![]() |
![]() |
Your cart is empty |
||
Ramon Fraser is al sy hele lewe lank 'n uitgeworpene. Sy ma vlug met
hom vandat hy kan onthou. Sy is 'n fortuinverteller, maar weier om sý
toekoms te lees. Tot op die verskriklike dag toe die mantelman hulle
inhaal ...
Karl Kielblock het verskeie boeke geskryf, waaronder die Lafras Cuyper-reeks baie bekend is en wyd versamel word. Dit handel oor seeavonture in diens van twee oorlogvoerende moondhede vroeg in die 19de eeu. Hierdie is die eerste boek in die reeks. Die boeke is propvol opwinding, spanning en avontuur! Op sestienjarige leeftyd bevind Lafras Cuyper hom alleen in 'n vyandige wereld. Eers het sy ouers gesterf in die pokkiesepidemie wat die Kaap in 1796 getref het en daarna kom sy voog ook te sterwe. Op 'n dag versteek hy hom op 'n uitgaande skip en begin onwetend op die wyse 'n nuwe lewe - 'n lewe van ontbering en ysere dissipline, maar ook 'n lewe van avontuur! As Hollander staan hy eintlik buite die stryd tussen Engelse en Franse, maar hy het geen keuse nie. Hy het sy vryheid in Tafelbaai agtergelaat. Lafras Cuyper het egter 'n besonderse gawe: Buitengewone gesigsvermoe. En so 'n man kan besonder nuttig wees by die hantering van 'n skeepskanon. Lafras beleef in 'n kort tyd swaarkry, opwinding, gevaar en vrees – en word selfs die held van meer as een veldslag. Die verhaal van Lafras Cuyper is op feite gebaseer.
Met die lyf en lyflike begeertes as fokuspunt, slaag Riette Rust daarin om die versplintering van die openbare en geheime lewens van gewone mense na vore te bring. Die literator Marius Crous se oor die bundel: Soos die titel van hierdie versameling kortverhale reeds suggereer, gaan die leser hier te doen kry met verhale oor die liggaam en belewenisse van die liggaam. En die leser word inderdaad nie teleurgestel met die aanbod nie. Dit is geile verhale oor die liggaam, die erotiek en die sluimerende wellus. Goeie verhale. Goedgeskrewe en onderhoudend.
'n Jeugroman, ook vir volwasse lesers. 'n Skoolsielkundige neem agt uitgesoekte matrieks vir 'n hele vakansie na 'n eensame strand. Is hulle net 'n groep bedorwe rykmanskinders uit 'n eite skool? Nie as jy van nader kyk en luister nie. Dit is hierdie kinders se enigste kans om so te herstel dat hulle matriek kan skryf en daarna in 'n gewone samelewing, saam met ander stukkende mense, kan funksioneer. Die seevakansie sal bepaal hoeveel van die oorspronklike kosbare hout bruikbare dryfhout sal word en hoeveel opdrifsels vyf en twintig jaar later by hulle reunie sal uitspoel.
Hoopvol is die verhaal van 'n 16-jarige jong man, Ben de Koker, wat 'n soektog onderneem na sy pa, wat hy nooit ontmoet het nie, nadat sy ma en suster omkom in 'n brand in Mayfair, Johannesburg. Parallel aan die narratief ontvou die verhaal van die 18-jarige Natalie, 'n weeskind wat op die Karoo-dorpie Hoopvol woon by die plaaslike pastoor en sy vrou.
Geboortereg se tema handel oor die feit dat elke baba die reg het tot ouers, twee oumas en oupas. Ruan die hoofkarakter se grootouers aan vaderskant weier om hom te aanvaar as hul kleinkind. Ruan word groot by sy ma en haar man, wat nie die grootouers se seun is nie. Albei sy ouers sterf. Ruan ontmoet twee vroue tot wie hy aangetrokke voel. Die verhaal stel die leser bekend aan die families en stories van die twee vroue. Die boek is geskik vir manlike en vroulike lesers.
