelig herhaalde kere sy liedjie sodat Koestertjie, lamgeslaan soos sy daar staan, tot haar verbasing sien dat die slang sy bolyf laat sak totdat hy plat op die grond in al sy kronkelinge voor die kind le. ’n Vuil handjie word uitgestrek en net as dit aan die skubberige rug wil vat, pluk die reptiel homself weer orent en word die bak dreigend platgemaak. Dit is tog te mooi. Die laggie dawer deur die lug en dan word daar maar weer gesing. Weer bedaar die slang.” Wadda van die woestyn verskyn oorspronklik in 1950. In die roman word ’n wit driejarige seuntjie deur Boesmans, Boogspan en sy vrou, Koestertjie, aangeneem nadat die skip waarop hy, sy tweelingboetie en hulle ouers reis byna op die rotse loop. Wadda (’n verdraaiing van sy doopnaam “Waldo”) toon ’n besondere aanvoeling vir en beheer oor die plante- en dierelewe van die Namib-woestyn. Wanneer hy ouer word, word hy ’n leier en legende onder die inheemse bevolking. Die verhaal neem ’n onverwagse wending wanneer Wadda ’n soekgeselskap, op soek na legendariese skatte, teekom en uitvind waar hy werklik vandaan kom.
Alles in hierdie kortverhaalbundel deur geliefde verteller Dot Serfontein, is nie noodwendig waar nie. Nee, maar alles is moontlik waar mense geslagte lank onder die dassiebruin velkaros van die Noord-Vrystaat slaap teen brak winters en taaibosharde somers.
Johannesburg, 1985. Braam Brink, joernalis, ontmoet sy pel Adam Williams vir ontbyt. Adam onthul sy rol as soldaat tydens die apartheidsregime, en kort daarna word Braam se liggaam gevind. Dertig jaar later volg speurder Daniella Hector, Braam se dogter, die spoor van ’n reeksmoordenaar. Waarom vind die moorde altyd ’n paar weke na mekaar plaas? En hoe hou dit verband met die dood van Danny se pa?
Wanneer oom Fanie, ’n pa van nege lewenslustige seuns, se plaas te klein word, gee hy die opdrag: “Uitspring, kêrels!”. Vir die ouer broers wat moet “uitspring” en hul eie potjie moet gaan krap, is hierdie woorde die begin van ’n groot avontuur. Maar om uit te spring is nie vir sommerso nie. Waar gaan die seuns plase kry? Wat moet hulle op hulle waens laai? En sal hulle alles onthou wat oom Fanie hulle geleer het?
Die verhaal van ’n Afrikaanse seun en ’n Boesmanseun in die 1930’s. Kryt is vir agt jaar alleenkind op hul plaas Halt in die Kalahari. Een koue wintersoggend verskyn die Boesmanseun en sy pa op Halt op soek na werk. Kryt sien dadelik die seun se fier en trotse houding, doop hom “Kordaat” en is bly dat hy uiteindelik ’n maat het. Kryt en Kordaat word egter meer as maats – as boesemvriende deurkruis hulle die uitgestrekte Kalahari op hul perde. Kryt leer Kordaat somme maak met tsammapitte. Kordaat leer Kryt die geheimenisse van die Kalahari en sy diere. Saam beleef hul vele – en soms lewensbedreigende – avonture. Die pyl in Slagtand Smit se binnebeen wat sy lang leiding en uiteindelike dood veroorsaak het, bly egter ’n skaduwee wat hul vir altyd sal volg.
Manon Viljoen is ‘n jong advokaat en ywerige motorfietsryer. Sy word ingeroep om as amicus curiae die regter by te staan in ‘n moordsaak om ‘n regverdige uitspraak te lewer. Die beskuldigde is Charles Mouton, ‘n suksesvolle senior advokaat wat een oggend wakker word langs die bebloede lyk van sy vrou en van haar moord aangekla word. Hy weet nie wat gebeur het nie. Of so beweer hy. Hy weier om aan die verhoor deel te neem omdat hy glo die hof moet die waarheid soek. Dit val dus op Manon se skouers om die waarheid te soek en voor die hof te lê. Manon se aanstelling word bemoeilik deur die feit dat sy en regter Nantes Castel ‘n geskiedenis het. Die verhoor loop allerande draaie terwyl Manon na redelike twyfel soek en terselfdertyd haar gevoelens vir Nantes bevraagteken. Stel hy nog belang, of terg hy haar sommer net? Vind Manon die waarheid waarna sy soek ‒ oor die identiteit van die moordenaar en ook oor Nantes se gevoelens vir haar? Of is daar redelike twyfel?
