![]() |
Welcome to Loot.co.za!
Sign in / Register |Wishlists & Gift Vouchers |Help | Advanced search
|
Your cart is empty |
||
As lykbesorger by White Lily Funerals het Seb al talle lyke gebalsem, organe teruggepak in lyfholtes, bene gekonnekteer en wasbleek gesigte gegrimeer vir die laaste besigtiging deur roubeklaers. ’n Mens het jou werk en jy doen dit, dit help nie om vir ander goed te wens nie, of hoe? Nietemin wens Seb wel af en toe vir die een of ander ingryping om hom los te ruk uit sy saai bestaan – nie net by die werk nie, maar ook tuis waar hy, sy vrou en tienerkinders verby mekaar leef. Eendag, toe die sterwende seuntjie Gawie en sy ma by die begrafnisondernemers instap, begin Seb tog in wense glo . . . “’n Fabel vir moderne tye. ’n Heerlike verhaal.” – Kerneels Breytenbach.
Nie net ontglip die gevreesde maanhaar Tom se jaggeweer keer op keer op onverklaarbare wyse nie – ook in die Stroebel-huishouding draai die duiwel rond en tart Tom se verlede hom telkens in die gestalte van beeldskone Maria Stroebel, wie se huwelik duidelik wankel onder die druk van die boerdery. Hoewel die plaasvoorman, Adolf Freimut, skynbaar die leisels stewig vashou, is daar iets verdag omtrent die arrogante jong Duitser – en ook oom Wolfgang se sekretaresse, June Crosby, blyk ’n slinkse geaardheid agter haar bril en bolla te verberg. Boonop is Theresa Stroebel lank nie meer die rabbedoe-tiener wat Tom van sy vorige besoeke onthou nie, maar ’n sjarmante jong dame met ’n uitgesproke wil … Is die mensvreterleeu werklik die bron van die spanning tussen die Stroebels – of die rookskerm waaragter groter kwaad gestook word? En sal Tom daarin slaag om die dreigende krisis suksesvol af te weer?
Dit is die hemelgod, Xamab, se voorvinger wat vir ons wys om om te draai. ”Miskien moes Johan en Bulman na Kalimbo se profetiese woorde geluister het voordat hulle Kowares saam met hul Amerikaanse vriende aangedurf het. Vandat Jack, ’n fotograaf, en sy geselskap op Kowares aankom, tref die een ongeluk na die ander die groep. Gelukkig is Johan en Bulman ervare jagters en natuurkenners en kan hulle op die spoorsnyer, Kalimbo, se fyn gehoor en kennis van die veld en diere staatmaak. Maar is dit genoeg om hulle teen die ongenaakbare Afrika te beskerm? Boonop is die pragtige Penny, Jack se dogter, in ’n baie moeilike situasie. Want hoe verduidelik sy aan Bulman dat haar hart aan Johan behoort? En sal Johan ooit sy swerwershart ten volle vir haar oopmaak? Waar ver winde waai vertel die verhaal van ’n klein groepie mense wat deur hul ontmoeting met mekaar vir ’n kort rukkie van die groot eensaamheid kan ontsnap, maar uiteindelik leer dat Afrika altyd die laaste se het.
Dié nuwe spanningsroman delf diep in Ella se verlede. Elf jaar gelede is haar pa amper noodlottig gewond, en die skuldige, Arthur Wilky, word nou weens goeie gedrag op parool vrygelaat. Binne weke is daar egter nuwe moorde – en van die slagoffers is voormalige tronkmaats van Wilky. Hoekom kan Ella se speurderkollegas nie die verbintenisse raaksien nie? Selfs kolonel Silas wil nie ag slaan op haar vermoedens nie . .
Die verhaal van Cato van Johannesburg, wat in haar middeljare op ’n hartsreis na die Nyl gaan ná ’n ernstige verlies. Op haar tog word sy vergesel van ’n Egiptiese artefak, wat trouens een rede vir die reis is – dié antieke klein klipskilpadjie moet huis kry. Vroeg in haar Nylbesoek ontmoet sy vir Da’oud, ’n jong Koptiese Egiptenaar op ’n eie lewensveranderende sending. Sy familie is intens geraak, oor etlike generasies, deur sosiopolitieke onrus en ongeregtigheid, met 2011 se onlus op die Tahrirplein as onlangse laagtepunt. Op hul bootvaart op die Nyl ontmoet dié twee ietwat ongemaklike vriende ’n bonte verskeidenheid soekers en swerwers, en die terugkeer van die skilpadartefak na sy plek van heenkome word ’n simbool vir die afleggings en totruskom wat Cato en jong Da’oud, op sy eie, verskriklike manier, moet deurmaak – elkeen alleen. ’n Roman vir die fiksiefynproewer.