Die ekspedisie beweeg deur ’n deel van Zoeloeland wat nog ongerep en vol gevare is. Hy beleef hoe Siba die hoofindoena en sy Zoeloekrygers die magtige buffel, leeu en renoster baasraak met hul assegaaie en slim aanvalstaktiek. Sy paaie kruis met die sluwe toordokter Sontaba en sy handlanger Jalimane en hy maak ook kennis met die reusewaterdier, die onanabahule, wat in die diep, donker kuile skuilhou. Tydens hierdie onvergeetlike avontuur ontwikkel vriendskappe en wedersydse respek tussen die jagter en Siba en sy krygers. Hy kry ook ’n insiggewende blik op ’n Zoeloekultuur en -gewoontes wat reeds begin verdwyn. Later ontmoet die jagter Nobiyane, ’n ou Zoeloefilosoof, wat hom, deur sy wedervaringe met hom te deel, vaderlik tot by “die groot spore” lei – daar waar die lewe sin kry.
Magdaleen Verster probeer die stukke van haar lewe optel na die dood van haar tweelingsuster, Misha. Wanneer sy ’n onwaarskynlike vriendskap smee met haar eksentrieke buurman, die wetenskaplike Darius Achenbach, bevind sy haar in die opwindende maar omstrede wêreld van stamselnavorsing. Asof Misha haar aksies vanuit die dood rig, vind gematigde Magdaleen dat sy skielik bereid is om groot risiko’s te neem. Sy kan haar suster nie terugbring nie, tog kan sy moontlik ’n verskil aan ander se lewens maak. Wat begin as ’n onbaatsugtige projek, vang haar gou vas in geheime bedrywighede waarvan sy min verstaan. Wie is so angstig om Darius se navorsing te ontspoor? Of wil hulle dit dalk vir hulself toeëien? Alles kom teen ’n prys. En soms is die prys van een mens se lewe ’n ander mens se dood.
Die Prins-egpaar aanvaar die jong Delmarie Kemp met ope arms nadat sy in haar matriekjaar wees gelaat word. Sy word deel van hul familie en doen alles in haar vermoë om eendag onafhanklik te wees. Waarmee sy egter nie tred hou nie, is die feit dat die hart hom nie laat voorskryf nie. Deur die loop van jare het die Prins-boeties ontwikkel in aantreklike, selfversekerde jong mans, en tydens ’n gesinsvakansie by die see ontdek Delmarie dat sy in diep-diep moeilikheid is. Dit is immers een van haar “broers” teen wie sy haar hart moet staal, en sy moet probeer kophou om nie die grense van haar aanneemfamilie se lojaliteit te oorskry en hul vertroue in haar te skaad nie. Want hoe sal sy haar tweede stel ouers teleurstel as sy vir hulle moet vertel wat in haar hart brand? Veral as die gevoelens vir iemand is wat, deur die wêreld en haar aanneemouers gesien, veronderstel is om haar broer te wees? ’n Broer wat dit ook telkemale duidelik gemaak het dat hy haar nie in die familie wil hê nie!
Nie net ontglip die gevreesde maanhaar Tom se jaggeweer keer op keer op onverklaarbare wyse nie – ook in die Stroebel-huishouding draai die duiwel rond en tart Tom se verlede hom telkens in die gestalte van beeldskone Maria Stroebel, wie se huwelik duidelik wankel onder die druk van die boerdery. Hoewel die plaasvoorman, Adolf Freimut, skynbaar die leisels stewig vashou, is daar iets verdag omtrent die arrogante jong Duitser – en ook oom Wolfgang se sekretaresse, June Crosby, blyk ’n slinkse geaardheid agter haar bril en bolla te verberg. Boonop is Theresa Stroebel lank nie meer die rabbedoe-tiener wat Tom van sy vorige besoeke onthou nie, maar ’n sjarmante jong dame met ’n uitgesproke wil … Is die mensvreterleeu werklik die bron van die spanning tussen die Stroebels – of die rookskerm waaragter groter kwaad gestook word? En sal Tom daarin slaag om die dreigende krisis suksesvol af te weer?
Lady Die het huisvesting gevind in die ruïne van ’n kerk, in ‘n
stadsbuurt genaamd Simoelégri. Baie vlugtelinge het hier opgeëindig, ná
eers die virus en toe nog rampe tot sosiale onrus gelei het. In ander
dele van die land is daar nog ’n mate van orde, maar nie in Simoelégri
nie. In Simoelégri is jou beste vriend die straat se dwelmhandelaar, en
jou enigste bron van hitte 'n konkavuur. Oral loop die gerugte van
groter onrus en geweld.
