![]() |
Welcome to Loot.co.za!
Sign in / Register |Wishlists & Gift Vouchers |Help | Advanced search
|
Your cart is empty |
||
|
Books > Local Author Showcase > Afrikaans > Fiction
Polisievrou Erica van der Linde het die perfekte manier om te sorg dat mense in die getuiebeskermingsprogram in Kaapstad versteek bly. Sy vermoor hulle. En wanneer die gewese kriminele oorgaan van ’n lewe van misdaad na dié van versteekte staatsgetuies, is daar niemand wat na hulle soek nie. Maar dan kry sy opdrag om Daniël Enslin te versteek, en so ’n getuie het sy nog nooit teëgekom nie. En skielik is dit vir Erica ook ’n taak van lewe en dood, want nou ken Daniël haar geheim. Wenner van die eerste KykNET-Rapport Boekprys in die Film-kategorie, nou tot rolprent verwerk.
Die verhaal van 'n slavin wat as die enigste oorlewende van 'n mislukte ekspedisie in die hart van Afrika haar terugtrek in die hol stam van 'n kremetartboom. In toenemende verlatenheid herleef sy haar vroeëre bestaan: hoe sy as kind in haar tuisdorp gevange geneem en weggevoer is, haar lewe in 'n hawestad aan die ooskus as dienares van verskillende meesters, haar reis saam met haar laaste eienaar en beskermheer, haar lewe in die kremetartboom. Hierdie belangrike Afrikaanse roman is reeds in verskeie ander tale gepubliseer, o.m. in Engels deur J.M. Coetzee. Die Italiaanse vertaling word bekroon met die Grinzane Cavour-prys in 1988 en in 1995 word die Franse vertaling verwerk vir die verhoog en opgevoer in die Thèâtre de l'Ante in Parys. "Solank Afrikaans bestaan, sal dié boek waarskynlik die essensie daarvan bly verwarm." – Antjie Krog
Twee broers, seuns van ’n skatryk volstruisboer, wil vir beeldskone Margaretha hê. Sy kies Michael, die erfgenaam, en John gaan veg in die Boereoorlog. Later stort die veremark in duie en hulle is bankrot. Margaretha kry die geleentheid om te wys dat sy nie net ’n mooi gesig het nie.
Nielsen BookData Bookseller's Choice-prys (2005) Sy het haarself Stom Anna genoem. Omdat sy aan iemand kon vertel van dit wat tussen haar en haar stiefpa plaasgevind het nie. Nie aan haar ma nie, nie aan haar beste vriendin nie, en selfs nie aan haar eie pa nie. Dit is 'n verhaal wat sy nou eers, jare later, kan uitskryf. Nou eers kan sy die swye verbreek oor hoe haar stiefpa haar diepste menswees aangetas het. En hoe sy uiteindelik anderkant uitgekom het. Dis ek, Anna is gebaseer op 'n ware verhaal en is ook in Engels beskikbaar as It's me, Anna. Elbie Lotter is 'n skuilnaam.
Weens die resessie in Nederland word Will se vader gedwing om as skeepsbouer in Roemenie te gaan werk. Toe die oorlog uitbreek, moet die gesin vlug en so beland hulle in Soerabaja op die eiland Java in Indonesie. Aanvanklik is hulle betreklik veilig, maar nadat Japan die eiland beset het, word die vrouens in konsentrasiekampe opgeneem. Hier beleef hulle bykans ondraaglike ellende, maar hier bewys die Nederlandse vroue ook van watter stoffasie hulle gemaak is. Die Van Halewijns oorleef die kampe en ook die Indonesiese burgeroorlog wat net na die oorlog uitbreek. Aanpassing na die oorlog is egter baie moeilik en die gesin emigreer uiteindelik na Suid-Afrika, waar Will haar ervarings aan die skryfster toevertrou het. Mariel le Roux het daarvan ’n meesleurende verhaal gemaak: Die uiters moeilike omstandighede, die hartseer en ook die ligter oomblikke word in genoeg besonderhede geskets sodat ’n mens jou daarin kan inleef.