In ’n oorloggeteisterde Angola, word kaptein Piet Prinsloo gekonfronteer met meer as terroriste uit die Kongo wanneer sy verlede hom op Oukersaand inhaal. ’n Span bankrowers kom hul moses teë in die Chuosberge. ’n Veldwagter is op sy hoede toe twee uiters verdagte karakters by Etosha opdaag. Drie boesemvriende raak verlief op een meisie. En ’n skrywer en ’n beeldskone filmster is gestrand op die Kaitschavlei. In vyf stories skets Doc Immelman wêrelde waar hardebaarde kan liefhê, helde nog met die vuis kan slaan en kameeldoringbome arabesk teen die laaste bietjie lig van die dag geëts is.
’n Heruitgawe met ’n pragtige nuwe omslag. ’n Middelklas-meubelhandelaar is in sy voorstedelike middelklashuis met ’n blaasvlam gemartel en toe met ’n M16 doodgeskiet. Een skoot; agterkant van die kop. Laksmanstyl. Oudpolisieman Zatopek van Heerden het sewe dae om die moord op te los en ’n testament te vind. En die moord het boonop al tien maande tevore plaasgevind, die spore is vaag, die enigste leidraad ’n stukkie papier waarmee hulle te lank gelede dollars toegedraai het. Miskien baie dollars . . . En wanneer alles skielik ontvlam, is daar snaakse gediertes wat uit die vuurlig probeer skarrel: Militere Intelligensie, die CIA, Moord en Roof, georganiseerde misdaad op die Kaapse Vlakte. Hoe dieper hy delf, hoe meer lae hy van die ding afkrap, hoe meer smeer hulle toe.
Eilande is nie net 'n titel nie – dis 'n gebeurtenis. In hierdie onstuitbare epos word die eerste jare van die Kaapse nedersetting herroep in sewe grootse taferele uit die lewe van ses historiese manfigure wie se lewens op byna onnaspeurbare maniere in mekaar vervloei. En om wie vloei hulle? Om die wese van 'n vrou, Pieternalla in wie se liggaam wit en bruin bloed saamgevloei het tot 'n noodlot. Hierdie sewe mans is almal deur haar aangeraak. Sy is die spilpunt van 'n genadelose geskiedenis van dood, liefde en oorlewing. Die verhaal strek ver en wyd: oor drie oseane, drie vastelande en 'n handvol eilande. Dit loop, soos 'n groot rivier, met geweldige versnellings wat die leser insluk en meevoer. Maar oraloor kom dit ook tot rus in die lewe van gewone mense. Dit beantwoord baie vrae. Hoe ervaar 'n honger inboorling die driemaster wat stadig op die rotse loop reg daar op die lykus waar hy woon?
Weens die gruwelike moord op Winnie Rust in Mei 2016 is hierdie roman postuum gepubliseer. Sy het reeds in 2014 aan die verhaal begin werk, en volgens ’n vriendin het sy slegs ’n dag of wat voor haar dood gesê sy is uiteindelik klaar met die hersiening daarvan. Dat sy só sou sterf, met haar laaste manuskrip pas afgehandel en reg vir publikasie, is ’n troosvolle gedagte.
Stories word daagliks van een person na ‘n ander oorgedra. Dit is ‘n natuurlike deel van mense se sosiale omgang met mekaar. “Stories word aan kinders vertel om lewenslesse oor te dra, en vriende vertel vir mekaar stories om mekaar te vermaak, of om inligting oor te dra. Die vertelling van verhale is dus ‘n belangrike deel van menslike interaksie. “Vertel stories waar dit nodig is. Dit voed die mens se siel. Ons het partykeer elkeen net ‘n goeie storie nodig.
Hierdie roman speel af in 'n spoorwegkampgemeenskap in Durban in die sestigerjare. Die verteller is jong Timus, en saam met hom beleef ons sy inisiasie-prosesse in 'n grootmenswereld, en sy waarnemings van die mense en lewe rondom hom. Timus is deel van 'n groot gesin wat dit nie breed het nie en waar die pa se beheptheid met die kerk ontstellende gevolge het. As jongste in die gesin is hy toegespin in sy eie droomwereld en ook agter by sy portuurs oor die soet en duister dinge van die lewe. Hy het 'n sterk verbeelding en sy weergawe van insidente verleen 'n magies-realistiese gevoel aan die gebeure in die roman. Die fyn waarneming van menswees, die patos en humor wat mekaar afwissel, die menslikheid van hierdie roman – by tye brutaal-realisties, maar ook hartverwarmend – sal geen leser onaangeraak laat nie.
Hoe gebeur dit dat ’n hele gevestigde gemeenskap sy tentpenne uitruk en die wildernis intrek? In Geknelde land gee FA Venter ’n diep-menslike antwoord op dié en ook op baie ander vrae oor die Groot Trek. Dit is die verhaal van die Dreyer-gesin van Grensplaas en vertel van die ontberings en terugslae wat dié boeregesin moes verduur voor hulle uiteindelik ook besluit om te trek.