Toemaar, jou dag sal kom . . . Dis die woorde wat Diana Botha, wynmaker van die spoglandgoed Soeterwijn, help om staande te bly en telkens weer die lewe met nuwe ywer aan te pak. As jong meisie erf sy die las vir ’n skande vir iets waaraan sy geen skuld het nie. Dit pla haar tot ’n studiebeurs haar help om haar passie vir wynmaak te laat ontluik. Maar in die Boland leer sy opnuut dat vooroordeel steeds stewig in die mensdom sit.
Vir sommige is Ravensmead in die Kaap die gatkant van onse wêreld. Vir ander – soos Anastasia de Vries – hul komvandaanplek, speelplek en droomplek. Hul hartsgronde. Want dis hier in die Lane waar oud en jonk om ’n ghellie kan staan en kan stukke sny; kan lag en kan ghai en kan leef. Jy moet hier gebore word om te verstaan hoe jou hart teen jou ribbes begin skop as jy op Vlaktegrond uitstap en hoe jou “jippe somma so in die loop saam die een-vir-jou-een-vir-my ritme van die Vlaktevrou se lyf optel…” Hier word baie gehuil, maar nog meer gelag – want waar mooi en onmooi half onverskillig deurmekaargeklits is, daar gebeur die lewe.
Twee broers, seuns van ’n skatryk volstruisboer, wil vir beeldskone Margaretha hê. Sy kies Michael, die erfgenaam, en John gaan veg in die Boereoorlog. Later stort die veremark in duie en hulle is bankrot. Margaretha kry die geleentheid om te wys dat sy nie net ’n mooi gesig het nie.
Hierdie klassieke roman van die befaamde Franse skrywer Albert Camus handel oor die lotgevalle van ’n klompie mense wat in die Algerynse stad Oran vasgekeer word wanneer builepes daar uitbreek. Die hoofkarakter, dr. Bernard Rieux, word die eerste keer bewus van iets buitengewoons wanneer groot klompe rotte vrek in die woonstelgebou waar hy bly. Gaandeweg word hy al meer by die behandeling van die siekes betrek en word hy toeskouer van hoe verskillende mense reageer wanneer toestande al hagliker en benouender word. Sy band met ander mense, soos die toeris Tarrou, die joernalis Rambert en die staatsamptenaar Grand word deur hulle betrokkenheid by die verloop van die pes versterk, terwyl hulle na die sluiting van die stadspoorte al hoe meer bewus word van hulle afsondering en die afwesigheid van geliefdes. Camus se roman is al gelees as allegorie van die besetting van Frankryk gedurende die Tweede Wereldoorlog en die pes kan beskou word as enige bedreiging vir menslike vryheid. Die bedreiging van 'n epidemie soos vigs verleen aan hierdie roman besondere relevansie vir Suid-Afrikaanse lesers.
By Aib, teenaan die Sperr in die Namibwoestyn, kruis mense se paaie, ontmoet hede en verlede, hier word die buitestander onderwerp aan reëls wat vir almal geld. Ná 'n morsige jagtog eis die woestyn sy tol. Die kruispad verval in onbruik. Wat oorbly, word deur die sand toegewaai … en gebeurtenisse wat ons aan hierdie plekke koppel, oorleef net in ons geheue. Maar die plekke verkry soms 'n eie bestaan wat groter as die werklikheid is.
Dit is die hemelgod, Xamab, se voorvinger wat vir ons wys om om te draai. ”Miskien moes Johan en Bulman na Kalimbo se profetiese woorde geluister het voordat hulle Kowares saam met hul Amerikaanse vriende aangedurf het. Vandat Jack, ’n fotograaf, en sy geselskap op Kowares aankom, tref die een ongeluk na die ander die groep. Gelukkig is Johan en Bulman ervare jagters en natuurkenners en kan hulle op die spoorsnyer, Kalimbo, se fyn gehoor en kennis van die veld en diere staatmaak. Maar is dit genoeg om hulle teen die ongenaakbare Afrika te beskerm? Boonop is die pragtige Penny, Jack se dogter, in ’n baie moeilike situasie. Want hoe verduidelik sy aan Bulman dat haar hart aan Johan behoort? En sal Johan ooit sy swerwershart ten volle vir haar oopmaak? Waar ver winde waai vertel die verhaal van ’n klein groepie mense wat deur hul ontmoeting met mekaar vir ’n kort rukkie van die groot eensaamheid kan ontsnap, maar uiteindelik leer dat Afrika altyd die laaste se het.
|
![]() ![]() You may like...
|