Wanneer Kassie Kasselman die verdwyning van 'n ekskollega begin
ondersoek, is dit duidelik dat hier meer as net 'n dwelmverwante
verdwyning skuil. Hoe lyk dit dan of dit verband hou met die ontvoering
wat sy kollega Rooi Els se vrou se werkplek getref het?
Aan die einde 1986 kom die Grensoorlog vir Wim Gewers en sy makkers tot 'n einde. 'n Laaste operasie in Angola eindig egter rampsoedig en Wim bevind hom terug in die Nuwe Suid-Afrika, in diens van die Suid-Afrikaanse Polisie, as 'n speurder. Die laaste gebeure in Angola kom spook egter by Wim en sy makkers. Die Amerikaners se honger na olie lei tot moord en kaptein Wim Gewers moet die saak ondersoek. Die Amerikaners soek wraak en dit ontaard spoedig in 'n kat-en-muis speletjie wat in Suid-Afrika, Namibië, Londen en New York afspeel. Die boek is nie net spanningsvol nie, maar vertel ook van Wim se vurige verhouding met die olie slagoffer se beste vriendin, Mienke. Piet van forensies en die aanvallige blondine, Mercia, verskaf genoeg vermaak, sodat jy met al die spanning, moord, misdaad en passie, eenvoudig nie die boek kan neersit nie.
Wat gebeur eintlik wanneer reisigers mekaar raakloop, maar dalk miskyk? Kry hulle dan ’n tweede kans om weer te begin of het die noodlot altyd die oorhand? Die verhaal speel af in die wêreld van Marleen, ’n jong vrou wat snags deur “verdwaaldes” wakker gehou word. Gideon, die blinde man wat die toekoms in visioene sien, is sentraal in Marleen se lewe, maar net sy weet dit. Wat kan Gideon haar oor die “verdwaaldes” vertel en wat weet hy wat sy nie weet nie? Wat vir sommige mense vreemd is, is vir ander deel van die lewe. ’n Siener wat in geheimsinnige wêrelde leef en wat lig en insigte kan bring vir die wat soek na antwoorde, sal dalk verstaan wat ná die dood met die agtergeblewenes gebeur. Hy weet ook wat word van die wat die oorgang na die ewige lig moet maak. Marleen sal doodeenvoudig met hom moet gaan praat, maar sy vrees vir dit wat hy weet. Soms is dit moeilik om die werklikheid van drome te onderskei.
Geboortereg se tema handel oor die feit dat elke baba die reg het tot ouers, twee oumas en oupas. Ruan die hoofkarakter se grootouers aan vaderskant weier om hom te aanvaar as hul kleinkind. Ruan word groot by sy ma en haar man, wat nie die grootouers se seun is nie. Albei sy ouers sterf. Ruan ontmoet twee vroue tot wie hy aangetrokke voel. Die verhaal stel die leser bekend aan die families en stories van die twee vroue. Die boek is geskik vir manlike en vroulike lesers.
Toneelspel 2 handel oor die manier van dink en doen binne die bruin gemeenskap. Die uniekheid van die mense word getrou geskets deur die skrywer wat die polsslag van haar dorp ken en ’n diep liefde vir sy inwoners het. Voorbeelde hiervan is:
Speursersant Mthembu se huwelik lê aan skerwe. Nyandi het die kinders gevat en is sak en pak terug Lesotho toe. Terwyl Parkwegstasie se ace-speurder in ’n gastehuis in Bloemfontein wakker lê en tob oor sy aandeel, brand Xanadu-galery, tuiste van die wêreldberoemde SA kunstenaar Aretha Hattingh, tot op die grond af. Haar oeuvre ’n hoop as. En in die middel van die ruïne: die oorskot van ’n vrou, vermoedelik dié van Aretha. In Parys ontmoet Sollie ’n hand vol verdagtes: ’n kunsagent, ’n prokureur, ’n slagter, ’n bouer en ’n koerier. Voeg hierby ’n venynige aanneemkind, ’n jaloerse, skatryk eksman, die dorp se sprankelvrou én ’n stasiebevelvoerder wat die septer na haar eie reëls en tyd swaai, en jy het die wenresep vir ’n intrige gevul met hoogdrama. Is dit moord? Selfdood? Of bloot ’n fratsongeluk? Sollie geniet reeds groot aftrek onder Afrikaase lesers. En Vlam, die nuwe roman deur Gilroy, beloof om soos sy vorige twee krimi’s te boei en te vermaak tot op die laaste bladsy.