Die basiese gegewe van die roman is ’n boeiende klein menslike drama, naamlik die ontstaan en afloop van ’n liefdesvierhoek: Die verhouding tussen Die Skrywer en Geliefde loop op die rotse omdat Die Skrywer betrokke raak by Die Vrou. Die Man, eksgeliefde van Die Vrou, tree ook tot die verhaal toe wanneer daar ’n verhouding tussen Geliefde en Die Man ontstaan.
Gedurende die Eerste Wêreldoorlog staan Susan Nell voor die deur van een van die private sale van ’n Britse militêre hospitaal. Op die deur is ’n enkele naam aangebring. Sy ken daardie naam. Sestien jaar tevore was sy gedurende die Anglo-Boereoorlog in die Winburgse konsentrasiekamp, en dit is waar sy daardie naam leer ken het. Sy lig haar hand om daardie deur oop te maak. Haar hand bewe onbeheerbaar. Maar sy is ’n psigiatriese verpleegster en dit is wat sy moet doen, getraumatiseerde soldate terugbring na die lig. As daardie soldaat egter die een is wat sestien jaar te vore met sy heupe alle lig uit jou gestamp het, is dit nie so voor die hand liggend nie. Susan Nell huiwer voordat sy die deur oopmaak, sy wik en weeg desperaat – sy wankel op die drumpel tussen lewe en dood. Kamphoer is die ware verhaal van ’n vrou wat gedurende die Anglo-Boereoorlog wreedaardig verkrag en vir die aasvoëls weggegooi is. Met die hulp van ’n reeks weldoeners ontsnap sy aan die kloue van die dood en wy uiteindelik haar lewe aan die genesing van presies die soort trauma waaraan sy onderworpe was. En in die proses kom sy weer haar verkragters teë . . . In Kamphoer word die weerbarstigheid van die menslike gees opgeweeg teen die ewe blywende invloed van trauma. Dit is ’n sielkundige riller wat jou tot op die laaste bladsy in sy yskoue greep sal hou.
Twee plaasdramas oor grense, tradisies, grond en bloed.
Melk & Vleis Dis 1996. Suid-Afrika het verander, maar sekere huishoudings nog nie. ’n Suksesvolle aktuaris los haar werk in die stad nadat sy verlief raak op ’n sjarmante jong boer. Sy probeer haar bes om in te pas by die kleindorpse gemeenskap, haarself in haar huwelik te laat geld, en die familieplaas van ondergang te red. Nadat ’n erfgenaam gebore word, begin dinge egter op die plaas uitrafel ...
Bloed & Bodem Jana besoek haar pa en oom op die familieplaas. Die plaas gaan agteruit en haar pa sit meer op die kroegstoel as die kerkbank. Een nag los hy in sy dronkenskap die hek oop en dit word ‘n aand wat niemand sal vergeet nie... ’n Verhaal oor plaasaanvalle en die desperate nalatenskap van Afrikanermans wat nooit kon heel nadat hulle aan die “verkeerde” kant van die apartheidstryd geveg het nie.
Die geykte antwoord, dat die Britte baie sterker as die Boere was, het die historikus nie tevrede gestel nie. Aan Britse kant is die strategiese en operasionele denke van die opperbevel al volledig beskryf. Die teorie van die krygswetenskap het intussen soveel ontwikkel dat die gebeure van 1899-1902 vandag in baie beter perspektief geplaas kan word. Aan Boerekant is die strategiese, taktiese en operasionele denke van die Boeregeneraals nog nooit volledig ondersoek nie. In hierdie werk van Scholtz word die strategiese en operasionele hoofmomente van die oorlog in die lig van die moderne krygswetenskap ontleed en 'n antwoord verstrek op die eenvoudige vraag waarom die Boere die oorlog verloor het.
Na sewe jaar word 'n gevreesde bendeleier 'Map' Jacobs op parool vrygelaat en op almal se lippe ontstaan die vraag: het 'Map' verander, of is hy steeds die ou 'Map'? Die drama speel af na die gedwonge verskuiwings vanuit die Kaap na die Vlaktes en belig ook die invloed wat sosiale en maatskaplike euwels op die gemeenskap het. Dit gee ons 'n blik op die leefwyse van die ontworteldes, hul lief en leed en sommige se desperate hunkering na 'n beter bestaan.
|
You may like...
Genealogies of Speculation - Materialism…
Suhail Malik, Armen Avanessian
Hardcover
R4,315
Discovery Miles 43 150
Encountering Derrida - Legacies and…
Simon Wortham, Allison Weiner
Hardcover
R5,271
Discovery Miles 52 710
Differences - Re-reading Beauvoir and…
Emily Anne Parker, Anne Van Leeuwen
Hardcover
R3,273
Discovery Miles 32 730
|