’n Spieel is ’n vreemde ding, want in ’n spieel leef ’n koue leuen; alles is andersom, verkeerdom en plat. Regs is links en links is regs. ’n Spieel lieg, dink hy, want jy kan jouself nie regtig sien nie, nes mens jouself nie kan kielie nie. Tensy jy natuurlik ’n soort aap is, dan kan jy jouself kielie. En lag. Maar Dolf Eksteen lag nie. Daar’s min rede die laaste tyd om te wil lag. Joe Minnie se lewe raak verweef met die van een van die rykste besigheidsmanne in die land. Sy opdrag is om Dolf Eksteen met sy lewe te bewaak. Dolf se weelderige bestaan word versuur deur bedelbriewe, afpersboodskappe en doodsdreigemente, en die beeldskone Belinda Eksteen, ’n opkomende vermaaklikheidster, is soos ’n emosionele en finansiele tikkende tydbom aan sy sy. Met ’n rolverdeling wat ’n deursnit van die Suid-Afrikaanse gemeenskap bied – die onaantasbares, die onderdruktes, die onderduimses – word Spieelbeeld ’n intense en meesleurende, psigologiese karakterstudie wat nog vir lank by die leser sal spook. ’n Wereldklas spanningsverhaal waartydens die leser die speurder is.
Adriana vra Ranna en Alex om onder die dekmantel van joernalistiek die storie van ’n jong vrou onder haar beskerming te ondersoek. Dit bring hulle op die spoor van ’n ou misdaad – die verdwyning van ’n talentvolle jong kunstenaar wat in haar matriekjaar spoorloos verdwyn het. Die meisie se destydse kêrel en haar kunsonderwyser is verdink, maar die saak is nooit opgelos nie. ’n Foto van die meisie naby ’n aborsiekliniek in Johannesburg speel ’n kardinale rol. In die foto kyk sy oor haar skouer, asof sy bang is sy word agtervolg. Alex dek ook ’n storie oor ’n jong onwettige immigrant wat van vervolging in sy eie land gevlug het om ’n nuwe lewe in SuidAfrika te maak. Maar xenofobie dreig om sy drome te verwoes. AJ Williams is op dertig kaptein in die polisie, maar sy veg om die stereotipering te oorkom wat haar bruin vel en geslag ontlok. ’n Foto van Ranna in Pretoria sit AJ op dié se spoor.
Sakamatlakobata voel soos ’n bywoner op sy eie plaas. Hy wou tot elke prys op Bobbejaankrans kom woon en nou gebeur wat sy bure hom voorspel het. Sy franselemoene word geplunder, sy tentpenne uitgepluk en sy vrou se bakoond met ’n klip toegestop. Sakamatlakobata weet wie is hiervoor verantwoordelik. Dis die een wat spore op sy werf los: kaalvoetspore soos dié van ’n mens. Waterbobbejaan boer op hierdie plaas. Die boer is bekommerd. Is Waterbobbejaan ook die een wat sy hamels vang en daardie maanlignag agter sy en sy gesin se wa aangehardloop het?
Huilboek is Hattingh se eerste boek in negentien jaar. Dit is ’n verweefde teks wat afspeel tussen die hier van Nieu-Seeland en die verlede van Ryk se kinderjare in die 1960’s aan die Oosrand. Wie wás die kind op die stoep saam met sy ma en pa en ouma en boeties en Outa Toon? En wie was Outa Toon, van wie ons slegs die skouer en rug sien op ’n foto met pa en seuns? Die man wat vir Ryk gesê het, “Jy is mos die een met die hart.”? Huilboek is ’n kragtoer.
Wanneer die prokureursfirma Plein & Simpel vorendag kom met planne om Kerkplein se historiese Wesfasade in ’n parkeerterrein te omskep, en daar terselfdertyd uit bewaringskringe stemme opklink dat duiwe-excreta die historiese geboue beskadig, word die Duiwerepubliek van alle kante bedreig. Skielik lyk indringer-mynas na die minste van hulle probleme – en moet die lede van KOER (Ken Ons Eie Roeping) kragte saamsnoer om die metroraad, die media en moderniseerders hok te slaan.
Toe Mata Hari in Parys aangekom het, was sy platsak. Kort daarna is sy gevier as die elegantste vrou in die stad. As ’n danseres het sy gehore geskok en verruk, as ’n vertroueling en courtisane het sy die rykste en magtigste mans van haar era betower. Maar paranoia as gevolg van die oorlog het Frankryk verteer, en Mata Hari se leefstyl het haar onder verdenking geplaas. In 1917 is sy gearresteer in haar hotelkamer aan die Champs-Elysees en van spioenasie aangekla. Die Spioen is die onvergeetlike verhaal van ’n vrou wat dit gewaag het om die konvensies van haar tyd uit te daag en die prys daarvoor betaal het, soos vertel in Mata Hari se stem in haar finale brief.