Dan Sleigh se jongste manuskrip handel oor die lewe se ewige dans met die dood - alle lewe, ook die lewe van die skryfkuns. Die protagonis, Koos van der Merwe, was eens een van Goeie Hoop Uitgewers se topskrywers, en dit is waarom 'n woonstel in Bay View Villas aan hom toegeken is, op 'n verdieping wat die uitgewery reserveer vir die skrywers van topverkopers. Maar die muse het Koos verlaat. Jare reeds wag sy uitgewer vergeefs op nuwe werk uit die pen wat voorheen die kasregisters laat klingel het. Die uitgewery se geduld het opgeraak; Koos mag net in die woonstel aanbly as hy produktief is. In 'n bestel waarin kommersiele sukses die hoogste waarde is, is daar in elk geval nie plek vir iemand wat so verstok in sy wee is en so wars van alles wat progressief en modieus is nie. Die uitgewery speel sy troefkaart: Carelina van der Merwe is een van die inspirerendste redakteurs, en as sy nie nuwe lewe in Koos se loopbaan kan blaas nie sal niemand nie. Carelina waai soos 'n stormsterk suidooster by Koos se woonstel in. Hy gooi wal, hy skerm, hy vlug . . . maar uiteindelik begin hy vertel wat dit is wat die donker kolk in hom uitgeruk het waarin alle kreatiewe energie verdwyn. En al vertellende word sy skermutseling 'n dans. Dit is uiteindelik weer die dans met die muse, maar noodwendig weer die lewe-dood-dans, die dans van die lewe.
Stories word daagliks van een person na ‘n ander oorgedra. Dit is ‘n natuurlike deel van mense se sosiale omgang met mekaar. “Stories word aan kinders vertel om lewenslesse oor te dra, en vriende vertel vir mekaar stories om mekaar te vermaak, of om inligting oor te dra. Die vertelling van verhale is dus ‘n belangrike deel van menslike interaksie. “Vertel stories waar dit nodig is. Dit voed die mens se siel. Ons het partykeer elkeen net ‘n goeie storie nodig.
Bloemfonteinse speurder Sollie Mthembu en sy vrou, Nyandi, verwag hul tweede baba. Nes baba Naledi in haar buik, groei Nyandi se inkopielys van dag tot dag. Terwyl dié sersant planne beraam om naweekuitstappies na Mimosa Mall met sy kredietkaart te ontduik, sluip daar snags ’n psigopaat deur die strate van Harrismith wat kleuters met roomyse uit hul ouerhuise weglok en ontvoer. Wanneer die oorskot van ’n verminkte vierjarige in ’n Fruitti Tutti-roomyskarretjie in die vroeë oggendure aan die voet van Platberg ontdek word, besluit kaptein Maartin Brummels om Parkweg se bulhond saam te sleep vir die ondersoek. Sollie lyk dalk na ’n bedeesde ou wat op die vreemdste tye oor sy eie woorde struikel, maar as hy iets beetkry, laat los hy nie. Sidney Gilroy se debuutroman, Klikbek, is 2019 met groot lof deur resensente en krimi-lesers ontvang. Almal stem saam dat beide skrywer en speurder Sollie ’n groot aanwins tot die Afrikaanse krimikorpus is.
Konrad werk vir DMK, 'n Duitse vervaardigingsonderneming in Darmstadt. Hy ontvang opdrag om as deel van 'n vakansiereis in sy Heimat (tuisland), 'n voorlopige ondersoek na twee moontlike investeringsgeleenthede te doen. Hy en sy vier metgeselle beleef 'n nostalgie-belaaide reis deur Suid-Afrika. Hy ontmoet verteenwoordigers van die San en Khoen-Khoen gemeenskappe. Die besonderse natuurskoon en die interessante geskiedenis van sy geboorteland, beïndruk hom weereens. Sy belangstelling in gholf en stoomlokomotiewe dra by tot 'n genotvolle reis. Daarby is een van sy reisgenote 'n aantreklike mediese dokter en sy skep vir hom 'n liefdesdilemma, want tuis het hy reeds iemand. Die projek neem 'n onverwagse wending. By sy terugkeer in Darmstadt wag daar verrassings uit sy verlede. Hy moet 'n kopskuif asook moeilike besluite maak.
'n Houtkapper met 'n rustelose siel. 'n Legendariese olifantbul wat losbreek van sy trop . . . In die groen skemerwereld van die Outeniekwa loop hulle kringpaaie. Saul Barnard, deur sy mense verwerp en deur gewetenlose houtkopers tot kneg verneder; Oupoot, eindeloos agtervolg deur jagters. 'n Man en sy dier-broer - saamgegooi in 'n ongerepte oerbos, wat stuk vir stuk deur gouddelwers, boskappers en ander uitroeiers vernietig word."
Die kortverhale in Maansiek verken 'n wye register: die Rooms-Katolieke geloof, charismatiese aanbidding, Afrika-mistiek, erotiek en moederskap, konflik tussen ras en geslag en sosiale status, spanning tussen die hede en die historiese, die sienlike en die onsienlike. As basis vir sommige verhale dien 'n nugter koerantberig of tydskrifartikel uit vervloe dekades wat binne die verhaalkonteks tegelyk humoristies en ontstellend is. Ander is gegrond op minder bekende aspekte van bekende figure of vertellings van onbekende vroue met uiteenlopende agtergronde.
Italiaanse sywurmboere word ingevoer om 'n sybedryf te kom vestig in Gouna se boswereld, maar moerbeibome verseg om in die potklei te groei. In die strawwe boswinter word die verwarde immigrante geteister deur reen, koorssiekte en onbegrip, en raak hulle al meer verbitter teen die goewerment wat hulle onder valse voorwendsels in die wildernis afgelaai het. Die man wat hulle tot hulp kom, is 'n bosmens met 'n onregeerbare dogter en 'n kop vol planne - die eiesinnige Silas Miggel. Hy wil hulle op 'n skip kry, terug Italie toe.
Aantrekkingskrag is 'n kosmiese wet wat sowel vir hemelligame as vir mense geld. Deon Opperman buit hierdie volgehoue metafoor op 'n verbluffende wyse uit in 'n meesleurende drama oor die liefde. Vyf mense word een laatnag, ná 'n opvoering van Hamlet, gekonfronteer met hulle bestaan en verraad teenoor mekaar. Die wêrelde van die wetenskap en die kuns word aanvanklik met mekaar gekontrasteer, maar ten slotte versoen in die volgende insig: 'Religie is so onwetenskaplik, maar elke religie op aarde het tot die besef gekom: God is liefde. Liefde - alomteenwoordig soos die aantrekkingskrag tussen alles in die heelal, so onkenbaar soos 'n atoom, en so seker soos die spoed van lig.'
Bennie Griessel is eerste op die toneel: ’n bloedbad in ’n luukse gastehuis op ’n Franschhoek-wynplaas. Drie slagoffers van ’n geheimsinnige, blitsige, meedoënlose huurmoordenaar genaamd Die Kobra. Kan Griessel hom keer voordat hy weer toeslaan? Want daar was boonop ’n ontvoering . . . Ene Paul Anthony Morris, Britse burger met ’n splinternuwe paspoort. Maar wie is dié man werklik? Voeg hierby ’n grypdief wat onwetend iets steel wat aan Die Kobra behoort, en ’n intelligensiediens wat hul neus in Griessel se sake wil steek. Spanning en intrige uit die boonste rakke, soos net Suid-Afrika se misdaadverhaal-koning dit kan skryf!