Ons sweer saam: Ek gaan haar ’n papierlewe gee, of nog beter: ’n nuwe lewe. ’n Lewe waarin sy weer maklik kan loop, haar lippe rooi maak, wye rokke dra of haar vuurbestande baadjiepakke. Ek wil ’n dansende moeder uitbeeld, ’n vegtende moeder. Die sterk vrou van my jeug. “Ek kry ’n lewe by,” – sy grom tevrede – “maar ek wil wel iets in ruil hê.” “Ek sal al jou inkopies doen, die kombuisvloer mop …” “Pille. Jy kry ’n storie, ek ’n pil.” Ná ’n lang lewe van swye en uitsluiting begin ’n moeder skielik met haar seun praat – aarselende ontboesemings oor grensoorskrydende liefde, verraad en drie oorloë. Hy, ’n romanskrywer, mag haar biograaf word, maar daar is ’n voorwaarde: Hy moet haar ’n sagte dood besorg. Ek kom terug is ’n tragikomedie oor die onstuimige lewe van ’n vrou wat terugkyk op haar eeu.
Anderkant omdraai is 'n versameling van Jan van Tonder se rubrieke wat in Rapport Tydskrif verskyn het. Kort-kortverhale, essays, sketse en anekdotes wissel mekaar af en bied 'n vermaaklike leeservaring. Die leser van die rubrieke kan verwag om te lag en om geroer te word. Van Tonder skryf oortuigend oor die nostalgie van vroeer, en jukstaponeer dit met aktuele sake van vandag. Van Tonder slaag weereens daarin om lewenswaarhede op 'n ongeforseerde en verrassende vars manier oor te dra.
Helmer se pa is sterwend en vir die eerste keer in sewe-en-dertig jaar word daar nie meer bevele geblaf op die plaas op die koue, nat Nederlandse platteland nie. Helmer dra sy pa na die boonste verdieping van die plaashuis waar hy sy siekbed moet deurbring en word vir die eerste keer gekonfronteer met ’n kans om wraak te neem. Dit word egter ’n kans om homself te leer ken en te doen wat sy hart vir hom voorskryf.
Jaco Diehl woon op Hermanus. Hy word getuie van 'n poging tot moord op sy buurvrou, en geleidelik word hy betrek by ander dade van geweld: eers op Hermanus, maar later ook op Somerset-Wes en eindelik in Kaapstad. Sy lewe is aan die disintegreer, en dit lyk nie of hy regtig omgee nie. Die hoofkarakter sleur ons al dieper mee in 'n doolhof. Wie is aanspreeklik vir die moorde, en wat is die waarheid? Of word ook die waarheid 'n storie, 'n verdoeseling wat nes Jaco nie vertrou kan word nie?
Waar het alles so verkeerd gegaan? Sy het haar voorgeneem om nie soos Ma koud en afsydig teenoor haar man te wees nie. Om te veg vir haar huwelik. Ma het in die huwelik gebly in liggaam maar haar gees was nie daar nie. Sy was nog heeltyd in liggaam en gees daar. Sy het alles gegee, altyd die vrede probeer bewaar, nooit die appelkar omgegooi nie. Hoekom is dit dan dat sy nie haar man kon hou nie? In hierdie aangrypende roman word pertinente vrae gevra: Waarom bly ons lojaal tot die mense vir wie ons lief is? Is daar 'n “reg” en “verkeerd” in verhoudings? Is dit onselfsugtig en groothartig om by 'n verslaafde te staan – of eerder pateties om nie jouself eerste te stel nie? Toe Elvis ophou sing is 'n boek wat 'n binnekyk gee in die lewe van alkoholisme gesien deur die familielede van die alkoholis. Meer spesifiek die kind van 'n alkoholis. Die boek beeld die progressiewe stadia van alkoholisme uit. Waar die alkoholis net as 'n sosiale drinker begin en opeindig as 'n aggressiewe dronkaard. Toe Elvis ophou sing ondersoek ook die effek, wat alkoholisme het, op die individu wat in so 'n huis grootword en later 'n huishouding van haar eie het. Hoe denkpatrone, gedragspatrone en keuses steeds gedryf word deur hierdie disfunksionele gesinsomstandighede waarin die volwassene as kind grootgeword het. |
You may like...
Shackled - One Woman's Dramatic Triumph…
Mariam Ibraheem, Eugene Bach
Paperback
Twilight of the Vuvuzelas - Madam & Eve…
Stephen Francis, Ricorico
Paperback
|