Die vertrek waarin ek my opgestopte voëltjies in glaskissies uitgestal het, het ek ontruim. Ek het die voëleiertjies en -neste, asook kassette met opnames van voëlgeluide in bokse gepak. Dit het my te veel aan Pa laat dink, en aan hom wou ek nie dink nie. Want dan het ek vir Annalisa gehaat, en ’n ma mag haar kind nie haat nie. Hulle is onder ’n kareeboom in die agtererf besig om na ’n janfiskaal te kyk wanneer haar tronkdokter-pa by Rosaria bieg dat ook hý ’n tipe laksman is. By Pretoria-Sentraal, waar hy die gehangdes se doodsertifikate uitreik, dien hy soms ook die genadeskoot toe. Maar sê nou van daardie tereggesteldes was onskuldig? wonder Rosaria. Nou, jare later, en kort ná die raaiselagtige dood van haar dogter Annalisa, onthou Rosarie die nonnetjiesuil wat sy en haar aweregse dogter grootgemaak het. Dit was voor Annalisa se rockmusiek van haar ’n kultusfiguur gemaak het, en voordat sy haar rug op haar ma gedraai het. Rosaria se worsteling strek verder terug as haar kind se dood. Haar verlede word verder oopgeruk wanneer Annalisa se dogtertjie haar verskyning maak – ’n kleinkind waarvan Rosarie nooit geweet het nie. Maar hoe het haar dogter gesterf? En hoe naby aan ’n laksman is Rosaria self?
Universiteit van Johannesburg Debuutprys vir Skeppende Skryfkuns (2010) M-Net Letterkundetoekenning in die rolprentkategorie (2010) Inspekteur Albertus Beeslaar het genoeg gehad van die brutaliteit van misdaad in Johannesburg. Hy kom soek rus en vrede op ’n klein dorpie aan die rand van die Kalahari, waar hy ’n nuwe veediefstal-eenheid op die been moet bring. Dan word ’n grusame dubbele moord op ’n plaas gepleeg. Gou kry Beeslaar egter met veel meer as ’n “gewone plaasmoord” te doen. Hy word gekonfronteer met ’n koelbloedige veediefstalsindikaat, Afrika-towerkuns, ’n ou grondeis in ‘n plofbare politieke klimaat wat deur ’n regse wit vigilantegroep uitgebuit word. En dit is maar net die begin. ’n Naelkou-misdaadroman met ’n nuwe, eg Suid-Afrikaanse speurheld. Plaasmoord is in Nederlands vertaal as Moord op Huilwater.
Dit is my storie, maar dit is ook die storie van elke ouer wat al 'n keer gestruikel het," se Saskia de Coster by geleentheid oor Nagouers. De Coster (1976 - ) is 'n prominente figuur in die hedendaagse Vlaamse prosa. Danksy haar optrede by verskillende kunstefeeste is sy geen onbekende in Suid-Afrika nie. Nachtouders (2019) is intussen reeds in meer as tien tale vertaal. Dit is die verhaal van "nie-biologiese ouerskap" waarby die sielkundige spanning uiteindelik maar te herkenbaar sal wees vir ook diegene wat al met "biologiese ouerskap" gekonfronteer is. Saskia word onder verswee teensinnigheid moeder saam met haar groot liefde en eggenote, Juli. Laasgenoemde dring daarop aan om 'n eie kind in die wereld te bring. Vervolgens raak 'n skenker betrokke, Karl, 'n Kanadese homo- vriend van Saskia. Terwyl die skenkerproses self nie sonder moeite en selfs skaterende humor verloop nie, raak duidelik dat dit ondanks die kliniese aard daarvan nogtans die individuele agtergrond van elk van die betrokkenes op die spel bring. Sake word op die spits gedryf wanneer die gesinn etjie Karl se moeder op die eiland Portes aan die Kanadese Weskus besoek, 'n van die moderne wereld afgeslote plek bewoon deur 'n vergrysende hippie-gemeenskap en 'n afkerige Indiane-groep. Ouerskap, liefde en die stryd om individuele lewensruimte bly onderliggend aan die gebeure met alle eienskappe van 'n riller. Hoewel die hooffiguur ook Saskia heet en die boek eienskappe van 'n ego-dokument het, is dit 'n meesleurende roman wat uitnooi tot 'n besondere leeservaring. |
You may like...
|